Eerste Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Terug huis toe! Volgens die profete van die tyd van die ballingskap was dit God se plan om sy kinders van oraloor bymekaar maak en hulle huis toe te lei. Die evangelie sluit by hierdie meesterverhaal aan. Die doop getuig van die lewensreis huis toe wat met Jesus se doop ‘n aanvang neem.

Ons bely daarom binne die erediens dat ons God se leiding “deur water en vuur heen” (Jes en Luk) vertrou. Ons vier God se sorg wat ons deur baie gevare heen veilig “huis toe” neem. Die onderliggende bede is: Laat ons U troue sorg beleef wanneer ons “deur water en vuur heen” op pad terug is na ons vaderhuis.

Ander Tekste

Jesaja 43:1-7
Jy is Myne
43 Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
2As jy deur water moet gaan,
is Ek by jou,
deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
3want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.
4Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
5Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.
Ek bring jou kinders van die ooste af,
Ek maak hulle bymekaar
van die weste af,
6Ek sê vir die noorde: Gee!
vir die suide:
Moet hulle nie terughou nie!
Bring my seuns van ver af,
my dogters van die uithoeke
van die aarde af,
7elkeen wat na my Naam genoem word,
elkeen wat Ek geskep het tot my eer,
wat Ek gevorm het,
wat Ek gemaak het.

Psalm 29
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Lukas 3:15-17, 21-22
15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”
18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.
19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

Die doop van Jesus
(Matt 3:13–17; Mark 1:9–11)
21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Fokusteks

Die evangelie in Samaria
4Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. 5So het dit gebeur dat Filippus by ‘n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. 6Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. 7Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. 8Daar was groot blydskap in daardie stad.

9In dieselfde stad was daar ‘n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, 10en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.”

11Hy het ‘n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor ‘n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. 12Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. 13Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.

14Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. 15Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. 17Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

18Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied 19en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”

20Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.”

24Toe sê Simon vir die apostels: “Bid júlle tog vir my tot die Here, sodat niks van wat julle gesê het, my tref nie.”

25So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.

Ekstra stof

Handelinge 8:1-25 – Saulus gaan besete tekere, maar Filippus verlos besetenes
Handelinge 8 bevat twee verhale: 1) dié van Saulus wat soos ‘n besetene die vervolging teen die Christene aanpak en hulle in die gevangenis laat gooi, en 2) dié van Filippus wat juis besetenes verlos van hulle gevangenskap en  groot blydskap bring in Judea en Samaria.

8:1-3
Die godvresendes (vromes, godsdienstiges) waarvan Lukas hier praat was waarskynlik Jode wat simpatiek was met die lot van Stefanus en die Christene.  Dieselfde woord word gebruik om Simeon te beskryf by Jesus se geboorte (Luk 2:25) sowel as vir die Jode wat op Pinksterdag na Petrus geluister het (Hand 2:5). Daar is ook  ‘n oorlewering dat Gamaliël, net soos Josef van Arimatea met Jesus gedoen het, vir Stefanus in sy eie graf laat begrawe het (de Villiers), hoewel dit nie met historiese sekerheid gesê kan word nie.

8:4-25
Die groot wonder wat egter met die vervolging gebeur, is dat die evangelie juis daardeur versprei. Dit leer ons dat in alles wat gebeur God aan die werk is en dat ons nie op die oppervlak moet reageer nie, maar dieper moet kyk na wat God doen en daaroor opgewonde word (eerder as oor die pyn van die vervolging).

Let ook op dat wonders, tekens en kragte steeds hulle bediening begelei, soos ons nou in die bediening van Filippus sien.  Die werklikheid van God en wat Hy vir mense kan beteken versprei nou oral waar die gelowiges verstrooi word deur die vervolging.  Dit is ook opmerklik dat die wonders hulle aandag vang vir die prediking, maar dat dit Christus is wat die blywende blydskap bring.  Wonders op sy eie beweeg mense normaalweg nie tot geloof nie.

Interessant is dat die apostels geroep word om die seël op die werk in Samaria te plaas, deur vir hulle te bid, en die hande op te lê, sodat hulle die Heilige Gees kan ontvang, en Samaria ingesluit kan word in die Pinksterdag gebeure.

Die skerp afwysende reaksie op Simon, wat uit ‘n towenaarsagtergrond gekom het, en sy eie “toorkuns” wou aanvul met die vermoë om vir mense te bid, wys egter ook duidelik dat die apostels geen magiese kragte het nie, en ook enige persepsies dat hulle so ‘n mag sou hê in die kiem wil smoor. Hulle tree in dieselfde krag op as Jesus, en dit is Sy krag wat ook nou ten toon gestel word.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 444 of VONKK 27 of Flam 58

Votum: (BybelMedia se Woord en Fees 2016-2017)

Seëngroet

Lofsang: Psalm 29

Wet :(nav Romeine 13, uit Wepener, Cas: Soos ‘n blom na die son draai. 2011, Bybel-Media)

Toewyding: Lied 431 of VONKK 107

Geloofsbelydenis/Gebed oor die Heilige Gees: (Herman Bavinck, aangehaal in Gebed van die hart deur Willem Nicol)
Flam 210

HOOR

Gebed: Bid Psalm 29 of Lied 442

Skriflesing: Handelinge 8:14-17

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang; Lied 532 of VONKK 113

Seën: Nav Jesaja 43:1-2

Respons: Lied 313 of VONKK 113

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 444 “Kom kyk! Kom kyk!” of
VONKK 27 Kom En Lei My, Skepper-Gees of
Flam 58 Skepper Gees

Votum
Voorganger: Die water in die doopvont bevestig
wat die Heilige Gees getuig in ons en
bevestig wat God deur Jesaja sê:
Ek het jou gemaak en ek omvorm jou.
Gemeente: Ons vrees nie die toekoms of wat mense aan ons kan doen nie. God verlos ons.

Voorganger: Só getuig die water van die doop en die Gees: Ek het jou op jou naam geroep.
Jy is Myne.
Ek lei julle terug na die ewige tuiste by My.
In Christus vergesel Ek julle op die reis.
Ek is julle gids.
Gemeente: Ons is uit Hom gebore, leef deur Hom en keer terug na Hom.

Voorganger: Julle sal strome kruis wat julle toets en vorm, maar julle sal nie wegspoel nie;
vuur van swaarkry mag julle beproef,
maar sal julle nie skend nie;
vlamme sal julle reinig,
maar nie vernietig nie.
Gemeente: U is God. U is Heilig. U red ons.

Voorganger: Die Gees getuig in ons.
Moenie bang wees nie, Ek is by jou.
Ek versamel mense van heinde en verre.
Ek bring hulle saam uit elke bevolking en elke taalgroep om my kinders te wees.
Moet hulle nie terughou nie!

Gemeente: Bring u kinders, u seuns en dogters, saam. Doen dit in elke land en ook by ons.
Voorganger: Aan elkeen wat na my Naam genoem word,
elkeen wat Ek tot my eer gemaak het,
elkeen wat Ek vorm:
weet dat Ek julle vir My gemaak het.
Gemeente: So getuig die Gees en die water.
Amen (uit Jes 43:1-7).
(BybelMedia se Woord en Fees 2016-2017)

Seëngroet

Lofsang: Psalm 29

Wet: (nav Romeine 13, uit Wepener, Cas:  Soos ‘n blom na die son draai. 2011, Bybel-Media)
V: Wat is ons alles aan mekaar verskuldig?
G: Net om mekaar lief te hê.
V: Watter deel van God se wet voer ons uit wanneer ons mekaar liefhet?

G: Die hele wet van God, want al die gebooie word daarin saamgevat.
V: Die samevatting van die wet van God is:
G: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

V: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
G: Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Toewyding
Lied 431 O “Gees van Vader en van Seun” of
VONKK 107 Heer, God Almagtig

Geloofsbelydenis/Gebed oor die Heilige Gees
Ek glo in ‘n geheimsinnige Iemand wat naby my is,
wat binne-in my is,
wat my armsalige gespartel en gespook sien,
wat my dan stilletjies vashou
en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.
Ek het dit vele male in my lewe ervaar
as ek wegsing en meegevoer word deur die strome van die lewe
wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook in beslissende oomblikke in my lewe ondervind
dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.
Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan
en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.
Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde
as’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.
En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees,
Iemand wat my vashou,
Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.
Ek glo in die Heilige Gees.
(Herman Bavinck, aangehaal in Gebed van die hart deur Willem Nicol)

Respons: Flam 210 Erken nou die Heer

Liedere

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: Flam – Pinkster / Gebed / Epiklese)
Teks en musiek: Ioannis Dekas
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
as mens verstaan ons nie U weë.
Maar U stuur vir ons ’n Leidsman trou,
Hy lei ons na U.

Kom o Skepper Gees,
lewendmakend Gees.
Kom in al U volheid,
kom in al U krag.
Lei my in U waarheid,
leer my van die Seun.
Wees U ook my trooster,
kom o Skepper Gees.

F210. “Erken nou die Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: Erken Nu De Heer
Teks en musiek: Frank van Essen
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© Unisong Music Publishers geadministreer deur Small Stone Media South Africa
(Ps 29, 96)

1. Erken nou die Heer volke van die aarde,
erken nou sy Majesteit.
Kniel voor Hom neer want Hy is waardig
vol mag en heerlikheid.

Brug:
Hoor sy stem bo-oor die water en
hoor die donder, weerlig soos vuur.
Ontsagwekkend is sy magtige stem,
luister goed hierdie heilig’ uur.

Refrein:
Alle lof nou aan die ewige Heer,
alle heerlikheid en eer.
Kom verhoog sy Naam
en buig voor Hom neer.
Hy is Koning vir altyd.

2. Verhef dan jul stem, volk van die Here.
Verheug jul en juig voor Hom.
Sy Gees gee jul krag.
Hy seën met vrede
nuwe lewe is in Hom.

VONKK 27 “Kom En Lei My, Skepper-Gees”
Teks: Veni Creator Spiritus – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 2003
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Pinkster

Kom en lei my, Skepper-Gees.

Veni Creator Spiritus.

VONKK 107 “Heer, God Almagtig”
Psalm 98:4-8; Jesaja 43:1-2; 44:23; 55:12
Teks: Lord God, Almighty – Coni Huisman 1984 ©; Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2005 ©
Melodie: COMFORT – Coni Huisman 1984 ©
Orrelbegeleiding: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Coni Huisman 1984 ©
Kantoryverwerking (keervers): Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
Musikale verryking: Coni Huisman 1984 ©

© Melodie, klavierbegeleiding en musikale verryking: 1984 Selah Publishing. Met toestemming gebruik
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing / Geloof en Vertroue / Openbare belydenis van geloof

Keervers:*
Heer, God Almagtig, Redder, Verlosser,
enigste Heer, ons verheerlik u Naam.
Ons wil U, Here, bo alles liefhê.
Leer ons die liefde wat U vir ons het.

1. Moenie bang wees nie, Ek verlos jou;
jy is Myne, Ek is by jou;
deur riviere en vlamme sal Ek jou nooit verlaat.
Jy is deur My geskep, getuie van my grootheid.
Laat die nasies hoor: Ek’s die Here!
Ek’s die Here jou God!

Keervers:
Heer, God Almagtig, Redder, Verlosser,
enigste Heer, ons verheerlik u Naam.
Ons wil U, Here, bo alles liefhê.
Leer ons die liefde wat U vir ons het.

2. Juig en sing nou saam! Kom en prys Hom!
Kom ons loof sy Naam! Kom ons eer Hom!
Laat die see en berge en die aarde Hom prys!
Want die Here sorg vir sy kinders,
gee sy troos aan hul wat verstoot is.
Hy verlaat nooit dié een wat vertrou op sy Woord!

Keervers (slot):
Vader, ons eer U. Jesus, ons prys U.
Heilige Gees, ons verheerlik u Naam.
Ons wil U, Here, bo alles liefhê.
Leer ons die liefde wat U vir ons het.

* Keervers-harmonisasie kan vir die kantory gebruik word

VONKK 113 “Kom, Heilige Gees”
Teks: Jacques Louw 2010 ©
Melodie: WILLEM PRETORIUS – Karien Pretorius 2008 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Riaan Steyn 2010 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed / Pinkster

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 1
Dat ek my lewe, my krag, my vermoëns,
aan U kan toewy –
u dien met my gawes.
Ek wil gehoorsaam U dien in liefde.
Ek lê myself, Heer, voor U neer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 2
Maak my getuie van hoop en bevryding
wat in die wêreld u liefde sal uitdra.
Maak my vrymoedig, diensbaar, gewillig
om met my lewe U te eer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

God praat met ons en ons luister

Gebed: Bid Psalm 29 of Lied 442 “Gees van God wat in my woon”

Skriflesing: Handelinge 8:14-17

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Al is vandag se teks ‘n kort gedeelte, het dit ‘n kragtige boodskap van liefde, sorg en ondersteuning.  Petrus en Johannes gaan na die nuwe gelowiges en ondersteun hulle.  Julle kan gesels oor hoe gelowiges mekaar ondersteun.  Dink ook spesifiek aan maniere waarop kinders ander (volwasse) gelowiges kan ondersteun.

Koop die Kindle weergawe van  Let’s Go, Hugo! deur Angela Dominguez.  Hugo is ‘n voëltjie wat liefde en ondersteuning van die ander voëls nodig het, sodat hy sy vrees kan oorwin en besef dat hy kan vlieg.
OF
Gesels oor die doop!  Kry vooraf by ouers van die kinders se doopfotos.  Wys die fotos, laat kinders hul hande in die doopvont druk en vertel wat by hul doop gebeur het.  As jy ‘n paar van die ouer lidmate se dooprokke in die hande kan kry om te wys, nog beter!

Bybel-Media het twee pragtige boekies oor die doop wat julle kan lees!

Met jou doop (R45.00) :  Met jou doop sê God vir jou … “Jy word gedoop omdat jy aan God en sy familie behoort.” Met jou doop sien en hoor jy God se beloftes.

Die avonture van Lisa en Timmy (R45.00):  “Ons weet nie altyd hoe om die doop en die betekenis daarvan vir ons jong kinders te verduidelik nie.  Deur die ses avonture wat Lisa en Timmy beleef, ontdek laerskool-leerders prakties wat die doop vir hulle in hulle lewe beteken. Hulle leer ook hoe hulle doop hulle help om elke dag saam met en vir Jesus te leef.”

Preekriglyn

A snake gives birth to a snake is die naam van ‘n dokumentêre film gebaseer op die Suid-Afrikaanse ervaring van versoening in die 1990’s. Eers was dit ‘n toneelstuk met die naam Truth in Translation, waarmee Suid-Afrikaanse akteurs deur oorloggeteisterde lande van die wêreld getoer het. Noord-Ierland, met sy politieke geweld, Rwanda, met sy massamoorde en die voormalige Joegoslawië met sy etniese suiwering is besoek. Die mense kon leer uit die waardevolle Suid-Afrikaanse ervaring van versoening rondom 1994.

Die dokumentêr, A snake gives birth to a snake, volg hierdie diverse groep Suid-Afrikaanse akteurs terwyl hulle verskeurde wêrelddele besoek. Die akteurs help slagoffers en geweldenaars, met die herinneringe van die geweld vars in die geheue, om in dialoog met mekaar te gaan. In hierdie proses vind die akteurs hoe hulle self ook Suid-Afrika se verlede telkens weer moet herbesoek en opnuut vanuit vergifnis en versoening moet leer leef.

Nelson Mandela het gevra: “Kan ons die verlede vergewe, sodat ons die toekoms kan oorleef?” Mandela se eerlike vraag skep ‘n mandaat waarmee ander nasies ook kan leer saamleef. Hierdie pragtige dokumentêr getuig hoe Suid-Afrikaners ‘n bydrae maak om die wêreld ‘n beter plek te maak.

Die merkwaardige titel verwys na die antwoord wat geweldenaars dikwels in konfliksones verskaf wanneer gevra word hoekom hulle babas en jong kinders doodmaak. Wat mense se kultuur ook al is, is die antwoord altyd een of ander variasie van die titel: “Want ‘n slang gee geboorte aan ‘n slang.” Dit is skokkend dat so oor mense gepraat kan word. As jy jou vyand wil uitwis, as jy slange wil uitroei, moet jy die klein slangetjies ook uitwis.

‘n Ou vete

Ons teks vertel hoe die evangelie kon na die uitstorting van die Heilige Gees ook in Samaria posvat. Daar aanvaar die Samaritane die Woord van God, en Petrus en Johannes word gestuur om te bid dat dié mense ook die Heilige Gees mag ontvang.

Vir ons mag dit na ‘n eenvoudige verhaal klink. Dit is glad nie. Die rede hiervoor is die verskriklike vyandskap destyds tussen die Jode en die Samaritane.

Na die noordelike tien stamme in ballingskap gegaan het, het die Assiriese oorheersers doelbewus bloedvermenging tussen die Jode in die noorde van Israel en ander heidense volke bewerkstellig. Baie van hierdie mense het nog die Joodse godsdiens aangehang, maar etnies was hulle nie meer suiwer Jode nie.

Hierdie mense het op godsdienstige gebied wel aan die God van Abraham, Isak en Jakob vasgehou, maar het oor tyd toenemend wegbeweeg van die hoofstroom Joodse godsdiens soos dit by die tempel in Jerusalem bedryf is. Die Samaritaanse godsdiens van destyds was – en is vandag nog – nou verwant aan die godsdiens van die Jode soos in die Ou Testament voorgestel, maar daar is ook duidelike verskille.

Alhoewel die Samaritane ook vir God aanbid het, kan hulle godsdiens as ‘n Joodse sekte beskryf word. Die hoofpunt van verskil was die vraag waar God aanbid moet word (Dit is een van die eerste vrae van die Samaritaanse vrou by die put in Johannes 4:20 aan Jesus). Die Samaritane verwerp Jerusalem as setel van die tempel. Tot vandag toe beskou hulle die Gerisimberg (waarna Deut. 27:12 verwys) as die eintlike heilige berg waar God aanbid moet word.

Dit is duidelik uit die Nuwe Testament dat daar ‘n “gevoel” tussen die Jode en die Samaritane was. Dit kom byvoorbeeld duidelik na vore uit die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou van Johannes 4, waar die vrou met verbasing vra hoekom Hy, wat ‘n Jood is, met haar as Samaritaanse vrou praat. Die evangelis voeg aan die einde van vers 9 die veelseggende verduidelikende sin by: “Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.”

Geloof en bloed

Daar was hoofsaaklik twee redes vir die “gevoel” tussen die twee groepe: Eerstens het die Jode van Judea en Galilea hulself as “etnies” suiwer beskou en neergekyk op die Samaritane wat “vermengd” was. Tweedens het die Jode hulleself godsdienstig as regsinnig beskou en neergekyk op die Samaritane wat hulle as ‘n afwykende sekte beskou het. Dit is belangrik vir die verhouding van die Christenbeweging met ander groepe, om die dinamika tussen die kerk en die Samaritane te bepaal met die vraag: Handhaaf die kerk vandag steeds die skeiding tussen die Jode en Samaritane?

Jesus en die Samaritane

Aanvanklik lyk dit of Jesus self die Joodse afkeur van die Samaritane (en natuurlik die “heidene” ook) ondersteun. Redelik aan die begin van sy bediening stuur Hy sy dissipels uit op ‘n opleidingstoer met die opdrag om na die verlore skape van Israel te gaan soek (Matt 10). Daar gee Hy hulle die uitdruklike opdrag (5): “Moenie met ‘n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ‘n dorp van die Samaritane ingaan nie.”

Uit die breë konteks van die Nuwe Testament is dit baie duidelik dat hierdie nie ‘n beginsel is nie, maar ‘n taktiese opdrag wat ten doel gehad het om aan sy leerlinge (dissipels) eers die geleentheid te gee om dit wat hulle geleer het, in ‘n minder veeleisende situasie te gaan toepas, in gesprek met afgedwaalde Jode. Later, as hulle dieper ingegrawe is in die evangelie van Jesus Christus en hulleself beter sou kon handhaaf in moeilike gesprekke, kry hulle die uitdruklike boodskap om nou na die mense van Samaria en selfs die “heidene” aan die “uithoeke van die wêreld” te gaan (Hand 1:8).

Twee bewegings bymekaar

In die paar verse van ons kort teksgedeelte kom twee groot bewegings bymekaar:

  • Aan die een kant, die diep ingewortelde sluimerende vyandskap tussen die Jode en die Samaritane.
  • Aan die ander kant sien ons die realisering van ‘n opdrag wat deel van die wesenskenmerke van die kerk sou word: God maak nie onderskeid tussen mense op grond van hulle afkoms nie, en die kerk moet Hom hierin navolg.

Dit is duidelik dat hierdie twee bewegings in konflik met mekaar staan. Jesus het hierdie belangrike beginsel reeds in sy eie lewe begin vestig. Hy het by verskeie geleenthede positief met en oor Samaritane gepraat. Die ontmoeting met die vrou by die put in Johannes 4 is ‘n voorbeeld hiervan. Die uiteinde van daardie verhaal was dat Jesus die ongekende ding gedoen het deur nie net in ‘n Samaritaanse huis in te gaan nie, maar selfs twee dae daar by hulle te bly en die evangelie aan hulle te verkondig. Die Johannesverhaal sê dat die Samaritane in Hom geglo het omdat hulle self na Hom geluister het. (Dit was natuurlik meer as net sy woorde wat hulle aangeraak het. Die feit dat Hy hulle menswaardigheid aanvaar het deur by hulle tuis te gaan, was deel van sy bediening!)

Daar is ook die verhaal in Lukas 17 waar Jesus tien melaatses genees en net een teruggedraai het om dankie te sê. Die evangelis maak ‘n punt daarvan om uit te wys dat hy ‘n Samaritaan was. Laastens, die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan: Jesus dink die verhaal uit. Hy kon enigeen in enige rol plaas. Hy kies om ‘n Samaritaan ‘n die rol van die held van die gelykenis te plaas, teenoor ‘n Joodse priester en ‘n Leviet.

Uitstorting van die Heilige Gees

Dit bring ons by ‘n tweede groot konteks wat hier ter sprake kom; die uitstorting van die Heilige Gees op die Samaritane. Wat moet ons daaruit aflei vir ons verstaan van die uitstorting van/aanraking deur die Heilige Gees in die algemeen waar mense hulle tot Jesus bekeer? Die vraag is: Hoekom word die Heilige Gees hier uitgestort, nadat dit reeds op die Pinksterfees in Jerusalem uitgestort is? Beteken dit die kerk moet elke keer wanneer mense tot geloof in Jesus kom, hulle die hande gaan oplê en bid dat die Heilige Gees ook op hulle kom? Is hier sprake van ‘n “second blessing”, iets ekstra buiten die bekering en geloof in Jesus as Verlosser?

Verskillende kerke uit verskillende spiritualiteitsagtergronde verskil oor die antwoorde op dié vrae. Die belangrike beginsel is dat die twee groot temas van ons teks ten nouste aan mekaar verbonde is: die eenheid van die kerk en die uitstorting van die Heilige Gees in hierdie situasie.

Die gebeure

Die Skrif beklemtoon in ‘n neutedop die volgende:

  • Filippus het die opdrag van Jesus uitgevoer en die evangelie ook in Samaria verkondig.
  • Die berig dat die Samaritane die Woord van God aanvaar en ook volgelinge van Jesus geword het, het die apostels in Jerusalem bereik.
  • Hulle het besef hierdie is ‘n belangrike saak – teen die agtergrond van die vyandskap tussen Jode en Samaritane.
  • Die apostels (bestuurders van die kerk op hierdie stadium) stuur toe twee swaargewigte in die persone van Petrus en Johannes om die situasie daar te ondersoek en te bestuur, in lyn met hoe Jesus hulle geleer het.
  • Uit hulle optrede bevestig hulle die beginsel wat Jesus in sy eie lewe gedemonstreer het en waaroor Hy hulle die uitdruklike opdrag gegee het: Die Samaritane wat gelowig word, word eenvoudig as deel van die kerk aanvaar en so behandel.
  • Petrus en Johannes se optrede daar in Samaria bevestig dat hulle dit so verstaan: Daar is geen redenasies oor wat om nou te doen nie. Hulle bid net daar en dan vir die Samaritane dat hulle ook die Heilige Gees mag ontvang.
  • Dit is duidelik dat hulle die Samaritane as medebroers in Jesus aanvaar het.
  • Die feit van die handoplegging (fisieke aanraking) onderstreep die saak; Daar is nou geen sprake meer van ‘n gevoel dat die Samaritane onrein is nie.

Johannes Calvyn sê hiervan dat God die eenheid van die kerk bevorder waar mense mekaar die hand reik. Handoplegging is nie ‘n voorgeskrewe ritueel nie. In Handelinge 10:44 kom die gawe van die Heilige Gees sonder die handoplegging. Wat dit egter aandui “. . . is die teken van erkenning dat die apostels die Samaritane as deel van die Christelike kerk aanvaar . . .”

Verder bevestig Petrus en Johannes se optrede dat hulle Filippus se werk onder die Samaritane ondersteun en goedgekeur het (Calvyn).

Teen die hele ou lang hartseer geskiedenis van konflik tussen die Jode en Samaritane het die leiers van die jong kerk besef hulle moet hier beslissend optree om te verhoed dat hierdie konflik in die kerk voortgesit word. Ons teks is die wonderlike getuienis van hoe Christene onder mekaar lewe.

God se goedkeuring

Die feit dat hulle gebed verhoor word en die Samaritaanse Christene ook nou die Heilige Gees ontvang, is ‘n duidelike teken dat God self ook hierdie situasie goedkeur en seën. Die kernboodskap hieruit is dat dit reg is dat die evangelie van Jesus ook aan Samaritane verkondig word en dat diegene wat Jesus as Verlosser aanvaar ook deel het aan die beloftes en die gawes van die kerk van Jesus Christus. God bevestig verder ook dat hulle deel is van dieselfde kerk waarvan die apostels op daardie stadium die leiers was.

Die wonderlike ironie in hierdie verhaal is dat Johannes saam met Petrus na die Samaritane toe gestuur word, want Johannes wou vroeër in Luk 9:54 saam met sy broer Jakobus vuur uit die hemel afbid op ‘n Samaritaanse dorp!)

Petrus sou dieselfde les nóg ‘n keer moes leer met betrekking tot “heidene” in die verhaal van Cornelius (Hand 10). Hier sê Petrus in vers 28 dat ‘n Jood na regte nie in ‘n heiden se huis mag kom nie, maar “. . . God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie”. In vers 34 en 35 gaan die lig heeltemal vir hom op: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.”

Werk van die Heilige Gees

Soms het mense vrae oor die ontvangs van die Heilige Gees. Is dit ‘n tweede geskenk van God, naas die ontvangs van Jesus se redding en die erkenning van Sy koningskap? Moet ons spesiaal daarvoor bid?

Vir Gereformeerde is die basiese uitgangspunt oor die Heilige Gees in mense se lewe dat die Heilige Gees heel eerste by mense uitkom! Dit is die Gees wat mense lewend maak en hulle oë open sodat hulle Jesus as Verlosser kan erken en Hom in die geloof kan aanvaar (Joh. 6:63).

Calvyn en ander sê in hierdie verband dat die Heilige Gees reeds by die Samaritane was, daarin dat Hy (die Heilige Gees) die geloof in die Samaritane se harte gewerk het. Die feit dat daar egter nog ‘n ekstra gebeure plaasvind met die spesiale uitstorting van die Heilige Gees op die Samaritane, is ‘n sigbare bevestiging deur God dat die hulle inderdaad deel word van die kerk en dieselfde gawes ontvang.

Hierdie situasie herhaal homself nog ‘n keer in Handelinge 10:44 in die verhaal van Cornelius. Daar word duidelik gesê (Hand 10:46 en 47) dat die Joodse gelowiges wat Petrus na Cornelius vergesel het, verbaas was “. . . dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie”.

Dit vind nie weer plaas nie, waaruit ons die volgende aangaande die ontvangs van die Heilige Gees aflei: Die Heilige Gees is in Jerusalem uitgestort, daarna spesiaal ook op die Samaritane (om te bevestig die Samaritane is op dieselfde “vlak” deel van die kerk), daarna ook op Cornelius en die groep “heidene” saam met hom (om te beklemtoon dat heidene wat Jesus aanvaar en volg op dieselfde “vlak” kerk is as gelowiges uit die Jodedom en uit die Samaritane).

Samevattend: Alle mense, Jode, Samaritane en “heidene” het deel aan dieselfde Here Jesus en dieselfde Heilige Gees en is lede van dieselfde kerk en moet so gesien en behandel word. Paulus sal dit later leerstellig soos volg in Efesiërs 4:4 tot 6 verwoord: “Daar is net één liggaam en net één Gees . . . Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal.”

Suid-Afrika

Wanneer ons hierdie teks in Suider-Afrika lees, besef mens hoe baie die Bybel ons oor ons eie uitdagings kan leer. Veral oor ons rol as Christene.

Etniese groepsvorming speel toenemend oor die hele wêreld ‘n groter rol. Mense buite etniese verskille uit om vir hulself politieke mag te organiseer. Daarom word wit en swart, geel en bruin, teenoor mekaar opgestel en kry die ander die skuld vir al die probleme.

Vinnig-vinnig sien ons die ander nie meer as mense nie, maar word hulle die ongewenstes, in ons oë insekte soos kakkerlakke. Dan het ons die reg om hulle uit te wis.

In lande soos Ierland, Rwanda en die voormalige Joegoslawië is dit presies wat gebeur het.

Die 1980’s in Suid-Afrika het baie van hierdie selfde strydkenmerke gehad. Vandag weer laai die onweerswolke op.

God praat met ons deur die Woord. God leer ons dat God nie onderskeid maak op grond van etniese verskil nie. God gee God se Gees aan almal wat deur die Gees tot geloof in Jesus kom.

Daarom is die dokumentêr A snake gives birth to a snake so ‘n wonderlike inisiatief. Saam met die Bybel kan ons land se eie verhaal so ‘n wonderlike rigsnoer vir ons wees as ons ‘n troebel 2016 tegemoet gaan.

Kom ons gaan leef só.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 532 “O Vader, neem ons hande” of
VONKK 113 Kom, Heilige Gees

SeënL: Nav Jesaja 43:1-2
So sê die Here wat jou geskep het:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
2As jy deur water moet gaan,
is Ek by jou,
deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
want die Here jou God,
Skepper, Verlosser en Onderhouer
dra jou in liefde.

Respons
Lied 313 Amen of
VONKK 113 Kom, Heilige Gees Keervers

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.