Eerste Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jesaja 42:1-9
Hier is my dienaar
42 Hier is my dienaar, Ek stel hom aan.
Ek het hom uitverkies,
hy geniet my guns.
Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies
bekend maak.
2Hy sal nie roep nie,
hy sal nie hard skree nie,
hy sal nie sy stem op straat
laat hoor nie.
3’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie,
’n lamppit wat dof brand,
sal hy nie uitdoof nie.
Hy sal my wil bekend maak soos dit is.
4Self sal hy ook nie uitgedoof
of geknak word nie
totdat hy my wil op aarde gevestig het.
die eilande wag op wat hy hulle sal leer.
5So sê God, die Here,
Hy wat die hemelkoepel geskep
en dit oopgespan het,
Hy wat die aarde gevorm het
en alles wat dit oplewer,
Hy wat aan al die mense op aarde
die asem gee,
die lewe aan alles
wat op die aarde beweeg:
6Ek is die Here.
Omdat Ek getrou is aan my verbond,
het Ek jou geroep.
Ek hou jou vas,
Ek beskerm jou
en Ek maak jou my verbond
met my volk,
my lig vir die nasies.
7Jy sal blindes laat sien,
jy sal gevangenes uit die tronk bevry;
wie in die donkerte
van die gevangenis sit,
sal jy laat uitgaan.
8Ek is die Here, dit is my Naam,
die eer wat My toekom,
gee Ek aan geen ander nie,
die lof wat My toekom,
gee Ek nie aan gesnede beelde nie.
9Wat Ek vroeër aangekondig het,
het plaasgevind.
Ek kondig nuwe dinge aan.
Voor dit begin gebeur,
laat Ek julle al daarvan hoor.

Psalm 29
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Fokusteks

Matteus 3:13-17
Johannes die Doper en sy prediking
(Mark 1:1–8; Luk 3:1–9, 15–17; Joh 1:19–28)
3 In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek 2en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”3Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het:
“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed, maak
die paaie vir Hom reguit.”

4Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met ’n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 5In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom. 6Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.

7Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. 9Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 10Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 11Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand.”

Die doop van Jesus
(Mark 1:9–11; Luk 3:21–22; Joh 1:31–34)
13In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?”

15Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Daarna het Johannes ingestem. 16Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Die versoeking in die woestyn
(Mark 1:12–13; Luk 4:1–13)
4 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”
4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:
’n Mens leef nie net van brood nie
maar van elke woord
wat uit die mond van God kom.”

5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:
Hy sal sy engele oor jou opdrag gee
en:
Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen ’n klip
sal stamp nie.”

7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

8Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid en
Hom alleen dien.”

11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Seëngroet
Verootmoediging

Lied 355 “Al was ek nie daar nie vs 1,2”

Jesaja 42

Lied van aanbidding: Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1”

Verbintenis: (Ahv Psalm 29)

Lofliedere
Lied 360 “Vanuit die hemel is gebring vs 1,2,3” en/of
Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 3

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis ahv die loflied van Maria” (Lukas 1:46-56)

Offergawes

Wegsending: Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,2,3,4”

Seën
Responsoriese gebed voor die seën

2 Korinthiërs 13 of Numeri 6:24-26 

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
(Psalm 29)

Seëngroet
Geliefdes wees gegroet in die Naam van Jesus
die vleesgeworde waarheid van God by ons.
Jesus wat toon dat die naam wat die Vader ons gee
waar is: geliefde.
“Die Here gee krag aan julle, sy volk;
Die Here seën julle, sy volk, met oorvloed” (uit Ps 29:11).

Verootmoediging
Lied 355 “Al was ek nie daar nie vs 1,2”
So pas het ons Kersfees gevier (die koms van die Messias kind) en tans bevind ons onsself in die tyd van Epifanie (God se verskyning). Gebruik Jesaja 42 om weer te buig voor die uitverkore dienaar…

Jesaja 42
Hier is my dienaar
42 Hier is my dienaar, Ek stel hom aan.
Ek het hom uitverkies,
hy geniet my guns.
Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies
bekend maak.
2Hy sal nie roep nie,
hy sal nie hard skree nie,
hy sal nie sy stem op straat
laat hoor nie.
3’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie,
’n lamppit wat dof brand,
sal hy nie uitdoof nie.
Hy sal my wil bekend maak soos dit is.
4Self sal hy ook nie uitgedoof
of geknak word nie
totdat hy my wil op aarde gevestig het.
die eilande wag op wat hy hulle sal leer.
5So sê God, die Here,
Hy wat die hemelkoepel geskep
en dit oopgespan het,
Hy wat die aarde gevorm het
en alles wat dit oplewer,
Hy wat aan al die mense op aarde
die asem gee,
die lewe aan alles
wat op die aarde beweeg:
6Ek is die Here.
Omdat Ek getrou is aan my verbond,
het Ek jou geroep.
Ek hou jou vas,
Ek beskerm jou
en Ek maak jou my verbond
met my volk,
my lig vir die nasies.
7Jy sal blindes laat sien,
jy sal gevangenes uit die tronk bevry;
wie in die donkerte
van die gevangenis sit,
sal jy laat uitgaan.
8Ek is die Here, dit is my Naam,
die eer wat My toekom,
gee Ek aan geen ander nie,
die lof wat My toekom,
gee Ek nie aan gesnede beelde nie.
9Wat Ek vroeër aangekondig het,
het plaasgevind.
Ek kondig nuwe dinge aan.
Voor dit begin gebeur,
laat Ek julle al daarvan hoor.

Lied van aanbidding: Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1”

Verbintenis: (Ahv Psalm 29)
Ek sal U Here prys om die eer van U Naam;
Ek sal voor U Here buig by U heilige verskyning.
U stem weerklink oor die waters;
U, die magtige God, laat die weer dreun;
U stem Here, is vol majesteit-
dit kloof die seders van die Libanon oop;
U stem laat laat weerlig uitslaan-
dit laat die woestyn bewe!
U, Here, heers as koning-
vir altyd.
U, Here, gee my krag;
U seën my met oorvloed.
Aan U die eer…

Lofliedere
Lied 360 “Vanuit die hemel is gebring vs 1,2,3” en/of
Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Liedere

F14. “Jesus Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Keer op keer,
val ek neer,
deur my eie sondigheid.
Telkens weer,
wil ek self probeer,
opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan,
daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Dit is wat ek glo.
Ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer.
Voor Hóm sal ek buig.
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.

2. Keer op keer,
buig Hy neer
en lig my uit my hulp’loosheid.
Weer en weer
wys Hy Hom as Heer,
oorweldig my met heiligheid.
Dis dan dat ek verstaan
daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:

F180. “U Is Heer” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Met hande omhoog
verklaar ons: U is Heer!
Dat almal kan hoor,
verklaar ons: U is Heer!
Laat die volke weet en juig
die Koning is hier tuis
in ons stad en in ons harte.
U regeer.
1. Die hele aarde smag daarna
om geregtigheid te ken
om elke dag in vrede te kan leef.
U’t gekies om deur die kruis
geregtigheid te bring
En deur verloste mense
as Vredevors te heers.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Gees van die lewende God,
wees die tuinier van my siel.
Hoe lank wag ek nou al op U – stil – in ‘n koue winter van my siel.
Maar nou, in die kragtige naam van Jesus Christus, waag ek om U te smeek:
Hark weg die dooie blare van die verlede
Vergruis die harde kluite van my weerbarstige gewoontes en groewe
Werk diep in my in die ryk kompos van nuwe visie en vreugde
Plant diep in my siel u lewegewende Woord
Versorg, gee water, koester my hart
Totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom.
Amen.
(Richard Foster: Uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Matteus 3

Prediking

Familie-oomblik

Vra die kinders wie van hulle al iewers weggeraak het (in ’n winkelsentrum of by ’n mark of sirkus) of op enige plek waar daar baie mense was. Vra die kinders wie van hulle dalk toe deur ’n volwassene gehelp is om hul ouers op te spoor. Gewoonlik wil die volwassenes dan eers baie seker maak dat jou ouers wel jou ouers is. Gewoonlik sal hulle rondvra of uitroep of laat aankondig: “Ons soek die ouers van hierdie kind…” En toe jou ouers daar kom, moes hulle sê: “Dit ís my kind. Ek ken sy/haar naam” en wanneer hulle jou naam sê, dan hardloop jy sommer in hulle arms in.

Met die doop van Jesus was Jesus ook tussen ’n klomp mense. Hy was nou wel nie verdwaald nie, maar Sy Pa het ook Sy naam uitgeroep en gesê Jesus is syne. Dit moes Jesus baie lekker laat voel het. Jy weet mos hoe jy voel as jou pa of ma vir iemand sê: “Dit is mý kind hierdie; ek is sommer baie lief vir hom/haar.”

Aktiwiteit:
In die hospitaal as ’n babatjie gebore word, sit hulle dadelik so ’n bandjie om die baba se arm wat dan vir die mense sê wie die babatjie is. Maar dikwels het die babatjie nog nie ’n naam nie. Dan skryf hulle sommer die pappa/ mamma se van op die bandjie. Die bandjie sê dus jy is daardie familie se babatjie. Met Jesus se doop het God ook nie vir die mense Jesus se naam gesê nie, nee Hy het net gesê: “Hy is Myne”.

God sê by óns doop ook dat ons aan Hom behoort. (Jy kan papier naam-bandjies uitdeel waarop iets staan soos “God s’n!” Laat die kinders hulle name self inskryf as hulle kan. Hulle kan dit inkleur of as deel van ’n doop-herinnering na die doopvont kom waar een van die ouderlinge dit om hulle polse vaskram/vasplak.

Alternatief: Doopherinnering
Nooi die kinders om voor saam met jou by die doopvont te kom staan. Verduidelik dat Jesus ons deur die doop deel maak van sy liggaam op aarde. Lees Jesaja 42:1-9. Jesus het ons kom wys hoe God graag ons wêreld wil hê: vol liefde en regverdigheid. Ons is nou Jesus se hande en voete op aarde. Hy gebruik ons om die dinge wat nog verkeerd is, reg te maak. Maak ’n kruis met die doopwater op hulle hande as teken dat hulle aan Jesus behoort en dat Hy deur hulle hande werk.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)
of
(Voorganger gaan staan by doopvont met hand in water)
Voorganger: Die Here jou God beveel jou vandag om volgens sy voorskrifte en bepalings te leef en hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.
Gemeente: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na hom luister.

V: Die Here verklaar vandag opnuut dat jy sy eiendomsvolk is soos hy jou beloof het en sê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam.
Gemeente: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na hom luister.

V: Die Here verklaar vandag dat jy ’n volk sal wees wat aan die Here jou God gewy sal wees soos hy beloof het.
Gemeente: Amen
(Uit: 2010 Handleiding vir die Erediens. Bybel-Media, Wellington)

Preekriglyn 2014
[Nota: Hierdie preekskets is ‘n bygewerkte en geredigeerde weergawe van die preekskets in Woord en fees. As tweede moontlikheid word dit gevolg met ‘n vroeër preekskets (uit 2011) wat die trinitariese en missionale temas uit die teks sterker bywerk.]

David Slagle vertel hoe sy seuntjie, was pas geleer het om “pappa” te sê, vir twee weke behoorlik met asma en oorinfeksie gesukkel het. Die kleinman het aan mekaar gehoes en genies, en sy neus het soos ‘n kraan geloop. Elke aand as David van die werk af kom, het hy gehardloop om hom by die deur te ontmoet, glimlaggend, hoesend, met ‘n lopende neus en die opgewonde woorde: “Pappa! Pappa!”

David is ‘n man wat maklik gril. Tog, vertel hy, het sy seuntjie se gedurige niesery en onbeheerbare loopneus hom nie gepla nie. Al het die kleinman elke hemp van hom met ‘n laag bedek, het hy sy seun baie lief, en geniet hy die kleinman se liefde.

Wat meer is: “My seuntjie se siekte herinner my dat God my lief het ten spyte van my sonde, en wil hê ek moet as kind na Hom hardloop, met die woorde: ‘Abba, Vader!'”

Goddelike omhelsing
In ons teks vind omhelsing op verskeie vlakke plaas. Jesus omhels ons, deur in ons plek met die doop van skuldbelydenis gedoop te word; die Heilige Gees omhels Jesus deur op Hom neer te daal, en die Vader verklaar sy vreugde in en liefde vir die Seun.

Binne die raamwerk van omhelsing sien ons die liefde en versorging wat deel is van die lewe van die Drie-Eenheid, en waartoe ons genooi word en waarvan ons deel gemaak word.

Goddelike kroning
In die proses van omhelsing word Jesus gekroon en gesalf vir Sy bediening as Verlosser en Here. Jesus word gekroon as Koning deur wie die Drie-Eenheid aktief werk om verlossing, herstel en geregtigheid na God se wêreld te bring.

Die kroning vind plaas deur:

  • Die doop van die Seun
  • Die salwing met die Heilige Gees
  • Die bevestiging van die Vader

Die Seun word gedoop
Die eerste moment in hierdie kroning is die doop van Jesus.

Johannes was verbaas dat Jesus na Hom toe kom met die versoek om gedoop te word. Jesus se koms na ons toe bly ’n onbegryplike wonder, ’n misterie. Baie keer word ons ook soos Johannes oorweldig deur sy onskuld, sy heiligheid en sy majesteit teenoor ons eie onwaardigheid. Tog kom oorreed Hy ons met meegevoel, roep Hy ons met ’n gerusstellende stem, totdat ons rus vind in ’n lewe van gemeenskap met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. So oortuig Jesus vir Johannes dat Hy tog by hierdie geleentheid gedoop moet word.

Jesus is dus nie gedoop omdat Hy ’n bekeerde sondaar is nie, maar om aan die wil van God te voldoen. Met sy doop het Jesus goedkeuring gegee aan die werk van Johannes. Met sy doop het Hy hom vereenselwig met gewone mense, sondaars. Sy doop dui ook die begin en toerusting vir sy openbare bediening aan. Sy doop was ook ’n simbool van sy komende kruisiging en opstanding. In Lukas 12:15 en Markus 10:38 verwys Hy na sy dood en opstanding as ’n doop wat Hy moet ondergaan.

Wat uitstaan is sy vereenselwiging met die mense wat Hy gekom het om te red. Toe Hy in die Jordaan ingegaan het, was dit asof Hy gevra het om die verantwoordelikheid vir mense se sondes te dra. Hy het sy lot, met alles wat dit behels, aanvaar. Vir Matteus is dit belangrik om Jesus uit te beeld as die Seun van God wat gewillig is om Hom aan die doop te onderwerp. Daardeur word iets van die uniekheid van Jesus deur Matteus tot uitdrukking gebring, naamlik dat Hy Seun van God maar ook volkome mens is, wat beide noodsaaklik is om ons Verlosser te kan wees. As Seun van God vereenselwig Hy hom tog wel met die sondige mense deur Hom te laat doop.

Hierdie vereenselwiging met sondaars het natuurlik sy hoogtepunt met die kruis en opstanding bereik. Daar het Hy aan alle geregtigheid voldoen, God se wil uitgevoer.

Moet ons Jesus navolg in sy doop?
As kantaantekening kan ons vra: moet ons Hom navolg in sy doop? Die rede waarom ons Hom nie hierin navolg nie is omdat Jesus se doop nie die Christelike doop was nie, maar die doop van Johannes die Doper. Mense wat deur Johannes gedoop is, is later deur Paulus oorgedoop (Hand 19:1-6).

Daar is ’n groot verskil tussen die doop van Johannes en die Christelike doop. Anders as met die Christelike doop is Johannes se doop nie ’n inlywing in Christus se sterwe en opstanding nie, omdat Christus nog nie gesterf en opgestaan het nie. Johannes se doop was ’n tydelike, oorgangstyddoop wat vandag nie meer bestaan nie. Sy doop het vooruit gewys na Christus wat sou kom en het Christus aan die mense bekendgestel. Sy doop was veral ’n bekeringsdoop.

’n Mens sou dus verwag dat Jesus nie hierdie doop nodig het nie. Net Matteus vertel van Johannes se weerstand om Jesus te doop omdat Hy weet dat Jesus sondeloos is (2 Kor 5:21; Heb 4:15; 1 Joh 3:5). Deur sy doop tree Hy in ons plek op, net soos Hy later in ons plek sou sterwe.

Die Heilige Gees daal op Jesus neer
Die tweede moment in die kroning van die Koning is die Heilige Gees wat uit die hemel op Jesus neerdaal. Dadelik na sy doop het die hemel bokant Jesus oopgegaan en het die Heilige Gees soos ’n duif op Jesus neergedaal. Die hemel wat geopen is, laat mens dink aan die Paradys wat gesluit is, laat mens dink daaraan dat die sonde die hemel vir ons toegemaak het, dat interaksie tussen ons en God verhinder is. Nou het Christus die hemel laat oopgaan vir alle gelowiges. Ons kan nou weer gemeenskap met God hê en met Hom kommunikeer.

Die duif wat neerdaal is ’n simbool van verlossing (Gen 8:8), reinheid (Lev 5:7), opregtheid (Matt 10:16) en van liefde (Hoogl 6:9). Die koms van die Heilige Gees soos ’n duif is vir Johannes die identifisering van Jesus, want God het vir Johannes gesê dit sal gebeur (Joh 1:31-34). Dit is ’n sigbare en bevestigende teken aan Johannes en aan almal wat dit sien – ook vir ons wat dit lees – dat Hy die beloofde Messias is. Dit verseker Jesus ook, hier aan die begin van sy bediening, van die Gees se werk in Hom (Joh 3:34). Trouens, Jesus se salwing met die Heilige Gees was ’n unieke toerusting vir sy menslike natuur om as Messias te kan optree. Nou is Hy in staat om die Gees vir ons te gee en so in ons hele lewe vir ons genoegsaam wees.

Bevestiging uit die hemel
Die derde moment in die kroning van die Koning is die Vader se bevestiging uit die hemel. Die Vader se stem uit die hemel het toe gesê: “Dit is my geliefde Seun, oor Hom verheug ek my.” Matteus haal ’n gedeelte van Psalm 2:7 aan en verbind Jesus so met die Koningskap in Israel. Hy is die Seun van God, van dieselfde soort of wese as die Vader, en as sodanig ons eintlike Koning. Matteus haal ook aan uit Jesaja 42:1-3 en verbind Jesus met die Lydende Kneg van Jesaja 40-53. Die dienskneg wat beskryf word in Jesaja is nederig, verwerp en sterf, maar word ook gesien as die een wat uiteindelik oorwin. Alhoewel dit direk verwys na die volk Israel, word dit duidelik in Christus vervul. Dit is die pad wat Jesus ook geloop het.

Hierdie uitspraak van die Vader moes ’n groot bemoediging vir Jesus gewees het hier waar Hy met sy bediening begin. Dit is egter nie net ’n uitspraak vir Jesus se ore nie, soos in Markus en Lukas. Ter wille van almal wat dit hoor, sê die Vader nie “Jy is” nie, maar “Dit is”. Vir ons is dit die bevestiging dat Jesus die Seun van God is, ons volkome Verlosser. Jesus is in ’n baie besondere sin die “geliefde” van die Vader. In Christus is ons egter ook geliefdes van God. Jy mag dit maar as die belangrikste deel van jou identiteit aanvaar; jy is bo alles ’n geliefde van God.

Hier staan ook dat God baie gelukkig met Jesus is. God het ’n diepe tevredenheid (“verheug”) met Christus omdat Hy deel van die Drie-eenheid is en omdat Hy Hom met sondaars vereenselwig en Hom beskikbaar stel as die Verlosser. God “verheug” Hom ook oor ons as gelowiges, omdat ons in Christus is. Die stem praat duidelik en helder van God se guns aan Christus en in Hom aan ons (Ef 1:6). Dit is die som van die hele evangelie dat God uit die hemel verklaar het dat Jesus sy geliefde Seun is met wie Hy baie gelukkig is, waardeur ons in geloof moet saam sê: “Hy is my Geliefde Verlosser oor wie ek my verheug!”

Hierdie stem uit die hemel is die klimaks van die gebeure. Waar Jesus met sy geboorte reeds aangekondig is as die Messias, die Verlosser, is hierdie nou die punt waar Jesus Homself in die openbaar verbind aan die rol waarvoor Hy bestem was met sy geboorte. So word hierdie gebeurtenis, wat Johannes eers wou voorkom, van groot betekenis vir Jesus en vir die kerk van alle tye.

Dankbaarheid
Teenoor ’n wêreld waarin Jesus nie erken word nie, en teenoor godsdienste wat Jesus se Goddelikheid nie erken nie, bevestig hierdie gebeure dat God Drie-enig is, en dat Jesus in besondere sin die Seun van God is. Hierdie gedeelte wek in ons ’n dankbaarheid op dat Jesus ons Verlosser kan wees omdat Hy volkome toegerus is daarvoor om dit te kan wees. Hierdie gedeelte laat ons opnuut bely: Jesus is die Koning van die konings. Dankie Here!

Preekriglyn uit 2011

Die bekende woorde van Michelangelo, “In elke blok graniet sien ek ‘n pragtige beeld,” inspireer vir Benjamin Zander, dirigent van die Bostonse Filharmoniese orkes. Sy lewensdoel is om die goeie, die mooie in elke mens na vore te bring. Hy noem hierdie benadering “Giving an A”. Hy behandel alle mense asof hulle A-kandidate is. Hy doen dit letterlik. Die studente vir wie hy ’n semesterkursus in die kuns van musiekuitvoering aanbied, gee hy sommer aan die begin van die kursus ’n A-simbool.

Zander beskryf die praktiese implikasies van sy benadering as volg:

  • Jy fokus nie op ander se beperkings nie, maar ontdek saam met hulle hul uniekhede.
  • Jy skat jou kollegas/mense na waarde en luister na hulle.
  • Jy verwag nie die minste van ander nie en daarom sal hulle hulle beste lewer.
  • Gee jouself ’n A. As jy jouself onderwaardeer, sal jy geneig wees om dieselfde met ander te doen.

Zander skryf die volgende oor die leefwêreld waarin sy musiekstudente hul begeef: “Hulle sal hulself in ’n maalstroom [sic] van kompetisie bevind waarin hulle moet veg vir oorlewing. Dit is ’n leefwêreld wat gekenmerk word deur rugstekery, rangordes en ’n strewe na status. In hierdie arena verwag ons van hulle om die meesterwerke met warmte, edelheid, speelsheid, gul-hartigheid, eerbied, sensitiwiteit en liefde uit te voer” (vry vertaal). Is dit nie ironies nie, vra hy? Is dit nie verskriklik tragies nie? Mense (ons) skep ’n giftige, ’n toksiese omgewing en verwag dan dat lewe daar moet gedy! Benjamin Zander wil dit verander. Hy wil help om mense te vorm sodat hulle pas by die lewenstaak wat vir hulle voorlê! As hulle soos A-kandidate moet optree, dan gee hy vir hulle ’n A en span hy met hulle saam om dit te verwesenlik. (Uit: Preekstudies en Liturgiese Voorstelle 2011)

‘n Groot dag in die lewe van God

In ons teks lees ons van ‘n groot dag in die lewe van Vader, Seun en Heilige Gees. Jesus kom aan die begin van sy openbare bediening van Galilea af. Hy kom om deur Johannes die Doper in die Jordaan gedoop te word.

Dit is nogal vreemd dat Jesus aanmeld om gedoop te word. Johannes se doop is ‘n bekeringsdoop. Met hierdie doop bely mens jou sonde voor God en soek jy vergifnis. Die vraag is: wat het Jesus om te bely? Jesus is ten volle mens, uitgesonderd die sonde. Jesus is ook God. Tog kom Jesus om ‘n belydenis- en bekeringsdoop te ondergaan.

Die antwoord? Op hierdie groot dag, aan die begin van sy openbare bediening as die Messias en Verlosser, sit Jesus as’t ware sy skouer onder ons sonde. Hy tel die las van ons gebrokenheid, ons opstand teen God, ons verskeurdheid in ons verhoudinge met mekaar en die wêreld, op sy skouers. Hy het gekom om vir ons en ons wêreld genesing te bring. Soos die engel vir Josef gesê het: “Jy moet hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Mat 1:21)

Johannes se doop is Jesus se publieke ampsaanvaarding van sy taak as Messias. Gestuur deur die Vader, buig Hy gehoorsaam onder die las van ons sonde in om vir ons bevryding te bring.

Wanneer Johannes skroom om Jesus te doop, sê Jesus hy moet dit nou doen, “want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” (15)

Só word hierdie dag ‘n gróót dag in die lewe van God. Só kom daar die blydskap in die Vaderhart. Om hierdie rede daal die Heilige Gees neer op Jesus. Daar is vreugde, blydskap en omhelsing in die lewe van die Drie-eenheid. Die Seun is immers gedoop. Die missie van God is op koers.

“Jy is my geliefde Seun”

Die Drie-eenheid word in die dooptoneel openbaar as ‘n lewende gemeenskap van Vader, Seun en Heilige Gees. Ons leer God in ons teks as ‘n liefdevolle gemeenskap van goddelike Persone ken. Ons aanbid ‘n God met verhoudinge binne-in God. Daar is Vader, Seun en Heilige Gees. Ons God is ‘n sosiale God, ‘n heilige Familie van Persone wat op mekaar ingestel is, mekaar dien, en vreugde in mekaar vind.

Hierdie sosiale God reik uit na mense en na die skepping. Ons is geskep uit God se begeerte na meer verhoudinge. Mens kan sê God se soeke na verhoudinge het op ‘n dag so groot geword dat God ook na buite in verhouding wou tree. Vanuit hierdie oorkook van Goddelike liefde is God se wêreld in aansyn geroep. Ons is die produk van die oerknal van God se liefde.

Deur krisisse het ons uit hierdie verhoudinge met God geval. Ons het weggebeur van God en die verhouding versteur. Ons het vyande van God geword.

Die Heilige Familie, die heilige Drie-eenheid, laat ons egter nie alleen nie. God gee ons nie oor aan ons lot nie. Die Vader stuur die Seun na die aarde om die deur te open dat ons teruggetrek kan word in ‘n herstelde verhouding met God. Die openbare uitvoering van hierdie missie in Jesus se bediening begin by die doop in die Jordaan.

Vandaar die blydskap van God. “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” (17) Vandaar die omhelsing van die Heilige Gees wat soos ‘n duif uit die hemel neerdaal en op Jesus kom. (16)

‘n Groot dag in die lewe van die Drie-eenheid.

Bevestiging en bemagtiging

Die Goddelike omhelsing by die doop van Jesus word die Goddelike bemagtiging waaruit Jesus lewe en sy bediening uitvoer. Dit word die krag van waaruit Hy bv. die versoeking in die volgende toneel van Matteus se evangelie weerstaan en die duiwel oorwin.

Ons is ook – in Jesus en deur die Gees – ingetrek in die groot geselskap van gemeenskap met die lewende God. Ons is ook gedoop. Oor ons lewe klink die woorde van die Almagtige: “Jy is my geliefde kind. Oor jou verheug Ek My.”

Henry Nouwen skryf – na aanleiding van die gelykenis van die verlore seun – daar is geen ander plek waar mens jouself moet bevind nie dan in die omhelsing van die Vader. Die vuil, verslonste, mislukte voorheen verlore seun val in die arms van die Vader. Die liefde van die Vader tel hom op, genees hom, herstel hom. “Jy is my geliefde kind. Oor jou verheug Ek My.”

God bevestig en bemagtig ons. Eers wanneer ons God se liefdesverklaring hoor, is ons bemagtig om God te gehoorsaam en te dien.

“Is ek goed genoeg?”

Ons leef in ‘n kultuur wat ons wysmaak dat ons nie goed genoeg is nie. Jy is te maer of te vet. Jy maak dit nie, want jy volg hierdie tien, of daardie drie stappe tot onvergelyklike sukses nie. Ons word ook geleer om mekaar te kritiseer en af te breek. Die lewe is een groot kompetisie, en jy is op jou eie. Dit gaan oor jou potensiaal wat jy moet verwesenlik. Jy moet bo uitkom.

Soos Benjamin Zander sê: ons leefwêreld word gekenmerk deur rugstekery, rangordes en ’n strewe na status. Hierdie groot kompetisie stroop die lewe kaal. Dit vervreem ons van mekaar. Dit maak van God die beoordelaar wat bepaal of ons dit maak of nie.

In die bekende fliek, As it is in Heaven, leer ons die kerk as so ‘n veroordelende gemeenskap ken. Die kerk is geïnteresseerd in wat verkeerd is, en word ‘n heksejag na vermeende sonde. Terwyl die kerk mense wil help om God te plesier, vernietig die kerk vreugde en vervreem juis mense van God en van mekaar. ‘n Koormeester wat skoonheid en menslikheid inweef in die lewe van die koorgemeenskap, wys ons iets van God se alternatief.

Vir immer-kritiserende Westerlinge is die groot dag in die lewe van die Drie-eenheid ‘n uitnodiging om vanuit God se liefde te lewe.

Wees versigtig om nie God se liefde te gebruik om die kerk te kritiseer nie! God se liefde gee ons nie skietgoed om mekaar vir ons liefdeloosheid te beskaam nie. Dit mis die punt.

God se liefde en God se bevestiging wil ons genees om self liefdevolle en bevestigende mense te word. God help ons om liefdevolle en bevestigende gemeenskappe te vorm. Dit gebeur deur die bediening van sy Seun en die krag van die Gees wat ons lewens verander.

In die omhelsing van die Vader weet ek ek is goed genoeg. God het my lief. Ek kan nou ook omhels en liefhê en bevestig.

Soos Benjamin Zander kan ek ander mense as A-kandidate behandel. Daar is ‘n pragtige mens in elke mens rondom my.

Ingetrek in God se missie

Waarom reik God in Jesus uit na ons? Waarom trek God ons in die groot liefdesgemeenskap, die lewe van die Drie-eenheid, in?

Een van die redes is dat God ons deel maak van God se missie in die wêreld. Die Seun is gestuur om mense in te trek in liefdesgemeenskap. Die Seun het gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook…” Net daarna blaas Hy oor sy dissipels en skenk die Heilige Gees aan hulle. (Joh. 20:21-22)

Ons ontvang die liefde en genesing, sodat ons liefde en genesing het om uit te deel. Mens kan daarom sê ons eie doop is ons ordening tot deelnemers aan God se sending.

Ons het gelowiges nodig wat in Jesus se Naam hul skouers onder die sonde en die gebrokenheid van die wêreld plaas. Ons het agente nodig vir genesing en herstel.

Ons moet ruim dink oor wat genesing en herstel beteken. Dit het te doen met ‘n herstel van verhoudinge met God, met mekaar en met die wêreld. Dit het te doen met ons dagtaak, met ons binnekamer, met ons innerlike selfgesprek oor ons eie genesing en gesondheid, met ons hele lewe.

Lesslie Newbigin beklemtoon die rol van ons dagtaak in God se sending in die wêreld. Hy sê gelowiges wat in dieselfde beroepsvelde werk, moet voortdurend saam beplan oor hoe hulle in daardie area God se sending kan uitleef. Gemeentes het ‘n rol om hierdie gesprekke te fasiliteer.

Versterk

Ons lewe as gelowiges in God se diens begin elke dag van ons lewe vanuit die omhelsing van God. Dit is ons krag en ons sterkte. Dit is ons genesing. Dit is die inhoud van ons bediening. Dit is die manier hoe ons onsself en ons medemens benader.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis ahv die loflied van Maria: (Lukas 1:46-56)
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”

Offergawes

Wegsending: Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,2,3,4”

Seën

Responsoriese gebed voor die seën
Voorganger: Here, ons bid vir u kerk.
Gemeente: Dat ons almal een mag wees.

Voorganger: Maak ons hierdie week getrou in u diens
Gemeente: sodat u Naam deur ons verheerlik mag word.

Voorganger: Ons bid vir alle bedienaars van die Woord
Gemeente: dat hulle woorde sal vrymaak en opbou.

Voorganger: Ons bid vir almal wat regeer en gesag uitoefen
Gemeente: dat U deur hulle meer vrede, geregtigheid en orde sal bring.

Voorganger: Gee ons die genade om u wil te doen in alles waarmee ons onsself besig hou
Gemeente: sodat ons lewe vir U aanneemlik sal wees.

Voorganger: Toon u deernis aan die wat ly
Gemeente: sodat hulle staande kan bly in hulle aanvegting.

Voorganger: Ons loof U vir hulle wat ons vooruitgegaan het na u troon.
Gemeente: Mag ons ook deel kry aan u ewige heerlikheid! Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

2 Korinthiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Numeri 6:24-26 ()
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.