Eerste Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalms 29:1-31:8 ()
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Handelinge 8:14-17 ()
14Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. 15Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. 17Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Lukas 3:15-22 ()
15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

Die doop van Jesus
(Matt 3:13–17; Mark 1:9–11)
21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Fokusteks

Jesaja 43:1-7
Jy is Myne
43 Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
2As jy deur water moet gaan,
is Ek by jou,
deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
3want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.
4Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
5Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.
Ek bring jou kinders van die ooste af,
Ek maak hulle bymekaar
van die weste af,
6Ek sê vir die noorde: Gee!
vir die suide:
Moet hulle nie terughou nie!
Bring my seuns van ver af,
my dogters van die uithoeke
van die aarde af,
7elkeen wat na my Naam genoem word,
elkeen wat Ek geskep het tot my eer,
wat Ek gevorm het,
wat Ek gemaak het.

Ekstra stof

Hoofstuk 43
Hoofstuk 43 verseker die volk van God se verkiesende liefde (43:1-13) wat Hom beweeg tot ’n nuwe bedeling (43:14-21) omdat Hy getrou is aan Homself (43:22-28).

43:1-13: Dit is vir baie van ons seker een van die mooiste gedeeltes in die Bybel.  Maar luister daarna ook uit die hoek van ’n volk wat in ballingskap sit en dié bemoedigende woorde van God hoor.  God kies hulle uit om aan hulle liefde te bewys en bymekaar te maak in ’n Tweede Eksodus waar hulle van alle windstreke weer terug na die Beloofde Land sal keer.  En alle nasies sal getuies wees van hierdie proses.  Let op hoe die roeping van die gehoorsame dienaar van die Here uitgespel word: “sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is.” (43:10).  Terloops: Seba was die seun van Kus (Gen 10:7) en was dus ’n ander naam vir Ethiopië.

43:14-21: God bewerk hierdie Tweede Eksodus deur ’n nuwe ding te doen, dit is om die Galdeërs te verslaan (deur die Persiërs) en sy volk in ere weer te herstel.

43:22-28: Die redding gebeur al verdien Juda dit nie, en het hulle selfs nie daarvoor gevra nie.  God vergewe hulle omdat Hy getrou bly aan Homself.  In woorde wat reeds in die eerste hoofstuk van Jesaja gebruik is, nooi God hulle uit om die saak met Hom uit te maak, ’n tema wat in die volgende hoofstuk verder gevoer sal word.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die wit Christuskers word op ’n sigbare plek voor in die liturgiese ruimte aangebring. Dit brand reeds wanneer die erediens begin.

Lied 511 “Lei U ons lig vs 1,2”

Aanvangswoord
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
(Uit Psalm 29)

Seëngroet
Aan almal wat aan God behoort, getroue broers en susters in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader!
(Ahv Kolossense 1:1-2)

Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Verootmoediging (Doopherinnering)
Plaas die doopvont in hierdie seisoen prominent in die liturgiese ruimte.

Die doop pas tradisioneel by die Epifanie siklus. Ons stel voor dat ‘n vorm van doopviering/ herinnering in diè gedeelte van die erediens ingerig word. Enkele riglyne uit die nuutste Handleiding by die erediens (2010) word deurgegee…

Die betekenis van die doop behoort deurlopend beklemtoon te word sodat dit vir lidmate ‘n lewende herinnering sal wees. Hou in gedagte dat die rituele wat gebruik word nie die indruk van herdoop wek nie.

Verduidelik die belangrikheid en simboliek daarvan deur te verwys na Jesus se eie doop.

Lees Lukas 3:15-22 ()
15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Vrae aan die gemeente:
Voorganger (V): Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Gemeente (G): Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Vader ‘n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy  ons tot Sy kinders en erfgename aanneem. (Oomblik van stilte)
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?

G: Ja, ek glo.
V: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van Sy dood en opstanding ingelyf het. (Oomblik van stilte)
Glo jy in die Heilige Gees?

G: Ja, ek glo.
V: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.

Lidmate kan nou na die doopvont genooi word waar elkeen geleentheid kry om sy/ haar hand in die doopwater te plaas. Die voorganger kan dan sê: “Ek herinner jou daaraan dat jy gedoop is in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en dat jy daarom aan God behoort.”
(Uit Handleiding vir die erediens (Bybel Media), 2010:25)

Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,2,3,4”

Liedere

F84. “My God Is So Groot”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Verwondering)
Oorspronklik: My God Is So Big
Teks en musiek: Ruth Harms Calkin
Afrikaanse vertaling: Onbekend
© 1959, 2002 Nuggets of Truth
(Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, My eerste loflied)

My God is so groot so sterk en so magtig
daar’s niks wat my God nie kan doen.
Die berge maak Hy, die riviere daarby
die see en alles daarin.
My God is so groot so sterk en so magtig
daar’s niks wat my God nie kan doen.

F102. “Ek Is Veilig”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en vertroue)
Teks en musiek: Soekie Rautenbach
© 1997 Brettian Productions
(Opgeneem op Issie Waarheid)

Refrein:
Ek is veilig, veilig in die Here.
Ek is veilig, veilig in die Here.
As ek bang is in gevaar
weet ek God is altyd daar.
Ek is veilig, veilig in die Heer.

Ek is veilig, veilig in die Here.
Ek is veilig, veilig in die Here.
As dit donker is om my
weet ek God is naby my.
Ek is veilig, veilig in die Heer.

1. Die Here is ’n rots en ’n skild vir my
’n huis en ’n skuilplek waar ek veilig kan bly.
Hy’s ’n muur van vuur en ’n toring wat staan
en ’n eng’le-mag wat rondom my ’n laer opslaan.

2. Die Heer is soos ’n hen wat haar kuikens toevou
soos ’n arend wat sy vlerke vir sy kleintjies oopvou.
Die Here is ’n held; ’n redder is Hy
as ek Sy Naam aanroep, dan beskerm Hy my.

Refrein:

F246. “Lig Van Die Wêreld”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering)
Oorspronklik: Here I Am To Worship (Light of the World)
Teks en musiek: Tim Hughes
Afrikaanse vertaling: 2008 Johan Engelbrecht
© 2000 Thankyou! Music

1. Lig van die wêreld, U skyn in my duisternis;
nou kan ek sien wie U is.
Liefde wat maak dat ek U wil ken, Heer,
by U elke oomblik wil wees.

Refrein:
Voor U wil ek my neerbuig,
U wil ek aanbid en
U wil ek verheerlik as my Heer.
Want U alleen is waardig,
heilig en regverdig,
U is so genadig, so goed vir my.

2. Hemelse Heer, wat hoog en verhewe is,
Koning vol glorie en mag,
U’t na die wêreld as Kind gekom en
u heerlikheid afgelê.

Refrein:

Brug:
En nooit besef hoe U gely het,
daar aan die kruis was als vir my.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lied 512 “Nader my God by U vs 1”

Skriflesing: Jesaja 43:1-7

Prediking

Familie-oomblik

Die teks leen hom daarvoor om oor God se beskerming te gesels, en dit ook aan die betekenis van die doop te koppel.  “Ek het jou op jou naam geroep…”

Vertel die verhaal (dramaties) van Daniël wat in die leeukuil gegooi is en hoe God op buitengewone wyse vir Daniël gespaar het (Daniël 6). Brei dalk uit oor die leeus se stink asems, die harde geroggel as hulle brul en hoe lank die naels aan hulle voorpote is.

Fokus dan op die wonder van bewaring in uiterste nood en hoedat Daniël ervaar het dat God hom inderdaad op sy naam geroep het- hoedat die beloftes van Jes 43 vir hom waar geword het.

Vir u gerief bietjie ekstra stof oor leeus by Wikipedia. (Foto deur Rethie van Niekerk)

Lions
The lion (Panthera leo) is one of the four big cats in the genus Panthera and a member of the family Felidae. With some males exceeding 250 kg (550 lb) in weight,[4] it is the second-largest living cat after the tiger. Wild lions currently exist in sub-Saharan Africa and in Asia, with an endangered remnant population in Gir Forest National Park in India, having disappeared from North Africa and Southwest Asia in historic times. Until the late Pleistocene, about 10,000 years ago, the lion was the most widespread large land mammal after humans. They were found in most of Africa, across Eurasia from western Europe to India, and in the Americas from the Yukon to Peru.[5] The lion is a vulnerable species, having seen a major population decline of 30–50% over the past two decades2022 in its African range.[2] Lion populations are untenable outside designated reserves and national parks. Although the cause of the decline is not fully understood, habitat loss and conflicts with humans are currently the greatest causes of concern. Within Africa, the West African lion population is particularly endangered.

Lions live for 10–14 years in the wild, while in captivity they can live longer than 20 years. In the wild, males seldom live longer than 10 years, as injuries sustained from continual fighting with rival males greatly reduce their longevity.[6] They typically inhabit savanna and grassland, although they may take to bush and forest. Lions are unusually social compared to other cats. A pride of lions consists of related females and offspring and a small number of adult males. Groups of female lions typically hunt together, preying mostly on large ungulates. Lions are apex and keystone predators, although they scavenge as opportunity allows. While lions do not typically hunt humans, some have been known to do so. Sleeping mainly during the day, lions are primarily nocturnal, although bordering on crepuscular[7][8] in nature.

Highly distinctive, the male lion is easily recognised by its mane, and its face is one of the most widely recognised animal symbols in human culture. Depictions have existed from the Upper Paleolithic period, with carvings and paintings from the Lascaux and Chauvet Caves, through virtually all ancient and medieval cultures where they once occurred. It has been extensively depicted in sculptures, in paintings, on national flags, and in contemporary films and literature. Lions have been kept in menageries since the time of the Roman Empire, and have been a key species sought for exhibition in zoos over the world since the late 18th century. Zoos are cooperating worldwide in breeding programs for the endangered Asiatic subspecies.

Behaviour
Lions spend much of their time resting and are inactive for about 20 hours per day.[61] Although lions can be active at any time, their activity generally peaks after dusk with a period of socializing, grooming, and defecating. Intermittent bursts of activity follow through the night hours until dawn, when hunting most often takes place. They spend an average of two hours a day walking and 50 minutes eating.[62]

Population and conservation status
The Asiatic lion, whose habitat once ranged from the Mediterranean to north-west Indian subcontinent, is today found only in the Gir Forest of Gujarat, India. Only about 320 Asiatic lions survive in the wild.[138]

Most lions now live in eastern and southern Africa, and their numbers there are rapidly decreasing, with an estimated 30–50% decline over the last two decades.[2] Estimates of the African lion population range between 16,500 and 47,000 living in the wild in 2002–2004,[139][140] down from early 1990s estimates that ranged as high as 100,000 and perhaps 400,000 in 1950. Primary causes of the decline include disease and human interference.[2] Habitat loss and conflicts with humans are considered the most significant threats to the species.[141][142] The remaining populations are often geographically isolated from one another, which can lead to inbreeding, and consequently, reduced genetic diversity. Therefore the lion is considered a vulnerable species by the International Union for Conservation of Nature, while the Asiatic subspecies is endangered.[143] The lion population in the region of West Africa is isolated from lion populations of Central Africa, with little or no exchange of breeding individuals. The number of mature individuals in West Africa is estimated by two separate recent surveys at 850–1,160 (2002/2004). There is disagreement over the size of the largest individual population in West Africa: the estimates range from 100 to 400 lions in Burkina Faso’s Arly-Singou ecosystem.[2] Another population in northwestern Africa is found in Waza National Park, where only about 14-21 animals persist[144] – Wikipedia

‘n Baie mooi foto van ‘n leeu.

Preekriglyn

Die produksie van suiwer goud is geen eenvoudige prosedure nie.  Daar is verskillende prosesse beskikbaar om goud in die smeltkroes te suiwer.  Goud smelt teen ‘n enorme 1,063 grade Celsius.  In die gesmelte staat kan dit dan gesuiwer word.

Die Miller-proses van goudsuiwering behels dat ‘n stroom chloorgas oor en deur gesmelte goud geblaas word.  Onsuiwerhede verbind met die chloor en kan van die gesmelte goud afgeskep word.  Hierdie proses is in die 1860’s deur Francis Bowyer Miller in Australië beskryf.  Dit lei tot goudsuiwerheid van 99,95%.

Die Wohlwill-proses (ontwerp in 1874 deur Emil Wohlwill) produseer goud van die hoogste suiwerheid (99,999%), maar is baie duurder.  Dit maak van elektrolise gebruik waar goud as katode gebruik word met chloroauriese-suur as elektroliet.  Dit is ‘n geweldige duur proses omdat groot hoeveelhede gesmelte goud permanent opgelos moet word in die elektroliet.

Die boraks-metode werk met die beginsel dat goud by ‘n baie laer temperatuur smelt wanneer die mineraal boraks by die goudmengsel gevoeg word.  Goedkoper installasies is dus nodig en klein-skaal myners kan goud koste-effektief produseer.  Hierdie metode benodig ook nie giftige kwik in die produksieproses nie.  Die boraks-proses word reeds meer as 30 jaar deur myners in die Benguet-gebied van die Filippyne gebruik.

Dit is nie eenvoudig om goud te produseer nie.  Die smeltkroes waardeur goud gaan, gepaard met intensiewe chemiese behandeling, produseer egter uiteindelik die gesogte metaal van onskatbare waarde.

Geen wonder dat die egtheid van ons geloof in die Nuwe Testament ook aan die smeltkroes verbind word nie:

Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. (1 Pet 1:7)

In die smeltkroes

In Jesaja 43 bevind die volk Israel hom in die pynlike smeltkroes van die ballingskap.  God se bedoeling was om so met sy volk te wees, dat hulle ‘n konneksiepunt tussen God en die nasies sou wees (Jes 2).  Tog wou die volk nie.  Deur ongehoorsaamheid en afgodediens het hulle hul identiteit as God se eiendomsvolk voortdurend verloën.  Uiteindelik kon God nie meer nie, en beland die volk in ballingskap.  Tog bly God getrou.  Hy vergeet nie sy volk nie.  Hy bring hulle uit ballingskap terug, deur ‘n nuwe eksodus, na hulle land.

Vernaamste redes

Jesaja 43:1-7 word voorafgegaan deur ’n weergawe van die belangrikste redes waarom die volk in ballingskap weggevoer is (42:18-25).  Samevattend is die redes die volgende:

  • Die volk was blind in hulle sonde.
  • Hulle was doof vir die Woord van God.
  • Hulle wou nie in God se weë wandel nie.

Daarom is hulle as buit weggevoer en oorgelewer in die hande van die Babiloniërs. In die vreemde land is hulle mishandel en in gevangenisse opgesluit.  Ander is in gate aangehou.

Die volk wou ten spyte van eeue-lange waarskuwings nie die wil van God doen en na sy Woord luister nie.  Die wederstrewige volk word na ’n vreemde land weggevoer vanweë haar ontrou aan die Verbondsgod.

God se Naam in gedrang

Die voorafgaande paragraaf in Jesaja eindig met ’n duidelike beeld hoe God daaroor gedink het.  Die gedrag, optrede, gesindheid en ongeregtigheid van Israel voor die ballingskap, het God se Naam en eer skade aangedoen.  Daarom het Hy in sy Goddelike toorn die volk gestraf deur toe te laat dat Nebukadnesar saam met die Chaldeërs hulle in ballingskap wegvoer.  Die volk wat God uitverkies het, wat God keer op keer gered het, wat Hy van die begin af met sy Goddelike liefde omvou het, is dieselfde volk wat Hom so teleurgestel het.

Selfs in die vreemde land het sy voortgegaan om haar te verhard teen die Here.  ’n Wederstrewige volk wat nie meer kan sien of hoor hoe groot en genadig die Here is nie.

Tog …

Tog sien God kans om weer na hierdie volk uit te reik en met haar te kommunikeer oor die toekoms. God sien kans vir Israel. Sy toorn bly nie vir altyd nie. Sy liefde vir sy volk is te groot om onbepaald toornig te bly. God sien kans vir Israel, want Hy is die Verbondsgod. Hy staan in ’n besondere verhouding tot hierdie volk. Hy sien kans, want sy Goddelike Naam en eer is op die spel.

Jesaja 43:1-7 bring ’n duidelike wending in die gedagtegang van die boodskap van Jesaja mee.  Daar is ’n duidelike ommeswaai selfs in die manier hoe God nou tot die volk spreek.  Jesaja 42 eindig nog met die toorn en oordele van God, maar Jesaja 43:1-7 begin sommer met nuwe hoop, nuwe vertroue, nuwe uitdaging.

Want, daar in die vreemde land, was die Naam van die Here op die spel.  God was aan Israel bekend as die God wat hemel en aarde geskep het.  Hy was bekend as die God wat Israel uitverkies het as sy eiendomsvolk.  Hy was ook bekend as die God wat keer op keer in die behoeftes van sy volk voorsien het.  Dit is dus duidelik dat waar Israel struikel, misluk, val, die Naam van God op die spel sal wees.

Liefdesverklaring

Die profeet Jesaja gebruik die beeld van ’n liefdesverklaring van ’n minnaar teenoor sy beminde.  Die troue Verbondsgod verklaar opnuut sy liefde aan die volk, na die geweldige tydperk van straf en lyding wat hulle in ballingskap deurgemaak het.

Luister hoe spreek God sy volk aan: “Ek het jou verlos.”  Met die uitdrukking “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,” wil Jesaja sê God se reddende mag, genade en verhouding tot sy volk is onvergelyklik. Die feit dat Israel uitverkies, gered is, word weergegee met die woorde: “Ek het jou by die naam geroep.”  Dit gaan hier om die eiendomsvolk en word bevestig in die laaste woorde van vers 1: “Jy is myne.”

Volgens Jesaja het God nie net eenmaal by die skepping opgetree nie, maar is Hy nog steeds Skepper en daarom op ’n besondere manier aan die werk.  Met die uitdrukking “Ek het jou op die naam geroep,” sê God vir sy volk dat Hy hulle vir Hom geskep en gevorm het.  Sy doel is dat hulle sy volk moet wees.  Die frase “op jou geroep,” beteken dat die volk se vrese deur God oorwin is.  “Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.”  Die Hebreeuse werkwoord vir “verlos” beteken letterlik om ’n familielid uit die tronk van sy skuld los te koop.

Jesaja stel God aan die woord wanneer hy hoofstuk 43 begin, maar dit is ook belangrik dat die volk kennis neem van die manier hoe God hulle nou aanspreek.  Die woorde “Skepper” en “Formeerder” verwys na die beginjare toe God hierdie volk geskape en uitverkies het om sy volk te wees.  Terselfdertyd is dit ook ’n manier om aan die volk te sê dat hulle nie hoef te vrees nie, want Hy is die Skepper-God, die Een wat hulle geskape het, die God wat hulle verlos het, die Een wat hulle geroep het, die God wat hulle uitverkies het en wat nou deur die profeet tot hulle spreek.  Die verwysing na Jakob en daarna na Israel, is God se manier om aan die volk te sê jou Verlosser is aan die woord.

Boesem vertroue in

Dit is ’n boodskap wat ten doel het om nuwe vertroue by die volk in te boesem.  Hierdie volk is vir jare deur die Babiloniese maghebbers onderdruk.  Hulle weet nie meer hoe dit klink om na die woord van die Here te luister nie.  Daar is geen vertroue meer op God nie.  Hulle harte en gedagtes is ver van die Here af. Daar is eerder wanhoop, mismoedigheid en ongeloof, in plaas van vertroue. God wil hiermee nuwe vertroue by die volk aanwakker:

  • Dit moet vertroue wees wat die volk sal ophef uit haar ellende.
  • Dit moet vertroue wees wat tot ware geloof lei.
  • Dit moet vertroue wees wat sal help om die verhouding reg te stel tussen God en die volk.
  • Dit moet dus vertroue wees wat ’n versoenende uitwerking het.
  • Dit moet vertroue wees wat die volk moed gee om terug te wil kom.
  • Hierdie nuwe vertroue moet help om die wanhoop te verander in hoop, mismoedigheid in nuwe visie vir die toekoms, saam met die Here hulle God.

Daarom die trooswoorde, “wees nie bevrees nie”. Dit beteken nie net, moenie bang wees nie, maar eerder, dat Israel opnuut haar vertroue in die Here God moet stel, Skepper en Formeerder van die heelal.  Die trooswoord word weer in vers 5 herhaal om te bevestig dat die Here ernstig is in sy toenadering tot die volk.  Hier is iets van die verbond in hierdie trooswoord.  God wil opnuut weer sy verbondstrou aan die volk bekend maak.  Daarom moet sy nie vrees om die geloofstap te neem en Hom onvoorwaardelik te vertrou nie.  Die uitdrukking “wees nie bevrees nie” kan dus opnuut die betekenis kry van: vertrou My weer, vertrou My nog een keer, vertrou My en julle sal my wonders in julle midde ervaar.

Rus in God se trou

Vir ons as Nuwe Testamentiese gemeente is die goeie nuus dat God se trou steeds aan ons beloof is.  Hierdie opstapeling van troos, bemoediging en beloftes van trou, geld ook vir ons.

Mens kan jou moeilik die verskriklike ontworteling voorstel wat die ballingskap vir Israel ingehou het.  Alles wat hulle van God geken en verwag het, was verbind aan die land wat hulle uit God se hand ontvang het en God se teenwoordigheid in Sion.  Om uit die land weggeruk te word en van God se teenwoordigheid in die tempel beroof te word, was katastrofaal vir hulle geloof.

Tog bly God se trou en God se teenwoordigheid die hoogste en finale werklikheid.

Smeltkroes

Wat maak die ballingskap meer as blote brute straf vir ongehoorsaamheid?  Wat omskep die ballingskap in ‘n geleentheid vir groei, vorming en nuwe gehoorsaamheid?

Die antwoord is duidelik: dit is God se trou, beskerming en versorging.  Dit is die verskil tussen ‘n smeltkroes en ‘n vullishoop.  Antieke vullishope het vuur en verbranding as reinigingsmiddel gebruik.  Giftige afval, die uitskot van menslike lewe, is verbrand en so vernietig.  Die ballingskap sou ‘n vullishoop vir Israel kon word.  God se liefde maak daarvan ‘n smeltkroes waar die volk gereinig word en gereed gemaak word vir nuwe uitdagings van gehoorsaamheid.

Gelowiges en geloofsgemeenskappe kan daarom rus in God se trou.  God weet waarheen God met ons op pad is.  God neem selfs die slegte en die wrange gevolge van ons dwase keuses en bou dit om tot kreatiewe ruimtes vir nuwe geleenthede.

Nuwe weë

In Jesaja 43 is Israel steeds vasgeval in die ballingskap.  Die vraag is hoe hulle ooit uit hierdie situasie gaan kom.  Ons teks is God se konkrete belofte dat Hy die deur sal open en die volk uit ballingskap sal lei.

Die einde van die ballingskap is ook terselfdertyd die nuwe uitdaging wat aan die volk voorgehou word.  Sy moet egter nader kom, tot inkeer kom en tot nuwe insigte kom en die uitdaging aanvaar.  En as Israel bereid is om God op sy woord te neem soos wat die profeet dit aan hulle bekend maak, is daar ’n hele aantal beloftes wat God aan haar sal gee en ook waar maak.  Die Here sal Israel se verlossing bewerkstellig deur Kores, die Persiese koning.  Dit het die volk moeilik of selfs glad nie verstaan of begryp nie.

Tog was hierdie heidense vors God se agent. Dit was ’n tydperk waarin die Babiloniërs ’n groot agteruitgang beleef het op politieke, ekonomiese en militêre vlak, terwyl die Perse ’n bloeityd op dié terreine beleef het.  Israel moet egter nie vrees nie, maar vertrou en glo dat God haar wel deur Kores kan verlos, wat sal dien as sy instrument.  En as sy deur die water gaan sal God aan haar sy wees.  Deur die riviere, dit sal haar nie oorstroom nie.  En as Israel deur die vuur gaan sal dit haar nie skroei nie.  Die vlam sal haar nie brand nie.  Ja, sy goddelike alomteenwoordigheid en beskermende liefde sal die volk omring en haar verseker van sy goddelike nabyheid.

Om God op sy woord te neem

Baie gelowiges en baie geloofsgemeenskappe of gemeentes is ook in vasgevalde situasies.  Dalk word ons bewus hoe selfgerig en selfsugtig ons lewe.  Ons mag as gemeente wakkergeskud word uit die doodslaap van ons lewe as ‘n klub wat net vir sy eie lede omgee.  Ons mag bewus word hoe betower ons is met ons eie behoeftes en hoe min ons voel vir God se roeping vir ons lewe.

Baie gemeentes gaan deur groot krisisse, wat met leierskap verband hou, of met demografiese skuiwe met dramatiese finansiële implikasies.  Dit word dan baie moeilik om God op sy beloftes te neem en gehoorsaam die treë te gee wat God van ons verwag.

Wie kan rus in God se trou, kan ook opstaan en die treë neem wat God vra.

Ek dink terug aan ‘n vriend van my wie se pa in die tronk beland het weens onwettige handelspraktyke.  Dit het sy pa, ‘n trotse man en steunpilaar in die gemeenskap, geknak.  Hoewel hy slegs sowat twee jaar in die gevangenis was, was hy daarna op homself ingekeer, skaam en het homself van ander geïsoleer.  Wat ‘n kort skande moes wees, het ‘n lang verdriet geword.  Hy kon homself nooit weer vergewe, en sy plek in die gemeenskap inneem nie.

Nog ‘n voorbeeld: ‘n klein plattelandse gemeente se leierouderling vertel hoedat hulle nie langer ‘n voltydse predikant kon bekostig nie.  Hulle maak toe ‘n plan.  Die gemeente kry ‘n dominee uit ‘n buurdorp om elke Sondag by hulle kerk te kom hou.  Hulle betaal sy reiskoste, hou die kerkgebou in stand, en vereffen maandeliks ‘n paar rekeninge.  Doodtevrede.  Hulle hou mos die kerk in stand.  Toe gaan die buurdorp se loslootjie dominee weg.  Met ‘n skok besef hulle: as ons nie kerk gaan wéés nie, gaan ons sterf.  Hulle begin self verantwoordelikheid neem.  Self eredienste hou.  Self nadink oor wat gemeente-wees beteken.  Meteens kom daar nuwe lewe.  “Ons raak toe wakker uit ‘n doodslaap wat sewe jaar geduur het,” vertel die ouderling.  Vandag is dit ‘n lewende gemeente wat die Here en die Here se beloftes ernstig neem.

Jesaja 43 is ‘n belofte vir sulke gemeentes en sulke mense.  God se goedheid verdwerg ons onbesonne optrede.  God se goedheid maak van ons dwaasheid en doodsheid ‘n smeltkroes waaruit herstelde, geneesde, gehoorsame mense na vore kom.

Ons word geroep om God op sy woord te neem.  God begelei ons op die pad van gehoorsaamheid.  God versorg en bemagtig ons.  Ons kan dit met God waag.

Uitgedaag

Die vraag is wat God deur ons wil bereik.  Dit gaan oor ons as individuele gelowiges, maar ook oor die geloofsgemeenskap waaraan ons behoort.  Wat wil God deur ons in die wêreld doen?  Waar nooi God ons om by God se missie in die wêreld aan te sluit.  Wat moet ons wees en doen met die moed wat God vir ons gee?

Laat ons dit waag om groot te dink oor God.  En oor wat God deur ons vir die wêreld wil wees en wil doen.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here
ek weet dat U my gevorm het,
dat U my geskep het.
Ek weet dat ek aan U behoort,
dat U my naam ken.
Ek weet ook dat U daar is as ek in nood is:
as ek deur water of vuur moet gaan,
want U is die Heilige van Israel,
U is God die Redder.
Ek weet dat U my kosbaar ag,
dat U my hoog en belangrik ag,
dat U my liefhet.
Ek weet dat U is wat U sê,
want U het Jesus in my plek gegee.
Daarom Here, is ek nie bang nie,
daarom glo ek soos ‘n kind
dat U my Here is.
Aan U die eer.
Amen
(Gebed ahv Jesaja 43)

Offergawes

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs vs 1,2”

Seën
Die Here is voor jou om die weg gelyk te maak;
die Here is langs jou om jou in Sy arms toe te vou;
die Here is agter jou om die aanvalle van die bose af te weer;
die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val;
die Here is rondom jou om jou te beskerm;
die Here is bokant jou om jou te seën;
die Here is binne-in jou om jou te lei met Sy Heilige Gees-
so seën die drie-enige God jou, van nou af tot in ewigheid.
(Preekstudies met liturgiese voorstelle (BUVTON) 2000/2001: 38)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.