Eerste Sondag van Advent

Existing members can log in to gain access to this content. If you're not yet a member, consider signing up for Woord en Fees - Maandelikse subskripsie | 1 gebruiker, Woord en Fees - Jaarlikse subskripsie | 1 gebruiker or Woord en Fees - Jaar toegang | 1 Gebruiker | Gemeenterekening.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jeremia 33:14-16
Ander tekste: Psalm 25:1-10; 1 Tessalonisense 3:9-13; Lukas 21:25-36

Inleiding

Die eerste Sondag in Advent word gekenmerk deur hoop. Soos die preekstudie by met hierdie liturgie verduidelik, is daar ’n besonderse samehang tussen trauma en hoop in die sleutelteks, Jeremia 33:14-16. Jeremia is gemaklik daarmee om dié twee werklikhede saam vas te hou: om te treur oor dinge soos ons dit nou sien (ja, selfs daaroor kwaad te word!), en om met waagmoed oor ’n mooier môre te droom. Dít alles kan gebeur omdat ons – op ’n besonderse manier in hierdie liturgie en in Advent – ons aan God se beloftes en getrouheid herinner; juis dáárdie getrouheid wat geregtigheid laat waar word en ’n nuwe sosiale werklikheid bewerkstellig. In dié sin is die eerste Sondag in Advent ’n geleentheid waar ons in afwagting kan rou en terselfdertyd met hoop na ’n beter toekoms kan uitsien.

Die ander tekste van hierdie Sondag sluit by hierdie boodskap van hoop aan. Daarom kan ons saam met die digter van Psalm 25 bid: “Tot U, Here, rig ons onsself.” Saam met Jeremia, stel Lukas 21:25-36 die gewelddadige eskatologiese uiteinde teenoor God se getrouheid. En dan herinner Paulus ons daaraan dat ons nou reeds hoop kan beliggaam – in dade van liefde.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord
V: Ons rig ons tot U, Here.
G: Ons God, op U vertrou ons.
Niemand wat hulle verwagting in U stel, sal beskaam word nie.
Maak ons u wil bekend, Here, leer ons u weë.
Laat u waarheid ons lei en onderrig ons daarin, want U is God, ons Redder.
In U stel ons elke dag ons verwagting.
– uit Psalm 25:1-5, aangepas

Seëngroet
Die Here het nog altyd liefde en trou betoon.
Die Here is goed en regverdig.
Die Here wys vir ons die pad aan en help ons wanneer ons hulp nodig het.
Die Here wandel
saam met jou,
saam met ons
en saam met die hele skepping
op paaie van liefde en trou.
Amen.
– Psalm 25:6-10, aangepas

Diens van die Woord

Epiklese
Die volgende lied is deel van die Engelse liedboek en word gereeld saam met die Skriflesing gesing. Die idee is dat die liturg die lied inlei en dat die gemeente dit dan ’n paar keer herhaal. John Bell, die prediker en liedskrywer van die Iona-gemeenskap, se weergawe van hierdie lied is ’n goeie voorbeeld (beskikbaar hier – sien minuut 28). Ons sluit hier onder handbewegings vir kinders in (wat dalk vir volwassenes ook waardevol kan wees):

Listen (hande op die ore) to the word which God has spoken (hande op die mond en neem dit dan weg)
Listen (hande op die ore) to the one who is close at hand (gee jouself ’n drukkie)
Listen (hande op die ore) to the voice that began creation (maak met die arms ’n sirkel om die aarde voor te stel)
Listen (hande op die ore) even if you don’t understand (sit jou hande op jou hart)
– Lied 455, Church of Scotland

Die volgende gebed kan saam met hierdie lied gebruik word:
Heilige Gees,
kom verweef nou ons lippe en ons harte met stilte.
Ons maak nou ons ore vir alle afleidings toe.
Ons maak nou ons oë vir alle aantreklikhede toe.
Ons maak nou ons harte vir alle versoekings toe.
Bring ons nou tot bedaring, Here,
soos U die storm laat bedaar.
Maak ons stil, Here.
Hou ons veilig.
Laat alle onrustigheid binne ons tot rus kom.
Bedek ons in u vrede.
Amen.
– Volmoed Online Morning Prayers, July 2020, Isobel de Gruchy (vry vertaal)

Gebed
Sol Plaatjie het in 1916 gesê: “Die enigste ding wat tussen ons en wanhoop staan, is die wete dat Die Hemel ons nog nie in die steek gelaat het nie” (in Boesak, Dare we speak of hope?).
Kom ons bid saam:
God van geregtigheid en vrede,
vanuit die hemel stort U genade en goedheid op ons neer
sodat die ganse skepping
met ontsag en in verwondering
voor u wonderdade kan staan.
Lig ons koppe op, in verwagting,
sodat ons na die dag van die Here kan uitsien
en sonder gebrek kan staan voor u Seun, Jesus Christus,
wat vir ewig en altyd lewe en regeer.
Amen.
– Gebed 1, Eerste Sondag in Advent, Jaar C, VanderbiltRevised Common Lectionary

Diens van die Tafel

Nagmaal
Hier volg ’n gebed om saam met die nagmaalsformulier te gebruik:
God van ingewikkelde hoop,
ons bely dat ons vir ons ’n deftige hoop probeer skep het.
Maar, dit is moeilik om hierdie goedkoop hoop van inspirerende aanhalings te aanvaar
as ons die traumas van hierdie wêreld so duidelik en so konstant sien.
Baie van ons moes al hoor hoe die taal van “hoop op God” teen ons gedraai word.
Dit weerhou ons van die klaaglied en die woede en die geregtigheid waarvoor ons bedoel is.
Beskerm ons teen giftige positiwiteit
sodat ons die waarheid van ons diepste verlange kan verwoord
en die lang wag van pyn en verlange kan binnegaan.
Here, ons vertrou op U,
maar vergewe die kere dat ons vasgevang raak in dit wat ons nou voor ons sien
en ons ons rug draai op dit wat ons nie nou kan sien nie.
Help ons om te sien hoe ons drome
’n diep kreun,
’n belofte waarop ons kan terugval
en ’n plek waar ons kan asemhaal, kan wees.
Amen.
– Cole Arthur Riley, @blackliturgies, 19 Julie 2021 (vry vertaal)

God stuur ons uit

Slotlied
F386 “Mag die God van hoop”

Seën
Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na mekaar toe oopmaak.
En mag die Here ons liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak.
So sal Hy julle innerlik sterk maak
dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan
wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele.
Amen.
– uit 1 Tessalonisense 3:9-13

Die volgende gedig kan saam met die seënbede gebruik word:
Nóg genot nóg verdriet
is ons eindbestemming.
Ons wil liewer só optree
dat elke môre
ons verder neem as vandag.
Laat ons dan opstaan en doen,
met ’n hart vir enige lot.
Laat ons nie mismoedig word nie,
maar aanhou soek
en steeds probeer
leer om te werk
en leer om te wag.
– Henry Longfellow, uit Albert Luthuli, Let my people go (vry vertaal)

Preekstudie – Jeremia 33:14-16

Teks

Tydens die groot feeste op die Christelike kerkkalender word daar gewoonlik uit Ou-Testamentiese tekste gelees. Die lens wat gebruik is om die Leesroostertekste te kies is vanselfsprekend Messiaans. Omdat die tradisies waarbinne die tekste gekies is sterk ouditief gewerk het, is die tekste van die week rondom die tema van “hoor” by mekaar uitgebring. Die tradisies het gewoonlik nie die Ou-Testamentiese teks vir prediking gekies nie, maar eerder die Evangelieteks.

Dit is dus soms problematies om te preek uit ’n Ou-Testamentiese teks wat in die lig van Messiaanse kriteria gekies is en dikwels net enkele verse uit die groter konteks van die hoofstuk haal om by die fokus van die spesifieke Sondag in die kerkjaar te pas.

In die geval van hierdie Sondag bestaan die perikoop slegs uit drie verse. Met die oog op prediking as die oopbreek en verkondiging van God se woord, kan die drie verse nie los van die groter Jeremiaboek verstaan word nie. Daar sal dus in die preekstudie gepoog word om eers die perikoop binne die konteks van die boek Jeremia te verstaan. Daarna sal riglyne vir prediking vanuit ’n spesifieke Adventsperspektief aangedui word.

As Jeremia 33:14-16 in konteks geplaas word, is dit soos daardie Russiese poppies waar die een binne-in die ander pas. Jeremia 33 is eerstens deel van vier hoofstukke (30–33) wat deur kommentare as “the little book of consolation” beskryf word. Hierdie hoofstukke is dan ook deel van die groter Jeremiaboek wat goed saamgevat word deur die werkwoorde in Jeremia 1:10: “Let op, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en koninkryke om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant”. Hoofstuk 30–33 is die hoofstukke van hoop wat op “bou” en “plant” fokus.

Die Jeremiaboek gee ’n kykie in die baie traumatiese tyd voor, tydens en ná die vernietiging van die tempel en die mure van Jerusalem in 587 vC. Die boek is ’n mengsel van verskillende soorte literêre materiaal en kan oorweldigend wees om te lees. Kathleen O’Connor beskryf die inhoud soos volg: “ … catastrophe and survival, destruction and rebuilding, grief and joy.”

Juda, wat ’n vasal van Assirië was, is geraak deur Babilonië se oorwinning oor die Assiriese magte en die feit dat Babilonië rondom 626 vC die posisie as die nuwe wêreldheerser oorgeneem het. In 605 vC, ná konflik tussen Egipte en Babilonië, het Juda ’n vasalstaat van Babilonië geword. Juda het drie keer hierteen gerebelleer (597 vC, 587 vC en 582 vC). Die wysheid hiervan kan egter bevraagteken word; Jeremia self het hulle aangemoedig om Babilonië se mag te aanvaar as instrument van God. Elke keer het Babilonië ingeval en die room van die bevolking weggevoer. In 587 vC is Jerusalem vernietig; die koning en sy familie is weggevoer en baie van die leiers is doodgemaak. Hierdie is dan ook die begin van die vernietiging van die Dawidiese koningslyn. Jeremia was vir 40 jaar ’n profeet en hy het al die trauma beleef. Hy het moontlik rondom 580 vC in Egipte gesterf.

Volgens Ronald Clements is Jeremia ’n voorbeeld van die behoud van profesie in literêre vorm en nie net in mondelinge vorm nie. Die rede hiervoor is die eksistensiële aard van die historiese gebeure: “These events overwhelmed both Israel and Judah, threatening the complete destruction of their national institutions and their religion.” Die vernietigende gebeure kon die volk se identiteit vernietig. Die profete word dus kommentatore wat vanuit hulle Godsverstaan praat oor wat gaan gebeur en hoekom dit gaan gebeur. Die lens wat die profete gebruik, is God se oordeel oor die volk. Die profete het egter ook hooptaal gepraat – taal van herstel en lewe.

Die profete se taal van oordeel en hoop groei vanuit hulle verstaan van God. En dit is die getuienisse oor God waarmee predikers vandag nog besig is. Dit begelei mense, toe en nou, om die groot tragedies van die lewe in die oë te kyk. Vir Juda was dit die gelyktydige vernietiging van die twee instellings – die tempel en die Dawidiese koningskap – wat die simboliese versekering van God se verkiesing van Israel was: “Their loss was far greater than a loss of national prestige and left the entire understanding of Israel’s special relationship to Yahweh its God in question. What had happened demanded a total reappraisal and rethinking of Israel’s self-understanding as the People of God” (Clements).

Binne die bogenoemde konteks van die Jeremiaboek kan ons nader ingaan op hoofstuk 30–33. Ons het reeds genoem dat kommentare na hierdie vier hoofstukke verwys as “the little book of consolation”. O’Connor beskryf dit soos volg: “Only shreds of hope appear in this book to counterpoise the deep river of devastation, grief, and despair that pervades most of it … In a collection of prose and poetry called ‘the little book of consolation’ (chaps 30–33), joy overtakes grief, singing replaces weeping.” Die hooftemas van dié hoofstukke is terugkeer en herstel (return and restoration).

Alhoewel Jeremia oor die algemeen nie herstel vir die Dawidiese lyn gesien het nie, kom die tema in hoofstuk 33 sterk na vore. Die ballinge word ’n gemeenskap wat wag (“community in waiting” volgens Brueggemann) – ’n tema wat met vrug met Adventstyd, wat “wagtyd” is, verbind kan word.

In hoofstuk 33 kry ons “belofte-orakels” (“promissory oracles” volgens Brueggemann) wat as die woord van die Here en die bekend making van “groot en onbegryplike dinge” (v 3) tot Jeremia kom. Hierdie beloftes is ’n mengsel van metafore wat op herstel en ’n toekoms dui. Die meeste kommentatore beskou hoofstuk 33 as die herhaling van beloftes wat in hoofstuk 31–32 voorkom, maar met die byvoeging van Dawidiese en Levitiese beloftes (Wright).

Die eerste belofte is dat herstel en genesing sal plaasvind (33:6). God, wat uitgebeeld word dat Hy sy gesig verberg het, sal hulle lot verander. Ten tweede sal Hy ook die lot van die land verander, wat tot vreugdegesang soos met ’n bruilof sal lei. Die noem van verskillende plekname (33:12-13) dui op die grootheid en wydheid van die herstel. Die beeld van ’n herder wat almal tel en die behoefte aan aandag ná al die trauma raaksien, word hier gebruik. God sal doen wat hulle nie self kan doen nie: “Language of promise envisions a complete inversion of the destruction of the recent past” (Brueggemann).

Die volgende “belofte-orakel” het te make met ons perikoop vir hierdie Sondag. In dié gedeelte is die fokus op koningskap en die aard van goeie koningskap. Die belofte val aanvanklik vreemd op die oor omdat Jeremia uitgesproke was daaroor dat die koninklike dinastie eintlik deel van Juda se probleme was. Tog is die taal deel van die oerbeloftes wat God aan Israel en Juda gemaak het.

Brueggemann merk op dat Jeremia in die res van die profeteboek nie juis ’n “David shaped future” in gedagte gehad het nie. Waarom dan die fokus op beloftes rondom Dawidiese koningskap? Die fokus kan moontlik eerder geïnterpreteer word as God se getrouheid. Die profete se rol is immers om God se beloftes, wat in Jeremia 33:14 as die “goeie belofte” (letterlik “goeie woord”) beskryf word, te verwoord.

Die woorde “Kyk, daar kom dae” (33:14) en “In daardie dae en in daardie tyd” (33:15) gee ’n gevoel van sekerheid, maar ook vaagheid. Pilkington herinner dat die fokus nie hier is op die “wat” nie, maar eerder die “wie”. Dit is nie die tyd wat saak maak nie, maar die inhoud van dit wat op pad is, naamlik die vervulling van God se beloftes en geregtigheid, en veiligheid vir God se mense (Israel én Juda).

Hierdie spruit van geregtigheid is ’n teken van nuwe lewe en word gekenmerk deur reg en billikheid. Die gevolg is die verlossing en sekuriteit van Juda en Jerusalem. Jerusalem ontvang ’n nuwe naam: “Die Here is ons geregtigheid” (23:6), ’n titel wat hier aan die nuwe heerser gegee word (Yahwe is our vindication).

Die persoon sal kom doen wat konings geroep is om te doen, naamlik die beoefening van reg en geregtigheid (Ps 72:1-4; Jer 22:15-17). Dit is wat nodig is om die land heel te maak en te red. In die profeteboek is “well-being” die gevolg van geregtigheid (justice) en dit het ’n nuwe sosiale werklikheid tot gevolg.

Die gedeelte ná hierdie spesifieke perikoop (vers 17 en verder) is weer “belofte-orakels” wat die kontinuïteit van die priester en koning bevestig (Dawidiese huis en die Leviete). In hierdie verse word die kosmos (die onveranderde orde van die skepping, byvoorbeeld dag en nag) en die beloftes van ’n nageslag aan Abraham (“ancestral promise of progeny”) die fondament van God se getrouheid.

Jeremia 30 – 33 verkondig dat genade (mercy) nie net oordeel temper nie, maar dit “eclipse” (Stulman). O’Connor meen: “These brief chapters of hope are a tour de force that sweeps aside the general bleakness of most of the book.” Hierdie genade en hoop is dan ook die fokus van interpretasie en moontlike prediking.

Konteks

Die eerste Sondag in Advent is die Sondag van Hoop. Hoop bied ’n lens waardeur hierdie paar verse uit Jeremia gelees kan word. Die ander Leesroostertekste – Psalm 25:1-10, 1 Tessalonisense 3:9-13 en Lukas 21:25-36 – is ook rondom hierdie tema gekies. In 1 Tessalonisense moedig Paulus die gemeente aan om in liefde te leef omdat hulle die hoop het op Jesus se koms. Lukas 21:25-36 is ’n eskatologiese teks waarin die “einde” van dinge gekontrasteer word met God se woorde wat nooit tot ’n einde sal kom nie. Soos in Jeremia se geval, rus die beloftes rondom die toekoms in God.

Die fokus op hoop tydens die eerste Sondag in Advent vorm dus die belangrikste lens waardeur hierdie perikoop op dié spesifieke Sondag geïnterpreteer kan word. Die boodskap van hoop binne die groter Jeremia 33 word deur baie ander “belofte-orakels” omring. Brueggemann se opmerkings rondom belofte is belangrik vir predikers om in ag te neem. Hy erken dat die konsep van belofte vir die moderne mens problematies is omdat dit na mag en keuse buite menslike beheer verwys.

As gelowiges en kerk praat ons maklik oor God se beloftes. In geloofstaal is beloftes dit waaruit ons elke dag leef. Geloofstaal is beloftetaal. In baie mense se daaglikse wêreldbeeld funksioneer beloftes egter glad nie as ’n plek van versekering waaruit geleef word nie.

Brueggemann is, soos ander skrywers, verras oor die mag van die soort taal of retoriek: “Interpreters are at a loss to know why this promise, now removed from political reality and carried only in Israel’s liturgical, visionary, ideological hopes, continued to have shaping power for the life and imagination of Israel, but unarguably it did.” Dit is belangrik om te besef dat die taal en simboliek binne liturgiese ruimtes die krag het om hoop te voed – ook vandag.

Die ander werklikheid in die teks is dié van trauma. Baie Ou-Testamentiese geleerdes het al deur die lens van traumateorie na Jeremia gekyk. Die konteks waarbinne die beloftetaal kom, is dié van onmenslike lyding en verlies. Die plek waaruit daar oor ’n toekoms van hoop gepraat word, is die erkenning van verlies en gebrokenheid. Die nadenke oor hoop is dus teen die agtergrond van ballingskap en dood. Ook in Adventstyd kan ’n visie van die toekoms nooit die wêreld van lyding vermy nie. Dan neem jy nie waarlik die werklikheid van mense se lewe in ag nie en erken nie hulle emosionele pyn nie.

O’Connor skryf: “Jeremiah does the life-saving work of a preacher-poet-theologian. He looks at his people’s situation, he lives among them and sees their world; he names it, and re-frames it by imaginatively re-inventing traditions they share. This interpretive work rebuilds them into people.” Is dit nie wat die prediker ook moet doen nie – om mense te help om situasies anders te verwoord en te vertaal? So kan mense te midde van uitdagings oorleef, maar ook floreer. Daar mag nooit soetsappig en bolangs oor lyding gepraat word nie. Die Covid-19-pandemie het juis die weerloosheid en tydelikheid van alles nader aan mense se lyf gebring.

Jeremia praat ook ’n nuwe taal rondom koningskap en godsdiens. Die tempelsisteem is nie meer so sentraal nie. Die nuwe leier is nie een met militêre mag nie. Dit lei nie na die wanorde van oorlog nie, maar eerder na die orde van geregtigheid. Hierdie reg en geregtigheid is nie net bedoel vir mense nie, maar vir die hele land.

As Advent die lens is waardeur gepreek word, sal die fokus kan val op die aard van die koningskap wat hier beloof word. Die aard van die koningskap bepaal hoe God leierskap en heerskappy wil, asook hoe God se heerskappy lyk. ’n Heerskappy wat verras deur die geboorte (inkarnasie) van Jesus.

Die kontinuïteit van God se beloftes is ook belangrik vir Advent. Die orakels of uitsprake van Jahwe wat Jeremia bekend maak, herinner aan dié woorde van Brueggemann: “God’s resolve is voiced speech.” Hierdie tekste is God se commitment. Dit nooi nie uit na iets vaags in die verlede of toekoms nie, maar om deur eie dade en leierskap ook na so ’n soort samelewing te streef.

Ons kan nie die evangelieverhaal sonder beloftetaal vertel nie, asook nie die verband tussen die Ou en Nuwe Testament daarsonder verstaan nie. Omdat Advent ’n tyd van wag is, is beloftetaal sentraal. Maar die belofte is altyd te midde van trauma en werklikheid. Dit word ’n kuns om vanuit God se beloftes te kan leef.

O’Connor praat van ’n “wounded alertness” vir die nuwe wêreld wat belowe word: “The future is an act of God, beyond the capacity of human beings to bring it forth.” Tog inspireer dit dade van reg en geregtigheid.

Preekvoorstel

Glo mense vandag nog in beloftes? Elke dag word beloftes aan ons gemaak deur leiers, advertensiemaatskappye en vriende. Van kleins af word ons geleer dat God ook beloftes aan ons maak. Die Skrif is vol daarvan en ons word uitgenooi om dit te vertrou. Ons sukkel egter daarmee omdat ons min ander beloftes wat aan ons gemaak word, ernstig kan opneem.

Soos reeds genoem, is die eerste Sondag in Advent die Sondag van Hoop. Miskien is dit goed om by God se beloftes stil te staan. Hoop en beloftes het tog met mekaar te make. Dit is belangrik om te onthou dat God se beloftetaal altyd met hoop verband hou, terwyl hoop nie van die sigbare verwesenliking van die beloftes afhanklik is nie. Dit gee aan hoop ’n ander dimensie as die OMO-advertensie.

Die boek Jeremia plaas hoop binne perspektief. Dit herinner dat hooptaal nie net die taal is vir wanneer dit goed gaan nie, maar dalk juis vir tye van wanhoop. As jy tyd aan hierdie Bybelboek spandeer, sal jy gou agterkom ons praat van niks soetsappigs nie. Beloftes is nie net pleisters op wonde nie. Jeremia is ’n getuie van verskriklike trauma waaraan die meeste van ons nog nooit blootgestel is nie, behalwe op televisie. Ons lees van lyke wat in strate rondlê, die ervaring dat God sy gesig weggedraai het. Soos binne enige ander oorlogsituasie, sou daar verkragting, alle vorme van geweld en vernietiging – in dié geval die vernietiging van simbole van God se sorg en teenwoordigheid (die tempel en Jerusalem) – wees. En dan, in die middel van dié profeteboek tussen hoofstukke van trauma, is daar ’n klein boekie van bemoediging en hoop. Persentasiegewys is dié soort taal verreweg die minste in die profeet se woordeskat. Ons kan egter argumenteer dat dit wel die swaarste weeg.

Jeremia 33 is deel van hierdie hoopwoorde, en binne dié hoofstuk kry ons orakels of uitsprake van die Here wat beloftes bevat. Ons moet onthou dat die beloftes in die profeteboeke getuienisse van God se getrouheid is en nie letterlike voorspellings van wat gaan gebeur en wanneer nie. Dit is beeldryke hooptaal met die fokus nie noodwendig op dit wat gehoop word nie, maar op die Een op wie daar gehoop word. Dit laat ons iets raaksien van wat God wil en van watter soort God so ’n wêreld van herstel vir sy volk wil hê.

Een sodanige belofte waarvan ons in Advent lees, het te make met Dawidiese koningskap. Vir Jeremia, soos die ander ná-ballingskapse profete, was daar die verwagting dat ’n leier sal kom wat sal regeer soos God nog altyd van leiers verwag het om te regeer: met reg, geregtigheid en billikheid. ’n Manier van heers wat God se heerskappy weerspieël, wat aan die stad waarbinne hy regeer ’n nuwe naam sal besorg, want dit is hoe dit gesien sou word. Ons wat vanuit die evangelieverhaal teruglees, herken hierdie aard van heerskappy, want ons ken Jesus. Ons is egter ook diep bewus daarvan dat Jesus se koms en die viering daarvan nie ’n groot verskil maak aan die leierskap wat ons daagliks omring nie. Ons voel net so moedeloos soos Israel en Juda oor die herders wat nie na hulle skape kyk nie. Ons hoop steeds, ons verlang steeds.

Maar waarna? Die beloftetaal daag miskien ook ons verwagting van Jesus en ons eie verstaan van heerskappy en leierskap uit. Binne trauma of moeilike tye kon God wraak en ’n magtige nuwe heerser belowe het. Ons ontvang egter woorde van vrede, sekuriteit en veiligheid. Die beloftetaal moet ons ook kan dra in tye van verlies en wanneer ons verstotenheid ervaar.

Terwyl ons in Adventstyd hoop en op Jesus, ons Hoop, wag, moet ons ook hierdie hoop uitdra waar ons in ons gemeenskappe is. Kom ons word leiers wat dien, troos en herstel, wat na trauma en smart luister, en saam na ’n beter toekoms verlang en streef. Ons weet die toekoms is ’n geskenk van God, maar ons ontvang dié geskenk eers werklik as ons dit waar genoeg ag om nou reeds iets daarvan sigbaar te maak, as ons die beloftes ernstig opneem. Ons gemeenskappe moet ook genoem kan word: “Die Here is ons geregtigheid.”

Bibliografie 

Allen, LC 2008. Jeremiah. A commentary. Louisville: Westminster John Knox Press; Brueggemann, W 1991. To build, to plant: A commentary on Jeremiah 26–52. Eerdmans Publication; Brueggemann, W 1998. A commentary on Jeremiah: Exile and homecoming. Grand Rapids: William B Eerdmans Publishing Company; Carroll, RP 1986. Jeremiah: A commentary. Philadelphia: Westminster Press; Claassens, L Juliana 2019. Towards a feminist public theology: On wounds, scars and healing in the book of Jeremiah and beyond. International Journal of Public Theology 13, 185-202; Clements, RE Jeremiah commentary for teaching and preaching; O’Connor, K 1998. Jeremiah in “Women’s Bible commentary” (eds Newsom & Ringe) Louisville: Westminster John Knox Press; O’Connor, K 2011. Jeremiah: Pain and promise. Minneapolis: Fortress Press; Stulman, L 2005. Jeremiah in Abingdon Old Testament commentaries; Pilkington, C in The Lectionary Commentary. Theological exegesis for Sunday’s texts (ed RE van Harn). Wright, CJH 2014. The message of Jeremiah. Illinois: IVP Academic.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.