Eerste Sondag van Koninkrykstyd – Drie-eenheidsondag

Sections

Oorsig

Die Drie-eenheid van God is ’n misterie. Die kerk het deur ’n lang proses gegaan om uiteindelik by die formulering van die leer van die Drie-eenheid uit te kom. In die liturgie sal hiermee rekening gehou moet word.

Ander tekste

Spreuke 8:1-4, 22-31
8 Dit is Wysheid self wat roep,
dit is Insig wat haar stem laat hoor.
2Op die hoogtes langs die pad,
by die kruispaaie, gaan sy staan,
3langs die stadspoorte, by die ingange,
skree sy dit uit:
4“Ek roep na julle, mense,
ek roep na alle mense:
5Dié wat ervaring kortkom,
kan verstandig word,
dié wat dwaas optree, kan insig kry.

22“Die Here het my geskep,
Hy het met my begin;
ek is die eerste wat Hy gemaak het,
lank, lank gelede.
23Ek is lankal daar, van die begin af,
voor die aarde daar was.
24Ek het gekom toe die groot waters
nog nie daar was nie,
toe daar nog nie fonteine
vol water was nie.
25Voor die berge hulle plek gekry het,
voor die rante het ek al gekom,
26voor die Here die aarde
met sy vlaktes gemaak het,
voor Hy selfs die eerste grond
gemaak het.
27Ek was daar toe Hy die hemelgewelf
opgerig het,
toe Hy die horison oor die see
afgemerk het,
28toe Hy die wolke daarbo gesit het,
die fonteine onder die diep water
laat uitborrel het.
29Ek was daar toe Hy vir die see
sy grens vasgestel het,
die waters aan sy wil onderwerp het,
toe Hy die fondamente van die aarde
afgesteek het.
30Ek het my kennis by Hom gekry,
ek was elke dag sy vreugde;
die hele tyd het ek dit by Hom geniet.
31Ek het my verlustig in die wêreld
wat Hy gemaak het,
die mense was vir my ’n vreugde.

Psalm 8  Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
’n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Johannes 16:12-15
12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Fokusteks

Romeine 5:1-5
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Ekstra stof

Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 vC in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand 20:2-3).  Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl Rom 15:25-26 met 1 Kor 16:1-7) .

Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie (Jode uit Rome het op Pinksterdag die evangelie gehoor, wat moontlik tot die stigting van die gemeente van Rome aanleiding gegee het: vgl Hand 2:10), baie mense aan hom bekend is (Rom 16:3-16 – hy groet meer as 26 mense by name, waarvan ’n derde vroue is!)

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl 16:5,14,15).  En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?  Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl Gal 5:2-12) en die voedsel wette (Rom 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl egter Kol 2:16).

Selfs met Paulus se laaste besoek aan Jerusalem aan die einde van sy drie sendingreise, sou dié vraag steeds krities wees.  Vergelyk die klem wat die gelowiges in Jerusalem op die wet van Moses plaas in Hand 21:17-26.  Dit is juis sy inval by hulle planne wat hom in die moeilikheid bring en uiteindelik as gevangene in Rome bring, sy eerste besoek daar, maar in boeie.

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees.  God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.

Dink maar net aan Luther wat tot inkeer gekom het deur die evangelie in hierdie teks en die Reformasie wat hieruit voortgevloei het.  Geen wonder dat baie geleerdes dink dit is die belangrikste brief wat Paulus ooit geskryf het (Barth, Jonker).

Let op hoe Paulus in ’n retoriese trant skryf (die sogenaamde diatribe) wat leraars van daardie tyd baie keer gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog.  ’n Mens sien dit op ’n paar plekke in die brief, bv. 2:1-5, 17-24 waar hy in ’n verbeeldingsgesprek is met ’n Joodse gespreksgenoot en in 11:13-24 met ’n gelowige uit die heidense nasies.  Let ook op hoe Paulus in beide gevalle hulle selfverheffing op grond van hulle afkoms aanvat, omdat dit van geen betekenis is binne die nuwe gemeenskap wat God geskep het nie (in die brief aan die Efesiërs sal hy weer terugkom na dié gedagte).

Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje (Rom 15:22-33).  Maar die belangrikste rede is om hulle teen verdeeldheid te waarsku – sommige verklaarders dink dat Joodse gelowiges apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (vgl die huiskerke waarvan in 16:5, 14, 15 gepraat word) – en te wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.

Hy wil hê dat hulle “eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê” (15:6) – iets waaroor hy in die brief aan die Filippense later op inspirerende wyse sal skryf (Fil 1:27-11) – sonder om die evangelie op enige manier aan ’n Joodse interpretasie van die wet onderdanig te maak (die hele eerste 8 hoofstukke gaan daaroor, met hoofstuk 9-10 wat spesifiek uitbrei oor die vraag na God se verkiesing van Israel en hulle toekoms).  Christus het immers gekom vir alle mense: die Joodse nasie sowel as al die ander nasies (Rom 15:7-11).

Paulus skryf die brief (gedikteer aan Tertius – 16:22) in 4 hoofdele met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel:

  1. Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;
  2. Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;
  3. Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;
  4. Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.

Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegangHI
Hoofstuk 5-8 spel nou die gevolge van God se vryspraak in ons lewe uit.  Daar is nou vrede tussen ons en vrye toegang (Heb 10:19) tot God.  Let op hoe hy nou ook meesal praat van ons en nie jou of julle soos in die eerste paar hoofstukke nie, waarmee hy die gemeenskap van die gelowiges beklemtoon wat God geskep het tussen hulle.    Let ook op hoe hy weer van die drietal: geloof (x2), hoop (x3) en liefde (x2) praat, maar dus die klem hier meer op die hoop laat val.

5:1-11: Die eerste perikoop van hoofstuk 5 is ’n lofsang en geloofsbelydenis oor die vrede wat daar nou tussen ons en God gekom het op grond van sy vryspraak.

Let op hoe hierdie genadegawe alles verander: aan die een kant bring dit die hoop dat ons deel sal hê aan die heerlikheid van God self.  Aan die ander kant kan ons ons ook verheug in ervarings van swaarkry, want dit bring volharding, wat lei tot egtheid (beproefdheid) van geloof, wat net soseer as die  ervaring van genade lei tot hoop.

Wat dit vir my in ’n afgeleide sin sê en beteken is dat ek my kan verheug oor God se voorsiening, want dit skep hoop by my.  Maar ek kan my ook verheug oor swaarkry omdat dit net soseer hoop by my skep deur die vrug wat dit bring in terme van volharding en egtheid.

Dit alles is moontlik omdat God se liefde in my hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat my oortuig dat Hy in my woon en in ’n verhouding met God kan laat groei.

5:12-21: Paulus keer terug na die onderwerp van die sonde, maar sit vir die eerste keer Adam op die tafel om daarmee die universele reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer.

Hierdie is een van die kerngedeeltes wat die erfsonde se bestaan motiveer.  In Adam se sonde as die simboliese beginpunt van die menslike geslag het alle mense deel.  Adam se sonde het die dood gebring vir alle mense.

Adam – die oorsprong van die menslike geslag – word egter met Christus gekontrasteer – die oorsprong van die nuwe menslike geslag – wat die lewe moontlik maak vir alle mense.  Jesus is in ’n baie spesifieke sin die nuwe mens waaruit God die nuwe mensheid laat voortspruit.  En deur Hom voer die genade nou heerskappy eerder as die dood met die heerlike vooruitsig dat dit tot die ewige lewe lei.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 454 “Vader, ons eer U”

Votum
Liturg:  Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
Gemeente: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
(Psalm 8:2, 10)

Seëngroet
Liturg: Genade en vrede van God ons Vader,
Gemeente: die Heerser oor lewe en dood.

L: Genade en vrede van Christus wat uit die dood opgewek is,
G: Eersteling van dié van wat gesterf het.

L: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: ons Here en Lewendmaker.
A: Amen.
(Uit Wepener, C 2011.  Soos ’n Blom na die Son Draai. Wellington, Bybelmedia.)

Lofsang
Lied 450 “Vader, Seun, Heil’ge Gees”

Geloofsbelydenis van Athanasius
(gebruik die verkorte weergawe vir Drie-eenheidsondag in 2010 Handleiding vir die Erediens.  Wellington, BybelMedia, 348-349)

Lofsang
Lied 453 “Aan die Vader dank en ere”

Liedere

God praat met ons en ons luister

Gebed
Bewaar ons, Vader, deur u Woord; help ons teen onreg , roof en moord . Keer dié wat selfs u eie Seun opnuut wil kruisig deur die leuen .
Bewys u mag, o Jesus, Heer;  toon dat U oor u kerk regeer .  Beskerm die hele Christendom; bewaar ons tot u groot dag kom.
O Heil’ge Gees wat by ons bly,  gee dat ons lewens sin mag kry;  staan by ons in elke nood; lei ons tot Lewe uit die dood.
(Lied 257)

Skriflesing: Romeine 5:1-5

Familie-oomblik

Opsie 1
Probeer die Drie-eenheid verduidelik.  [email protected] stel voor dat jy poeier aanmaak koeldrank gebruik.   Wanneer jy suiker, water en poeier saamvoeg, kry jy heerlike koeldrank.  Dan is dit nie drie aparte goed nie – dis een.  Tog het elke bestanddeel ’n funksie – suiker maak soet, water maak vloeibaar, die poeier gee geur en kleur.  Laai die volledige verduideliking van (“Trinity Koolaid”) hier af.

Opsie 2
Vertel die storie van The Curious Garden deur Peter Brown en verbind dit aan Rom 5:3-5 (swaarkry, volharding geloof, hoop wat nie beskaam nie).

’n Video van die boek is hier beskikbaar – laai dit af en wys die video óf kyk dit sodat jy die storie kan oorvertel.

The Curious Garden vertel van ’n plek waar daar niks gegroei het nie en van ’n seun, Liam, wat ’n tuintjie begin.  Die tuin begin groei, totdat die hele plek naderhand in ’n tuin verander.  Deur die winter kry die tuin swaar, maar daarna begin dit weer groei.  En motiveer nog mense om tuiniere te word.  Die triestige dorp verander in ’n pragtige plek waar almal buite in die groen speel.  Een tuintjie begin ’n heel nuwe stad.

Preekriglyn

Christelike geloofsgemeenskappe reg oor die wêreld vier vandag Drie-eenheidsondag. Ons buig in verwondering voor die een, heilige God wat ons in die Woord as Vader, Seun en Heilige Gees ontmoet.

Op grond van God se openbaring hou ons beide aan die eenheid van God vas, asook aan die diversiteit van verhoudinge binne hierdie een God. Ons aanbid nie drie gode nie. Ons aanbid een God. Tog is God ‘n sosiale God.  Binne-in God self is daar die verhoudinge van Vader, Seun en Heilige Gees. Ons God is een, heilige Goddelike Familie.

Hierdie belydenis is nie op menslike spitsvondigheid gebou nie. Dit is nie ‘n denkkonstruksie nie. Dit is nie ‘n manier om God te verklaar of uit te lê nie. Dit is die enigste manier waarop dit vir ons moontlik is om op grond van die Woord van God oor God te praat.

Die leer oor die Drie-eenheid is belangrik vir die praktiese geloofslewe van die kerk. Dit spruit uit die oortuiging dat die teenwoordigheid van Christus by sy kerk, terselfdertyd die teenwoordigheid van God self is. Die Heilige Gees wat oor ons uitgegiet is deur die Vader en die Seun is die aanwesigheid van God self in ons lewens.

“Drie-eenheid” is die wyse waarop Christengelowiges die groot misterie van God die Vader, Seun en Heilige Gees, die onderlinge verhouding tussen die Drie, en die aanwesigheid en aktiwiteit van God in ons wêreld, onder woorde bring.

Drie-eenheid in die Nuwe Testament

Die term “Drie-eenheid” kom nie in die Nuwe Testament voor nie, maar die vertrekpunt van die leerstuk is in die doopformule (Matt 28:19-20 “. . . doop hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees . . .”), asook in die spreke oor God as Vader, Seun en Heilige Gees wat oral in die Nuwe Testament aanwesig. Die teks uit Romeine 5:1-5 is ʼn voorbeeld van die drieledige verwysing na Vader, Seun en Heilige Gees.

Grammatika vir ons geloof

Die leer van die “Drie-eenheid” is ‘n geestelike erfenis uit die tyd van die vroeë kerk. Dit help ons om tegelyk vas te hou aan God die Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, wat in en deur Jesus Christus na ons uitreik, ons verlos en ons versoen, en ons deur die Heilige Gees toerus met lewe en ons help om te glo, ons leë hande in geloof na God uit te steek, en gehoorsaam aan God te leef.

Dat God Skepper, Verlosser en Trooster is, het geweldige implikasies vir ons geloof. God se Verlossing red ons nie van God se skepping nie, maar red ons vir God se skepping, sodat ons as nuwe mense kan lewe. Die Skepper verplant ons nie uit die skepping nie, maar genees ons, sodat ons saam met sy skepping heel kan word. Jesus stig en vestig die kerk in diens van die Vader se bedoelinge vir sy skepping. Die Gees rus ons toe, versterk ons, en stuur ons sodat ons kan deelneem aan God se vernuwingswerk in God se skepping.

Wanneer ons worstel met die verskriklike lyding wat ons rondom ons sien, worstel ons nie net met die almagtige, verhewe Skepper nie.  Ons sien God ook in ons ellende in daal in Jesus Christus. Ons hoor God die Seun ook ter wille van ons ly aan die kruis. Ons sien sy wonde waardeur daar vir ons genesing kom. Ons ontmoet die Gees wat ons in ons swakheid bystaan, wanneer ongeloof, vertwyfeling en lyding ons wil oorweldig, en ons laat bly hoop op God se toekoms wat vir ons weggelê is.

Op grond van die Drie-eenheid, soos geopenbaar in die evangelie, kan ons nooit net in een sin oor God praat nie. Die openbaring oor God is té ryk, te groots, te omvattend. Ons het die drie-ledige grammatika van die één God as Vader, Seun en Heilige Gees nodig.

Drie-eenheid by Paulus

Dit is verrassend om raak te sien hoe dikwels Vader (of “God”), Seun (of “Christus”) en Heilige Gees saam funksioneer in Paulus se briewe, en hoe dit die praktiese voorskrifte oor die geloofslewe en die identiteit van die geloofsgemeenskap raak. ‘n Paar voorbeelde:

  • Uit die brief aan die Romeine: Kyk byvoorbeeld na die begin van die brief in 1:1-7.
  • Uit 1 Korintiërs: Kyk na die begin van Paulus se onderrig oor die gawes in 12:1-6.
  • Die paragraaf oor die vrug van die Gees in Galasiërs 5:16-25 (ook die daaropvolgende 6:1-10).
  • Die begin van Efesiërs (1:1-14), asook die twee gebede in Efesiërs (in 1:15-23 en 3:14-21).
Drie-eenheid in Romeine 5:1-5

Die Drie-eenheid funksioneer op ‘n besondere wyse in ons teks:

  • Die Vader – gee die vrede en die harmonie word herstel (“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo”- vers 1)
  • Die Seun – maak die toegang tot hierdie genade oop deur sy eie dood en opstanding (“Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.” – verse 1-2)
  • Die Heilige Gees – die Een waardeur die liefde van God ʼn pad vind na ons lewe toe (vanaf vers 2, en spesifiek vers 5: “… want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”)
Die aktiewe God

Die Drie-enige God word as ‘n aktiewe, handelende God in ons teks bekendgestel.  God die Vader het ons vrygespreek, oftewel: God self verklaar ons regverdig voor God. (vers 1)

Deur die werk van ons Here Jesus is daar nou vrede tussen ons en God. Deur Jesus het ons toegang gekry tot die genade van God.  Die agtergrond hier is die verbod dat gewone mense in die tempel in die teenwoordigheid van God in die heilige en allerheiligste mag kom. Christus het die beperkte toegang tot God opgehef en maak dit vir almal moontlik om in te gaan, om te “staan” in God se heerlike teenwoordigheid. Hy doen dit uit onverdiende genade. (verse 1-2)

Hierdie werk van God skep die hoop in ons dat ons deel sal hê aan die heerlikheid van God. Hoop kan hier ook as “verwagting” vertaal word.  Ons verheug ons in hierdie verwagting / hoop, al leef ons nog steeds in swaarkry. Ons verheug ons egter ook in die swaarkry, want swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek op sy beurt weer verwagting / hoop. (verse 2-4)

Hoopvolle verwagting in swaarkry maak alleen sin op grond van die aktiwiteit van God. Ons weet verseker dat God sy heerlikheid sal bekend maak. Ons, wat in Christus geregverdig is, sal in daardie heerlikheid van God deel. Die aktiewe, handelende God waarborg dit. Daarom laat ons ons nie breek deur swaarky en terugslae nie.

Die siklus, hoop – swaarkry – volharding – beproefde, egte geloof – hoop, beskryf hoe God aktief geloof en verwagting in ons lewens skep en lewend hou.

Geloof, hoop en liefde

God gee aan ons geloof en hoop. God gee ook aan ons liefde, die grootste gawe van almal. Net soos geloof en hoop, is ook die liefde ‘n genadige geskenk van God. “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (vers 5)

Die gehoorsaamheid wat God van ons vra (geloof, hoop en liefde), word in die eerste plek alreeds deur God aan ons gegee. Daar is geen gehoorsaamheid wat God van ons vra, Wat God nie ook aan ons gee nie. Dit is die rykdom van die genade van die drie-enige God.

Belydenis in aksie

Ons belydenis oor God (dat God Drie-enig is, ‘n liefdevolle Vader, ‘n genadige Here Jesus Christus, en ‘n bekragtigende Heilige Gees) verander ons lewe.

Hierdie belydenis kry hande en voete in ons lewens hoe meer en dieper ons veranker raak in die geloof, hoop en liefde wat die Drie-enige God aan ons gee.

Laat ons daarom vasstaan in die geloof, gewortel in die hoop op God, terwyl ons God se liefde kwistig uitstort op die mense rondom ons.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 449  “Hemelse Vader, ons bring U eer”

Seën
God die Vader sal jou altyd liefhê,
God die Seun sal jou altyd genadig wees,
God die Heilige Gees sal jou altyd vertroos en jou in sy waarheid lei.
(uit 2001.  Gebedboek met Liturgiese Voorstelle.  Wellington, Lux Verbi.BM)

Respons
Lied 453 Refrein (Kom ons loof hom, kom ons eer hom vir onverdiende seën)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.