Eerste Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die fokus van die tekste verwys na die betroubaarheid van God in verskeie situasies. Dit is belangrik, want die koninkryk wat Jesus aangekondig het, verskil van die verwagtinge van die mense wat na hom geluister het. Net soos Noag, moet die mense kies of hulle Hom op sy pad sal volg.

Ander tekste

Psalm 25:1-10 (’n Pleidooi om God se leiding)
Maak my u weë bekend
25 Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

1 Petrus 3:18-22 (Christus het een maal vir sondes gely om ons na God te bring)
18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

Markus 1:9-15 (Die Gees dryf Jesus die woestyn in waar hy deur Satan versoek is)

Jesus word gedoop
(Matt 3:13–17; Luk 3:21–22; Joh 1:29–34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek
(Matt 4:1–11; Luk 4:1–13)
12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Fokusteks

Genesis 9:8-17
God sluit ’n verbond met Noag
9 God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde. 2Al die diere, al die voëls, al die diere wat kruip, en al die vis sal vir julle bang wees en vir julle skrik. Hulle word tot julle beskikking gestel. 3Alles wat roer en lewe, sal kos wees vir julle. Naas die groen plante gee Ek dit alles vir julle. 4Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie. 5Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe: van ’n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van ’n mens, en van ’n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens.
6Wie die bloed van ’n mens vergiet,
deur ’n mens sal sy bloed
vergiet word.
God het die mens gemaak
as sy verteenwoordiger.
7Maar julle moet vrugbaar wees
en baie word.
Vermeerder op die aarde
en word baie!”

8Verder het God vir Noag en sy seuns gesê: 9“Kyk, Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag 10en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het. 11Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer ’n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.”

12Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ’n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: 13my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, 15sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

17God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

18Noag se seuns wat uit die ark gekom het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die pa van Kanaän. 19Dit was Noag se drie seuns en uit hulle is die hele aarde bevolk.

Ekstra stof

Oor Genesis
Die verhaal van Genesis kan in twee hoofdele verdeel word, hfst. 1-11 en 12-50.  Dit is die verhaal van die:

  • Oergeskiedenis (‘n paar millennia), wat die begin van alles vertel, met ‘n fokus op vier sleutel gebeure: Skepping, Sonde, Vloed en die Nasies en ‘n meer universele karakter het – hfst. 1-11.
  • Aartsvaders (ongeveer 300 jaar) wat die begin van die heilsgeskiedenis en die volk van God vertel, van Abraham en sy “saad” met eweneens vier sleutel karakters: Abraham, Isak, Jakob en Josef  – hfst. 12-50.

Elke nuwe fase in dié geskiedenis word ingelei met die frase: “Dit is die (familie) geskiedenis van …” (11x – die eerste in 2:4 [hemel en aarde] en die laaste in 37:2 [Jakob])

Interessant: drie van dié sleutel karakters word eintlik as ‘n onderafdeling van die familiestorie van hulle pa vertel: Abraham is deel van Tera se storie (11:27), Jakob is deel van Isak se storie (25:19), en Josef is deel van Jakob se storie (37:2).

Die familie lyne van beide die “verkose” families en die “verwerpte” families word aangegee. Die verskil is egter, dat die “verkose” families se storie ook vertel word, en net die geslagslyste van die “verwerpte” families vertel word.

Twee ander stories van God se bewaring gee ‘n eenheid aan Genesis: Noag (God bewaar mense in die vloed – hfst. 6-9) en Josef (God bewaar mense in die hongersnood – hfst. 37-50).

‘n Mens kan ook Genesis indeel as vier Roepingsverhale opgebou rondom God se beloftes (Brueggemann):

  • Die voorgeskiedenis – die Soewereine roeping van God
  • Die Abraham verhaal – die Omhelsde (embraced) roeping van God
  • Die Jakob verhaal – die Konflikterende (conflicted) roeping van God
  • Die Josef verhaal – die Verborge (hidden) roeping van God

Oor die Noagverhaal
In ‘n preekstudie oor Genesis 6:9-22; 7:23-24; 8:1, 14-19 (Jaar A: Advent 2001 tot Koninkrykstyd 2002), bespreek A. Nel dié gedeelte as deel van die Noagverhaal (Genesis 6:9-9:29). Nel bied ‘n aantal insigte wat vir dié studie belangrik is.  Ons som dit kortliks op en brei daarop uit:

Eerstens staan die verhaal van Noag nie los van Genesis 6:5-8 nie. Dié verse sluit die vorige gedeelte af en dien as inleiding vir die verhaal van die tyd van die skrywer van Genesis en sy lesers. Tweedens het daar ander verhale oor ‘n vloed in die Ou Nabye Ooste bestaan.  Die Noagverhaal staan dus nie los daarvan nie, hoewel dit ’n unieke teologiese betekenis het.

‘n Aantal sentrale motiewe in die Noagverhaal en die betekenis wat dit het, kan verder ontgin word:

  1. Genesis 6:5-13 beklemtoon die diepte van die mens se sonde. Dit motiveer die vloed.
  2. Genesis 7:23-8:1 vertel hoe die aarde weer in ‘n staat van chaos is, met God op die punt om nuut te begin.  Die wisselwerking tussen sonde en water in dié teks is opvallend (K.C. Hanson). God “was” as’t ware die aarde van die mens en sy sonde om ‘n “nuwe skepping” met Noag te begin.
  3. Genesis 8:1 is die skarnierpunt in die Noagverhaal. God het onthou, met Noag as voorwerp van God se herinnering en genade (Gen 6:8). God se herinnering druk sy medelye uit. Wanneer God aan mense dink, doen Hy iets aan hul omstandighede. Hierin lê die evangelie van Genesis 8.
  4. Genesis 8:14-22 handel oor Noag se offer as natuurlike reaksie van ‘n mens wat ‘n lewensbedreigende ervaring oorleef het. Die elemente van dankbaarheid en toewyding is ter sprake, terwyl God die vloek oor die mens uit vrye guns ophef.
  5. Genesis 9:1-17, God se gesprek met Noag en sy familie, staan in die teken van God se herhaalde seën in sy opdrag aan die mens om vrugbaar te wees, baie te word en die aarde te bewoon (verse 1&7). Dié seën oor die mens, word gevolg deur die totstandkoming van ‘n verbond (vers 8-17), parallel aan God se gesprek met die eerste man en vrou (Genesis 1:28-30; Met die verbondsluiting maak God ‘n belofte met die aarde (Gen 9:11). Hy is nóg gesinsgod, nóg stamgod, nóg volksgod. Hy is God van die aarde (Esterhuyse).
  6. Noag bied weliswaar ‘n alternatief vir die vasgeloopte skepping, maar dit is God wat in die sentrum staan en Noag genadig is.  In sy boekie oor die verhale in Genesis 1-11 wys  W.P. Esterhuyse op twee kante van dieselfde munt in dié verhale, naamlik God en sy genade. Vandaar die titel van sy boekie: “Genade sonder weerga.”  In die verhaal oor die sondvloed en God se verbond met Noag, kom dié genade karakter van God duidelik aan die lig. Met die verbond sê God dat daar altyd lewe sal wees. Hy verbind Homself daartoe. Die doel met die verbond was om ‘n verbintenis tot die bestendiging van vrede te bewerkstellig. God sê hiermee hoe Hy voortaan teenoor die mens sal staan.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Vandag se tema is: God onthou!  Nooit weer nie! God se verbondstrou staan vas, en wil in die liturgie onderstreep word.

God nooi ons uit en ons kom tot rus
Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie. (Ps 25)
Seëngroet

Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon …
2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! Amen
(Uit 1 Petrus 1:1-2)

Verootmoediging
Onder “Ekstra stof” vind ons die aanhaling: Eerstens staan die verhaal van Noag nie los van Genesis 6:5-8 nie. Dié verse sluit die vorige gedeelte af en dien as inleiding vir die verhaal van die tyd van die skrywer van Genesis en sy lesers.

Ons buig voor die Here wanneer ons land en wêreld in 2012 steeds kan assosieer met hierdie verdorwenheid…

Genesis 6:5-8
Die sondvloed
5Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, 6was die Here bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. 7Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.”

8Maar Noag is deur die Here begenadig.

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Skriflesing: uit Psalm 25
In U Here stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.
In U Here stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
(Uit Psalm 25)

Aanvaarding van vryspraak: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 2”

Lofliedere
Lied 182 “Ons wil o Heer U loof en eer vs 1,2,3” en/of
Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Flam 5 en/of Flam 16 (sien by liedere)

Liedere

Flam 5. “Daar Is Geen Grens”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005  Faani Engelbrecht
© 1974, 1975  Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

Flam 16. “Ek Kyk Op Na Die Berge”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Braam Hanekom
© 1993  MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kyk op na die berge.
O, waarvandaan kom daar hulp vir my?
My hulp kom van die Here.
Hy’t hemel en aarde gemaak.

Refrein:
Hy sal nie toelaat dat jy val nie.
Hy sal nie toelaat dat jy swig,
want Hy sluimer of Hy slaap nie;
Hy laat jou veilig wandel in die lig.
Hy laat jou ewig wandel in die lig.

2. Bedags sal die son jou nie steek nie,
en snags sal die maan jou nie bedreig.
Hy sal jou uitgang en jou ingang
beveilig, beskerm en bewaar.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here,
ons hoor deesdae van skewe reënboë, nadat ons gehoor het ons is ‘n reënboognasie. Ander kere hoor ons weer mense praat van ‘n reënboog deur hulle trane. En van kleins af het ons gehoor dat daar ‘n pot goud aan die einde van die reënboog is. Laat u Heilige Gees vanoggend in ons harte en gedagtes werk, om só u reënboog op ‘n nuwe manier te sien.
Amen

Skriflesing: Genesis 9:8-17

Prediking

Familie-oomblik

Dit is baie belangrik dat kinders die Bybel leer ken.  Vertel gewoon vir hulle die verhaal van Noag en die reënboog!  Jy kan ook ‘n reënboog maak met ‘n glas water en wit papier (kyk hier).  Verduidelik vir die kinders dat die reënboog ons herinner aan God se beloftes – dat hy ons God is en lief is vir ons.

Jy kan ‘n pragtige inkleurprent met ‘n reënboog aflaai.

Preekriglyn

Op een van die monumente in Dachau staan daar in vyf tale geskryf: “Nooit weer nie.” Die verskrikking van die chaos wat deur Hitler en sy soldate veroorsaak is, sal nie herhaal word nie.

God besluit dis verby

En tog gebeur dit steeds elke dag. Mense vernietig mekaar. Dis die verhaal van die mensdom na die sondeval. God het alles goed gemaak. Ons het alles sleg gemaak. Broer het teen broer gedraai (Gen 4). Die hele aarde, die hele skepping is vervloek as gevolg van ons sonde (Gen 3:15-17). Geen wonder dat die Here berou gehad het dat Hy ons gemaak het nie (Gen 6:6). Miskien het God gevoel: nooit weer nie! Die Here het dalk gevoel dat Hy dit nooit weer sou doen as Hy oor kon kies nie. Hy het besluit om alles te vernietig. Dis hoekom die sondvloed plaasgevind het (Gen 6:5-7).

God was bedroef oor die wêreld en het besluit dit is verby met die wêreld.

Tog is daar genade

Genesis 6:8 sê egter dat die Here vir Noag genade gehad het.  Ons teks sê met blydskap dat alles nie verby is nie. Ons God bly getrou aan die aarde.

Hierdie trou word uitgedruk in God se verbond met Noag.  Die verbond het ‘n paar belangrike elemente:

  • Dit is ‘n verbond wat geheel en al van God se kant kom
  • Dit dui op God se groot genade, omdat dit op God se inisiatief berus, ten spyte van die mens se ongehoorsaamheid
  • Dit is universeel, dit sluit die hele aarde God. Dit bevestig dat God aan sy ganse skepping getrou bly.
Algemene genade

Hierdie wêreldwye genade van God word dikwels God se algemene genade genoem.  Dit sluit mens, dier, aarde, kosmos in.  Dit is verstommend om te sien hoe God, ten spyte van die gebrokenheid van sy skepping, steeds orde in die wêreld handhaaf. Algemene genade is die son op die plante, lewe en asem vir almal, kos, klere en beskutting teen die elemente. Algemene genade is die kerk se teenwoordig-heid in die wêreld se nood. Ons kan sien hoe God regerings gebruik om geweld te bekamp. Reën val op regverdiges en goddeloses. Hy gee kos aan die voëls en diere van die veld. Ons sien dit in welsynsorganisasies wat na rampe opheffingswerk doen en omgee vir armes dwarsoor die wêreld. God se genade is universeel, want die aarde en alles daarin behoort aan Hom (Ps 24).

God se toewyding aan die wêreld kan nie bevraagteken word nie. Wanneer Jesaja na Noag se dae verwys, beklemtoon Hy weer God se algehele toewyding aan die wêreld (Jes 54:9-10; Sien ook Hos 2:18 vir God se verbintenis wat die hele skepping insluit).

‘n Teken word gegee

Die woorde van God se verbond met hierdie wêreld word aangevul met ’n sigbare teken – die reënboog. Die wolke het getuig van God se vernietiging van die wêreld. Die reënboog beteken die einde daarvan. Dis die einde van God se woede. Die reënboog aan die hemel in die wolke is die teken van sy trou vir almal om te sien.

Dis egter nie die primêre doel van die reënboog nie. Daar staan nie dat ons die reënboog sal sien en God se trou sal onthou nie. Daar staan: “Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde” (9:14-16). God sal onthou! En wanneer God onthou, verander dinge. Toe Hy aan Israel in Egipte gedink het, het Hy bevryding gebring. Om te onthou, om te dink aan, beteken dat God in aksie kom (sien talle voorbeeld in die OT – God en Hanna in 1 Sam 1 en Ps 106:43 ev).

Besondere genade

God se betrokkenheid by die wêreld bly nie by algemene genade alleen nie.

God onthou hierdie wêreld met sy gebrokenheid en ongehoorsaamheid. Hy is so toegewyd aan hierdie wêreld dat Hy Homself vir die wêreld opoffer. Sy algemene genade word nou met sy besondere genade aangevul.  Dit is die verlossende genade wat God in Jesus Christus betoon.

Jesus as teken

Lydenstyd benadruk God se besondere genade.  . Ja, dit herinner ons aan die algehele gebrokenheid van die mens en die skepping (Ef 2:1-3; Rom 8:18-23). Dit herinner ons hoe ver die mensdom en die skepping geval het. Dit herinner ons egter primêr hoe toegewyd God aan hierdie wêreld is. En God se manier van doen is iets besonders. God belowe nie net nie. Omdat ons so gou van sy liefde vergeet, gee Hy ’n teken van sy onverdiende, onbeperkte liefde. Dis ’n teken uit die hemel – Jesus Christus.

Hy is die “reënboog” van God! Jesus bly nie aan die hemel hang soos ’n reënboog nie. Sy veelkleurige (7 kleure!) genade kom na ons toe in vlees en bloed. Jesus bring die ewige vrede tussen God en mens tot stand (Kol 1:15-22). Johannes sê dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy sy Seun gee (Joh 3:16). Sy liefde is absoluut universeel – dis vir alles in hemel en op aarde. Dis vir die sondige wêreld en die stukkende skepping.

Die kruis hef straf op

Die verbond met Noag beteken egter nie dat straf opgehef is nie. Sy liefde is universeel, maar die gebrokenheid word nie vanselfsprekend opgehef nie.

In Christus is dit anders. Die vloedgolf van chaos oorweldig Hom aan die kruis. Soos met die verbond aan Noag, belowe God dat Hy self verantwoordelikheid vir die gebrokenheid van hierdie wêreld sal neem. Hy sal ons nie prysgee nie. Dis hoekom Hy al sy woede op die donker dag van Jesus se kruisdood op sy eie Seun uitstort. Al die gebrokenheid van die wêreld word saamgebundel en op Hom aan die kruis uitgestort. Die tsunami’s en aardbewings, die peste en siektes wat die skepping teister, is nou sy skuld. Die kruis word nou die teken teen die duisternis van hierdie wêreld. Ja, die kruis herinner ons aan God se liefde vir ons – dat Hy ons onthou het en aan sy verbond gedink het. Meer nog, dit herinner God self aan sy verbintenis om ons nie prys te gee nie.

In ’n preek van Prof D Freytag ’n paar dekades gelede, vertel hy dat hy op ’n plek in Nieu-Guinee gekom het waar daar ’n groot kruis gestaan het. Op die balke van die kruis was daar ’n klomp klein kruisies. Toe hy vra wat dit beteken, het iemand hom geantwoord: “Weet jy nie dat ons Heer al ons lyding deur sy groot kruis gedra het nie?”

God is nie ’n toeskouer nie. God het ’n deelnemer geword. Hierdie verbond met Noag vind daarom sy hoogste vervulling tot dusver in Jesus. God belowe nie net nie. Hy doen dit. Hy wys. Die vlees en bloed van Jesus word sigbare tekens vir ons in brood en wyn. Ons kan sy liefde proe en ruik.

Nog ‘n teken uit die wolke

Dit eindig egter nie hier nie. Selfs na Christus is daar soveel pyn in God se skepping. Hy kyk egter na die kruis en onthou ons steeds. God sal weer ’n teken uit die hemel stuur. Soos die reënboog teen die wolke sigbaar is, sal die Seun van God op die wolke kom. Dit sal die einde van alle swaarkry vir sy hele skepping aankondig. Dan sal dit waar wees: “Nooit weer nie.” Nooit sal daar dan weer pyn, hartseer, dood en siekte wees nie. Die skepping self sal van verganklikheid bevry wees (Rom 8:20, 21). Dan sal die aarde ook rus van God se toorn . . .  God se nuwe hemel en aarde sal aanbreek, want God het aan sy verbond gedink.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Ons glo in die God van water
wat ‘n verbond met mense en diere gesluit het
ons glo in sy geliefde Seun
oor wie Hy Hom verheug
ons glo in die Heilige Gees
wat soos ‘n duif op Jesus neergedaal het
uit ‘n oopgeskeurde hemel
waar daar nog somtyds ‘n reënboog sit

Dankoffers

Wegsending: Lied 509 “Op berge en in dale vs 1,2,3,4”

Seën
Numeri 6:24-26 ()
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Musikale Amen: Lied 314

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.