Eerste Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag se evangelielesing fokus op Jesus se doop deur Johannes. Al die ander tekste het ook te doen met elemente van die doop. In Handelinge 19 word Jesus se doop met dié van Johannes vergelyk; Psalm 29 besing God se magtige stem en Genesis 1 is die verhaal van die skepping waar God gespreek het (met ‘n stem) en daar is geskep. By die skepping, soos met die doop, is God die Skepper, die Woord en die Gees betrokke.

Ander tekste

Genesis 1:1-5
God se skeppingswerk
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”
En daar was lig.
4God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

Psalm 29
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik:
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Handelinge 19:1-7
Paulus in Efese
19 Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry 2vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”

“Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord.

3“Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe.

“Die doop van Johannes,” antwoord hulle.

4Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.”

5Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. 6Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. 7Hulle was altesaam omtrent twaalf.

8Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. 9Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak. Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou. 10Dit het twee jaar lank so aangehou, sodat al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het.

Fokusteks

Markus 1:4-11
1 Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:
Die optrede van Johannes die Doper(Matt 3:1–12; Luk 3:1–18; Joh 1:19–28)
2In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:
“Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit.
Hy sal die pad vir jou regmaak.
3Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.”
4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 7Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. 8Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word gedoop
(Matt 3:13–17; Luk 3:21–22; Joh 1:29–34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek
(Matt 4:1–11; Luk 4:1–13)
12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels
(Matt 4:18–22; Luk 5:1–11)
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”
18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19Toe Hy ‘n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Die besetene in Kapernaum
(Luk 4:31–37)
21Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. 22Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

23Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ‘n man wat van ‘n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: 24“Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”
25Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. 27Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”
28En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder
(Matt 8:14–15; Luk 4:38–39)
29Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. 30Die skoonmoeder van Simon het daar met ‘n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. 31Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Nog genesings en voortgaande prediking
(Matt 8:16–17; 4:23; Luk 4:40–44)
32Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. 33Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. 34Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid. 36Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, 37en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

39Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.

Die genesing van die melaatse man
(Matt 8:1–4; Luk 5:12–16)
40Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”

42Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. 43Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek 44en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

45Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in ‘n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Aanvangswoord
Seëngroet 

Toewyding
Eerder as verootmoediging is dit gepas om steeds te juig oor God wat Hom in Jesus openbaar in die tyd van Epifanie (Godsverskyning)

Oproep tot lofprysing: ahv Psalm 29

Lees Maria se lofverheffing: uit Lukas 1

Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel vs 1”

Geloofsbelydenis: ahv Lied 468

Lofliedere
Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”
Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Epiklese: Lied 254 “Spreek Heer, spreek Heer 1”

Skriflesing; Markus 1:4-11

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,2,3,4”

Seën

Respons: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Aanvangswoord
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
(Psalm 29)

Seëngroet 
Die vrede van God
wat alle verstand te bowe gaan,
sal oor julle harte en gedagtes die wag hou
in Christus Jesus. Amen (Fil 4:7)

Toewyding
Eerder as verootmoediging is dit gepas om steeds te juig oor God wat Hom in Jesus openbaar in die tyd van Epifanie (Godsverskyning)

Oproep tot lofprysing: ahv Psalm 29
V: Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
G: 2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!

V: 3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
G: 4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.

V: 5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
G: 7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.

V: 8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
G: 10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.

V: 11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.
G: Ons prys die Here!

Lees Maria se lofverheffing: uit Lukas 1
46En Maria het gesê:
“Ek besing
die grootheid van die Here,
47ek juig oor God, my Verlosser,
48omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke
nuwe geslag my gelukkig noem,
49omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51Kragtige dade het Hy
met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52maghebbers het Hy van trone
afgeruk en geringes verhoog;
53behoeftiges het Hy oorlaai
met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54Sy dienaar Israel het Hy
te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes
van ontferming
55soos Hy dit toegesê het
aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”

Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel vs 1”

Geloofsbelydenis: ahv Lied 468
Christus, die Seun, is beeld van God –
van God onsigbaar, groot.
Hy is die Eerste, Hy alleen,
die hoog verhewe Heer.
Alles wat is, is daargestel
déúr Hom, vír Hom alleen.
Voor iets daar was, was Hy reeds daar;
deur Hom hou alles stand.
Hy is die oorsprong van die kerk,
ons Hoof, die Heer is Hy.
Ons is sy liggaam, één met Hom;
en in Hom is ons één
Christus het waarlik opgestaan
as Eerste uit die dood.
In die heelal sal Hy dus wees
die Eerste – Hoof en Heer.
God met sy  volheid woon in Hom,
só het God self besluit.
Daarom kon Hy versoening bring –
Gods vrede weer herstel.
Christus moes sterwe aan ‘n kruis,
Hy moes sy bloed laat vloei.
Hemel en aarde, die heelal,
is só met God versoen.

Lofliedere
Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”
Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Liedere

F257. “U Alleen”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Teks en Musiek: JA de Beer en Z van der Westhuizen
©  2007 Urial Publishing

U’s my huis, U’s my see
Niemand gee soos U gee
U’s my somer, U’s my reën
Elke dag, ek’s nooit alleen
En ek begeer U alleen
ek begeer U alleen
Nuwe more, eerste lig
U is beter as selfs dit
Niks wat ek kan begeer
Vergelyk met U, my Heer
So, hier is ek soos ek is
Ek lê my lewe neer voor U

F77. “Jesus Is Die Heer Bo Alle Here”
RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Geloofsbelydenis)
Teks & Musiek: Soekie Rautenbach & Danny Anthill
© Brettian Publishers
(Opgeneem op Radicool Radikids vir Jesus)

Jesus is die Heer bo alle here,
Halleluja !

Hy is Koning, kroon en eer Hom!
Loof Hom, Halleluja!

Jesus, Vredevors, eer Hom!
Halleluja !

Jesus, sterke God, eer Hom !
Halleluja !

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lied 254 “Spreek Heer, spreek Heer 1”

Skriflesing: Markus 1:4-11

Prediking

Familie-oomblik

Lees die doop van Jesus uit die Nuwe Testament vir kinders en onderstreep net weer die kernbetekenis van die Verbondsdoop.:

Jesus word Gedoop
9–11 Op ’n dag kom Jesus na Johannes toe. Hy het van Nasaret af gekom. Johannes het vir Jesus in die Jordaanrivier gedoop*. Toe Hy uit die water kom, het die hemel skielik oopgegaan. Die Heilige Gees* het na Jesus toe gekom. Dit het gelyk soos ’n duif wat na Hom toe kom. God sê toe uit die hemel: “Jy is my Seun vir wie Ek baie lief is. Dit wat Jy doen, maak My baie bly!”

(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Dit kan aangevul word met die volgende suggestie uit Bybel Media se Woord en Fees 2014/2015

Toy story 1 dien as ‘n goeie illustrasie vir die doop.  Gebruik die videogreep waar Buzz ontdek dat Andy sy naam op Buzz se voet geskryf het en hom so gemerk het as sy eiendom. Verduidelik dat die doop ons op dieselfde manier merk omdat ons aan God behoort. ‘n Verdere lyn sou kon wees waar die wete Buzz aanvuur tot aksie. Op dieselfde manier is ons doop, ons roeping om, in navolging van Jesus, werksaam te wees in God se koninkryk

Preekriglyn

Een van die groot profete bid hierdie aangrypende woorde:
As U maar die hemel
wou oopskeur
en wou afkom
sodat die berge voor U skud!
(Jesaja 64:1)

Hierdie gebed vind in die tyd na die ballingskap plaas. Dit is die sesde eeu voor Christus. Die verwoeste Jerusalem laat ‘n permanente wond in die verslae oorblyfsel van die volk Israel. In hierdie tyd bid die profeet Jesaja: “As U maar die hemel wou oopskeur….”

Hy vra daarmee dat die Here Hom nie ver weg moet hou nie, maar betrokke moet raak, Hom solidêr met die nood van sy volk moet verklaar. Jesaja bid om iets te mag sien van die heerlike teenwoordigheid van God in die wêreld. Hy vra dat God uit die hemel sal kom en die kloof tussen Hom en sy volk sy oorbrug.

Jesaja se gebed vind weerklank in Markus 1, wanneer vertel word van God wat inderdaad onder mense kom woon het, van die hemel wat toe inderdaad oopgeskeur het.

Wegbereider

Markus 1 begin sy evangelie met ‘n aanhaling uit die boek Jesaja (1:2-3):
Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit (Jesaja 40:3)

Hy kombineer die aanhaling uit Jesaja 40 met ‘n verwysing na Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1:
Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit
Hy sal die pad vir jou regmaak.

Hierdie aanhalings vestig die aandag op die wegbereider vir Jesus van Nasaret. Daar was iemand wat die volk se aandag daarop gevestig het dat God inderdaad nou die hemel gaan oopskeur en in die Messias tot by die mense gaan kom. Hierdie wegbereider is Johannes die Doper.

In die woestyn

Verstommend genoeg tree die wegbereider vir Jesus in die woestyn van Juda op. Hy bring ‘n boodskap van verandering: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.” (4).

Die woestyn en die bekeringsboodskap klink nie vir moderne mense na ‘n goeie “pick up line” as jy die massas wil bereik nie. Mens sou eerder ‘n hele span in aksie wou sien in Jerusalem, by die tempel. Tog tree Jesus se wegbereider, Johannes, in die woestyn op.

Die wegbereider is nie geklee soos mens van ‘n effektiewe publieke skakelbeampte sou verwag nie. Hy het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe. Hy sou ook nie mense met gratis kos kon lok nie. Daarvoor sou skares nie kom nie, want hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

Daarmee herinner Markus ons aan die profeet Elia, wat soortgelyke klere gedra het (2 Konings 1:8). Daarmee sê Markus dat Johannes die Doper eintlik die tweede Elia is. Die Jode het immers verwag dat die Messias se koms voorafgegaan sou word deur ‘n profeet soos Elia.

Die woestyn het vir die Jode nie net die betekenis van ‘n gevaarlike, wilde en onbewoonde plek gehad nie. Die woestyn is ook gesien as die plek waar die Here sy volk vorm en toerus. Die lang trek deur die woestyn na die beloofde land was ‘n vormingstyd, en die woestyntyd van die ballingskap was ook gerig op die geestelike vorming van die volk om ingestel te wees op God.

Hoeveel bedenkinge ons ook al oor die woestyn, die kos en die kleredrag sou kon hê, was dit vir die Jode van Jesus se tyd ‘n teken dat God aan die werk is. Johannes die Doper se optrede was presies dié van ‘n wegbereider wat die volk se aandag gevestig het op die groot dinge wat God aan die doen is.

Die boodskap

Markus vertel Johannes se boodskap het twee hoofpunte gehad.

Eerstens het hy mense ernstig opgeroep tot bekering (1:4). Bekering is baie meer as emosies. Dis nie bloot om te sê jy is jammer oor jou optrede nie. Bekering is om te breek met ‘n ou lewe. Bekering is om jou lewe te heroriënteer aan God. Vir die meeste mense is dit ‘n draai deur 180 grade.

Markus vertel dat die mense uit Judea en Jerusalem na Johannes gestroom het. Hulle het berou gehad oor hul sonde. As bevestiging van hul sondebelydenis en hul nuwe lewe is hulle dan deur Johannes in die Jordaan gedoop.

Op grond van die getuienis van die Ou Testamentiese profete het die Jode verwag dat daar in die laaste dae so ‘n groot bekering sal plaasvind. Dink aan Jeremia 31:33-34 waar die Here sê almal sal Hom dien: “Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.”

Volgens NT Wright was die ballingskap vir die Jode van Jesus se tyd eintlik nog nie verby nie. Sedert hulle 600 jaar vantevore in ballingskap weggevoer is, en net ‘n oorblyfsel teruggekeer het na die beloofde land, is die koningskap van God en die volk van God nog nie weer herstel nie. Belydenis oor sonde was gesien as ‘n prioriteit om weer God se genade en aanraking te beleef. Vandaar die passie om sonde te bely en God se wil te soek.

Tweedens was Johannes se boodskap dat die eintlike belangrike gebeure en die werklike belangrike Persoon nog op pad is (1:7-8). Die Een wat kom, is Johannes se meerdere. Johannes is trouens nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. Daarmee sê Johannes die verskil tussen hom en Jesus is groter as die verskil tussen ‘n slaaf en sy eienaar.

Nog ‘n verskil is geleë in Johannes se doop wat met water geskied, en Jesus se doop met die Heilige Gees. Die Joodse verwagting was dat God in die laaste dae aan al sy kinders die Heilige Gees sou gee. Jesus sou die Heilige Gees aan sy volgelinge gee, want Hy is self met die Heilige Gees bekragtig (1:10).

Die impak

Markus se vertelling oor Johannes die Doper se optrede onderstreep: Jesus se koms was die grootste gebeurtenis in die wêreld se geskiedenis. “Dit was die hoogtepunt van God se planne met die wêreld – en ook die hoogtepunt van sy planne met jou.” (Bybellennium)

Die effek van Johannes die Doper se optrede was groot. Wanneer die evangelie verder ontvou, sien ons die mense het kennis geneem van Jesus. Selfs in die noorde, in Galilea, het mense van Jesus geweet.

Deur ‘n magdom Ou Testamentiese verwagtinge in sy verhaal in te weef, verduidelik Markus waarom Johannes se boodskap en bekendstelling van Jesus so effektief was. Waar Johannes opgetree het, watter klere hy gedra het, sy lewensstyl en sy boodskap, was ‘n effektiewe sneller wat mense laat regopsit het. Johannes het hulle help verstaan: Neem kennis! God is aan die werk! God gaan die hemel oopskeur en sy volk aanraak!

Die kerk as wegbereider

Ons dink dikwels aan onsself as mense wat Jesus volg. Waar Hy lei, daar gaan ons, en só leef ons. Ons is dissipels, volgelinge.

Wat sou gebeur as ons bykomend ook aan onsself, en aan ons lewe, dink as wegbereiders vir Jesus. Wegbereiders is mense wat weet dat Jesus reeds daar is, reeds oral is. Maar wegbereiders vestig die aandag op Jesus. Wegbereiders neem die plek waar mense is – letterlike en figuurlike plekke – ernstig, en konnekteer mense se verwagtinge en nood met die Messiaskoning wat gekom het om die hemel vir hulle oop te skeur.

In Lukas 10 stuur Jesus die dissipels vóór Hom uit na elke dorp of plek waar Hy van plan van om self uit te kom. Hierdie dissipels (volgelinge) wat voor die Here uitgaan, dra die boodskap van vrede van die koninkryk van God. Dit berei mense vir Jesus voor. Maar hulle moet vasstel of daar reeds mense van vrede is – wat die voorbereidingswerk van God die Vader en die Heilige Gees veronderstel.

Hier is ‘n duidelike komplekse spel van voor en na, van voorberei, en afhandel, in tekste wat oor die bediening van gelowiges handel. Dit maak dit nie vergesog om steeds van die kerk as wegbereider vir Jesus te praat nie.

Dit laat mens dink aan Lesslie Newbigin wat sê die kerk se getuienis en lewe is die uitleg van die evangelie. Mense weet nie anders wie Jesus is as deur die kerk (waarmee ons ook die lidmate bedoel) se lewe en se getuienis nie. Hoe ons leef, berei mense voor om Jesus te kan ontvang.

Waar moet die kerk wees om wegbereiders te wees? Wat moet die kerk aantrek, hoe moet die kerk leef? Wat moet ons sê? Elke gemeente, en die leierskap van elke gemeente, moet hieroor nadink.

Jesus se doop

In daardie tyd, vertel Markus, het Jesus van Nasaret uit Galilea gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaan gedoop.

Waarom sou die sondelose Lam van God dit doen? Hy het tog nie sonde gehad nie (2 Korintiërs 5:21)? Daar is verskillende redes:

  • Jesus vereenselwig Hom met die mense wat na Johannes stroom;
  • Hy vereenselwig Hom met die bekeringsproses en bevestig dat dit inderdaad die pad van God is;
  • Jesus sit sy skouer onder mense se sonde in, en verklaar dat Hy juis gekom het om mense van sonde te verlos.
Die Seun van God

Jesus se doop is ‘n groot dag in die lewe van die drie-enige God. Daar in die Jordaan, op die oomblik toe Jesus Hom met mense en hul sonde identifiseer, skeur die hemel inderdaad oop. Die Heilige Gees daal soos ‘n duif uit die hemel neer na Jesus. God die Vader praat ook uit die hemel: Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” (10-11)

Markus skryf sy hele evangelie om te bevestig dat Jesus die Seun van God is. Dit is die belangrikste moment van hierdie gebeure. God self bevestig dat Jesus sy Seun is. Jesus is God se geliefde Seun oor wie Hy Hom verheug. Jesus se bediening dra die Vader se goedkeuring weg, en Jesus ontvang die Gees van God om Hom te bekragtig vir sy bediening.

In hierdie verse word die geheim van die Christelike lewe ontsluit. Vir ons lyk die kerk dikwels net na ‘n klompie menslike handelinge. Só het die dooptonele tydens Johannes die Doper se optrede ook gelyk.

Die belangrikste elemente in die landskap is egter nie die Wegbereider, sy boodskap, die klere van kameelhaar, die rivier, die water en die bergwoestyn nie. Die belangrikste deel van die landskap is die Drie-enige God en die handelinge van God. Die werklikheid van die Vader, Seun en Heilige Gees wat optree in die doop van Jesus is die belangrikste sleutelelemente van die landskap waarin ons leef.

Daarom kan mens jou lewe aan Jesus toevertrou. Hy is werklik die Seun van God. In Hom het die hemel werklik oopgeskeur. Hy oorbrug die afstand tussen God en mens. In Hom verklaar God Godself solidêr met mense se nood en ellende, waarvoor Jesaja eeue gelede so aangrypend gebid het.

Heerlikheid openbaar

John van de Laar skryf (www.sacredise.com) dat die treffendste van Jesus se doop, met die oog op Epifanie, die openbaring van God se heerlikheid is. Vryelik vertaal:

God se heerlikheid word primêr nie gesien in publieke tonele van wonderwerke, of glorieryke oomblikke en verblindende hemelse flitse nie. In Markus se evangelie lyk dit of alleen Jesus die duif sien en die stem hoor. Vir al die ander aanwesiges word God se heerlikheid openbaar in ‘n eg menslike moment, waar die Een na Wie Johannes die Doper wys, in die water staan en dieselfde doop van berou en bekering as die sondaars rondom Hom ontvang. Op hierdie wyse word God se heerlikheid in Jesus se menslikheid openbaar, en in Jesus se solidariteit met die mense in wie God ‘n welbehae het.

Hierdie koms van Christus is ‘n kreatiewe daad. Christus word bemagtig vir sy missie om mense te red, en menslikheid self word herdefinieer. Dit gebeur omdat God mens word, maar ook omdat mense aanstons uitgenooi word om God se teenwoordigheid te beleef, en verenig te word met Christus.

Ons reaksie

Hierdie paar kort verse is oorweldigend ryk aan inhoud en betekenis. Ons het reeds daaroor gepraat dat ons ons lewens moet verstaan as heenwysers na Christus. Ons is geroep om so te leef en te praat  dat Christus ‘n lewende werklikheid vir ander word. Ons is wegbereiders.

Tweedens word ons genooi om met dankbaarheid, lofprysing en aanbidding te kyk na God wat mens geword het en ‘n doop van sondaars deurloop – ter wille van ons. Daarin sien en hoor ons die polsslag van God se liefde vir mense – sondaarmense, soos ons.

Derdens kan ons in Christus ook God se stem uit die hemel hoor. Hy praat oor ons, wat in Christus kinders van God geword het: “Jy is my geliefde seun / dogter, oor jou verheug Ek My.” Kan daar ‘n groter anker, troos en bron van hoop vir mense wees wat ‘n nuwe jaar aanpak?

Ons word vandag diep, diep getroos. Ons leef onder ‘n oopgeskeurde hemel. Ons leef in ‘n landskap waar God die Vader, Seun en Heilige Gees aktief werksaam is: tot ons heil en behoud.

God stuur ons om te leef

Gebed

Offergawes

Wegsending: Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,2,3,4”

Seën
V: God se koninkryk is te vind waar ons werk, speel en slaap. Ons vind Jesus dikwels buite tussen die mense en nie net in die sinagoge nie. As navolgers van Christus is dit dan ook waar ons ons moet bevind. ’n Uitsending, wat aansluit by die sentrale boodskap van die dag, is daarom belangrik.
Soos die Vader Jesus gestuur het, stuur Hy julle ook.
Vrede vir julle!
G: Amen

Respons: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
(Daar is ruim gebruik gemaak van liturgiese voorstelle in Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15.)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.