Eerste Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Anders as die eerste mens (Gen 2 en 3) weerstaan Jesus die versoekinge wat aan Hom gestel word en bly Hy gehoorsaam aan God (Matt 4). So word Hy die tweede Adam wat die gevolge van die oeropstand teen God ongedaan maak (Rom 5) en stel Hy die vergiffenis van sonde tot beskikking van mense (Ps 32).

Ander tekste

Genesis 2:15-17; 3:1-7
15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

3 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

2Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”

4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

6Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.

Psalm 32
U het my skuld vergewe
32 ’n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,
wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte.
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe.
6Dit is waarom elke gelowige
in ’n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters
sal hom nie skielik oorval nie.
7U is vir my ’n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.
8Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
9Moenie onverstandig wees nie,
soos ’n perd of ’n muil
wat met ’n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes.

Romeine 5:12-19
Adam en Christus
12Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.

Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.

18Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word.

20Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. 21Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

Fokusteks

Matteus 4:1-11
Die versoeking in die woestyn
(Mark 1:12–13; Luk 4:1–13)
4 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:
’n Mens leef nie net van brood nie
maar van elke woord
wat uit die mond van God kom.”

5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:

Hy sal sy engele oor jou opdrag gee
en:
Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen ’n klip
sal stamp nie.”

7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

8Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid en
Hom alleen dien.”

11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Ekstra stof

Die teks vorm deel van die eerste deel van Matteus wat handel oor Jesus se geboorte en die voorbereiding vir sy publieke bediening.

Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening
Die lewe is darem nie maklik nie! Van die hoogtepunt van die doop en die duif … word Jesus gelei na die dieptepunt van die duiwel se versoeking. Dit is egter nie slegte nuus nie. Dit is goeie nuus, dit is die evangelie. Hoekom? Want Jesus aanvaar die uitdaging sonder skroom, sonder klag, sonder om terug te deins. Dit is immers al die eerste oorwinning; om nie in te gee voor die behoefte om dinge makliker in die lewe te hê nie. En Hy slaag die toets uiteindelik met vlieënde vaandels as ewige getuienis dat ons in Hom die oorwinning oor die duiwel, die versoeker en aanklaer, het.

Baie van ons is bekend met die gelade sin waarmee Scott Peck sy boek The Road Less Travelled begin: “Life is difficult.” Maar minder van ons weet of onthou wat hy direk daarna skryf: “This is a great truth, one of the greatest truths. It is a great truth because once we truly see this truth, we transcend it. Once we truly know that life is difficult – once we truly understand and accept it – then life is no longer difficult. Because once it is accepted, the fact that life is difficult no longer matters.” Dit is die eintlike punt van die besef dat die lewe moeilik is. As jy dit eenmaal aanvaar dat die lewe moeilik is, kan jy daarmee handel, kan jy met moed en oortuiging daarop reageer.

Matteus vertel dus dié verhaal van Jesus se versoeking (4:1-11) as belangrike inleiding tot die begin van sy verkondiging (4:12-17), die roeping van sy eerste dissipels (4:18-22) en die barmhartige hart wat Hy aan sy mense bewys deur hulle nie net te onderrig nie, maar ook van elke siekte en kwaal te genees (4:23-25).

Jesus se versoeking – 4:1-11
Die Gees se eerste taak ná Hy op Jesus neergedaal het, is om Jesus sterk te maak vir die uitdagings wat in sy bediening op Hom gaan wag. “Jesus must face these temptations now, and win at least an initial victory over them. If he doesn’t, they will meet him suddenly, in the middle of his work, and they may overwhelm him.” (NT Wright – Matthew for Everyone). En ‘n mens kan kwalik aan drie versoekings dink wat beter aan God se doel met dié woestyn tydperk in Jesus se lewe beantwoord.

Die versoeking van die duiwel is in die eerste plek dat Jesus iets wonderbaarliks sal doen om sy honger te stil – dat Hy van klippe brode moet maak. Die doel van die duiwel is daarmee dat Jesus sal val vir die versoeking om sy krag ter wille van Homself te gebruik. Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy later wonders kan doen sonder om daarmee die aandag op Homself te fokus.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 8:3 dat die fokus op God se woorde belangriker is as die fokus op wonderbrood. Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog later vir God vir wonders te vra, waar dit in God se bedoeling inpas en nie om Homself gaan nie. En later in die evangelie vermeerder Hy brood by twee geleenthede (hfste. 14 en 15) benewens nog ‘n klomp ander wonderdade.

Die versoeking van die duiwel is in die tweede plek dat Jesus God se beloftes van beskerming in die Skrif – Ps. 91 – sal gebruik om vir Hom naam te maak deur van hoogste punt van die tempel af te spring. Die doel van die duiwel is daarmee dat Hy God se beloftes ter wille van Homself sal misbruik. Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy voluit op God se beloftes ter wille van ander kan staatmaak, maar nie ter wille van Homself nie.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:16 dat Hy God se naam hoog wil hou, deur Hom nie uit te tart of te versoek nie. Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog op God se beloftes aanspraak te maak in vele situasies in sy bediening, onder andere in die vele kere wat Hy gelowiges verseker van God se bereidheid om gebede te verhoor.

Die versoeking van die duiwel is in die derde plek dat Jesus sy koninkryk op aarde sal vestig, deur voor die duiwel neer te kniel en hom te aanbid. Die duiwel se doel daarmee is om Jesus te oorreed om die maklike uitweg, die weg van die minste weerstand, die kortpad na roem en eer, te volg. Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy van die begin af die baie moeiliker pad van die lydenspad en die kruis sal volg, sodat Hy daardeur verlossing vir almal wat in Hom glo, kan verwerf.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:13 dat ‘n mens net God alleen mag aanbid en dien. Daarmee skaar Hy Hom volledig aan God se kant en verklaar Hy Homself bereid om God se pad met Hom te stap, al kos dit ook wat.

Wat natuurlik ten diepste hier op die spel is, is Jesus se Seunskap en of Hy God daarmee gaan dien of Homself. Die duiwel wil twyfel daaroor by Jesus saai en Hom onafhanklik van God laat optree. Hy ís immers God! Die Gees wil Jesus egter leer om dit te omhels, sonder om sy Seunskap te ontken, maar sy status nie ter wille van Homself te misbruik nie, maar ter wille van God se bedoeling uit te leef, wat uiteindelik die swaarste ding van alles van Hom sou vra, die kruisdood.

Let op dat die engele wel vir Jesus kom versorg het ná die duiwel Hom met rus gelaat het. God kom dus sy belofte in Ps. 91 na, sonder dat Jesus eers hoef te vra!

Liturgie

RUS

Toetrede: F208 of Lied 390

Votum: (Uit: Gebedeboek met Liturgiese voostelle)

Lydenstyd: VONKK 28 of Lied 379

Seëngroet

Lofsang: Lied 393

Toewyding: (uit Ps 32).

Genadeverkondiging: Romeine 5:12-19

Geloofsbelydenis / toewyding: Lied 396

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 4:1-11

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 512 “Nader, my God by U”

Seën

Repsons: Lied 512 vers 3, laaste 3 reëls:

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede 
F208. U Het Nie Gewag Op My [bekend] of
Lied 390 “Ons kniel hier aan u voete neer”

Votum
Kom, o Lig, en verlig die duisternis in my.
Kom, o Lewe, en wek my uit die dood.
Kom, groot Geneesheer, en heel my wonde.
Kom, Vuur van Goddelike liefde, en verteer my sonde… verwarm my hart met u liefdesvlam.
Kom, my Koning, kom sit op die troon van my hart en regeer my lewe.
Want U alleen is my Koning en my Heer.
(Uit: Gebedeboek met Liturgiese voostelle)

Lydenstyd
Oorweeg gerus om ‘n kandelaar met 7 kerse te kry en steek elke week van Lydentyd ‘n kers aan, om so die reis na Paasfees te merk.  

Terwyl eerste kers aangesteek word:
VONKK 28 Ons Aanbid U, Jesus Heer of
Lied 379 Jesus Christus, Lam van God

Seëngroet

Lofsang
Lied 393 “Middelpunt van ons verlange”

Toewyding
Voorganger: Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe,
wie se sonde bedek is.
Gelukkig is die mens vir wie die Here skuld nie toereken nie,
en in wie se gees geen bedrog is nie.
Gemeente: Verbly julle in die Here,
en juig, regverdiges;
jubel dit uit, alle opregtes.

Voorganger: Toe ek stilgebly het, het my liggaam uitgeteer,
onder my gekreun die hele dag;
ja dag en nag was u hand swaar op my;
my lewenskrag het weggekwyn
soos in die hitte van die somer.
Gemeente: Verbly julle in die Here,
en juig, regverdiges;
jubel dit uit, alle opregtes.

Voorganger: My sonde het ek teenoor u erken;
my skuld het ek nie bedek nie.
Ek het gedink: “Ek wil my oortredinge teenoor die Here bely.”
En U het my sondeskuld vergewe.
Gemeente: Verbly julle in die Here,
en juig, regverdiges;
jubel dit uit, alle opregtes.

Voorganger: Dit is waarom elke getroue volgeling
tot U moet bid in ’n tyd van angs.
U bied vir my beskutting;
U vrywaar my van nood;
met jubelkrete van bevryding omring U my.
Gemeente: Verbly julle in die Here,
en juig, regverdiges;
jubel dit uit, alle opregtes (uit Ps 32).
(Uit: Woord en Fees)

Genadeverkondiging: Romeine 5:12-19

Geloofsbelydenis / toewyding
Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis”

Liedere

F208. “U Het Nie Gewag Op My”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd)
Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en musiek: Mark Altrogge
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace Praise
CCLI Song No. 24047; CCLI License No. 2048851
U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid.

U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam: “Kom na My”.
Vir ewig is ek dankbaar, o, Heer,
dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra.
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra.

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Nagmaal / Lydenstyd

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 4:1-11

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Carolyn Brown gee ‘n klomp uitstekende idees hoe om hierdie teks saam met kinders te ontsluit.
Julle kan drie lesers gebruik en die teks dramaties lees.

Lees die teks en nooi dan die hele gemeente om hierdie kunstenaar se interpretasie van die teks te oordink. Dit tel die dae af en gee vir ‘n mens ‘n dieper insig oor die verloop van die tyd wat Jesus in die woestyn was.

Jy kan ook die verhaal van The Little Mermaid gebruik. Ariel gee haar beste gawe – haar stem – vir Ursula, wie sy weet boos is – om die ding te kry wat sy die graagste wil hê, naamlik ‘n mens-prins.

Of wys hierdie uittreksel uit Pinocchio en gesels oor wat versoekings is.

Preekriglyn

Sylvester Stallone het die vermaaklikheidswêreld in 2006 verras deur sy ikoniese fliekheld, Rocky Balboa, vir ‘n laaste keer na die silwerskerm te bring. Terwyl hy die film bemark het, het Stallone Christene verras deur te sê sy geloof in Jesus Christus het die skryf van die eerste Rocky-draaiboek beïnvloed. Sy hernude toewyding en verbintenis aan Jesus het hom gemotiveer om die jongste en laaste Rocky-draaiboek te skryf, het hy gesê.

Hy het die hele storie in ‘n onderhoud met Citizenlink.com vertel: “Ek het in ‘n Christelike huis opgegroei en het kerkskole bygewoon. Daar het ek deel geword van die Christelike geloof. Ek het my geloof probeer uitleef, maar het deur my werk in die sogenaamde regte wêreld daarbuite beland waar ek met versoeking gekonfronteer is. Ek het só soort van my koers verloor en ‘n klomp baie slegte keuses gemaak.”

Al hierdie slegte keuses, veral om roem en sy loopbaan ‘n groter prioriteit as sy familie te gee, het Stallone altyd diep bly pla. Toe is hy terug kerk toe. “Hoe meer ek kerk toe gaan, hoe meer gee ek myself vir die proses om in Jesus te glo, na sy Woord te luister, en te beleef hoe Hy my lewe stuur,” het Stallone in die onderhoud gesê.

Hy vertel hoe hy geleer het hy kan Jesus Christus meer vertrou as wat hy homself kan vertrou. “Mens het die ekspertise en die leiding van iemand anders nodig. Mens kan jouself nie afrig nie. Dis presies hoe ek oor Jesus, die Christelike geloof en die kerk voel. Jesus is die afrigter, en die kerk is die gimnasium vir die Christelike lewe.”

Versoeking, het Stallone ontdek, is ‘n werklikheid. Daar is geen groei in jou Christelike identiteit en die uitleef van jou roeping, sonder versoeking nie. Maar daar is ook ‘n Afrigter.

Doop en versoeking

Matteus vestig ons aandag daarop dat Jesus se versoeking in die woestyn direk na Johannes se bekeringsdoop volg. Deur Johannes se bekeringsdoop te ondergaan, sit die sondelose Jesus sy skouer onder mense se sonde. Dit is Jesus se keuse om gehoorsaam aan die Vader te wees, en Homself as dienaar onderdanig aan sondige mense te stel.

By sy doop word Jesus se identiteit bevestig wanneer die hemel bo Hom oopgaan, die Gees van God op Hom kom, en die Vader uit die hemel sê: “Dit is my geliefde Seun, Oor Hom verheug Ek My.”

Letterlik die volgende paragraaf begin met ‘n betekenisvolle woordjie “toe”:

Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (4:1).

“Toe” verbind doop en versoeking.

Dadelik is die vraag: Aan wie sal Jesus enduit gehoor gee, aan die Gees of aan die duiwel? Jesus sal moet kies tussen die Gees se leiding en die duiwel se versoekings. Die Griekse woord vir “versoek” kan met “toets” vertaal word. Die konteks bepaal of dit ’n positiewe of negatiewe inhoud het. Hier word dit met die duiwel verbind. Die woord vir duiwel dra oorwegend die betekenis van (valse) aanklaer en daarom kry “toets” reeds in vers 1 die betekenis van versoek.

Versoeking

Jesus word drie keer versoek nadat Hy reeds veertig dae en veertig nagte niks geëet het nie en honger geword het.

Die eerste versoeking is dat Jesus sal optree en bewys dat Hy die Seun van God is deur soos God te “sê” – sodat die klippe brode sou word. Mens word deur hierdie uitdaging aan die skeppingsverhaal van Genesis 1 herinner waar God, deur te “sê”, geskep het (Gen 1:3, 6, 9, 11, 14, 20 en 24).

Met Jesus se antwoord in vers 4 wys Hy die idee van ’n eie (goddelike) ingrype om sy honger te stil van die hand. Meer nog. Hy bely of verklaar dat Hy sal lewe, nie deur brood alleen nie, maar deur elke woord wat uitgaan uit die mond van God. Hierdie aanhaling uit Deuteronomium 8:3 wys terug na die tyd wat Israel vir veertig jaar in die woestyn was om, soos Moses dit stel, hierdie les te leer.

Die tweede versoeking bou op Jesus se antwoord op die eerste. Aangesien Jesus totaal afhanklik is van elke woord wat uit God se mond gaan, daag die duiwel Jesus nou uit om sy belydenis tot die uiterste konsekwensies te neem. Gooi jouself dan na benede! Laat God die bevel gee om jou te red! Jy sê mos jy sal lewe uit sy Woord en in die Skrif word verklaar dat Hy sy engele sal bevel gee om jou te beskerm. Wys dan nou dat jy so sal bly lewe.

Jesus antwoord in vers 7: Om van God afhanklik te wees, kan nooit beteken om God tot optrede te manipuleer nie.

In die derde versoeking tree die duiwel met krag op. Hy neem Jesus na ’n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die aarde – en staan dan asof hy god is voor Hom: dit alles sal hy vir Jesus gee as Jesus maar net sou val en hom aanbid.

Jesus reageer deur die duiwel as satan (teenstander) aan te spreek, en beveel hom om weg te gaan. Jesus beroep Hom nog eens op ’n woord uit die Ou Testament: ons moet God alleen aanbid en Hom alleen dien.

Dan word vertel dat die duiwel die aftog geblaas het (hoewel dit nie beteken dat hy Jesus nooit weer probeer versoek het nie) en dat Jesus as oorwinnaar deur engele bedien is.

Verband tussen doop en versoeking

Wat is die verband tussen Jesus se doop en Jesus se woestyntyd en versoekings? Ons kan belangrike lyne tussen die twee gebeure uitlig, byvoorbeeld:

  • Die doop bevestig Jesus se identiteit en die versoekings bevraagteken sy identiteit.
  • By die doop hoor Jesus die stem van sy hemelse Vader en in die woestyn praat die duiwel, die versoeker, met Hom.
  • By die doop verklaar die Vader dat Jesus sy geliefde Seun is oor wie Hy Hom verheug en in die woestyn bevraagteken die duiwel of Jesus die Seun van God is.
  • In 3:15 verklaar Jesus teenoor Johannes dat hulle alle geregtigheid moet vervul (vgl 1953-vertaling) en teenoor die duiwel verklaar Hy dat Hy God nie sal versoek nie en God alleen sal aanbid.

Die twee situasies wat so in kontras met mekaar geteken word, word verbind deur Matteus se vertelling dat Jesus deur die Gees die woestyn ingelei is om deur die duiwel versoek te word.

Betekenis vir ons

Wanneer ons vandag Jesus se doop en versoeking (en ons eie versoekings) bedink, onthou ons dat Jesus die satan (teenstander) beslissend verslaan het. Dit het klaar gebeur, ter wille van ons.

Ons praat oor versoeking in ons eie lewe wat oorwin moet word deur dieper in te groei in ons identiteit in Jesus Christus, en deur ons lewe vanuit dit wat Jesus vir ons verwerf het. Ons hoef die satan dus nie self te verslaan nie. Ons het ook die beste afrigter denkbaar, die Een wat die Satan self verslaan maar ook weerstaan het: Jesus Christus.

Só beskryf die Brief aan die Hebreërs die betekenis vir ons:

Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word. (2:18)

En:

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. (4:15-16)

Ons het die regte Afrigter. Hy het die toets geslaag, soos in ons teks beskryf.

Wat ons nodig het – soos Sylvester Stallone sê – is om ingeoefen te word in gehoorsaamheid aan Jesus, en in die weerstaan van die versoekings wat oor ons pad kom. Daarvoor het ons wil en deursettingsvermoë nodig. Maar daarvoor het ons ook mekaar nodig. Ons moet in die geloofsgemeenskap bly waarin ons mekaar bemoedig

Lydenstyd

Ons staan vandag aan die begin van Lydenstyd. Daarom moet ons na Jesus se versoeking ook kyk vanuit die perspektief van sy lyding.

Daar is vandag baie lyding in die wêreld. Baie van ons ly ook. Tog kies bitter min van ons om vrywillig te ly.

Dit is die verskil tussen die meeste van ons en Jesus. Jesus se lyding is ’n gekose lyding. Hy kies vrywillig om die lydingspad te loop. Daarvoor moet ons Hom in hierdie tyd loof en prys.

Versoeking om nie te ly nie

Lyding is juis waaroor die duiwel Jesus telkens op die proef probeer stel – hy toets Jesus deur die keuse aan Hom op te dring: Moenie die pad loop wat lyding tot gevolg het nie!

  • Waarom honger bly as jy kan kos kry deur net ’n woord te spreek?
  • Waarom jouself aan die volksleiers as mens onder mense bekend stel en verwerp word, as jy hulle kan oortuig jy is God se Seun deur van die tempeltoring te spring en dit te oorleef?
  • Waarom die weg van die kruis na die kroon volg as jy ’n kroon kan ontvang eenvoudig deur voor die duiwel te buig?

In die verhaal wat Matteus vertel, hoor ons hoe Jesus doelgerig kies om gedoop te word. Teen Johannes se besware in dring Jesus daarop aan om soos al die ander mense wat hulle sonde kom bely, gedoop te word. Wanneer die duiwel dan later, na Jesus deur 40 dae se blootstelling in die woestyn liggaamlik gestroop is, Hom toets, hoor ons dat Jesus Hom op geen manier van sy besluit om hierdie gekose weg te volg, laat afsien nie.

Jesus se afwysing van die duiwel se versoekings is terselfdertyd sy bevestiging dat Hy die pad wat Hy gekies het enduit sal loop – tot aan die kruis.

Later sou hierdie versoeking om die lydensweg te vermy, weer aan Jesus gebied word. Deur sy eie dissipel wanneer Petrus hom wil verhinder om na Jerusalem te gaan om vermoor te word. Deur sy vyande wanneer hulle Hom uitdaag om van die kruis te kom met die verklaring dat hulle Hom dan sal glo.

Waarom lyding kies?

Jesus se lyding is ’n gekose lyding. Dit sê die Nuwe Testament op verskillende maniere. Waarom kies Jesus om te ly? Ter wille van ons! Antwoord die Nuwe Testament op verskillende maniere.

Jesus se keuse om ter wille van ander te ly, is natuurlik nie totaal vreemd nie. Daar is ander voorbeelde hiervan: ’n Vrou wat moederskap kies ten spyte van die swaar van geboorte skenk. Iemand wat ’n nier of gedeelte van ‘n lewer of beenmurg skenk sodat ’n familielid of selfs ’n vreemdeling ’n kans op genesing kan kry. Menige heldedaad is ’n keuse om te ly sodat iemand anders kan lewe.

Tog is Jesus se keuse tot lyding ter wille van ons uniek daarin dat Hy dit so geheel vrywillig doen, dat Hy dit totaal uit liefde doen, dat Hy homself so geheel ontledig het (skryf Paulus in Filippense 2). Hy kies nie net om te ly nie. Hy kies om lydend te sterf.

Jesus se keuse om ter wille van ons te ly en te sterf, is die bekendmaak van God se hart. Dis God se antwoord op ons vrae oor lyding.

Terwyl tallose mense onder lyding gebuk gaan – sinlose lyding, onverklaarbare lyding, dikwels eindelose lyding, antwoord God ons diepste vrae hieroor nie met ’n logiese antwoord nie, maar deur sy Seun, Jesus, te stuur en Hom vir ons aan die kruis te gee.

Immanuel, noem die Engel hom aan Josef voor sy geboorte: God met ons. En wanneer Jesus as volwasse man verskyn om met sy openbare bediening te begin, kies Hy om saam met sondaars gedoop te word en kies Hy herhaaldelik om nie van die pad wat Hy begin stap het, af te draai nie.

Jesus se oorwinning oor die duiwel se versoekings bevestig Jesus se keuse om ons mense lief te hê en om dit tot die uiterste te doen deur sy lewe vir ons af te lê.

Die verhaal van Jesus se versoekings is in die eerste plek ’n verhaal wat, soortgelyk aan die verhaal van die kruisiging, aan ons verkondig dat Jesus gekies het om ons lief te hê en dat Hy onwrikbaar doelgerig hierdie keuse gevolg het.

Hoe verklaar ons dat Jesus dit gedoen het? Hoe verklaar ons dat God gekies het om Homself as lydende mens aan ons te openbaar? Nee – ook dit kan ons nie verklaar nie. Maar tog: Hierdie wete, hierdie verhaal, hierdie Jesus raak ons aan in ons lyding. En op onverklaarbare manier verander dit tog ook ons lyding.

Vandag is die eerste Sondag van Lydenstyd. Ons het gehoor dat Jesus in die woestyn, honger en dors en blootgestel aan die duiwel se versoekings – Jesus met ons – is. Hy is Immanuel in ons woestyne en ons lyding en ons versoekings. Dit is die lig wat vandag oor ons onverstaanbare en onverklaarbare lyding val. Dit kom bevestig vandag: Christus is teenwoordig, met ons, in ons lyding en swaarkry. Dit gee ons troos en hoop.

Daarom kan ons Christus hierdie Lydenstyd volg deur ook met mekaar en met ander in hulle lyding te wees.

Gepaste reaksie

Ons word oorweldig deur alles wat God vir ons doen en gee, in Jesus. Mag ons uit dankbaarheid om ‘n gepaste manier reageer, en onsself in die genade oefen, sodat ons Jesus waardig is wanneer die versoekings oor ons pad kom.

Grafika by die inleiding tot die preek: rocky balboa. feb. 24th 2015. 20h50 (19:50 gmt). d8

Dit is die eiendom van Alatele fr. Kopiereg word gereël deur Creative Commons en laat plasing sowel as redigering toe. Die foto is geredigeer met Picasa III. Dit is hier beskikbaar.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 512 “Nader, my God by U”

Seën

Repsons: Lied 512 vers 3, laaste 3 reëls: Nader, my God, by U, nader my God by U, nog naderby

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.