Eerste Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Op die eerste Sondag ná Epifanie is die verhaal van Jesus se doop die Evangelielesing. Hierdie jaar fokus die preektema veral op Jesus se assosiasie met die mens en op ons assosiasie met Jesus. Dit alles het te make met ‘n herontdekking van ons identiteit. Wie is ons? Daarom sal ‘n doop, doopviering of roetemerker (die oorgang tussen lewensfases wat intergenerasioneel gevier kan word, of wat spesifiek op die oorgang vir tieners of jong volwassenes fokus) by uitstek gepas wees vir hierdie Sondag.

Epifanie (verskyning) is die viering van die bekend making van Jesus as die Messias, die Verlosser van die wêreld. Daar word dikwels op die eerste Sondag ná 1 Januarie op die wyse manne se besoek en eerbetoon aan Jesus gefokus. Die tyd ná Epifanie verwys na die periode tussen Epifanie en Lydenstyd, met die fokus op die begin van Jesus se aardse bediening voordat Hy sy reis na Jerusalem begin (byvoorbeeld sy eerste wonderwerke, die roeping van die dissipels, die begin van sy prediking). Vandag, op die eerste Sondag ná Epifanie, word Jesus se doop herdenk.

Sleutelteks

Lukas 3:15-17, 21-22

7Vir die skare wat in groot getalle na Johannes gestroom het om deur hom gedoop te word, het hy gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? 8Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Moenie vir julleself begin sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê reeds teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10Die skare vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
11En hy het hulle geantwoord: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat niks het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
12Daar het ook tollenaars gekom om gedoop te word, en hulle het hom gevra: “Meester, wat moet ons doen?”
13Hy het hulle geantwoord: “Moenie meer invorder as wat vir julle voorgeskryf is nie.”
14Ook soldate het hom gevra: “En ons, wat moet ons doen?” Vir hulle het hy gesê: “Moenie geld van mense afpers nie, en moet hulle nie vals aankla nie, maar wees tevrede met julle lone.”

15Omdat die volk allerhande verwagtings gehad het, het almal in hulle harte gewonder of Johannes nie dalk die Christus is nie. 16Johannes het hulle egter geantwoord: “Ek doop julle wel met water, maar daar kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy hooivurk in sy hand om sy dorsvloer deeglik skoon te maak en om die koring in sy skuur te versamel, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.”

18Johannes het die volk ook oor baie ander dinge vermaan, en die goeie boodskap aan hulle verkondig.
19Hy het die tetrarg Herodes herhaaldelik tereggewys oor Herodias, sy broer se vrou, en oor al die booshede wat Herodes gepleeg het. 20Afgesien van al hierdie dade het Herodes Johannes ook nog in die tronk laat opsluit.

Doop van Jesus
(Matt 3:13-17; Mark 1:9-11; Joh. 1:29-34)
21In die tyd toe die hele volk gedoop is, is ook Jesus gedoop. En terwyl Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan, 22en die Heilige Gees het in ‘n sigbare vorm soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar het ook ‘n stem uit die hemel gekom: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Ander tekste

Jes 43:1-7
Jy is Myne
43 Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
2As jy deur water moet gaan,
is Ek by jou,
deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
3want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.
4Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
5Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.
Ek bring jou kinders van die ooste af,
Ek maak hulle bymekaar
van die weste af,
6Ek sê vir die noorde: Gee!
vir die suide:
Moet hulle nie terughou nie!
Bring my seuns van ver af,
my dogters van die uithoeke
van die aarde af,
7elkeen wat na my Naam genoem word,
elkeen wat Ek geskep het tot my eer,
wat Ek gevorm het,
wat Ek gemaak het.

Ps 29
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Hand 8:14-17
Die evangelie in Samaria
4Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. 5So het dit gebeur dat Filippus by ’n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. 6Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. 7Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. 8Daar was groot blydskap in daardie stad.

9In dieselfde stad was daar ’n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, 10en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.”

11Hy het ’n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor ’n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. 12Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. 13Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.

14Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. 15Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. 17Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

18Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied 19en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”

20Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.”

24Toe sê Simon vir die apostels: “Bid júlle tog vir my tot die Here, sodat niks van wat julle gesê het, my tref nie.”
25So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.

Liturgie

Aansteek van die Christuskers

Aanvangslied:  Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: Uit Jesaja 43

Seëngroet: (Uit Sefanja 3)

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Lofprysing: (Uit Psalm 29)

Loflied 286 “Here God van liefde 1”

Geloofsbelydenis

Epiklese: (Ahv Psalm 29)

Skriflesing: Lukas 3:15-22

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of 
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aansteek van die Christuskers

Gemeente (G): Ons vreugde is in God en in sy Seun, Jesus Christus. Soos vrede is vreugde ’n geskenk van God. Vreugde kom oor ons en vul ons wanneer ons onthou wat God gedoen het en wat Hy belowe het om nog te doen.

V: Ons steek vandag die kers aan om ons ons daaraan te herinner dat Christus reeds gekom het en dat Hy eendag weer sal kom sodat ons almal ’n vol en oorvloedige lewe kan hê.  Ons dank God vir die hoop wat ons van Hom ontvang, vir die vrede wat Hy skenk en vir die vreugde wat Hy ons hart uitstort.

G: U is Immanuel, God met ons. U is die bron van ons vreugde.

(Die kers word aangesteek.)

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord: Uit Jesaja 43
So sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
As jy deur water moet gaan,
is Ek by jou,
deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.

Seëngroet: (Uit Sefanja 3)
Die Here jou God is by jou,
Hy, die krygsman wat red.
Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou…

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Lofprysing: (Uit Psalm 29)
Prys die Here om sy eer en mag!
Prys die Here om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!

Die stem van die Here weerklink
oor die waters.

Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.

Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.

Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.

Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Loflied 286 “Here God van liefde 1”

Geloofsbelydenis
God is my redder;
Ek vertrou op Hom,
ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag
en my beskerming;
Hy is my redder. (Uit Jesaja 12)

Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

F33. “Halleluja In My Hart”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en musiek: Francois Lamprecht
© MAR Gospel Music Publishers

1. God van vreugde, God van vrede,
God van lewe, bowenal, God oor my.
God van gister, God van vandag,
God van ewigheid, bowenal, God oor my –
God oor my!
En die hemel straal van U magtigheid.
En my lewe spreek van U waarheid.

Refrein:
Halleluja in die hemel. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja op die aarde. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja! Halleluja!

2. God van almag, God van krag,
God oor die nasies, bowenal, God oor my.
God van verlossing, God van genade,
God van vergifnis, bowenal, God oor my –
God oor my.

Slotrefrein:
Prys die Here in die hemel. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.
Prys die Here op die aarde. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Ahv Psalm 29)
Ek buig Here, by U heilige verskyning:
Ek prys U Naam saam met die hemelinge,
aan U kom toe eer en mag:
Ek aanbid U in U heilige sieraad…

Koning van die skepping;
heerser oor die watermassas…

Die weerklank van U stem
is magtig en majestueus;
dit sweef oor die waters;
en is die weer wat dreun.

Kalwers bokspring en bome buig
as weerlig in vuurvlamme uitslaan;
die woestyn bewe…

Wildsbokke skrik en bosse word kaalgestroop
as die stem van die Almagtige roep.

U is koning tot in ewigheid;
U volk is afhanklik van U sterkte en U vrede en U seën…

Mag die woorde van my mond
en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor u aangesig,
o Here, my rots en my verlosser!

Skriflesing: Lukas 3:15-22

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Sit voor die tyd ‘n spieëltjie onder in die doopvont neer. Nooi al die kinders na die liturgiese ruimte. Vertel vir hulle dat Jesus ook gedoop is, heelwat anders as wat ons gedoop is en nie met water uit so ‘n doopvont nie, maar ook met water. Toe Jesus gedoop is, het ‘n stem uit die hemel gesê Jesus is God se geliefde Seun.

Miskien kan julle dit nie onthou nie, maar julle is ook gedoop. Dit was die dag toe God vir julle en ons almal gewys het julle is God se kinders. Met die water het God julle as sy kinders gemerk.

Nooi die kinders om hulle vingers in die water van die doopvont te druk terwyl hulle sê: “Ek is ‘n geliefde kind van God.” Indien Covid-19-regulasies dit nie toelaat nie, laat die kinders slegs in die doopvont kyk en die woorde hardop sê.
– uit Worshipping with children: Year A – The baptism of the Lord (12 Januarie 2014);
of
Carolyn Brown stel voor dat die gemeente deelneem aan vandag se skriflesing.  ‘n Gedeelte van die gemeente is die “mense”, ‘n gedeelte die tollenaars, ander die soldate.  Nog iemand (dalk die liturg) is die verteller.  Iemand anders is Johannes.  Johannes moet vooraf voorberei om dramaties te lees soos vir ‘n groot skare buite.

Verteller:Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê:

Johannes:  “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

Verteller:  Die mense vra hom toe:

Mense:  “Wat moet ons dan doen?”

Johannes: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

Verteller:  Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom:

Tollenaars:  “Meneer, wat moet ons doen?”

Johannes: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”

Verteller:  Ook soldate het hom uitgevra:

Soldate:  “En ons, wat moet ons doen?”

Johannes: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

Verteller:  Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord:

Johannes:  “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

Brown stel ook voor dat julle jul eie Johannes-antwoorde bedink.  As almal ‘n idee het van Johannes se boodskap, kan jy dalk iets vra soos:  “Ouer boeties en sussies… hoe moet ons ons jonger boeties en sussies hanteer?  Kleinboeties en sussies… hoe moet ons ons ouer boeties en sussies hanteer…” Ouers, eggenotes, werkgewers, die slim kinders in die klas, die sterk kinders in die klas, ens.

Hier is ‘n inkleurprent van Johannes.

Preekriglyn

Lukas skryf sy evangelie vir ene Teofilus oor die gebeure wat in en rondom Jesus Christus “onder ons tot vervulling gekom het” (1:1). Hy verduidelik dat hy alles deeglik nagevors het, “stap vir stap van voor af” en dat hy dit in volgorde neergeskryf het, “sodat u vir seker kan weet dat die onderrig wat u oor hierdie gebeure ontvang het, betroubaar is.” Hiervoor het die getuienis van ooggetuies as grondslag gedien (1:1-5).

Uit die Evangelie volgens Lukas blyk duidelik dat Lukas twee prominente oogmerke gehad het:

  • Jesus se optrede hou eerstens ten nouste verband met die geskiedenis, tradisies en vroomheid van Israel. Jesus was nie ‘n rebel wat iewers uit sy eie hoek uitgevlieg en die wêreld probeer omkeer het nie.
  • Meer nog: tweedens, was Jesus die hoogtepunt en die vervulling van al God se beloftes aan Israel. Jesus het al Israel se hoop en verwagtinge werklikheid gemaak.

Mens sien dit reeds hier in ons teks. Johannes die Doper tree op in die woestyn in die omgewing van die Jordaan en berei die weg vir Jesus voor. Volgens die Markusevangelie is hy geklee soos Elia, een van die grootste profete uit die Ou Testament. Johannes staan in die lang lyn van profete wat die volk in die Naam van die Here aanspreek en die pad vir hulle aandui.

Hy is egter nie die Messias nie. Hy is die wegbereider vir die Messias, die Een wat veel groter as hy is.

Hierdie Jesus, die Messias, is die hoogtepunt van al God se beloftes uit die lang geskiedenis van Israel. Hy bring alles tot vervulling.

In Jesus, die Messias, word Israel se identiteit helder gedefinieer. Die ware Israel se lewe is gefokus op die Messias, die Koning, die Here uit Nasaret: Jesus Christus.

Daarom kan Teofilus, iemand uit ‘n nie-Joodse agtergrond, ook deel word van die volk van God. Jesus, geloof in Jesus, toewyding aan en die navolging van Jesus is die weg tot ‘n nuwe identiteit. Nou kan ook heidene saam met Jode deel kry aan die verlossing wat God bring.

Heilige Gees en vuur

Johannes die Doper beskryf Jesus, “iemand wat sterker as ek is” (3:16) se werk as doop met die Heilige Gees en met vuur:

  • Terwyl Johannes uitwendig met water doop, sal Jesus met die Gees en vuur doop – ‘n doop wat mense van binne af verander.
  • Terwyl Johannes getuig oor oordeel, word die oordeel in Jesus se bediening ‘n werklikheid: mense word met ‘n keuse gekonfronteer.

Vuur het in die antieke wêreld beide die betekenis van reiniging en van verwoesting. Vlamme was een van die belangrike reinigingsmiddel. Die afval van Jerusalem is bv. verbrand om ‘n gesondheidsrisiko te voorkom.

Deur ons met vuur te doop – ‘n duidelike vooruitwysing na die gebeure in Handelinge 2 met die uitstorting van die Heilige Gees – reinig Jesus ons. Ongeloof in Jesus en ‘n afwysing van Jesus roep egter die wyse waarop kaf met vuur verband word na vore.

Jesus se doop

Te midde van die volk se verwagtinge en spekulasie of Johannes dalk die Messias is, word Jesus in die Jordaan gedoop.

Jesus gaan staan in die ry saam met gewone mense en word saam met hulle gedoop. Dit is ‘n bekeringsdoop, waarmee die dopelinge hulle begeerte om ‘n nuwe begin met God te maak uitgedruk het.

Vir Lukas, Teofilus en ons almal wat Jesus volg is dit die eerste wonderlike teken dat Jesus identifiseer met Israel se eeue-oue hoop op ‘n lewe met God, en die behoefte om daagliks nuut vanuit bekering en gehoorsaamheid met God te lewe. Dit is ook aangrypend dat Jesus, wat sonder sonde was, hier die bekeringsdoop ondergaan. Jesus kom identifiseer Hom met die smet en gebrokenheid van ons sonde.

Jesus bid terwyl Hy gedoop word. Terwyl Hy dit doen, gaan die hemele oop en die Heilige Gees daal in ‘n sigbare vorm soos ‘n duif op Hom neer. Ons kry insig waarom Jesus soveel sterker en groter is as die profete van Israel wat Hom voorafgegaan het. Jesus se identiteit word bevestig met ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My.”

Dit is wie Hy regtig is; dit is sy ware identiteit.

Deur doop, Heilige Gees en vuur is hierdie Jesus inderdaad die Een wat ons in die regte verhouding met God bring en ons identiteit as kinders van God en lede van God se volk bevestig.

Ons identiteit

Vandag is die eerste Sondag ná Epifanie en ons dink na oor die betekenis en die uitwerking van Jesus se doop.

Net soos Jesus se identiteit met sy doop bevestig is, net so is ons identiteit ten nouste verweef met ons eie doop en ons geloofsverhouding met Jesus Christus.

Wie is ek? Wie is jy? Wie is ons?

Gewoonlik het identiteit in ons samelewing met een of meer van die volgende sake te doen:

  • Ons is wat ons doen, en/of
  • Ons is wat ons het, en/of
  • Ons is wat mense van ons sê.

Ons is gedurig bang dat dit verlore sal gaan, dat ons lewe uitgevee sal word wanneer ons nie meer sekere dinge kan doen, of iets nie meer het, of mense nie meer mooi dinge van ons sê nie. Dit is veral pynlik aktueel by ons dood. Of wanneer ons, soos die afgelope twee jaar, onder die bedreiging van ‘n dodelike pandemie moet leef – ingeperk, miskien sonder werk, met geweldige verliese.

Die verhaal van Jesus se doop bevestig egter aan sy volgelinge dat ons identiteit vanuit die wedersydse verhouding tussen Jesus en sy mense vasgestel word. Hy verbind Hom aan ons en ons verbind ons aan Hom (en deur Hom ook onderling aan mekaar).

Jesus is met sondaars, en sondaars is met Jesus. Jesus is met ons. Ons is met Jesus.
Jesus assosieer met ons. Dit is uit hierdie verhouding dat ons diepste identiteit gestempel word.

Eerste assosiasie: Jesus met ons … só red Jesus mense!
In sy vereenselwiging met die volk is Jesus totaal inklusief. Lukas vertel van Johannes se boodskap aan al die mense, selfs tollenaars en soldate. Anders as ons, sluit Jesus niemand by voorbaat uit nie. Hy eet saam met enige mens, vertel Lukas oor en oor. Hy word een met hulle. Sy Naam is immers Immanuel.

Hierdie vereenselwiging is ‘n “nuwe” identiteit wat Jesus, die Seun van God, op Hom neem. Wanneer Hy Hom deur Johannes laat doop, word Hy een met al die sondaars wat ook aangetree het.

Verbasend dat die volk in sulke groot getalle gekom het om gedoop te word. Hierdie doop van Johannes vereis immers dat ‘n mens moet erken dat jy sondig is en redding nodig het. En ons weet almal dat dít beswaarlik gebeur. Tog is die behoefte aan verlossing so groot dat hulle kom. Hulle wil iets doen. Hulle wou nie maar net soos altyd aanploeter nie.

Nog meer verbasend is dat Jesus kom om gedoop te word. Dit is die uitdrukking van sy diepe vereenselwiging met die volk en hulle almal se ontreddering. Mense sien hulleself asof vir die eerste keer en hulle gaan oor tot die radikale stap om dit te erken en in die doop van Johannes te bely.

Deurbreek van die koninkryk

Dit is hoe die nuwe koninkryk van God in hierdie wêreld deurbreek:

  • Mense erken uiteindelik dat hulle eie sonde die groot probleem is – ons het elkeen ons eie aandeel aan die stukkende wêreld.
  • Mense beleef eensklaps dat God nie ver bly nie, maar in die Persoon van Jesus langs ons kom staan sonder om Hom te skaam vir die sondaars waarmee Hy assosieer; dat dit juis oor die sonde is dat Hy nader staan.
  • Dan gaan die hemel oop en word die Gees se werking waarneembaar en God se stem hoorbaar.

Vir Jesus is daar lyding in hierdie doop opgesluit. Die begin van sy bediening is – anders as die verwagting van Johannes in sy boeteprediking – nie die gedonder van God se woedende reaksie op sondaars en hulle sonde nie, maar die nader staan van sy geliefde Seun, Jesus, omdat Hy die volk van hulle sonde red. Jesus se doop begin om vir ons die lewe weer oop te sluit. Dit is God se vreemde redding.

Tweede assosiasie: Ons met Jesus … só bemagtig en transformeer Jesus mense
Let weer op die inklusiwiteit. Die skare, die tollenaars, die sondaars. Toe almal inval om gedoop te word, staan Jesus ook nader … en dit verander alles! Nou word sondaars se teenwoordigheid by Jesus meteens hulle belangrikste identiteit. Wie is ek? Iemand wat saam met Jesus is!

Jesus doop ook, sê Johannes in sy prediking. Hy doop met die Heilige Gees en met vuur, en so bring Jesus redding. Die vuur wat die Gees is, bring lewe. In Handelinge 2 begin Jesus se volgelinge onder leiding van die Gees geesdriftig van die goeie nuus getuig, en dit in al die tale van die omgewing. Sondaars is nou mét Jesus.

Die getuienis oor Jesus versprei die goeie nuus – ook na Teofilus en verder – en bring deur die geloof wat dit deur die Gees wek nuwe lewe. Hierdie vuur wat die Gees is veroordeel al mense se pogings om hulself te regverdig.

Lyding ingesluit

Vir die mense wat saam met Jesus toustaan om deur Johannes gedoop te word, is daar ook lyding opgesluit, juis as gevolg van hierdie vereenselwiging met die Here.

Soos Jesus die mag het om sy lewe vrywillig af te lê en weer op te neem, so kom sy volgelinge telkens in situasies waar hulle dieselfde kan en moet doen.

So was dit die afgelope twee jaar in die wêreld onder die swaard van die pandemie. Dit is nie die eerste tydperk wat so iets gebeur nie – die geskiedenis van die kerk is vol tydperke van beproewing. Ons is geleer om te bid dat ons Vader ons van sulke krisistye sal bewaar, maar veral ook dat ons, wanneer die krisis kom, nie die bose weg sal inslaan nie. Jy het ook die mag om jou lewe af te lê en op te neem in hierdie nawerking van alles wat in die wêreld gebeur het. Want, skryf Paulus aan verskeie gemeentes, wie saam met Christus gedoop is in sy dood, het die vooruitsig om saam met Hom op te staan tot nuwe lewe.

Dit is die keuse wat die lewe in hierdie wêreld laat uitkring. Deur die sterwe en opstanding van en saam met Jesus, word die kosmos straks herstel. Dit is ons, die volgelinge van Jesus, die kerk, se roeping. Dit is wie ons is! Daar is ook opstanding en nuwe lewe in die doop. Wanneer ons nou leef, kyk ons dus terug én ons kyk vorentoe.

Ons reaksie

By die oordenking van hierdie teks word ons vervul met:

  • Dankbaarheid, oor die verlossing wat God deur die eeue vir ons beplan en in Jesus Christus bewerk het;
  • Verwondering oor die gawe van die Evangelie van Jesus Christus, wat so akkuraat deur Lukas vir Teofilus en vir ons opgeteken is;
  • Lofprysing, omdat God na ons uitgereik het en ons identiteit nuut kom stempel;
  • ‘n Begeerte tot ‘n herverbintenis aan God, ook in die moeilike omstandighede van die pandemie waarin ons ons bevind.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Seën
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel:
“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”
Gaan leef dan, geliefde, wie jy reeds is.
Want die genade van die Here Jesus Christus
en die liefde van God
en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.
– uit Jesaja 43:1 en 2 Korintiërs 13:13

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.