Eerste Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Op die eerste Sondag ná Epifianie is die Evangelielesing altyd die verhaal van Jesus se doop. Om dié rede is ‘n doopviering of doopherinnering gepas. Terwyl Matteus 3 die verhaal van Jesus se doop vertel, vertel Handelinge 10, die sleutelteks vir vandag, die verhaal van Petrus se toespraak by Kornelius se huis. In aansluiting by die Evangelielesing, lees ook Handelinge 10:44-48 waar Petrus vir Kornelius en sy huisgesin doop. Die preekstudie lig die ooreenskomste tussen hierdie twee doopgeleenthede uit en verbind dit ook met ons eie doop. Jesaja 42 vertel van die dienaar van die Here. Soos met albei die vorige teksgedeeltes, lees ons ook hier dat die Gees van die Here op hom kom. Psalm 29 is ‘n lofpsalm en besing die stem van die Here wat magtige dinge doen. Dit is dieselfde stem wat met Jesus se doop bevestig dat Hy God se geliefde Seun is. Daar is baie stemme in vandag se teksgedeeltes en daarom ook in die liturgiese voorstel. Nooi die kinders gerus om te luister of dalk op ‘n kontrolelys af te merk elke keer as hulle iets van ‘n stem/stemme hoor.

Ander tekste

Jesaja 42:1-9
Hier is my dienaar, Ek stel hom aan.
Ek het hom uitverkies,
hy geniet my guns.
Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies
bekend maak.
2Hy sal nie roep nie,
hy sal nie hard skree nie,
hy sal nie sy stem op straat
laat hoor nie.
3’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie,
’n lamppit wat dof brand,
sal hy nie uitdoof nie.
Hy sal my wil bekend maak soos dit is.
4Self sal hy ook nie uitgedoof
of geknak word nie
totdat hy my wil op aarde gevestig het.
die eilande wag op wat hy hulle sal leer.
5So sê God, die Here,
Hy wat die hemelkoepel geskep
en dit oopgespan het,
Hy wat die aarde gevorm het
en alles wat dit oplewer,
Hy wat aan al die mense op aarde
die asem gee,
die lewe aan alles
wat op die aarde beweeg:
6Ek is die Here.
Omdat Ek getrou is aan my verbond,
het Ek jou geroep.
Ek hou jou vas,
Ek beskerm jou
en Ek maak jou my verbond
met my volk,
my lig vir die nasies.
7Jy sal blindes laat sien,
jy sal gevangenes uit die tronk bevry;
wie in die donkerte
van die gevangenis sit,
sal jy laat uitgaan.
8Ek is die Here, dit is my Naam,
die eer wat My toekom,
gee Ek aan geen ander nie,
die lof wat My toekom,
gee Ek nie aan gesnede beelde nie.
9Wat Ek vroeër aangekondig het,
het plaasgevind.
Ek kondig nuwe dinge aan.
Voor dit begin gebeur,
laat Ek julle al daarvan hoor.

Psalm 29
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Matteus 3:13-17
13In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?”

15Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Daarna het Johannes ingestem. 16Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Fokusteks

Handelinge 10:34-43
Petrus en Kornelius
10 In Sesarea was daar ‘n man met die naam Kornelius, ‘n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment. 2Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.

3Een middag teen drie-uur het hy in ‘n gesig duidelik ‘n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!”

4Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?”

Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. 5Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar ‘n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. 6Hy is tuis by ‘n ander Simon, ‘n leerlooier, wat by die see woon.”

7Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, ‘n godsdienstige soldaat, geroep. 8Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur. 9Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. 10Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. 11Hy het die hemel oop gesien en iets soos ‘n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. 12Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. 13Hy hoor toe ‘n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.”

14Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.”

15Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”

16Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.

17Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon 18en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. 19Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek. 20Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.”

21Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”

22Hulle antwoord: “Kaptein Kornelius, ‘n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het ‘n openbaring deur ‘n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.”

23Petrus nooi hulle toe in en gee vir hulle huisvesting.

Die volgende dag het hy en ‘n paar van die gelowiges in Joppe saam met hulle gegaan 24en ‘n dag later in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en huisvriende reeds bymekaar geroep. 25Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel. 26Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net ‘n mens.”

27Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref, 28en hy sê vir hulle: “Julle weet dat ‘n Jood nie met iemand van ‘n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie. 29Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.”

30Kornelius antwoord: “Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik ‘n man met blink klere voor my, 31en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen. 32Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by ‘n ander Simon, ‘n leerlooier, wat by die see woon.’33Ek het dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.”

Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Mense wat nie Jode is nie, ontvang die Heilige Gees
44Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. 45–46Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: 47“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?”

48Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om ‘n paar dae by hulle te bly.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader”

Votum: Psalm 29:1-2

Seëngroet

Lofsang: Psalm 29 of Flam 210

Verootmoediging – doopviering: (uit Bybel-Media se Woord en Fees 2019-2020)

Geloofsbelydenis: Lied 290

Toewyding – doopviering (uit Bybel-Media se Woord en Fees 2019-2020)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Handelinge 10:34-43

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 92 of VONKK 272 of Lied 305 of Lied 523

Seën: (uit Bybel-Media se Woord en Fees 2019-2020)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader”

Votum: Psalm 29:1-2
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!

Seëngroet

Lofsang
Psalm 29 of
Flam 210Erken nou die Heer” (nav Ps 29)

Verootmoediging: (uit Bybel-Media se Woord en Fees 2019-2020)
Doopviering (terwyl liturgy by doopvont staan)

Voorganger: Die doop bevestig dat die Here ons in sy verbond insluit en ons tot sy kinders aanneem.
Gemeente: Ons is God se kinders.

Voorganger: Die doop bevestig dat ons sonde in Christus vergewe is en ons ou sondige mens saam met Jesus Christus in die dood begrawe is.
Gemeente: Ons sonde is vergewe.

Voorganger: Die doop is die seël van ons inlywing in die kerk van Jesus en ons word geroep om as lewende lidmate te leef.
Gemeente: Ons dien die Here uit dankbaarheid met ons hele wese.

Voorganger: Die doop verseker ons dat die Heilige Gees in ons woon en ons lewe daagliks so regeer dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon.
Gemeente: Die Heilige Gees maak ons beelddraers van God.

Geloofsbelydenis 
Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is”

Toewyding: (uit Bybel-Media se Woord en Fees 2019-2020)
Die gemeente word vorentoe genooi om kerse aan te steek of met water uit die doopvont ’n kruis op hulle voorkoppe of hande te maak. Dit is ’n viering van hulle doop en daarom ’n toewyding om as gedooptes ook ligdraers te wees, mense wat oor alle grense heen God se versoeningswerk in Christus verkondig en leef.

Liedere

F210. “Erken nou die Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering) Oorspronklike titel: Erken Nu De Heer Teks en musiek: Frank van Essen
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © Unisong Music Publishers geadministreer deur Small Stone Media South Africa
(Ps 29, 96)

1. Erken nou die Heer volke van die aarde,
erken nou sy Majesteit.
Kniel voor Hom neer want Hy is waardig
vol mag en heerlikheid.

Brug:
Hoor sy stem bo-oor die water en
hoor die donder, weerlig soos vuur.
Ontsagwekkend is sy magtige stem,
luister goed hierdie heilig’ uur.

Refrein:
Alle lof nou aan die ewige Heer,
alle heerlikheid en eer.
Kom verhoog sy Naam
en buig voor Hom neer.
Hy is Koning vir altyd.

2. Verhef dan jul stem, volk van die Here.
Verheug jul en juig voor Hom.
Sy Gees gee jul krag.
Hy seën met vrede
nuwe lewe is in Hom.

F92. “Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed)”
(RUBRIEK: Flam – Gebed Oorspronlike titel: Nkosi Sikelel’i Afrika Teks en musiek: Enoch Sontonga; verwerk deur Jan Hoogendyk
Afrikaanse vertaling: Onbekend © Publieke Domein

Seën ons, Here God, seën Afrika.
Laat haar klag tot in die hemel reik.
Hoor ons as ons in gebede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Hou u hand, o Heer, oor Afrika.
Lei ons tot by eenheid en begrip.
Hoor ons as ons U om vrede vra,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.

Seën ons, Here God, seën Afrika.
Neem dan nou die boosheid van ons weg.
Maak ons van ons sonde ewig vry,
seën ons in Afrika,
kinders van Afrika.

Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
Kom woon in ons,
lei ons, O Heilige Gees.

VONKK 272 “Heer, ons bid as reënboognasie”
Teks: Jacques Louw 2013 © Musiek: BLAENWERN – William Rowlands 1905 © Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Gebede

1. Heer, ons bid as reënboognasie
vir ons mooi en dierbaar land.
Ons kom lê ons land en mense
in u troue Vaderhand.
Mag u kinders wat hier saamwoon
na u wil soek en U eer.
Leer ons om met woord en dade
te bely: U is die Heer.

2. Heer, ons bid as reënboognasie
vir ons leiers wat regeer.
Mag hul ook u Woord gehoorsaam;
U erken as God en Heer.
Leer ons om met ons verskille
steeds mekaar te respekteer.
Laat ons voorbeeld ander aanraak,
laat u liefde ons regeer.

3. Heer, ons bid as reënboognasie:
Laat u vrede oor ons heers.
Al die seer uit ons verlede
kan net U, o Heer, genees.
Op u almag vas vertrouend
wil ons saam ‘n toekoms bou.
In geloof ons land en mense
in u hande toevertrou.

4. Kom, o Gees, wees U ons Leidsman,
wys die weg en rigting aan.
Laat ons koers hou deur die chaos
waardeur ons ook hier mag gaan.
Vader, hoor tog ons versugting
as ons in gebed kom vra:
Seën ons land en seën sy mense –
Vader, seën Suid-Afrika!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Handelinge 10:34-43

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

In Bybel-Media se Woord en Fees 2019-2020 word die volgende voorgestel:
Dit is die Sondag voordat die skool begin. Gesels met die kinders oor die jaar wat voorlê. Vertel die verhaal van Petrus en Kornelius. Petrus het nie gereed gevoel om te gaan waarheen God hom gestuur het nie, maar God het hom gehelp. Die Heilige Gees was nie net in Petrus aan die werk nie, maar ook reeds in Kornelius. Die Heilige Gees is ook reeds by die skool. Moedig die kinders aan om in alle mense, juis ook in mense van ander kulture en agtergronde, vir God raak te sien. 

Die kindertyd sou ook as deel van die doop(viering) gedoen kon word. Daar sou ‘n mens verder kon gesels oor ons identiteit as God se kinders en ons roeping om as kinders van God te leef. Carolyn C Brown gee goeie uitgebreide voorstelle vir kindertyd met die fokus op vandag se tekste. Besoek hier.

Brown stel bv voor dat die storie van “The Sneetches” vertel word – hier is ‘n video daarvan.  Max Lucado se boek “As ek maar ‘n groen neus gehad het”, sal ook goed werk.  Die boek is in Afrikaans beskikbaar en behoort geredelik by enige Christelike boekwinkel verkrygbaar te wees.  Hier is ‘n halfuur lange fliek oor die boek.

Die heel belangrikste is natuurlik dat kinders die Bybel self hoor en leer ken.  Veral die narratiewe tekste werk goed.  Hierdie Sondag kan jy die verhaal van Petrus se ontmoeting meet Kornelius vertel, wat die agtergrond bied vir Petrus se ommekeer en insig.  Dit sal ook die grootmense help!  Die YouVersion Bybel App vir Kinders gaan jou wonderlik hiermee help!  Dit is in Afrikaans beskikbaar.  Laai die verhaal van Handelinge 10 af en lees dit saam met die kinders.  Laat hulle op die prent klik om die bewegings en insigte oop te maak – dan is dit ‘n lekker inter-aktiewe saam-lees.  As dit nie in jou konteks kan werk nie, gebruik hierdie video van die Engelse weergawe daarvan.  Hier is ‘n inkleurprent van die verhaal.

Preekriglyn

Twee oorlogskepe was besig met maneuvers in swaar weer. Die sig was besonder swak weens die mis en die kaptein het by die uitkykpos gebly om ‘n ogie te hou.

Kort na skemer laat weet die wag aan die bakboord dat hy ‘n lig waarneem wat blykbaar stilstaan. Die kaptein besef dadelik dat die twee skepe op ‘n botsing afstuur en laat weet vir die seiner om die ander skip in kennis te stel dat hulle ‘n 20-grade aanpassing moet maak. Die boodskap kom terug: “Ek beveel jóú om 20 grade aan te pas.”

Die kaptein laat nie op hom wag nie: “Dit is die kaptein wat praat. Verander rigting met 20 grade!” Die antwoord kom terug: “Dit is die tweedeklas-seeman wat hier praat. Dit is beter dat jy jou koers wysig met 20 grade.” Woedend laat die kaptein weet: “Ek is ‘n oorlogskip. Pas jou koers onmiddellik met 20 grade aan!” Die stem aan die ander kant antwoord: “Ek … is ‘n vuurtoring.”

Aanpassing

Op komiese wyse illustreer hierdie verhaaltjie van Stephen Covey dat omstandighede ons dikwels dwing om ‘n aanpassing in ons denke te maak, anders kan die werklikheid ons dalk duur te staan kom. Sommige noem hierdie tipe van aanpassings in ons lewens ‘n verskuiwing in paradigma. So ‘n paradigma-verskuiwing funksioneer soos ‘n nuwe lens waardeur alles nuut beskou word. Dit impliseer ook nuwe gedrag.

Petrus se uitroep “Waarlik, ek begryp nou eers….” (vers 34) dui vir ons daarop dat daar by hom so ‘n paradigma-verskuiwing plaasgevind het. Dit was ‘n kragtige bekering.

Bekering is ‘n helder paradigmaskuif. Die manier hoe dinge tot nou vir jou sin gemaak het, geld nie langer nie. Dit gebeur met jou eerste bekering, maar die groot aanpassings of paradigmaskuiwe vind óók by jou plaas soos voortgaande bekering in jou lewe gebeur.

Petrus se bekeringservaring was ‘n proses met ‘n lang aanloop. Die visioen wat Petrus ontvang het (verse 9-16), het reeds sy denkprosesse aan die gang gesit. Die doek met die onrein diere moes vir hierdie Jood ‘n eienaardige ervaring gewees het. Maar daardeur het God die saadjie gesaai.

Kennisverandering

Petrus het dus ‘n kennisverandering ondergaan deurdat God vir hom tot nuwe insigte gebring het: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”

Die bekeringsproses het in aanvang geneem. Die mate waartoe hierdie kennisverandering by hom geskied het, word nog duideliker later in die verhaal. In Hand 10:28, wanneer Petrus in Kornelius se huis aan die woord is, getuig hy soos volg: “Julle weet dat ‘n Jood nie met iemand van ‘n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.”

Gesindheidsverandering

Maar nuwe insigte, feite en kennis is nie genoegsaam vir bekering in die Bybelse sin van die woord nie. Dit moet ook gepaard gaan met ‘n gesindheidsverandering.

Dit sien ons wanneer Petrus die drie gaste wat Kornelius gestuur het in sy huis innooi en aan hulle huisvesting gee vir die nag (vers 23). Die belangrike oortuigingswerk deur die Heilige Gees in Petrus se lewe, kan in dié verband nie onderskat word nie.

Gedragsverandering

Wanneer ‘n kennis- en gesindheidsverandering egter nie gepaard gaan met ‘n gedragsverandering nie, is die bekeringsproses nog nie volledig nie.

Petrus se optrede getuig daarvan dat die Gees nie net ‘n verandering in sy denke en gesindheid teweeg gebring het nie, maar dat hy ook gereed is om oor te gaan tot dade. Ons lees in vers 23 dat Petrus die volgende dag saam met sy gaste vertrek na Seserea, gereed om sy oortuigings in dade om te sit.

Dit bring ons by ons preekgedeelte waar Petrus se bekeringservaring tot voltooiing kom. In Kornelius se huis bely hy met oortuiging: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar uit enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is… ” (verse 34-35). Hy vat dit saam as hy in vers 36 sê: “Hierdie Jesus is Here van almal.”

Daarmee erken hy onomwonde, in teenstelling met dit wat hy so lank geglo het, dat God nie die God van ‘n groep is nie, dat God nie witbroodjies het nie, dat Hy vir niemand partydig is nie.

Groepsverandering

Petrus se gedragsverandering lei daartoe dat hy ook wil sien dat die groep waaraan hy behoort, se gedrag moet verander. Omdat Jesus waarlik die Heer van almal is, moes sy Joodse volgelinge ook tot bekering kom om “almal” raak te sien , na hulle uit te reik en in te sluit.

Die gedragsverandering van die groep word duidelik wanneer ons, in die verse wat volg op die preek-perikoop, lees hoedat die Joodse gelowiges met verbasing die kragtige werking van die Heilige Gees waarneem.

Boodskap vandag

Dit is duidelik dat Petrus se toespraak uiters aktueel is in die konkrete situasie waarin ons onsself in Suid-Afrika bevind. In ‘n land met chroniese en akute verdeeldheid volgens rasse-, kulturele, politieke, ekonomiese, kerklike en ander groeperings kan sy insig kwalik oorbeklemtoon word. Die perspektief dat God nie ‘n groeps-, stam- of partygodheid is nie is die manier waarop God sy kerk roep om Hom in vertroue en hoop hierin na te volg.

Dat dit in sommige gemeenskappe en gemeentes ‘n pynlike en selfs teësinnige bekering is, kan egter nie ontken word nie. Uit Petrus se verhaal word dit duidelik dat die oorsteek van groepsgrense aanvanklik nie as goeie nuus ervaar is nie. Hy was gewis gewoond aan groepsdenke wat nie getwyfel het oor die feit dat sy mense God se voorkeurkinders is nie.

Bedreig

Dit word natuurlik nog verder bemoeilik as mense hulself sien as ‘n bedreigde minderheidsgroep wat moet veg om oorlewing en behoud van identiteit.

In Petrus se omstandighede was tafelgemeenskap met die heidene ‘n taamlike tameletjie. Hulle reinheid was een van die pilare van die Joodse groepsidentiteit wat tot elke prys gehandhaaf moes word. Petrus beleef hoe hierdie hoekpilare van sy bekende wêreld inmekaartuimel. Tog gaan hy gehoorsaam saam op weg met die lewende God wat in Jesus die Heer van almal is.

Wat help bekering aan?

Ons sou wou vra wat was daar wat Petrus se “bekeringsproses” aangehelp het? Wat was dit wat dit vir hom moontlik gemaak het om tot hierdie nuwe insig te kom? In terme van die beeld wat ons aan die begin gebruik het: Wat het daartoe aanleiding gegee dat Petrus besef het dat die aankomende lig nie ‘n skip was nie, maar ‘n vuurtoring?

Een: Blootstelling
Eerstens is dit duidelik uit die verhaal dat Petrus en Kornelius mekaar nodig gehad het en dat albei se bekering moontlik gemaak is deur hul blootstelling aan mekaar.

Die rol wat die Heilige Gees in dié verband speel, moet weereens beklemtoon word. Elkeen van ons het waarskynlik uit eie ervaring iets om met die gemeente in dié verband te deel. Ons het almal ‘n sekere gebeurtenis, ontmoeting, ervaring wat ‘n lig laat opgaan het.

Maar nou is dit belangrik om te besef dat blootstelling op sigself nog nie ‘n bekering waarborg nie. Trouens dit kan selfs lei tot die verdieping van verskille en die bevestiging van vooroordele en wanpersepsies.

Dit is eers binne geloofsperspektief, met oë wat deur die Heilige Gees geopen is en wat lei tot geloof in God as die lewende Here van almal, dat hierdie blootstelling nuwe horisonne oopmaak.  Waar dit gebeur word dit vir ons as kerk en gemeente van die Here moontlik om ‘n hoopvolle bydrae te maak. En maak die krag van God se Gees dit moontlik om Hom vertrouend en gehoorsaam oor grense heen te volg. So word gesprek en blootstelling aan mekaar die weg waarlangs die Here sy werk doen.

Twee: In ‘n krisis
Tweedens wys ondervinding, bevestig deur die verhaal aan die begin van die preek, dat bekering as ‘n nuwe begin, gewoonlik eers ‘n werklikheid word as reaksie op ‘n krisis. Eers wanneer dit tot ons deurdring dat die lig wat ons waarneem gewis nie ‘n skip is wat gaan wegdraai nie, maar ‘n vuurtoring wat gaan bly staan, bring dit ons dikwels in beweging om aanpassings te maak.

Maar nou kan ons reaksie op so ‘n krisis op twee maniere geskied.

  • Ons kan eerstens poog om die motore van die skip af te skakel, in ‘n groep te versamel en te hoop en bid dat ons betyds tot stilstand gaan kom. Op dié wyse maak ons as’t ware ons oë toe vir die krisis wat aan die kom is, vlug ons weg, vind ons sekuriteit in die veiligheid van die groep.
  • ‘n Tweede reaksie sou wees om die krisis as ‘n positiewe moontlikheid te sien. Om dit te benader as ‘n hoopvolle geleentheid en elkeen aan die werk te spring om die nodige koerswysiging te bewerkstellig. Dit beteken dat die krisis gelaai is met nuwe, bevrydende en hoopvolle moontlikhede. Die boodskap van Jesus se koms na die aarde, wat ‘n week of wat gelede feesvierend herdenk is, gee juis vir ons die energie wat nodig is aan die begin van ‘n nuwe jaar.
Oorgangstye skep Christelike identiteit

Elna Mouton wys in ‘n artikel uit hoedat hierdie oorgangstye of drumpel-ervarings diep vrae oor identiteit na die oppervlak laat kom. Haar opmerkings kan ons help om Petrus (en die kerk) se bekering in die preek verder prakties te maak:

Oorgangstye is gewoonlik ontwrigtend en pynlik, omdat dit gepaard gaan met afskeid, losmaak en risiko’s. Met noodwendige aanpassings, met die herbeskrywing van rolle. Maar juis omdat drumpeltye reeds die belofte van die nuwe lewe in sigself dra; kan dit ‘n mens ook ánders laat kyk, nuwe kante van die werklikheid laat sien, jou verbeelding nuut aangryp. En só vir God, jouself en ander laat herontdek!

Identiteit het uiteraard baie kante, wat mettertyd ontwikkel omdat dit grootliks met perspektief te make het. Ons identiteit as Christene in Suid-Afrika – die somtotaal van wie ons is en graag wil wees – is onlosmaaklik verweef met die lief en leed van ons lewensverhale.

Ons stories verteenwoordig ‘n netwerk van verhoudinge, gebeure en keuses sedert ons kinderjare.

Dit alles tesame met die omgewing waar ons grootgeword het – die morele wêreld waarmee ons ons leer assosieer het; die waardes, deugdes en slagspreuke wat daarin geld. Ons het nie net individuele stories nie, maar ook groepsverhale wat ons groepsidentiteit stempel.

Só is ons ganse mens-wees – ons karakter, voorkeure en vooroordele, selfs ons humorsin en emosies – beslissend deur ons stories gevorm. Uiteindelik werk ons stories soos ‘n filter waardeur ons oor God nadink, en die Bybel verstaan.

God se verhaal

Natuurlik kan dit ook andersom werk! Naamlik dat God se verhaal, die Christelike verhaal, die geskiedenis van God se werk op aarde, die lens word waardeur ons nuut na óns stories kyk.

Die verhaal van die Bybel is juis bedoel om al ons biografieë, ons kulture, herinneringe, vrese en drome op te neem in ‘n splinternuwe verhaal, die betroubare verhaal van ‘n nuwe mensheid in geloofsverbondenheid aan die drie-enige God.

Waar ons bewustelik kies om ons eie geskiedenisse vanuit die gesigspunt van ‘n almagtige God se helende liefde te vertolk, word God se verhaal óns verhaal, ons diepste identiteit. Wie ons is, het dan alles te make met wie Gód is, en dat ons aan dié wonderbare God behoort. Dan word die vreemde verhaal van ‘n magtige koning wat heers deur te dien, van ‘n skande-kruis, ‘n oop graf en ‘n oop hemel die kern van ons selfverstaan.

Petrus moes sy Joodse verhaal laat opgaan in God se groter verhaal. Ons word deurgaans genooi om dit te doen. Dit is bekering: nie langer wat ek of ons wil nie, maar wat God wil doen.

Die vraag is dus: Wát sien ons, wáár fokus ons in die drumpeltyd?

Bekering beteken dus om nuut te begin, nuut te dink en te kyk as gevolg van die nuwe insig. Die vraag is: sien ons? Besef ons dat “die Here my God” niemand anders is nie as “die Here van almal”?

Saam is ons beter

Met die Rugby Wêreldbeker het Suid-Afrikaners besef hoe kragtig dit is wanneer ons kragte saamsnoer. Saam is ons beter.

Dit is ook waar vir kerk en geloof. Wanneer ons as Christene oor watter grense heen saamstaan en saamwerk, kan ons ‘n geweldige verskil maak. Christus het ons een gemaak. Laat ons dan een wees.

Dit gaan beteken dat ons ons eie grense moet oorsteek. Dit gaan verg dat ons nuut dink oor mekaar en Christen-vriende maak sover ons gaan.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 92 Seën ons Here God, Seën Afrika (Seëngebed) [bekend] of
VONKK 272 Heer, ons bid as reënboognasie of
Lied 305 “Aanbiddelike God, drie-enig” of
Lied 523 “Goddelike liefdebande”

Seën: (uit Bybel-Media se Woord en Fees 2019-2020)
Voorganger: Die wêreld waarin ons leef, is ’n wêreld wat gevul is met uitdagings, krisisse, pyn en teleurstelling. Julle gaan die wêreld in as mense wat intieme kennis het hiervan, want julle het dit al gevoel, ervaar en daarteen opgestaan. Gaan nou as mense wat nie net die wêreld sien vir wat dit is nie, maar ook vir wat dit kan wees, deur God se herskeppende liefde wat ook in en deur ons aan die werk is. Mag julle hande, harte en stemme gewillige instrumente in God se hand wees. Soos die Vader vir Jesus gestuur het, stuur Hy julle ook. Vrede vir julle!
Gemeente: Amen

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.