Eerste Sondag van Advent

Sections

Oorsig

Die eerste Sondag in Advent word gekenmerk deur hoop. Daar is ’n besonderse samehang tussen trauma en hoop in die sleutelteks, Jeremia 33:14-16. Die ander tekste van hierdie Sondag sluit by hierdie boodskap van hoop aan. Daarom kan ons saam met die digter van Psalm 25 bid: “Tot U, Here, rig ons onsself.” Saam met Jeremia, stel Lukas 21:25-36 die gewelddadige eskatologiese uiteinde teenoor God se getrouheid. En dan herinner Paulus ons daaraan dat ons nou reeds hoop kan beliggaam – in dade van liefde.

Ander Tekste

Psalm 25:1-10
Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

1 Tessalonisense 3:9-13
9Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? 10Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek.

11Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! 12En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. 13So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.

Lukas 21:25-36
Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Matt 24:29–31; Mark 13:24–27)
25“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ’n wolk sien kom. 28As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die vyeboom
(Matt 24:32–35; Mark 13:28–31)
29Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. 30Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: vermaning tot waaksaamheid
34“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ’n vangnet oorval nie. 35Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

Fokusteks

Jeremia 33:14-16
14“ ‘Kyk, daar kom dae,’ is die uitspraak van die Here, ‘wanneer Ek die goeie belofte wat Ek oor die huis van Israel en die huis van Juda uitgespreek het, gestand sal doen. 15“In daardie dae en in daardie tyd sal Ek vir Dawid ‘n spruit van geregtigheid laat opskiet, en hy sal doen wat reg en billik is in die land. 16In daardie dae sal Juda verlos word en Jerusalem sal veilig woon. En dit is wat sy genoem sal word: Die Here is ons geregtigheid.

Liturgie

RUS

Inleiding oor Advent

Toetrede: Lied 320 of VONKK 240 [bekend] of Flam 142

Votum: (Op grond van Psalm 25:1, 5, 6, 10)

Seëngroet: (Jeremia 33:3)

Lofsang: Lied 323 of VONKK 414

Hoop: Gebed met Vigsdag tydens die aansteek van die eerste Adventkers

Verootmoediging: (n.a.v. Psalm 25:1-16)

Geloofsbelydenis in aansluiting by 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders

HOOR

Gebed
Familie-oomblik

Skriflesing: Jeremia 22:14-16

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 325 of VONKK 142 [bekend -selfde melodie as “Zion’s Daughter”]

Seën 

Respons: Flam 386

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Inleiding
Advent is die begin van die siklus van die Westerse kerkjaar en volg direk na Koninkrykstyd. Die seisoen van Advent begin vier Sondae voor Kersfees en dien ook as opbou tot hierdie feesdag. Die klem is op afwagting en voorbereiding – nie net vir die koms van Jesus as mens wat gevier word met Kersdag nie, maar ook vir Jesus se wederkoms.

Daar is ook baie gebruike wat verband hou met hierdie seisoen, soos die gebruik van ’n “Adventskalender” waarmee die dae tot Kersdag afgetel word. ’n Ander gebruik om die seisoen en spesifiek die Sondae saam te bind, is die Adventskrans in die liturgiese ruimte. Dié krans bestaan uit ’n ronde vorm van immergroen blare waarin vier kerse geplaas word: drie koningsblou kerse en een rooskleurige kers. Die sirkel verwys na die ewige lewe terwyl die immergroen blare verwys na hoop – een van die groot temas van Advent. Daar word ook soms ’n wit kers in die middel geplaas wat op Oukersaand of Kersdag aangesteek word. Die kerse word tradisioneel in die volgende volgorde in die krans geplaas en aangesteek met name vir elke kers/Sondag:
• Eerste Sondag in Advent: “Hoop” – koningsblou kers
• Tweede Sondag in Advent: “Vrede” – koningsblou kers
• Derde Sondag in Advent: “Vreugde” – rooskleurige kers
• Vierde Sondag in Advent: “Liefde” – koningsblou kers
• Oukersaand/Kersdag: wit, Christus-kers

Ander simbole in die Adventseisoen is die stomp van Isai – as aanduiding van Jesus se aardse stamboom vanaf Adam, Abraham en Dawid tot by Josef.

Toetrede
Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel” of
VONKK 240 U het na ons gekom, Immanuel [bekend] of
Flam 142 Kom, Jesus, kom!

Votum 
(Op grond van Psalm 25:1, 5, 6, 10)
Voorganger: Tot u Here, rig ek my,
My God op U vertrou ek.
In u stel ek elke dag my verwagting
Dink aan die liefde en trou, Here,
wat u altyd betoon het.
Gemeente: Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met die wat sy verbond
en verordeninge bewaar

Seëngroet
Voorganger: Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie, sê die Here.
Gemeente: Loof die Here, die Almagtige want Hy is goed aan sy liefde is geen einde nie (Jeremia 33:3).

Lofsang
Lied 323 “Uit droë hout spruit lewe” of
VONKK 414 Kom besing die Kersgebeure

Hoop
Die eerste Sondag van Advent is die Sondag van Hoop. Ons gedenk die Sondag van Hoop te midde van die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders. Ons kan ook nie vergeet dat gister Vigsdag was nie.

Terwyl ons dus vandag die eerste Adventkers aansteek, is ons oë stip gefokus op die swaarkry van ons wêreld. Maar ons oë is ook stip gefokus op die Lig vir die Wêreld, ons hoop.

Gebed tydens die aansteek van die eerste Adventkers
Liefdevolle God,
terwyl ons ’n wêreld gekonfronteer met M.I.V. & Vigs aan U opdra,
bid ons in die hoop dat U wil sal geskied:
Waar lewens kort is, mag dit vol wees.
Waar genesing ver is, mag daar steeds heling wees.
Waar die liggaam swak is, mag die gees sterk wees.
Waar stilte vernietigend is, mag daar moed wees om te praat.
Waar oordeel haastig is, mag ons harte oop bly.
Wanneer realiteit oorweldigend is, mag ons steeds reageer.
Waar geloof getoets word, mag ons U daar vind.
In die Naam van Jesus. Amen.
– Simeon Mitchell, Christian Aid

Verootmoediging: (n.a.v. Psalm 25:1-16)
Liturg: Tot U, Here, rig ek my, my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het.
Gemeente: Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.

Liturg: Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.
Gemeente: Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde, want dit is groot.

Liturg: As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.
Gemeente: My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.

Geloofsbelydenis in aansluiting by 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders 
(Samevoeging van twee gebede deur Charlene vd Walt geskryf en opgeneem in Woord & Fees 2013-2014, uitgegee deur BM)
Ons verwerp alle vorme van liefdeloosheid en haat, geweld en ontmensliking
omdat ons glo in God die Vader.
Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.
Die God wat alle mense as gelykes geskep het
en wat in besonder medelye betoon met hulle wat arm of vreemd is.
Ons erken die menswaardigheid van alle mense
omdat ons Glo in Jesus Christus.
Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het.
Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van geweld en oorlog.
Ons praat en leef profeties
omdat ons glo in die Heilige Gees.
Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.
Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.
Hoop, vrede, vreugde en liefde is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees.
Amen.

Liedere

F142. “Kom, Jesus, kom!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed, Hoop en voleinding)
Teks en musiek: Retief Burger © 2005 Urial Publishing
(Op 19:6-9, Op 22:16-21, 2 Kor 5:6-9)

1. Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:
Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mens wat voor u staan.
Kom, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam.
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou! Kom!

2. Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:

VONKK 240 “U het na ons gekom, Immanuel”
Teks: Isabeau Swanepoel (:1+3) en Hannes van der Merwe 2013 © (:2)
Melodie: J’aime mon Dieu, car lonsque j’ay crié – Maître Pierre Davantès, Genève 1562
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 1976 (Liedboek #491). Gebruik met toestemming Bybel-Media.
Musikale verryking: SAKOV-bundel (wie??) Met toestemming gebruik.
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verryking: 2013 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. U het na ons gekom, Immanuel,
om te verlos, te red van al ons sonde.
U maak ons vry, aan U alleen verbonde.
Juig en wees bly, o volk van Israel.

2. U sien ons nood en U betree die tyd.
U kom en maak by mensekinders woning.
U kom as kind, maar U is steeds die Koning.
Ons buig ons neer – hoe groot u heerlikheid!

3. Halleluja! Ons loof en prys die Heer:
in Betlehem die Jesuskind gebore!
Ere aan God! Ons is nie meer verlore.
Kom, mensdom, kom bring aan Hom al die eer.

VONKK 414 “Kom besing die Kersgebeure”
Teks: Come and sing the Christmas story – Michael Arnold Perry (1942-1996)
Afrikaanse teks: Hannes van der Merwe en Jacques Louw 2018 © Melodie: AR HYD Y NOS – tradisioneel Walliese melodie
Orrelbegeleiding 1: Ralph Vaughan Williams 1872-1958 Orrelbegeleiding 2 en kantoryverwerking 2: Isabeau Swanepoel 2017 (Pro Deo)
Kantoryverwerking 1: Dirkie de Villiers, FAK 1961. Met toestemming gebruik © Melodie en orrelbegeleiding 1: Openbare besit
© Teks, orrelbegeleiding 2 en kantoryverwerking 2: VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek – Advent / Kersfees en Epifanie

1. Kom besing die Kersgebeure die heil’ge nag.
Hoop word daar opnuut gebore – so lank verwag.
“Eer aan God!” sing eng’lekore. “Christus is vandag gebore.”
Hoor die boodskap van verlossing – die heil’ge nag.

2. Uit ‘n maagd word Hy gebore – die heil’ge nag –
vir ‘n wêreld wat verlore na liefde smag.
In ‘n krip lê Hy, die Redder. Kom ons dra die boodskap verder:
God word mens in hierdie Kindjie – die heil’ge nag.

3. Kom besing die Hemelkoning op hierdie dag.
Deur Hom is verlossing moontlik – deur God se krag.
Seun van God, ons lig en lewe – U is liefde, vreugde, vrede.
God die Seun, ons buig nou voor U – op hierdie dag.

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010 Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746; harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

God praat met ons en ons luister

Gebed 
Familie-oomblik

Skriflesing: Jeremia 33:14-16

Preek

Familie-oomblik

Hierdie is ‘n goeie plek en tyd om die konsep van Advent te verduidelik. Gesels oor al die afwagting-gebruike, soos die Adventkrans, adventkalender, ens. Dis altyd lekker om aan te sluit by geskenke onder die Kersboom en hoe ons uitsien daarna om geskenke oop te maak. Party mense skud geskenke skelm as niemand kyk nie. Ons gaan sit voor die boom en beloer al die geskenke. Laat almal daardie afwagting lekker voel – en gebruik dit om hoop van Advent en vandag se boodskap te verduidelik.

John Stevens vertel van al die goed wat sy ma altyd in haar handsak rondgedra het, hoe sy vir byna enige iets voorbereid was. Hy gebruik ‘n klein draagbare naaldwerk stelletjie om “voorbereid” te illustreer. Gesels oor maniere en situasies waarop die naaldwerk stelletjie ‘n mens help om voorbereid te wees. Gesels dan hoe ons voorberei op Jesus se koms.

Preekvoorstel

Vandag is die eerste Sondag van Advent, ‘n wonderlike tyd in die kerkjaar. In Advent vier ons die koms van die Messias op aarde. Die Seun van God word mens om ons lewens en ons wêreld te verander.

In Advent sien ons verlangend uit na die finale koms van die Messias om alles nuut te maak.

Advent is ‘n tyd van hoopvolle verwagting. Die eerste Sondag van Advent, vandag, staan trouens bekend as die Sondag van Hoop. Daar is min dinge wat ons in ‘n wêreld geteister deur Covid-19 en talle ander ellende so nodig het soos hoop. Ons het spesifiek hoop wat op vaste fondamente staan nodig. Dit is hoop wat net die Here kan bied.

Kom ons staan vir ‘n oomblik by ons teks stil.

Daar kom dae …

Ons teks bestaan uit drie kort versies uit Jeremia 33:14-16:
‘Kyk, daar kom dae,’ is die uitspraak van die Here, ‘wanneer Ek die goeie belofte wat Ek oor die huis van Israel en die huis van Juda uitgespreek het, gestand sal doen.

“In daardie dae en in daardie tyd sal Ek vir Dawid ‘n spruit van geregtigheid laat opskiet, en hy sal doen wat reg en billik is in die land.

In daardie dae sal Juda verlos word en Jerusalem sal veilig woon. En dit is wat sy genoem sal word: Die Here is ons geregtigheid.’

Ons die aangrypende betekenis van hierdie hoopvolle woorde beter te verstaan, moet ons kyk na die konteks waarin dit in die Boek Jeremia geskryf staan.

“Troosboekie”

Jeremia 33 is eerstens deel van vier hoofstukke (30–33) wat deur Skrifkenners as “die klein boekie van vertroosting” beskryf word. Dit troos omdat hierdie vier hoofstukke fokus op die Here se werk om ‘n volk wat ontsettend swaar gekry het weer te bou en te plant.

Jeremia gee ’n kykie in die baie traumatiese tyd voor, tydens en ná die vernietiging van die tempel en die mure van Jerusalem in 587 vC. Jeremia is daarom ‘n moeilike, byna oorweldigende boek om te lees. Dit getuig van katastrofes en ‘n worsteling om te oorleef verwoesting en ‘n stryd om weer op te bou, rou smart, maar ook vreugde.

Juda, die suidelike twee stamme, wat ’n ondergeskikte van Assirië was, is geraak deur Babilonië se oorwinning oor die Assiriese magte. Babilonië het rondom 626 vC die posisie as die nuwe wêreldheerser oorgeneem.

In 605 vC word Juda ’n ondergeskikte van Babilonië. Juda het drie keer hierteen gerebelleer (597 vC, 587 vC en 582 vC). Hiervoor is hulle deur Babiloniese invalle gestraf. Telkens het Babilonië die room van die bevolking weggevoer. In 587 vC is Jerusalem vernietig; die koning en sy familie is weggevoer en baie van die leiers is doodgemaak. Hierdie is dan ook die begin van die vernietiging van Dawid se koningslyn.

Bybelkoerant

Ds Jaco Thom vat ‘n episode uit hierdie gebeure in sy gewilde Bybelkoerant as volg vas:

Koning Sedekia gevang, sy seuns geslag – is dit die einde?

Van ons Ou Testament redaksie
JERUSALEM. – ’n Volk het gesterf. Die magtige ystervuis van Nebukadnesar het die volk Juda verpletter, koning Sedekia gevang, en sy seuns gedood. Talle van die adel van Juda is ook doodgemaak.

Die hoofstad Jerusalem, wat reeds agtien maande lank beleër word, wag nou in spanning vir die onvermydelike uiteinde van dié nagmerrie. Wanneer Nebukadnesar uit Ribla hier aankom, sal die plundering van die stad in alle erns begin.

Politieke kenners voorspel dat Nebukadnesar nie net die stad sal platvee en verbrand nie, maar ook die room van die land se inwoners in ballingskap sal wegvoer. Net die eenvoudiges en die sukkelaars kan nou redelik gerus slaap met die wete dat hy hulle waarskynlik met rus sal laat, omdat hulle nie ’n bedreiging vir sy gesag in Palestina inhou nie. Vermoedelik sal hy ’n regent aanstel om in koning Sedekia se plek die land te regeer.

Die lot van die twee-en-dertigjarige koning Sedekia is onseker. Berigte lui dat hy in die nag uit die stad probeer vlug het, maar op die Jerigovlakte gevang is en na Nebukadnesar in Ribla gebring is om verhoor te word. Nadat hy moes toekyk hoe sy eie seuns geslag is, is sy oë uitgesteek, en is hy in bronskettings geboei en na Babel geneem. Na verwagting sal hy daar tereggestel word.

Intussen is die situasie in die stad haglik. Kos is totaal onverkrygbaar, aangesien Nebukadnesar se magte nou al vir die tweede agtereenvolgende seisoen die lande se oeste gevat het. Ten spyte van koning Sedekia se gevangeneming word die stad steeds beleër.

Godsdiensleiers hier in die stad is steeds hoopvol dat Jahwe sal ingryp om Nebukadnesar te stuit. Die profeet Jeremia het egter gewaarsku dat dit ’n ydele hoop is. “Ek het in die Naam van die Here by koning Sedekia gepleit dat hy hom moet oorgee aan Nebukadnesar. God sou hom én die stad dan gespaar het. Hy wou egter nie op God vertrou nie en het hardkoppig gebly. Nou is daar geen uitkomkans meer nie. Die oordeel van die Here het ons ingehaal,” het Jeremia gesê.

Tot hier die Bybelkoerant.

Jeremia se boodskap

Jeremia was vir 40 jaar ’n profeet en hy het al die trauma beleef. Hy het moontlik rondom 580 vC in Egipte gesterf.

Jeremia het al die slegte gebeure met God in verband gebring. Die ellende was God se oordeel omdat die volk vir God verlaat het. God oordeel die volk.

Juda se krisis was dat die verwoesting en ballingskap hulle verstaan van hul verhouding met God bedreig het. Hoe kon hulle God se teenwoordigheid bedink sonder die tempel in Jerusalem en sonder Dawid se nakomelinge op die troon?

Die oordeel is egter ook hoopvol, want dit trek die volk weer nader aan God. Berou skep geleentheid en nuwe moontlikhede. In hulle krisis ontdek hulle God weer nuut en hoor hulle die Here se beloftes. Daarom praat die profete ook hooptaal – taal van herstel en lewe.

Wagtende gemeenskap

In die ballingskap hoor die volk dat God nog nie met hulle klaar is nie. Hulle sien weer God se liefde, geregtigheid en trou. Hulle hoor God se beloftes en die getuienis van God se herstel. Dit begelei mense, toe en nou, om die groot tragedies van die lewe in die oë te kyk.

Jeremia moedig Juda aan om te wag op God. Die ballinge word ’n gemeenskap wat wag, ’n oproep wat ons dadelik aan Adventstyd, wat “wagtyd” is, verbind.

Beloftes

Israel wag op die vervulling van God se beloftes. In die klein Troosboek staan die volgende twee beloftes vandag vir ons uit:

  • Die eerste belofte is dat herstel en genesing sal plaasvind (33:6). [Dit is nie deel van ons teks nie, maar die prediker kan gerus hierna verwys.] God, wat uitgebeeld word dat Hy sy gesig verberg het, sal hulle lot verander. Ten tweede sal Hy ook die lot van die land verander, wat tot vreugdegesang soos met ’n bruilof sal lei. Die noem van verskillende plekname (33:12-13) dui op die grootheid en wydheid van die herstel. Die beeld van ’n herder wat almal tel en die behoefte aan aandag ná al die trauma raaksien, word hier gebruik. God sal doen wat hulle nie self kan doen nie.
  • Die volgende belofte bestaan uit ons teks vir vandag. In dié gedeelte is die fokus op koningskap en die aard van goeie koningskap. God voorsien weer ‘n Koning wat geregtigheid en verlossing bring. Dit bind ons aan Adventstyd. Wat op pad is, is die vervulling van God se beloftes en geregtigheid, en veiligheid vir God se mense (Israel én Juda).

Ten spyte van die werklikheid van God se oordeel, leer ons dat God se genade en trou die oorweldigende kenmerk is van die manier waarop God met sy volk werk. Selfs al straf God hulle, is die bedoeling om hulle op nuwe paaie van liefde en geregtigheid te lei.

Hoe sinies is ons vandag?

Glo mense vandag nog in beloftes? Elke dag word beloftes aan ons gemaak deur leiers, advertensiemaatskappye en vriende. Van kleins af word ons geleer dat God ook beloftes aan ons maak. Die Skrif is vol daarvan en ons word uitgenooi om dit te vertrou. Ons sukkel egter daarmee omdat ons min ander beloftes wat aan ons gemaak word, ernstig kan opneem.

Vandag word ons genooi om opnuut te hoop.

Grammatika van hoop

Die boek Jeremia plaas hoop binne perspektief. Dit herinner dat hooptaal nie net die taal is vir wanneer dit goed gaan nie, maar dalk juis vir tye van wanhoop.

As jy tyd aan hierdie Bybelboek spandeer, sal jy gou agterkom ons praat van niks soetsappigs nie. Beloftes is nie net pleisters op wonde nie. Jeremia is ’n getuie van verskriklike trauma waaraan die meeste van ons nog nooit blootgestel is nie, behalwe op televisie. Ons lees van lyke wat in strate rondlê, die ervaring dat God sy gesig weggedraai het. Soos binne enige ander oorlogsituasie, sou daar verkragting, alle vorme van geweld en vernietiging – in dié geval die vernietiging van simbole van God se sorg en teenwoordigheid (die tempel en Jerusalem) – wees.

En dan, in die middel van dié profeteboek tussen hoofstukke van trauma, is daar ’n klein boekie van bemoediging en hoop. Persentasiegewys is dié soort taal verreweg die minste in die profeet se woordeskat. Ons kan egter argumenteer dat dit wel die swaarste weeg.

Jeremia 33 is deel van hierdie hoopwoorde, en binne dié hoofstuk kry ons uitsprake van die Here wat beloftes bevat. Dit is beeldryke hooptaal met die fokus nie bloot op dit wat gehoop word nie, maar op die Een op wie daar gehoop word. Dit laat ons iets raaksien van wat God wil en van watter soort God so ’n wêreld van herstel vir sy volk wil hê.

‘n Leier deur God gestuur

Een sodanige belofte waarvan ons in Advent lees, het te make met Dawid se koningskap. Vir Jeremia, soos die ander ná-ballingskap-profete, was daar die verwagting dat ’n leier sal kom wat sal regeer soos God nog altyd van leiers verwag het om te regeer: met reg, geregtigheid en billikheid. ’n Manier van heers wat God se heerskappy weerspieël, wat aan die stad waarbinne hy regeer ’n nuwe naam sal besorg, want dit is hoe dit gesien sou word.

Ons wat vanuit die evangelieverhaal teruglees, herken hierdie aard van heerskappy, want ons ken Jesus. Ons is egter ook diep bewus daarvan dat Jesus se koms en die viering daarvan nie ’n groot verskil maak aan die leierskap wat ons daagliks omring nie. Ons voel net so moedeloos soos Israel en Juda oor die herders wat nie na hulle skape kyk nie. Ons hoop steeds, ons verlang steeds.

Hoop ondanks die omgewing

Maar waarna? Die beloftetaal daag miskien ook ons verwagting van Jesus en ons eie verstaan van heerskappy en leierskap uit. Binne trauma of moeilike tye kon God wraak en ’n magtige nuwe heerser belowe het. Ons ontvang egter woorde van vrede, sekuriteit en veiligheid. Die beloftetaal moet ons ook kan dra in tye van verlies en wanneer ons verstotenheid ervaar.

Draers van hoop

Terwyl ons in Adventstyd hoop en op Jesus, ons Hoop, wag, moet ons ook hierdie hoop uitdra waar ons in ons gemeenskappe is. Kom ons word leiers wat dien, troos en herstel, wat na trauma en smart luister, en saam na ’n beter toekoms verlang en streef. Ons weet die toekoms is ’n geskenk van God, maar ons ontvang dié geskenk eers werklik as ons dit waar genoeg ag om nou reeds iets daarvan sigbaar te maak, as ons die beloftes ernstig opneem. Ons gemeenskappe moet ook genoem kan word: “Die Here is ons geregtigheid.”

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang 
Lied 325 “Uit oorvloed van genadeof
VONKK 142 Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer [bekend -selfde melodie as “Zion’s Daughter”]

Seën 
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur tye van hartseer.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef.
Amen
OF
Aangepas op grond van 1 Tessalonisense 3
Mag die Here julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.

Respons
Flam 386 “Mag die God van hoop” 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.