Eerste Sondag ná Epifanie

Picture of Woord en Fees

Eerste Sondag ná Epifanie

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jesaja 42:1-9
Ander tekste: Psalm 29; Matteus 3:13-17; Handelinge 10:34-43

Inleiding

Op die eerste Sondag ná Epifanie kom Jesus se doop sterk na vore as die geleentheid waar God Jesus se identiteit as Seun bevestig en vanwaar Hy begin met sy bediening op aarde.

Die tekste wat hiermee saamgaan, insluitend die sleutelteks vir hierdie Sondag, handel oor die identiteit van die magtige en reddende God.

Die sleutelteks gaan spesifiek oor die dienaar wat God uitgekies het vir sy werk, om met God se eie Gees op hom, hierdie werk te doen, maar met ’n meer sagmoedige mag as die tipiese wêreldse heerser.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Seëngroet
God wat die hemelkoepel geskep en dit oopgespan het,
God wat die aarde gevorm het en alles wat dit oplewer,
Hy wat aan alle wesens op aarde asem gee,
die lewe aan alles wat op die aarde beweeg, groet ons
(Jes 42:5).

Doopherinnering
Voorganger: Ons doop herinner ons dat God ’n verbond van genade met ons gesluit het.
Gemeente: God sê vir ons: “Ek is die Here,
Ek is getrou aan my verbond.”

Voorganger: God verbind God self aan ons en ons leef daarom dankbaar.
Gemeente: God sê vir ons: “Ek hou jou vas,
Ek beskerm jou.”

Gee gemeentelede geleentheid om na die doopvont te kom. Die liturg maak op elkeen wat na vore kom se hand ’n kruis met die doopwater en sê: “Jy is God se geliefde kind. God is verheug oor jou!”
(Jes 42:6, Doopformulier (1) in Vir die Erediens: ’n handleiding en Matt 3:17)

Diens van die Woord

Verbintenis na die Woordverkondiging
Voorganger: God kies ons as sy dienaars.
Gemeente: Ons geniet God se guns.

Voorganger: God gee aan ons God se eie Gees.
Gemeente: Ons sal God se wil aan die wêreld bekend maak (Jes 42:1).

Geleentheid vir stilte sodat elkeen hierdie bevestiging en verbintenis hulle eie kan maak.

Diens van die tafel

Geloofsbelydenis
(Tussen die uitdeel van die tekens en die gebruik daarvan)
Voorganger lees Handelinge 10:34-43
Gemeente reageer met Apostoliese Geloofsbelydenis

Uitsending

Seën
Sien basisliturgie

Slotlied
Lied 524 “God roep ons om met woord en daad”

Musiek en sang

Flam 23 “Prys die Here”
Flam 58 “Kom o Skepper Gees”
Lied 528 “Leer my u wil, Heer”

Kinderliedere
Lied 547 “Alle volke, klap julle hande”
Lied 549 “Daar’s vissies in die water”

Preekstudie: Jesaja 42:1-9

Teks

Vers 1-9 van Jesaja 42 fokus op ’n “profesie ten opsigte van die dienaar van die Here”. Die perikoop kan volgens die Joodse tradisie in twee verdeel word, naamlik vers
1-4 en vers 5-9. In vers 1-4 is die sleutelwoord “wil van God” (1a, 3b, 4a). Die Hebreeuse woord vir “wil van God” is mišpāṭ wat “geregtigheid” beteken. In die 1933/53 vertaling word mišpāṭ met “die reg” vertaal. Mišpāṭ het egter na meer as net juridiese gelykheid verwys. ’n Breër betekenis van mišpāṭ is ’n samelewingsorde waarin alle bekommernisse en probleme geadresseer word. ’n Samelewing sonder enige mišpāṭ is een waarin brute krag tot voordeel van enkele mense gebruik word. Daarom is die mišpāṭ wat die lydende dienaar gaan bewerkstellig niks anders as die redding van God nie. Dié redding is nie net ’n private vergiffenis van sonde nie. Dié redding is ook nie net die totstandkoming van ’n humanitêre stelsel wat ’n meer gelyke samelewing kan bewerkstellig nie. Hierdie mišpāṭ is die lewegewende orde wat bestaan wanneer die skepping funksioneer volgens God se wil.

In vers 5-9 staan die naam van God voorop: Die Here kondig Homself aan as “die God” (5). Die gedeeltes wat aan die dienaar (6) en aan die mense (8) gerig is begin met die frase, “Ek is die Here”. Al kan die twee gedeeltes onderskei word, is daar ook ’n duidelike samehang. Meer spesifiek handel die eerste gedeelte oor die dienaar van die Here, terwyl die tweede gedeelte oor die Here van die dienaar handel.

Vers 1 wys op die intieme verhouding tussen die Here en sy dienaar. Die Here het sy dienaar aangestel. Die Here het sy dienaar uitverkies en die dienaar geniet daarom die Here se guns. Die Here stel sy dienaar aan die gehoor en ook aan Homself voor. Die uitverkiesing van die dienaar maak die haar/hom die Here se dienaar. Uitverkiesing deur die Here en dienaarskap is dus sinoniem. Uitverkiesing deur die Here impliseer ook koninklike elemente wat aan die  dienaar toegeskryf is omdat die Here as die Koning van Israel sy dienaar aanstel. Die 1933/53-vertaling van “in wie my siel ’n welbehae het” benadruk die intimiteit van die Here en die dienaar se verhouding. Die Here is ook deur sy Gees in sy dienaar teenwoordig. Die Here wat sy Gees op iemand/mense laat kom, sien ons veral in die profetiese sowel as die koninklike tradisies. Die “gee” van die Here se Gees aan die dienaar suggereer permanensie, maar ook dat die dienaar afhanklik van die Here is. Hierdie intieme verhouding tussen die Here en sy dienaar is die agtergrond en die beloning vir die taak wat die dienaar moet verrig: die dienaar sal die Here se wil aan die nasies bekend maak. Die wil van die Here is nie net die regte dogma of regte godsdiens nie, al verwys vers 4 na die torah van die dienaar waarop die eilande sal wag. Die “wil van die Here” is wel die Here se geregtigheid (mišpāṭ) waarna daar vroeër verwys is. Die “nasies” waarna vers 1 verwys, impliseer ’n wyer reikwydte van die Here se wil as net Israel.

Vers 2 en 3 suggereer dat die proses van die bekendmaking van die Here se wil met pyn/lyding  gepaard kan gaan. Vers 2 beskryf die dienaar se houding teenoor sy magtige vyande, waarna vers 3 die dienaar se houding teenoor die onmagtiges beskryf: Die dienaar kla nie teenoor sy magtige vyande nie, maar sorg wel vir die swakkes. Die “geknakte riet” en die “lamppit wat dof brand” is beelde van wat/wie as ellendig en onbruikbaar gesien kan word.

Die punt wat wel, in dié twee verse, met die minimalistiese stylfiguur na vore gebring word, is dat die Here die verdrukkers van die wêreld nie met méér verdrukking antwoord nie. Die Here beantwoord die arrogansie van die wêreld ook nie met méér arrogansie nie. Met stilte, nederigheid en eenvoud sal die Here se dienaar egter al die boosheid op homself neem en met genade antwoord.

Vers 4 suggereer opposisie teenoor die dienaar. Dit kan so erg wees dat sy voortbestaan hierdeur bedreig word. Die dienaar self sal egter nie uitgedoof of geknak word totdat hy “Die Here se wil” op aarde gevestig is nie. Die dienaar sal uithou ten spyte van die teenstand teen hom. Vers 4 is die enigste aanduiding in ons perikoop dat die dienaar se taak met teenstand gepaard sal gaan. Die verwysing na teenstand is die onderwerp van latere “lydende dienaar liedere” (veral Jes 52:13-53:12).

Vers 5. Nadat die Here sy dienaar voorgestel het, stel Hy Homself nou voor. Vers 5 begin met die bekende profetiese formule: “So sê God, die Here.” Die eerste eienskap van die Here is dat Hy dié skeppende Here is. Hy sal weer skep (deur sy dienaar se bediening) net soos Hy te vore ook geskep het. Die partisipiums van voortdurende handeling versterk die voortgaande karakter van die handelinge van die Here wat skep (geskep, oopgespan, gevorm, asem gee).

Vers 6 en 7. Die tweede eienskap van die Here is dat Hy die God van die verbond is. Die Here gebruik verbondstaal om die aard en doel van die dienaar se bediening te beskryf. Die Here as inisieerder van die verbond word in Hebreeus (6a) beklemtoon as die Here wat inisiatief neem in sy dienaar se bediening. Naas die sorg en beskerming van die Here vir sy dienaar, wys die Here ook op wat die dienaar se bediening gaan behels: (1) Die dienaar sal ’n verbond vir Israel wees; (2) die dienaar sal ’n lig vir die nasies wees; en (3) die dienaar sal blindes laat sien en gevangenis bevry. Die frase “en Ek maak jou my verbond met my volk” het verskeie interpretasiemoontlikhede. Die frase bied egter troos vir dié van Israel wat gedink het die Here se verbond met Israel bestaan nie meer nie. Die Here se trou aan sy verbond word dus beklemtoon net soos die wyer omvang van die dienaar se bediening (my lig vir die nasies) waarna vers 1 reeds verwys.

Vers 8 en 9. Die laaste twee verse bevestig dat die roeping van die dienaar in Jesaja 42:1-9 in verband met die vorige twee hoofstukke staan. Die Here se eer/heerlikheid is daarin geleë dat Hy doen wat die afgode nie kan doen nie. Die perikoop vorm deel van ’n groter strydgesprek van die Here teen die afgode, wat later bespreek word. Die Here is groter as die hele skepping. Daarom kan Hy alleen die gang van die geskiedenis bepaal. Net God kan die geskiedenis in ’n nuwe rigting draai en vooruit verkondig dat Hy dit gaan doen. Wie of wat die dienaar ook al gaan wees, sal die dienaar se bediening ’n bevestiging wees dat die Here, wie se karakter in die Naam “Here” weergegee word, die enigste Here en Redder is. Die laaste twee verse beskryf nog twee eienskappe van die Here, naamlik: (1) die heiligheid van sy Naam; en (2) sy tydloosheid. Die Here staan self tydloos in die geskiedenis, sodat Hy “nuwe dinge kan aankondig” en dinge bekend kan maak, voordat dit nog gaan gebeur.

Konteks

Jesaja 42:1-9 is deel van Tweede of Deutero-Jesaja. In die verlede was daar meestal eenstemmigheid oor die verdeling van die boek Jesaja in drie dele, naamlik: Eerste-Jesaja (1-39); Tweede-Jesaja (40-55); en Derde-Jesaja (56-66). Die drie gedeeltes is vroeër grootliks onafhanklik van mekaar gesien en fokus op hulle beurt weer op drie tydsperiodes: hoofstuk 1-39 het betrekking op 739-700 vC; hoofstuk 40-55 op 545-535 vC; en hoofstuk 56-66 op 520-500 vC. Tans is die uitgangspunt dat die verskillende gedeeltes van Jesaja wel afhanklik is van mekaar. Daar is ook die standpunt dat Jesaja uit twee dele bestaan: hoofstuk 1-39 wat Sion as ’n plek sien; en hoofstuk 40-66 wat Sion as ’n persoon sien.

Tweede of Deutero-Jesaja kan ook verder verdeel word. Dit is nie hier moontlik om al die indelings aan te dui nie, maar dit is wel belangrik om die gedeeltes wat Jesaja 42:1-9 voorafgaan in ag te neem in ’n bespreking van Jesaja 42:1-9 wat juis binne ’n groter profetiese diskoers funksioneer. Daar is nie ooreenstemming oor die verdeling van die voorafgaande gedeeltes nie. Daar is wel in ’n mate ’n strydgesprek ter sprake waarin die Here stelling teenoor die gode inneem. Wanneer die Here sy dienaar in Jesaja 42:1-9 voorstel, is dit teen die agtergrond dat die Here alleen kan red en dat die Here alleen kan troos.

In Tweede-Jesaja is die “dienaar van die Here” ’n opvallende tema. Die woord “dienaar” kom twintig keer in Jesaja 40-55 voor. Die “roeping van die dienaar van God” in Jesaja 42:1-9 is een van vier sogenaamde “Liedere van die lydende dienaar” (vgl Jes 49:1-6 [7-13]; Jes 50:4-9 [10-13]; Jes 52:13-53:12). Hierdie vier liedere het opmerklike tematiese en taalkundige ooreenkomste. Daar word wel gevra na die identiteit van die lydende dienaar, met kollektiewe en individuele interpretasies. Die kollektiewe interpretasie sien die lydende dienaar as verteenwoordigend van die volk Israel. Daar is wel in Jesaja 49:3 ’n eksplisiete verwysing na Israel as die lydende dienaar. Ander verwysings na die lydende dienaar in Jesaja 40-48 (41:8-9; 42:19; 43:10; 44:1, 21; 45:4; 48:20) hou ook Israel as die lydende dienaar voor. Die individuele interpretasies het verskeie historiese figure in die visier naamlik die skrywer van Tweede-Jesaja, ook koning Jojagim, Serubbabel en Kores of ander persone uit die profetiese tradisie, soos Moses of Jeremia.

Die dienaar vervul ’n rol soos een van die voor-ballingskap konings en verskeie profete. Koninklike en profetiese taal word vir die dienaar gebruik. Die rol van die dienaar van die Here in die Ou Testament is ’n godsdienstig-politieke amp. Die dienaar ken die goddelike plan wat hy moet uitvoer. Die dienaar moet ook die volk oorreed om die goddelike plan uit te voer.

Hoe en aan wie word hierdie kragtige tekste in ons perikoop gekoppel? Die volk is weggevoer in ballingskap. Al kan ons vandag argumenteer dat daar ’n deel van die volk in Juda agtergebly het, is die meningsvormers wel weggevoer. Vir dié deel van die volk was die ballingskap traumaties. Behalwe vir die wreedheid en geweld wat eie was aan enige beleg en vernietiging van ’n stad, het hierdie gedeelte van die volk ook hulle bestaansreg gegrond op die “ewige” verbond wat die Here met Dawid gesluit het. Die verwagting was dat die koningshuis van Dawid vir ewig sou duur. Jerusalem was ook die stad van Dawid met die tempel as plek waar die “onderste deel van die Here se kleed die tempel gevul het” (Jes 6:1). In die godsdienstige denke van die antieke tyd het elke stad ook ’n eie godheid gehad. Dié god was verantwoordelik vir die beskerming van die stad. Dié godheid het ook die stad by die raad van die ander gode verteenwoordig. Die vernietiging van ’n stad en die gepaardgaande einde van ’n volk was dus ’n eksistensiële krisis. Selfs al het die oorblyfsel van die volk die wreedheid en die geweld van die vernietiging van hulle stad Jerusalem en die tempel van die Here oorleef, het hulle in die godsdienstige wêreld van die tyd hulle bestaansreg verloor.

Anders as vandag waar godsdiens slegs ’n aspek van die moderne mens se bestaan uitmaak, was die volk Israel, in ballingskap, se totale bestaan in gedrang. Sonder hulle god was hulle niks nie. In Tweede-Jesaja begin die oordeel van die Here na hoop draai. Die eerste deel van Jesaja (1-39) is deurspek van oordeel terwyl Tweede-Jesaja gekenmerk word deur ’n wending na verlossing, redding en hoop. Die Here moet egter sy posisie teen die ander gode verdedig. Al is ander gode vir ons onbekend (behalwe vir die moderne gode van geld, ambisie, ens), was die bestaan van ander gode vir die volk van Israel ’n werklikheid. Die Here was net eie aan Israel; hulle eie God. Die Here verdedig sy posisie teenoor die ander gode in die twee hoofstukke wat ons perikoop voorafgaan. Met die Here se oppergesag oor die ander gode bevestig, word die toneel nou geskep waar Hy sy dienaar voorstel en aanstel om sy oppergesag verder te voer. Waar die ander gode gewelddadig van aard is, sal die Here se dienaar stil en nederig optree. Waar die ander gode se heerskappy lokaal van aard is, sal die Here se dienaar die Here se geregtigheid oor die aarde bevestig.

Die volk Israel het van hierdie nuwe dienaar (koningsfiguur) gehoor terwyl hulle leierloos in ballingskap was. Die Here wat hierdie nuwe bedeling aanbied, het egter nie met die vernietiging van die tempel ook omgekom nie! Die Here wat hierdie nuwe bedeling aankondig, is die Here van die skepping. Hy is die Here van die verbond; Hy is Here wat red en bevry. Hy is die enigste Here aan wie die eer toekom. Hy is die Here wat self die geskiedenis van nasies en volke in sy hand hou. Daarom sal sy dienaar suksesvol in sy bediening wees.

Preekvoorstel

Die volk Israel is uit ballingskap bevry, maar hulle het nooit hierdie (politieke) oppergesag van die Here in hulle tyd ervaar nie behalwe vir ’n kort tyd gedurende en na die Makkabese opstand. Die profesieë van die dienaar van die Here het met tyd profesieë van ’n messiaanse eskatologiese figuur geword. Vir die Christelike tradisie is die lydende dienaar niemand ander as Jesus Christus, die Seun van God, nie. Vir die Joodse tradisie moet die messias nog kom. Nie een van dié twee interpretasies vat enige iets van die retoriese krag van die tekste weg nie.

Jesaja 42:1-9 is die sleutelteks van die eerste Sondag van Epifanie. Ons perikoop kan selfs as uitbreiding dien van God se woorde by Jesus se doop in Matteus 3:17: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” God kom op die toneel by Jesus se doop en Hy stel sy Seun voor. Teenoor die ander heerskappe van die wêreld sal hierdie heerskappy, wat sy Seun sal inlei, God se geregtigheid op aarde laat seëvier. Maar hierdie heerskappy sal ook anders wees. Dit sal ’n heerskappy van die dienende Here wees; ’n Koning wat nie oorheers nie, maar dien.

In Epifanie “verskyn” God aan ons deur middel van sy Seun, Jesus Christus. In ’n preek kan die doop van Jesus as ’n troonbestygingseremonie voorgestel word. Wie is Jesus Christus? Wie is die dienaar van die Here in Jesaja 42:1-9? God is aan die woord. Hy stel Jesus Christus aan die gehoor voor. Die kragtige retoriese effekte van Jesaja 42:1-9 kan met vrug in Jesus se voorstelling aan die gehoor gebruik word.

Die ander vraag is: Wie is die God wat Jesus Christus voorstel? Wie is die Here van die dienaar in Jesaja 42:1-9? Wie is die God wat hier aan die woord is? Die verskillende elemente van die God van die skepping; die God van die verbond; die God van bevryding en redding; die God van eer en lof; die God van die geskiedenis, kan afsonderlik of saam gebruik word. Elkeen van dié elemente van God se aard en wese kan met ander gedeeltes in Tweede-Jesaja bygebring word waar dieselfde elemente van God se aard en wese voorkom.

’n Ander preekvoorstel is om aan die geregtigheid van God aandag te gee. In die 1983-vertaling word die “geregtigheid van God” as die “wil van God” vertaal. Dit maak egter ’n preek oor God se geregtigheid moeilik omdat die teks wat die gemeente voor hulle het, nie geregtigheid noem nie. ’n Vernuftige prediker kan wel die sprong maak sonder om die retoriese effek van die teks in te boet. In ons konteks is geregtigheid ’n woord wat maklik gebruik maar moeilik verstaan word. God se geregtigheid is nie altyd ons verstaan en ervaring van geregtigheid nie. Ons kan baie kere ’n sterk oorsaak en gevolg sin van geregtigheid koester. Ek doen goed en daarom moet goed aan my gedoen word. As ek sleg verdien, kan sleg aan my gedoen word. Wanneer die oorsaak-gevolg som egter omdraai, kom ons sin vir geregtigheid in opstand. God se geregtigheid is in die aard en wese van Jesus Christus opgesluit. Dieselfde argument geld ook vir die “wil van God”. God se wil en sy geregtigheid is altyd meer omvattend as wat ons onsself kan indink.

Wanneer ons dan die verskillende elemente van God in die teks ondersoek (God van die skepping; God van die verbond; God van bevryding en redding; God van eer en lof; God van die geskiedenis), moet God se geregtigheid met elkeen van dié elemente verbind kan word. Ons kan dus dié vrae vra: Hoe soek ons geregtigheid in ons eie lewe, as die grootskaalse vernietiging van die skepping deur middel van steenkoolaangedrewe kragstasies nie vir ons belangrik is nie? Ons sal kla oor die prys van krag terwyl die prys van krag in Suid-Afrika reeds ekologies onbekostigbaar is. Hoe soek ons geregtigheid in ons eie lewe wanneer die doop as verbondsteken vinnig in ’n diens afgehandel moet word? Hoe soek ons geregtigheid in ons eie lewe wanneer ons nie besef wat dit beteken om deur Christus gered en bevry te wees nie? Hoe soek ons geregtigheid in ons eie lewe wanneer ons kla oor die orkes of orrel wat ons in ons lofprysing tot God moet vergesel? Hoe soek ons geregtigheid in ons eie lewe, wanneer ons werklik dink die geskiedenis van ons land en die wêreld is die som van ons eie interpretasies en herinneringe?

Om aan te sluit by hierdie bespreking oor God se geregtigheid vis-à-vis ons geregtigheid, kan enige ooreenstemminge tussen die eerste gehoor van Tweede-Jesaja en ’n huidige gehoor ook ontgin word. Tweede-Jesaja se gehoor het die afwesigheid van hulle verstaan van God ervaar. Hulle het God in instansies, ideologieë, koningshuise en die tempelkultus probeer vasvang. God was nooit nié deel van Israel se leefwêreld nie. Maar God was altyd soveel méér. In tye waar ’n godsdienstige eksistensiële krisis moontlik hoogty vier, kan die God van Jesus Christus weer vooropgestel word. Jesus Christus se lewe, dood en opstanding is God wat bevry en red. Jesus Christus se lewe, dood en opstanding het skeppingsklanke, verbondsklanke en klanke van lof en eer. In Jesus Christus kondig God nuwe dinge aan. Miskien het ons instansies, ideologieë, koningshuise en tempelkultusse iets nuuts nodig. Nuwe dinge sal egter nooit buite die sentrale evangelie van God se redding deur middel van die dood en opstanding van Jesus Christus gesoek kan word nie. Die evangelie alleen is altyd nuut.

Bibliografie

Beuken, W 2000. Historical Commentary on the Old Testament: Isaiah II. Leuven: Peeters; Blenkinsopp, J 2002. The Anchor Bible: Isaiah 40-55. New York, London, Toronto, Sydney, Auckland; The Anchor Bible. Doubleday; Boda, M J, McConville, J G 2012. Dictionary of the Old Testament Prophets. Nottingham, England: Inter-Varsity Press; Collins, J 2004. Introduction to the Hebrew Bible. Minneapolis: Fortress Press. Elliott, M W 2007. Ancient Christian Commentary on Scripture. Old Testament XI: Isaiah 40-66. Downers Grove, Illinois: InterVarsity Press; Gertz, J C, Berlejung, A,  Schmid, K, Witte, M 2011. T & T Clark Handbook of the Old Testament: An Introduction to the Literature, Religion and History of the Old Testament. London: T&T Clark; Goldingay, J,  Payne, D 2014.  A Critical and Exegetical Commentary: Isaiah 40-55. London, New Delhi, New York, Sydney: Bloomsbury T&T Clark; Lindsey F D 1982. The Call of the Servant in Isaiah 42:1-9. Bibliotheca Sacra 139 (553) (Jan 1982): 12-31;  Oswalt, J N 1998. NICOT: The Book of Isaiah. Chapters 40-66. Grand Rapids, Michigan/Cambridge, UK: William B Eerdmans Publishing Company; Shalom, M P 2012. Eerdmans CriticalCommentary: Isaiah 40-66. Grand Rapids, Michigan/Cambridge, UK: William B Eerdmans Publishing Company; Watts, J D W 2002. Word Biblical Commentary: Isaiah 34-66. Dallas: Word.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.