Eerste Sondag van Advent (Sondag van Hoop)

Picture of Woord en Fees

Eerste Sondag van Advent (Sondag van Hoop)

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: 1 Tessalonisense 3:9-13
Ander tekste: Jeremia 33:14-16; Psalm 25:1-10; Lukas 21: 25-36

Inleiding

Hierdie Sondag is die eerste Sondag van Advent en   verteenwoordig die tema van Hoop – die eerste van die vier temas van Advent.
Hoop het in Advent ’n sterk eskatologiese karakter en  wys heen na Christus, die Seun van die mens, wat met groot krag en majesteit op ’n wolk sal kom (Luk 21:27).
Christus wat ons help om op die paaie van liefde en trou (Ps 25) te bly sodat ons ook die ewige kan beërwe.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Jeremia 33:14-16

Aansteek van die kerse in die Adventskrans

Verduidelik voor die seremonie aan die gemeente in watter tyd van die kerkjaar daar nou inbeweeg word: naamlik die nuwe jaar. Verduidelik ook die simboliek van die vyf kerse en die krans waarin die kerse geplaas word.

Seëngroet
Genade vir julle, hoop, vrede, vreugde en liefde
van God ons Vader
en van Jesus Christus,
wat gekom het, hier is en weer kom
en van die Heilige Gees.
Gebruik die seëngroet op al vier Sondae in Advent.

Diens van die Woord

Gebed
Jesus, ons Here, die tekens van u wederkoms is sigbaar in die wêreld. Ons sien uit daarna dat U ons kom haal.  Saam met die geloofsgemeenskap van die eeue bid en waak ons in afwagting op u koms soos die verstandige jong dames wat wag vir die Bruidegom. Ons hoop is gerig op U ons Here en Verlosser. Kom nou en leer ons deur u Woord hoe ons die hoop op u koms kan ontvang. Kom Here Jesus, ja, kom gou.

Laat verskillende stemme uit die gemeente vandag se tekste voorlees.

Diens van die tafel

Die nagmaal is ’n feesgeleentheid waarin die vier temas van Advent baie sterk na vore kom. Lig vandag se tema oor ons toekomsverwagting uit. Gebruik ook die formulier om hierdie tema uit te lig.

Skriflesing voor nagmaal bedien word
Psalm 25:1-10

Geloofsbelydenis

Uitsending

Seën
God se hoop is vir jou ’n anker te midde van die hooploosheid van die wêreld.
God se vrede hou oor jou hart en verstand die wag.
God se vreugde dra jou ook deur hartseer tye.
Laat God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef. Amen. Preekstudies en liturgiese voorstelle 2009/2010 bl 5.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 587; Lied 333; Lied 320
Lofliedere: Flam 394 “Ons Koning kom”; Lied 333;  Lied 327; Flam 57 “Oorwinningslied”
Gebed om die opening van die Woord: Lied 255
Geloofsbelydenis: VONKK 54
Slotliedere:Lied 528; Lied 588; Lied 595

Retief Burger se verwerking van Lied 602  “Luidkeels dieper” (snit 13) kan gespeel word tydens offergawes, moontlik ook na die Woordverkondiging.

Preekstudie: 1 Tessalonisense 3:9-13

Teks

Dit maak sin om die perikoop vanaf 2:17 tot 3:13 te lees. Dit sal die prediker baat om met hierdie langer Skrifgedeelte erns te maak en veral die narratiewe lyn wat deur die gedeelte loop, raak te lees. Skrywer volstaan met enkele opmerkings oor die teks waarna skrywer na die narratiewe element terugkom.

Paulus se verwysing in 2:17 dat hulle van die Tessalonisense geskei was, dra die gedagte dat hulle “wees gelaat” is. Volgens Paulus is dit nie die gemeente wat wees gelaat is deur sy afwesigheid nie, maar Paulus en sy medewerkers wat dit so ervaar. Hier voeg Paulus by dat “ons werklik met groot verlange alles in ons vermoë gedoen het” (Direkte Vertaling 2014) om hulle te sien.

In 2:19 en 20 stapel Paulus woorde opeen om uitdrukking te gee aan hoe hoog hy die gemeente ag: ons hoop, blydskap, kroon, roem, eer en blydskap (vgl OAV). Dis duidelik liefdestaal.

In 2:19 en 3:13 verwys Paulus na die wederkoms van die Here Jesus Christus. Hierdie verwysing kom ook in 1:10; 4:15 en 5:23 voor. Behalwe vir 1:10 gebruik Paulus elke keer die Griekse woord parousia. “It means basically ‘presence’ (as in 2 Cor 10 etc), but it came to be used as the technical expression for a royal visit . . .  In the New Testament it becomes the accepted word for the second coming of the Lord” (Morris).

Dat Paulus dit “nie langer kon uithou nie” (3:1 en ook 3:5) en sy besluit om alleen in Atene te bly, beklemtoon die verlange (liefde) wat hy in 2:17 verklaar het. Hy beskryf sy alleen agtergelaat wees asof hy verlaat is.

Hy stuur Timoteus om die gemeente tot voordeel te wees (3:2). Dit word algemeen gesien dat dit vir Paulus ’n moeilike opoffering was om Timoteus te stuur en alleen in Atene agter te bly. Paulus hou dit as ’n demonstrasie van sy liefde vir die gemeente voor. Paulus noem Timoteus “medewerker van God” – wat deur meeste manuskripte en vertalings versag word na “ons medewerker” of “dienaar van God” (vgl ook 1 Kor 3:9).

In 3:3 hoor ons Paulus se bekommernis. Hy is bewus van hulle verdrukkinge (OAV)/vervolginge (NAV)/ beproewinge (Direkte Vertaling 2014). Die woord wat met “verontrus/begin wankel/van koers gebring word”, vertaal word, verwys na ’n hond wat sy stert swaai en Du Preez en Morris verstaan dit as “deur vleiery bedrieg”.

In 3:5 erken Paulus dat as die een wat verlei hulle sou verlei, dit vir hom ’n persoonlike verlies – “ons moeitevolle arbeid tevergeefs” (Direkte Vertaling 2014)  – sou wees.

Vers 6 staan teenoor 2:17 en die ander sinsnedes waar Paulus sy verlange en liefde verwoord het. Die goeie nuus (met woordspeling op evangelieverkondiging) wat Timoteus bring, is van die gemeente se geloof en die versekering dat daar wederliefde en verlange is. Waarskynlik het Paulus die brief geskryf na Timoteus met die goeie nuus teruggekom het.

Vers 7 staan teenoor 3:2b-3a. Soos wat Timoteus gegaan het om die gemeente te versterk en te bemoedig, het hy nou teruggekom en Paulus getroos/bemoedig (dieselfde woord as in 3:2b). Nou lééf Paulus aangesien die gemeente vasstaan in die Here (8).

Terwyl vers 9 uitbundige dankbaarheid en vreugde verwoord, is die verlange steeds daar om self na die gemeente te gaan (10). Moontlik het die goeie nuus Paulus se behoefte om self te gaan juis versterk. Hy smeek dag en nag baie ernstig (Direkte Vertaling 2014) dat God self (ons Vader en ons Here Jesus) die pad na hulle sal oopmaak (NAV).

Vers 12 en 13 verwoord Paulus se gebed vir die gemeente: dat God hulle liefde vir mekaar en vir almal “laat toeneem en oorvloedig maak” (Direkte Vertaling 2014); “sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid” (OAV). Soos in 2:19 sluit Paulus sy gedagtelyn af met ’n verwysing na Jesus Christus se parousie. “Só kom alles wat behandel word in die helder lig van die wederkoms te staan en word alle gelowiges geleer om te leef, te dink, te spreek en te werk onder die alsiende oog van die Here wat kom” (Du Preez). Vir die verstaan van “sy heiliges” kan kommentare geraadpleeg word. Daar is verskil van mening, maar ek dink nie dis ’n belangrike vraag vir die prediking oor die gedeelte nie.

Mens sou natuurlik na die storie agter hierdie brief kon kyk (soos Johan Rossouw in Preekstudies met Liturgiese voorstelle, Advent 2003 tot Koninkrykstyd doen en meeste kommentare in die inleidende hoofstukke), maar dan val die klem veel meer op die gebeure en vrae oor hoe die geskiedenis verloop het. Ek kies om te fokus op die storie wat in die perikoop self opgesluit lê.

As narratief vertel 1 Tessalonisense 2:17 tot 3:13 die storie van die apostel se diep persoonlike verhouding met die gemeente waar hy maar ’n kort tyd kon arbei. Dit kan gelees word as ’n liefdesverhaal waar ’n tussenganger na die geliefdes gestuur word om die verhouding te bevestig en namens die sender op te tree. Goeie nuus word ontvang. Die verhouding is inderdaad bevestig, maar die verlange om mekaar weer te sien, word steeds sterker. Hierdie verlange word voor en teenoor God verwoord. Die liefde vind uitdrukking in voorbidding en die herinnering dat almal saam wag op die koms van die Here. Dis wanneer ons bewus raak van die storie van Paulus se verhouding met die gemeente en met God dat ons eie stories in die lig van hierdie storie ter sprake kom.

Konteks

In Handelinge 17:1-10 vertel Lukas van die eerste kort bedieningstyd wat Paulus in Tessalonika gehad het. Afgunstige Jode organiseer ’n betoging teen Paulus en Silas. Wanneer hulle Paulus en Silas nie kry nie, sleep hulle vir Jason voor die stadsbestuur. In vers 9 lees ons: “nadat hulle van Jason en die ander gelowiges die nodige waarborg gekry het, is hulle losgelaat.” Waarskynlik het Jason (met goeie bedoeling?) belowe om toe te sien dat Paulus en Silas in vrede sal vertrek en nie weer by hom tuisgaan nie. Dit mag een van die redes wees waarom Paulus eerder vir Timoteus stuur as om self die gemeente te besoek – hy is deur Jason se onderneming verhinder en wou nie Jason se belofte ondermyn nie.

Dat Paulus aanvanklik die wederkoms van Christus spoedig verwag het en dat hierdie verwagting sy werk met dringendheid gekleur het, is maklik om uit
1 Tessalonisense – een van Paulus se vroegste briewe –  aan te toon. Paulus is pastoraal besorg oor die jong gemeente wat hy so voortydig moes verlaat. In Kolossense sou Paulus sy doel verwoord as “sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring” (1:28). In 1 Tessalonisense is Paulus intens bewus dat die tyd hiervoor dalk baie kort is. Paulus se verwagting van en hoop op die wederkoms het hom gemotiveer (gedring) om intens betrokke te wees by die gemeente se heil.

Myers waarsku daarteen dat die nabye wederkoms verwagting die enigste sleutel word waarmee ons Paulus se persoonlike betrokkenheid by die gemeente verstaan. “What if Paul writes with such urgency because he deeply loves his congregation?” Stott verstaan die intense emosies wat Paulus in hierdie gedeelte verwoord as die taal van ’n ouer wat van sy/haar kind geskei is en som dit op a: “Pastoral love is parental love, that is its quality.”

Paulus se persoonlike betrokkenheid by die gemeente kan nie losgemaak word van sy verstaan van God se plan vir die gemeente (sy teologie) nie. “Paul thinks of faith as life in community, life in relationships. So he finds it hard to separate people’s response to God from people’s response to himself” (William Loader). Die narratief van die Skrifgedeelte demonstreer dat Paulus Christus se liefde vir sy gemeente beliggaam het. In verbondenheid met Christus het ’n nuwe gemeenskap tot stand gekom en hier is elkeen se heil (standvastige geloof, oorvloedige liefde, geloof wat niks ontbreek nie, innerlik sterkte en onberispelikheid voor God) vir Paulus belangrik omdat hy glo dit vir God belangrik is.

Dat Paulus so persoonlik betrokke was by die gemeente, staan in kontras met hedendaagse pastorale modelle waar dikwels gewaarsku word om afstand te behou en so teen uitbranding te waak. “His all-in, hold-nothing-back love (2:8) for this nascent community undergoing intense suffering and conflict (1:5; 2:14) is a recipe for pastoral disaster” (Jaco Myers). Myers kom later terug en pleit vir meer passie, liefde en intensiteit in gemeentebediening. Wanneer ons die lyn trek na verhoudinge in die algemeen, is daar baie by Paulus te leer. Wat opval, is dat Paulus se betrokkenheid ’n positiewe oorwig het. Al is Paulus besorg en al is hy realisties dat die gemeente verlei mag word en dat hulle geloof “ontbreek” (10), beklemtoon hy deurentyd sy positiewe verwagtinge en verheug hy hom oor Timoteus se bevestiging hiervan.

Dis die eerste Sondag in Adventstyd! Die eerste Sondag van die nuwe kerkjaar. Dit druis nogal in teen die gees van afsluitings en klaarmaak en regmaak vir vakansie. Advent 1 is Sondag van hoop met die anker as simbool. Die Sondag wil ons help om na God te roep te midde van ons omstandighede en om waaksaam te bly in afwagting op die wederkoms. Met ander woorde: hoopvolle verwagting van die verskyning van God te midde van menslike nood. Adventstyd behoort ’n vreugdevolle tyd te wees waarin met verwagting op die Koning van die koninkryk gewag word.

Dinsdag is dit Wêreldvigsdag. Ja, na meer as 30 jaar is dit steeds nodig om aan MIV en vigs aandag te gee! Ter wille van spasie skryf ek nie hier breedvoerig daaroor nie, maar beveel sterk aan dat die prediker betyds inligting hieroor sal kry. CABSA plaas jaarliks in November inligting oor MIV en vigs met riglyne vir predikers op die webblad www.cabsa.org.za. Maak asseblief hiervan gebruik.

Van die vroegste jare van die epidemie het vigsverwante stigma ’n donker skaduwee gegooi. Daar is nog steeds stigma. Stigma staan direk teenoor gesonde verhoudinge van opregte belangstelling in mekaar. Daarom behoort dit nie moeilik te wees om die fokusteks ook binne die konteks van MIV en vigs toe te pas nie. Dis hopelik nie meer nodig om te pleit vir sensitiewe woordkeuse nie. Vermy asseblief woorde soos “besmet” en ’n beklemtoning van “hulle” (om nie eers te praat van “hulle, sondaars” of “hulle, ongelowiges” nie). Dit is stigmatiserende taalgebruik.

Dis verder ook belangrik om die Seisoen van Menswaardigheid te onthou as konteks waarbinne die erediens plaasvind.

Ander Tekste vir hierdie Sondag:
Psalm 25 kan op verskeie maniere in die erediens benut word.

Jeremia 33:14-16 beloof ’n nuwe Dawidskoning wat reg en geregtigheid sal beoefen. Dit gaan oor reg en geregtigheid (justice) soos wat God dit verstaan en verwag. Dit sluit medemenslikheid in en lei tot ’n samelewing waar vrede (shalom) heers (vgl vers 16). Die Skrifgedeelte kan vir verootmoediging benut word.

Lukas 21:25-36 handel oor die koms van die Seun van die mens en die reaksies van mense hierop. Die reaksie wat Jesus verwag, is een van waaksaamheid en gereedheid vir hierdie koms. Dit kry gestalte in ’n doelgerigte lewe, wat teenoor ’n hier-gerigte lewe staan. Anders gestel: ’n hoopvolle lewe wat hoop bedien aan mense wat daarna smag. Seleksies van die Skrifgedeelte kan vir verootmoediging benut word.

Preekvoorstel

Meeste preke wat ek kon vind, fokus op Paulus se gebed as ’n voorbeeld vir ons. Vers 9 tot 13 bied baie oor gebed.

My voorstel is om aan te sluit by die lyn van die verhouding tussen Paulus en die gemeente wat deur die groter perikoop loop. Anders gestel, Paulus se beskrywing van sy liefde vir en betrokkenheid by die gemeente in Tessalonika. Die vraag waarmee ek werk is: hoe help dit wat ons leer oor Paulus se verhouding met die gemeente ons om na te dink oor Adventstyd en Kersfees asook Wêreldvigsdag en menseregte?

Inleidend kan daarna verwys word dat Kersfees vir baie mense by uitstek ’n geleentheid is om familie op te soek. Die verskynsel van familiesaamtrekke en familiefeeste rondom Kersfees het selfs al kritiek vanuit kerklike oorde uitgelok. ’n Oordrewe klem op die viering van Kersfees as ’n familiefees kan ons laat vergeet dat dit eintlik om Christus gaan, word gewaarsku. Maar staan onderlinge verhoudinge noodwendig teenoor die regte viering van Kersfees?

Teen hierdie agtergrond kan na die liefdesverhouding tussen Paulus en die gemeente in 1 Tessalonisense 2:17-3:13 gekyk word. Paulus het self baie klem gelê op sy verhouding met sy “broers en susters” in die gemeente van Tessalonika. Dalk is daar wel plek vir ons familieverhoudinge met Kersfees?

Hierna kan teruggekeer word na vandag as die eerste Sondag van Advent. Die Skrifgedeelte kan weer voorgehou word, maar dié keer word Paulus se verwagting op die nabye wederkoms uitgelig. Dieselfde gedeelte (of brief) wat vertel hoe intens Paulus na die jong gemeente in Tessalonika verlang het, vertel ook dat hy bewustelik geleef het in die verwagting dat Christus binnekort weer kan terugkom. Paulus verwys in die brief vyf keer na Christus se wederkoms en vier keer verwys hy daarna as die parousia van Christus. Parousia kan verwys na die aankoms van die koning of sy gesant. Paulus gebruik die woord om te verwys na die terugkeer van Christus die Here.

Advent herinner ons aan die parousia van Christus. Christus sal terugkeer as die Here. Advent herinner ons ook dat ons vandag en elke dag in sy teenwoordigheid leef. Christus die Here is teenwoordig.

Die Christelike lewe in Christus se teenwoordigheid is ’n verhoudingslewe en die verwagting op sy terugkeer is ’n gedeelde hoop.

Dit wil voorkom of Paulus se sterk verwagting dat Christus spoedig terugkom juis sy verhouding met die gemeente meer intens en persoonlik gemaak het. Paulus wil toesien dat hulle saam met hom gereed sal wees om Christus te ontmoet. In kort: Paulus is lief vir die gemeente en die lig van Christus se parousia laat hierdie liefde nog helderder brand. So gesien, kan daar inderdaad ’n gesonde verband tussen ons viering van Advent en Kersfees en ons hereniging met familie en vriende wees.

Vanuit die noue verband tussen ons lewe in afwagting op Christus se koms (en in sy teenwoordigheid) en ons lewe in verhoudinge, kan kortliks na die seisoen van menswaardigheid verwys word.

Een van die wyses waarop mense se waardigheid bedreig word, is wanneer ons mense as objekte begin sien. Dit gebeur onder andere wanneer ons mense se verhoudinge misken. Wanneer ons met mense omgaan asof die gesinsbande, familiebande en sosiale bande waarin hulle leef van mindere belang is. Uit wat ons van Paulus se liefde vir die gemeente geleer het, is dit duidelik dat ons in Adventstyd gerus ’n gesonde klem op ons verhoudings kan plaas. Om iemand na waarde te ag, is om jou verhouding met daardie persoon te koester.

Let op hoe Paulus hierdie gemeente na waarde geag het. Dit blyk uit sy opregte, eerlike, openlike, toeganklike en hartlike verhoudinge met hulle. Paulus se liefde vir die gemeente demonstreer sy agting van hulle. Sy verhouding met die gemeente is ’n les in die handhawing van menswaardigheid.

Maak seker dat daar genoeg tyd is om ten slotte ook Wêreldvigsdag ter sprake te bring. Dieselfde beginsels hierbo oor menswaardigheid genoem, geld vir hoe ons oor Wêreldvigsdag kan dink. Wêreldvigsdag is ’n oproep om die menswaardigheid van mense wat met MIV leef, te ag. Dis ’n oproep om die menswaardigheid van mense wat kwesbaar is vir MIV infeksie te onthou – want ook ons elkeen is kwesbaar. Wêreldvigsdag is ’n oproep om tog nie mense wat met MIV leef van hulle/ons verhoudinge te beroof nie. Inteendeel, dis ’n herinnering dat hulle/ons juis verhoudinge nodig het. Verhoudinge van omgee en belangstel. Verhoudinge van onvoorwaardelike aanvaarding. Verhoudinge wat op die positiewe van die lewe kan fokus.

Paulus se liefde vir die gemeente in Tessalonika was nie net vir ‘n klompie uitsoek Christene nie. Paulus se liefde vir die gemeente was inklusief. Juis daarom bid hy ernstig dat ook hulle liefde sal toeneem “vir mekaar en vir alle mense”.

Bibliografie  

J. Hampton Keathley III, 1 Thessalonians: An Exegetical and Devotional Commentary; Published July 2nd 2004, https://bible.org/seriespage/6-concern-expressed-1-thess-31-13.; Morris, Leon 1983. 1 and 2 Thessalonians, Tyndale New Testament Commentaries; Bolkenstein, M H 1980. De Brieven aan de Tessalonicenzen, De prediking van het Nieuwe Testament; Du Preez, Dr J  1981. Die Briewe aan die Tessalonisense, NG Kerk-Uitgewers; Commentary on 1 Thessalonians 3:9-13, Working Preacher, December 02, 2012, Jacob Myers. http://www.workingpreacher.org/preaching.aspx?commentary_id=1502.; First Thoughts on Year C Epistle Passages from the Lectionary, Advent 1, William Loader, 1 Thessalonians 3:9-13,n http://wwwstaff.murdoch.edu.au/~loader/CEpAdvent1.htm.; I & II Thessalonians, The New Testament Commentary, William Hendriksen, London, 1972; Preekstudie – 1 Tessalonisense 3:9-13, Johan Rossouw. In Preekstudies met Liturgiese voorstelle, Advent 2003 tot Koninkrykstyd 2004; Stott, John R W 1991. The Message of Thessalonians, The Bible Speaks Today.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.