Eerste Sondag van Advent – Hoop

Sections

Oorsig

Die feit dat ʼn Verlosser in die wêreld gebore is en dat Hy weer kom, bring hoop en verwagting op  ʼn nuwe wêreld waar die koninkryk van God gevestig sal wees.

Ons bid en sug dat die dag kom waarop God se koninkryk van vrede deurbreek! Dan sal daar vrede en voorspoed op aarde wees en die lig van God om in te lewe. Dié liturgie verwoord iets van ons wat tussentyd-mense is. Ons sien uit na die nuwe ryk en terwyl ons sug dat dit spoedig kom, maak ons gereed vir die koms daarvan.

Ander tekste

Jesaja 2:1-5; Psalm 122; Romeine 13:11-14

Fokusteks

Matteus 24:36-44
Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms

(Mark 13:32–37; Luk 17:26–30; 34–36)
36 “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37 Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38 In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39 Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40 Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41 Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42 Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

43 “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44 Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Bewustelik besig, waaksaam wagtend.

Rus

Gebruik die bekende Adventkrans met vyf kerse: drie donkerblou kerse en een rooskleurige kers en ’n langer wit kers wat Jesus simboliseer (op Kersdag aangesteek). Die rooskleurige kers word op derde Advent aangesteek. Jy kan ook ‘n Isai-stomp (Jes 11:1) gebruik om die stamboom van Jesus te simboliseer. Onthou: Wag en waak is baie bekende temas in Advent.

Wêreld Vigsdag:  
Gaan kyk by CABSA se webwerf vir spesifieke riglyne vir vandag se erediens.  Lees veral die gedeelte oor “Sensitiewe en korrekte taal” in die dokument “CABSA Communitas Riglyne vir WAD 2010.pdf”.

Vanjaar se tema is “Act Aware”.  Kry meer inligting en hulpmiddels by www.worldaidsday.org (Brittanje) en www.unaidstoday.org (wêreldwyd).

Videos wat jy kan gebruik vir Wêreld Vigsdag:
(Gebruik enige van die gratis FLV Converter programme om die video’s af te laai)

  • No Child Born With HIV” (jy kan veral die eerste deel van die video gebruik – dit pas baie goed by die beeld van die preek).  Kyk ook na die ander video’s op TheONECampaign se bladsy, “Bono’s Special Message” – ‘n spesiale opname van U2 se “Moment’s of Surrender”.
  • Universal Acces

(PowerPoint prent van www.worldaidsday.org)

Aanvangswoord
Vandag is die begin van die nuwe Kerkjaar – die eerste Sondag van Advent.  Ons tel die dae af na Kersfees, terwyl ons uitsien na die koms van die Koning.

Die kers wat ons vandag aansteek, simboliseer hoop.  Aangesien Woensdag Internasionale Vigsdag is, bevestig ons spesifiek ons hoop te midde van die M.I.V. & Vigs pandemie.

  • Vigs is vir die eerste keer op 1 Desember 1981 gediagnoseer.  Sedertdien is 60 miljoen mense geïnfekteer en het 25 miljoen mense gesterf aan M.I.V. – verwante siektes.
  • In 2008 was daar ongeveer 2.7 miljoen nuwe mense geïnfekteer.
  • 67% van alle mense wat met M.I.V. leef, woon in Sub-Sahara Afrika
  • Meer as 14 miljoen kinders is in Sub-Sahara Afrika wees gelaat a.g.v. die pandemie.

Gebed
Bid vir

  • almal wat leef met die M.I. Virus.
  • almal wat geaffekteer word deur die virus:  geliefdes van mense wat leef met die virus, weeskinders ens.
  • al die navorsers, mense wat soek na ‘n geneesmiddel.
  • almal wat betrokke is by hulpprojekte en vir alle plekke waar daar ‘n behoefte is aan sulke projekte maar dit nog nie bestaan nie.

Aansteek van die kers
Iemand steek die kers aan terwyl die gemeente Flam 70 of Vonkk 90 sing:

F70.  “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid)
Teks en Musiek:  Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop

Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Skyn in die donker met liefde wat verlos
Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons

Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang
U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur
Seën ons met volheid vul ons met U vuur

Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag

Vader salf ons oë raak ons met deernis aan
Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop

Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

VONKK 90 “Maranata!” 
Nav I Korintiërs 16:22b
Teks: Jannie Hougaard 2004 ©
Melodie: MARANATA – Jannie Hougaard 2004 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Maranata!
Maranata!
Maranata!
Kom, Heer, kom weer!

(Alternatiewe teks;)
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer, kom weer!

Liedere

F142. “Kom,  Jesus, kom!”  
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Gebed,  Hoop en voleinding)
Teks en Musiek: Retief Burger
© 2005 Urial Publishing
(Op 19:6-9;  Op 22:16-21; 2 Kor 5:6-9)

Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
Ek sal sing, ek sal sing
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer

Refrein:
Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mens wat voor u staan
Kom, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou!  Kom!

Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
Ek sal sing, ek sal sing
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
Ek sal sing, Ek sal sing

Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer
Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Vertel die storie van Max Lucado se “Net soos jy is” (Engels “Just the way you are”,  voorheen bekend as “Children of the King”).  Jy kan die Engelse weergawe bestel by www.loot.co.za

‘n Paar weeskinders hoor dat ‘n koning hulle gaan aanneem.  Hulle is baie opgewonde, maar weet nie wat om te doen nie!  Die mense verduidelik dat hulle geskenke moet voorberei om hom te beïndruk wanneer hy arriveer.  So elkeen spring weg en begin koorsagtig werk aan hul eie geskenk.

Een dogtertjie kan egter nie dink wat haar gawe/geskenk is nie.  Sy is baie hartseer, want sy voel dat sy niks het om te gee nie.

Wanneer die koning arriveer, kom hy daar aan in gewone klere – niemand weet hy is die koning nie!  Die dogtertjie wat dink sy het niks om te gee nie, ontvang hom vriendelik en versorg sy donkie.

Wanneer hy die ander kinders gaan haal, is hulle so besig om voor te berei vir sy koms, dat hulle hom ignoreer!  Hy keer terug na die dogtertjie en vertel vir haar dat haar geskenk die beste van almal was.

Preekriglyn

Wanneer ’n ongebore baba op pad is, maak die ouers baie seker dat hulle voorbereid is.  Ouers woon voor-geboorte klasse by.  Hulle pas hulle lewensstyl aan om die baba se ontwikkeling te bevorder, ma is versigtig wat sy eet, hou haarself rustig, slaap genoeg, en stel haarself in op die versorging van die ongebore lewe wat sy in haarself dra.  Pa gee al die ondersteuning en begrip wat nodig is.

Daar word ook inkopies gedoen.  ’n Stootkarretjie, bababedjie, kleertjies, doeke, ’n lang lys benodigdhede.  ’n Kamer word vir die baba ingerig en versier.  Ouers geniet elke oomblik hiervan, daar is afwagting in die lug, nuwe lewe is op pad.

Wanneer die tyd van die geboorte nader begin kom, dikwels weke voor die tyd, word ’n tassie gepak en gereedgehou.  Dit is ma se hospitaaltassie.  Alles wat sy nodig gaan hê vir die hospitaal is daarin.  Mens kan nooit weet wanneer die kleinding gaan opdaag nie, daarom moet jy reg wees.

Lewe uit die toekoms

’n Verwagtende ouerpaar oriënteer hulleself aan die toekoms.  Jesus roep ons op om dieselfde te doen.  Christene leef in die verwagting van Jesus se tweede koms.  Daar is ’n geboorte op pad, die geboorte van die nuwe wêreld wanneer Jesus weer kom.

Die Griekse woord wat in ons teks vir die “koms” van die Seun van die Mens gebruik word, parousia, beteken “teenwoordigheid” of “verskyning”.  Dié woord is in die Grieks-Hellenistiese wêreld gebruik om die onverwagse koms van die regeerder aan te kondig.  Tussen hakies, daar is etlike ander verwysings in die Nuwe Testament na hierdie onverwagte koms van Jesus, vier daarvan is in Matteus 24.  Parousia is altyd ’n verwysing na sy koms aan die “einde van die dae”, te wete die finale aanbreek van die koninkryk van God.  Jesus is op pad terug na sy wêreld, om die volle heerlikheid van God se koninkryk te laat aanbreek.

Ons verwagting van Jesus se koms, laat ons dag vir dag anders lewe.  Ons teks noem hierdie anderse manier van lewe waaksaamheid.

Advent, die tyd van Jesus se verskyning

Dit is tans Adventstyd, daardie tyd van die jaar waarin ons herinner word aan Jesus se eerste koms na die aarde.  Tóé het mense Hom nie herken nie, anders was al wat ’n herberg was oopgegooi vir die koms van die Koning.  Daarom roep Jesus ons in hierdie teks op om waaksaam te wees, gereed om Hom te herken by sy verskyning.

Lewe uit die verlede?

Westerse Christene is gewoond daaraan om uit die verlede te lewe.  Goeie Christene is getrou aan die verlede, meen ons.  Ons rig ons gedagtes op Jesus se lewe op aarde, ons verkondig die kruis, ons vier die nagmaal om ons aan Jesus se sterwe te herinner.  Ons lees die Bybel en vra onsself af :  WWJD (What would Jesus do?). Die WWJD-antwoord het alles te doen – tereg – met WHJG (Wat hét Jesus gedoen?).

Wanneer ons oor die kerk en gemeente praat, wil ons getrou wees aan die stigtingsoomblikke van die kerk.  Ons wil getrou wees aan die historiese feite van die lewe van die Stigter van die kerk.  Ons lees die Nuwe Testament daarom om uit dié terugblik vas te stel hoe die kerk moet lewe.

Die gerigtheid op die verlede kom vir ons natuurlik.  Dit is – natuurlik – ’n belangrike perspektief, en ons moenie dit prysgee nie.  As meer mense hierdie vraag elke dag vra, sal dit met almal baie beter gaan.  ’n Oriëntasie aan Jesus se verlede help ons om reg te leef in ons verhouding tot God.  Maar dit is nie genoeg nie.

In ons teks het Jesus iets anders in die oog.  Ons word opgeroep om getrou aan die toekoms te leef.

Mense wat nie die toekoms bedink nie, en nie uit die toekoms leef nie, sê Jesus, loop die gevaar om nie te weet wat werklik aangaan nie (vers 39).  Hulle is nie waaksaam nie.

Mense wat realisties wil wees, en al die feite op die tafel wil kry, moet die toekoms bedink.   Anders oorval die geboorte van God se nuwe wêreld jou onverwags, en is jy nie gereed daarvoor nie.

Die tyd van Noag as voorbeeld

Só was dit in die tyd van Noag.  Noag het God se woord gehoor oor die groot vloed wat aan die kom was.  Noag het op God se woord gereageer en die ark gebou.   Noag was voorbereid.

Die mense van Noag se tyd het hulle nie aan die toekoms gesteur nie.  Hulle het gewoonweg aangegaan met hulle lewens.  Niemand het vooraf ’n tassie gepak nie.  Mens het gewoonweg geëet, gedrink en getrou.  “Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die toekoms (die sondvloed) gekom en hulle almal weggesleur het nie” (vers 39).

Die toekoms het die mense van Noag se tyd oorval en skeiding gebring.  Die wat nie ’n oog op die tekens van die tye gehou het nie, is weggespoel.  Die wat saam met Noag waaksaam was, is van die water gered.

Net so, sê Jesus, sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word.  Twee vroue sal koring maal, die een wie se tassie spreekwoordelik gepak was sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word (verse 40-41).

Frankryk is in die Tweede Wêreldoorlog onverwags oorval deur die Duitse inval.  Toe mense na die tyd daaroor nadink, het hulle besef daar was tog tekens voor die inval.  Vreemdelinge, wat eintlik spioene was, is bv. vooraf op verskeie plekke in Frankryk opgemerk.  Mense het nie die geweet wat om van hierdie tekens te maak nie.  Die tekens het duidelik op ’n Duitse inval gedui, as die mense die tekens maar net reg kon lees.

“Bly dus waaksaam,” sê Jesus (vers 42)

Wat ondermyn waaksaamheid?

Eerstens ondermyn baie van ons gangbare kulturele patrone ons waaksaamheid.  Ons is natuurlikerwys aan die verlede georiënteer.   Ons dink aan waar ons vandaan kom, ons roep die verlede in herinnering.  Selfs jongmense doen dit.  “Sal De la Rey die boere kom lei?”

Daar is ’n tragiese nostalgie wanneer ons dink aan die verlede.  Sommige mense emigreer omdat hulle van ’n veiliger verlede beroof is.  Hulle hou nie van die hede nie, en die toekoms is ’n absolute bedreiging.  Nog ander verklaar al die probleme van die hede bloot uit die onreg van die verlede uit.  Ongeveer alle groeperinge in Suid-Afrika doen dit.  Voorbeelde: die onreg van apartheid is die oorsaak van vuil water op Vaalwater.  En: as die Afrikanervolk net sal onthou wie ons – in die lig van ons verlede – eintlik is, sal alles regkom.  As ons Die Antwoord soek, kan ons net vloek oor die verlede, want ons is die slagoffers daarvan.  Die verlede is die vyand waarteen ons moet weg.

Op hierdie manier hou die verlede ons gevange.  Dit sluit ons oë vir die verassende, onverwagse ingrype van God om vir ons redding en verlossing te skenk.  Ons bly nie meer met hoopvolle oë soek na God se verskyning nie.  Ons verloor ons bewussyn dat God werk in die geskiedenis en dat ons altyd meer van God kan verwag as wat ons op die oomblik kan raaksien.  Ons waaksaamheid bly in die slag.

Tweedens, sê Jesus, is die sleur van die gewone, daaglikse lewe ’n dodelike gif vir waaksaamheid.  In die tyd van Noag het mense “gewoonweg” aangegaan met hulle lewe.  Twee mense werk soos gewoonlik op die land, twee vroue doen hulle alledaagse taak, om koring te maal.  Dan word hulle oorval.

Die sleur van die alledaagse.  Dit neem soveel energie net om daaglikse te oorleef, dat mens nie maklik verder kyk nie.  Die spoed van die daaglikse lewe neem oor.  Die roetine van elke dag is vir baie mense soos ’n lekker, bekende winterbaadjie.  Jy dra die baadjie lank nadat dit verslete begin raak het.  Die rede is die bekendheid daarvan.  Jy voel tuis in die kledingstuk, jy hou van die gevoel van die materiaal rondom jou lyf.  Waar gaan jy weer so ’n lekker baadjie kry?  Dit gaan te veel energie neem.

Derdens is baie mense vasgevang in die genot van die hede.  Ons is gelukkig in die hede.  Ons het nie ’n toekoms nodig nie.  Wat ons van die lewe verwag, kan ons bereik met ’n bietjie meer moeite, ’n bietjie meer geld, ’n bietjie meer probeer.  Daar is nie nut vir die toekoms, vir die geboorte van God se nuwe tyd, nie.

Waaksaamheid as toekomsgerigte lewe

Waaksaamheid hou ons oë gevestig op Jesus, die Een wat op pad is om meer te doen, om ons verlossing volkome te maak.

Wat presies is waaksaamheid?

Ons teksgedeelte kom uit Jesus se profetiese rede.  Dit is die vyfde groot toespraak van Jesus wat Matteus in sy evangelie opteken.  Regdeur sy profetiese rede roep Jesus ons op om waaksaam te wees.  Hy vertel ’n aantal gelykenisse om waaksaamheid te onderstreep.  ’n Paar voorbeelde:

• Twee werkers werk saam, maal saam, en een bly agter; ’n huisbaas is nie waaksaam nie en daar word by sy huis ingebreek (24:36-44)
• Die voorbeeld van die getroue en ontroue slaaf (24:45-51);
• Die gelykenis van die tien meisies, die vyf waaksame meisies het olie vir hulle lampe gehad, die ander vyf nie (25:1-13).
• Die gelykenis van die muntstukke. Sommige slawe woeker waaksaam, en ander nie (25:14-30).

Hierdie gelykenisse beklemtoon waaksaamheid, sonder om inhoud daaraan te gee.

Totdat ons by die laaste gelykenis in Jesus se profetiese rede kom.  In Matteus 25:31-46 word van die laaste oordeel vertel waar die Seun van die Mens die skape van die bokke skei.  Hy prys diegene aan sy regterhand.  Hulle het Hom herken toe Hy in die gestalte van iemand wat honger is, dors is, ’n vreemdeling was, siek of in die tronk, aan hulle verskyn het, en hulle Hom herken het, en iets aan die nood gedoen het.  “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers of susters van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (25:40).

Daar is dissipels wat Jesus herken by sy parousia, by sy verskyning.  Hulle is bedag daarop dat Jesus gaan verskyn.  Hy gaan aan die einde kom, en sy heerlikheid en sy verlossing gaan ten volle vir ons deurbreek.  Omdat ons ons gedagtes op Jesus rig, en sy koms verwag, herken ons Hom ook in sy duisende klein verskynings agter die masker van ’n noodlydende medemens

Die punt is: mense wat net op die verlede gerig is, of wat in die hede vasgevang is deur die sleur van die daaglikse lewe, mis die verrassing van God se werk en Jesus se verskyning onder ons.

Ons het kragte in ons lewens as dissipels nodig om ons oë oop te hou vir die skielike, die onverwagse, die verrassende van God se werke.  Anders gaan dit bloot by ons verby.

Waaksaamheid verskaf hierdie kragte.  Waaksaam-leef, bewustelik besig-wees, is om met verwagting te leef.  Om met die verwagting te leef dat jy Jesus sal sien.  By sy heerlike verskyning aan die einde van die tye, maar ook by sy veelvoudige verskynings in die lewe van elke dag.

Waaksaam leef is om te onthou dat alles nie verlore is nie.  Jesus is op pad.  Hy is op pad om weer te kom aan die einde.  Maar intussen kom hy op duisende maniere.

Wie waaksaam leef, kan reageer op Jesus se koms.  Kan Hom herken en die toepaslike ding doen.  Soos om ’n glas water aan te gee, ’n hemp of ’n broek te deel, ’n besoek aan die tronk te bring, ’n vreemdeling te beskerm.

Advent as tyd van waaksaamheid

Dis eersdaags Kersfees.  Kersfees roep Jesus se eerste verskyning in herinnering.  Mag dit ons waaksaam maak, gereed vir sy verskynings elke dag, en aan die einde.
Jesus verskyn vandag aan ons:
• In die aangesig van mense wat aan MIV/Vigs ly.
• In die gestalte van die vreemdeling in ons land wat die volgende slagoffer van xenofobie mag wees;
• As ’n straatkind wat met ouers en gesin herenig moet word, of ’n nuwe tuiste en ontwikkelingsgeleenthede moet vind;
• As ’n huweliksmaat wat ’n slag weer woorde van waardering en onderskraging moet hoor;
• As ’n bejaarde ouer wat nou self versorging en begrip nodig het.
Sal ons gereed wees vir Jesus se verskyning?  Staan die figuurlike tassie gepak, gereed by die deur, reg sodat ons nie onvoorbereid verras word nie?

God stuur ons om te leef

Kyk na die gebed en toewyding aan die einde van die dokument “CABSA Communitas Riglyne vir WAD 2010.pdf” by http://www.cabsa.org.za/content/world-aids-day-2010

F35. Jesus Kom Weer
(RUBRIEK:  Flammikidz – Wederkoms / Hoop en Voleinding)
Teks en Musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Jesus is ons Koning, Heer,
en ons weet Hy sal t’rugkeer.
Soos hul Hom sien opvaar het,
sal Hy kom om ons te red.

Refrein:
Ja, Jesus kom weer!
Ja, Jesus kom weer!
Ek en jy behoort aan Hom.
Ons glo dat Hy weer sal kom.

Jesus is ons Koning, Heer.
Ek en jy behoort aan Hom.
Soos hul Hom sien opvaar het,
glo ons dat Hy weer sal kom.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.