Eerste Sondag van Advent

Sections

Oorsig

By die eerste Sondag van Advent val die klem op hoop. Die hoopgerigtheid van hierdie Sondag blyk veral vanjaar besonder kosbaar te wees in die lig van die feit dat Wêreldvigsdag ook op die Sondag herdenk word. Wêreldvigsdag is ’n poging om internasionale bewustheid en solidariteit te bevorder vir mense, gesinne en gemeenskappe wat met MIV en vigs leef.

Die tekste vir hierdie Sondag verwoord iets van die hoop en verwagting vir ’n nuwe tyd om aan te breek. ’n Tyd waarin God reg sal laat geskied, ’n tyd van vrede en ’n era van lig. Gelowiges word opgeroep om medewerkers van God te word in die vestiging van hierdie nuwe tyd. Hierdie oproep blyk veral besonder relevant te wees in die lig van die dikwels pynlike realiteite van mense wat leef met MIV en vigs

Ander tekste

Psalm 122
Bid dat Jerusalem vrede mag hê
122 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Ek was bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan
na die huis van die Here toe.”
2En nou is ons hier binne-in jou,
Jerusalem!
3Jerusalem is die stad
wat stewig gebou is,
4waarheen die stamme kom,
die stamme van die Here.
Dit is ’n voorskrif vir Israel
om die Naam van die Here
hier te loof.
5Hier word reg gespreek,
hier lewer die koning sy uitsprake,
die koning uit die geslag van Dawid.
6Bid dat Jerusalem vrede mag hê,
dat hulle wat hom liefhet,
rustig mag woon.
7Mag daar vrede wees binne jou mure,
rus in jou wonings.
8Ter wille van my broers en my vriende
wens ek jou vrede toe.
9Ter wille van die huis van die Here
ons God
bid ek dat dit met jou goed sal gaan.

Romeine 13:11-14
Romeine 13:11-14 ()
11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

Matteus 24:36-44
Matteus 24:36-44 ()
Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms
(Mark 13:32–37; Luk 17:26–30; 34–36)
36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Fokusteks

Jesaja 2:1-5
Uit Sion kom die openbaring
2 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem.
2Daar kom ’n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
’n blywende plek sal hê
bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Al die nasies sal daarheen stroom,
3baie volke sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek
na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer,
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”
4Hy sal oordeel tussen die nasies,
regspreek oor baie volke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard
teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie.
5Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig
wat van die Here af kom.

Ekstra stof

Jesaja as boek
Die meeste leraars is bekend met die indeling van Jesaja in drie dele: Proto-Jesaja, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja. Dit is gebaseer op die teorie van Bernard Duhm uit die laat 19de eeu n C wat deel een met die profeet Jesaja uit die 8ste eeu v C geassosieer het, deel twee met ‘n anonieme profeet tydens die ballingskap in Babilon in die vroeë 6de eeu v C, en deel drie met nog ‘n anonieme profeet na die terugkeer uit ballingskap na Jerusalem toe in die laat 6de eeu v C. Die inhoud van die drie dele is dus verbind met die drie tydperke waaroor dit hoofsaaklik gehandel het, die Assiriese, Babiloniese en Persiese koninkryke.

Daar het egter in die laaste aantal jare ‘n belangrike verandering in die denke hieroor plaas gevind. Die klem het van Jesaja as profeet geskuif na Jesaja as boek, onder andere omdat toenemend besef is dat die inligting oor die sogenaamde “3 profete” te skraps was om as basis vir die eksegese te dien. Daarby het navolgers van Duhm se teorie die eksegese van die boek begin hanteer asof die onderskeie dele van die boek Jesaja niks met mekaar te doene gehad het nie. Hierbenewens het ander navorsers bevind dat dele van die sogenaamde Proto-Jesaja teks eintlik nie aan die profeet Jesaja self toegeskryf kan word nie, maar eerder aan redaksionele aanpassings in ‘n later tyd, wat die teorie van ‘n 3-profeet boek wankelrig gemaak het.

Baie navorsers het dus begin om Duhm se teorie op te skort en die boek eerder as ‘n literêre eenheid te lees en teologies te interpreteer. Dit beteken nie dat hulle daarmee noodwendig terugkeer na die tradisionele standpunt dat Jesaja die profeet ook die outeur van die hele boek Jesaja is nie. Maar dit beteken wel dat hulle die eenheid van die boek – waaraan verskeie mense waarskynlik eeue lank gewerk het – ernstig neem.

Jesaja die profeet
Jesaja se naam beteken: “die Here bewerk redding”. Hy word die seun van Amos genoem, waarskynlik om hom te onderskei van ander persone met dieselfde naam (vgl 1 Kron 3:21; 25:3,15). In teenstelling met die vroeëre profeet Amos (sy naam word anders gespel as Jesaja se pa s’n) wat ‘n boer was, was Jesaja ’n stedeling. Hy woon en werk as profeet in Jerusalem (vgl. Jes 7:3; 22:15; 37:2; 38:1; 39:3). Behalwe dat hy getroud was (Jes 8:3) en ten minste drie kinders gehad het (Jes 7:3,14; 8:3,18), is daar baie min verder oor hom bekend.

Jesaja se profetiese bediening strek oor ’n tyd van meer as vyftig jaar. Hy is as profeet geroep in die sterfjaar van koning Ussia (Jes 6:1), ongeveer 740 v C. Toe die Assiriese koning Sanherib in 701 v C die land binneval en Jerusalem beleër, was Jesaja nog steeds op sy pos (Jes 37:5). Ons weet nie hoe lank hierna hy nog opgetree het nie. Daar is ‘n Joodse tradisie dat hy in die tyd van koning Manasse (696–642 v C) ‘n marteldood gesterf het en middeldeur gesaag is (vgl Hebr 11:37). Interessant genoeg word daar nêrens van enige literêre aktiwiteit van Jesaja in die boek gepraat nie, net van sy oratoriese aktiwiteit. Hy skryf wel op ‘n stuk leer ‘n kort boodskap (Jes 8:1).

Jesaja tree in ‘n baie moeilike tyd as profeet op. Die wêreldmag van die Assiriërs het ook vir Israel en Juda bedreig. Geen wonder dat die kleiner volkere koalisies probeer vorm het om hulle te beskerm nie. Maar dit is juis die aanleiding tot die boodskap van Jesaja. God sal vir Juda sorg, maar dan moet hulle op Hom vertrou en nie hulle toevlug neem tot die ander volke nie: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (Jes 7:9).

Ekskursus oor Ussia en sy tyd
Ussia was ’n goeie koning wat die grondgebied van Israel wyd uitgebrei het in sy 52 jaar van regering. Hy het Elat, aan die golf van Akaba van die Rooi See, ingeneem en herbou wat die Jode weer ‘n noodsaaklike hawe vir handel na die Ooste gegee! Hy het groot veldslae teen die Filistyne aan die Weste gevoer en van hulle grondgebied aan die Middellandse See ingewin, om ook sy toegang tot die see in die Weste uit te brei. Hy het Jerusalem se mure versterk, die ekonomie laat bloei deur onder andere uitgebreide landbou bedrywighede in die Negev, suid van Jerusalem. Die grense van Juda was weer so groot as in die tyd van Dawid en Salomo.

Maar, Ussia het een probleem gehad. Hy het nie van die hoogtes, die plekke waar die volk nog diereoffers en wierookoffers gebring het aan ander gode, ontslae geraak nie. En die Here het hom gestraf daarvoor met melaatsheid en hy moes die laaste twaalf jaar van sy lewe in ‘n plek van afsondering bly. Sy seun Jotam moes op ‘n baie vroeë ouderdom, net 13 jaar oud, die paleis bestuur en eintlik die hele land regeer.

Op die koop toe, in die sterwensjaar van Ussia, 742 vC – daar is ‘n grafsteen uit die tyd van Christus met sy naam op – het daar nog ‘n paar dinge gebeur wat die stabiliteit ondermyn het.

Peka het in die jaar koning oor Israel geword – die ryk van die 10 noordelike stamme – en die vrede wat daar op die stadium tussen die Israeliete en die Judeërs – die 2 suidelike stamme – geheers het, amper onmiddellik tot niet gemaak en saam met Resin, die koning van die Arameërs, vir Juda ingeval.

Koning Tiglat-Pileser III van Assirië was besig om sy ryk algaande sterk uit te brei. Hy het Israel net hierna ingeval en ‘n stukkie verligting gebring deur Peka se regering onder druk te plaas. Maar hy het ook vir Juda ingeval en algaande onder sy beheer gekry, sodat net 9 jaar later, in 733 vC, Juda ‘n deel van sy ryk was.

Sy opvolger, Salmaneser, het die noordelike stamme van Israel finaal oorwin, hulle hoofstad Samaria verwoes en die 10 stamme van die volk van Israel weggevoer na Assirië. Dit was in die jaar 722 vC. Juda het dié katastrofe vrygespring, maar moes steeds onderdanig aan die Assiriërs bly.

Assirië was die wêreldmoondheid van dié tyd en het op hulle hoogtepunt die hele huidige grondgebied van Iran, die hele Irak, Sirië, Israel, Jordanië, en die boonste deel van Saoedië –Arabië, sowel as die hele Egipte in hulle mag gehad.

Interessant genoeg het die mense in die Weste juis in dié jaar van Ussia se dood begin bou aan Rome, wat uiteindelik oor die groot Romeinse ryk van Jesus se tyd sou heers.

Deel 1: Jesaja 1-39
In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4). Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Juda se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke alliansies (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Hierteenoor word God in sy heilige teenwoordigheid geteken (Jes 6) wat die oordeel oor sy volk Juda sal voltrek (Jes 8) … en tog ’n oorblyfsel (Jes 6:13) sal laat oorbly, waarin die belofte van ’n toekoms gesien kan word. Ook die nasies word deur God geoordeel (Jes 13-23), juis dié nasies op wie Israel hul vertroue geplaas het.

Benewens die historiese aanduidings in die boek (Jes 1:1; 2:1; 6:1; 7:1–25; 14:28; 20:1–6; 22:14–25, and 36:1–39:8.) word drie verhale midde in die profesieë geplaas om dit histories binne die meer as 50 jaar lange aktiewe bediening van die profeet Jesaja te plaas:

1. Die verhaal van koning Agas in gesprek met Jesaja tydens die Siro-Efraimitiese oorlog teen die Arameërs en Israeliete van die Noordryk (, wat teen Jesaja se raad in ’n verdrag met die opkomende wêreldmag van die Assiriërs gesluit het (Jes 7-9 – vgl 2 Kon 16; 2 Kron 28) wat voor die val van Samaria in die jaar 722 v C gedateer moet word;
2. Die verhaal van Jesaja se liggaamsprofesie teen Egipte en Kus (Jes 20:1-6) in die tyd van koning Sargon van Assirië waarskynlik in 711 v C;
3. Die verhaal van koning Hiskia, Agas se seun, wat dit weer reggekry het om stukkie vir stukkie die volk se onafhanklikheid terug te wen van Assirië en die Filistyne, en uiteindelik die bedreiging van Sanherib van Assirië in 701 v C kon afweer. Ook die verhaal van die siekte en herstel van Hiskia word vertel wat daarna plaasvind (Jes 36-39 – vgl 2 Kon 18-20; 2 Kron 29-32).

Deel 2: Jesaja 40-66
In die tweede deel van die boek, hoofstuk 40-66, fokus Jesaja ons aandag op die verlossing wat God vir sy volk bring, onder andere deur die bediening van die Dienaar van die Here (Jes 42, 49, 50, 5253) wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde (Jes 65-66).

Daar word aangesluit by vorige heilsbeloftes in die eerste deel van die boek (Jes 2:2-5; 4:2-6), en ’n visie van ’n volkome nuwe begin geteken wat histories, internasionaal en kosmies van aard is.

Aan die een kant is dit ’n troosboodskap vir die verstrooide volk (Jes 40). Aan die ander kant konfronteer dit ook diegene wat nie wil deelneem aan die nuwe Uittog wat God vir sy mense belowe nie (Jes 46) en nie tot inkeer wil kom nie (Jes 56-59). Tog belowe die Here dat die nuwe toekoms onafwendbaar heerlik sal deurbreek. En die nasies sal ook daarin deel (Jes 56, 60).

Jesaja in die Nuwe Testament
Jesaja het ’n enorme invloed op die NT skrywers gehad. Die NT skrywers haal meer aan uit Jesaja as uit enige ander boek, behalwe die Psalms. Hier is ‘n lys van aanhalings.

Bv die Dienaar van die Here van Jesaja 52-53 funksioneer in 7 boeke in die Nuwe Testament en word met Jesus Christus verbind.

  • Jesaja 52:15 aangehaal in Romeine 15:21.
  • Jesaja 53:1 aangehaal in Johannes 12:38 en Romeine 10:16.
  • Jesaja 53:4 aangehaal in Matteus 8:17.
  • Jesaja 53:5–6 aangehaal in 1 Petrus 2:22–25.
  • Jesaja 53:7–8 aangehaal in Handelinge 8:32–33.
  • Jesaja 53:12 aangehaal in Markus 15:28 en Lukas 22:37.

Jesus verbind sy eie roepingsverstaan ook direk aan Jesaja 61:1-2 in Lukas 4:16-19. Voor hom het Johannes die Doper dieselfde gedoen (Jes 40:3 in al vier evangelies: Mark 1:2; Mat 3:3; Luk 3:4; Joh 1:23).

Die konsep van ’n nuwe hemel en aarde soos bv. 2 Pet 3:13 daaroor praat, is ook eerste op die tafel gesit deur Jesaja 65:13-25.

En in die kerk bly Jesaja van groot belang. In die tyd van Advent lees gemeentes wêreldwyd uit Jesaja 7,9 en 11, terwyl in Lydingstyd Jesaja 53 prominent funksioneer. Jesaja 1 en 58 is fundamentele tekste wat die verskil tussen ware en valse godsdiens uitspel en Jesaja 6 is ’n model-voorbeeld van God se roeping van sy boodskappers.

Jesaja 2
Geroep as ontmoetingsplek vir die nasies met God
Ons kry ’n stukkie ekstra inligting oor Jesaja in vers 1. Hy is die seun van Amos. Dit vorm deel van die openbaring (anders as in 1:1 word die woord dabar [woord] met die werkwoord sien verbind – letterlik: “Die woord wat Jesaja gesien het”) wat hy oor Juda en Jerusalem – ’n woordpaar wat gereeld in Jesaja voorkom – ontvang.

Die hoofstuk word in drie dele opgedeel:
1. ’n profesie oor die toekoms wat God in Sion vir die nasies skep – vers 2-5;
2. ’n oordeel oor die volk wat hulleself met afgode verneder – vers 6-11;
3. ’n oordeel oor die aarde wat selfs die afgode insluit – vers 12-22

Vers 2-5 kom grootliks ooreen met ’n profesie van Miga in Miga 4:1-4. Miga was ’n tydgenoot van Jesaja. Let op hoe die volk opgeroep word in vers 5 om in die lig van hierdie openbaring, hierdie lig wat van die Here af kom, te lewe. En die visie wat God vir sy volk het, is om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees – iets wat alreeds aan Abraham beloof is (Gen 12:1-3).

Maar, dié roeping wat God vir sy volk het, het nie hulle harte en lewens in beweging gebring nie. Daarom dat die oordeel oor hulle in vers 6-11 aangekondig word wat hulle verstoting insluit. En die rede daarvoor lê in die feit dat die volk soos heidene geword het, en in towery en bygeloof verval het. Dit is egter gelukkig nie ’n finale woord oor of ewige verwerping van hulle nie (Paulus skryf ook daaroor in Romeine 9-11).

Dit alles mond uit in vers 12-22 op ’n finale oordeel oor die aarde wat moontlik Johannes se woorde in Openbaring 6 geïnspireer het, waarmee God sy unieke karakter en plek as God ten toon sal stel vir almal om te sien. En die afgode (nietighede) sal daarmee verdwyn. Die profesie sluit af met die toepassing, dat só ’n omvattende oordeel oor mense jou versigtig moet maak om op hulle staat te maak. Die Here is die enigste vaste punt waarop vertrou kan word.

Sondag is ook Wêreld Vigsdag. Die afwagting van Advent word dus vandag gekombineer met gebed oor M.I.V. en Vigs. Omdat dit ’n spesiale gebedsdiens is, word al vier (of vyf) die adventskerse vandag aangesteek. Dit is egter ‘n spesiale uitsondering – vir die res van Advent brand net dié kerse wat op daardie Sondag reeds moet brand.

Hier is ’n aangrypende Adventkalender wat spesifiek fokus op M.I.V. en Vigs. Jy kan inteken om dit elke dag te kry en die skakel op jul afkondigings sit sodat lidmate saam kan bid.

Liturgie

RUS

Toetrede Lied: Psalm 122 of Flam 154 “Prys ons God”

Votum: Jesaja 2:2-5

Gebed (Verwerk van die Wêreld Vigsdag liturgie) met VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”

Seën

Lofsang: VONKK 83 “Siyahamba / Kom Ons Wandel In Die Lig Van God ”
(as julle nog wil sing)
Lied 324 “So lief het God die wêreld” of
Flam 113 “Here Jesus, U Skyn Oor Almal “

HOOR

Gebed

Skriflesing: Jesaja 2:2-5

Familie-oomblik
Preekriglyn

LEEF

Litanie OF ’n verwerking van die gebed van Franciscus van Assisi,

Dankoffer

Slotlied: Lied 488 “Helder skyn u lig vir die nasies”

Seën

Respons: VONKK 90 “Maranata!”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede Lied
Psalm 122 of
Flam 154. “Prys ons God”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering / Votum) Teks en musiek: Hannes Bosman © Hannes Bosman
Prys ons God, die Here!
Buig voor Hom op sy heilige berg
want die Here, ons God, is heilig. (x4)

Toetrede
Liturg: (Jesaja 2:2-4)
2Daar kom ’n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
’n blywende plek sal hê
bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Al die nasies sal daarheen stroom,

3baie volke sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek
na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer,
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”

4Hy sal oordeel tussen die nasies,
regspreek oor baie volke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard
teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie.

Gemeente:
Maranata! Kom, Here Jesus, kom gou!

Liturg: (Jesaja 2:5)
Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig
wat van die Here af kom.

Oorgang
Vandag is die eerste Sondag van Advent – ’n tyd van afwagting, ’n tyd waarin ons uitsien na die koms van Jesus en saam met die Kerk oor die eeue uitroep: “Maranata! Kom, Here Jesus!”
Vandag is ook Wêreld Vigsdag – die dag waarin ons uitroep, te midde van al die pyn en lyding van M.I.V. en Vigs: Maranatha! Kom, Here Jesus!”

Gebed: (Verwerk van die Wêreld Vigsdag liturgie)

Voorganger 1: (Steek eerste Aventkers aan)
Here Jesus, U is die Lig vir die wêreld

Gemeente
Wie U volg, sal nooit in die duisternis lewe nie.
Wie U volg, sal die lig hê wat lewe gee.

[sonder aankondiging] VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”
[Besluit self oor die taal – dalk wil julle dit net in Afrikaans sing. Of miskien kan een helfte van die gemeente dit in Afrikaans sing, die ander helfte in Engels en die koor in Frans!)
Nav Johannes 12:46 Teks: Jésus le Christ – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Albert Troskie 2009 (Pro Deo) Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Frans, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Advent

Jesus, U is die lig in ons lewe;
laat tog nie toe dat die donker oor ons kom.
Jesus, U is die lig in ons lewe;
Maak ons ontvanklik vir u liefde, o Heer.

Jésus le Christ, lumière intérieure,
ne laisse pas mes ténèbre me parler.
Jésus le Christ, lumière intèrieure,
donne moi d’accuellir ton amour.

Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let not my doubts nor my darkness speak to me.
Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let my heart always welcome your love.

Voorganger 2: (Steek tweede kers aan)
Hemelse Vader, op hierdie Wêreld Vigsdag
Onthou ons dat ons al vir 32 jaar met M.I.V. saamleef.

Gemeente
Ons onthou dat ons ’n wêreld is wat met M.I.V. leef.
Ons onthou die dapperheid en uitdagings van ’n lewe met M.I.V.

Voorganger 2:  
Hemelse Vader
Ons onthou at U ons nie so vêr gebring het om ons nou te los nie.

Gemeente
Ons onthou, Here God, dat U ons nooit sal verlaat nie,
Dat U ons nooit in die steek sal laat nie.
Gee geleentheid vir stil gebed: die gemeente kan bid vir weeskinders, mense wat met M.I.V. woon, versorgers, aktiviste, leiers, die wat geliefdes verloor het, ens. Jy kan dit ook so reël dat lidmate op hierdie stadium klein kersies aansteek.

VONKK 23 Jesus, U is die lig in ons lewe 
Voorganger 3: (Steek derde kers aan)
Here God, op hierdie Wêreld Vigsdag dank ons U
Want U verlig steeds die wêreld met U teenwoordigheid.

Gemeente:
U genesende lig skyn deur ons liggame en gemeenskappe.
U genesende lig getuig van U onfeilbare teenwoordigheid.

VONKK 23 Jesus, U is die lig in ons lewe 
Voorganger 4: (Steek vierde kers aan)
Skeppergod, op hierdie Wêreld Vigsdag dan ons U,
Want U het elke mens die eer gegee om U beeld te wees.

Gemeente:
Ons dank U, want ons sien U beeld in ons elkeen, in alle mense.
Ons sien U beeld in ons, mense wat leef met en geraak word deur M.I.V.

Voorganger 4:
Skeppergod, op hierdie Wêreld Vigsdags dank ons U
Vir die M.I.V. en Vigs versorgers, aktiviste, professionele mense, beplanners en leiers.

Gemeente:
Ons dank U, Here, want deur hulle werk skyn U lig vir die wêreld.
VONKK 23 Jesus, U is die lig in ons lewe 

Seën
Liturg:
In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.
Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Daarom is daar genade en vrede vir elkeen van ons. Amen!

(sonder aankondiging)
VONKK 83 Siyahamba / Kom Ons Wandel In Die Lig Van God 
Johannes 12:25 en Jesaja 2:5 Melodie: Tradisioneel Suid-Afrika.
Teks: Tradisioneel Suid-Afrika (isiZulu); Afrikaanse weergawe Werkgroep VONKK 2009; Engelse teks oorgelewer.
© Afrikaanse teks en begeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: openbare besit
RUBRIEK: Multikultureel – Liefde, Dankbaarheid en Diens

isiZulu
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’,
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamba, siyahamba,
siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.

Afrikaans
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel, kom ons wandel,
kom ons wandel in die lig van God.

English
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching,
we are marching,
we are marching in the light of God.
(as julle nog wil sing)

Lied 324 “So lief het God die wêreld” of
Flam 113 “Here Jesus, U Skyn Oor Almal”

Wet/Skuldbelydenis/Genadeverkondiging kan hierdie week uitval. As jy dit tog wil doen, kan jy Romeine 12:11-14 gebruik. Lied 489 is ’n verwerking daarvan.

Liedere

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal” 
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine Teks en musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik © 1987 Make Way Music (Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my, skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

2. Here, maak my ’n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my, skyn deur my.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Jesaja 2:2-5

Familie-oomblik

Daar is so baie opsies om Advent vir kinders te verduidelik! Jy kan bv. die Adventkrans verduidelik, of met hulle gesels oor wag – veral wag om geskenke onder die kersboom oop te maak!

Nog ’n moontlikheid, is om te verduidelik hoe ons kerse gebruik om die verloop van tyd te merk. Koop ’n groot “1” verjaarsdagkers. Gesels met die kinders oor wat die kers beteken. Met die kers dui ons aan dat daar ’n jaar verby is. Jy kan ook die kers (of ’n klein verjaarsdagkers) aansteek en wys hoe dit korter raak – wat vir ons wys hoe tyd verbygaan. Sluit weer aan by Advent – dat ons die dae aftel na Kersfees, maar ook na Jesus se wederkoms.

Die teks vandag nooi gelowiges om te leef in die lig wat van die Here af kom en vertel hoe dit lyk – ’n wêreld van vrede waar daar nie swaarde en spiese is nie. Die boek “Somewhere Today – A book of peace” deur Shelley Moore Thomas (beskikbaar hier) vertel hoe mense met eenvoudige dade vrede bring. Elke bladsy begin met die woorde: “somewhere today… someone is…” en vertel dan van goed soos kleinsus leer fietsry, ’n vriendin wees vir iemand, ’n boom plant, ’n ouer persoon besoek, ens. Die lig skyn en daar is vrede wanneer mense eenvoudige goed doen! Jy kan foto’s wys van mense wat sulke goed doen en die kinders laat raai wat daar gebeur. En hulle laat dink hoe hulle self vrede kan bring!

Preekriglyn

Allen Johnson is ‘n omgewingsaktivis en medestigter van Christene vir die Berge, ‘n groep wat protesteer teen steenkoolmyne en ander bedreigings vir die omgewing. Die bewaring van natuurlike bosse op die berge van die VSA is ‘n belangrike oogmerk. Die behoud van wildernisgebiede in die berglandskappe is wesenlik vir mense se oorlewing en vir die hoop op ‘n veilige, volhoubare lewe.

Allen beywer hom dat rentmeesterskap vir die omgewing ‘n prioriteit vir alle Christene sal word. “God het ons almal geroep om om te gee vir God se wêreld,” sê hy gereeld.

Sy passie vir die omgewing het in 1993 begin toe hy Haïti met ‘n vrede-span besoek het. Hy het gesien hoe desperate boere vrugtebome afkap om houtskool vir ‘n kontantinkomste daarvan te vervaardig. “Ek het begin huil,” vertel hy. “Dit het my diep getref hoe nou verbind armoede en ‘n stryd om oorlewing verband hou met die vernietiging van die omgewing.”

Sedert is Allen ‘n voorstander van eko-Christenskap. Die omgewing is belangrik. Maar dit is nie ‘n doel opsigself nie. Die bewaring van die omgewing het ten doel om ‘n regverdige lewe moontlik te maak vir die armes en noodlydendes.

Die berg van die Here

Die openbaring van Jesaja 2:1-5 vestig ook die hoop op ‘n berg – die berg van die Here waar die woonplek van die Here is. Hierdie berg bring hoop vir die wêreld. Dit is so, omdat die Here se teenwoordigheid hier geken word. Van hier openbaar die Here sy wil aan die mense. Hier leer ons hoe om reg te lewe. Hier word ons verander.

Jesaja sien in hierdie openbaring ‘n toestroming van volke en nasies na die Here toe. Mense en nasies sal sê:
Kom, laat ons optrek
Na die huis van die Here toe,
Na die huis van die God van Jakob
Sodat Hy ons sy wil kan leer,
En ons daarvolgens kan lewe.
Die motivering van hierdie optrek na die berg van die Here toe is opvallend. Dit is nie omdat die berg so besonders is nie. Dit is nie omdat bergtoppe oor die algemeen as woonplekke van die gode gesien is nie. Dit gaan oor God. Jesaja sien die mense optrek omdat hulle die wil van die Here wil leer ken.

Die volke sal besef: die Here gee lewe wanneer Hy Hom self openbaar. God wys die pad aan, en die nasies herken en erken die weg wat die Here wys.

Dit is ‘n besondere visioen vir die verloop van die wêreldgeskiedenis. Jesaja sien nie ‘n verwoestende goddelike oordeel wat oor die wêreld losbars nie. Hy sien ‘n innerlike verandering wat by mense plaasvind, sodat hulle hul spontaan aan die lering en die wil van die Here onderwerp.

Oordeel en regspreek maak vry

Berge is ekologies belangrik. Maar die berg van die Here , die stad van die Here, die tempel van die Here is in die oortreffende trap belangrik. Dit is, sê vers 4, waar iets verstommend gebeur:
Die Here sal oordeel tussen die nasies,
regspreek oor baie volke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard
teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie.

Hierdie vers vertel dat die Here oordeel en regspreek. “Oordeel” beteken letterlik dat die Here sal vasstel wat reg is, en as regter oor en tussen die nasies sal optree. Phil Robinson skryf dat die Regter hier as skeidsregter optree wat dit vir die nasies moontlik maak om naas en saam met mekaar te lewe.

Wanneer die Here die reg só beskerm, dan word vrede moontlik. Vers 4 het ‘n duidelike beweging van geregtigheid na vrede. Dit is die Here se geregtigheid wat mense leer dat geweld en stryd nie die regte weg is nie. Hulle begin in vrede te lewe.

God se lering bring ‘n omwenteling teweeg. Hierdie omwenteling bestaan uit ‘n paar bewegings:

Beweging 1: Nasies gehoorsaam die Here se regspraak
Sedert die Toring van Babel is die internasionale politiek in ‘n gemors. Daar is onderlinge verdeeldheid en mense en groepe is van mekaar vervreem. Mense kry dit nie reg om mekaar te verstaan en aan mekaar lewensruimte te gee nie. Nou word al die verdeeldheid en vervreemding wat alle pogings tot versoening en vrede verongeluk het, onder die regverdige oordeel van God gestel. God wys uit wat reg en verkeerd is. God lei mense op die regte pad.

God is ‘n Regter wat niemand voortrek nie. Hy kan nie afgedreig, omgekoop of onregmatig beïnvloed word nie. Reg en geregtigheid word nou die grondslag waarop alle verhoudinge kan gedy.

Beweging 2: Oorlog en geweld ontmasker
Die nasies dink dat oorlog, geweld en baklei verlossing bring. Teoloog Walter Wink praat van geloof in “redemptive violence.” Mens sien dit oral rondom jou. Die VSA voel bedreig deur terrorisme en glo geweld gaan alles regmaak. Daarom skiet dié supermoondheid ander lande plat. Daarmee word geen oplossing bereik nie. Die geweldspiraal verhoog. So ook die duisende ander voorbeelde van diktators, terroristegroepe, bendes en gesinsgeweld. Geweld vernietig.

Die Here leer mense die regte pad. Dit laat die mislukking van oorlog en geweld so helder na vore kom, dat die volke eiehandig hulle wapens begin stukkend slaan, ophou vegvliegtuie en tenks bou, hulle militêre opleidingsentra sluit en die pad van geweld staak.

Nou hou die nasies op om vir mekaar ‘n bedreiging te wees. Hulle ontdek hulle gemeenskaplikheid, almal geskep na die beeld van God. Hulle word verlos van eeue se verblinding deur agterdog, vrees en haat. Die vyandskap wat by Babel weens menslike wantroue en haat ontstaan het, word opgeskort.

Beweging 3: Afgetakelde wapens word landbou-implemente
Die wapentuig word nou skrootmetaal. En uit die skrootmetaal word landbou-instrumente vervaardig. Phil Robinson sê: “Noudat hulle nie meer wapens dra nie, is hulle hande vry om iets te doen omtrent die hoofprobleem van die wêreld: om kos te verbou vir almal wat moet eet.”

‘n Droom?

Hierdie teks klink na ‘n blote droom. Kan jy jou dit indink! ‘n Wêreldwye vrede wat op ons planeet neerdaal. Dit kan tog nie realisties wees in ‘n wêreld waar …

  • die verdedigingsbegroting een van die grootste items op die nasionale begroting van baie lande is;
  • die wapenindustrie een van die grootste werkskeppers is;
  • wantroue en vrees die klimaat van onsekerheid skep wat mense vanselfsprekend na geweld en selfbeveiliging laat gryp
  • miljoene mense deur geweld ontwortel is en in vlugtelingskampe ‘n bestaan moet voer
  • mense glo jy moet deur geweld gryp wat jy wil hê
  • ‘n posisie van mag gesien word as die beste vertrekpunt vir onderhandeling
  • die hof, die boendoehof, die skote op straat, vergelding en passief-aggressiewe gedrag die verbeelding van mense vasgryp.
‘n Belofte

Natuurlik kan mense nie so ‘n wending veroorsaak nie. Hierdie teks is ‘n belofte. God doen hierdie wonder.

Hierdie openbaring van God word in die Nuwe Testament verhelder en verdiep. God neem die kruis, die mees vernietigende en onmenslike wapen, en buig dit op tot ‘n instrument van versoening. God maak in Christus die vloekhout tot boom met genesing in sy blare en vrugte. Op dié manier maak God die openbaring van Jesaja 2 ‘n werklikheid.

In die Nuwe Testament leer Christus ons dat die tempel en die verhewe berg, in Christus se bediening op aarde beliggaam word. Christus vervang die tempel. Die wysheid en lering, die oordeel en teregwysing van God, dié gaan van Jesus uit.

Mense het Jesus aan die kruis probeer verpletter. Die kruis is die simbool van mense se verwerping van God. Toe neem God die geweld van mense, en verpletter geweld daarmee. Geweld loop hom te pletter teen die kruis.

God doen dit deur Jesus uit die dood op te wek. Doding is die hoogste wapen van geweld. God het die dood oorwin. God het die dood doodgemaak. God het die mag van geweld ontmasker en tot niet gemaak.

Golgota en die leë graf is die berg van God waar die wysheid van God openbaar word, wysheid wat die nasies op die regte pad lei.

Die belofte van Jesaja 2 het reeds waar geword. Deur Christus, die berg van God, die wysheid van God, die Bedienaar van vrede.

Deur die geloofsgemeenskap wat die gekruisigde en opgestane Here skep, kring hierdie vrede wêreldwyd uit. Phil Robinson skryf:

Wie in Christus God se laaste woord hoor, begryp en aanneem, word volledig verander en tree as ‘n nuwe mens na vore. Versoening met God beteken egter ook versoening met die medemens. Die eenheidsgemeenskap wat in Christus tot stand kom, laat geen ruimte vir verdeeldheid en haat nie. Wie aan Jesus Christus deel het, het deel aan sy vrede. Hy is ons vrede.

Instrumente van vrede

Christus vervang die tempel. Christus word die berg van God van Jesaja 2. Christus is die openbaring en lering van God. Christus leer ons dat diens en naasteliefde die weg tot lewe is.

Christus maak ons deel van ‘n geloofsgemeenskap wat in sy diens op aarde lewe. Ons word opgeroep om deel te neem aan Jesus se voortgaande bediening op aarde. Hy bemagtig ons deur sy Woord en sy Gees.

Daarom moet ons die oproep in vers 5 hoor:
Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig
wat van die Here af kom.

Ons is die eerste hoorders van die openbaring wat van God kom. God se verwerping van geweld, God se regspraak, God se soeke na vrede, is ons lig. Ons moet die lewe in die lig daarvan aanpak.

Ons begin alreeds die vreemde hoop van vrede vir die hele wêreld doen. Ons leef as mense van die lig. Ons dien God se reg en billikheid, en so dra ons God se vrede.

Adventstyd herinner ons aan God se missie. Die Kind van vrede is gebore om ons kinders van vrede te maak. Die vlammetjie van vrede is onblusbaar sterk op die Kersnag aangesteek.

Kom ons bid: “Here, maak ons soos hoë bergspitse van vrede.”

God stuur ons om te leef

Litanie (via CABSA – By Rev Scott Hill First Presbyterian Church, Columbus, IN, Edited for publication by Emily Rose Proctor)
Liturg: God van Heelheid en Genesing, U het hierdie wêreld geskape om ’n plek van vrede te wees:
Gemeente: Waar mense en gemeenskappe met gesondheid, geregtigheid en vrede leef.

Litrug: In Jesus Christus het U mens geword
Gemeente: en gedeel in ons swaarkry en gebrokenheid.

Liturg: As die Liggaam van Christus is ons een met alle Christene
Gemeente: daarom huil ons saam met dié wat huil, is ons bly saam met dié wat bly is.

Litrug: Vandag, op Wêreld Vigsdag, dank ons U en bid ons
Gemeente: vir die genesing van liggame, verhouidings en ons samelewing.

Liturg: Vir diegene met M.I.V. en Vigs
Gemeente: Geneser, bring troos en krag.

Liturg: Vir lewensmaats, kinders, ouers en ander wat saam ly
Gemeente: Geneser, bring troos en krag.

Litrug: Vir die wat wees of hartseer is,
Gemeente: Geneser, bring troos en krag.

Liturg: Vir hele gemeenskappe en nasies wat steier onder die M.I.V. pandemie
Gemeente: Geneser, lei ons na nuwe lewe.

Liturg: Vir oumas, ooms, bure en versorgers
Gemeente: dank ons U. Versterk en beskerm hulle, Here!

Liturg: Vir kerke en klinieke, skole en ander instansies wat opvoeding en versorging bied
Gemeente: Ons bid vir empatie en die vrug van die Gees, sodat ons gemeenskappe van aanvaarding en liefde kan wees.

Liturg: Vir diegene wat nuwe medikasie en behandeling soek
Gemeente: Ons bid vir insig, verbeelding en uithouvermoë.

Liturg: Vir advokate en aktiviste
Gemeente: vra ons vir dapperheid en kreatiwiteit, om die leiers en die massas te motiveer.

Liturg: In hierdie wêreld wat aan U behoort, bid ons met Hoop, vir ’n dag van genesing, lewe en vrede vir almal.
Almal: Maranata! Kom, Here Jesus, kom gou!
OF
Gebruik ’n verwerking van die gebed van Franciscus van Assisi, waar jy spesifiek kan verwys na M.I.V. en Vigs:
Here,
maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.
Waar daar oortredings is, vergifnis,
waar daar twyfel is, geloof,
waar daar wanhoop is, hoop.
waar daar duisternis is, lig,
waar daar droefheid is, vreugde.
O, Heilige Meester, gee dat ek,
in plaas daarvan om vertroosting te soek, ander sal vertroos;
om begrip te soek, andere sal verstaan;
om liefde te soek, andere sal bemin.
Want dit is deur te gee, dat ek ontvang;
deur te vergewe, dat ek vergewe word.
En dit is deur te strewe,
dat ek die ewige lewe beërwe.

Dankoffer

Slotlied
Lied 488 “Helder skyn u lig vir die nasies”

Seën
Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig
wat van die Here af kom.
Want die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees, is en bly by ons.
Amen

Respons
VONKK 90 “Maranata!”
Nav I Korintiërs 16:22b Teks: Jannie Hougaard 2004 © Melodie: MARANATA – Jannie Hougaard 2004 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Hoop en Voleinding

Maranata! (x3)
Kom, Heer, kom weer!
(Alternatiewe teks;)
Kom, Heer Jesus! (X3)
Kom

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.