Eerste Sondag ná Epifaniefees

Sections

Oorsig

Epifanie gaan oor die koms van God se Lig na hierdie wêreld. Genesis sê God het lig geskep en gesien die lig is goed. Psalm 29 praat ook van God se heilige verskyning. Die Here verskyn en sy magtige stem bring die ganse skepping in verwondering voor Hom. Die Markusteks vertel ons Jesus se bediening begin by sy doop. Hier sê God, Jesus is sy geliefde Seun oor wie Hy hom verheug. Hiervandaan leef Jesus sy bediening uit; in Hom het die koninkryk van God naby gekom. In Handelinge lees ons hoe die kerk hierdie bediening voortsit. Paulus doop nou in die Naam van Jesus; só kom die koninkryk van God weer eens naby.

Ander tekste

Genesis 1:1-5
God se skeppingswerk
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”
En daar was lig.

4God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

Psalm 29
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Markus 1:4-11
4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6Johannes het klere van kameelhaar gedra met ’n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 7Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. 8Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word gedoop
(Matt 3:13–17; Luk 3:21–22; Joh 1:29–34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Fokusteks

Handelinge 19:1-7
Apollos preek in Efese
24Intussen het daar ’n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ’n begaafde spreker met ’n deeglike kennis van die Skrif. 25Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes. 26Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak.

27Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig en vir hom ’n brief saamgegee aan die gelowiges daar om te versoek dat hulle hom vriendelik moet ontvang. Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, 28want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is.

Paulus in Efese
19 Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry 2vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”
“Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord.

3“Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe.
“Die doop van Johannes,” antwoord hulle.

4Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.”

5Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. 6Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. 7Hulle was altesaam omtrent twaalf.

8Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. 9Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak. Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou. 10Dit het twee jaar lank so aangehou, sodat al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het.

Die seuns van Skeva
11God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen. 12Selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdwyn; en die bose geeste het uit hulle uitgegaan.

13Party Jode wat rondgegaan het om bose geeste te besweer, het dit ook gewaag om die Naam van die Here Jesus daarvoor te gebruik. Hulle het gesê: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.” 14Dit was die sewe seuns van ’n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het.

15Maar een van die bose geeste het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?”

16Die man met die bose gees spring toe onder hulle in en oorweldig hulle. Hy was te sterk vir hulle, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit daardie huis gevlug het.

17Al die Jode en Grieke wat in Efese gewoon het, het daarvan te hore gekom. Vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is geprys. 18Baie van die mense wat gelowig geword het, het ook gekom en al hulle towerpraktyke openlik bely en bekend gemaak. 19Heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was.

20So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede:  Lied 336 “Dit is die dag deur God geskenk”

Votum: Psalm 29

Seëngroet

Lofsang
Psalm 29 “Prys die Here,  hemelinge” [Leesrooster-Psalm]
Lied 371 “Redder van ons lewe” [Epifanie] of
Lied 342 “O Jesus, ons Heer, U het ons verbly” [Epifanie]

Doopherinnering
Gaan staan by die doopvont.   Herinner die gemeente aan die betekenis van hul doop (of lees ‘n verkorte weergawe van die doopformulier).

Die doop in die Naam van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, beteken en verkondig:

  • dat ons en ons kinders, wat as sondaars in die wêreld gekom het, slegs in die koninkryk van God
  • kan kom as ons opnuut gebore word;
  • dat die Here daardeur bevestig dat Hy ons in sy verbond insluit, ons tot sy kinders aanneem en ons deel laat hê aan al die voorregte van die verbond;
  • dat ons en ons kinders verbind word aan Christus wat ons sonde deur sy bloed afgewas het;
  • dat ons ou, sondige lewe saam met Hom aan die kruis gesterf het en saam met Hom begrawe is, maar dat ons ook weer deur sy opstanding lewend gemaak word sodat “ons vir die sonde dood is en vir God lewe” (Rom 6:11);
  • dat die doop ’n seël is van die inlywing in die kerk van Jesus Christus en ons verplig om as lewende lidmate te leef;
  • dat ons as gedooptes die Here uit dankbaarheid met ons hele wese moet liefhê, vertrou en dien,
  • en dat die Here ons deur hierdie sakrament verseker dat Hy deur sy Gees in ons woon en ons lewe daagliks so regeer dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon.  (Uit:  Handleiding vir die Erediens, BybelMedia)

Gee kans vir stil gebed, waarin mense vir God dankie sê dat hulle deel is van Jesus en van Sy gemeente.

Lied 346 “Ek kniel ook voor u voete, Heer” [Epifanie]
of
Lied 292 “My enigste troos”

Liedere

F174. “Here, Dis Al Weer Ek”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Teks en Musiek: Willem Gouws
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Here, dis al weer ek
Ek het probeer
maar al hierdie sonde
gebeur weer ‘n keer.
Heer, vergewe my.
Ek wil by U bly.

Refrein:
U tel my op wanneer ek val
En U is daar wanneer ek struikel
En elke keer as ek weer probeer,
vergewe U my nog ‘n keer.

2. Here, dis al weer ek.
Ek’s nou skoon gewas.
Deur die bloed van Jesus
hou U my vas.
U vergewe my.
Ek wil in U bly.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor hulle doop.  Dalk kan jy vooraf ‘n paar doopfoto’s kry en wys.

Vra wie van hulle die eerste Toy Story fliek gesien het?  Andy het ‘n klomp speelgoed waarvoor hy baie lief is.  Dan kry hy ‘n Buzz Lightyear persent.  Buzz weet egter nie dat hy ‘n speelding is nie!  Hy dink hy’s regtig ‘n ruimtevaarder.

Andy skryf sy naam onder Buzz se voet.  So weet Buzz dat hy aanvaar is, dat hy nou een van hulle is.  Hoewel Woody afgeskeep voel, herinner Andy se naam onder aan sy voet hom ook dat hy Andy s’n is en dat Andy lief is vir hom.

Ons doop is amper soos wanneer Andy sy naam onder aan sy speelgoed se voete skryf.  In ons doop skryf Jesus sy Naam op ons – met permanente ink!  Jesus sê dat ons Syne is.  Ons word ook deel van die gemeente.

Ons word nie eers lidmate van die kerk wanneer ons Openbare Belydenis van Geloof aflê nie.  Dis nie iets wat óns doen nie – dis iets wat “aan ons gedoen word”.  Ons kies ook nie self om Jesus se kinders te word nie – dis iets wat Jesus vir ons gee.

Wys die uittreksel uit Toy Story.

Preekriglyn

Meer as veertig jaar gelede het ‘n gemeente in Filadelfia, VSA, toegekyk hoe drie seuntjies gedoop en deel van die gemeente geword het.  Nie lank daarna nie, het die gemeente hul kerkgebou verkoop en ontbind.

Een van hierdie seuntjies was dr. Tony Campolo, wêreldbekende Christen-sosioloog van Eastern University in Pennsilvanië.  Campolo vertel: “Jare later, terwyl ek navorsing gedoen het in die argiewe van ons denominasie, het ek die gemeenteverslag van die jaar van my doop nageslaan.  Daar sien ek toe my naam, en die name van Dick White – vandag ‘n sendeling – en Bert Newman, ‘n professor in teologie aan ‘n teologiese skool in Afrika.”

Die verslag gaan voort: “Dit was nie ‘n goeie jaar vir ons gemeente nie.  Ons het 27 lede verloor.  Net drie nuwe lidmate het by ons aangesluit, en hulle was almal kindertjies.”
Grafika: A Night with Dr. Tony Campolo (10.11.10) (#1)
This photo belongs to  dim7chord’s photostream (4,624), Bradley Siefert.
This photo was taken on October 11, 2010 using a Nikon D90.
Kopiereg laat plasing toe

Krag van die doop

Campolo se gemeentelike verslag onderskat die krag van die Christelike doop.  Of beter gesê:  dit onderskat die krag van die Naam van dié God wat God in die doop aan mense verbind.  Dit onderskat die krag van die drie-enige God wie se Naam by die doop in dieselfde asem as die dopeling se naam genoem word.  Dit onderskat die diepe verbintenis en beloftes wat die Vader deur die Seun met mense maak, en wat beseël word deur die krag van die Heilige Gees.  Dit onderskat die getuieniskrag van gedooptes se lewe.

Gedoop in Efese

Ons teksgedeelte vertel van ‘n doophandeling in Efese.  Twee dope word hier in dieselfde asem genoem.  Die een is die doop van Johannes.  In die vorige hoofstuk word vertel van Apollos, ‘n medewerker in diens van die evangelie, wat ander noukeurig in Efese oor Jesus leer, maar net geweet het van die doop van Johannes (18:25).  Priscilla en Akwila neem hom na hulle huis en maak vir hom die leer van God nog duideliker.

Daar was nog mense in Efese wat net van die doop van Johannes gehoor het.  Wanneer Paulus in Efese aankom, kry hy ‘n groepie dissipels (19:1) wat self nog onduidelikheid het oor die groot dade van God.  (Die Nuwe Afrikaanse vertaling vertaal die woord “dissipels” hier foutiewelik met “gelowiges”).  Hulle het nie geweet dat die Heilige Gees reeds uitgestort is nie.  Hulle het ook nog net die doop van Johannes ontvang.

Paulus doop hierdie dissipels dan, altesaam sowat 12, in die Naam van die Here Jesus.  Die Heilige Gees kom op hulle, en hulle begin ongewone tale gebruik en profeteer.

Later in hoofstuk 19 word dan vertel hoedat Paulus die gelowiges in Efese verder leer in die saal van Tirannus.

Verdiepte geloofskennis

Beide Apollos en die sowat twaalf dissipels wat weer gedoop word in Efese is mense wie se geloofskennis deur Priscilla en Akwila, asook Paulus, verder verdiep word.

Apollos was ‘n Jood wat in Aleksandrië, Egipte,  gebore is.  Hy het ‘n deeglike kennis van die Skrif gehad (18:24), maar sy geloofskennis moes verder in Efese verfyn word.  Dieselfde geld die twaalf dissipels wat Paulus in Efese ontmoet.  Ook hierdie twaalf was waarskynlik Jode.  Met die verwysing na “omtrent twaalf” (19:7) – ‘n sterk simbolies getal vir Jode – suggereer Lukas dat hulle van Joodse afkoms was.

Die dinamika in ons teks vertel dat daar ‘n tyd in die vroeë kerk se geboorte-oomblikke was dat die sentrale oortuigings rondom geloof nog nie oral gevestig was nie.  Die wesenlike feite rondom God se groot werke, soos die instelling van die doop as seël van God se verbintenis aan mense, en die uitstorting van die Heilige Gees moes nog oral bekend gemaak word en effek hê.

Ons teks vertel hoe mense se toewyding en geloof verdiep is deur die deel kry aan die volle omvang van God se werk in hul lewens.

‘n Moeilike teks

Daar moet by ons geen twyfel wees dat Handelinge 19:1-7 ‘n moeilike teks is nie.  Dit is die enigste keer in die Bybel dat ons lees hoedat mense ‘n tweede keer gedoop is – eers met die doop van Johannes, en dan later met ‘n doop in die Naam van Jesus.  By hierdie tweede doop ontvang mense dan die Heilige Gees en spreek hulle in tale.

Hierdie teks kan misbruik word.  Hierdie een, enkele vertelling, kan gebruik word om ‘n doopteologie te bou wat herdoop propageer.  Mens kan ook hiermee ‘n teologie bou wat praat van ‘n “first blessing” (om Christus te ontmoet) en ‘n “second blessing” (om die Heilige Gees te ontvang en in ongewone tale te praat – glossolalie).

Mens kan met so ‘n teologie Christene in twee kategorieë probeer indeel – die first blessing Christene wat nog net die ABC van geloof ken, en die second blessing Christene wat die Gees het en die spreke in tale as gawe en bevestiging daarvan ontvang het.

Bloot die feit dat ons net een keer in die Nuwe Testament van ‘n herdoop lees, moet mens uiters versigtig maak om met hierdie blote vermelding ‘n bitsige, verdelende doopteologie te bou.  Dit kan en mag nie gebeur nie.

Merkwaardig hoe verdelend doopteologie kan wees.  Ons lees al in Johannes 4 hoe daar spanning in Jerusalem ontstaan wanneer dit blyk Jesus se dissipels doop meer mense as Johannes  die Doper.  Dan verlaat Jesus Jerusalem summier.  Hy onttrek Hom aan ‘n vrugtelose debat.

In die kerklike lewe het doop met getalle en met lidmaatskap te doen.  Daar is mag en voordeel vir kerke gekoppel aan die hoeveelheid mense wat hulle doop.  Spesifiek om hierdie rede het die doop ‘n plofbare en verdelende effek as dit misverstaan word.  Alle kerke en hulle teologie moet dus daarteen waak om nie van die doop ‘n twispunt te maak nie.

Gedoop in die Naam van die Here Jesus

Ons teks kontrasteer die doop van Johannes met die doop in die Naam van die Here Jesus.

Die doop van Johannes was ‘n bekeringsdoop.  Dit was ‘n teken van verootmoediging en skuldbelydenis voor God.  NT Wright verduidelik dat die Jode aan die begin van Jesus se bediening oortuig was dat die ballingskap nog nie regtig beëindig was nie.  Die volk Israel was steeds onder die oordeel van God, al was hulle terug in hul eie land.  Die ballingskap het voortgeduur, want vreemde magte het steeds oor hulle geheers.  Eers was die Persië (na hul terugkeer), gevolg deur Aleksander die Grote, daarna Antiogus Epifanes, wat die tempel verontreinig het,  en – in die tyd van Johannes – deur die Romeinse Ryk wat deur Herodes en sy koningshuis beheer oor Israel uitgeoefen het.

Berou en bekering was die aangewese manier waarop die volk hulle voor die Here verootmoedig het en gesmeek het dat die herstel van die volle heerlikheid van God se koninkryk moet plaasvind.

Jesus ondergaan ook die doop van Johannes.  Daarmee sit Jesus sy skouer onder die sonde en die vervreemding van die volk in, en begin Hy sy openbare bediening.

Die doop in die Naam van Jesus (soos ons teks dit noem) word ingestel nadat Jesus se verlossingswerk plaasgevind het.  Hierdie doop beseël God se trou, die waarheid van God se beloftes, die insluiting van die gedoopte in God se genadekring, en sodoende die vaste verbintenis (verbond) wat God met mense maak.

Die Christelike doop is dus iets anders as die doop van Johannes.  Laasgenoemde is ‘n kreet om redding.  Die Christelike doop is die diepe bevestiging van God se redding, en van God se inisiatief om mense in te sluit in ‘n band met God.

Die doop van Johannes wys vooruit, roep vooruit, na God om in te gryp in die omstandighede van sy volk.  Dit bely en vra vergifnis.  Die doop in Christus se werk in verteenwoordig God se genadige antwoord.  Dit is God se boodskap van aanvaarding, omhelsing en versoening met sondaars.  Die Christelike doop doen iets aan die gedoopte: dit is God se aksie in die lewe van die gedoopte, en die gemeenskap van gedooptes.

Mense weet dit nie vanself nie.  Vandaar die beweging in ons teks: mense word ingelei in die groter kennis van God se werk (Apollos en die 12 Jode) , en mense ervaar dit in die doop in die Naam van Jesus (groep van 12).

Gedoop IN die Naam van die Here Jesus IN

Wat beteken dit om “in die Naam van die Here Jesus” gedoop te word? (vers 5)  Die teoloog Leonhard Goppelt verduidelik dat dié woorde beteken “baptised into the Lord” – in Afrikaans “gedoop in die Naam van die Here Jesus IN.”  Hierdie uitdrukking beteken dat die dopeling verbind word aan die verhoogde Here Jesus:

Both belong together: baptism accomplishes repentance and forgiveness because the exalted One places the person being baptized into relationship with himself. Baptism joined the baptized person not only to the exalted One, but also to other baptized persons or disciples who at Pentecost had received the Spirit without baptism.

(Bron: Preekstudies en Liturgiese Voorstelle 2011-12)

Om gedoop te word in Christus se Naam verbind ons aan die Here en aan mekaar.

Verbind aan mekaar

Gedooptes is aan God, deur Christus, verbind, maar ook aan mekaar.  Die doop skep die kerk.  Die doop bring nuwe gemeenskap tot stand – met God en met mekaar.

In die boek Handelinge speel die doop ‘n sleutelrol in die ontstaan van die kerk.

Die doop bind mense aan mekaar omdat die storie van die kerk ’n “in Jesus in”-storie is. Die doop in die boek Handelinge  was nooit ’n individualistiese of persoonlike verryking nie. Die doop het met verhoudings en gemeenskap en kerkwees te maak. Dis die storie van die kerk. Soos Goppelt skryf: “Unlike those who returned home once they had been baptized by John the Baptist, the baptized Christians became a distinct group . . .” George Ladd skryf dieselfde: “The baptism with the Spirit is the act of the Holy Spirit joining together into a spiritual unity people of diverse racial extractions and diverse social backgrounds so that they form the body of Christ – the ekklesia.”
(Leesrooster 2011-12)

Christelike identiteit

Mens vra tereg wat hierdie moeilike teks vir ons vandag beteken.

Eerstens help die teks ons verstaan wie ons is.  Ons is mense aan wie God Godself verbind het deur Christus.  Ons doop is die teken en seël hiervan.  God kom na ons en maak ons nuut.  Ons glo omdat ons gedoop is.

Ons is nie net aan God verbind om grond van God se inisiatief nie.  Ons is ook aan mekaar verbind.  Ons is die Here se kerk.  Ons is deel van die Here se plaaslike kerk, daar waar ons woon.  Maar ons is ook deel van die Here se kerk regoor die aarde, en deur alle tye.  Ons is aanmekaar gegee.  Dit het geweldige implikasies vir hoe Christene mekaar behandel.

Tony Campolo se gemeente, waar hy en sy vriende, gedoop is, het toegemaak.  Maar daardie gemeente het hulle drie as gawe aan die Here se kerk regoor die wêreld geskenk.

Die verhelderende onderrig wat in ons teks gegee word, beteken dat die kerk (ons gemeente) vandag nog moet voortgaan om mense oor ons Christelike identiteit te onderrig.

Gedoop en versoen

Ons is in Christus Jesus in gedoop.  Ons is versoen met God en met mekaar.

Dit is skrikwekkend dat Christene reg oor die wêreld juis die doop gebruik om verskeurdheid tussen Christene te skep.  In hierdie opsig is min, indien enige, Christelike kerke se hande skoon.  Juis die doop word gebruik om Christene teenoor mekaar af te speel.

Hoewel ons moet sê dat hierdie teks nie gebruik kan word om ‘n teologie van wederdoop te verdedig nie, kan ons ons eie uitleg van die teks soos ‘n Bybel-koeël gebruik om ander Christene af te skiet.  Kom ons weerhou ons daarvan, en leef vanuit die versoening met God en met mekaar – waarvan die doop getuig.

Laat ons mekaar leer, herinner en help om as versoendes te lewe.

Gedoop en bemagtig

In Handelinge 19 ontvang die groepie van 12 die Heilige Gees by hulle doop.  Dit is betekenisvol, want die Christelike doop wat Jesus instel, is ‘n doop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees.

Dit is die Heilige Gees wat ons help om dit wat God aan ons toesê en doen in die doop, op ons behoort  toe te eien en te omhels.  Die Gees bemagtig ons om vanuit ons doop te leef.  Die Gees bemagtig ons om God te gehoorsaam en ons nuwe identiteit uit te leef.  Ons glo en gehoorsaam omdat ons gedoop is – óók in die Heilige Gees.

As Geesgedrewe gemeenskap moet ons gemeente mede-gelowiges vandag help om as bemagtigdes te lewe.  Die dinamika in gemeentes is ongelukkig veels te veel een van ontmagtiging en ontmoediging.

Gedoop om te getuig

Opvallend genoeg gee die Gees aan die pas gedooptes in Handelinge 19 die gawe om in tale te spreek en te profeteer.  Hulle monde gaan oop.  Om in tale te spreek is die gawe om op ‘n nuwe manier met God te kommunikeer.  Hulle monde gaan ook teenoor hul medemens oop, want hulle profeteer.  Profesie is die gawe om ‘n gepaste woord, wat tot gehoorsaamheid lei, te spreek.

Ons kan sê hulle doop en die bemagtiging deur die Gees mond in getuienis uit.  Dit gebeur met die hele groep.  Hulle word deel van die ontluikende kerk in Handelinge, en hulle kry deel aan die getuienistaak van die kerk.

Hoe kan ons gemeente vandag ‘n gemeenskap van getuienis wees?  Hoe gaan ons mekaar help om daar waar ons elke dag kom, ons lewens lewes van getuienis te maak?  Watter kreatiewe maniere is daar om getuies te wees?

God stuur ons om te leef

Oordenking:
Laat mense hul doop visualiseer – waar dit was, wie daar was, wat hulle aangehad het.  Jy kan ook geleentheid gee vir mense om hul hande in die doopbak te kom sit en so biddend die betekenis van hul doop te oordink.

Gebed
Dankoffer

Slotlied:  Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is”

Seën
Aan almal in [Rome] vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus [deur die werking van die Heilige Gees]!

Respons 
[Epifanie] Lied 371 se refrein:  Loof, loof die Heer of
[doop] Lied 293 se refrein:  Loof die Here, loof hom almal!  Halleluja! Amen.

Hier is ’n voorstel vir Huisgodsdiens, indien jy dit sou wou gebruik:

Rus
Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

Hoor
Lees Handelinge 19:1-7 (julle kan dit gerus uit ‘n eenvoudiger vertaling lees).

  • ­Gesels oor die teks.  Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan – wat sê dit vir julle?
  • Hierdie verse vertel vir ons hoe die evangelie buite Jerusalem versprei is:  Apollos het die evangelie in Korinte verkondig en Paulus het dit in die binneland tot by Efese verkondig.  (As julle vrae het oor die praat in tale, lees 1 Kor. 12:7-11; 14:1-5.  Onthou, die praat in tale is NIE ‘n teken van vervulling met die Heilige Gees nie.)
  • Is daar mense vir wie julle kan help om God beter te verstaan?  Hoe kan julle dit doen?

Leef
Vertel vir mekaar wat julle hoop vir hierdie jaar.  Gee genoeg tyd om spesifiek vir elkeen se behoeftes vir die jaar te bid.
Gaan deur jul gebedslys – is van jul gebede al beantwoord?  Sê dan dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid  saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.