Eerste Sondag – ’n Seisoen van die Skepping

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Psalm 8
Ander tekste: Genesis 1:26-28; Filippense 2:1-8; Markus 10:41-45

Inleiding

Die sleuteltekste in hierdie reeks oor die skepping kom uit die psalms. Die eerste Sondag kom Psalm 8 aan die beurt. Dit is ’n skeppingslied wat kyk na die rol van die mens in God se geordende skepping. Die tema vir hierdie Sondag: “Die buitengewone plek(rol) van die mens in die kosmiese orde.”( Sien ook Inleiding tot ’n Seisoen van die Skepping en die Basisliturgie.) Die rol van die mens en die viering van die diversiteit van kulture in Suid-Afrika moet ook tot uitdrukking kom in die liturgie.

Die teks  uit Genesis gaan oor die skepping van die mens as verteenwoordiger van God op aarde. Die teks uit Filippense gaan oor Christus se menswording (geboorte) en wat dit beteken. Die Markusteks beklemtoon bo alles dat die mens se rol op aarde ’n dienende rol is. Dit is juis in hierdie rol wat Christus aan die mens die uitnemendste voorbeeld kom stel het.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Oproep tot lof
Voorganger: Wanneer ek na die hemelruim kyk,
die werk van u vingers,
die maan en sterre wat U gevestig het –
Gemeente: Here, ons Heer,
Hoe magtig is u Naam oor die hele aarde.

Voorganger: Wat is die mens dan dat U hom in gedagte hou?
Gemeente: Here, ons Heer,
hoe magtig is u Naam oor die hele aarde.

Voorganger: U laat hom heers oor die werk van u hande;
U het alles onder sy voete geplaas.
Gemeente: Here, ons Heer,
hoe magtig is u Naam oor die hele aarde.

Diens van die tafel

Verootmoediging
Voorganger: Soos ons tuiskom op U aarde,
Gemeente: Christus wees genadig.

Voorganger: Soos ons leer om ons enigste tuiste  lief te hê,
Gemeente: Here, wees genadig.

Voorganger: Soos ons streef om vir ons planeet te sorg.
Gemeente: Christus, wees genadig.

Diens van die Woord

Gebed
Grote God,
skenk aan ons harte wat sal verstaan
dat ons nooit meer uit u skone aarde moet neem
as wat ons kan teruggee nie;
dat ons niks mag neem
wat ons nie kan gebruik nie;
dat ons roekelose hebsug
nie die aarde moet vernietig nie;
dat ons handewerk die skoonheid van die aarde sal bou en behou en nie afbreek en vernietig nie.

Grote God, gee ons harte wat sal verstaan:
as ons die musiek van die aarde verdoof,
skep ons vir onsself wanklanke en verwarring.
as ons die aarde se skoonheid vernietig,
maak ons onsself later blind om mooi dinge raak te sien.
Om met ons nywerhede se gasse en rookwalms
die aarde se natuurlike werlriekendheid te verdryf,
is om ons aardse huis met stank te vul.
Here, leer ons harte om te begryp
dat die aarde net vir ons kan sorg
in die mate dat ons vir haar sorg.
Ons het vergeet wie ons is:
kinders van u aarde.
Ons het net ons eie voordeel gesoek,
ons het die aarde uitgebuit vir eie gewin,
ons het ons kennis verdraai
en ons mag misbruik.
Here, grote God, wie se gawes aan ons
verlore gaan deur ons selfsug en korrupsie –
herstel tog weer ons menslikheid.
Grote Skeppergod
Wie se stem ek in die wind verneem,
wie se asem aan die heelal lewe gee –
ons het u krag en wysheid nodig om
die aarde en onsself te genees en te herstel.
Leer ons hoe om in skoonheid te wandel.
Amen.
(Erfenisgebed van die Sioux-Indiane, verwerk en aangepas.)

Uitsending

Belydenis/Verbintenis
Voorganger: As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers,
wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? (Ps 8:5)

Leser 1: U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon (Ps 8:6).
Leser 2: Christus het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie (Fil 2:6).

Leser 1: U laat hom heers oor die werk van u hande (Ps 8:7).
Leser 2: Christus het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Fil 2:7).

Leser 1: U het alles aan hom onderwerp (Ps 8:7).
Leser 2: En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Fil 2:8).

Voorganger: Sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” (Fil 2:10).
Laat dieselfde gesindheid in julle wees wat in Christus ons Here was.

Preekstudie: Psalm 8

Inleiding

Die fokusteks vir die eerste Sondag in Seisoen van die Skepping is die bekende Psalm 8. Die voorgestelde tekste sluit egter ook Genesis 1:28, Filippense 2:1-8  en Markus 10:41-45 in. In hierdie teksgedeeltes, word die skepping, plek, en verantwoordelikheid van mense op verskeie maniere beskryf (en selfs geherinterpreteer). Binne die teologiese besinning oor menswees en die mens se verhouding met die natuur – ’n kerntema binne die Seisoen van die Skepping – speel verbondsverhoudinge (met God en met mekaar) telkens ’n kernrol. ’n Preek oor Psalm 8 sou daarom ook erns moes maak met verbondsteologie en die mens se verantwoordelikheid om as rentmeesters op te tree.

Teks

Psalm 8 is ’n lofsang en meer spesifiek ’n skeppingspsalm (Craigie, 1983:106) of natuurpsalm (Adeyemo, 2006:606). Die psalm bestaan uit ’n verskeidenheid van retoriese elemente, insluitend himniese materiaal, wysheidsmateriaal en klaaglied (Craigie, 1983:106). Daar is duidelike affiniteite met die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2, veral wat betref die sentrale plek wat toegeken word aan die mensdom binne die skepping (Craigie, 1983:106). Daar blyk ook merkbare ooreenkomste te wees met Job (1983:106). Psalm 8 is, soos alle psalms, poësie (Adeyemo, 2006:605) en daarom ’n spesifieke soort taal wat (hetsy met musiekbegeleiding of nie) retories sowel as teologies geïnterpreteer moet word (1983:35-36). As poësie behels die psalms nie in die eerste plek dogmatiese analises nie, maar teologiese kuns – wat refleksies op die verhouding tussen God en Israel bied (1983:36). Cas Vos noem die psalms “teopoësie” (cf 2005).

Psalm 8 vorm deel van die eerste van vyf psalmboeke (waarbinne Ps 1 tot 41 gegroepeer word) (Craigie, 1983:30). Verder bestaan die psalm self uit vier komponente, naamlik: (1) God se almag (2 en 3), (2) die mens se lot (4 en 5), (3) die mens se rol (soos bestem deur God) (6 tot 9), en (4) lofsang (Craigie, 1983:106-107). Trouens, die psalm begin (2) en eindig (10) met dieselfde lofsang, naamlik: “Here, ons Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” Die psalm skep hiermee die indruk van ’n afgeronde eenheid, maar kommunikeer hiermee ook duidelik dat God die fokus van die lofsang is.

Die psalm begin soos wat dit eindig, naamlik met die majesteit van God se naam (Craigie, 1983:107). Die enigste aanspreekvorm wat in hierdie psalm vir God gebruik word is אֲדֹנֵ֗ינוּ יְהוָ֤ה (“Here, ons Here”; in 2 en 10) (Craigie, 1983:107). Die gebruik van die Godsnaam יְהוָ֤ה dui op die verbondverhouding tussen God en Israel. Die “naam” van God verteenwoordig egter nie net God nie, maar ook die Goddelike selfopenbaring (Craigie, 1983:107). Tog beroep die digters hulle telkens op die verbondsverhouding tussen God en Israel, waarskynlik met die Eksodusgebeure en God se verlossing van Israel uit Egipte in hulle agterkop. Daar is duidelike aanduidings in die teksgedeelte self – deur die keuse van die Godsnaam, byvoorbeeld – dat die selfopenbaring van God berus op verbondsteologie. Anders gestel behoort alreeds die naamkeuse vir God in hierdie psalm die leser juis op die uitbeelding van God as Verbondsgod aandagtig te maak. Kortom, Psalm 8 begin en eindig met God (Adeyemo, 2006:615) – maar binne die konteks van ’n verlossingsgeskiedenis, ’n tradisie van onthou, waarin God se getrouheid teenoor Israel onthou word en in die proses van gesamentlike onthou ’n bron van troos word vir die skrywers en lesers van die psalms.

Dit is vanuit hierdie Godsbeeld wat Psalm 8 vra: “Wat is die mens?” (5) Hierdie vraag is egter nie ’n onskuldige vraag nie, en vervul bowenal ’n retoriese funksie binne hierdie psalm. Die manier waarop die vraag gestel word veronderstel reeds ook die antwoord: Niks! (Craigie, 1983:108) Die digter skep opsetlik wanhoop by die leser met die stel van hierdie vraag (Craigie, 1983:108), wat die latere positiewe reaksie op die vraag (6-9) nog meer treffend maak (1983:108). Die beeld waarop die psalmdigter homself beroep is die beeld van die sterrehemel – die maan en die sterre, spesifiek (4) (1983:108). Dit is juis ook die beeld wat Calvyn sou aangryp, argumenteer Randall Zachman (2011), in sy nadenke oor die lewende beeld van God in die skepping. ’n Bekende gesegde van Calvyn sou wees dat “astronomie die alfabet van die teologie is” (Zachman, 2013:1-2, 22-23), waarmee bedoel word dat die nadenke oor God se werk – en spesifiek die sterre en planete, waardeur God se wysheid en voorsienigheid geopenbaar word (Zachman, 2013:24-25) – beide die skoonheid en die vreesaanjaende van die heelal uitlig. Die hemelruim, met haar maan en sterre, sou dus nie net die verbeelding van die psalmdigters aangryp nie, maar ook teoloë soos Calvyn laat nadink oor God se liefde vir die mens. Die sterre openbaar God se teenwoordigheid en mag aan mense, en word daardeur ’n bron van teologiese refleksie (hoewel nie vanuit natuurlike teologie nie, maar vanuit Goddelike selfopenbaring) (Zachman, 2013:16). Dit is juis die ervaring van oorweldiging waarop die psalmdigter homself hier beroep en wat die Goddelike selfopenbaring in hierdie psalm voorafgaan (Craigie, 1983:109).

Tog is die psalmdigter se beantwoording van bogenoemde vraag – “Wat is die mens?” – nie eenvoudig nie (byvoorbeeld Van Asselt, 2011). Daar word ’n duidelike kontras gestel tussen die “vyand en wraakgierige” en “kinders en suigelinge” (3) (Craigie, 1983:107). Die vyande waarna hierdie psalm, verwys is simbole van menslike mag; hulle is arrogant en selfversekerd, en hulle vyandskap met God is ’n gevolg van ’n onvermoë om God se naam (en daarmee God se selfopenbaring) te herken en te erken (Craigie, 1983:107). Daarteenoor staan simbole van swakheid en nederigheid: babas en jong kinders is meer magtig as God se vyande wanneer die naam van God (en daarmee God se selfopenbaring) bely word, want dit dui daarop dat hulle God as Gód herken en erken (Craigie, 1983:107). Trouens, die Verbondsgod openbaar juis sy mag deur simbole van swakheid – babas, kinders, suigelinge (Craigie, 1983:105) – en bepaal hiermee reeds die toonaard van die res van die psalm (Craigie, 1983:107). Die punt wat hier gemaak word, is dat dit juis nie menslike arrogansie is wat die mens se magsposisie en regeringsrol binne die skepping regverdig nie, maar slegs Goddelike inisiatief en genade (1983:107-108). Hierdie magsposisie is dus nie ’n “natuurlike reg” nie, en diesulkes – met hierdie beskouing – word juis as “vyande” in hierdie psalm uitgebeeld (1983:107).

Hiermee is die posisionering van die mens, en God se skeppingsdoel met die mensdom, voorop gestel. Dit hang ook saam met hoe die posisie van die mens in hierdie psalm geïnterpreteer word. Spesifiek die vertaling van מֵאֱלֹהִ֑ים מְּ֭עַט וַתְּחַסְּרֵ֣הו (5) is hier van belang. Sommige vertalings vertaal hierdie as “net laer as engele” (veral vertalings wat die Septuaginta navolg, en wat die weergawe wat aangehaal word in Hebreërs 2:7 verkies), terwyl ander dit as “net laer as God” formuleer (Adeyemo, 2006:617; Craigie, 1983:108). Die NAB vertaal hierdie as “hemelse wese” (6), terwyl die OAB dit vertaal met “goddelike wese” (6). Tog is die vertaling “net laer as God” waarskynlik die korrekte vertaling, argumenteer Peter Craigie (1983:108), omdat die woorde waarskynlik verwys na die mens as beeld van God (imago Dei) en die Godgegewe regeringsrol van die mensdom binne die natuurlike orde van die skepping (cf ook Masenya, 2014).

In Psalm 8 berus die mens se posisie binne die skepping op die teologiese oortuiging dat die mens na die beeld van God geskape is. Daar is drie eksplisiete verwysings na die imago Dei in die Ou Testament, wat almal in Genesis 1-11 voorkom. Die belangrikste en mees uitdruklike verwysing na die imago Dei word in Genesis 1:26-28 gevind, waarin die eerste verhaal van die skepping van menslike wesens weergegee word. Twee ander tekste verwys uitdruklik na die imago Dei – naamlik Genesis 3:22, waarin daar verwys word na die kennis oor goed en kwaad, en Genesis 9:1-7, waarin die neem van menslike lewe verbied word op grond van die imago Dei. Buiten hierdie verwysings is daar een “poëtiese eggo” te vinde in Psalm 8:4-6, waar die glorie van die mens onder bespreking kom (Van Huyssteen, 2004:117-123). In sy boek met die veelseggende titel Alone in the world? (2004) skryf Wentzel van Huyssteen dan juis ook oor menslike uniekheid en moontlike implikasies van die geloofsoortuiging dat die mens na die beeld van God geskape is.

Konteks

Psalm 8 se historiese ontstaanskonteks kan nie met enige finale sekerheid vasgestel word nie (Craigie, 1983:113). Die universele toonaard van die psalm maak dit uiters moeilik om ’n spesifieke konteks, hetsy as gebruik binne die kultus of binne ’n spesifieke aanbiddingsgeleentheid, vas te pen (Craigie, 1983:106). Indien die psalm aanvanklik bedoel was om binne ’n kultiese konteks te funksioneer, sou dit waarskynlik by ’n geleentheid soos die Loofhuttefees gebruik kon word (Craigie, 1983:106). Tog is die tema van die psalm sentraal tot die Israelitiese tradisie as geheel, sodat dit eweneens by ander geleenthede gebruik sou kon word (Craigie, 1983:106).

Dit is veral nie moontlik om met enige sekerheid ’n spesifieke datum aan die ontstaan van die psalm te koppel nie (Craigie, 1983:106, 113). Die inhoud van die psalm help nie met enige dateringspogings nie (1983:106). Die prominensie van die skeppingstema het egter aanleiding gegee tot ’n gewilde beskouing dat die psalm vanuit ’n posteksiliese tyd dateer. Hierdie afleiding berus op die aanname dat skeppingsverhale in Israel eers volledig ontwikkel het gedurende en na die ballingskap (Craigie, 1983:106). So ’n aanname is egter nie sonder probleme nie, aangesien – argumenteer Peter Craigie (1983:106) – skeppingsverhale algemeen was in die Ou Nabye-Ooste en reeds van vroeg af sentraal binne die Israelitiese tradisie gestaan het (1983:106).

Dit raak ook nie makliker nie! Outeurskap is eweneens moeilik om vas te stel (Craigie, 1983:106). Hierdie probleem is egter ’n nie beperk tot Psalm 8 nie, maar tot enige studie van individuele psalms (en pogings om skrywers vir spesifieke komposisies te probeer identifiseer) (Craigie, 1983:33). Hoewel Psalm 8 tot die sogenaamde “Dawidiese Psalms” behoort (1983:28), en hoewel sommige kommentatore Dawid as die skrywer van die psalm identifiseer (cf Adeyemo, 2006:605), is die verwysing na Dawid buitendien allesbehalwe eenvoudig (Craigie, 1983:33). Die anonimiteit van die skrywers en redigeerders van hierdie psalm word meestal gehandhaaf; hoewel die identifisering met Dawid wel weer interpretasiemoontlikhede inhou, en moontlik ’n aanduiding daarvan is dat die psalm tog ook binne ’n bepaalde teologiese tradisie gesitueer is.

Die Psalmboek is een van die Ou-Testamentiese boeke wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word (1983:45). In die Nuwe Testament is daar enkele verwysings na Psalm 8, maar hierin is dit Jesus van Nasaret, liewer as die mensdom, wat die beeld van God weerspieël. Soos wat die eerste mens, Adam, as tussenganger tussen God en die mens optree, so definieer Jesus van Nasaret opnuut die verhouding tussen God en mens (sien Hebr 2:6-8; 1 Kor 15:45; 1 Kor 1:15; 2 Kor 3:1-8; 2 Kor 4:4) (Van Huyssteen, 2004:123-124). Dit is opvallend dat dit weereens kinders is, in een so ’n Nuwe-Testamentiese teks, deur wie God geopenbaar word (Craigie, 1983:107-108; Adeyemo, 2006:617). In Matteus 21 – nadat Jesus die tempel gereinig het – besing die kinders sy lof: “Prys die Seun van Dawid” (14). Daarteenoor is die priesterhoofde en skrifgeleerdes “verontwaardig” oor Jesus se optrede en die kinders se reaksie daarop (14). Peter Craigie voeg by dat hoe hierdie reaksie van die priesterhoofde en skrifgeleerdes uitgebeeld word, hulle saam met die vyande van Psalm 8 groepeer (1983:108). Jesus se reaksie op die verontwaardiging is om Psalm 8 aan te haal: “U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof besing” (Matt 21:16; cf Ps 8:3) (Craigie, 1983:109).

Preekvoorstel

’n Preekvoorstel oor Psalm 8 sou eerstens iets oor interpretasiemoontlikhede moes sê (sien egter ook Coenie Burger [1988] se riglyne oor prediking van die psalms). Alle psalms is vanuit ’n geloofsperspektief geskryf (Kroeger & Evans, 2002:290). Dit is egter belangrik om in te sien dat die psalms, ook Psalm 8, uit verskeie lae van teologiese betekenisse bestaan (1983:40, 41). Dit behels dat daar eerstens ’n poging aangewend moet word om die aanvanklike, kontekstuele, teologiese betekenis van ’n psalm te (probeer) belyn; en tweedens dat ’n herinterpretasie van individuele psalms binne die Bybelse tradisie self aanleiding gee tot verdere herinterpretasie van psalms in ons eie tyd en konteks (1983:41).

Tweedens moet in ag geneem word dat die teologiese diepgang van die psalms ingebed is in God se verbondsverhouding met Israel (1983:30). Anders gestel, die psalmskrywers is “verbondskrywers” (covenant writers) (Craigie, 1983:40); ongeag of die perspektief wat hulle bied ’n individuele, nasionale, of kultiese perspektief is (1983:40). Hulle Godskennis is ingebed in verbondsteologie (1983:40); en dit is die bestaande verbondsverhouding met God wat dit vir hulle moontlik maak om die verskillende reaksies wat in die psalms beskryf word – wat strek vanaf lofprysing tot betreuring tot vervloeking tot gebed – te kan hê (1983:40). Ook Psalm 8 reflekteer hierdie verbondsverstaan (Kroeger & Evans, 1983:292).

Peter Craigie (1983:40) beskryf hierdie reaksies, tekenend van die breë spektrum van ervarings van God (soos gereflekteer in die psalms), “populêre teologie” (1983:40). Hiermee bedoel hy dat die teologiese kennis wat in die psalms teëgekom word nie beperk is tot abstrakthede oor God nie; maar dat hierdie kennis vorendag kom vanuit lewens wat geleef word in verhouding met God (1983:40). Kortom, die psalms bevat die reaksies van gelowiges op ’n lewe geleef in verhouding met God of saam met God en met mekaar (1983:39). Anders gestel, die psalms help om ons om oor God te praat (Adeyemo, 2006:607). Derdens is dit dus belangrik om te besef dat die psalms – ook Psalm 8 – gelowiges oor die eeue en oor die wêreld heen voorsien van ’n “geloofstaal”.

Vierdens behoort ’n preekvoorstel oor Psalm 8 sensitief te wees vir die magsdinamika binne die teksgedeelte. Daar is heel duidelik magspele en magskuiwe en magstoedelings en magsvergrype wat aangespreek word. Dit is juis die vraag – die vraag na mag – wat ook in die inleiding tot die Seisoen van die Skepping 2018 (met die tema “God en Grond: Wie word in die Psalms geseën?”) aan die orde kom. In Psalm 8 vind sekere mense hulle stem, terwyl ander tot swye gebring word (3). Hoe word daar tussen hierdie groeperinge onderskei? Wat maak van die vyande vyande? Wat doen hulle dus verkeerd om vyande van God te word? Self sê die psalm nie. Dit laat die vraag ontstaan: Wie besluit oor die vyandskap van die vyande? En is die opmerkings oor “oorheersing” en “onderwerping” (7) onskuldig? Is dit nie magstaal nie? En is dit nie juis die soort magstaal wat ekologiese teoloë vir dekades reeds probeer vermy, wegvertaal, herinterpreteer – juis in die lig van kritiek dat die Christelike geloof ’n reuseaandeel het aan die ekologiese krisis, vanweë hierdie soort taal? Kan die Christelike geloof en die Christelike kerk nog bekostig om sodanige taal te midde ’n groterwordende ekologiese krisis te praat? Des te meer wanneer groot en magtige lande uit belangrike ooreenkomste soos die Parys Klimaatsveranderingsooreenkoms onttrek? Kom hierdie soort taal nie teen ’n te hoë prys nie – nie net vir die kerk en  die mensdom nie, maar vir alle lewende wesens wat deur aardverwarming geraak word?

Vyfdens behoort erken te word dat die teksgedeelte ongetwyfeld antroposentries is. Dit plaas die mens in die sentrum van die belydenis aangaande God en verhoog die mensdom tot ’n posisie net laer as Godself. ’n Preekvoorstel vir die Seisoen van die Skepping kan nie hiervoor wegdeins nie. Tog is daar ook ander belangrike elemente wat (kan) inspeel op ’n interpretasie van Psalm 8. Die geloofsperspektief wat Psalm 8 bied stel die swakstes voorop (3). Dit herinner aan een van die ander leesroostertekste vir hierdie Sondag, naamlik Markus 10, waarin Jesus die kindertjies nooi om na Hom te kom en as voorbeelde voorhou vir hoe die koninkryk van God deur gelowiges ontvang moet word (15). In Koninkrykstyd behoort dit besonder opvallend te wees. Diegene wat klein en swak is, is belangrik vir God (Adeyemo, 2006:617); en die geloof van klein kindertjies word ’n voorbeeld van geloof vir alle gelowiges (Adeyemo, 2006:617). God se versorging, ook van diegene wat as onbelangrik beskou word, word hiermee duidelik gemaak (Adeyemo, 2006:615). Maar bowenal herinner die kindertjies aan die weerloosheid van Godself wat mens word in Jesus Christus, gekruisig word, en sterf. Dit is hierdie verwonde, gebreekte liggaam wat tydens die nagmaal onthou word; aan wie se wonde Thomas uitgenooi word om te raak (in Joh 20). Dit is hierdie liggaam van Christus wat die kerk ook moet wees. Die antwoord op die vraag “Wat is die mens?” is dan anders, naamlik dat mense die beeld van God is; die beeld van Jesus Christus (cf Kelsey, 2009).

Laastens sou hierdie psalm nie alleenlik met skepping en skeppingsteologie geassosieer word nie, maar in die Christelike tradisie tradisioneel geassosieer word met Hemelvaart (Craigie, 1983:106). ’n Preekvoorstel sou dit self dus nie net op die skepping (of vleeswording, of kruisiging) hoef te beroep nie, maar sou moontlik die hele geloofsbelydenis moes betrek. Trouens, dalk is dit juis deel van die uitdaging van so ’n preekvoorstel soos hierdie om ’n teksgedeelte soos Psalm 8 binne die drie-enige God se heilswerk (skepping, maar ook verlossing en voleindiging) te interpreteer. In die vroeë kerk sou die deel van Psalm 8 wat die mensdom se regering oor die wêreld beskryf (6 en 7), Christologies geherinterpreteer word om Christus se heerskappy oor die wêreld te beklemtoon (Craigie, 1983:110). Voorbeelde hiervan is
1 Korintiërs 15:27, Efesiërs 1:22 en Hebreërs 2:6-8 (1983:110; cf Adeyemo, 2006:616-617). Uiteindelik sou die psalm verder bly ontwikkel binne die geloofsverbeelding en geloofstaal van die kerk, om uiteindelik in die belydenis van die heerskappy van Christus uit te mond (1983:110) – nie net in die Nuwe Testament nie, maar ook in kontemporêre geloofsbelydenisse, soos Barmen (1934) en Belhar (1986).

Bronnelys

Adeyemo, T (ed) Africa Bible Commentary. Grand Rapids, Michigan: Zondervan.
Burger, C W 1988. “Die Prediking van die Psalms.” Riglyne vir prediking oor die Psalms. Woord teen die Lig II/4. Pretoria: NG Kerk-Uitgewers. bl 9-17.
Charry, E T 2015. Psalms 1 – 50. Sighs and Songs of Israel. Brazos Theological Commentary on the Bible. Grand Rapids, Michigan: Baker Publishing Group.
Craigie, P C (ed) 1983. Psalms 1 – 50. Word Biblical Commentary (Volume 19). Waco, Texas: Word Book Publishers.
Kelsey, D H 2009. Eccentric Existence. A Theological Anthropology. Louisville, Kentucky: Westminster John Knox Press.
Kroeger, C C and Evans, M J (eds) 2002. The IVP Women’s Bible Commentary. Downers Grove, Illinois: InterVarsity Press.
Masenya, M 2014. “Female and Royal Humanity? One African Woman’s Meditation on Psalm 8.” Old Testament Essays 27(2):489-501.
Oden, T C (ed) 2008. Psalms 1 – 50. Ancient Christian Commentary on Scripture (Old Testament, Volume VII). Downers Grove, Illinois: InterVarsity Press.
Van Asselt, W J 2011. “‘Quid est homo quod memor es ipsius?’ Calvin and Cocceius (1603 – 1669) on Psalm 8.” Church History and Religious Culture 91(1-2):135-147.
Van Huyssteen, J W 2004. Alone in the world? Human uniqueness in science and theology. The Gifford Lectures (the University of Edinburgh, Spring 2004). Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company.
Vos, C J A 2005. Theopoetry of the Psalms. Pretoria: Protea Book House.
Zachman, R C 2011. “Contemplating the Living Image of God in Creation.” In Welker, M, Weinrich, M and Möller, U (eds) Calvin Today. Reformed Theology and the future of the church. New York: T & T Clark.
Zachman, R C 2013. Reconsidering John Calvin. Cambridge: Cambridge University Press.

© Missio 2024 | All rights reserved.