Eerste Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees

Eerste Sondag in Lydenstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Matteus 4:1-11
Ander tekste: Genesis 2:15-17, 3:1-7; Psalm 32; Romeine 5:12-19

Inleiding

Die skriflesings uit Genesis en Matteus bied verskillende perspektiewe op menslike ervaring in tye van versoeking. Psalm 32 fokus op God se vergifnis van sonde en Romeine 5 wys dat die oplossing te vinde is in die feit dat God die mens se bestaan deur een persoon se “daad van geregtigheid” transformeer. Genesis 2 en 3 ontmasker die grondslag van die mens se sondige natuur asook die diepste grond van alle versoekings: Om soos God te wil wees. Hierteenoor weerstaan Jesus die duiwel se versoekings deur Homself telkens te onderwerp aan die heerskappy van God die Vader

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Skuldbelydenis
Voorganger: Here, toe ek oor my sonde geswyg het, het ek na liggaam en gees uitgeteer geraak.
Gemeente: Dit het gevoel asof u hand dag en nag swaar op my gedruk het, Here.

Voorganger: Dit het gevoel asof my krag opgedroog het soos water in somerhitte.
Gemeente: Maar toe ek my sonde bely, my oortredinge nie wegsteek nie, het ek gesê:

Voorganger: “Voor die Here bely ek my opstandigheid”
Gemeente: en U het my skuld vergewe.

Voorganger: Dit is waarom elke gelowige in ’n tyd van
nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom
nie skielik oorval nie.
Gemeente: U is vir my ‘n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.

Almal: Amen.

Diens van die Woord

Voorganger: Woord van God, Woord van die lewe
Gemeente Woord vir ewig, vas en waar

Voorganger: Woord, onfeilbaar en verhewe
Gemeente: waarin God Hom openbaar

Voorganger: Woord betroubaar, vas en waar
Gemeente: deur miskenning en gevaar –

Voorganger: wat sou ons dan ooit laat bewe?
Gemeente: In dié Woord het ons lewe!

Diens van die tafel

Voorganger: Here Jesus, toe U versoek is, het U vir
veertig dae en veertig nagte niks
geëet nie. Die versoeker het U uitgedaag
om klippe in brood te verander.
Gemeente:  het nie, Here. U het u liggaam gegee
sodat dit vir ons die brood van die lewe
kan wees.

Voorganger: Here Jesus, die duiwel het U uitgedaag
om van die hoogste punt van die tempel
af te spring as bewys daarvan dat U die
Seun van God is.
Gemeente: U het nie Here, U het vrywillig u liggaam
aan ’n kruis laat vasnael, sodat ons die
lewe kan hê.

Voorganger: Here Jesus, die duiwel het aan u al die
koninkryke belowe indien u voor hom
sou neerval om hom te aanbid.
Gemeente: U het nie Here, U het u bloed gegee sodat
ons die beker van danksegging kan drink.
Dankie Here, U is die bron van alle lewe!

Uitsending

Ewige God, ek besef dat teenspoed my oral kan tref. Ek vrees soms dat wanneer dit met my goed gaan die probleem net om die draai lê. Ons weet dat teenspoed ’n nuk het om te vermenigvuldig: die een ramp lei na ’n ander . . . waardeur ons moet worstel. U sê nêrens dat teenspoed ons nooit sal tref nie. U beloof ons wel dat U met ons sal wees in teenspoed én in voorspoed, want voorspoed is soms gevaarliker omdat ons kan dink ons het U nie nodig nie en van U vergeet. Eintlik beskerm U ons teen teenspoed op ’n manier dat die teenspoed ons nie oorweldig nie. U bewerk ’n nuwe lewe uit die kwaad, lig uit duisternis, vreugde uit smart . . . Help ons om gedurig te weet dat ons teenspoed vir U geen probleem is nie. U kan dit beheer en omkeer sodat ons u Naam kan loof . . . en sê: Inderdaad beskerm die Here my van alle teenspoed en Hy sien baie verder as ek.
(uit De Villiers, I L 2008. Manna oor die duine. Vereeniging: CUM)

Musiek en sang

Liedere wat by die aanvang gebruik kan word: Lied 454 “Vader, ons eer U”; Flam 17 “Dit is die dag”
Lofsang: Flam 33 “Halleluja in my hart”; Lied 198 “God is my lied”; NSG 20
Skuldbelydenis: Lied 391 “Vervul, o Heer, my hart”; NSG 105
Vryspraak: Lied 453 “Aan die Vader dank en ere”
Verootmoediging: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God”
Slotsang: Lied 200 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”; NSG 43
Uitstuur: Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer”; NSG 260; Lied 533 “Stuur ons, Here”

Preekstudie: Matteus 4:1-11

Teks

Die Griekse teks van die afgebakende skrifdeel begin met die woord tote wat in Afrikaans vertaal is met “toe” (NIV & NKJV, “then”). Dit verwys na ’n bepaalde moment waarop ’n besondere gebeurtenis plaasvind. Die woord tote verbind ons skrifdeel aan die gebeure waarin Johannes die Doper vir Jesus doop (3:13-17) tydens die Doper se bediening in die woestyn van Judea. Hy het mense opgeroep om hulle te bekeer en verkondig dat die koninkryk van die hemele naby gekom het (3:3). Johannes beklemtoon dat die doop waarmee hy doop kwalitatief verskil van dié waarmee die Een van Wie hy getuig sal doop; Johannes het met water gedoop, maar sy meerdere sal met die Heilige Gees en met vuur doop (3:11). Dan kom Jesus na Johannes, vra dat hy Hom sal doop (3:15) en word Jesus se identiteit aangekondig. Die aankondiging dat Jesus die Seun van God is, gaan gepaard met die hemel wat oopgaan, die Gees van God wat soos ’n duif op Jesus neerdaal en ’n stem uit die hemel wat die aankondiging maak (3:17). Dit is die agtergrond waaraan tote die leser herinner.

Die woord tote dien ook as skakel met wat verder gaan gebeur. In die opspraakwekkende moment van Jesus se identifisering as Seun van God vind ’n tweede noemenswaardige gebeurtenis plaas. Die Gees het Jesus “in die woestyn ingelei om versoek te word deur die duiwel” (Van der Watt; Lett van Gr aor inf pass ww – vgl Zerwick & Grosvenor). Die formulering van die sin gee uitdrukking aan doelgerigte handeling wat vrae oproep. Hoekom lei die Gees Jesus doelbewus sodat Satan Hom kan versoek? Die Griekse woord peirasthēnai beteken ook “toets”, terwyl die Griekse woord diabolos vertaal kan word met “aanklaer” of “duiwel” (Zerwick & Grosvenor). Hierdie woorde herinner aan ’n hofgeding, strydgesprek of tipe kompetisie waarin iets beoordeel word. Jesus is die subjek wat beoordeel word.  

Vers 2 en 3 beskryf ’n situasie waarin Jesus se fisieke toestand en die duiwel (aanklaer/versoeker) se strategie ter sprake kom. As deel van Jesus se woestynervaring het Hy vir ’n aansienlike tyd niks geëet nie en was as gevolg daarvan honger en fisiek swak. Die duiwel benut die toestand van broosheid om Jesus te nader met sy toets (versoeking). Die behoefte van die liggaam aan voedsel is die invalshoek om Jesus se wil en gees uit te daag. Waaroor gaan dit in dié konfrontasie? Wat wil die duiwel bereik? Wat openbaar Jesus van Homself?

Die uitdagende stelling waarmee die duiwel Jesus in vers 3 nader, gee ’n antwoord op die vraag waaroor dit in die konfrontasie gaan. Dit gaan naamlik oor die vraag of Jesus inderdaad die Seun van God is. Sy identiteit is op die spel en die bewys wat die aanklaer eis, is dat Jesus sekere dinge moet doen. As Jesus doen wat hy eis, sal dit bewys lewer dat Hy is Wat die stem uit die hemel by sy doop aangekondig het, naamlik: “Dit is my geliefde Seun” (3:17).

Die eerste bewys wat Jesus moet lewer is om klippe in brood te verander (3). Die tweede bewys wat die aanklaer van Jesus eis is om van die hoogste punt van die tempel te spring om te toets of God sy Seun te hulp sal kom (6). As God werklik sy Vader is, sal Hy sy engele opdrag gee om Jesus te bewaar. Die derde bewys van sy Seunskap wat die aanklaer eis, is bereidheid om die duiwel te aanbid (9). As Jesus daartoe instem, sal Hy al die koninkryke van die wêreld van die duiwel ontvang.

In Matteus se vertelling van die konfrontasie tussen Jesus en die duiwel in die woestyn gebruik die skrywer ’n interessante retoriese tegniek. Hy beskryf die dialoog tussen die twee partye met behulp van formules wat telkens herhaal, maar dan onderbreek word. Die een wat versoek gebruik twee maal die formule: “As U die Seun van God is . . .” (3, 6). Na die tweede voorkoms van die formule identifiseer die leser ’n patroon en verwag ’n verdere herhaling daarvan. Maar dan wysig die skrywer die patroon en laat die formule weg by die derde versoeking. Nou is die fokus nie meer op Jesus se verhouding met God nie, maar op aanbidding van die duiwel en sy aanspraak op die besit van al die koninkryke van die wêreld, asook sy gewaande mag om dit aan Jesus te gee (9).

’n Tweede formule is die uitspraak op Jesus se lippe in reaksie op die een wat versoek se uitdaging aan Hom. Jesus antwoord: “Daar is geskrywe” (4, 7, 10). Ook in hierdie geval vorm die patroon, maar word nou gehandhaaf by die derde versoeking. Hier verwerp (vervloek) Jesus die duiwel en herinner hom aan die sogenaamde shema (Deut 6:13). Op hierdie wyse word die klem geplaas op God as enigste aanspraakmaker op aanbidding, asook op die intieme verhouding tussen Jesus en God. In vers 6 gebruik die een wat versoek ook dié formule om Jesus se verweer teen te staan. Sy strategiese arsenaal is blykbaar onuitputlik.

Vers 11 beskryf die afloop van die konfrontasie. Jesus se beklemtoning van God as enigste aanspraakmaker op aanbidding, troef die aanklaer. Hy laat Jesus met rus en gaan van Hom af weg. En dan openbaar God Homself in die versorgende handelinge van engele, maar bevestig Hy ook die waarheid van die hemelse aankondiging dat Jesus sy geliefde Seun is.

In Jesus se reaksie op die duiwel se uitdagings beklemtoon Hy telkens grondliggende aspekte wat God se posisie vestig, asook die lewenshouding aandui wat erkenning gee aan God se alleen aanspraak op menslike lewe en aanbidding. Die eerste beginsel is dat die mens leef van elke woord uit God se mond (4). Tweedens beklemtoon Jesus dat God nie deur enige wese op die proef gestel (uitgedaag, getoets) mag word nie (7). Die derde beginsel is dat God alleen aanbid moet word (10).

Konteks

Na die opening van die evangelie met ’n geslagsregister wat Jesus se afstamming tot by Abraham herlei (1:1-17), vervolg Matteus met die verhaal oor Jesus se maagdelike geboorte en verwante gebeure (1:18-2:23). Dan verskuif die verhaal na die begin van Jesus se bediening as volwassene: sy doop deur Johannes (3:1-17), sy versoeking deur die duiwel in die woestyn (4:1-11 – ons skrifdeel), die roeping van sy dissipels tot navolging en sy openbare optrede in Galilea deur prediking, onderrig en genesing (4:12-25) (M A Powell).

Stephan Joubert lig enkele aspekte van Matteus se verhaal oor Jesus se bediening aan Israel uit. Matteus wil veral aantoon dat Jesus die beloofde Messias van Israel is. Hy is Immanuel, God by ons, soos wat die engel aan die begin van die evangelie vir Josef sê (1:23), en soos wat Jesus self in sy laaste woorde op aarde aan die einde van die evangelie bevestig (28:20). Joubert bespreek ons skrifdeel onder die opskrif “Die aankoms van die Messias” as deel van die eerste verhaalblok (1:1-4:17). Die geslagsregister (1:1-17) noem Hom die Christus, die Seun van Dawid en die Seun van Abraham. Aanhalings uit die Ou Testament (1:23; 2:6, 15, 17-18, 23) beklemtoon Hom as die Messias wie se koms lank tevore deur die profete aangekondig is. Matteus vertel by twaalf geleenthede dat die profesieë vervul is. In 3:17 kondig God self aan dat Jesus sy gesagvolle bekendmaker is. Jesus se koms ontlok beide positiewe en negatiewe reaksies van mense (vgl die sterrekykers, Johannes die Doper, Herodes die Grote). In ons Skrifdeel probeer Satan om Jesus van sy sending te laat afsien direk ná sy doop, wat ook die begin van sy aardse bediening is (4:1-11).

Powell lig die sentrale temas in die Matteusevangelie uit en noem onder andere die tema van God se durende teenwoordigheid in ons wêreld. Hierdie evangelie wil aandui op watter maniere God op aarde teenwoordig is. Matteus fokus op die vraag na waar God is en beantwoord dit met drie stellings: (i) God is in Jesus teenwoordig; (ii) Jesus is in die kerk teenwoordig, en; (iii) Die kerk is in die wêreld teenwoordig.

Ons skrifdeel het veral betrekking op die eerste stelling. Powell argumenteer dat hierdie stelling nie so radikaal sou klink vir Jode wat reeds erkenning daaraan gegee het dat God in die geskiedenis teenwoordig was in talle mense soos Moses, Dawid, die profete en selfs heidene soos koning Kores van Persië nie. Matteus bedoel egter nie dat Jesus bloot ’n agent van God is of dat God maar net deur Hom gewerk het nie. Matteus wil eerder aandui dat God met Jesus se geboorte die wêreld betree het soos nooit te vore nie. Matteus is selfs van oordeel dat dit vir mense gepas (toelaatbaar) is om Jesus te aanbid. In ons skrifdeel (10) bevestig Jesus die tradisionele lering dat die mens geen ander entiteit mag aanbid nie (Gr proskyneó) as die Here God (vgl Deut 6:13). In die Matteusevangelie is daar egter agt voorbeelde van mense wat vir Jesus aanbid sonder om daaroor tereggewys te word (2:11; 8:2; 9:18; 14:33; 15:25; 20:20; 28:9, 17; 21:15-16). Matteus se punt is blykbaar dat God op sodanige wyse in Jesus teenwoordig is dat mense se aanbidding van Jesus geld as aanbidding van God.

’n Tweede tema in Matteus wat vir ons skrifdeel belangrik is, is dié van Jesus as Seun van God. Ons het reeds gesien hoe Jesus se identiteit as Seun van God by sy doop deur Johannes beklemtoon word (3:17). Soos in die Markusevangelie, praat God ook in die Matteusevangelie twee keer uit die hemel en noem Jesus “my Seun” (by sy doop en by sy verheerliking op die berg – 17:5; vgl 2:15). Matteus brei egter op hierdie tema uit deur die toevoeging van die maagdelike geboorte waardeur Jesus byna letterlik voorgestel word as God se Seun (1:18). Dit word verder versterk deur die dissipels se belydenis van Jesus as die Seun van God (vgl Matt 14:32-33 = Mark 6:51-52; Matt 16:16 = Mark 8:26). Uiteindelik word Jesus se identiteit as Seun van God ten nouste verbind met die verhaal oor sy kruisiging.

’n Derde tema van die Matteusevangelie wat ook in ons skrifdeel na vore kom, is dié van die interpretasie van die skrifte. Volgens Matteus kan iemand die skrifte ken sonder om dit te verstaan. In vers 6 van ons skrifdeel haal Satan selfs die skrifte aan in sy bose motiewe met Jesus. Die godsdienstige leiers van Israel beskik ook oor akademiese kennis van die skrifte, maar Jesus wys hulle telkens daarop dat hulle nie beskik oor die diepere kennis daarvan nie. Vir Matteus is die sleutel tot interpretasie van die skrifte in die erkenning daarvan dat dit in die lewe en leer van Jesus vervul is (5:20). “The revelation of God in Christ sheds light upon scriptures and reveals their true meaning and intent” (Powell).

Andrie du Toit bespreek die teologiese betekenis van wat die Bybel oor Jesus se versoekings vertel: “Met Jesus se versoekings in die evangelies (bv Matt 4:1-11) gaan dit elke keer ten diepste om die vraag: Watter soort Messias gaan Hy wees? ’n Brood-messias (Matt 4:3-4), ’n sensasie-messias (Matt 4:5-7), ’n politieke messias (Matt 4:8-10), of die gehoorsame, lydende Messias van God? Drie keer staan Hy voor die keuse: Sal Hy die maklike pad kies of sal Hy die eensame, verskriklike gehoorsaamheidspad kies?”

N T Wright vertel ’n verhaal wat hierby aansluit. Jennifer is tot parlementslid vir haar wyk verkies. Haar passie was altyd om haar mense, land en die wêreld te dien. Sy het haar nominasie as parlementêre kandidaat beskou as ’n geleentheid om die wêreld te verander, omstandighede te verbeter en die omgewing te transformeer. Na haar verkiesing kyk sy terug oor die suksesvolle veldtog, oorweldig deur die uitslae. Die smaak van oorwinning is soet.  Nou kan sy haar edel ideale verwesenlik. Tog hoor sy ook ander stemme in haar gedagtes. Die ideale is steeds daar; drome om diensbaar te wees, die wêreld te verander. Maar daar is kompeterende stemme: “Uiteindelik het jy geleentheid om baie geld te genereer . . . Dink aan wat jy nou kan doen . . . Die wêreld is ’n skaakbord. Speel die spel op jou terme!”

Matteus se vertelling oor Jesus se versoeking in die woestyn verhaal juis hierdie menslike disposisie. Hebreërs 4:15 skryf dat Jesus soos ander mense aan versoeking onderworpe was. Volgens Matteus is Jesus met dieselfde fluisterstemme gekonfronteer as wat Jennifer na die suksesvolle verkiesingsveldtog gehoor het. Beide Jesus en Jennifer moes die aard van hierdie stemme herken en dienooreenkomstig daarmee handel. Soos met Jennifer se ervaring het Jesus ook die stemme gehoor na ’n belangrike gebeurtenis in sy lewe. Jesus se doop was sy groot roepingsmoment. Daar is sy bewussyn van God se roeping en liefde dramaties bevestig. Wright beskryf hierdie stemme (voorstelle, uitdagings) as wyses waarop die ware roeping verdraai word: “the vocation to be a truly human being, to be God’s person, to be servant to the world and to other people.”

Wright interpreteer die plek en funksie van hierdie versoekingsgebeurtenis in Jesus se lewe in terme van Jesus se identiteit en die pad waarlangs sy roeping Hom deur die wêreld sou lei. Jesus is in werklikheid deur hierdie woestynervaring voorberei vir wat nog vir Hom voorlê. “Jesus must face these temptations now, and win at least an initial victory over them. If he doesn’t, they will meet him suddenly, in the middle of his work, and they may overwhelm him.”  A J Sandarini skryf só hieroor: “In Matthew the devil tempts Jesus after his forty-day fast, when he is physically weakest but spiritually most prepared.”

Die eerste twee toetse (versoekings) speel in op die krag wat Jesus met sy doop ontvang en deur God as sy Seun geïdentifiseer is. Die een wat versoek, daag Jesus uit om iets buitengewoon te doen om voedsel vir sy honger liggaam te voorsien. Hy daag Jesus uit om sy hemelse Vader te ignoreer en hom eerder te aanbid. As Jesus die versoeker aanbid, belowe hy, sal Jesus mag en grootheid verwerf. Jesus is egter vasberade “to living off God’s word; trusting God completely, without putting up trick tests to put God on the spot . . . Jesus is committed to love and serve God alone, and Israel’s loving God whom Jesus knew as father, offered the reality of what it meant to be human, to be a true Israelite, to be Messiah” (Wright).

Kingsbury skryf dat die kern van elke toets uiteindelik neerkom op Jesus se toewyding of gehoorsaamheid aan God. “The intent of Satan in each test is to entice Jesus to break faith with God, his Father, and thus disavow his divine son-ship. In testing Jesus, Satan cunningly adopts God’s evaluative point of view according to which Jesus is his Son (4:3, 6).”

Volgens Wright gebruik Matteus die Bybeltekste wat Jesus in reaksie op die versoeker aanhaal om ooreenkomste aan te dui tussen Jesus se lyding en dié van Israel tydens hulle omswerwinge in die woestyn. “Jesus had come through the water of baptism like Israel crossing the Red Sea. He now had to face, in forty days and nights, the equivalent of Israel’s forty years in the desert. But where Israel failed again and again, Jesus succeeded. Here at last is a true Israelite . . . He has come to do what God always wanted Israel to do – to bring light to the world.” In dieselfde verband besin Johnson oor wat Matteus bedoel met die benaming “Seun van God”: “. . . Matthew identifies him as the faithful child whom God had desired in Israel . . . Jesus is the human being who is fully faithful and obedient to the will of God.”

Sandarini wys ook op die simboliese betekenis van Jesus se veertig dae vas in die woestyn en vergelyk dit met “Moses’ forty-day fast on Mt Sinai (Ex 34:28; Deut 9:9) and to Elijah’s forty-day fast on his trip to Mt Horeb (1 Kon 19:8).” Vas as geloofsdissipline is ’n belangrike dissipline vir aanbidding in die seisoen van Lydenstyd.

Die ander tekste vir hierdie Sondag gaan selfs verder terug in die heilsgeskiedenis. Dit verwys na die Genesisverhaal oor Adam en Eva in die paradys. Hulle was die vroeë voorlopers van Israel se mislukking in die woestyn. Dawid weeklag oor sy sonde in Psalm 51. Hierteenoor stel Matteus 4:1-11: “Jesus kept his eyes on the father, and so launched the mission to undo the age-old effects of human rebellion” (Wright).

Matteus se belangrike boodskap met hierdie versoekingsverhaal is dat toe Jesus die aanbod van die versoeker afgewys het, Hy gekies het om die kruis te omhels. Die versoeker wou Jesus van sy kernroeping vervreem. Hy het probeer om Jesus te verhinder om God se roeping uit te voer, naamlik om Israel en die wêreld te verlos. Dit is ook wat Jennifer ervaar het toe sy die stemme in haar gedagtes gehoor het. Die versoekings waardeur die meeste mense daagliks gekonfronteer word het presies hierdie intensie. “They are trying to distract us, to turn us aside, from the path of servanthood to which our baptism has commissioned us” (Wright).

Ons besin oor Matteus 4:1-11 in die seisoen van Lydenstyd. Dit is ’n tyd van vas, innerlike ondersoek, bekering en die ervaring van diep geestelike dissipline ter voorbereiding vir die viering van Christus se dood op Goeie Vrydag en sy opstanding op Paasfees. Op die eerste Sondag in Lydenstyd identifiseer ons met Jesus Christus en roep ons die sondeval en versoekings deur die menslike en heilsgeskiedenis in herinnering. Die ander tekste vir hierdie Sondag is van Genesis 2:15-17, 3:1-7; Psalm 51:1-17 en Romeine 5:12-19. Die tekste help ons in die proses van selfondersoek en boetedoening.

Preekvoorstel

Die eerste gedagtes wat by my opkom met die oog op die prediking vir Sondag hou verband met twee aspekte uit die voorafgaande besinning oor ons skrifdeel. Die eerste aspek is die seisoen van die kerkjaar waarin die boodskap in die gemeente gebring word. Die tweede is die vraag na Jesus se identiteit. Die twee perspektiewe vra na die aard en betekenis van lyding, spesifiek Jesus se lyding met betrekking tot die vestiging van sy identiteit as Seun van God. Die tema van lyding is vanuit ten minste twee hoeke ter sprake, naamlik: wat die teks oor Jesus se lyding en voorbeeld openbaar, en; hoe die teks inspeel op ons lewe in navolging van Jesus ons Here.

Met die eerste Sondag in Lydenstyd word die tema van lyding op die kerk se agenda geplaas. Wat is Lydenstyd? Waarom herdenk die kerk van Christus Lydenstyd? Wat is lyding? Watter dimensie(s) van lyding kom in hierdie Sondag se RCL tekste ter sprake? Wat is die aard van Jesus se lyding wat in ons sleutelteks aan die orde gestel word?

In ’n eerste rondte van besinning oor Matteus 4:1-11 behoort die prediker die tema van Jesus se lyding te benader vanuit die teks se opbou rondom Jesus se doop, identiteit, versoeking, voorbereiding vir sy openbare bediening en die voorbeeld wat Hy stel in sy hantering van die uitdagings wat die duiwel aan Hom stel. Die bedoeling met hierdie deel van die preek is om die teks aan die woord te stel en die gemeente te help om te hoor waaroor dit hier gaan.

In ’n tweede rondte kan die prediker aandag gee aan die interaksie tussen Jesus en die duiwel. In hierdie fase behoort die aard van die duiwel se versoekings uitgepak te word, asook die implikasie van elke versoeking op Jesus as Messias. In hierdie verband kan Andrie du Toit se gedagtes oor die vraag na watter soort Messias Jesus gaan wees ondersoek word. Du Toit praat van “’n brood-messias (Matt 4:3-4), ’n sensasie-messias (Matt 4:5-7), ’n politieke messias (Matt 4:8-10), of die gehoorsame, lydende Messias van God?” Dit gaan hier ten diepste oor die keuse wat Jesus in elke situasie moet maak en die weg wat Hy daardeur vir sy volgelinge aanwys.

In aansluiting by die keuse/tema en die aard van Jesus se Messiasskap wat Hy openbaar in die weg wat Hy kies en aandui, kan aangesluit word by wat Wright skryf oor Jesus se verbintenis om slegs vir God lief te hê en te dien. Dit kan die oorgang bied na die volgende rondte van nadenke oor die implikasies van Jesus se voorbeeld vir ons en die roeping tot navolging op die pad wat Hy gekies het, teen die duiwel se aanbiedinge in. In hierdie verband moet die uitdagings wat mense daagliks ervaar in hul navolging van Jesus uitgepak word. Wright se vertelling van Jennifer se ervaring nadat sy die verkiesing as parlementslid gewen het, is ’n voorbeeld van die soort uitdagings waarmee mense daagliks gekonfronteer word.

John Ortberg skryf oor die stryd teen versoekings en argumenteer dat ons ’n duidelike beeld moet hê van die soort mens wat ons wil word, en hoekom. Hy noem as voorbeeld dat hy by geleentheid al die redes neergeskryf het oor hoekom hy sy seksualiteit eerbaar wil uitleef. Hy verwys ook na Job 31:1 in hierdie verband. Job het gesê: “Ek het my plegtig verbind om nie na ’n meisie te kyk en haar te begeer nie.” Hy maak uiteindelik die punt dat versoeking ons belowe ons kan vry wees om ons aptyt te stil so gereeld soos ons wil. Maar ware vryheid “is die innerlike vrede om nie slawe van ons aptyt te word nie, om standvastig te bly staan sodat ons nie deur ons begeertes oorheers sal word nie.”

Dat versoeking deel is van die mens se lewe, word beklemtoon deur die voorbeeld van Jennifer hierbo, maar ook in die RCL-tekste wat deel vorm van hierdie Sondag se lesings. Die bevrydende boodskap van Matteus 4:1-11 is egter dat ons ’n voorbeeld het in Jesus Christus. Hy het staande gebly en nie toegegee aan Satan se slinkse argumente nie. “. . . Matthew identifies him as the faithful child whom God had desired in Israel . . . Jesus is the human being who is fully faithful and obedient to the will of God” (Wright). In die Lydenstyd kan ons met erns op hierdie werklikheid fokus. Die geloofsdissipline van vas en kontemplasie kan ons help om die stemme in ons lewe te identifiseer en eerlik daarmee te handel. Laat ons as gemeente die oë vestig op Jesus, soos Hy sy oë op die Vader gehou het. Dit is inderdaad soos Wright aandui, die enigste manier “to undo the age-old effects of human rebellion”.

Bibliografie

Du Toit, Andrie 2002. Hebreërs vir Vandag. ’n Bybelstudie vir Dieper Delwers. CUM; Joubert, Stephan 2012. Ontsluit die Nuwe Testament. CUM; Johnson, L T 1986. The Writings of the New Testament. An Interpretation. SCM Press Ltd; Kingsbury, J D 1988. Matthew as Story. Fortress Press; Ortberg, J 2011. Dit is hoe EK wil wees. CUM; Powell, M A Introducing the New Testament. A Historical, Literary, and Theological Survey. Baker Academic; Saldarini, A.J. 2003. Matthew, in James; D G Dunn & John W Rogerson (Eds), Commentary on the Bible. William B Eerdmans Publishing Company; Van der Watt, Jan, Barhuizen, Jan & Herman du Toit (reds) 2012. Interliniêre Bybel. Grieks-Afrikaans. Nuwe Testament. CUM; Wright, N T 2002. Matthew for Everyone. Part One. Westminster John Knox Press; Zerwick, M and. Grosvenor, M 1981. A Grammatical Analysis of the Greek New Testament. Rome: Biblical Institute Press.   

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.