Eerste Sondag van Advent

Picture of Woord en Fees
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Woord en Fees - Jaarlikse subskripsie | 1 gebruiker or Woord en Fees - Jaar toegang | 1 Gebruiker | Gemeenterekening.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Markus 13:24-37
Ander tekste: Jesaja 64:1-9; Psalm 80:1-7, 17-19; 1 Korintiërs 1:3-9

Inleiding 

Met die aanvang van Advent word die eerste blou of pers kers van die Adventskrans aangesteek. Dit simboliseer die hoop van gelowiges op die koms van God se koninkryk, wat deur Christus in hierdie wêreld aangebreek het en vir ons ’n nuwe toekoms bied.

Die tema van hoop kom in al vier teksgedeeltes van die week voor. Die sleutelteks (Mark 13:24-37) verseker die koms van die Seun van die Mens in die profetiese rede, met die oproep om waaksaam en gereed te wees vir hierdie koms. In Jesaja 64:1-9 word die hoop uitspreek dat God, soos ’n pottebakker, die volk sal vashou en vorm. Psalm 80 is ’n hoopvolle uitroep na die Herder van Israel. Paulus se aanhef in sy brief aan die Korintiërs is gevul met dankbaarheid teenoor God vir sy genade en trou, die bron van ons hoop.

Onthou ook dat hierdie Sondag die eerste Sondag ná Wêreldvigsdag is en binne die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders val. Dit is dus belangrik dat ons die tema van hoop ook binne hierdie konteks sal belig.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 590/NSG 138:1-2 “Het jy gehoor dat eenmaal”

Aanvangswoord met die aansteek van die eerste Adventskers (Hoop)
V: Die eerste Adventskers is die kers van hoop. Die volk Israel het gehoop op die vervulling van God se beloftes en God het hulle nie teleurgestel nie. Die hoop dat die Messias sou kom, en ons hoop dat Jesus weer sal kom, is soos ’n lig wat op ’n donker plek skyn.
G: Kom, o kom, Immanuel!

(Of die gemeente kan Lied 320:1-2 “O kom, o kom, Immanuel” sing.)
’n Lidmaat steek die eerste kers aan en bid:
Dankie, Here, vir die hoop wat U ons gee. Help ons om draers van hoop te wees in ’n wêreld wat alle hoop op redding laat vaar het. Laat u koninkryk kom.
Amen.

Seëngroet
Sien die basisliturgie

Lofprysing
Lied 200/NSG 43 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”
Lied 489/NSG 276 “Waak, Christen, staan in die geloof”

Skuldbelydenis
V: Here, ons moet vanoggend voor U bely dat ons geloof klein is.
G: Here, wees ons genadig.

V: By ons is die glas eerder halfleeg as halfvol.
G: Here, wees ons genadig.

V: Wanneer ons in ons lewe in ’n put beland, sien ons net die donker dieptes.
G: Here, wees ons genadig.

V: Wanneer ons kla, Here, kla ons meestal net by ander mense en nie ook by U nie.
G: Here, wees ons genadig.

V: Ag, Here, in slegte tye is dit werklik moeilik om u hand raak te sien.
Sing Lied 247 “Heer, wees ons genadig”
Of:
Skuldbelydenis in die konteks van MIV en vigs
In Markus 2 sê Jesus mense wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar wel mense wat siek is. Hy sê ook Hy het gekom om sondaars te roep. Ons is sondaars en God roep ons. Al is ons almal uit genade gered en vrygespreek voor God, doen ons steeds sonde. Dít bely ons as gemeente vanoggend saam voor God:

Ons bely dat ons mense met MIV steeds stigmatiseer.

Ons bely dat ons te midde van die MIV-pandemie rondom ons nouliks daarby betrokke is.

In Markus 1, bely ’n melaatse man: “As U wil, kan U my gesond maak.” Dit is ook ons gebed vanoggend, Here. Genees ons as gemeente van ons vooroordele en traak-my-nieagtigheid teenoor mense wat deur MIV en vigs geraak word.
Amen.

Genadeverkondiging
Die Here jou God is by jou, die Krygsman wat red.
Die Here is vol vreugde oor jou.
Die Here is stil-tevrede in sy liefde vir jou.
Die Here verseker jou vanoggend dat al jou sonde vergewe is.
Lees gerus Sheila Cussons se gedig “Advent” voor (uit die bundel ’n Engel deur my kop, Tafelberg, 1997).

Diens van die Woord

Kindertyd 
Verduidelik die betekenis van Advent en die simboliek van die Adventskrans. Verduidelik die gedagte van hoop wat gegrond is in die alreeds van Jesus se menswording in ons gebroke wêreld. Omdat Jesus na ons wêreld gekom het, kan ons weet dat God alles weer nuut sal maak. Die gemeente kan dalk ’n unieke Adventskalender vir families ontwerp en uitdruk. Deel dit tydens die kindertyd uit. Kinders kan gevra word om in dié Adventstyd ’n boksie met spesifieke geskenkies saam te bring kerk toe. Dit kan dan aan kinders in minderbevoorregte omstandighede geskenk word. Vra die kinders om in die week wat voorlê Kersversierings uit karton te maak wat hulle aan hoop laat dink. Hulle kan dit volgende week saambring om aan die Kersboom te hang.

Gebed om opening van die Woord 
Sien die basisliturgie

Diens van die Tafel

Nagmaalgebed 
Genadige Here, ons waag dit om u tafel in vertroue te nader, nie op grond van ons geregtigheid nie, maar op grond van u groot en menigvuldige barmhartigheid. Ons is nie eens waardig om die krummels onder u tafel op te tel nie. Tog is U, Here, onveranderlik – die Here wat van nature altyd genade betoon. Skenk ons, genadige Here, om so te eet van die liggaam en te drink van die bloed van u geliefde Seun, Jesus Christus, dat ons voortaan altyd in Hom sal bly en Hy in ons.
Amen.
– Uit Soos ’n blom na die son draai, Cas Wepener, Bybel-Media, 2011

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 588/NSG 144 “O God van hoop, gee ons u vrede”
Lied 595 “Ons wag op U, o Seun van God”

Seën
Die God van die engele wat Jesus se geboorte aangekondig het,
sal in hierdie Adventseisoen hoop in julle harte bring.
Die God van liefde wat die Seun vir ons gegee het,
sal julle lewe met liefde, vreugde en vrede vul.
Immanuel, God met ons, sal met julle wees in alles wat julle doen,
totdat julle eendag aan die Here se tafel gaan aansit.
Die almagtige God, die Skepper, die Verlosser en die Heilige Gees seën julle elkeen.
Amen.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 253/NSG 370 “U het die brood gebreek”; Lied 487 “Wagter, wakend op die mure”; Lied 595 “Ons wag op U, o Seun van God”; Lied 159/NSG 343 “God is hier teenwoordig”
Lofprysing: VONKK 277 “U is die lig wat deur die donker skyn”; Flam 15 “Kom ons loof en dank nou die Heer”; Lied 212/NSG 56 “Loof die Heer, Hy is goed”; Lied 215/NSG 130 “Besing die lof van Jesus saam”
Skuldbelydenis: Lied 231/NSG 61 “Heilig, heilig, heilig, Here”; Lied 236 “O God, hoe salig om te weet”; Lied 247/NSG 233 “Heer, wees ons genadig”
Geloofsbelydenis: Lied 263 “U, goeie Herder, wat ons lei”; Lied 264/NSG 355/356 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!”

Preekstudies: Markus 13:24-37

Teks

Vers 24-27: Iemand het iewers gesê vers 24-27 is ’n legkaart aanhalings uit die apokaliptiese literatuur van die Ou Testament. Die meeste verklarings sien vers 26 as verwysende na die wederkoms van Christus. In hierdie geval word “maar in daardie tyd” (v 24) gesien as ’n tegniese term vir die tyd van Jesus se tweede koms. Dit word dikwels gebruik in eskatologiese uitsprake (bv Jer 33:15-16). Die verse kan nie los gesien word van die woorde in ander tekste wat oor die wederkoms van Jesus handel nie (Jes 13:10; Joël 2:10; Matt 13:37-43, 25:31; 2 Tess 1:7). Die beskrywing van Jesus se koms in vers 26 herinner aan die beskrywing van die koms van “die Seun van die mens” in Daniël 7:13-14. Hierdie tradisionele verstaan van die gedeelte as verwysing na die wederkoms weeg swaar, maar bring ook bepaalde probleme.

Ander het ’n alternatiewe mening en sê “maar in daardie tyd” sluit direk aan by die voorafgaande gedeelte (v 1-23) en gaan dus oor gebeure in die geskiedenis en nie die voleinding van die geskiedenis nie. Dit verwys na die verdrukking van die gelowiges en die val van Jerusalem in 70 nC en die gevolglike regverdiging en bevestiging van Jesus Christus as die Een wat alle gesag van God ontvang. Die kosmiese gebeure wat in vers 24 en 25 beskryf word, is tipiese apokaliptiese taal vir die ingrype van God. Dit hoef nie noodwendig na die voorspel tot die wederkoms van Jesus te verwys nie. Dieselfde taal word ook gebruik vir ander ingrype van God, soos die val van Babilon (Jes 13:9-11) en van Samaria (Am 8:9). In Markus 14:62 word bevestig dat daar ’n verband is tussen die vernietiging van die tempel en die koms van die Seun van die mens op die wolke. Soos hieronder genoem, verklaar dit vers 30 die beste, naamlik dat “hierdie geslag” nog alles sal beleef.

In die Ou Testament het net God die gesag gehad om engele uit te stuur. Markus sê nou in vers 27 dat Jesus in dieselfde gesag van God deel om die engele uit te stuur om die uitverkorenes te vergader, want Hy is die tweede persoon in die Drie-eenheid. Vers 27 se beskrywing van hoe die uitverkorenes uit die vier windstreke en van die een kant van die aarde af tot by die ander kant versamel word, is bedoel as troos te midde van beproewinge dat nie een gelowige uitgesluit sal word van die gebeure nie, al is hulle hoe wyd versprei (vgl Sag 2:6). Jesus self is die handelende Een in hierdie teofanie, waar dit in die Ou Testament God was.

Daar is natuurlik ook die moontlikheid dat Jesus, deur die bril van Markus, ’n breër konteks in die oog het en beide gebeurtenisse, naamlik die verwoesting van Jerusalem en die wederkoms, se aanloop insluit. Dan is daar in tipies profetiese styl ’n gebrek aan diepte ten opsigte van die tydsverloop tussen die gebeure. Om deur ’n verkyker te kyk maak dat dinge wat eintlik ver uitmekaar is, lyk of dit naby aan mekaar is. Markus beskryf dus dinge wat oor ’n lang tydperk (vanuit die menslike belewing) in die geskiedenis plaasvind. Dit is alles deel van God se verskyning en ingrype in die geskiedenis en sluit in Jesus se koms na die aarde, sy bediening, sterwe, opstanding, hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees, wat die koms van die koninkryk aandui. Dit sluit ook in sy oordeel oor Jerusalem en die tempel in 70 nC, en ook die wederkoms wat deel is van die voleinding van die geskiedenis. Daarom kan ons ook sê vers 24-27 verwys na die dinge wat gebeur in die hele tyd tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Die altyd komende Jesus regeer reeds met groot krag en majesteit. Soos met die val van Jerusalem en die tempel word die hele tyd tussen Jesus se koms en wederkoms gekenmerk deur die nood van sy kerk. In hierdie hele tyd is daar tekens wat ons herinner: Jesus kom weer en weer. Aan die einde, met sy finale koms, sal sy koningskap finaal beslag kry en sigbaar wees.

Vers 28-31: Hierdie verse kan weereens verwys na dit wat voor die verwoesting van Jerusalem en die tempel óf voor die wederkoms gaan gebeur. Die feit dat “hierdie dinge” deur die mense gesien sal word, asook die feit dat “die tyd naby is, voor die deur” en “nog in die leeftyd van hierdie geslag” sal gebeur, maak meer sin as dit oor die gebeure voor die val van Jerusalem gaan. Jesus het verwag dat hierdie dinge spoedig sal gebeur. “Hierdie geslag” dui dan op die tydgenote van Jesus, soos in Markus 8:12 en 9:19. Jesus verduidelik dit met ’n kort gelykenis: Net soos wat ’n vyeboom wat sag word en blare kry ’n teken is dat die somer naby is, so sal “hierdie dinge” (v 14-23) ’n teken wees van die vernietiging van Jerusalem. Die vernietiging van die tempel en, trouens, al die tekens van die tye deur die eeue is die begin van die geboortepyne van die wederkoms. In vers 31 bevestig Jesus dat sy uitspraak absoluut betroubaar is en so vasstaan soos die Tora, God se woorde (Matt 5:18).

Vers 32-37: Die “maar” in vers 32 dui op ’n verandering van die onderwerp. Dit gaan in hierdie verse oor die wederkoms met die klem op waaksaamheid. Dit is dan ’n ander koms as waarna vers 26 verwys. Skielik val die sekerheid van die tyd weg wanneer die val van Jerusalem sou plaasvind. Niemand weet wanneer “daardie dag”, die wederkoms (vgl 1 Kor 3:13), sal kom nie. Die bedoeling van die Seun en die engele wat nie weet wanneer die wederkoms sal plaasvind nie, net die Vader, is om te beklemtoon dat die kerk van die Here te alle tye gereed moet wees omdat niemand weet wanneer dit gaan gebeur nie. Jesus ontmoedig ons om die tyd van sy wederkoms te probeer bereken en so in allerlei spekulasies te verval. Juis daarom praat sommige van Markus 13 as ’n anti-apokalips. Dit blaas nie die verwagting van ’n spoedige voleinding aan nie, maar hou dit eerder in toom.

Die gelykenis van die deurwagter vergelyk Jesus met ’n meester wat ver weggaan en sy huishouding aan die slawe toevertrou. Die deurwagter moet waaksaam toesig hou, want die meester kan enige tyd terugkom. Dan moet die deurwagter en die slawe besig wees met die opdragte wat Hy aan hulle gegee het. Die gelykenis lê dus klem op die feit dat die Here se koms onverwags is en dat sy dissipels, spesifiek die vier wat in vers 3 en 4 vir Jesus vrae gevra het oor die voleinding, altyd wakker en waaksaam moet wees. Hierdie gelykenis herinner aan die langer gelykenisse in Matteus 24:45-51 en Lukas 12:35-40. Aan die einde (v 37) is dit duidelik nie net die dissipels wat waaksaam moet wees nie, maar almal, ook dié wat Markus lees: “Bly waaksaam!” Dat die wederkoms onverwags sal wees, word ook in vers 35 beklemtoon met die omskakeling na die tweede persoon (“julle weet nie wanneer …”) asook met die noem van die vier moontlike tye in die nag wat die huiseienaar kan terugkom: aand, middernag, hanekraai of môre, wat die gebruiklike Romeinse indeling van vier wagbeurte van drie uur elk is. Te alle tye moet die gelowige wakker wees.

Waaksaamheid is kenmerkend van gelowiges in die hele tyd tussen Jesus se opstanding en die wederkoms. Die waaksaamheid is nie ’n passiewe vreesgevulde wag om dalk onkant betrap te word nie, maar ’n vreugdevolle verwagting dat ons hoop vervul sal word. Christene bid elke dag maranata, “Kom, Here Jesus”, asook “Laat u koninkryk kom”. Die skrifgedeelte maak dit duidelik dat Jesus die Here van die geskiedenis is, te midde van die kerk se swaarkry en lyding. Die kerk se ganse geskiedenis is ’n reeks hoogtepunte en laagtepunte, goeie tye en slegte tye. Ons staande opdrag is: “Bly waaksaam!”

Konteks

Die konteks van Advent
Die teks is heel gepas aangewys vir die eerste Sondag in Advent omdat dit ’n uitnodiging is om gereed en wakker te wees vir wat in die vier weke van Advent kom, naamlik die viering van God wat mens word. Die verskyning van die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir mense (Tit 3:4) is nie beperk tot Kersfees nie, maar sluit die vleeswording, kruisiging, opstanding, hemelvaart, uitstorting van die Heilige Gees, regering en wederkoms in, wat in wese een saak is.

Die konteks van die Evangelie van Markus
Markus is moontlik in Rome geskryf voor die val van Jerusalem in 70 nC, ongeveer 65 nC. Die Christene het gely onder vervolging gedryf deur keiser Nero. Verder het die Jode in opstand gekom teen die Romeinse oorheersing. Dit het gelei tot die Joodse oorlog. In 70 nC is Jerusalem ingeneem en die tempel verwoes. Die Evangelie van Markus lê klem op die feit dat Jesus die lydende Messias is wat sy volgelinge oproep om te deel in hierdie lyding. Dit is asof Markus met haas afstuur op die kruisiging. Die vernederde Jesus, die Seun van die mens, is in werklikheid die verhewe Seun van God. Markus 13 laat die klem val op hierdie verskyning van die krag en majesteit van ons Here, Jesus Christus. Dinge wat Christene ervaar, kan op paradoksale wyse juis op Jesus se gesag dui.

Die konteks van die tempel
Die tempel was ’n indrukwekkende kompleks wat die indruk van permanensie geskep het. Die tempel was vir die Jode heilig, die plek waar die transendensie en immanensie van God bymekaargekom het, die middelaar tussen God en die mense. Die tempel, saam met die stad Jerusalem, was as’t ware die sentrum van die kosmos. Die koms van die koninkryk van God in Jesus Christus het nou die plek van die tempel en tempeldiens ingeneem. God is nou op ’n nuwe manier by sy mense. Jesus Christus het nou die gesag wat die tempel en tempeldiens gehad; volmag om namens God op te tree. Hy is nou die Middelaar tussen God en die mense. Hy is die sentrum van die kosmos. Omdat alles waarvoor die tempel staan hierdie koms van die Messias verwerp het, en trouens in die pad daarvan gestaan het, is sy lot verseël.

Die konteks van Christus se regering
Dat Jesus die Koning is wat nou reeds, sedert sy hemelvaart, vanaf die regterhand van God regeer, is meestal ’n verborge saak. Sy heerskappy korreleer nie met wat ons mense onder regeer verstaan nie. God regeer in die skyn van die teendeel. Wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter as die krag van mense (1 Kor 1:25). Sy almag is die almag van sy liefde. Sy almag is sigbaar in die Gekruisigde, wat vir die wêreld na swakheid lyk. Die boodskap van die Nuwe Testament is duidelik, naamlik dat Jesus Christus die duiwel en sy bose magte oorwin het (bv Kol 2:15). Jesus regeer! Omdat die wêreld nog gebuk gaan onder die gevolge van die sondeval, ongeloof voortwoed en die Bose steeds beperkte mag het, bid ons ook dat die koninkryk sal kom, dat Christus al meer as Koning erken en gehoorsaam sal word. Wat nog wag, is die finale, sigbare koms in heerlikheid wanneer die Bose totaal vernietig sal word en elke knie sal buig en elke tong bely, Jesus is die Here (Rom 14:11).

Preekvoorstel

Die verskyning

In die Ou Testament het God sporadies verskyn om in te gryp in die voortgang van die geskiedenis van sy volk. Met die geboorte van Jesus Christus het sy goedheid op ’n nuwe manier aan die mensdom verskyn en het God self deel van sy skepping geword. Hierdie dramatiese gebeure in die geskiedenis van die kosmos word in die Evangelies sober en feitelik aan ons oorvertel.

Met Jesus se geboorte en kruisiging word oënskynlike swakheid juis die krag van God (1 Kor 1:25; Rom 1:16). Dit lê die grondslag vir die wyse waarop Jesus ná sy hemelvaart regeer vanaf die regterhand van die Vader. God se goedheid verskyn voortdurend in die geskiedenis van ’n stukkende wêreld en sy lydende kerk. Hy is nou permanent God met ons. Hy regeer met groot krag en majesteit. Hierdie regering haal egter nie die hoofopskrifte nie. Dit is meestal verborge. Dit gebeur waar God se liefde en vergifnis goddeloses oorrompel, waar mense met mekaar versoen raak, waar iemand ’n stukkie genade ontvang, waar ’n sterwende troos vind op God se skoot. Vir Markus is die evangelie nie ’n waarborg dat dit altyd goed sal gaan met ’n mens en dat ’n mens nie swaarkry gaan hê nie. Dit gaan juis in Markus veral om die lydende Seun van God wat mense roep om saam met Hom die pad van lyding ter wille van die evangelie te stap.

Ons sien uit na Jesus se finale verskyning met groot krag en majesteit, die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wanneer God alles in almal sal wees. Ons het met die voortgang van die eeue die verwagting van Jesus se terugkeer wat die vroeë kerk gehad het, verloor. Dit maak tog ons geestelike lewe armer omdat die lewende hoop ’n kosbare deel van ons verlossing is.

In hierdie profetiese rede oor die koms van Jesus gaan dit oor sy koninkryk wat daagliks weer aanbreek. Die klem val op sy krag en majesteit, die Altyd Komende wat in liefde oor sy eiendom regeer; ’n regering wat met die wederkoms sigbaar en met glans omhul sal wees.

Die tekens

In vers 28 se kort gelykenis gebruik Jesus die vyeboom om vir ons te wys hoe ons moet let op die tekens wat belowe dat Jesus kom. As die vyeboom se takke sag word en hy blare kry, weet ons die somer is naby. So is die dinge wat beskryf word in die eerste deel van die hoofstuk (v 1-27) tekens van die verskyning van God. Dit sluit besondere gebeurtenisse in die geskiedenis in, soos die verwoesting van Jerusalem en die tempel, asook verskeie sake wat elders genoem word soos verdrukking, aardbewings, oorloë en gerugte van oorloë, wêreldevangelisasie, gebeurtenisse deur die eeue wat ons herinner: Jesus kom weer. Die frekwensie tussen die gebeure wissel. Soms staan van die tekens meer uit as ander. Dit sou verkeerd wees om spesifieke gebeure te koppel aan die wederkoms asof dit nóú gaan plaasvind, want dit is tekens wat deur die loop van eeue beleef word, soos wat Jesus se gehoor die vernietiging van Jerusalem en die tempel sou beleef. As ons die tekens sien, moet ons weet dat ons nie weet wanneer dit gaan plaasvind nie.

Verder herinner die tekens ons ook daaraan dat Jesus voortdurend kom. Jesus se koms is altyd naby in die sin van sy betrokkenheid in die geskiedenis as die Koning wat regeer, as die Profeet wat die weg wys, as die Priester wat ons laste dra. Ons moet die geestelike sintuie ontwikkel om die tekens van sy werking in ons en rondom ons raak te sien. In ons diepste nood is Jesus beslissend by ons en het Hy die laaste sê oor ons lewe.

Die opdrag

Die doel met hierdie skrifgedeelte is nie om bespiegelings oor die koms van Jesus aan te wakker nie, maar om gelowiges te troos en te bemoedig dat die swaarkry sal verbygaan, dat Jesus die Here van die geskiedenis is en dat hulle gereed en waaksaam sal wees deur met sy opdragte besig te wees.

Spesifiek wat die wederkoms van Jesus betref, ontmoedig Hy ons om die tyd van sy wederkoms te probeer bereken en so in allerlei spekulasies te verval. Hy gee nie vir ons ’n almanak van die wêreldgebeure nie, maar ’n riglyn: My terugkeer is naby. Leef daarvolgens!

In die kort gelykenis van die heer wat sy huishouding toevertrou aan sy slawe en die deurwagter, leer Jesus ons om aktief op die Here se terugkeer te wag. As Hy kom, vind Hy ons in diens van die evangelie, ook deur dit uit te dra die wêreld in.

Juis die geborgenheid en vastigheid wat ons kan hê omdat ons weet wat voorlê, bring die vryheid en energie om getroue dissipels van Jesus te wees. Deur ons gebede en ons dienswerk vir die Here gebruik God ons om deel te wees van die koms van sy koninkryk, om deel te wees van die verskyning van God in die wêreld wat Vaderloos, Herderloos is.

Bibliografie

2014. Preekstudie van Markus 13:24-37, in Woord en Fees: Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar; A Black, 1995. Mark. The College Press NIV Commentary Series. Joplin, Missouri: College Press; CA Evans, 2001. Word Biblical Commentary Vol 34b, Mark 8:27-16:20. Nashville, Tennessee: Thomas Nelson; EP Groenewald, 1973. Die Evangelie van Markus. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers; RH Stein, 2008. Baker Exegetical Commentary on the New Testament. Grand Rapids, Michigan: Baker Academic; BB Thurston, 2001. Preaching Mark. Minneapolis, Minnesota: Fortress Press; HA van Zyl, 1997. Die Bybel verklaar. Kaapstad: Lux Verbi; F jv Rensburg & M Nel (reds), 2000. Die Bybellennium: ’n Eenvolumekommentaar. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Leesrooster vir lidmate

Fokusteks: Markus 13:24-37
Ander tekste: Jesaja 64:1-9; Psalm 80:1-7, 17-19; 1 Korintiërs 1:3-9

Markus 13:24-37
Markus se profetiese rede vestig ons aandag op die altyd-komende Jesus wat reeds in krag en majesteit regeer.

Moment 1

Tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms leef sy kerk in nood
Ons kan vers 24-27 verstaan as verwysend na die dinge wat in die hele tyd tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms gebeur. Soos met die val van Jerusalem en die tempel word die hele tyd tussen Jesus se koms en wederkoms gekenmerk deur die nood van sy kerk. In hierdie hele tyd is daar tekens wat ons herinner: Jesus kom weer en weer. Hoe help die aanhalings in hierdie verse vanuit Ou-Testamentiese literatuur jou om oor Jesus se wederkoms na te dink?

Moment 2

Die natuur leer ons oor die betroubaarheid van Jesus se woorde
Besin oor vers 28-31. Fokus veral op die volgende frases: “hierdie dinge”, “die tyd is naby, voor die deur” en “nog in die leeftyd van hierdie geslag”. Jesus verduidelik dit met ’n kort gelykenis: Net soos wat ’n vyeboom wat sag word en blare kry ’n teken is dat die somer naby is. Hoe verwoord hierdie taalgebruik jou geloof oor die tekens van die tye as die begin van die geboortepyne van die wederkoms? Miskien kan jy self nuwe taal skep vir jou ervaring van hoe jy Jesus se wederkoms verwag.

Moment 3

Dat net die Vader die tyd van Jesus se wederkoms weet, daag ons sekerhede uit
Mediteer oor vers 32-37. Die woord “maar” (v 32) dui op ’n verandering van die onderwerp met die tema van waaksaamheid. Die sekerheid van die tyd oor Jerusalem se val (v 26) verdwyn. Niemand weet wanneer “daardie dag”, die wederkoms, sal aanbreek nie. Dat net die Vader weet wanneer die wederkoms sal plaasvind, roep die kerk van die Here op om te alle tye gereed te wees. Hoe daag hierdie verandering in tydsbesef en die nuwe onderwerp jou uit om oor jou gestelde geloofsgrense te herbesin?

Moment 4

Die afwagting in Advent leer ons om waaksaamheid in te oefen
Die Advent-seisoen in die liturgiese jaar adem die atmosfeer van afwagting en verwagting. Jesus se oproep tot waaksaamheid gee konkrete inhoud aan die geloofsdissipline wat Jesus se kerk moet beoefen op pad na die viering van Jesus se eerste koms tydens Kersfees. Die vier Sondae van Advent wat Kersfees voorafgaan, bied geleentheid om gebruike en rituele te implementeer wat ons as gelowiges kan help met waaksaamheid terwyl ons wag op die Here, wat die vervulling van ons hoop is. Het jy dissiplines wat jou toerus vir waaksaamheid in afwagting of Jesus se wederkoms?

© Missio 2024 | All rights reserved.