Eerste Sondag van Advent – Sondag van hoop

Sections

Oorsig

Sleutelteks

Markus 13:24-37
Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word

(Matt 24:1–2; Luk 21:5–6)
13 Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”
2Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”
Die profetiese rede: rampe en vervolging

(Matt 24:3–14; Luk 21:7–19)
3Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: 4“Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”
5Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 6Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.

7“En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 8Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

9“En julle moet teen julleself op julle hoede wees. Mense sal julle aan die geregshowe oorlewer; in die sinagoges sal julle geslaan word, en voor goewerneurs en konings sal julle oor My teregstaan. Dit sal ’n getuienis voor hulle wees. 10En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. 11Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. 12Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 13Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.”
Die profetiese rede: die groot verdrukking

(Matt 24:15–28; Luk 21:20–24)
14“En wanneer julle die ding wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie—wie dit lees, moet dit goed begryp—dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. 15Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie; 16en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.

17“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. 18Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie, 19want in daardie tyd sal daar so ’n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie. 20En as dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort.

21“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 22Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei. 23Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê.”
Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Matt 24:29–31; Luk 21:25–28)
24“Maar in daardie tyd,
ná daardie verdrukking,
sal die son verduister word
en die maan sal nie skyn nie;
25die sterre sal uit die ruimte val
en die kragte van die hemelruim
sal ontwrig word.
26Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. 27En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”
Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom

(Matt 24:32–35; Luk 21:29–33)
28“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 29So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 30Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 31Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.
Die profetiese rede: die dag en uur van die wederkoms

(Matt 24:36–44; Luk 21:34–36)
32“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 33Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. 34Dit is soos ’n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. 35Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. 37En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

Ander tekste

Jesaja 64:1-9
64 As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom
sodat die berge voor U skud!
2Kom af soos ’n vuur
wat fynhoutjies laat brand,
soos ’n vuur wat water laat kook.
Laat u Naam só aan u vyande
bekend word,
laat die nasies só voor U bewe.
3Toe U wonders gedoen het,
wonders wat ons nie verwag het nie,
toe U destyds afgekom het,
het die berge voor U geskud.
4Van ouds af het niemand
so iets gehoor nie,
het niemand so iets verneem nie,
het geen oog ’n god gesien
wat vir dié wat op hom vertrou,
doen wat U doen nie.
5U kom dié te hulp
wat met blydskap doen wat reg is,
dié wat onthou hoe U wil hê
hulle moet lewe.
U was kwaad vir ons,
want ons het gesondig.
Ons het so lank daarmee aangehou,
hoe kan ons dan nog gered word?
6Ons het almal geword
soos mense wat onrein is,
ons beste dade is soos vuil klere;
ons is almal soos verdroogde blare,
ons word deur ons sondes weggewaai
soos deur ’n wind.
7Daar is niemand
wat tot U om hulp roep nie,
niemand wat sy krag in U soek nie.
U het ons aan onsself oorgelaat,
U laat ons wegkwyn deur ons sondes.
8U is ons vader, Here,
ons is klei en U het ons gevorm,
ons is almal die werk van u hande.
9Moet tog nie aanhou kwaad wees
vir ons nie, Here,
moenie ons sonde vir altyd
teen ons hou nie,
onthou tog ons is almal u volk.
10U heilige stad het ’n woestyn geword:
Sion het ’n woestyn geword,
Jerusalem is onbewoonbaar.
11Ons heilige en pragtige tempel
waar ons voorouers U geloof het,
is deur vuur verwoes,
alles wat vir ons dierbaar was,
lê in puin.
12Raak hierdie dinge U dan nie, Here?
Gaan U nie ingryp nie?
Gaan U aanhou om ons te laat ly?

Psalm 80:1-7, 17-19
Verskyn tog tot ons redding
80 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis van Asaf.
’n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
3Openbaar u mag aan die stamme
Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan,
o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons ’n beker vol verdriet
laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.

8Almagtige God, 
laat dit weer met ons goed gaan, 
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak, 
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek, 
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see, 
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom, 
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God, 
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok, 
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U
met u eie hand geplant het, 
die wingerdstok
wat U vir Uself gekweek het!

17Laat dié wat hom soos onkruid
verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer
van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe,
dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

1 Korintiërs 1:3-9
1 Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ’n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.

2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Inleiding
Op die eerste Sondag van Advent is ons hoop daarop gerig dat die Here Jesus sal terugkom soos Hy belowe het. Die liturgiese jaar begin met die gebed uit Jesaja 64 en die reaksie van Openbaring 22:20: “Amen! Kom, Here Jesus!” Niemand ken die tyd en wyse van die wederkoms nie, behalwe die Vader. Advent is dus ’n tyd van voorbereiding met die oog op die hede en op die tyd wat sal kom.

Ekstra stof

Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking
Markus (Matteus en Lukas)
Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid.  Ander wag nog steeds om finale vervulling.  Matteus sê dit baie helder “wat sal die teken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

In 5 dele lig Jesus die gordyn oor die toekoms:
Rampe en Vervolginge
Die Olyfberg is aan die oostekant van die stad geleë.  Jesus lewer hierdie profetiese rede terwyl hulle na die tempel kan kyk.  Die klippe waarvan die tempel gebou is, was regtig besonders.  Een klip wat opgegrawe is, was 4x6x12 meter groot.  Die tempel was op dié stadium nog nie eers voltooi nie.  Bouwerk het in 15 vC ‘n aanvang geneem onder Herodes die Grote en is in 67 nC eers voltooi – ironies genoeg, net voor dit vernietig is in 70 nC deur keiser Titus.

Die tempel, sê Jesus, sal afgebreek word, klippe en al, sowel as die “gewyde geskenke” daarbinne vernietig word (Lukas).  Daar is nie meer ‘n omkeer moontlik vir Jerusalem nie.  Let op hoe die eerste geroepe dissipels, twee pare broers – hier in ‘n ander volgorde as in Markus 1:16-20 genoem – met Jesus in gesprek is.  Matteus en Lukas het dit dat al die dissipels hierna geluister het.

Jesus het klaar gepraat met die skares en die Joodse Raad en sal hulle eers weer met die verhoor en kruisiging ontmoet.  Op die dissipels se vraag na die tyd en teken van die vernietiging, gee Jesus twee antwoorde:

  • Hulle moet versigtig wees vir misleiding oor Jesus self.  Mense sal voorgee hulle is Hy.  Die begeleidende tekens van die eindtyd: oorloë, hongersnood en aardbewings (Lukas voeg epidemies by) moet hulle nie verskrik nie.  Dit is geboortepyne van die nuwe tyd wat kom.
  • Hulle moet versigtig wees vir wat met hulleself kan gebeur in teenstand.  Hulle sal geregtiglik, godsdienstig en polities vervolg word.  Maar dit alles sal as getuienis vir Jesus dien en deel wees van die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.

As bemoediging en motivering praat Hy oor die wysheid wat die Heilige Gees vir hulle in dié situasies sal gee, soos ook letterlik gebeur het voor die Joodse Raad in Handelinge 4.  Matteus praat nie hieroor in hierdie konteks nie, terwyl Lukas verder uitbrei daaroor en aan Jesus self koppel: “Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee …”.  Dit wys op die integrale eenheid tussen Jesus en die Gees.

Jesus waarsku egter ook dat die vervolging ook teenstand binne families sal insluit (vgl Mark 3:31!), en bemoedig hulle om tot die einde te volhard, al sluit dit die dood in.  Lukas het ‘n interessante byvoeging: “daar sal nie eens ‘n haar van julle kop af val nie,” waarmee Hy heel moontlik bedoel dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie, dws dat hulle nie geestelik deur fisiese lyding en die dood sal skade ly nie.  Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34.  Daar word dit egter letterlik bedoel.

Die groot verdrukking
Jesus se visier verskuif na die tyd van die tempel vernietiging self.  Sy raad aan gelowiges is om in daardie tyd te vlug, omdat dit ‘n tyd van groot verdrukking sal wees.  As teken van die verwoesting wat kom, sal “die ding wat ‘n gruwel is vir God” op die “plek waar hy nie moet wees nie”, dws die tempel, opgerig word.  Weereens waarsku Jesus teen vals christusse en vals profete waarvoor hulle op hulle hoede moet wees.

Matteus verbind hierdie gebeure aan die soortgelyke gebeure wat in Daniël se profesie voorspel is, waar ook van die gruwelike ding gepraat word wat in die “heilige plek” opgerig sal word (Dan 12:11 – dit is vervul in 168 vC met die Siriese Antiogus Epifanes IV se altaar aan Zeus wat in die tempel opgerig is – 1 Makkabeërs 1:54,59).  Hy verduidelik verder dat die valse christusse en profete se aansprake getoets kan word aan die lokale en geheime aard daarvan, iemand moet jou inlig oor die detail: in die woestyn of in die slaapkamer.  Die koms van die Seun van die mens sal egter oombliklik, publiek en globaal sigbaar wees, soos ‘n weerligstraal wat van oos na wes alles verlig.

Dit is moontlik om hier ‘n verdere betekenis in te lees, dat hier van die eindtyd en die wederkoms gepraat word, soos baie geleerdes doen, veral as jy dit met ander eskatologiese gedeeltes vergelyk (bv. 2 Tess 2, waar van die Antichris gepraat word wat in die tempel sy troon sal oprig).  ‘n Mens moet egter onthou dat die profesie vir die dissipels egter iets was wat in hulle leeftyd betekenis gehad het.  Dit was duidelik voorop in Markus se oorvertelling hiervan, heel moontlik net ‘n paar jaar voor dit inderdaad in vervulling gegaan het.

Lukas vertel nie van die tempel ontheiliging, maar wel van leërs wat Jerusalem sal omsingel.  Hy verbind die verdrukking aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer.  Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die gebeure in 70 nC verbind kan word.

Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens
Markus (Matteus en Lukas
Die koms van die Seun van die mens
Jesus verstel weer sy versier en fokus nou op sy Wederkoms, die klimaks van hierdie profetiese rede. Sy koms sal gepaard gaan met kosmiese tekens – ontwrigtings aan die son, maan, sterre, en ander kragte in die hemelruim (Jes 13:10: Joel 2:10, 31; 3:15 – vgl Petrus in sy toespraak op Pinksterdag in Hand 2 wat ook hierna verwys en dit verbind aan die uitstorting van die Heilige Gees).   Met die Seun van die mens (Dan 7:13) kom ook die engele wat die uitverkorenes versamel.

Matteus brei uit oor die verslaentheid wat oor die volke van die aarde sal kom en praat ook van die groot trompet wat dit alles sal aankondig.  Lukas praat ook van die radeloosheid en angs van die mense vir die “gebulder van die see en sy vloedgolwe”(tsunamis?).  Hy bemoedig die gelowiges egter met die boodskap dat hierdie dinge eintlik ‘n teken is dat hulle verlossing naby is.  Daarom moet hulle regop staan en hulle koppe oplig!

Die voorbeeld van die vyeboom
Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se seisoenale verandering in die lente wat as teken dien dat die somer naby is, om die dissipels op die regte wyse na dié tekens te laat kyk.  “Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur,” sê Jesus.  Die natuurlikste interpretasie van “hierdie geslag” is dat dit na die Jode van Jesus se tyd verwys (vgl Mark 8:12). Dws, die profetiese rede sal in die Joodse volk van daardie tyd se leeftyd vervul word.  En dit op sigself is ‘n teken dat die Wederkoms naby is.

Matteus neem Markus net so oor en Lukas noem dit ‘n gelykenis eerder as ‘n voorbeeld.  Hy praat ook van die tekens as tekens van die koninkryk van God.

Die tyd en datum van die wederkoms
Jesus sluit die profetiese rede af deur sy oproep tot gereedheid en waaksaamheid te herhaal, want die tyd en datum van die wederkoms is net bekend vir Sy Vader.  Hy gebruik die voorbeeld van ‘n deurwagter wat nie weet wanneer die huiseienaar weer terug kom nie, en daarom sal wakker bly.

Matteus gebruik ook die voorbeeld van die situasie in die tyd van Noag wat as wekroep vir die dissipels moet dien om waaksaam te wees.  Hy praat ook van die onderskeid wat met die wederkoms tussen mense getref sal word, waarskynlik op grond van hulle waaksaamheid al dan nie.  Die deurwagter voorbeeld van Markus word anders deur hom vertel. By Matteus is dit die huiseienaar self wat waaksaam is terwyl hy vir ‘n dief wag.

Lukas verbind die oproep tot waaksaamheid baie spesifiek aan die gevaar dat hulle gees deur onmatige etery en drinkery en die sorge van die lewe afgestomp sal word, en die dag hulle soos ‘n vangnet kan oorval.  Hy roep hulle ook op tot voortdurende gebed.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3”

Die Adventskrans

Aanvangswoord 

Seëngroet
Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Verootmoediging: (Skriflesing uit Jesaja 53)

Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1” (2X)

Skuldbelydenis: (Jesaja 64)

Vryspraak: (Uit Jesaja 53)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Lofliedere
Lied 349 “Kom kinders besing met ‘n vrolike stem vs 1,2,3,4” en/of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Markus 13:24-37

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
God nooi ons uit en ons kom tot rus

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3”

Die Adventskrans
Die aansteek van die Adventskrans is ’n fokuspunt aan die begin van die erediens. Dit kan deur ’n familie of ’n verteenwoordiger van ’n diensgroep in die gemeente gedoen word.

Die kerse van die Adventskrans herinner ons aan God se voorbereiding vir die koms van sy Seun na die wêreld.  Vandag onthou ons die geloofshelde uit die Ou Testament. Maak ’n kort aanmerking oor elk van die geloofshelde.

Gebruik dalk die gedeelte uit Hebreërs 11:8-23:
8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ’n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ’n man wat nie meer ’n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.

17–18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

23Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ’n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

Aanvangswoord
Voorganger: As U maar die hemel wou oopskeur en afkom –
Gemeente: Amen! Kom, Here Jesus!

Seëngroet
2Aan die gemeente van God in …………………………………….., wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Uit 1 Korintiërs 1)

Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Verootmoediging
Lees die skrifgedeelte wat dui op die kollektiewe skuld van die mensdom wat die Messias Seun van God verwerp het…
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word. g
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
(Uit Jesaja 53)

Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1” (2X)

Skuldbelydenis
6Ons het almal geword
soos mense wat onrein is,
ons beste dade is soos vuil klere;
ons is almal soos verdroogde blare,
ons word deur ons sondes weggewaai
soos deur ’n wind.
7Daar is niemand
wat tot U om hulp roep nie,
niemand wat sy krag in U soek nie.
U het ons aan onsself oorgelaat,
U laat ons wegkwyn deur ons sondes.
8U is ons vader, Here,
ons is klei en U het ons gevorm,
ons is almal die werk van u hande.
9Moet tog nie aanhou kwaad wees
vir ons nie, Here,
moenie ons sonde vir altyd
teen ons hou nie,
onthou tog ons is almal u volk.
(Jesaja 64)

Vryspraak
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
Die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk. h
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het. j
(Uit Jesaja 53)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Lofliedere
Lied 349 “Kom kinders besing met ‘n vrolike stem vs 1,2,3,4” en/of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Liedere

F77. “Jesus Is Die Heer Bo Alle Here”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Geloofsbelydenis)
Teks & Musiek: Soekie Rautenbach & Danny Anthill
© Brettian Publishers
(Opgeneem op Radicool Radikids vir Jesus)

Jesus is die Heer bo alle here,
Halleluja !

Hy is Koning, kroon en eer Hom!
Loof Hom, Halleluja!

Jesus, Vredevors, eer Hom!
Halleluja !

Jesus, sterke God, eer Hom!
Halleluja !

F35. “Jesus Kom Weer”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Wederkoms / Hoop en Voleinding)
Teks en Musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Jesus is ons Koning, Heer,
en ons weet Hy sal t’rugkeer.
Soos hul Hom sien opvaar het,
sal Hy kom om ons te red.

Refrein:
Ja, Jesus kom weer!
Ja, Jesus kom weer!
Ek en jy behoort aan Hom.
Ons glo dat Hy weer sal kom.

2. Jesus is ons Koning, Heer.
Ek en jy behoort aan Hom.
Soos hul Hom sien opvaar het,
glo ons dat Hy weer sal kom.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Die profeet Jesaja het verklaar:
“So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees:
dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie,
maar dit sal doen wat ek gedoen wil hê
en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.”
Mag ons vandag Jesus se woorde hoor en aan ons eie lewe toepas tot sy eer en die opbou van sy koninkryk.
Amen.

Skriflesing: Markus 13:24-37

Prediking

Familie-oomblik

Lees die waarskuwing oor “gereed wees” uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

God Besluit Wanneer die Einde Kom
32–33 “Net God weet wanneer die einde* van die wêreld gaan wees. Die engele* weet dit nie. Ek weet dit ook nie. Wees gereed vir daardie dag. Want julle weet nie wanneer die einde* gaan kom nie.

34–36 “Laat Ek dit vir julle verduidelik met ’n voorbeeld. ’n Ryk man wat vir ’n lang tyd van sy huis af weggaan, laat sy huis in die hande van sy werkers. Hulle moet sy huis goed oppas. Julle moet ook goed waghou, want julle weet nie wanneer die Eienaar van die huis terugkom nie. Dit kan enige tyd wees: in die middel van die nag, vroeg in die oggend, as die son sak of in die aand, ja enige tyd. As Hy skielik die deur oopmaak, moet Hy jou nie aan die slaap kry nie.

37 “Laat Ek dit weer ’n keer sê: ‘Julle moet elke dag gereed wees, want Ek kom regtig weer terug.’”

Carolyn Brown het ‘n baie raak illustrasie hieroor. Onderstaande is hierop gebaseer.
Mens moet getrou wees in die take wat jou opgelê word selfs al is daar nie toesig nie.
Wanneer die onderwyser werk uitdeel in die klas en nie daar is om toesig te hou nie, word van jou verwag om sonder sy toesig getrou te wees.
En as mamma vir jou vra om skottelgoed af te droog terwyl sy elders in die huis besig is, moet jy getrou jou taak voltooi al is sy nie daar om toesig te hou nie.
Want beide die onderwyser of mamma kan skielik onverwags opdaag- dan verwag hulle van jou om te doen wat gevra is.
Gestel jy betaal die bure se seun Andrè om vir die twee honde te sorg terwyl jy vir ‘n week Kaapstad toe moet gaan. Hy weet hy moet soggens en saans vir hulle kos gee en elke keer seker maak dat hulle waterbakke skoon is en in die skaduwee staan.
En toe gebeur dit dat jy een dag vroeër van Kaapstad af terugkom- wat ‘n teleurstelling! Die kosbakke lê oral rond en daar is geen water in die waterbakke nie. Andrè was nie getrou in die take wat hy moes nakom nie. Daar was duidelike riglyne dat hy vars water moes voorsien.
Niemand weet wanneer Jesus weer na die wêreld terug kom nie- net God weet dit. Daarom verwag Jesus van sy volgelinge om te alle tye gereed te wees, getrou te wees in ons navolging.

Preekriglyn

Op 7 September van die jaar 70 n.C. is Jerusalem in puin gelê. Die toneel was veel erger as die World Trade Centre-beelde van 11 September 2001 wat so helder in ons geslag se geheue ingebrand is.

Geharde Joodse nasionaliste, wat as Selote bekendgestaan het, het in opstand teen die destydse Romeinse oorheersers gekom. ‘n Romeinse leër, onder bevel van generaal Titus, ‘n latere keiser, het die stad omsingel en beleër. Dit het ‘n rukkie geneem, maar toe die Romeine uiteindelik deur die vestingmure breek, het hulle die stad verwoes en die beroemde tempel met die grond gelyk gemaak. Nie een klip het op die ander bly staan nie.

Tot vandag treur die Jode oor die verwoesting van die stad op die jaarlikse vasdag wat as Tisha B’Av bekendstaan. In Rome vier die triomfboog van Titus steeds die verwoesting van Jerusalem.

David Roberts het in 1850 die toneel van die verwoesting in ‘n aangrypende skildery vasgevang. ‘n Joodse geskiedskrywer, Josefus, wat teenwoordig was by die verwoesting, skets die verskriklike toneel van verwoesting:
Plekke wat voorheen versier was met bome en pragtige tuine, het verwoes gelê. Alle skoonheid en prag is vernietig. Die tonele van die slagting binne die stad was erger as die verwoesting wat van buite sigbaar was. Mans en vroue, oud en jonk, opstandelinge en priesters, diegene wat geveg en diegene wat om genade gesmeek het, is sonder onderskeid afgemaai. Die hoeveelheid dooies was groter as die aantal soldate wat die doodslag uitgevoer het. Die soldate moes oor hope dooie liggame klim om hulle slagting voort te sit.

Volgens Josefus is meer as 1,1 miljoen mense tydens die beleg en verwoesting gedood, waarvan die oorgrote meerderheid Jode was. ‘n Verdere 97,000 mense is gevang en het slawe geword.

Nie een klip op die ander

‘n Paar dekades vroeër, tydens Jesus se bediening in Jerusalem, het Jesus en sy dissipels op ‘n dag van die tempel weggestap. Markus vertel:

Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”

Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” (13:1-2)

In reaksie op Jesus se uitspraak, wil die dissipels dan weet wanneer dit gaan gebeur, en wat die tekens daarvan gaan wees (3-4).

Tye en tekens

Jesus gee ‘n uitgebreide antwoord op die dissipels se vraag. Sy antwoord staan as die profetiese rede bekend. Hy praat op verskillende maniere oor lyding en swaarkry, en sê dat hierdie dinge die geboorte is van God se nuwe tyd:

  • Daar sal misleiding wees oor wie die egte Verlosser is (5)
  • Daar sal oorloë wees en nasies sal teen mekaar te staan kom (8)
  • Aardbewings op baie plekke (8)
  • Die verkondiging van die evangelie sal met teenstand begroet word, selfs in families, met baie vervolging, terwyl die Gees die gelowiges sal bystaan (9-12)
  • “Die ding wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig” sal staan op die plek waar hy nie moet wees nie (14), en ‘n teken wees van ongekende verdrukking
  • God kort die tyd van verdrukking in ter wille van die uitverkorenes (20)
  • Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.” (26-27)
  • Gelowiges moet die tekens van die tye reg lees, en waaksaam wees – hierdie dinge sal nog in die leeftyd van hierdie geslag gebeur (28-37).

“Die gruwel van verwoesting” wat ’n tyd van ongekende, amper onhoudbare lyding, gaan inlei, trek mens se aandag.

Jesus stel dit as historiese gebeure voor. Dit gaan nog in die leeftyd van hierdie (destydse) geslag gebeur. Dit gaan hier nie oor sy wederkoms nie, aangesien dit geen sin sou maak om met die aanbreek van die einde van die wêreld na die berge te vlug of om te hoop dis nie winter nie! Beide Jesus se verwysings na tyd (winter) en ruimte (berge) maak dit duidelik dat dit hier oor gebeure in die geskiedenis gaan.

Vernietiging van die tempel

Wanneer Markus sy evangelie skryf, waarskynlik in Rome, lê die vernietiging van die tempel nog voor. Maar die onweerswolke is reeds aan die saampak. Die politieke spanning tussen die Joodse nasionaliste en die Romeinse owerheid raak ondraaglik. In hierdie tyd herinner Markus se lesers aan Jesus se woorde in ons teks, uitgespreek op die Olyfberg, digby die tempel.

Markus se lesers moet hoor dat Jesus reeds ‘n gruwel van verwoesting voorspel het, en dat die geslag wat hierdie voorspelling gehoor het, dit ook sal beleef. Daar kom ‘n tyd dat dit bitter swaar sal gaan en die stad en tempel verwoes sal word, sodat mense moet vlug. Dit is deel van die uitkringende geweld wat die geskiedenis kenmerk, maar sê nie die laaste woord oor die wêreld nie.

Die eintlike werklikheid waarmee die gelowiges rekening moet hou, is God se teenwoordigheid en God se aksie om die boodskap van volle lewe, die evangelie oor die hele wêreld te versprei.

Voorberei en getroos

Jesus berei sy dissipels op lyding voor, deur hulle vooraf te waarsku. Markus roep Jesus se woorde in herinnering, en gebruik die waarskuwing ook om sy lesers te troos. Jesus noem hierdie lyding die geboortepyne van God se nuwe tyd. Markus herinner ons dat hierdie lyding ter wille van God se volgelinge verkort word. Waaksame dissipels behou die perspektief op God se toekoms en word daarom nie omver gegooi deur verwoesting en ellende op die korttermyn nie.

Dit het hulle in staat gestel om te midde van uitdagende tye standvastig in hulle geloof te bly.

Dit is egter nie net wat Jesus sê, wat troos nie, maar ook wie Jesus is. Markus beeld Jesus uit as die vervuller van Ou-Testamentiese profesie, die een wat in God se gesag deel (Hy stuur die engele uit), wie se woorde soos God s’n ewig is, én die een wat berus by die feit dat net die Vader weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind. Daarom kan gelowiges hulle vertroue volledig in Hom plaas.

Jesus die weg tot God

In ‘n groter perspektief van geloof gesien, is selfs die verwoesting van die tempel nie die groot katastrofe wat mense kon dink dit is nie.

Vir die Ou Testamentiese gelowige was die tempel die ontmoetingsplek met God. Die tempel was die punt waar God in heerlikheid op aarde gewoon het.

Die rol van die tempel word deur Jesus self oorgeneem. Jesus is die weg tot die Vader, die Een deur wie ons God ontmoet. Deur die Gees van Christus word ons as gelowiges verseker van ons kindskap. Ons het nie meer die tempel nodig nie.

Die verwoesting van die tempel dui dus nie daarop dat God onkant gevang, of dat God se plan vernietig is nie. Reeds tydens Jesus se bediening, herinner Markus ons, het Jesus self gesê daar sal nie een tempelklip op ‘n ander bly lê nie. In en deur Jesus gaan God se behoefte om in gemeenskap met mense te lewe onverdund voort, en bereik God God se goddelike doel.

Markus sê as’t ware: hoe verskriklik die politieke onweerwolke is wat tans om Jerusalem saampak (onthou, hy skryf ‘n paar jaar voor die verwoesting van die tempel), God se bedoeling met God se wêreld gaan onverstoord voort. Geen gruwel van geen verwoesting kan dit ontspoor nie.

Verlos van die toekoms

Die gelowiges van Markus se tyd, wat die trauma van die verwoesting van die Tempelstad sou beleef, word dus deur die gedeelte getroos.

Alle tye vloei egter in hierdie gedeelte ineen, en die mense van alle tye word deur die gedeelte bemoedig. Jesus herinner ons, by monde van Markus, daaraan dat die gróót troos in die wêreldgeskiedenis die wederkoms van die Seun van die Mens is:

Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant. (26-27)

Alle tye eindig met die koms van die Seun van die Mens op die wolke. Watter draai die lewe ook al met jou gooi, die wêreldgeskiedenis gaan voor die troon van Jesus eindig. Niks kan God se wêreld uit God se hande ruk nie.

Nie die verskrikking van Jerusalem se gruwelike val, die ramp van die Twin Towers, lande soos Iran en Irak wat deur besetters platgeskiet word, aanvalle op openbare vervoerstelsels en in plekke van aanbidding – niks nie – kan die geskiedenis ontspoor nie. Jesus kom weer.

Selfs nie kosmiese onstabiliteit kan die wêreld van God se bedoeling wegtrek nie, soos Jesus sê:
Maar in daardie tyd,
ná daardie verdrukking,
sal die son verduister word
en die maan sal nie skyn nie;
die sterre sal uit die ruimte val
en die kragte van die hemelruim
sal ontwrig word. (24-25)

Dit beteken dat God ons ook in Christus van die ellende wat die toekoms mag inhou, verlos. Die angel is uit die toekoms getrek. Baie mense gryp na Christus om weg te kom van die sonde van ‘n slegte, losbandige verlede. Ander soek uitkoms vir ‘n hede waarin hulle vasgeval het in ellende, en waarvoor vergifnis en redding nodig is.

Die goeie nuus is dat ons in Christus nie net verlos word van ons verlede en hede nie, maar dat ons ook ‘n nuwe toekoms ontvang.

Advent as teken

Dit is nou Adventstyd. Ons vier die feit dat God in Jesus Christus op hierdie wêreld aangeland het. Advent herinner ons dat God nie klaar is met ons nie. God is in Jesus by ons, besig met ons, besig deur ons, besig om die wêreld te lei na die eindpunt van die geskiedenis.

Wanneer ons Advent vier, leer ons om die tekens reg te lees:

Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: … die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.

Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. (28-33)

Christene wat die tye reg lees, bly waaksaam. Selfs die slegste dinge wat gebeur, is tekens dat die wêreld se finale verlossing aan die kom is. Waaksaamheid beteken dat ons die komende Christus voor oë hou, en lewe soos Christus ons geleer het.

Jesus se voorbereiding van sy dissipels en Markus se vertroosting van sy lesers, het hulle in staat gestel om te midde van uitdagende tye standvastig in hulle geloof te bly. Gelowiges moet hulle nie van die lewe te onttrek en net op die wederkoms van Christus te wag nie. Ons moet Jesus se gebooie uitleef, daardeur impak in die geskiedenis maak, en waaksaam bly. Gelowiges se waaksaamheid (33, 34, 35 en 37) moet daarin bestaan om gereed te wees, in afwagting van Jesus se tweede koms.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

Seën
Mag God, wat vrede gee,
julle volkome aan Hom toegewyd maak
en julle geheel en al,
na gees, siel en liggaam bewaar
dat julle onberispelik sal wees wanneer
ons Here Jesus Christus weer kom!
En die seën van God die almagtige,
die Vader, die Seun en die Heilige Gees
wees en bly altyd met u. Amen
(Uit 1 Tess 5:23)

(Daar is ruim gebruik gemaak van materiaal in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.