Eerste Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag fokus ons op ons identiteit in God. Ons identiteit word bevestig in die vertel van ons stories (Deut 26). Ons identiteit lê daarin dat ons behoort, ons behoort aan God, die allerhoogste. God het ons lief en by Hom vind ons skuiling (Ps 91). Jesus weerstaan die versoekings van die Bose deur aan sy identiteit in God vas te hou (Luk 4). Ons identiteit is dat ons in Christus verlos is. “Dit word ons ingegee deur die ‘boodskap van die geloof’. Dis ons hartstaal, ons lyftaal, ingelê in ons harte en in ons monde” (Rom 10)

Ander tekste

Deuteronomium 26:1-11
Die eerste opbrengs van die oes
26 “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit en jy daarin woon, 2moet jy van elke eerste oes wat jy insamel in die land wat die Here jou God aan jou gee, ’n deel vat en dit in ’n mandjie sit en daarmee na die plek toe gaan wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. 3Jy moet na die priester toe gaan wat in daardie tyd daar sal wees, en vir hom sê: ‘Ek verklaar vandag voor die Here u God dat ek gekom het in die land wat die Here met ’n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’4Dan moet die priester die mandjie by jou vat en dit neersit voor die altaar van die Here jou God.

5“Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My vader was ’n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy ’n groot, sterk en talryke nasie geword. 6Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen. 7Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep, en Hy het ons gehoor. Hy het ons ellende en ons swaarkry raakgesien en gesien hoe ons verdruk word. 8Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek deur magtige dade, kragtige groot dade wat vrees ingeboesem het, tekens en wonders. 9Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. 10Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’ Dan moet jy dit neersit in die teenwoordigheid van die Here jou God en Hom aanbid. 11Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon.”

Psalms 91:1-2; 9-16
Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind

91 Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”

3Dit is Hy wat jou 
uit die voëlvanger se wip hou 
en jou bewaar van dodelike siekte. 
4Hy beskut jou onder sy vleuels 
en is vir jou ’n veilige skuilplek. 
Sy trou beskerm jou aan alle kante. 
5Jy hoef nie bang te wees 
vir gevaar in die nag 
of vir aanvalle oordag, 
6vir pes wat in die donker toeslaan 
of vir siekte wat helder oordag 
verwoesting saai nie. 
7Al val daar duisende langs jou, 
tienduisende by jou, 
vir jou sal niks tref nie. 
8Met jou eie oë sal jy sien 
hoe die goddelose gestraf word.

9Omdat jy die Here as skuilplek
geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek
kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet
teen ’n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy dood trap.
14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Lukas 4:1-13
Die versoeking van Jesus

(Matt 4:1–11; Mark 1:12–13)
4 Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was.

3Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.”

4Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie.”

5Daarna bring die duiwel Hom op ’n hoogte en wys Hom in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld. 6Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”

8Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid
en Hom alleen dien.”

9Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: 10“As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe:
Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm,
11en ook:
Op hulle hande sal hulle jou dra
sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal
stamp nie.”

12Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

13Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus ’n tyd lank met rus gelaat.

Die brief aan die Romeine
Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 vC in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand 20:2-3).  Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl Rom 15:25-26 met 1 Kor 16:1-7) .

Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie (Jode uit Rome het op Pinksterdag die evangelie gehoor, wat moontlik tot die stigting van die gemeente van Rome aanleiding gegee het: vgl Hand 2:10), baie mense aan hom bekend is (Rom 16:3-16 – hy groet meer as 26 mense by name, waarvan ’n derde vroue is!)

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl 16:5,14,15).  En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?  Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl Gal 5:2-12) en die voedsel wette (Rom 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl. egter Kol 2:16).

Selfs met Paulus se laaste besoek aan Jerusalem aan die einde van sy drie sendingreise, sou dié vraag steeds krities wees.  Vergelyk die klem wat die gelowiges in Jerusalem op die wet van Moses plaas in Hand 21:17-26.  Dit is juis sy inval by hulle planne wat hom in die moeilikheid bring en uiteindelik as gevangene in Rome bring, sy eerste besoek daar, maar in boeie.

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees.  God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.

Dink maar net aan Luther wat tot inkeer gekom het deur die evangelie in hierdie teks en die Reformasie wat hieruit voortgevloei het.  Geen wonder dat baie geleerdes dink dit is die belangrikste brief wat Paulus ooit geskryf het (Barth, Jonker).

Let op hoe Paulus in ’n retoriese trant skryf (die sogenaamde diatribe) wat leraars van daardie tyd baie keer gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog.  ’n Mens sien dit op ’n paar plekke in die brief, bv. 2:1-5, 17-24 waar hy in ’n verbeeldingsgesprek is met ’n Joodse gespreksgenoot en in 11:13-24 met ’n gelowige uit die heidense nasies.  Let ook op hoe Paulus in beide gevalle hulle selfverheffing op grond van hulle afkoms aanvat, omdat dit van geen betekenis is binne die nuwe gemeenskap wat God geskep het nie (in die brief aan die Efesiërs sal hy weer terugkom na dié gedagte).

Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje (Rom 15:22-33).  Maar die belangrikste rede is om hulle teen verdeeldheid te waarsku – sommige verklaarders dink dat Joodse gelowiges apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (vgl die huiskerke waarvan in 16:5, 14, 15 gepraat word) – en te wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.

Hy wil hê dat hulle “eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê” (15:6) – iets waaroor hy in die brief aan die Filippense later op inspirerende wyse sal skryf (Fil 1:27-11) – sonder om die evangelie op enige manier aan ’n Joodse interpretasie van die wet onderdanig te maak (die hele eerste 8 hoofstukke gaan daaroor, met hoofstuk 9-10 wat spesifiek uitbrei oor die vraag na God se verkiesing van Israel en hulle toekoms).  Christus het immers gekom vir alle mense: die Joodse nasie sowel as al die ander nasies (Rom 15:7-11).

Paulus skryf die brief (gedikteer aan Tertius – 16:22) in 4 hoofdele met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel:
1. Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;
2. Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;
3. Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;
4. Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.

Ons teks val dus in die derde hoofdeel waar dit oor eenheid gaan.

Fokusteks

Romeine 10:8b-13
Die verlossing is vir elkeen wat glo
5Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe. 6Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, 7“Of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. 8Nee, die Skrif sê:
“Naby jou is die woord,
in jou mond en in jou hart.”

En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”

12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

14Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

16Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?” 17Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.

18Maar ’n mens sou kon vra: Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie?

Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê:
“Hulle prediking het oor die hele
wêreld weerklink,
hulle woorde tot by die uithoeke
van die aarde.”

19Of ’n ander vraag: Het Israel dit dan nie verstaan nie? In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê:
“Ek gaan julle jaloers maak op mense
wat nie ’n volk is nie,
en julle kwaad maak oor ’n volk
wat nie julle kennis het nie.”

20En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God:
“Ek het My laat vind deur mense
wat My nie gesoek het nie,
Ek het verskyn aan mense
wat nie na My gevra het nie.”

21Maar van Israel sê Hy:
“Dag vir dag het Ek my hande
uitgesteek na ’n ongehoorsame
en weerspannige volk.”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die gebruik van ‘n hongerdoek in hierdie tyd pas by die aard van die Lydenstyd… Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13 formuleer dit soos volg in die basis liturgie:

’n “Hongerdoek” word in die liturgiese ruimte aangebring en lidmate word genooi om byvoorbeeld koerantuitknipsels en foto’s wat hulle herinner aan lyding in die wêreld daarop aan te bring. Lidmate wat vas, word ook aangemoedig om dit wat hulle prysgee tydens Lydenstyd met ’n nota op die hongerdoek aan te dui. Waar daar op barmhartigheidswerk gefokus word, word nie-bederfbare produkte en klere by die hongerdoek neergesit en later, na afloop van die diens, uitgedeel.

Lied 384 “Jesus o dink aan my (Afr + Eng)”

Aanvangswoord
Here, U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.
Dit is U wat my
uit die voëlvanger se wip hou
en my bewaar van dodelike siekte.
U beskut my onder U vleuels
U is vir my ’n veilige skuilplek.
U trou beskerm my aan alle kante.
(Uit Psalm 91)

Seëngroet
Aan almal in …………………………………………….. vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Amen
(Romeine 1)

Lied 389 “Is dit is dit my Koning 1,2”

Verootmoediging
Selfs die geloofsreus Paulus het by geleentheid met sy identiteit as gelowige geworstel, voordat hy self weer sy status as verloste ontdek…

Skriflesing: Romeine 7:15-24
15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

Skuldbelydenis
Lied 247 “Heer wees ons genadig (Afr + Latyn)”

Dan is dit asof Paulus wakkerskrik met die wete soos verwoord in vers 25
25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde. (Romeine 7)

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:17-21
17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Geloofsbelydenis: ahv Psalm 91
Gemeente: “God is vir ons `n toevlug en `n veilige vestiging.

Voorganger: Kom ons bely saam met die digter van Psalm 91 dat Hy ons God is op Wie ons vertrou:
God hou jou uit die vyand se hand.
Gemeente: Hy bewaar my van siekte en dood.

Voorganger: Hy bewaar my hier in my eie land.
Gemeente: Hyself is my skuilplek in nood.

Voorganger: Ek hoef niks te vrees in die donker nag.
Gemeente: Nie peste of siekte of gevaar nie.

Voorganger: Sy liefde oordek my ook in die dag.
Gemeente: Al word vele ander nie gespaar nie.

Voorganger: God self is jou skuilplek en beskermer.
Gemeente: Sy engele sal my dra.

Voorganger: Oor klippe en leeus en adders.
Gemeente: Wat meer kan ons van Hom vra?

Voorganger: Omdat sy My liefhet, sal Ek haar red.
Gemeente: Sê die Here.

Voorganger: Omdat sy my ken, sal Ek haar beskerm.
Gemeente: Sê die Here.

Voorganger: Wanneer sy my aanroep, sal Ek haar gebed verhoor.
Gemeente: Sê die Here.

Voorganger: In haar nood sal ek by haar wees en haar beskerm.
Gemeente: Dankie Here!

Voorganger: Daar bestaan in die Joodse tradisie `n ritueel waartydens as op die ark, waarin die Tora bewaar word, gestrooi word. Met ander woorde, as word gestrooi op dit wat die teenwoordigheid van God simboliseer. Hierdie gebruik is al deur sommige rabbi’s uitgelê in lyn met Psalm 91:15, naamlik dat God saam met die mens in sy nood is. Wanneer mense ly, ly God, solank mense huil, huil God. Dit wil elkeen van ons ook vanoggend troos (uit: Liturgiese riglyne, na aanleiding van Ps 91).

Loflied 191 “Grote God ons bring U eer (Melodie van 190) vs 1,2,3”

Liedere

Flam 91  “U Genade’s Vir My Genoeg”
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ‘n kruis op Sy rug en ‘n doringkroon.
Hoor hoe die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in Sy oë staan,
toe Hy roep:  “Dit is volbring!”

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

Flam 14  “Jesus is die Heer”
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Keer op keer,
val ek neer,
deur my eie sondigheid.
Telkens weer,
wil ek self probeer,
opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan,
daar is net een Naam,
en elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Dit is wat ek glo.
Ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer.
Voor Hóm sal ek buig.
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.

2. Keer op keer,
buig Hy neer,
en lig my uit my hulp’loosheid.
Weer en weer,
wys Hy Hom as Heer,
oorweldig my met heiligheid.
Dis dan dat ek verstaan,
daar is net een Naam,
en elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied,
soos in die hemel net so ook op die aarde;
11gee ons vandag ons daaglikse brood;
12en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen. (Matteus 6, OAV)

Skriflesing: Romeine 10:1-15 (teks 8b-13)

Prediking

Familie-oomblik

Hoewel Paulus se gedagtes te gevorderd is vir kinders, sal hulle die idee dat niemand deur God in die steek gelaat sal word nie goed kan verstaan as dit in jou eie woorde vir hulle verduidelik word.  God stel niemand teleur wat in Hom glo nie.  Die verhaal van Daniël se drie vriende wat van die brandende oond bewaar is (Dan 3), sou dié punt kon illustreer.

Daniel 3
Daniël se drie vriende uit die brandende oond gered
3 Koning Nebukadnesar het ’n goue beeld laat maak, dertig meter hoog en drie meter breed, en dit laat oprig in die Duradal in die provinsie Babel.

7Daarom het al die volke, nasies en taalgroepe, sodra hulle die geluid van trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het, gebuig en dit aanbid.

8Dit was toe dat sekere Galdeërs die Jode gaan verkla het.

12Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie.”

13Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir Sadrag, Mesag en Abednego laat kom.

17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

19Toe het Nebukadnesar wit geword van woede vir Sadrag, Mesag en Abednego en opdrag gegee dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik. 20Daarna het hy van die sterkste manne in sy lyfwag beveel om vir Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die brandende oond te gooi. 21Hulle is toe vasgebind en sommer met hulle hemde, broeke en kopdoeke, met al hulle klere, in die brandende oond gegooi. 22Omdat die koning se opdrag so streng was, was die oond so verskriklik warm dat die manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego moes ingooi, deur die vlamme doodgebrand is.

23Maar die drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die brandende oond geval.

24Toe het koning Nebukadnesar verskrik opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?”
En hulle sê vir hom: “Dit is so, U Majesteit!”

25Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ’n hemelwese!”

26Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!”
En Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom.

27Toe …. sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie.

28Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid.

30Die koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel.

Grafika
Inkleurprent

Preekriglyn

[Nota: Predikers word aangeraai om ‘n groter tekseenheid as bloot Romeine 10:8b-13 te gebruik.  Die hele hfs. 10 of dalk 10:1-15 kan gebruik word.]

Die Kerkreformasie van die 16de eeu het eintlik nié op 31 Oktober 1517 begin toe Martin Luther sy 95 stellings teen die kasteelkerk in Wittenberg vasgekap het nie.  Dit het eintlik begin toe Luther die Bybelse evangelie ontdek en geglo het.

Hierdie ontdekking word dikwels Luther se “toring-ervaring” genoem.  In een van sy bekende tafelgesprekke vertel hy hoe hy Romeine 1:17 in sy studeerkamer in die toring van die Swart Klooster in Wittenberg bestudeer het.  (Die Swart Klooster was die verblyfplek van die Augustynse monnike, waaronder Luther.  Na die reformasie het die monnike die klooster verlaat en het dit Luther se woonplek geword.  Vandag is dit die belangrikste Luther-museum in Duitsland.)

Luther noem sy toring-ervaring sy bekering.  Die deurbraak vir hom het gekom toe hy God se geregtigheid reg leer verstaan het.  Vroeër het Luther, soos hy grootgemaak is in die Middeleeuse teologie van die Katolieke Kerk, geglo dat God volkome geregtigheid is, en dat die mens vol ongeregtigheid is.  God straf die mens vir sy ongeregtigheid.  Om vir God aanvaarbaar te word, moes jy deur volkome gehoorsaamheid aan al God se wette voldoen.

Luther het lank geworstel om God volkome te gehoorsaam, maar altyd geweet sy gehoorsaamheid skiet tekort.  Daarom was God se geregtigheid vir hom ‘n struikelblok.  Hy vertel dat die term “die geregtigheid van God” hom vreesbevange gemaak het, sy gewete telkens soos weerlig getref het.  Dit was telkens ‘n donderslag in sy hart.

Trouens, vertel Luther in van sy geskrifte, het hy geleer om die regverdige God te haat.  Hy was met woede teenoor God gevul.  “Ek het God nie liefgehad nie, ja, ek het die regverdige god gehaat wat sondaars straf.”  God verpletter miserabele sondaars met sy wet, en dreig hulle met ewige straf deur sy evangelie – so het Luther gedink.

Die deurbraak het vir Luther gekom na aanleiding van Rom. 1:17.  Aan die einde van die vers staan daar: “En hy wat uit die geloof geregverdig is, sal lewe.” (letterlike vertaling van die Interliniêre Bybel.)  Skielik verstaan hy dat God se geregtigheid nie iets is wat mens moet bereik nie, maar die geregtigheid wat God vrylik skenk aan almal wat die beloftes van die evangelie van Jesus Christus glo.  Sondaars word deur God gered deur geloof in die lewe, werk, sterwe en opstanding van Jesus.  Nie deur ons werk om die wet te onderhou sodat ons onsself kan regverdig nie.  Ons word gered deur Christus se geregtigheid wat vir ons toegereken word, nie ons eie pogings nie.

Die toring-ervaring was inderdaad ‘n bekeringservaring.  “Soveel soos ek die woorde “geregtigheid van God” vroeër gehaat het, het ek die woord nou liefgekry.  Vir my het dit die hek van die paradys geword waardeur ek kon ingaan.  Ek het volledig nuut-gebore gevoel,” sê Luther.  Waar daar vantevore net onrus en onsekerheid by hom was, was hy nou getroos en seker van sy verlossing.

Grafika: Die Luther Museum in Wittenberg, Duitsland: Wittenberg Lutherstadt museo casa Lutero Alemania 01, eiendom van Rafael Gómez en geneem op 2 Junie 2011 in  Wittenberg, Saxony-Anhalt, DE. Kopiereg gereëdeur Creative Commons laat plasing toe.

Enorme impak

Luther se herontdekking van God se regverdiging het enorme impak gehad.  In ‘n tyd toe mense verteer was deur hulle angs weens die oordele van God, kom daar vryheid en vryspraak.  God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom. 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie. Dit word ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangryp: die wonder van God se genade aan sondaars. Dit alles staan helder verwoord in die Romeinebrief.

Daarom noem teoloë soos Willie Jonker en Karl Barth Romeine Paulus se belangrikste brief.  Karl Barth se kommentaar op die Romeinebrief was die begin van sy lewenslange projek om die liberale teologie van die 19de eeu met die belydenis van Christus aan te spreek.  Eeue vantevore is Augustinus, die belangrike kerkvader uit Noord-Afrika, ook in sy denke sterk deur Romeine beïnvloed.

Eventueel het Luther se belydenis ook die Rooms-Katolieke Kerk self verander.  Sedert Luther het die Katolieke by twee kerkvergaderings of konsilies ingrypende teologiese aanpassings gemaak.  Die jongste hiervan, Vatikanum II, het in die 1960’s in Rome plaasgevind, en radikale hervorming in die Roomse kerk teweeggebring.

Bevestig in ons teks

Ons teks is nog ‘n plek in Romeine waar hierdie wonderlike vryspraak bevestig word:
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.  Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. (9-10)

Die vryspraak van God is binne bereik: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

Die belydenis: “Jesus is die Here” (kurios), is die oudste belydenis van die Christelike geloofsgemeenskap (Fil 2:11). Dit vorm die hart van die evangelie en is gegrond in Jesus se opwekking uit die dood.  Hy is die Eerste uit die dood, die Oorwinnaar oor die dood as allesvernietigende vyandige mag (1 Kor15:20-23,55-57).

Elke lidmaat van ons gemeente het al hierdie paadjie geloop.  Ons het belydenis van geloof afgelê.  Ons het met die mond bely wat die hart glo.  Ons monde het gereageer op die oortuiging wat in ona harte posgevat het.  Jesus is die Here!

Belydenis met ‘n risiko

In die tyd van die vroeë kerk, in die eerste eeue na Christus, wat dit bitter onveilig om te bely dat Jesus die Here is.  Die rede hiervoor is die Romeinse keisers wat van mening was dat hulle Kurios (Here) is, en persoonlik aanbid moes word.  Baie Christene het hulle lewe verloor deur eerder Jesus as Here te bely.

Ook in Luther se tyd het die belydenis dat Jesus ons in die regte verhouding met God bring, en dat ons nie gered word deur die kerklike ampte wat God en ons bymekaar bring nie, vinnig ‘n lewensbedreigende belydenis geword.  Nie net in Duitsland nie, maar ook in ander dele van Europa kon mens jou lewe verloor.  Baie van ons is vandag nasate van Franse Gereformeerdes (Hugenote) was moes vlug weens die belydenis dat die geskenk van God in Christus ons red, nie kerklike betrokkenheid of eie werke nie.

In die afgelope eeu is meer Christene in die wêreld doodgemaak weens die belydenis dat Jesus die Here is, as in al die vorige 19 eeue na Christus tesame.

Daarom mag ons nie gewoond raak aan die bevrydende geskenk van God in Christus, dat ons dit goedkoop maak of daarvoor afgestomp raak nie.

Soos einste Martin Luther in sy kommentaar op Galasiërs 2:14-16 skryf:
Nothing is more perilous than to be weary of the Word of God. Thinking he knows enough, a person begins little by little to despise the Word until he has lost Christ and the gospel altogether.

Ons teks in die konteks van die eerste eeu

Tot sover in die preek het ons ons teks gelees in die lig van die Reformasie se ontdekking van die vrye genade van God.  Ons het ons teks verstaan teen die agtergrond dat God die goddelose regverdig, nie die mens wat op wetsonderhouding staatmaak nie.

Om ons teks dieper te peil, moet ons ook vra wat Paulus se bedoeling was met die boodskap van God se vrye genade.  Waarom skryf hy dit vir die Romeine?  Wat moet die inhoud van die Romeinebrief met die gelowiges in Rome doen.  Waarheen moet dit hulle beweeg?  Waarvan moet hulle afsien?  Wat moet hulle ophou doen?  Wat moet hulle begin doen?

Konteks en doel van die Romeinebrief

Hoewel Paulus self nog nie in Rome was nie, is dit uit die brief duidelik dat hy heelwat gelowiges in die stad ken.  Hy groet meer as 26 mense by name, waarvan ‘n derde vroue is.

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl. 16:5,14,15).  En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?  Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl. Gal 5:2-12) en die voedsel wette (Rom. 14:1-23).  Vir die Jode was dit ‘n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar.  Paulus sê dat hulle Christelike daarmee identiteit in gedrang kom.

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus, en die lewe deur die Gees.  God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom. 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie.

Paulus vat daarom ook die Joodse gelowiges se selfverheffing op grond van hulle afkoms aan, omdat dit van geen betekenis is binne die nuwe gemeenskap wat God geskep het nie.

Paulus skryf die brief omdat hy graag met die Romeine se hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje (Rom. 15:22-33).  Maar die belangrikste rede is om hulle teen verdeeldheid te waarsku.  Sommige Skrifverklaarders dink dat Joodse gelowiges apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (vgl. die huiskerke waarvan in 16:5, 14, 15 gepraat word) – en te wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.

Hy wil hê dat hulle “eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê” (15:6), sónder om die evangelie op enige manier aan ’n Joodse interpretasie van die wet onderdanig te maak.  Die hele eerste 8 hoofstukke gaan daaroor, met hoofstuk 9-10 wat spesifiek uitbrei oor die vraag na God se verkiesing van Israel en hulle toekoms.  Christus het immers gekom vir alle mense: die Joodse nasie sowel as al die ander nasies (Rom. 15:7-11).

Implikasies van God se verlossing

Die punt is dus:

  • deurdat God alle mense gratis en verniet, sonder verdienste van hulle kant verlos,
  • aangesien niemand, ook nie die Jode met hulle wetsonderhouding, hulself kan red nie,

skep God se redding ‘n nuwe, verloste gemeenskap van mense, wat tot ‘n nuwe eenheid deur Christus saamgebind word.

In hierdie nuwe gemeenskap kan gebruike, soos die rituele, merktekens en sosiale gebruike van die Joodse wette, nie gebruik word om verdeeldheid in God se volk te skep nie.  Christus is gelowiges se identiteit, en Christus bind mense oor alle grense saam tot sy kerk.  As menslike tradisie gebruik word om iets te voeg by die versoening wat Christus bewerk het, staan dit in die pad van die evangelie.

Só klink dit in ons teks:

Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik,  want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. (10:11-13)

Die feit dat God ons sonder eie verdienste red, het inderdaad implikasies vir die wyse waarop ons onder mekaar lewe.  Mens sien dit ook uit die opbou van die Romeinebrief, wat uit drie groot dele bestaan:

  • ‘n Omvattende verduideliking van die regverdiging deur die geloof en die nuwe lewe wat hieruit voortvloei (hfs 1-8)
  • Die rol van Israel in God se reddingsplan en die wyse waarop nie-Joodse gelowiges deur geloof ingeënt is in God se reddingswerk wat eeue vantevore reeds met Israel begin het (9-11), en
  • Die regte gedrag wat nou van alle gelowiges gevra word.
Moenie verskraal nie

Dit is dus ‘n kwade dag as die regverdiging deur geloof bloot verstaan word as iets wat tussen die individu en God gebeur, sodat ek gered kan word van die wêreld om hemel toe te gaan.  Redding het sosiale implikasies, spesifiek vir die manier waarop gelowiges onder mekaar lewe.  Gaan lees maar net weer Romeine 12-15.  Redding het alles met God se hele wêreld te doen.

‘n Bladsy uit De Doorns se boekie

Wêreldwyd moet gelowiges weer en weer hoor dat Christus ons saambind tot ‘n nuwe mensheid wat lewe tot eer van God in alles wat ons doen.  Ons kan ‘n geweldige verskil in die wêreld maak, in diens van die koms van God se regering, deur hande te vat, God se wil saam te soek, en God te dien in ons gemeenskappe.

Dana Snyman het ‘n aangrypende artikel in Die Burger van 26 Januarie 2013 oor De Doorns geskryf (‘n Stil Sondag op De Doorns).  Dit handel oor ‘n Sondag in die lewe van De Doorns, te midde van die verwoestende arbeidsonrus in die gemeenskap.  Die dorp is tydens Snyman se besoek eintlik ‘n oorlogsone.  Die rustigheid van die Sondag staan egter in skrille kontras met die geweld deur die week.  Dana stap van kerk tot kerk.  Die Dag van die Here, Sondag, bring die gemeenskap tot stilstand en tot rus.  In die groot aantal kerke, sommige statige geboue, ander klein strukture, word gepreek.  Daar is dosyne kerke, maar hulle funksioneer los van, geskei van, mekaar.  De Doorns het minstens 54 gemeentes.  Dana loop ene Albertus Jacobs, stetson-hoed en kitaar in die hand, op pad na die AGS se erediens toe , op straat raak.  Snyman vertel: “Albertus is bekommerd oor wat die staking aan De Doorns se mense doen.  ‘Dit trek ons uitmekaar uit, Meneer.  Dit breek ons op.'”

Dana vertel ook wat in die gefragmenteerde geloofsgemeenskappe vir mense gesê word.  Die belangrike subteks is die vraag hoe die kerke nader aan mekaar kan kom.  Hoe kan hulle help om die mense van die gemeenskap bymekaar uit te bring?  Wat is nodig om gelowiges te laat besef hoe abnormaal die afstand tussen hulle is?

Sondag bring die gemeenskap tot rus en dek die tafel om die sosiale kohesie te beliggaam waarvan Romeine praat.  Almal is deur die een Here verlos, verenig in die een liggaam van Christus.  Hoe beliggaam ons hierdie nuwe werklikheid in Christus?

Natuurlik is die arbeidsonrus ‘n komplekse saak.  En natuurlik is De Doorns maar net ‘n voorbeeld van hoe dit in die meeste van ons gemeenskappe lyk.  Ons doel is nie om De Doorns te beskaam nie.  Ons vra eerder wat ons kan leer.  Ons leer by Dana ‘n gebrek aan sosiale kohesie maak gemeenskappe weerloos.  Ook teen inkommers wat moeilikheid kom maak.

In Christus is gelowiges een.  Hierdie eenheid moet beliggaam word.  Op hierdie manier word die Here se kerk ‘n kragtige instrument in diens van God se werk in die wêreld.

(Die godsdiens-sosioloog Rodney Stark het ‘n aangrypende gevallestudie oor die Bybelse Antiogië geskryf, en oor die rol van die Handelinge-kerk om die stad ‘n veiliger plek te maak.  Dit het deur die skep van sosiale kohesie (omgee, diens en liefde oor grense heen) deur die eenheid van die Christelike gemeente gebeur.  Lees dit in sy boek, The Rise of Early Christianity.  In ‘n opvolgboek, Cities of God, verduidelik hy hoekom die Christelike geloof in die eerste eeue soos ‘n veldbrand spesifiek deur die Romeinse stede  versprei het.  Dit het baie met Christelike eenheid, diens en liefde te doen.)

Romeine vir vandag

Vir Paulus is God se wonderbaarlike redding nodig om ons van ons sonde, en die verwoestende mag daarvan, te bevry.  Dit is die fantastiese evangelie wat Martin Luther so helder in die 16de eeu herontdek het.  God red ons sonder dat ons dit verdien.  God red mense wat weet hoe goddeloos hulle is, en God se gratis genade met die leë hande van geloof aangryp.

Die sonde waarvan God is red, is die verskeurdheid in ons verhouding met God en met mekaar.  Deur ons redding word ons nuwe mense.  Ons is nie meer dieselfde nie.  Ons identiteit het verander, ons DNA lyk anders.  Ons verhouding tot God, tot mekaar en tot ons wêreld het radikaal verander.

Ons redding is: ons is versoen, met God, met mekaar en met ons wêreld.  Ons het ‘n Hemelse Vader.  Ons het ‘n gemeenskap waarvan ons deel is, tuis kan wees en ons roeping kan uitleef.  Ons het ‘n wêreld wat al kreunend ook weet van God se belofte van genesing en herstel.

Ons is geroep om hierdie identiteit met mag en mening uit te leef.  Elke dag van ons lewe.  Niks is meer dieselfde nie.  Ons is uit genade gered!

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.