Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Vandag op die derde Sondag in die Seisoen van Barmhartigheid en in die lig van die fokusteks en preekvoorstel, kan die liturgie gelowiges lei om hulle verantwoordelikheid teenoor mense wat verontreg word en wat arm is, opnuut in die teenwoordigheid van God te ontdek.

Fokusteks

Jesaja 5:1-7

Ander tekste

Psalm 80:1-2, 8-19 (Verskyn tog tot ons redding.);
Hebreërs 11:29-12:2 (56’n Skare geloofsgetuies);
Lukas 12:49 (Jesus die oorsaak van verdeeldheid en tekens beoordeel)

Jesaja 5:1-7
5 Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing
oor sy wingerd:
Hy wat ek liefhet, besit ’n wingerd
op ’n vrugbare heuwel.
2Hy het die grond omgespit
en die klippe verwyder,
dit beplant met veredelde
wingerdstokke.
Hy het ’n wagtoring daarin gebou
en ’n parskuip uitgekap.
Hy het verwag
dat dit goeie druiwe sou dra,
maar toe bring dit druiwe voort
wat suur bly.
3En nou, inwoners van Jerusalem
en manne van Juda,
beslis tog tussen My en my wingerd.
4Wat kan Ek nog vir my wingerd doen
wat Ek nie reeds gedoen het nie?
Wat is dan die rede dat dit suur druiwe
voortgebring het
terwyl ek verwag het
dat dit goeie druiwe sou dra?
5Ek maak julle nou bekend
wat Ek met my wingerd gaan doen:
Ek gaan die doringheining verwyder
en verbrand,
sy muur afbreek, sodat die wingerd
vertrap kan word.
6Ek gaan hom tot niet maak.
Hy sal nie meer gesnoei
of geskoffel word nie,
maar ingeneem word deur doringbosse
en onkruid.
Ek sal die wolke verbied
om daarop te reën.
7Die wingerd van die Here
die Almagtige,
die wingerd wat Hy geplant het
en waarin Hy Hom wou verlustig,
is die Israeliete, die volk van Juda.
Die Here het verwag
dat daar reg sou wees,
maar daar was net onreg,
dat daar geregtigheid sou wees,
maar daar was net die hulpgeroep
van veronregtes.

Eksegeties

Jesaja 5:1-7 vorm ’n selfstandige literêre eenheid. In die res van die hoofstuk word die tema van vers 7, die kernpunt van 5:1-7, verder uitgewerk in drie langer (v 7, 11, 18) en drie kort wee-uitsprake (הוי in v 20, 21, 22), met twee oordeelsuitsprake (v 13, 24, ingelui met לכן). Laasgenoemde word aangevul met ’n spesifieke oordeelsuitspraak in die vorm van die tekening van ’n vyandige aanvalsmag wat aanstorm.

Alhoewel daar heelwat verskil van mening oor die verbande binne en redaksiegeskiedenis van Jesaja 1-12 bestaan, is dit ’n basiese eenheid bestaande uit profesieë ten opsigte van Juda en Jerusalem. Waarom die roepingsvisioen, wat die begin van Jesaja se bediening verhaal (742 vC), eers in hoofstuk 6 staan, kon nog nie verklaar word nie. Dit vorm egter ’n verdelingspunt, omdat die profesieë wat daarop volg klaarblyklik betrekking het op die tyd van die sogenaamde Siries-Efraimitiese oorlog (735-734 vC). Hoofstuk 1-5 vorm min of meer ’n eenheid en word deur die meeste verklaarders beskou as komende uit die jare voor die Siries-Efraimitiese oorlog. Jesaja 2:1 is ’n duidelike opskrif/inleiding, soortgelyk aan dié in 1:1. Hoofstuk 2-4 vorm min of meer ’n tematiese eenheid, terwyl hoofstuk 1 in die algemeen as ’n (redaksionele) komposisie of versameling uitsprake gesien word wat as tematiese inleiding vir ten minste Jesaja 1-39 dien. Jesaja 5 vorm binne die breër verband dus ’n selfstandige tematiese eenheid, maar sluit in verskillende aspekte by sake wat in hoofstuk 1 ter sprake kom, aan.

Jesaja 5:1-7 staan bekend as die “wingerdlied” (vgl 5:1a/b). Goldingay skryf: “The poetic intensity increases as the lines of verse become longer through verses 4-6, mirroring the overflowing indignation of poet and lover.” Hy vervolg dat daar ’n klaagelement in die ritme (“lament meter”) van die lied is wat “blues-like” klink. Baie is van mening dat die profeet ’n bestaande bekende lied neem met ’n tema wat waarskynlik by die Loofhuttefees gebruik is. Aanvanklik klink dit na ’n vreugdevolle lied, maar iets in die ritme suggereer dat dit eintlik ’n begrafnislied is om so die negatiewe afloop te suggereer.

In die eerste verse sing die profeet in die eerste persoon oor “sy geliefde” wat ’n wingerd geplant het. Op die oog af kan dit by die huttefees bloot op ’n vriend dui. Maar daar is elemente in die lied wat suggereer dat dit hier oor meer as net ’n landbousituasie handel. Baie verklaarders sien in die lied ’n subteks wat eintlik ’n liefdes-verhouding suggereer (sien onder). Daarom dink sommige dat die spreker moontlik die “vriend van die bruidegom” is wat vir die voorbereiding van die bruilof verantwoordelik is (vgl Joh 2:9; 3:29). Weens die rol van vroue by die huttefees, meen Susan Ackerman dat die lied oorspronklik deur die vroue gesing is. Hoe dit ook al sy, die lied het ’n sterk emosionele karakter wat die simpatie van die hoorders ontlok. Die woordkeuse en poëtiese kwaliteit van die verse dra daartoe by. Die opbou van positiewe aktiwiteite word in die laaste twee woorde van vers 2 in ’n antiklimaks omskep.

In vers 3-6 verwoord die profeet nou die woorde van die “geliefde”, die teleurgestelde wingerdboer/bruidegom self. Met die eerste verse is die simpatie van die hoorders wat nou direk aangespreek word, reeds gewek. Die retoriese vrae in vers 3-4 kan alleen maar hulle instemmende meelewing ontlok: Hy kon sekerlik nie meer gedoen het nie. Ook sy voorneme wat hy van plan is om met die wingerd te doen, wat hy in vers 5-6 aan hulle meedeel, sal klaarblyklik hul instemming ontlok: Hierdie oordeelsuitspraak is beslis geregverdig! Maar soos aan die einde van die eerste spreker se woorde (v 2h) lê daar ook in die slot van vers 6 ’n angel. Wie mooi geluister het, sal met ’n skok besef dat die spreker nie maar net ’n mens is nie (Matt 8:27). Hiermee gee die profeet hom doelbewus weg: Hy praat inderdaad namens God self.

In vers 7 ontknoop die profeet die betekenis van die lied. Diegene wat daar voor hom sit en dit beaam, hulle is die wingerd, die tuin wat God met soveel sorg vir sy eie vreugde/verlustiging (vgl Spr 8:30-31) onderhou. Dis hulle self wat God so teleurgestel het. Met ’n skok ontdek die hoorders dat hulle pas beaam het dat God se oordeel oor hulle meer as geregverdig is. Met die gebruik van ’n gelykenis of metafoor by wyse van ’n lied, bring die profeet op uitsonderlike wyse die geregverdigde oordeel van God vir sy hoorders aan die verstand. Die truuk wat hy gebruik, is soortgelyk aan Natan s’n teenoor Dawid (2 Sam 12:1-9). Hierdie verse is dus nie ’n gelykenis of metafoor as sodanig nie, maar maak daarvan gebruik om uiters effektiewe kommuni-kasie te skep. Dit kan amper as ’n interaktiewe drama (operette of tragedie?) beskryf word.

Die hoofkarakter word die sanger se “geliefde” genoem. Dit kan bloot ’n goeie vriend of familielid (“oom”, Jer 32:7-9) wees, maar veral iemand met wie jy ’n liefdesverhouding het (soos deurgaans in Hooglied).  Daarom suggereer die woord in die lied onmiddellik iets meer as net landbou.

Dat die wingerd as metafoor gebruik word is hoogs betekenisvol. Wingerdbou was natuurlik ’n stapel- landboubedryf in Palestina (1 Kon 21:1 ev). Omdat die Loofhuttefees (sukkôth) in die herfs aan die einde van die vrugteseisoen gevier is (Lev 23:33-36, 39), meen baie verklaarders dat die profesie die eerste maal by die fees “opgevoer” is. Hier sou inderdaad stories van harde werk en die “groot oes” vertel word. Die tema van die lied is dus hier baie gepas. Daar pas ook ’n lied by die vreugde van die geleentheid (Jes 16:9-10). Maar die subteks is onmiddellik aanvoelbaar: Die wingerd word in die Bybel dikwels as metafoor vir God se volk gebruik (3:14; 27:2-6; Ps 80:9-12; Matt 20:1 ev). Dus, voor vers 7 dit verklaar, is daar reeds die suggestie dat dit eintlik oor die volk gaan. Maar die wingerdmotief word ook as metafoor vir ’n liefdesverhouding gebruik (Hoogl 2:15, 7:8-9,12, 8:11-12). Hiermee word ’n verdere dieptedimensie van God se gevoel teenoor sy volk gesuggereer.

Die voorbereiding van die wingerd word met ’n opeenstapeling van werkwoorde beskryf. In die uiters klipperige Palestina is die voorbereiding van wingerd-grond, wat gewoonlik diep gedolwe moet word, ’n aanduiding van harde werk. Die landbouer se moeite word gesuggereer deur die opruim van klippe, bou van die muur, toring en parskuip, wat dalk uit soliede rots gekap moes word. Dat hy net die beste gedoen het, blyk uit die ideale ligging van die wingerd en die plant van edelstokke. Die ommuring en die bou van ’n wagtoring dui op die deurlopende sorg. Dat hy nie maar net ’n tydelike skerm bou nie (Jes 1:8) dui op sy langtermyn verwagting van die projek, in so ’n mate dat hy by voorbaat ’n parskuip gereed kry. Binne die verband van die metafoor verbeeld die aksies natuurlik God se onverdeelde aandag en liefdevolle sorg vir Israel deur hulle geskiedenis. Let op dat vers 3-4 herhaaldelik van “my wingerd” praat.

Die antiklimaks waarmee die eerste verse eindig, word deur die teenoorstelling van kwaliteit druiwe (“veredelde wingerdstok”, Jer 2:21) met “suur/stink” druiwe gestel (die bnw hier word elders van ontbindende lyke gebruik: 34:3; Am 4:10). Hierdie antiklimaks en teleurstelling word verder versterk met die werkwoord wat beide “rustig wag vir” die vrug, soos ’n landbouer of ook “met verwagting uitsien” (“verwag” NAV) beteken. Nadat ’n wingerd geplant is, neem dit etlike jare voordat dit behoorlik produseer. En: sonder vrug is wingerdhout nutteloos (Eseg 15:1 vv).

Dat die “inwoners van Jerusalem” vir ’n uitspraak gevra word, pas sekerlik by die situasie waar almal met die huttefees byeen is (soos boere by ’n boeredag!). Maar hiermee word ook ’n tipiese regsituasie soos wat dit in die sogenaamde poortreg gefunksioneer het (Deut 21:18-21), gesuggereer: Dis hofsake hierdie! Volgens hierdie Deuteronomiumteks moes dieselfde mense wat die oordeel fel of bekragtig dit ook voltrek. In die teks fel hulle dus nie net oordeel oor hulleself nie, hulle moet dit aan hulleself voltrek!!

Die uitspraak: “. . . en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting / vir geregtigheid, maar helaas: hulpgeroep”, is ’n skerp geformuleerde uitspraak. Binne die verband van die lied is dit eerder ’n teleurgestelde klag as ’n aanklag. Met die teenstelling word toepassing gegee aan die “edel” teenoor die “stink” druiwe (v 2). Die uitdruklike klankspel wat in die teenoorstaande terme in vers 7 gebruik word, wat onmoontlik is om te vertaal, wil juis die kontras van die saak versterk:
reg teenoor bloedvergieting
(Hebr mišpath  teenoor   mišpaģ)

geregtigheid teenoor hulpgeroep
(Hebr şedaqah  teenoor   şe’aqah)

Die terme is eerder omrede hulle klankfunksie as spesifieke inhoud gekies. “Reg” en “geregtigheid” word dikwels as parallelle terme gebruik vir wat reg en billik is, veral in terme van die wet van God (Jes 16:5; 32:1 Liedke). Dit word dikwels in verband met optrede teenoor swakkeres en minderbevoorregtes gebruik, soos ook uit die volgende verband blyk (5:8, 20, 23). Dit gaan nie soseer oor die nakom van sekere gebooie nie, maar oor die regte lewenshouding. Dit word hier verseker nie in juridiese konnotasie gebruik nie, maar dit is ewe min ’n blote gesindheid; dit vra konkrete dade, soos uit die volgende verse blyk. Dit is nie ’n wettiese prestasie nie, maar eerder die gepaste reaksie op God se genade (Limburg). Die wingerdlied demonstreer juis dat die volk nie op gepaste wyse op God se genadige bemoeiing gereageer het nie.

“Bloedvergieting” roep ’n skrikwekkende scenario op (Gen 9:5-6). Die feit dat mense inderdaad deur magtiges vermoor is om hulle grond te verkry, dit waarvan die volgende vers praat (5:8), word bevestig deur die verhaal van Nabot (1 Kon 21). Dit roep ook die aanklag in Jesaja 1:15 op, dat die bidders se hande met bloed bevlek is. Ook die feit dat  hulle sonde hulle juis rooi bevlek (1:18), mag in dieselfde rigting dui. 1:21 noem hulle “moordenaars”. Die hoorders wat na die oesfees kom om God te dank vir grond en oes, word tot verantwoording geroep oor die manier waarop hulle die grond waarop hulle oes verkry het!  “Hulpgeroep” kan enige benoude roep om hulp wees (Jer 48:3 ev), maar binne die konteks van Jesaja 5 (v 20, 23) is dit, soos dikwels elders, die noodroep van polities of sosiaal veronregtes (so NAV, Eks 3:7, 9; Ps 9:13).

As selfstandige lied is die bedoeling van Jesaja 5:1-7 nie in die eerste plek om die hoorders van sosiale en godsdienstige wandade aan te kla nie, maar om hulle op ’n vernuftige manier tot die besef te bring dat hulle, deur wat hulle doen (en nie doen nie), op onverklaarbare en selfs teennatuurlike wyse op God se geslagtelange bemoeiing met hulle reageer. In Natan se woorde: “Jý is die man;” julle het pas julleself veroordeel!

Hermeneuties

In die oorlewering van ons teks is dit, na aanleiding van 5:7, in verband met ander profesieë van oordeel, spesifiek as sosiale (5:8-10, 20-23; 1:16-17, 21) en godsdienstige (5:18-19; 1:11-17) misstande verstaan. Hierdie profesieë gee so aan ons teks spesifieke perspektief en vulling. ’n Mens kan jou voorstel dat Jesaja se hoorders, of die latere hoorders van die profesie van 5:1-7, sou vra: “Maar wat het ons dan gedoen dat jy ons van bloedvergieting beskuldig?” (vgl Mal 1:6; 3:7) En binne konteks kom die antwoord: Die rooi van die feeswyn aan julle hande en op jul klere is eintlik die bloed van diegene wie se regte julle ontneem het

(1:15-16). Ons teks sê: Hoe meer begenadig, hoe groter die verantwoordelikheid om dienooreenkomstig te  reageer: “in die wat naby My is, wil Ek my as die Heilige laat ken” (Lev 10:3 OAV). Binne die verband is die karakterisering van die Here in 5:16 van besondere belang (ook in antisipasie van 6:1-6).

Jesus se gelykenis oor die eienaar wat sy wingerd verhuur het, toon ooglopende ooreenkomste met ons teks (Matt 21:33-46). Binne sy konteks is dit nou nie die wingerd nie, maar hulle wat daaroor aangestel is wat misluk, ja, hulle vergryp. Jesus gebruik dieselfde strategie as Jesaja om vir die priesters en Fariseërs aan die verstand te bring dat hulle pas ’n oordeel oor hulleself uitgespreek het.

Jesus se kruisdood en opstanding het duidelike implikasies vir oortreding en skuld: Hy is terwille van die oes doodgemaak (daarop sinspeel die gelykenis in Matt 21). Maar juis dit laat Nuwe-Testamentiese gelowiges onder ’n nog groter verantwoordelikheid om met ’n lewe van geregtigheid op God se weldade te reageer. Meer as die vraag aan Jesaja se hoorders klink die vraag ná Pase: Wat kon God nog meer gedoen het? Inderdaad niks. Maar sy dood wys ook hoe erg ons dade is: In ons plek word Hy bloedvergieter en verdrukker (2 Kor 5:21).

Maar ook Pinkster het implikasies vir die betekenis van ons teks. Hier kom Jesus se ander variasie op die wingerdmetafoor in Johannes 15 ter sprake. Jesus is self die ware/edel wingerdstok. Hy lewer vrug, maar deur die lote. Ook die lote wat nie vrug dra nie (stink druiwe /werke), word weggeneem en kom onder die oordeel. Maar hier word ook gesê dat dit inderdaad (en alleenlik) moontlik is om die verwagte vrug te lewer: deur in noue gemeenskap met Hom te lewe, deur sy lewensap deur jou te laat vloei. Dis die Gees wat die vrug lewer, die vrug van ’n lewe van reg en geregtigheid, inderdaad alles wat die wet eis. Hiervolgens is die gepaste reaksie op ons teks een van nuwe toewyding “sodat dit nog meer vrug kan dra” (Joh 15:2).

Enkele invalshoeke om oor Jesaja 5:1-7 te preek:
Fokus op teleurgestelde verwagting: Ons lewe is vol daarvan, dikwels van diegene wat die naaste aan ons is: huweliksmaat, kinders, geestelike en ander leiers, mense na wie ons opsien. Hoe hanteer ons teleurstelling? Met oordeel? Is die doel van oordeel in die Ou Testament nie maar ten diepste herstel nie? Wat leer Jesus en die Gees ons, hoe maak ons met ander wat ons teleurstel?

Om die gemeente tot selfondersoek te bring en ’n besef dat ons selde gepas op God se weldade reageer. Godsdienstig-selfgenoegsame mense hoor die Woord die moeilikste. Hulle moet op onkonvensionele wyse as ’t ware onkant betrap word om hulle eie werklikheid volgens Gód in die oë te kan kyk.

Handel oor die verband tussen gawe en opgawe; tussen wat God doen en ons moet doen. In Jesus, meer nog as in die Ou-Testamentiese geskiedenis, het God meer gedoen as wat denkbaar is, niks kom kort nie: “D(d)it is volbring!” Wat ons doen kan daar niks aan byvoeg nie: dit is die evangelie (Gal 1-2). Maar die punt van ons teks is juis dat as die dade nie volg nie, die loot droog, nutteloos, verbrandbaar is. Die boom word aan sy vrugte geken (Luk 7:43 vv).

Fokus op die sosiale verantwoordelikheid van gelowiges en die gemeente/kerk. Volgens die Leesrooster word die teks in “barmhartigheidsmaand” gepreek. Wat is die betekenis van “reg en geregtigheid” in elke gemeente se konkrete situasie? Watter prioriteit is dit in elke gemeente en lidmaat se lewe om onreg, uitbuiting, verwaarlosing, diskriminasie, ensovoorts teen te gaan? Hoe kry ’n mens die gemeente (en eerstens jouself as leier/prediker) om die werklikheid, om ons, deur God se oë te sien en om met sy ore die noodkrete te hoor? (vgl Eks 3:7). Met die lees van hoofstuk 4 van Biéler se boek, Wealth and the Control of Economic Power, waarin hy lang aanhalings uit werke van Calvyn gee, bring elke gereformeerde gelowige by die punt waar Jesaja 5:1-7 sy hoorders wil bring. Wat ons is en het is God se manier om na die ontworteldes, ontneemdes, verdruktes en lydendes om te sien. Calvyn skryf ons is “the ministers to the poor”, om vir hulle te voorsien.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord
Voorganger: Luister tog, Herder van Israel,
Gemeente: U wat die nageslag van Josef soos ’n kudde lei;

Voorganger: U wat oor die gerubs troon,
Gemeente: verskyn tog aan ons (uit Ps 80).

Voorbeeld
Vertel die lewensverhaal van ’n geloofsgetuie wie se lewe die waardes wat in die prediking aan die orde gestel word, vergestalt het. Voor die hand liggende voorbeelde is Moeder Teresa of Fransiskus van Assisi, maar voorbeelde uit ons eie Suid-Afrikaanse konteks sal nog treffender wees. Voorbeelde uit die geskiedenis van julle eie gemeente kan juis ook as inspirasie dien. Met betrekking tot geloofsgetuies wat vir sosiale geregtigheid en spesifiek ook die bestryding van armoede gewerk het, het die NG Kerk en VG Kerk ’n skat van voorbeelde soos Beyers Naudé.

Lied

Toetrede: Lied 526 “Die werk behoort aan U, ons Heer”
Diens van die Woord: “Bly volhard soos atlete”

Familie-oomblik

Kinders sal moeilik die betekenis van die verhaal van die wingerd op sy eie snap.  Maar hulle sal beter verstaan as eerder op die onreg van die volgende perikoop (5:8-10) gefokus word, wat prakties die afgryse van die Here oor sy wingerd demonstreer (5:1-7). Jy sou ook kon fokus op die verhaal van die ryk dwaas in Lukas 12:16-21 om die betekenis van Jesaja 5 te illustreer, al word die OT teks nie met hulle behandel nie.

Gebruik die volgende illustrasie om met die kinders te gesels oor die waarde van “deel” (share).  Maak ’n sak vol van goodies (lekkers, ballonne, speelgoed, boeke – sal beter werk as die kinders die items na die tyd kan hou).  Terwyl jy die goodies uit die sak haal, gesels oor hoe baie dinge jy het, en wat jy alles daarmee kan doen.  Lê klem op die feit dat jy eintlik te veel het en nie alles gelyk kan gebruik nie, en ook nie meer regtig plek het om alles te bêre nie.

Laat die kinders vir jou help om ’n plan te maak met die goodies.  En reageer op hulle voorstel om die goodies te deel.  Laat hulle dan van die goodies by jou kom kry.  Brei dan uit oor die verhaal van die ryk dwaas, of oor die aanklag in Jesaja 5:8-10, en maak die punt dat geluk nie lê in alles wat jy vir jouself hou nie, maar in alles wat jy met ander deel.  Dit maak God se hart bly, want dit is hoe Hy ons gemaak het, om sy goodies uit te deel.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Vir die Prediker
(Vertel eers die storie voordat die Skrifgedeelte gelees word. Die storie is ʼn “gelykenis”, waarin hoop en teleurstelling mekaar afwissel soos Israel se geskiedenis. Indien u dit as gelykenis wil gebruik, moet die toepassing liefs nie te lank wees nie, want die impak van die verhaal behoort mense te laat verstaan dat onreg nie onskadelik is nie, maar lewens vernietig. Indien u ongemaklik met die “gelykenis”-gedagte is, verkort die verhaal en gebruik dit as inleiding wat dan toegelig word deur die eksegese en hermeneutiek aan die einde.

Die boodskap dat dit die rykes en magtiges is wat vir hul eie plesier en gierigheid oor die armes loop en hulle nie steur aan hulle hulpgeroep nie en sodoende die wingerd “vrugteloos” laat, kom in die storie voor. Die storie eindig sonder hoop nadat daar soveel belofte van uitkoms was en daar daadwerklik ook deur die ander gehelp en gesorg is (God se antwoord op gebed is juis soms via naasteliefde, soos in Jesaja deur God voorsien). Dit is wat gebeur wanneer dié wat het, oor die ander loop óf hulle nie steur aan die armes se poging om wel ʼn lewe te maak nie. Hulle verongeluk eintlik God se redding wat Hy bewerk het en kap sy hande af om te voorsien vir die ander.)

Die vloed:

Die vloed kon nie op ʼn slegter tyd gekom het nie. Dit was droog,  die veld was kaal en ou nog ʼn lang tyd neem om te herstel. Die skaaptrop is tot ʼn kern verminder so daar sou ook nie vinnig ʼn inkomste van kom nie. Die enigste hoop vir die boerdery was die besproeingslande langs die rivier. Die lusern het darem gehelp dat die bietjie vee wat oorgebly het, kon oorleef en het vir ʼn skraal, maar noodsaaklke inkomste gesorg.

Toe kom die groot reën waarvoor so lank gebid en gehoop is, maar dit het so vinnig en in oorvloed gekom, dat die rivier al die besproeïngslande saamgeneem het. Die vore en klippe wat dit agtergelaat het, het beteken alles sal weet van voor af gevestig moet word. Jaques en sy senior werkers het al langs die rivier afgestap terwyl daar ʼn swaar somber stilte tussen hulle hang. Elkeen weet hoe hard almal gewerk het om te sorg dat almal op die plaas bly. Hulle was almal tervrede met net die noodsaaklikste, maar die plaas kon darem nog vir almal sorg. Nou het dinge baie donker gelyk.

Toe hulle by die kransdraai  in die rivier kom, was almal verstom. Hierdie was die heilige stukkie aarde; daar mag nooit ʼn ploeg of trekker naby gekom het nie. Dit was dig begroei met bome en bosse. Die plaasmense het dit “Klein-Paradys” gedoop. Hier kon jy net kom sit en die natuur toelaat om jou siel te troos. Die verskeidenheid geluide en die bruisende lewe was vir baie geslagte die inspirasie in moeilike tye, maar nou was dit net ʼn kaal stuk grond. Dit was asof ʼn groot hand alles net weggevee het. Daar het hier nog ʼn boomstam uitgesteek soos hand wat desperaat na die hemel reik vir hulp. Groot klippe het soos hul gedagtes, verdwaal en verstrooi oor die vlakte gelê. Dit was asof daar net nie koers in hul denke kon kom vanoggend nie.

Skielik sê Oom Frans wat al geslagte lank op die plaas werk. “Klein-Paradys” het vir ons voorsiening gemaak.” Almal staan verstom, voor hulle lê, ʼn braak woestynland, so plat en gelyk en leeg  soos ʼn tafelblad. “Hierdie stuk aarde sal die maklikste en goedkoopste wees om weer te begin verwerk. Ons kan baie vinnig weer hier plant en ʼn oes kry. Hierdie grond was noog nooit beplant nie en die vloed  het ʼn groot neerslag modder gelos. Ons hoef dalk nie eers kunsmis te gebruik nie.”

Skielik was daar weer lewe in die lug, die manne het soos spreeus gekwetter en het al gesien hoe groen hierdie land kan staan.  Die besproeïngsvoor loop net bokant die grond verby en dit sou maklik wees om die land met besproeïngswater nat te lei. Hierdie nuwe hoop, het aansteeklik op almal ingewerk, behalwe op Jaques. Hy het geweet dat hy die einde van die pad bereik het, hy sou nog skuld moes aangaan vir saad en diesel en daar was net nie ʼn manier waarop hy dit kon doen nie.

Oom Frans merk Jaques se stilte op en voor Jaques vinnig wegdraai en koers kies rivier toe, sien hy die trane in sy oë. Hy stuur die ander huis toe en sê hulle moet solank gaan voorraadopname maak. Hoeveel diesel, grawe, sement , sommer van alles, want  as hulle begin werk moet daar nie gesoek word na goed nie.

Oom Frans stap na Jaques toe wat hande in die sakke, met krom skouers oor die rivier staar waar hy van sy gelukkigste dae as kind deurgebring het. Hy sak op sy hurke af, sy oupa het altyd gesê dat hierdie plaas God se belofte was wat waar geword het. Hulle moet mooi kyk na die plaas en na mekaar, want dan sal die plaas mooi na hulle kyk. Hoekom hierdie magtige vloed, nadat hulle so hard gewerk het om gereed te wees vir die reën? Hoe is dit moontlik dat die reën die laaste strooi was wat die kameel se rug gebreek het?

Oom Frans staar na Jaques, hy het hom sien groot word op die plaas. Hy was die een wat grond diep lief gehad het. Hy het deur die hartseer siekte van sy pa alles aan die gang gehou en gesorg dat sy pa die beste behandeling kry, maar dit het groot geld gekos.  Hy het vir hulle almal gesorg, baie keer ten koste van homself en hy voel nou nie net sy eie verlies nie, maar hy verstaan die krisis wat vir elke gesin op die plaas voorlê. “Jaques, gaan koöporasie toe en gaan praat met hulle, dalk is daar iets waaraan ons nie nou dink nie. Die God wat hierdie plaas vir jou oupa gegee het, het al baie keer op snaakse maniere vir ons voorsien. Ek weet dis hard en moelik, maar jou oupa het altyd gesê, ‘Trots en eiewilligheid is die klippe wat ploegskare breek’. Kom ons ry dorp toe voordat hierdie moedeloosheid die murg in jou pype laat opdroog.”

Op die dorp aangekom, stap hulle by die koöporasie in. Daar staan ʼn vreemde man by Oom Andries, die koöporasiebestuurder, en gesels. Toe Oom Andries hom sien groet hy hom uitbundig en wuif hom nader. “Ontmoet Mnr. Barnardo, hulle maatskappy wil suiker-mielies in die omgewing plant en soek mense wat bereid is om te help ekspirimenteer. Ek sê nou net vir hom as daar een boer in die omgewing is wat ek met so ʼn belegging sal vertrou, is dit jy.”

Jaques voel hoe die onreg in hom opstoot, want hier is geleentheid, maar hy sal dit nie kan benut nie. Hy trek sy asem in terwyl hy sy kop skud en wil net die aanbod van sy hand wys, toe hy voel hoe Oom Frans hom aan die arm vat en skielik agter hom begin praat. “Ons lande het almal weggespoel in die vloed, die meeste sal baie lank vat om reg te kry, maar daar is ʼn paar hektaar wat uitstekend geleë is en baie gelyk is. Ons sal dag en nag werk om dit so gou as moontlik reg te kry. Dit is diep, vrugbare grond en as daar iewers ʼn plek is waar nuwe gewasse moontlik sal groei, is dit daar.”

Oom Andries se oë vernou, “Is dit waar Jaque, was die skade so groot daar by jou? Die knop in Jaque se keel is te groot, hy skud net sy kop. Oom Andries kyk na Mnr. Barnardo en sê hulle moet in sy kantoor gaan gesels. Hy sê Jaque moet solank sy ander sake in die dorp gaan afhandel en so oor 2 uur weer ʼn draai kom maak. Die uiteinde is dat tussen die koöporasie en die mielie-maatskappy, hulle die “eksperiment” sal borg. Jaque sal 75% van die opbrengs kry as vergoeding en die ander 25% sal vir verdere ontwikkeling gebruik word.

Die volgende paar weke is daar amper nie geslaap nie, ander boere wat gehoor het van die skade en ook met trekkers en werkers daar aangekom en gehelp om alles betyds reg te kry. Die mielies is geplant en vandat die plantjies die grond gebreek het, was dit duidelik dat hier ʼn geil oes oppad is. Almal was opgewonde, die wonderwerk was besig om voor hul oë te gebeur.

Een Sondagoggend kom van die werkers by die plaashuis aangehardloop. Hulle is uitasem en kan eers nie ʼn woord uitkry nie, later kry een van hulle dit uit, “Julle moet dadelik kom kyk wat onder by die land aangaan!”

Toe hulle by die land aankom, kon niemand glo wat hulle daar sien nie. Na die vloed was daar nog nie geld of tyd om die drade te herstel nie en Saterdagmiddag laat het van die bure se seuns met hulle “four-wheelers” in die rivier op gery en hierdie plat stuk land met sy sagte grond gebruik om al hul oortollige energie op uit te jaag. Daar lê kronkelpaaie deur die suikermielies was so heuphoogte was. Dit lyk plek-plek of ʼn groot draak met sy kloue gekyk het hoeveel van die mielies hy plat kan trap. Van die werkers het in die land ingestorm en probeer om van die plante weer regop te kry en vinnig hul wortels in die grond te kry. Dalk kon van die plante gered word, maar die plante was geknak en plat getrap. Die spore wat in die grond getrap is, was diep en die lande sou weer van voor af gelyk gemaak moes word. Hierdie oes sou nie gered kom word nie. Hierdie kans wat hulle gegun is, is vertrap deur  moedswillige, eie-geregtige kinders. Agt gesinne se lewens is saam met die suikermielies geknak. Dis so onnodig  en die skok en ongeloof vedoof vir ʼn oomblik alles. Jaques en Oom Frans staar na die lande met hulle littekens. Dis asof iemand met ʼn reuse sweep totaal onbeheersd aan die slaan gegaan het met een ding voor oë, “Maksimum skade!”

Oom  Frans prewel met ʼn stem wat bewe en huiwer van woede en emosie, “Hulle is boerkinners, hulle weet van beter. Almal in die omgewing weet hierdie is ons laaste kans, hulle moes ons net uitgelos het.”

Frans staan agter op die bakkie en dis asof hy ʼn toeskouer is, so asof alles ver van hom gebeur. Hy sien hoe van die werkers steeds desperaat van die plante probeer red, hoe ander net verwese en verdwaas rond loop op die land. Hy hoor die verontwaardiging en woede wat afgewissel word met ʼn desperate vraag, “Wat gaan nou gebeur?” Dan begin die woede in hom opstoot, “Hoe kan kinders wat alles het, toegelaat word om so oor die lewens van goeie hardwerkende mense te stap? Hoe kan mense vir wie alles ʼn grap en speletjies is, toegelaat word om so met die lewens van ander te speel?” hoe is dit moontlik dat mense die tou van hierdie reddingsboei wat God na hulle uitgegooi het, sommer net so kom afsny! Hierdie daad het nie net hulle toekoms vertrap nie, maar ook hul geloof. Hierdie sonde is nie net teen mense nie, maar ook teen God!

Lees nou die Skrifgedeelte

Ons kan hierdie emosies verstaan omdat die onreg so blatant is. Jesaja probeer presies dieselfde illustreer. Die onreg is so blatant, juis omdat hulle van beter moes geweet het. Die tou van die reddingsboei wat God na hulpeloses toe uitgooi, is deur ander volksgenote afgesny. Ons sonde teen ons medemens, is ook sonde teen God. God wat juis deur ons by daardie mense betrokke wil raak.

Ons het ’n totale herevaluering nodig van hoe ons dink oor wat ons is, wat ons behaal, wat ons het. As Gereformeerdes glo ons mos dat die totale werklikheid aan God behoort en onder sy beheer en bestuur is. Die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus bely, na aanleiding van die lewensmotto van Calvyn, dat “ek nie aan myself behoort nie, maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus . . .” Wat beteken dit vir ons? Calvyn skryf: “Dink mooi na oor die voorwaarde waaronder God gawes en besittings in die hande van die wat besit, plaas: sodat hulle beide die geleentheid en die vermoë sal hê om hulle wat minder het te help. So word ons menslikheid beskerm, deurdat dié wat  vermoëns besit dit beskikbaar sal maak aan hul naastes.” (aangehaal, vertaal uit Biéler bl 284). Dat God aan ons gee, is met die oog op ander sodat ons hulle kan help; dit is sy manier om ook vir ander wat nie ontvang het nie, van Hom te laat ontvang, uit ons hand.

Die inhoud van die aanklag van die wingerdlied kom in die volgende verse (8-24) voor. God wil ʼn gemeenskap skep waar mense – alle volksgenote veilig kan voel, maar die lewensingesteldheid van veral die gegoedes en invloedrykes verongeluk God se droom:

Die uitspraak: “. . . en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting / vir geregtigheid, maar helaas: hulpgeroep”, is ’n skerp geformuleerde uitspraak. Binne die verband van die lied is dit eerder ’n teleurgestelde klag as ’n aanklag. Met die teenstelling word toepassing gegee aan die “edel” teenoor die “stink” druiwe (v 2).

Die uitdruklike klankspel wat in die teenoorstaande terme in vers 7 gebruik word, wat onmoontlik is om te vertaal, wil juis die kontras van die saak versterk:
reg teenoor bloedvergieting

(Hebr mišpath  teenoor   mišpaģ)

geregtigheid teenoor hulpgeroep
(Hebr şedaqah  teenoor   şe’aqah)

Die terme is eerder omrede hulle klankfunksie as spesifieke inhoud gekies. “Reg” en “geregtigheid” word dikwels as parallelle terme gebruik vir wat reg en billik is, veral in terme van die wet van God (Jes 16:5; 32:1 Liedke). Dit word dikwels in verband met optrede teenoor swakkeres en minderbevoorregtes gebruik, soos ook uit die volgende verband blyk (5:8, 20, 23). Dit gaan nie soseer oor die nakom van sekere gebooie nie, maar oor die regte lewenshouding. Dit word hier verseker nie in juridiese konnotasie gebruik nie, maar dit is ewe min ’n blote gesindheid; dit vra konkrete dade, soos uit die volgende verse blyk. Dit is nie ’n wettiese prestasie nie, maar eerder die gepaste reaksie op God se genade (Limburg). Die wingerdlied demonstreer juis dat die volk nie op gepaste wyse op God se genadige bemoeiing gereageer het nie.

Daar was soveel goeie gesindhede en ʼn goeie wil om die plaas te herstel, dieselfde geld ook van die wingerd.God het sy bes gedoen om aan Israel ʼn voorsprong te gee sodat almal kon voluit lewe, maar die selfsug en eiegeregtigheid van sommige het die geleentheid ten koste van ander misbruik.  As ons maar net by God se goeie wil kan inskakel, hoeveel hoop kan daar nie na mense, selfs hele gemeenskappe,  toe vloei nie? As ons egter eie-geregtig en moedswillig die nood ignoreer en reddingsaksies vir die hulpeloses keer, is ons die klippe wat die ploegskare breek. Dan is dié wat deur God gered en begenadig is, dié wat keer dat God se reën van geregtigheid en seën op almal val en die oes van vrede regtig tot wasdom in die volk kom. Dan raak die druiwe suur of selfs stink en afstootlik in die oë van God.

Watter dade van hoop kan ons vir ander gee, watter reddingsboeie het God in ons hande geplaas om uit te gooi na ander wat besig is om hoop te verloor? Die wêreld is nie volmaak nie, seerkry en teleurstellings groei welig in ons gemeenskappe, maar die kerk/christene kan nie die oorsaak daarvan wees nie. Ons moet deel van die hoop wees, juis binne daardie teleurstellings. Maak ons optrede dat mense nog werkllik kan glo dat God goed is, dat Hy werklik goed is?

In gepaste omstandighede kan hier selfs aan die Christelike (on-?)verantwoordbaarheid van kapitalisme en die winsmotief aandag gegee word. Deur dit vraenderwys te stel, kan die kritiese gewete van die gemeente dalk gevoed word. Ten minste moet die gemeente bewus gemaak word van die suigkrag van ons ekonomiese denke en sisteme wat ons Christelike waardes van diensbaarheid, omgee, geregtigheid en liefde ondergrawe.

As selfstandige lied is die bedoeling van Jesaja 5:1-7 nie in die eerste plek om die hoorders van sosiale en godsdienstige wandade aan te kla nie, maar om hulle op ’n vernuftige manier tot die besef te bring dat hulle, deur wat hulle doen (en nie doen nie), op onverklaarbare en selfs teennatuurlike wyse op God se geslagtelange bemoeiing met hulle reageer. In Natan se woorde: “Jý is die man;” julle het pas julleself veroordeel!

Wat ons is en wat ons het is genade van God, miskien oor jare en oor geslagte aan ons gegee; langsaam het Hy ons parskuipe uitgekap. As jou wingerd op ’n heuweltop is, het Hy dit daar vir jou beskik. Om ons klink noodkrete, roep mense “bloedvergieting”. As ons nie iets doen aan strukture wat verontregting, uitbuiting, lyding en nood veroorsaak nie, is ons aandadig, maak ons God se hand toe. Barmhartigheid en geregtigheid is nie net dit wat ons soms gee nie. Dis ook vir wie ons stem, hoe uitgesproke en aktief ons as gelowiges en kerke raak oor onreg, korrupsie, swak regstelsel, swak dienste. Hoe ons indiensnemingsbeleid en loonstrukture lyk en wat die ekologiese impak van ons industrieë is.

Dalk sê jy: Nie ek nie, ek is nie aandadig nie. Lees Jesaja 5:1-7

Ons teks sê: Dis vir godsdienstig aktiewe mense soms die moeilikste om hulleself met God se oë te sien. God verwag “reg en geregtigheid”, Hy wag vir ons om te reageer op sy genade aan ons. Word daar iets van God se wingerdplanne, van sy nuwe werklikheid, van die nuwe botsels van sy koninkryk in ons samelewing sigbaar? Is daar reg of hulpgeroep? Geregtigheid of bloed-vergieting? God het sy deel gedoen. Vir wie wag Hy? “Jy is die man!”; ons is sy liggaam, die wingerd wat moet vrug dra.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Wet as dankbaarheid
Voorganger: Die Here vra van ons om uit dankbaarheid sy gebooie te gehoorsaam.
Gemeente: Wat is die grootste en eerste gebod?

Voorganger: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.
Gemeente: En wie is ons naaste?

Voorganger: Voorganger gee ’n kort opsomming van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan en eindig met die vraag: “Wie van hierdie drie is volgens julle die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”
Gemeente:
Die man wat aan hom medelye bewys het.

Voorganger: Gaan maak julle ook so (uit Luk 10).

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.