Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

God gee aan ons – God se mense – die genadegawe van ’n nuwe lewe. So lei en rig God ons tot lewende offerdiens.

God het die Israeliete uit Egipte van ’n lewe van slawerny bevry. Deur Moses gee God aan hulle die Tien Gebooie om te onderhou omdat hulle – God se mense – bevry is (Eks 1).

Op soortgelyke wyse skenk Paulus aan die vroeë Christene die opdrag tot ’n nuwe lewe, ’n genadegawe uit God se hand.

Die erediens word gekenmerk deur ons lof tot God vir hierdie genadegawe. Die gawe van nuwe lewe is vir ons gegee sodat ons deel van die groter liggaam van die geloofgemeenskap kan wees. Vandag vier ons hierdie nuwe lewe in Christus.

Ander tekste

Eksodus 1:8-2:10
Die farao probeer die getal van die Israeliete beperk
8Toe ’n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, 9het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? 10Kom ons bedink ’n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.”

11Daar is toe slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes die voorraadstede Pitom en Rameses vir die farao bou. 12Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so ’n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle. 13Die Egiptenaars het slawe gemaak van die Israeliete 14en die lewe vir hulle bitter moeilik gemaak deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die lande. Hulle moes onder dwang al die slawewerk vir Egipte doen.

15Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle ’n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit ’n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogter is,mag sy bly lewe.”

17Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: Hulle het die seuntjies laat lewe.

18Die Egiptiese koning het die vroedvroue ontbied en vir hulle gevra: “Waarom doen julle dit? Waarom laat julle die seuntjies lewe?”

19Toe antwoord die vroedvroue die farao: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.”

20As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword.
God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. 21Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee.

22Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”

Moses se geboorte en opvoeding
2 ’n Man uit die stam Levi was met ’n Levitiese meisie getroud. 2Die vrou het swanger geword en ’n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ’n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. 4Sy suster het op ’n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.

5’n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. 6Met die oopmaak sien sy dit is ’n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.

7Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u ’n vrou gaan roep, ’n Hebreeuse vrou met ’n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?”

8Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!”
Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.

9Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.”

Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. 10Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses a genoem, “want” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”

Psalm 124
As die Here ons nie gehelp het nie
124 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
As die Here ons nie gehelp het nie,
dit moet Israel bely,
2as die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind
toe hulle woede teen ons ontvlam het;
4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
5dan het die skuimende waters
ons oorweldig.
6Aan die Here kom die lof toe:
Hy het nie toegelaat
dat ons hulle prooi word nie.
7Ons is bevry soos ’n voël
uit die wip van ’n voëlvanger;
die wip het gebreek en ons was vry!
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Matteus 16:13-20
Die belydenis van Petrus

(Mark 8:27–30; Luk 9:18–21)
13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”
14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”
15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”
16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

Fokusteks

Romeine 12:1-8
Die nuwe lewe in Christus
12 En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

3Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. 6Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: (Ps 121)

Seëngroet

Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Verootmoediging

Wetvoorlesing uit die fokusteks: (Romeine 12)

Skuldbelydenis: ahv Daniël 9

Vryspraak: (1 Johannes 1)

Geloofsbelydenis

Loflied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Romeine 12:1-8

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 530 “Praat ek mense engle tale vs 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar
vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het. (Ps 121)

Seëngroet
Aan almal in …………………………………………… vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
Amen (Romeine 1)

Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Verootmoediging

Wetvoorlesing uit die fokusteks: (Romeine 12)
En nou doen ek ’n beroep op julle, broers,
op grond van die groot ontferming van God:
Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.
Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.
2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie.
Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees
in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.

Skuldbelydenis: ahv Daniël 9
Ag, Here, groot en ontsagwekkende God,
U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen,
ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie.
Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie,
ons het nie volgens u wil gelewe nie,
ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen.
Here, U het reddingsdade gedoen,
tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie.
Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie.
U is regverdig, Here.
Here ons God, bewys barmhartigheid en vergewe,
al was ons opstandig teen U,
hoor tog ons gebed en smeking.
Luister tog, my God! Hoor ons tog!
Sien tog ons verlatenheid raak,
Ons pleit by U om ontferming,
nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid.
Hoor, Here! Vergewe, Here!
Gee tog ag op ons en tree op!
Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God…
Amen

Vryspraak
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Johannes 1)

Geloofsbelydenis
Voorganger (V): Saam met die eerste volgelinge van Jesus bely ons ons geloof in Hom. Met Johannes die Doper …
Gemeente (G): Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

V: Met Andreas …
G: Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!

V: Met die Samaritane …
G: Ons weet dat Hy werklik die Verlosser van die wêreld is!

V: Met Simon Petrus …
G: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

V: Met Maria Magdalena …
G: My Meester!

V: Met Tomas …
G: My Here en my God!

V: En nou ook met die wêreldwye kerk, versprei oor alle lande, tale en kulture …
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.
Uit: Vir die erediens- ‘n Handleiding: 2007 (Bybel Media)

Loflied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Liedere

F104. “Weet Jy Nie, Jy’s ‘n Tempel?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lering)
Musiek: Tradisioneel
Teks: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Weet jy nie, weet jy nie, jy’s ‘n tempel?
Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Vol van lof, vol van krag, vol van vreugde,
Jy is ‘n tempel van die Heil’ge Gees.

Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ja ek weet, ja ek weet, ek’s ‘n tempel.
Ek is ‘n tempel van die Heil’ge Gees

F118. “Bly Volhard Soos Atlete “
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: Turn your eyes upon Jesus
Teks en Musiek: HH Lemmel
Afrikaanse vertaling: AP van der Colf
© 1922 New Spring
(Opgeneem in Jeugsangbundel I)
(Hebr 12:1-3 en 1 Kor 9:24-27)

Bly volhard soos atlete –
dis God wat ons wedloop bepaal.
Daar ‘n skaar’ verlostes wat wag om die baan
dat ons almal die wenstreep sal haal.

Elke las moet ons afgooi
– die sonde wat maklik verstrik –
dat ons God se pad met volharding kan loop;
dis die pad na die ware geluk.

Hou die oë op Jesus –
ons Vriend, ons Verlosser, ons Hoof.
Vir die vreug daarná het Hy smarte verdra;
Hy begin en versterk ons geloof.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lees Lied 253 “U het die brood gebreek” vs 1,2 as ‘n gebed

U het die brood gebreek eens by die meer
breek nou die lewensbrood vir my ook Heer
wil steeds U waarheid meer aan my ontvou
tot ek ook in U Woord my Heer aanskou
U is die lewensbrood Heiland vir my
U is die Waarheid Heer, U maak my vry
U beeld straal uit die Skrif- so helder voort
U soek ek Heer, Uself, o Lewend Woord

Skriflesing Romeine 12:1-8

Prediking

Familie-oomblik

Lees die eerste paar verse van die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Dien God Voluit
12 1–2 God het julle baie lief. Gee julle hele lewe vir Hom. Doen net wat God vra. Dan maak julle sy hart baie bly. Moenie sonde* doen soos daardie mense wat Hom nie ken nie. Nee, laat God julle van binne af nuut maak. Laat Hy julle gedagtes verander. Dan sal julle presies weet wat God se hart bly maak en hoe sy plan werk.

Gebruik die besondere verhaal van Moses se aanneming deur sy eie moeder omdat Egiptiese vroedvroue God gedien het en so Romeine 12 in die praktyk uitgeleef het. Natuurlik- dramatiseer die storie vir die kinders…

Eksodus 1:8-2:10
Die farao probeer die getal van die Israeliete beperk
8Toe ’n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, 9het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? 10Kom ons bedink ’n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.”

11Daar is toe slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes die voorraadstede Pitom en Rameses vir die farao bou. 12Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so ’n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle. 13Die Egiptenaars het slawe gemaak van die Israeliete 14en die lewe vir hulle bitter moeilik gemaak deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die lande. Hulle moes onder dwang al die slawewerk vir Egipte doen.

15Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle ’n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit ’n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogter is,mag sy bly lewe.”

17Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: Hulle het die seuntjies laat lewe.

18Die Egiptiese koning het die vroedvroue ontbied en vir hulle gevra: “Waarom doen julle dit? Waarom laat julle die seuntjies lewe?”

19Toe antwoord die vroedvroue die farao: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.”

20As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword.

God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. 21Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee.

22Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”

Moses se geboorte en opvoeding
2 ’n Man uit die stam Levi was met ’n Levitiese meisie getroud. 2Die vrou het swanger geword en ’n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ’n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. 4Sy suster het op ’n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.

5’n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. 6Met die oopmaak sien sy dit is ’n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.

7Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u ’n vrou gaan roep, ’n Hebreeuse vrou met ’n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?”

8Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!” Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.

9Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.”

Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. 10Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses a genoem, “want” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”

Preekriglyn

“Op my eerste werkdag in die Kaap, op pad kantoor toe, ry ek agter so ‘n groot Land Rover,” vertel ‘n vriend van my.

“Dis so ‘n pragtige bloue. Ek let toe ook ‘n vreemde verskynsel op. Die voertuig het ‘n Kaapse registrasienommer, maar ook in die agterruit een van die Blou Bul-plakkers op, jy weet daai en wat sê: ‘Bly kalm want jy is ‘n blou bul’. Op die buffer is ook een, ”n Bloubul eet nie vannie grond affie nie.'”

“Toe ek fyner kyk, sien ek meer tekens op die Kaapse voertuig van afgryslike lojaliteit aan die Blou Bulle,” lag my vriend. “Die kontras tussen die bloubulliefde en die nommerplaat is massief. Die een pas nie by die ander nie.”

Hy kan maar lag, want hy het pas uit die Haaitenk in die Kaap arriveer. Sy lojaliteite is ook maar verdag.

Tot sy verbasing draai die Land Rover ook by sy kantoorgebou in. Om die waarheid te sê, die bestuurder het net twee maande vantevore in ‘n baie senior posisie by dieselfde maatskappy as hy begin werk. Hy is al fisies in die Kaap, hy het al die regte nommerplaat, maar die ander lojaliteite is nog elders

“Dit het ‘n paar jaar gevat,” sê my vriend, “voordat ons twee – die haai en die bul – regtig in die Kaap aangekom het.”

Gee julleself vir God

In die eerste 11 hoofstukke van die Romeinebrief praat Paulus oor die groot ontferming van God. Die wonder is dat God na mense uitreik in Jesus Christus en deur die kragtige werk van die Heilige Gees. Die evangelie van God is ‘n krag tot redding vir almal wat glo (1:16).

Vanaf hoofstuk 12 begin Paulus praat oor hoe ons die evangelie leef. Ons leef die evangelie, sê hy in 12:1, deur te reageer op die groot ontferming, die groot genade, die beweging van God na ons toe. Ons doen dit deur onsself as lewende offer vir God te gee.

Ons doen dit ook deur die lewensstyl aan te kweek wat pas by die groot geselskap van God waarin ons nou leef. Ons leef nie gelyk aan die patrone en style van die sondige wêreld nie, maar laat God toe om ons te vernuwe (12:2).

As Christene is ons in dieselfde posisie as mense wat van die Haaitenk of uit Bloubulland Kaap toe trek. Dit vat ‘n rukkie vir ons lojaliteite om belange om na die nuwe omgewing te skuif. ‘n Nuwe lewensstyl leer jy nie sommer aan nie. Die patroon van die wêreld waarvandaan jy kom bly nog ‘n invloed op jou uitoefen. Maar deur jouself voortdurend aan God te gee, en in jou denke vernuwe te word, leef jy al hoe meer op ‘n manier wat pas by jou nuwe identiteit.

Indeling van ons teks

Ons teks, Romeine 12:1-8, is die inleiding tot Paulus se gesprek oor die geleefde evangelie. Hy gaan die res van die brief hieraan wy. Ons kan Romeine 12:1-8 as volg indeel:
1. Die algemene beginsels van toepassing op die leefwyse van gelowiges (12:1-2);
2. Die fokus op gelowiges se lewenswyse in die gemeente (12:3-5);
3. Die gawes wat die gelowiges benodig om so te kan leef (12:6-8).

Geleefde Christenskap …

As algemene beginsel van ‘n lewe in gemeenskap met God geld dat dit geleefde Christenskap moet wees (12:1-2). Prof Andrie du Toit wys op die volgende drie aspekte van geleefde Christenskap in ons teks:

… Die erns van geleefde Christenskap
Paulus is van oortuiging dat die evangelie (1:18-11:36) eers effektief word as dit geleef word. Daarom doen hy ’n beroep op elke gelowige om dit uit te leef. Geloof en werke is twee kante van dieselfde muntstuk. Werke is niks anders as ’n daad van gehoorsaamheid nie. Daarom moet die boodskap gehoor, aanvaar/geglo en geleef word. So word God se genade sigbaar!

Om te sê: “ek glo”, beteken dat ek ook bereid is om my geloof konkreet in my daaglikse lewe uit te leef (Deut 6:5-9; Luk 6:46). My gehoorsame leef van God se genade bevestig die egtheid van my geloof (Jak 2:14-17; 1 Joh 3:16, 18). Of sou dit moontlik wees om te sê: “ek glo” en dan gaan ek rustig voort om te leef volgens die eie ek? Dit is onmoontlik.

… Grond van geleefde Christenskap
Die enigste grond hoekom ek die evangelie uitleef, is God en sy genade: “Op grond van die groot ontferming van God”. Daarom is dankbaarheid so ‘n belangrike motief. So sê ek vir Hom dankie vir alles wat Hy in Jesus Christus vir my gedoen het (Joh 3:16). Dit is die wesenlike van die godsdiens wat ons moet beoefen.

As ek dit dan doen uit dankbaarheid, hoe sal my leefwyse in die praktyk lyk?

… Inhoud van geleefde Christenskap
Dit gaan daaroor om myself te “offer”. In die Ou Testament het Israel “iets” geoffer van dit wat hulle besit het – ’n dier, ’n landbouproduk of iets dergeliks. Paulus sê dat my offer lewend en heilig moet wees – ek moet iets van myself gee. Ek moet die offer as ‘t ware aan my lyf voel. Die implikasie hiervan is dat ek bereid is om “opgebruik te word in God se diens”. Dit is wat Jesus vir my gedoen het.

So ’n lewenswyse is net moontlik as ek myself met hart, siel, verstand en kragte onvoorwaardelik aan God oorgee (Matt 22:34). Dit kan ek net doen as ek nie optree om in te pas by die skema van dit wat die wêreld as maatstaf en vereiste stel nie, maar ek God toelaat om my gedagtes te verander. Eers dan kan ek “ophou om te lewe soos ek vroeër gelewe het”. Eers dan kan ek “breek met die ou, sondige mens in my wat deur my sondige begeertes verteer word”. Eers dan kan ek “lewe as ’n nuwe mens wat as die beeld van God geskep is” (Ef 4:17-24).

Dit beteken dat verandering nie in my hart (geloof) of mond (getuienis) begin nie. Ek moet ’n kopskuif (denke) maak. Ek moet anders begin dink oor myself, mense, die wêreld en ook oor God.

Daarom begin dit wanneer ek my oorgee aan God, voor Hom neerbuig en my afhanklikheid van Hom erken. Wanneer ek volkome bereid is om uit myself te klim, my voluit in diens van God te stel, my tot beskikking van God te stel. Hierdie verandering (metamorfose) is die werk van God deur sy Gees. Eers dan kan ek onderskei tussen my wil en God se wil (Fil 1:9-11). Die resultaat is dat ek minder sal twyfel, en as ek twyfel, my toevlug sal neem om by God die antwoorde te soek (Ef 4:14).

So ’n lewenswyse dra God se goedkeuring weg. Nie omdat ek perfek is en nie weer foute sal maak nie, maar omdat ek weet dat wanneer ek sukkel, te kort skiet of vasval, Christus tot my redding sal kom aangesien Hy nou aan die regterhand van my hemelse Vader sit waar Hy vir my intree. In Hom het ek die versekering dat God nooit weer oor my sukkel sal dink nie maar dat Hy my ’n tweede en ’n derde en . . . kans sal gee om myself uit dankbaarheid aan Hom te offer.

Waar leef ek my Christenskap uit?

Dit bring ons by die tweede hoofdeel van Romeine 12:1-8, naamlik waar en hoe moet ek as gelowige my dankbaarheid teenoor die Here God uitleef? Paulus gebruik eintlik die res van die brief om die vraag te antwoord. Ek leef my Christenskap uit in die volgende verhoudings:

  • My verhouding met gemeentelede (12:3-17)
  • My verhouding met die owerheid (13:1-7)
  • My algemene lewenshouding (13:8-14)
  • My verhouding met medegelowiges van wie ek verskil (14:1-15:13)

Ons staan nou stil by die gemeente as ruimte vir die uitleef van my Christenskap, aan die hand van Romeine 12:3-5.

Gemeente as ruimte vir geleefde Christenskap

Paulus is oortuig dat die uitleef van my dankbaarheid in die gemeente begin. Die implikasie is: My geloof en my lewe in die Here se gemeente is onlosmaaklik aan mekaar verbind. ’n Lewe van dankbaarheid dwing my as gelowige om nuut te dink oor my roeping binne my gemeente. Ek is ‘n lidmaat omdat die Here my ingesluit het in gemeenskap met Hom en net medegelowiges. Dit is ‘n gemeenskap van begenadigdes, waarin ook ek bereid is om soos Jesus my lewe vir my medegelowiges af te lê. Hiervan was Paulus se bediening ’n voorbeeld (lees gerus sy CV).

Dit beantwoord ook die hoe-vraag. Ek moet met ’n gesindheid van beskeidenheid my dankbaarheid uitleef (12:3-5). Dit beteken dat ek nie deel is van die gemeente om te heers nie maar om te dien en te offer. Ook nie noodwendig op dieselfde manier as al my medegelowiges nie. Die vraag wat ek myself moet vra: Is ek gereed om te vra na sy wil? Is ek bereid om sy antwoord te aanvaar sodat Hy deur my iets in sy gemeente te laat gebeur wat Hom sal verheerlik? Is ek bereid om my plek vol te staan en my verhouding met die Here sigbaar te maak?

Gemeente as Christus se liggaam

Paulus leer ons om groot te dink oor die gemeentes. Die gemeente is niks anders as die liggaam van Christus nie (5). Ons kry deel aan Christus en aan mekaar, omdat God ons deel maak van hierdie lewende gemeenskap, wat groter is as ons.

Gawes in die liggaam van Christus

Dit bring ons by die laaste moment in ons teks, die gawes waarmee ons God as lewende offers dien (12:6-8).

Om as liggaam van Christus te leef, gee God bepaalde genadegawes (charismata) aan elke gelowige volgens wat Hy dink nodig is in die gemeente (12:6). Paulus fokus op sewe genadegawes.

Tussen hakies: Daar is ook ander lyste van gawes in sy briewe. Hy verwys na ander genadegawes in Romeine 1:11, 5:15-16, 6:23 en 11:29 asook in 1 Korintiërs 7:7, 12:7-11, 28-30 en Efesiërs 4:11. Dit help ons verstaan dat die gawes wat die lewende God gee situasie-gebonde is vir die spesifieke geloofsgemeenskap waarvan ek deel is, en waarin ek geroep is om myself aan God en medegelowiges te gee.

Wat belangrik is, is dat God die gewer van al die gawes is en dat Hy deur die Gees dit aan elke gelowige gee ooreenkomstig sy bedoeling (6). Hierdie gawes is nie rede tot selfroem of selfverheerliking nie. Dit is geskenke van God aan my, wat bedoel is vir die lewe in die gemeente. God kan gawes “wegneem” of “byvoeg” na sy goeddunke.

Elke gawe afsonderlik maar ook as geheel het ten doel om God te eer en die gemeente op te bou. Dit raak aspekte wat werklik nodig is vir die gemeente om as liggaam van Christus te lewe:

  • Gawe om God se wil aan die gemeente bekend te maak (profesie in 12:6);
  • Diens, onderrig en bemoediging van medegelowiges op verskillende maniere (12:7-8);
  • Gee van wat ek het sonder teësin of uit dwang (12:8b);
  • Leiding of bestuur met toewyding in ’n gemeente in sy geheel of individueel (12:8c);
  • Hulp aan ander wat in nood is (12:8d).
Waarmee gebruik God my?

Vir elkeen van ons is die vraag watter gawes die Here aan ons toevertrou het om diensbaar te wees in die liggaam van Christus? Hoe dra ek by tot die lewe van die lewende geloofsgemeenskap? Wat is my rol in die opbou en die uitbou van die liggaam van Christus?

Die liggaam is geroep om God se genade (in Jesus Christus deur die kragtige werk van die Heilige Gees) sigbaar maak. Dit kan ek net doen deur myself te gee sonder om iets in ruil of vergoeding daarvoor te verwag. Hierin lê die uitdaging vir elke gelowige, naamlik dat ek letterlik sal “proe” hoe lekker dit is om God te dien as die liggaam van Christus!

Om saam te vat

God se groot ontferming bring my na ‘n nuwe plek, met ‘n nuwe roeping. Ek verhuis na die nuwe ruimte wat die genade van God vir my moontlik maak. Ek doen dit saam met ander mense:

  • Saam gee ons onsself as lewende offers aan God (12:1)
  • Ons leer om die ou lewe met sy waardes af te sterf, en in te pas in die nuwe patroon van lewe in die nuwe wêreld en gemeenskap wat God skep (12:2)
  • Ons nuwe lewe in ‘n lewe in gemeenskap: met God en met mekaar. Ek is nou deel van die liggaam van Christus, waarin ek myself ook gee aan medegelowiges ooreenkomstig die gawes wat God aan my gee. (12:3-5)
  • Hierdie lewe is een van konkrete diens, waarin ek met my gawes meewerk aan die diens van God en mekaar (12:6-8)

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 530 “Praat ek mense engle tale vs 1,2,3”

Seën
Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus,
die Vader
aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,
en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen (Efes 1)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.