Eerste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Drie-eenheidsondag is eers in 1334 deur Pous Johannes XII in die kerklike jaar ingevoeg. Uit tradisionele materiaal oor Drie-eenheidsondag is dit duidelik dat dit op hierdie Sondag veral gaan oor ’n sensitiwiteit vir die geheimenis van God. Die ewige God is nie so maklik grypbaar, laat staan nog begrypbaar, soos gelowiges soms dink en voorgee nie. In gelowige kringe is ons soms familiêr en ordinêr in ons omgang met God. Ons kan by Israel eerbied vir die Naam van God leer. Die voorganger moet lidmate die wonder van die drie-enige God laat beleef.
(Liturgiese voorstel 18 Junie 2000 – Auke Compaan.)

Op Drie-eenheidsondag bevestig ons as Christene opnuut ons geloof in God as Vader, Seun en Heilige Gees. “Triniteitsondag dui op die unieke Christelike verstaan van God wat deur sy teenwoordigheid die wêreld waarin Hy verskyn, deur sy misterieuse en uitdagende teenwoordigheid verander.” (P Achtemeier aangehaal in Preekstudies en Liturgiese voorstelle, Buvton, 2003,
bl 33)

Die tekste

  • Romeine 8:12-17: Die Heilige Gees stel ons in staat om as kinders van God te leef. Die Gees maak kinders van God wat tot die magtige en misterieuse God kan roep: “Abba!”
  • Jesaja 6:1-8: Jesaja se roeping tot profeet. Hy sien die Here. Dit is ontsagwekkend! Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige!
  • Psalm 29: God se stem word in en deur ’n donderstorm gehoor. Die stem van die Here is magtig, vol majesteit! Hoe geweldig!
  • Johannes 3:1-17: Nikodemus leer hoe die Gees mense nuut maak. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. ’n Geheimenis.

Ander tekste

Jesaja 6:1-8 – Jesaja se roeping tot profeet

Jesaja word geroep om profeet te wees
6 In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

3Die serafs het mekaar telkens toegeroep:
“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

4Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

5Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

6Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

8Toe het ek die Here hoor vra:
“Wie kan Ek stuur?
Wie sal ons boodskapper wees?”
Ek het geantwoord:
“Hier is ek! Stuur my!”
Psalm 29 – God se stem word in en deur ’n donderstorm gehoor
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.
Johannes 3:1-17 – Nikodemus leer hoe die Gees mense nuut maak.

Jesus en Nikodemus
3 Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”

10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Fokusteks

Romeine 8:12-17
Lewe deur die Gees
8 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Predikers kan gebruik maak van Bybel-Media se Preeksketse en Liturgiese Riglyne 2011-12 vir agtergrond oor teks en konteks. Besoek www.bmedia.co.za.

Ekstra stof

Die brief aan die Romeine
Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 vC in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand 20:2-3). Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl Rom 15:25-26 met 1 Kor 16:1-7) .

Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie (Jode uit Rome het op Pinksterdag die evangelie gehoor, wat moontlik tot die stigting van die gemeente van Rome aanleiding gegee het: vgl Hand 2:10), baie mense aan hom bekend is (Rom 16:3-16 – hy groet meer as 26 mense by name, waarvan ’n derde vroue is!)

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl 16:5,14,15). En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie? Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl Gal 5:2-12) en die voedsel wette (Rom 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl egter Kol 2:16).

Selfs met Paulus se laaste besoek aan Jerusalem aan die einde van sy drie sendingreise, sou dié vraag steeds krities wees. Vergelyk die klem wat die gelowiges in Jerusalem op die wet van Moses plaas in Hand 21:17-26. Dit is juis sy inval by hulle planne wat hom in die moeilikheid bring en uiteindelik as gevangene in Rome bring, sy eerste besoek daar, maar in boeie.

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees. God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.

Dink maar net aan Luther wat tot inkeer gekom het deur die evangelie in hierdie teks en die Reformasie wat hieruit voortgevloei het. Geen wonder dat baie geleerdes dink dit is die belangrikste brief wat Paulus ooit geskryf het (Barth, Jonker).

Let op hoe Paulus in ’n retoriese trant skryf (die sogenaamde diatribe) wat leraars van daardie tyd baie keer gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog. ’n Mens sien dit op ’n paar plekke in die brief, bv. 2:1-5, 17-24 waar hy in ’n verbeeldingsgesprek is met ’n Joodse gespreksgenoot en in 11:13-24 met ’n gelowige uit die heidense nasies. Let ook op hoe Paulus in beide gevalle hulle selfverheffing op grond van hulle afkoms aanvat, omdat dit van geen betekenis is binne die nuwe gemeenskap wat God geskep het nie (in die brief aan die Efesiërs sal hy weer terugkom na dié gedagte).

Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje (Rom 15:22-33). Maar die belangrikste rede is om hulle teen verdeeldheid te waarsku – sommige verklaarders dink dat Joodse gelowiges apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (vgl die huiskerke waarvan in 16:5, 14, 15 gepraat word) – en te wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.

Hy wil hê dat hulle “eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê” (15:6) – iets waaroor hy in die brief aan die Filippense later op inspirerende wyse sal skryf (Fil 1:27-11) – sonder om die evangelie op enige manier aan ’n Joodse interpretasie van die wet onderdanig te maak (die hele eerste 8 hoofstukke gaan daaroor, met hoofstuk 9-10 wat spesifiek uitbrei oor die vraag na God se verkiesing van Israel en hulle toekoms). Christus het immers gekom vir alle mense: die Joodse nasie sowel as al die ander nasies (Rom 15:7-11).

Indeling
Paulus skryf die brief (gedikteer aan Tertius – 16:22) in 4 hoofdele met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel:

  1. Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;
  2. Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;
  3. Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;
  4. Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is
    Daar is net een manier om die Christelike lewe te leef, en dit is deur die Gees. Geen wonder Hy word 20 keer genoem in hierdie hoofstuk nie!’n Oorwinnende Christelike lewe kan nooit deur die wet gebeur nie, daarvoor is ons sondige vlees te swak. Dit kan net wees deur ’n daaglikse oorgawe aan die beheer van die Gees waardeur ’n einde gemaak word aan ons sondige praktyke (8:13). ’n Mens kan selfs sê soos Paulus dat daar ’n nuwe wet is, die wet van die Heilige Gees (8:2).Hiermee sluit Paulus aan by ’n hele paar OT profete wat reeds ’n paar 100 jaar tevore verkondig het dat ware verandering net deur God self kan kom. Jeremia het daaroor gepreek in Jer 31:31-34, Esegiël het dit aan die ballinge verkondig in Eseg 11:19-20, en Jesaja laat ook van hom hoor in Jes 65:17-25.Let op hoe Paulus dit as ’n geestelike werklikheid skets (8:9), maar ook as ’n fisiese konkrete werklikheid: “sal ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (8:11). Net soos Jesus uit die dood opgewek is, sal die Gees ons ook uit die dood opwek.Maar, en dit is baie belangrik, hierdie werk van God word nie ’n werklikheid vir ons sonder dat ons ons daarop toelê nie. Ons het ’n verpligting om deur die Gees ’n einde te maak aan ons sondige praktyke, iets waarop Paulus in hoofstuk 12 en verder aan weer sal terugkom.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed. (Uit Psalm 29)

Seëngroet
7Aan almal in …………………………….. vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

(Romeine 1:7)
Op Drie-eenheidsondag bevestig ons as Christene opnuut ons geloof in God as Vader, Seun en Heilige Gees.

Lied 451 “Hemelse Vader, ons bring U eer vs 1,2,3”

Verootmoediging
Op Drie-eenheid Sondag is Jesaja se roepingsvisioen ‘n uitstekende teks om as gemeente te buig voor God se heiligheid. Gebruik gerus ‘n lidmaat vir dinamiese voorlesing.

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien.

Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

3Die serafs het mekaar telkens toegeroep:
“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

4Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

5Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

6Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

8Toe het ek die Here hoor vra:
“Wie kan Ek stuur?
Wie sal ons boodskapper wees?”
Ek het geantwoord:
“Hier is ek! Stuur my!” (Jesaja 6)

Aanbidding
Lied 169 Heilig (3X) “Heer God almagtig vs 1,2,3”

Ten spyte van die Gans Andere se heiligheid is ons God se kinders!

Romeine 8:12-17 ()
12Daarom dan, broers, staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Skuldbelydenis en toewyding
Voorganger: Met vertroue op die genadige liefde van God, bely julle julle sonde?
Gemeente: Ons het gesondig en neem dankbaar Jesus se reinigende vergifnis aan.

Voorganger: Verloën julle die mag van die bose in julle lewe en in die wêreld.
Gemeente: Dankbaar vir Jesus se oorwinning en die krag van die Heilige Gees verloën ons dit.

Voorganger: Wie is julle Here en Redder?
Gemeente: Laat die wêreld dit hoor: Jesus Christus is ons Here en ons Redder.

Voorganger: Sal julle Christus se getroue dissipels wees? Gehoorsaam aan sy Woord in liefde teenoor almal?
Gemeente: Met God se hulp sal ons dit doen!

Lof
Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3” en/of
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Liedere

F4. “O Heilige Gees, Kom Maak My Nuut”
(RUBRIEK: Flammikidz)
Teks en musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2009 FLAM Uitgewers

O, Heilige Gees, kom maak my nuut.
Kom vul my hele lewe.
O, Heilige Gees, kom maak my nuut.
Kom vul my hele lewe.

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Pinkster / Gebed / Epiklese)
Teks en Musiek: Ioannis Dekas
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
As mens verstaan ons nie U weë
Maar U stuur vir ons ‘n Leidsman trou
Hy lei ons na U
Kom o Skepper Gees
Lewendmakend Gees
Kom in al U volheid
Kom in al U krag
Lei my in U waarheid
Leer my van die Seun
Wees U ook my trooster,
Kom o Skepper Gees

F245. “God Van Die Skepping”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof & Vertroue)
Teks en Musiek: Tradisioneel (Ierse melodie, 8e eeu)
Afr Teks: Piet Smit
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

God van die skepping, ons Koning en Heer
God wat vir ewig oor alles regeer
Alfa, Omega, verhewe in krag
U is ons Vader, vol liefde en mag
Woord van die Vader, ons Redder en Hoop
Groot en magtige Krygsman wat vooraan bly loop
Immanuel met ons, ons Kruisofferlam
Jesus die Christus, Leeu uit Judastam
Hulp van ons Vader, o Heilige Gees
U wat ons leer om gehoorsaam te wees
U gee ons leiding en hulp onverdiend
U is ons Trooster, ons Voorspraak, ons Vriend
Voor God Drie-Enig juig ons as U bruid
U lei en leer ons, U stap voor ons uit
Gebede soos wierook styg op na U troon
Louter genade dat U in ons woon
Vader en Seun en Heilige Gees
Hy wat ons Koning vir ewig sal wees
Liefde uit Liefde het na ons toe gekom
En ons bring in liefde weer lof terug aan Hom
Uit dankbaarheid bring ons weer lof net aan Hom

God praat met ons en ons luister

Epiklese
O Heilige Gees, wat Here is en lewend maak,
oorwin die doodsheid in ons harte, ons denke, ons lewe, en vernuwe u ganse skepping!
O Heilige Gees, wat van die Vader en die Seun uitgaan, kom woon onder ons, bly in ons, werk deur ons!
O Heilige Gees, wat gespreek het deur die profete
– fluister ook vandag nog deur u Woord die lewende en kragtige evangelie in ons ore!
O Heilige Gees, wat u kerk versamel, bou en lei
– maak ons saam tog sigbaar één en heilig, en getrou aan u waarheid!
O Heilige Gees, wat ons doop tot vergifnis en ons voed en versterk met brood en wyn,
verseker ons elkeen van ons verlossing en ons roeping!
O Heilige Gees, voorsmaak van die koninkryk,
waarborg van die toekoms
– leer ons sug, en help ons hoop!
O Skepper-Gees,
wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word
ons roem u heilige Naam!
Amen.
(Dirkie Smit, Stukkies van die hemel, Lux Verbi, 2005,bls181 soos aangehaal in Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Skriflesing: Romeine 8:12-17

Prediking

Familie-oomblik

Daar is sommer lekker baie maniere waarop jy die teks aan kinders kan verduidelik!

Jy kan die beeld uit Ratatouille aan die einde van die preek gebruik. Linguini moes leer om heeltemal oor te gee en te volg waar Remy hom lei, anders sou hy nooit sulke lekker kos kon maak nie! Laai die toneel waar Linguini leer om Remy se leiding te volg, af  op Youtube.

Jy kan ook die beeld van ‘n dier se ore gebruik. Diere kan baie goed hoor! Hulle luister ook fyn en draai hulle ore in die regte rigting. As ‘n kat bv. ‘n voëltjie bekruip, draai sy haar ore in sulke skerp punte na die voëltjie toe. (Jy kan feitlik enige dier as voorbeeld gebruik. Ontwikkel die idee verder deur by Wikipedia te lees hoe diere se ore werk. Kinders kan selfs groot ore maak van papier!) Ons moet ons ore fokus op die stem van die Gees en nie ons eie planne [sondige natuur] nie. [Foto deur Riebart by flickr.com, Creative Commons Lisensie]

Of vat ‘n draagbare radio, van die soort waar jy nog ‘n knop draai om die stasie te soek. Verduidelik (en demonstreer) dat die radio presies op die regte stasie ingestel moet wees, anders hoor mens net ‘n geraas.

‘n Laaste beeld wat goed kan werk, is ‘n satelliet skottel. Vertel vir die kinders van die “Very Large Array” in New Mexico.

Preekriglyn

Terwyl ek geleer seil het, vertel Bill Hybels, het my pa dikwels gesê: “Gaan seil gerus, neem die boot, maar neem altyd ‘n vriend saam met jou.”

Om ‘n seilboot van 15 meter te hanteer op ‘n meer die grootte van die Michiganmeer is ‘n groot verantwoordelikheid. Maar ek sou ‘n vriend saamneem, ons sou by die hawe uitvaar, die seile hys, en die oop water van die meer aandurf. Wanneer ek ‘n dreigende wolkformasie sien naderkom, of agterkom dat die windspoed begin toeneem, sou ek my terughaas land toe, die seile stryk, en eers weer kalmeer nadat ons veilig aan land was en die boot veilig aan die kaai geanker was. Dit was lekker om altyd ‘n vriend by my te hê, maar ek het geweet ‘n maat sou nie veel werd wees in ‘n storm nie.

Ander kere sou my pa bietjie vroeër van die werk af kom en ons sou saam gaan seil. Terwyl ek met pa uit was op die water, het ek eintlik gehoop vir malende wolkmassas en sterk wind. Ek het die gevoel van sterk wind en groot branders geniet terwyl ek saam met pa was.

My pa het regoor die Atlantiese oseaan geseil. Hy het op ‘n keer vyf dae lank deur ‘n orkaan op ‘n seilboot geworstel. Hy was ‘n veteraan. Ek het geweet hy sou alles kon hanteer waarmee die Michiganmeer ons kon konfronteer. Alles het verander wanneer my pa saam aan boord was.

Bill Hybels: The God You’re Looking For

Grafika: sailboat, deur Michael Tackett 1 Julie 2007 in Point Shirley, Winthrop, MA, US, met ‘n Canon PowerShot A630.
Kopiereg: You are free:
to Share — to copy, distribute and transmit the work
Attribution — You must attribute the work in the manner specified by the author or licensor (but not in any way that suggests that they endorse you or your use of the work).
Noncommercial — You may not use this work for commercial purposes.
No Derivative Works — You may not alter, transform, or build upon this work.

In groot geselskap

Die Romeinebrief is ‘n kragtige getuienis van die wyse waarop Vader, Seun en Heilige Gees ons red deur ons in te trek in ‘n verhouding met die lewende God.

Romeine teken ‘n baie eerlike prentjie van die menslike kondisie. Mense se nood is dat hulle vervreemd is van God, in opstand teen God leef, en in diepe skuld voor God staan.

God laat ons egter nie aan onsself oor nie. Vader, Seun en Heilige Gees tree toe tot ons wêreld van angs en vervreemding – van mekaar en van God. Deur liefde trek die Vader ons in Jesus Christus en deur die kragtige werk van die Heilige Gees nader. God maak ‘n deur na ‘n herstelde verhouding met God oop. Dit gebeur op grond van die versoenende werk van Christus en die Heilige Gees wat die geloof in ons wek om die verlossing te ontvang.

In ons teksverse is die dinamika van die Vader se liefde, van kindskap deur Jesus Christus, en van die begeleiding en inlywing deur die Heilige Gees ten nouste verweef. Die teks is ‘n baie goeie keuse vir Drie-enigheid -Sondag, dié dag waarop ons die wonder van lewe in die groot geselskap van Vader, Seun en Heilige Gees vier.

Twee kragte aan die werk

Dit is nie eenvoudig en ongekompliseerd om in ons wêreld te leef nie. Daar is twee kragte aan die werk – in ons wêreld en in elkeen van ons. Romeine 8:1-16 getuig hiervan. Die een krag is die sondige natuur wat ons na die dood toe sleep. Aan die ander kant is daar die krag van die Gees van God wat die lewe in ons wek.

Die “sondige natuur” lei:

  • tot dood (2, 6, 10, 13),
  • slawerny (15),
  • vyandskap teen God (7),
  • onvermoë om die wil van God te doen (8),
  • om volgens die wet te lewe (7), en
  • tot ’n lewe in vrees (15).

Aan die ander kant is daar die Gees van God wat:

  • ons vrymaak van sonde en dood (1),
  • lewe en vrede bring (6),
  • opwekking uit die dood ook van ons sterflike liggame bring (11),
  • ’n einde aan sondige praktyke maak (13),
  • verlossing uit slawerny skenk (15),
  • ons opneem in die huis van die Vader (15), en
  • die troos of bevestiging dat gelowiges as kinders en erfgename deel is van hierdie huishouding (16-17).

Die een krag werk deur beheersing of oorheersing (13), die ander deur leiding en oorreding (14). Die een gees maak van eie kinders slawe, die ander Gees maak van weeskinders aangenome kinders en erfgename.

Die Gees aan die werk

Die lewegewende, hoopvolle, energie-skeppende krag wat lewens vernuwe en ons inlyf by die lewe in God, is volgens Paulus die Gees van God (9, 14), die Gees van Christus (9).

Die duidelikste aanduiding van die Gees se krag in vers 11: Dit is die Gees wat Christus uit die dood opgewek het. Hierdie lewegewende Gees, sê Paulus is die Gees wat “in julle woon” (9). Die God wat hemel en aarde geskape het, is nie ver van ons nie, maar in ons aanwesig.

Waar is God tuis? In mense! Dit is waar God se huis, God se tuiste, God se blyplek is. Die Griekse werkwoord wat hier gebruik word is oikei (woon) wat ten nouste verband hou met huis (oikos) of huishouding (oikia). Elders noem Paulus ons liggame ’n tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 6:19).

Dit is hoe God lewens vernuwe. God kom deur Christus tot by ons, lê deur die Gees beslag op ons, bind ons aan Christus se verlossende werk vas en kom woon binne-in ons.

“Daarom dan”

Vers 12 begin – nadat God se verlossende werk in die vorige verse uitgespel is – met die kragtige woorde: “Daarom dan…” (12). “Daarom dan” verduidelik wat dit beteken dat God ons verlos en in ons kom woon.

Eerstens moet gelowiges op ‘n nuwe manier lewe. God woon in ons. Ons is deel van God se huishouding. Kinders in hierdie huis leef volgens die patrone en styl van die ouers, van die Vader. God word herken en geken as “Vader” (Abba) (15), die Vader van Christus, en in Christus Vader vir die gelowiges.

Die term “Abba” pas op die lippe van kleiner kinders. Dit het ’n huislike en intieme toonaard. Kindertjies leef soos hulle Pappa hulle leer. Kindertjies leef ooreenkomstig die karakter van hulle kindskap uit. Gelei deur die Gees, maak ons ‘n einde aan sondige praktyke en lewe soos kinders van God (14)

Tweedens vestig die teks ons aandag op al die voorregte van ons lewe as kinders in God se huishouding. Ons is deur God tot kinders aangeneem. Aangenome kinders mag verward raak en dink dat hulle slawe is. God maak van niemand ‘n slaaf nie. Sonde maak ons slawe. God maak ons kinders. Hy maak ons vry. En omdat ons kinders is, is ons erfgename van God – erfgename saam met Christus.

Ons is inderdaad wettige kinders van God. Ons weet dit nie omdat ons self tot die gevolgtrekking gekom het nie. Ons weet dit omdat die Gees van God ons daarvan verseker (16).

In lyn met die lewegewende Gees

Mens kan kies, sê Paulus, aan watter van hierdie kragte jy jou lewe wil oriënteer. Daar is die gees wat dood en verwoesting bring, en die Gees wat lewe en nuwe lewe bring (13).

Ons teks is ‘n uitnodiging om ons aan die Gees te oriënteer. “Daarom dan.” Ons is genooi om ons seile te span in lyn met die winde van die Gees. Om deur die krag van die Gees te kies teen die sonde, en vir die lewe van kindskap.

Wat beteken dit prakties?

Ratatouille

Remy is ‘n jong rot in die Franse platteland. Sy storie word in die animasiefliek Ratatouille vertel. Hy het ‘n passie om te kook, en ontmoet sy kok-idol in ‘n kookboek. Wanneer hy in Parys aankom, ontdek hy met ‘n skok dat sy kok-held dood is. Op ‘n ongewone manier sluit hy ‘n bondgenootskap met ‘n restourant se skoonmakertjie. Hy sit op die outjie se kop, onder sy hoed, en stuur hom deur aan sy hare te trek om die heerlikste geregte voor te berei.

So lei die Gees ons om te kies teen die sonde wat verslaaf, doodmaak en ons in die vullis laat krepeer. Die Gees lei ons na volle mens-wees. God het ons verlos. Die Gees lei ons in die praktiese uitleef van hierdie verlossing in. Ons moet ons aan die Gees se leiding oorgee, en dit navolg.

Ja, ons leef en reis inderdaad in groot geselskap. Dit maak al die verskil in die wêreld.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Dit is ’n ekumeniese gebruik om op Drie-Eenheidsondag gebruik te maak van die belydenis van Athanasius.
’n Verkorte weergawe is in Handleiding vir die erediens, Bybel-Media, 2010, bl 348.

Die algemene geloof is:
3. dat ons die één God in die drievuldigheid en
die drievuldigheid in die eenheid eer,

4. sonder om die persone te vermeng of die
substansie te deel;

5. want die persoon van die Vader is ’n ander,
van die Seun ’n ander (en) van die Heilige Gees ’n
ander;

6. maar die Vader, die Seun en die Heilige Gees
is één Godheid met gelyke eer en mede-ewige
majesteit.

7. Hoedanig die Vader is, sodanig is ook die
Seun (en) sodanig is ook die Heilige Gees;

8. die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape
(en) die Heilige Gees is ongeskape;

9. die Vader is onmeetlik, die Seun is onmeetlik
(en) die Heilige Gees is onmeetlik;

10. die Vader is ewig, die Seun is ewig (en) die
Heilige Gees is ewig;

11. nogtans is dit nie drie Ewiges nie, maar één
Ewige;

12. net so ook nie drie Ongeskapenes of drie
Oneindiges nie, maar één Ongeskape en één
Oneindige;

13. net so is die Vader almagtig, die Seun almagtig
(en) die Heilige Gees almagtig:

14. en tog is dit nie drie Almagtiges nie, maar
één Almagtige;

15. so ook is God Vader, God is Seun en God is
Heilige Gees;

16. en tog is dit nie drie Gode nie, maar dit is één
God;

17. net so is die Heer Vader, die Heer Seun (en)
die Heer Heilige Gees;

18. en tog is dit nie drie Here nie, maar dit is één
Heer;

19. want soos ons deur die Christelike waarheid
gedwing word om elke persoon afsonderlik God
en ook Heer te noem, so is dit ons ook deur die
algemene geloof verbode om van drie Gode of Here
te praat.
(Hierdie uittreksel uit Vir die erediens- ‘n Handleiding, Bybel Media, 2007)

Wegsending: Lied 438 “Gees van God o Gees van lewe vs 1,2”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.