Eerste Sondag van Koninkrykstyd (Drie-eenheid Sondag)

Sections

Oorsig

Drie-eenheidsondag sluit die siklus van seisoene af en lei Koninkrykstyd in. Hierdie feesdiens is ’n geleentheid vir verwondering, aanbidding en lof (eerder as onderrig en verduideliking) aan die Drie-enige God.

Om ’n preek vir Drie-eenheidsondag te maak, kan op verskillende maniere aangepak word. Aan die een kant; ’n suiwer dogmatiese uiteensetting en beredenering van die Goddelike Drie-eenheid (wat bloot vir die negativiste verdere skietgoed gaan gee teen die leraar of die leerstellings van die kerk en die res laat gaap in die erediens), of andersins kan die klem veel eerder val op die betekenis daarvan. Dit sou beteken dat ons bloot op ’n baie eenvoudige, maar gelowige wyse, die Drie-eenheid van God sal aanvaar as ’n werklikheid en omdat die Bybel so sê, en dan verder bloot let op die betekenis daarvan in die elke dag se lewe van die gelowige.

Die hooffokus van hierdie aangewese teksgedeelte sal met die bogenoemde benadering dus sterk op
1 Korintiërs 13:13 val, ook bekend as die “Apostolic Benediction”. In sommige vertalings word dit as vers 14 aangegee.

Ander tekste

Genesis 1:1-2:4a (God maak die aarde ’n bewoonbare plek); Psalm 8 (Die gelowige vergaap hom aan wat die Here doen en eer Hom daarvoor); Matteus 28:16-20 (Hy het alle mag! Dit troos, dra en motiveer sy volgelinge)

Fokusteks

2 Korintiërs 13:5-14
Slotvermanings en groete
13 Dit is nou die derde keer dat ek na julle toe kom. “Deur die getuienis van twee of drie getuies moet elke saak bewys word,” sê die Skrif. 2Aan dié wat vroeër gesondig het en aan al die ander het ek voorheen toe ek by julle was, gesê, en ek sê dit nou weer vooruit terwyl ek nie by julle is nie: As ek nou weer na julle toe kom, sal ek niks en niemand ontsien nie. 3Julle soek mos ’n bewys dat Christus deur my praat. Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle, 4want al is Hy gekruisig in die swakheid van ’n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien.

5Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie. 6Ek hoop dan julle weet dat ons wel die toets deurstaan het. 7Ons bid God dat julle niks verkeerds doen nie. Dit bid ons, nie dat dit as bewys moet dien dat óns die toets deurstaan het nie. Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie. 8Ons vermag niks teen die waarheid van God nie, maar wel alles vir die waarheid. 9Ons is dus bly as ons swak is, as julle maar sterk is. Ons bid ook vir julle geestelike volwassenheid. 10Daarom skryf ek hierdie dinge terwyl ek nog van julle af weg is, want wanneer ek kom, wil ek nie met die gesag wat die Here aan my gegee het, streng teen julle optree nie. Met dié gesag moet ek opbou, nie afbreek nie.

11Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!
12Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete.
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Liturgie

Maak gerus gebruik van die idees in Preekstudies en liturgiese voorstelle vir die kerkjaar 2010-11, uitgegee deur Bybelmedia.

Die kleur vir Triniteitsondag is wit – versier die kerk met wit lappe. Vra iemand om ‘n ruiker te maak – gebruik drie verskillende soorte wit blomme, of rangskik wit blomme in ‘n sirkel of driehoek. Drie groot strelitzias in ‘n pot kan ook goed werk.

 

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Vonkk 122 (Halleluja) of Flam 114:1-2 (Sing Halleluja)

Votum: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid. (Jes. 6:3)

Seëngroet: Trinitariese seëngroet

Respons: Vonkk 122 (Halleluja) of Flam 114:3 (Sing Halleluja)

Liedere

[Die Keltiese Christene maak baie erns met die Drie-eenheid. Julle gemeente kan dalk musiek van die Iona Community aanleer vir hierdie Sondag.]

VONKK 122 “Halleluja! (1)”
Teks: VONKK Werkgroep 2010
Musiek: Alleluia 73 – Jacques Berthier (1923-1994) (met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Lofprysing

Voorsanger
Halleluja!

Gemeente
Halleluja! Halleluja! Halleluja!

(Psalmvoorlesing)

Voorsanger
Halleluja

VONKK 70 “Abba, Vader”
Afrikaanse en Engelse teks: Jacques Louw 2005/2009 ©
Melodie: Uit EK KYK OP – Annalise Wiid 2004 © (met toestemming Annie’s Song)
Orrelbegeleiding: Jacques Louw 2005
Kantoryverwerking: Jacques Louw 2005 ©
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Drie-eenheidsondag

1. Abba, Vader, Skepper van die heelal,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

2. Jesus, Christus, Lam van God, Verlosser,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

3. Gees van Waarheid, Trooster en ons Leidsman,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

1. Abba Father, Lord of all creation –
we adore You, You are holy, God.

2. Jesus, Christ, Lord, Lamb of God, our Saviour –
we adore You, You are holy, God.

3. Holy Spirit, Comforter and Mentor –
we adore You, You are holy, God.

F114. “Sing, Halleluja”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof)
Musiek: Onbekend
Teks: AP van der Colf (Afrikaans); Oorspronklik: Linda Stassen
© 1974 New Song Creations
(Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Groep 1 1. Groep 2
Sing halleluja, loof die Heer. Sing, halleluja, loof die Heer.
Wees Hom gehoorsaam, bring Hom eer. Wees Hom gehoorsaam
Hy is ons Maker, Hy’s ons Verlosser. Halleluja
Bring God Drie-enig al die eer. Bring God Drie-enig al die eer.
2. Groep 1 2. Groep 2
Sing, halleluja, loof die Heer. Sing, halleluja, loof die Heer.
Hy is almagtig, Hy regeer.  Hy is almagtig
Hy wek die dagbreek. Hy wek die dagbreek.
Hy roep die reënbui. Halleluja
Bring God Drie-enig al die eer. Bring God Drie-enig al die eer.
3. Groep 1 3. Groep 2
Sing, halleluja, loof die Heer. Sing, halleluja, loof die Heer.
Hy daal in liefde na ons neer. Hy kom in liefde
Hy skenk ons lewe. Hy skenk ons vrede. Halleluja
Aan God Drie-enig al die eer. Bring God Drie-enig al die eer

F130. “Here, Ons Here (Psalm 8)” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek:Piet Smit
© MAR Gospel Music Publishers

Here, ons Here
Hoe wonderbaar is U Naam
Hoe glansryk die hemelruim
Selfs kinders besing dit saam

En dié vol wraak wat teen U staan
Word stil en swyg oor wat U doen
Here ons Here
Hoe wonderbaar is U Naam

Here ons Here
As ek U handewerk aanskou
Wat is die mens dan
Dat U hom veilig onderhou

Met aansien en met eer gekroon
Laat U hom heers oor al U werk
Here ons Here
Hoe wonderbaar is U Naam

F132. “Uit Een Hart”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – ekumene, die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en Musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit© Scripture in Song
[Kom ook onder Engelse teks: Kategorie 3 – Multi-kulturele liedere]

Vader van liefde, bron van ons krag
Ons bring in aanbidding ons loflied aan U
Here U het belowe om hier by ons te wees
As ons saam is in U Naam, in waarheid en gees

Jesus, ons Redder, Immanuel
Ons kom ons lewens as lof-offer gee
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
En aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring

Gees van die waarheid, helper uit God
Leer ons om in liefde soos Jesus te dien
En bind ons dan saam, Heer
Soos ons hier voor U staan
Om met liefde in ons hart
Na die wêreld te gaan

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly
Help ons om uit een hart in eenheid te bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Daar is bekende pogings (nie altyd ewe bevredigend nie) om die Drie-eenheid aan kinders oor te dra byvoorbeeld:

  • Son (bal energie, ligstrale en hittegolwe)
  • Water (vloeistof, vaste stof en gas)
  • Rolle (Skepper, Verlosser, Lewendmaker).

Die ikoon van die Drie-eenheid kan ’n venster open en ’n verrykende blik op God Drie-enig bied.

Met die eerste oogopslag sien ons Genesis 18 se verhaal in die ikoon. Abraham ontvang drie engele op die warmste van die dag onder die groot bome van Mamre met oordadige gasvryheid. In die verhaal praat God self in die mond van die engele. Dit open die deur om iets van die natuur van God self te ontbloot.

Vader
Die ikoon word van links na regs gelees. Eerste is die Vader met sy hoof regop terwyl die ander Persone in eerbied buig. Nog niemand het die Vader gesien nie en daarom die ontwykende kleure van sy kleed. Hy stuur en seën sy Seun met die regterhand.

Seun
Die twee nature van die Middelaar, Jesus Christus, word voorgestel deur ’n rooibruin (aardse) kleed en hemelblou mantel. ’n Goue (Goddelike) band oor die regterskouer deurklief die aardse – deur sy inkarnasie word die aardse geheilig.

Heilige Gees
Die Gees van God bring lewe op land en in see. In Genesis 1 sweef die Gees oor die waters (ligblou kleed) en lewe spruit uit die grond (liggroen mantel).

Drie-eenheid
Die intieme kring van die drie Persone bied ’n meer as rasionele blik op eenheid, liefde, vertroue, gelykheid en vrede. Die drie engele kan met vlerke vlieg, maar dra elkeen ’n staf. God Drie-enig maak ’n keuse om tot die mens se lewe toe te tree.

Gelowiges
Die oop voorgrond is ’n uitnodiging vir gelowiges. In die agtergrond kan die geloofspad gesien word, naamlik die berg van gebed (agter die Heilige Gees), boom wat rus bied en aan die kruishout herinner (agter die Seun) met die Offerlam (voor die Seun) en die huis van die Vader met ’n oop deur en venster (agter die Vader).

  • Nooi die kinders om voor by die doopvont te kom staan. Gebruik water en wys vir hulle hoe hulle gedoop is in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Verduidelik dan aan die hand van bogenoemde vir hulle wat dit beteken.
  • Of vertel die storie van die klomp blinde mense wat ‘n olifant gevind het. Elkeen het aan ‘n deel – maar net een deel – van die olifant gevat. Toe hulle later gesels oor wat hulle “gesien” het, was daar heftige konflik (‘n tou, muur, boom, slang, spies…). God is altyd meer as wat ons op een slag kan sien. [Doen ‘n google image search van “elephant blind men” en jy sal pragtige prente hiervan kry!

Preekriglyn

[Nota: Vers 13 word as primêre teks gebruik.]

“Verstommend.” “Absoluut verrassend.” “Ondenkbaar.” “Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.” “Sou dit nooit kon dink nie.” “Kan dit wees?” “Dit verander my lewe.”

Paulus het pas die evangelie in Korinte verkondig. Jy stap met ’n TV-kamera in die strate van antieke Korinte rond en praat met die mense. Bogenoemde is verseker die reaksie wat jy gaan kry. Die evangelie is goeie nuus! Só het talle nie-Jode in Paulus se tyd op die evangelie gereageer.

Die mense het almal van gode geweet. Gode was goed wat elkeen ’n deel van die lewe beheer het – ’n god vir die see, vir landbou, vir liefde, vir oorlog, wat ook al. Jy moes die gode plesier, anders was daar moeilikheid. Maar die gode was ver en afsydig. Gode het belanggestel in dinge wat hulle uit mense kon kry, nooit in wat hulle vir mense en vir die wêreld kon doen nie. Daar was geen verhouding tussen gode en mense nie.

Paulus getuig van ’n genadige God wat in mense belangstel:

  • ’n God wat mense liefhet, en dit met woord en daad bewys het.
  • ’n God wat mense betrek in persoonlike gemeenskap.
  • ’n God wat in God self ’n heilige gemeenskap is.
  • ’n Sosiale God wat belangstel in gemeenskap en mense daarin betrek.

Daarom kan Paulus skryf: “Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees” (2 Kor 13:13).

Verstommend. Dit verander inderdaad jou lewe!

’n Heilige Gemeenskap

Andrei Rublev het sy ikoon van die Drie-eenheid in 1410 op versoek van Nikon van Radonez geskilder. Nikon was in bevel van die Drie-eenheidklooster van die Russies-Ortodokse kerk, en wou geloof in die Drie-enige God met dié ikoon versterk.

Dit was ’n tyd van politieke onstabiliteit in Rusland, met verskeie ketterse groepe wat die Bybelse openbaring van God as verhoudingswese – as Heilige Gemeenskap van Vader, Seun en Heilige Gees – ontken het.

Die verhaal van Genesis 18 vorm die agtergrond van die ikoon van die Drie-eenheid. Abraham ontvang drie engele onder die groot bome van Mamre en oorlaai hulle met gasvryheid. Daarmee ontvang hy God self. In die verhaal is God self aan die woord deur die woorde van die engele. Die besoek van die drie engele openbaar God se karakter.

In Rublev se ikoon is die drie Persone, Vader, Seun en Heilige Gees in intieme gemeenskap saam. Hulle sit aan tafel. Mens kan jou ’n perfekte sirkel voorstel wat Vader, Seun en Heilige Gees in liefdesgemeenskap insluit. Die drie figure kyk na ons, die toeskouers. Met hulle blik trek hulle die toeskouer in die geselskap in. Daar is ’n oop plek aan tafel, wat ons nooi om onsself as kinders van God in die groot geselskap van Vader, Seun en Heilige Gees te laat insluit.

Henri Nouwen skryf oor hierdie ikoon:

Andrei Rublev het dié ikoon nie bloot geteken om die vrug van sy eie nadenke oor die misterie van die Heilige Drie-eenheid met ons te deel nie. Hy het dit ook gedoen sodat gelowiges hul harte in tye van onrus op God kon fokus. Hoe meer ons na hierdie voorstelling met ons geloofsoë kyk, hoe meer besef ons dis nie bloot geskilder as ’n kunswerk ter versiering van ’n kerk, of as verduideliking van ’n moeilike leerstelling nie. Dit is geskilder as ’n heilige ruimte wat ons kan betree om in God se teenwoordigheid te verkeer.

Wanneer ons voor die ikoon staan en God herken, ervaar ons God se uitnodiging om deel te neem aan die intieme gesprek van die drie engele en saam met hulle aan tafel te gaan sit. Die beweging van die Vader na die Seun, en die beweging van die Seun en die Gees na die Vader word ’n beweging wat ons insluit en waarin ons styf vasgehou word.

Vir ons geloofsoë blyk duidelik dat alles waarmee ons in hierdie wêreld besig is, slegs van waarde is wanneer dit in gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees geskied. Die woorde van die psalm, “Selfs ‘n mossie het ‘n nes en ‘n swaeltjie ‘n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God! Dit gaan goed met mense vir wie u huis ‘n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie” (Psalm 84:3-4), kry vir mens nuwe betekenis. Mens kan met jou lewe van elke dag besig wees terwyl jy in gemeenskap met God leef. Mens kan in die wêreld leef, sonder om van die wêreld te wees. Ons kan stry vir geregtigheid en werk vir vrede. Ons kan studeer, leer, skryf en ’n gewone werk doen. Ons kan dit alles doen sonder om ooit die huis van God se liefde te verlaat. Rublev se ikoon gee vir ons ’n blik op die volmaakte gemeenskap van liefde. (Henri Nouwen, Behold the Beauty of the Lord.)

Rublev se ikoon word vandag in die Tretiakov Galery in Moskou bewaar.

Leef in groot Geselskap

Hierdie ikoon vang die presiese boodskap van 2 Kor 13:13 vas. Vader, Seun en Heilige Gees verbind hulle aan gelowiges. Ons word ingenooi in die lewende gemeenskap met die drie Persone wat in liefde in ’n volmaakte eenheidsband vasgebind in. Dit gebeur op grond van die genade, liefde en gemeenskap wat die drie Persone-in-Een-gemeenskap aan ons skenk.

Die Drie-eenheid is nie ’n logiese formulering wat verduidelik en verstaan moet word nie. Allerlei beelde help nie veel nie. Dit is ook nie die Bybel se bedoeling wanneer ons die openbaring van die Drie-enige God daarin lees nie. Dit gaan nie oor ’n teorie nie.

Die Bybel stel ’n Liefdesgemeenskap aan ons voor, wat ons uit liefde vir gemeenskap met God geskep het. Toe ons deur ons eie ongehoorsaamheid uit hierdie gemeenskap uitgeval het, het die Heilige Goddelike Familie die saak nie daar gelaat nie. Die Vader het die Seun gestuur om ons deur versoening terug te trek in gemeenskap, en Vader en Seun het die Gees oor ons uitgegiet om ons te bemagtig om in geloof na God te gryp.

Ons is bedoel om in hierdie groot geselskap te leef. Die hoogste en finale werklikheid waarvan ons deel is, is hierdie liefdesgemeenskap met God.

God op die agtergrond?

Vir moderne Westerse mense het God op die agtergrond geraak. Dit geld selfs Christene. Ons is geneig om die wêreld soos ’n masjien of ’n klokwerk te sien. Die klokmaker het die klok geskep, en dit opgewen, en nou tik die klok op sy eie, wel volgens die wette en reëls van die klokmaker, maar los van die klokmaker. Net af en toe, wanneer iets skeef loop met die klok, sal die klokmaker so bietjie herstelwerk doen. Daan tik die masjien weer op eie stoom voort.

Niemand van ons sal ooit wil erken dat God na die rand van ons bewussyn uitgeskuif is nie. Maar hoeveel mense leef werklik met die aktiewe besef dat ons in groot geselskap verkeer? Dat God elke oomblik by ons aanwesig is? Dat God ons lei, met en deur ons werk, en saam met ons op reis is?

Prof Patrick Keifert vertel in sy boek, Ons is nou hier (bl 53ev), hoedat navorsing oor gelowiges se verstaan van God hom verras het:

Lidmate beskryf hulle lewe selde met God as die Onderwerp – die “doener” – van werkwoorde. Hulle beskryf byvoorbeeld aanbidding as iets wat “ons” of wat “ek” doen: “Ek aanbid die Here.” “Ek het deel aan die gemeenskap van die gelowiges.” “Ons sing en bid saam.” In verreweg die meeste gevalle beskryf kerklidmate God eerder as die voorwerp van menslike handeling. Bitter selde het ons gehoor dat Gód aan die werk is in die gemeente se byeenkomste en bedrywighede, en nog minder in die buurt of breër gemeenskap.

Wanneer ons die bewussyn van God se teenwoordigheid verloor, word ons eintlik praktiese ateïste, sê Keifert. Niemand sal ontken dat God handelend optree nie. Trouens, mense protesteer heftig wanneer jy daarop wys dat God uiters selde of nooit in hulle vertellings as die “Doener” funksioneer. Mense sal sê hulle glo wel dat God dinge laat gebeur. En hulle glo dit natuurlik rasioneel. God as die primêre hoofspeler, wat teenwoordig is, en mense voortdurend in gemeenskap innooi en saam met mense leef, is net nie hoe hulle prakties oor God dink nie. Juis daarom leef baie gelowiges as praktiese ateïste. God is daar, maar in my bewussyn en in “my” wêreld is God nie aktief nie.

Keifert vervolg:
Talle lidmate en leiers dink eerder aan God as die Een wat alles geskep het en dit nou op ’n afstand dophou of by geleentheid wel in die geskiedenis ingryp, maar nie as die Een wat steeds voortgaan om ’n wêreld te skep en intiem daarby betrokke is nie. Baie verlang wel na ’n God wat naby is … maar dan vereng hulle hierdie God-wat-naby-is tot slegs een Persoon van die Drie-eenheid: Jesus.

God is naby en aktief

God is Persoonlik, en in verhouding binne in God self. God se wese verduidelik die werk wat God doen. God handel aktief in ons wêreld. Hierdie Verhoudingswese skep ook na buite verhoudinge, trek mense in die groot Goddelike geselskap in, maak van vreemdelinge en vyande vriende, kinders, gelowiges. God skep vrede waar daar onvrede is, herstel verhoudinge waar daar gebrokenheid is, bring genesing waar daar verskeurdheid is.

God se wese verduidelik God se missie, God se aksie, in die wêreld.

Soos Paulus dit in ons teksvers sê: “Die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees”

Geroep om te beliggaam

Ons is deur Jesus Christus begenadig, ons het die liefde van God ontvang, ons leef in gemeenskap met God deur die werk van die Heilige Gees.

Daarom is ons draers van genade, liefde en die gemeenskapskeppende krag van God in die wêreld.

In Rublev se ikoon stuur die Vader die Seun en die Gees, en die Seun en die Gees reageer op die Vader. Ons, wat in God glo en kinders van God is, word ingetrek in hierdie aksie van God. Jesus sê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle…” (Joh. 20:21)

Ons is gestuurdes van God se genade, liefde en gemeenskap. Hoe beliggaam ons dit?

  • Elke gelowige en elke gemeente moet voortdurend biddend nadink oor die beliggaming van hierdie gestuurde roeping. Dit is iets wat onderskei moet word. Waar en teenoor wie spesifiek wil God sy karakter deur my / ons beliggaam? Byvoorbeeld: Is God se fokus vir my (of ons gemeente se) lewe om uit te reik na jongmense? Enkelouers? Bejaardes? Noodlydendes? Vir Paulus was dit die heidennasies. Vir William Wilberforce slawe. Sommige gemeentes fokus op verslawing, ander op slagoffers van geweld, e.s.m. Op hierdie manier word ons gestuurdheid ’n patroon in ons indiwiduele en gemeentelike bediening.
  • God verras ons ook dikwels met wie spesifiek oor ons pad kom en vir daardie oomblik die voorwerp van ons gestuurde liefde moet wees. Vir die barmhartige Samaritaan was dit die bebloede man wat langs die pad tussen Jerigo en Jerusalem gelê het. Hy kon dit nie voorspel nie, hy kon net met gestuurde liefde en genade teenoor die slagoffer reageer. Hy moes vir ’n oomblik ’n hele klomp goed opskort: sy beplanning vir die dag, sy vooropgesette idees oor die Jode, sy begroting – en inspring om te help. Plotseling is hy gekonfronteer met ’n slagoffer teenoor wie God deur hom liefde en genade wil betoon, en wie God in helende gemeenskap wil innooi.
  • As Verhoudingswese is God een liefdesgemeenskap. Daarom is die verhoudinge tussen God se mense in God se kerk so belangrik. Jesus id tot die Vader vir die eenheid van die kerk. Daarom kan slegs ’n versoende en ’n kerk-in-eenheid ’n geloofwaardige getuie van God wees, sodat die wêreld kan glo (Joh. 17).
Leef in God se teenwoordigheid

2 Korintiërs 13:13 stuur ons vandag uit die kerkgebou met die belofte van God se genade, liefde en gemeenskap in ons lewe. Vanuit hierdie teenwoordigheid en gawes van God, hét ons iets om met die wêreld te gaan deel. Mag die Here deur ons sigbaar, tasbaar en hoorbaar word!

God stuur ons om te leef

Geloofsbelydenis: Geloofsbelydenis van Nicea

F172. “Meer En Meer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Meer en meer, Vader, meer soos U
Meer en meer soos U, Heer
Meer en meer, Jesus, meer soos U
Meer en meer buig ek voor U neer

1. Meer en meer, Vader, meer soos U
Ek vra myself elke dag: Laat my lewe U glimlag?
Meer en meer, Christus, meer soos U
Heer, ek gee myself aan U meer en meer

Refrein:
Meer en meer, Vader, gee my meer van U
Meer en meer smag ek na U
Meer en meer, Here, meer van u Beeld
Deur u Gees word ek meer en meer soos U

Brug:
U’s die pottebakker, ek die klei
Vorm my net soos U wil

Trinitariese Seën 

Respons: Halleluja (Vonkk 149-151) of Flam 68 se laaste sin.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.