Eerste Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die verbond loop hierdie jaar in Lydenstyd soos ’n goue draad deur elke Sondag se tekste. Dit gee geleentheid om elke week die liturgie rondom ’n ander aspek van die verbond te bou. Begin hierdie week by Genesis en volg die vier tekste tot by hulle hoogtepunt in Markus. Neem veral die kinders saam op hierdie spoor.

Hierdie week kom die Reënboogverbond aan die orde. Die teks uit Genesis vertel die verhaal van God se verbond met Noag. Psalm 25 is ’n gebed tot God om ons sonde te vergewe en ons te onderrig in die verbond terwyl ons leer om in alles op God te vertrou.

Die teks uit 1 Petrus lê die verband tussen die verbond met Noag en die doop.

Markus verwys weer na die water as Jesus se verbintenis (verbond) tot die dood ter wille van ons sonde. Die nuwe verbond in sy bloed.

Ander tekste

Genesis 9:8-17
8Verder het God vir Noag en sy seuns gesê: 9“Kyk, Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag 10en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het. 11Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer ’n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.”

12Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ’n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: 13my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, 15sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

17God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

18Noag se seuns wat uit die ark gekom het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die pa van Kanaän. 19Dit was Noag se drie seuns en uit hulle is die hele aarde bevolk.

Psalm 25:1-10
Maak my u weë bekend
25 Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

1 Petrus 3:18-22
18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

Fokusteks

Markus 1:9-15
Jesus word gedoop
(Matt 3:13–17; Luk 3:21–22; Joh 1:29–34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek
(Matt 4:1–11; Luk 4:1–13)
12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Aanvangswoord
“Kyrie Eleison” kan ook as aanvangslied gesing word.
(Uit die Basisliturgie by Woord en Fees van Bybel-Media 2014/15)

Seëngroet: (1 Petrus 1)

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1” (herhaal 2 of 3 maal)

Verootmoediging
’n Verbond is ’n ooreenkoms tussen 2 of meer partye, waarby wedersydse regte en pligte neergelê word. In die O.T. kom verskillende verbonde tussen mense voor. Daarnaas word gepraat van ’n verbond wat God met mense sluit. Die Hebreeus het die uitdrukking: ’n verbond sny. Daarin kan ’n sinspeling wees op die seremonie wat met die verbondsluiting gepaard gegaan het, Gn. 15:9–21; Jr. 34:18–20. Hulle het ’n kalf of meer as een ander offerdier in die lengte middeldeur gesny. Dié dele is dan in pare agtermekaar neergelê, sodat daar as’t ware ’n straat, ’n bloedstraat gevorm is, waardeur albei partye kon loop. Die verskillende partye het dan tussen die stukke deurgegaan. Die betekenis van hierdie sinnebeeldige handeling was dat, as hulle die verbond sou skend, hulle soos die offerdier, wat in stukke gekap is, moes word. In Gn. 15:9–21 het die Here alleen tussen die stukke deurgegaan, omdat die Here en Abraham nie saam ’n verbond gesluit het nie, maar omdat die Here met Abraham ’n verbond gesluit het wat net van Hom af uitgegaan het. Ook ander plegtighede kon die verbondsluiting vergesel: hulle het ’n eed gesweer, of ’n maaltyd gehou, of die hand gegee, of klere geruil, ens.
Uit Bybelse ensiklopedie, 1975: Onder redaksie van W.H. Gispen, B.J. Oosterhoff, H.N. Ridderbos, W.C. van Unnik, P. Visser.

Sinaï-verbond (Wet)
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
(Genesis 20)

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2

Vryspraak: (1 Johannes 1)

Aanvaarding van die vryspraak: (Psalm 103)

Geloofsbelydenis

Lofliedere
Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3” en/of
Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

God praat met ons en ons luister

Epiklese gebed: ahv Psalm 19

Skriflesing Markus 1:9-15

Prediking
God stuur ons om te leef
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
Flam 361. Laat Dit So Wees (Amen)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Melding word gemaak (in Woord en Fees 2015 van Bybel-Media) dat die verbond vanjaar soos ‘n goue draad deur RCL-tekste loop. Ons sluit graag aan daarby en gebruik die Sinai-verbond in die Verootmoediging, en die Noag verbond in die Kindertyd.

Aanvangslied: Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Aanvangswoord
Voorganger: Here ontferm U oor ons.
Gemeente: Christus ontferm U.
Voorganger: Here ontferm U oor ons
Gemeente: en gee ons u vrede,
(Lied 248 “Kyrie Eleison”).
“Kyrie Eleison” kan ook as aanvangslied gesing word.
(Uit die Basisliturgie by Woord en Fees van Bybel-Media 2014/15)

Seëngroet
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in ……………………………………………………….. 2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!
(1 Petrus 1)

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1” (herhaal 2 of 3 maal)

Verootmoediging
’n Verbond is ’n ooreenkoms tussen 2 of meer partye, waarby wedersydse regte en pligte neergelê word. In die O.T. kom verskillende verbonde tussen mense voor. Daarnaas word gepraat van ’n verbond wat God met mense sluit. Die Hebreeus het die uitdrukking: ’n verbond sny. Daarin kan ’n sinspeling wees op die seremonie wat met die verbondsluiting gepaard gegaan het, Gn. 15:9–21; Jr. 34:18–20. Hulle het ’n kalf of meer as een ander offerdier in die lengte middeldeur gesny. Dié dele is dan in pare agtermekaar neergelê, sodat daar as’t ware ’n straat, ’n bloedstraat gevorm is, waardeur albei partye kon loop. Die verskillende partye het dan tussen die stukke deurgegaan. Die betekenis van hierdie sinnebeeldige handeling was dat, as hulle die verbond sou skend, hulle soos die offerdier, wat in stukke gekap is, moes word. In Gn. 15:9–21 het die Here alleen tussen die stukke deurgegaan, omdat die Here en Abraham nie saam ’n verbond gesluit het nie, maar omdat die Here met Abraham ’n verbond gesluit het wat net van Hom af uitgegaan het. Ook ander plegtighede kon die verbondsluiting vergesel: hulle het ’n eed gesweer, of ’n maaltyd gehou, of die hand gegee, of klere geruil, ens.
Uit Bybelse ensiklopedie, 1975: Onder redaksie van W.H. Gispen, B.J. Oosterhoff, H.N. Ridderbos, W.C. van Unnik, P. Visser.

Sinaï-verbond (Wet)
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:

2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.
7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.
12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”
(Genesis 20)

Skuldbelydenis
Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak
8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
(1 Johannes 1)

Aanvaarding van die vryspraak
Ek wil die Here loof,
met alles wat in my is,
wil ek sy heilige Naam loof.
2Ek wil die Here loof
en nie een van sy weldade
vergeet nie.
3Dit is Hy wat al my sonde vergewe,
wat al my siekte genees,
4wat my red van die graf
en my met liefde en ontferming kroon,
5wat my die goeie in oorvloed
laat geniet,
my die jeugdige krag van die arend
skenk.
6Die Here laat geregtigheid en reg
geskied
aan almal wat verdruk word.
7Aan Moses het Hy
sy wil bekend gemaak,
aan Israel wat Hy van plan was
om te doen.
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
10Hy handel met ons
nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons
ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand
tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde
vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge
van ons af.
(Psalm 103)

Geloofsbelydenis
Gemeente: Ek glo in God – God die Vader.
Voorganger: Ek glo dat Hy alles gemaak het en steeds daarvoor sorg.

Gemeente: Ek glo in God – God die Seun.
Voorganger: Ek glo dat Hy moes ly om die toorn van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis onder Pontius Pilatus gely het en onregverdig veroordeel is om die oordeel van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis ’n kruisdood moes sterf  om die vloek van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy dit vir my persoonlik gedoen het.
Ek glo dat Hy weer opgestaan het as bewys daarvan dat Hy die kwaad oorwin het.

Gemeente: Ek glo in God — God die Heilige Gees.
Voorganger: Ek glo dat Hy dit wat Jesus vir my verwerf het waar maak in my lewe, my oortuig van die sonde in my lewe en my verseker van die verlossing (uit die “Heidelbergse Kategismus”).
(Uit die Basisliturgie by Woord en Fees van Bybel-Media 2014/15)

Lofliedere
Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3″ en/of
Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Liedere

F21. “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof / Verwondering)
Teks en Musiek: Tom Hiemstra
Teks: [strofes 3,4 onbekend]
© 2001  MAR Gospel Music Publishers
(vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD “Ons Koning kom weer”)
LW:  Ons wil graag al vier verse vir gebruik bekendstel!!

In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in Sy woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer
en die lof, want U regeer.

Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:
Driemaal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:
Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

F226. “Jesus Ek Wil Vir U Dankie Sê”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Gebed / Dank aan die Seun)
Oorspronklike titel: Jezus, ik wil U bedanken
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 2000 Celmar Music

Jesus, ek wil vir U dankie sê
en weer op my knieë voor U gaan.
U het aan die kruis vir my gesterf
maar toe ook weer opgestaan.
U is geskop en seer geslaan,
gespot en ook uitgeskel
En selfs deur u vriende verlate
het U aan die kruis gehang.

Refrein:
Jesus, ek dank U.
U’t Uself vir my gegee.
Jesus, ek dank U,
en gee myself aan U
Ek gee myself aan U.
U is gespoeg en gegesel
In my plek moes U alles dra
Dat U van die dood my gered het
Dit kon ek nooit van U vra

God praat met ons en ons luister

Epiklese gebed: ahv Psalm 19
Here,
U wet is volmaak- dit gee nuwe lewenskrag;
U bepalings is betroubaar- dit gee wysheid aan die eenvoudige.
U opdragte, Here, is reg- dit maak die hart bly;
U gebod, Here, is suiwer- dit verhelder die oë.
Verbly dan nou my hart en gee my nuwe lewenskrag;
verhelder my oë en gee my wysheid Here,
deur die werk van U Gees en
in die oordenking van U Woord.
Amen
(Psalm 19:8-9  BDV)

Skriflesing: Markus 1:9-15

Prediking

Familie-oomblik

Woord en Fees van Bybel-Media 2014/15 stel voor dat die kinders by die doopvont staan terwyl die voorganger die simboliek van die doopwater aan hulle oordra.
Gebruik die inligting van wat ‘n verbond is (sien bo by Verootmoediging) met eenvoudige taal. Lees dan die verhaal van God se verbond met Noag dramaties…

Genesis 9:8-17
8Verder het God vir Noag en sy seuns gesê: 9“Kyk, Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag 10en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het. 11Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer ’n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.”

12Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ’n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: 13my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, 15sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

17God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

Preekriglyn

Die dood van ds Werner Groenewald en sy twee kinders, Rode en Jean-Pierre, op 29 November 2014 in Kaboel het mens aan die hart geruk. Werner het by ‘n hulpverleningsorganisasie gewerk wat deur die Taliban geteiken is. Sy vrou, Hannelie, het die aanslag vrygespring. Hy en sy gesin het hulself as gestuurdes van die Here gesien.

Pierre Korkie het skaars ‘n week later in Jemen gesterf toe Amerikaanse magte ‘n VSA-burger, Luke Sommers, op 6 Desember 2014 wou bevry. Pierre was ‘n draer van die boodskap van God se koninkryk.

Baie mense vra of dit die moeite werd is om jou lewe op die spel te plaas vir die Here? Dit laat mens diep nadink. Wat behels ons verbintenis aan die Here? Wat doen ons as ons Jesus se eerste preek gehoorsaam? Waarvoor laat mens jou in as jy doen wat Jesus destyds in Galilea vra:

Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie. (Markus 1:15)

Lyding

Lyding, toetsing, vuurdoop en gevangeneskap is deel van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God (Markus 1:1). Reg van die begin af.

In ons teks lees ons hoedat Jesus na sy doop in die woestyn beland en daar deur die Satan versoek en getoets word – vir veertig dae.

En byna terloops vertel Lukas dat Jesus se eerste preek volg “nadat Johannes in die tronk opgesluit is” (1:14). Eers ‘n paar hoofstukke later, in Markus 6, hoor ons hoe hy onthoof word. Lewens is reeds in die openingstonele van die evangelie op die spel.

Net na Jesus se eerste preek lees ons hoe Hy sy eerste dissipels roep: die broers Simon Petrus en Andreas, en nog twee broers, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus (Markus 1:16-20). Van hierdie vier eerste dissipels sou net Johannes nié ‘n gewelddadige dood sterf nie. Petrus is in Rome gekruisig, Andreas is in Agaje gekruisig en Jakobus is deur koning Herodes Agrippa met die swaard omgebring (Handelinge 12:1).

Eerste lesers

Volgens navorsers skryf Markus sy evangelie spesifiek aan Christene wat diep getref is deur die Joods-Romeinse oorlog wat uitloop op die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. Ander stel weer voor dat die eerste lesers Christene is wat gelei het onder die vervolging van keiser Nero in Rome in die jare sestig van die eerste eeu n.C.

Die eerste lesers is mense wat dit nie maklik gehad het nie, en angs, bedreiging en geestelike disoriëntasie beleef het. Hulle het aan eie lyf ervaar wat die eise van dissipelskap is, en hoe uitdagend dit is om die Here te volg wanneer jou eie lyf daarmee op die spel kom.

Markus help hulle sien dat Jesus nie maar net ‘n interessante figuur is wat ‘n paar dekades vroeër geleef het nie. Wat Jesus gedoen en geleer het, en wat met Jesus gebeur het, maak ‘n ingrypende impak op jou lewe. Dis egter die moeite werd om aan sy gesagvolle lering, sy magtige dade en sy lyding as die Seun van die mens, die ware Messias vas te hou. Hy is die Seun van God. Hy het die woorde wat lewe gee.

Aan so ‘n Here kan mens jou lewe toevertrou. Vir so ‘n Here kan jy jou lewe gee.

Wie is Jesus?

Markus stel Jesus as die Seun van God aan ons voor (1:1). Ons teks vertel hoe Jesus van sy grootword-dorp, Nasaret in die provinsie Galilea, kom om deur Johannes die Doper gedoop te word. Johannes doop mense met ‘n bekeringsdoop. Dopelinge druk berou oor hul sonde uit, en wend hulle na God.

Jesus het nie sonde nie, maar laat Hom doop om daarmee ons sonde op Hom te neem. Hy sit sy skouer met sy doop onder die juk van ons sonde in. Johannes onderdompel Hom in die Jordaan, en wanneer Hy uit die water opkom sien Hy die hemel oopskeur en die Gees soos ‘n duif op Hom neerdaal. Hy hoor ook die stem van God die Vader uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Met hierdie woorde word Jesus se identiteit en roeping bevestig. Hy is die Seun van God. Hy identifiseer Hom met mense en neem hulle lot op Hom. Daaroor verheug God die Vader Hom. En Jesus doen dit met die bemagtigende krag van die Heilige Gees. Net na sy doop stuur die Gees Hom die woestyn in, waar Hy sy eerste rondte van oorwinning oor die Satan behaal.

Wie is God?

Ons teks beskryf nie net Jesus se identiteit en roeping nie, maar belig ook wie God is. Ons word bekendgestel aan Vader, Seun en Heilige Gees. Die één God wat ons aanbid is ‘n goddelike familie van Vader, Seun en Heilige Gees. Daar is verhoudinge en diversiteit binne-in God. Die persone in die drie-eenheid dien mekaar en het mekaar lief.

God dien Jesus deur sy liefde en vreugde uit te druk. Die Vader stort die Heilige Gees oor Jesus uit. Die Gees lei Jesus en bemagtig Jesus. Jesus voer die Vader se roeping uit, en gehoorsaam die Heilige Gees.

Die heilige gemeenskap van Vader, Seun en Gees het die beste bedoelinge met God se wêreld. Jesus word gestuur om die vervreemding van God en mekaar te oorbrug. Hy word in ons sonde in gedoop, sodat ons later in sy sterwe en opstanding in gedoop kan word.

Hierdie prentjie word die bloudruk vir die lewe van die kerk. Miroslav Volf noem sy uitstekende boek oor God en kerk nie verniet nie: “After our likeness: The church as the image of the Trinity.”

God bring God se herstellende regering in Jesus, deur die krag van die Heilige Gees, na die wêreld toe.

Hiervoor is twee dinge nodig: die Satan en boosheid moet oorwin word en God se herstellende regering moet bewerk word.

Oorwinning

Opvallend genoeg word Jesus direk na sy doop “weggevat” in die woestyn in. Die Griekse woord beteken letterlik dat die Heilige Gees Hom “uitdryf” na die woestyn toe. Dis sterk taal. Jesus bly veertig dae in die woestyn, wat herinner aan die vormende proses van veertig jaar wat Israel in die woestyn rondgeswerf het, of die veertig dae wat Elia sonder kos was.

Die woestyn is ’n onbewoonde, onherbergsame gebied waar herders soms hulle skape laat wei het. Jesus is vir ’n tyd lank onder die beheer van die Gees en God se voorsiening daar onderhou.

Hier gebeur twee dinge:

  • Eerstens versoek die Satan Jesus. Die benaming “Satan” is van ‘n Hebreeuse woord wat “teenstander”, “aanklaer” of “hemelse proefbeampte” beteken, afgelei. “Versoek” het in die Ou Testament gewoonlik met “toets” (bv Israel se tyd van 40 jaar in die woestyn) verband gehou. Jesus is dus in hierdie tydperk “versoek”, “getoets” of “op die proef gestel”. Jesus oorwin die Satan.
  • Jesus beleef ‘n voorsmaak van God se nuwe aarde waar daar vrede tussen voormalige vyande is. Hy is saam met die wilde diere. Dit verwys na die koms van God se vrederyk (Jes 11:6-9 en 65:17-25). Verder beleef Hy die versorging van engele wat vir Hom kos bring, soos die kraaie vir Elia in 1 Kon 19:1-8 gedoen het.

In die woestyn word die bedoeling van God in ‘n neutedop vir ons aangebied. Die verwoestende mag van die teenstander, die Satan, word in ‘n eerste rondte gebreek. Jesus weerstaan die versoeking. En die herstel wat God vir die wêreld bring word gesmaak in roofdier en mens wat saam woon, terwyl versorging uit die hand van God kom.

God se heerskappy

Wanneer Jesus na sy doop en woestyn-ervaring na Galilea gaan, is die fondamente vir God se aksie in die wêreld reeds gelê. Hoewel die geskiedenis van die evangelie van Jesus skaars begin het, het ons reeds ‘n goeie idee wat sy eerste preek beteken:

Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie. (Markus 1:15)

Die tyd wat aangebreek het, is die tyd van die evangelie van Jesus Christus (1:1) wat begin het. Die Griekse woord “evangelie” is gebruik om die oorwinning in ‘n oorlog of die troonbestyging van ‘n nuwe koning bekend te maak. “Evangelie” word in die Nuwe Testament gebruik om God se ingrype ter wille van mense te beskryf. Die fokus van Jesus se aankondiging, sy evangelie, is God en sy koninkryk. God en sy koninkryk is hier.

Die “koninkryk” van God moet eintlik as ‘n werkwoord verstaan word. Ons is gewoond om aan ‘n “koninkryk” as ‘n geografiese gebied te dink. Koninkryk beteken hier egter eerder “regering”. In en deur Jesus se bediening word God se regering nou ‘n werklikheid.

God se regering bestaan eerstens uit ‘n oorwinning oor die Bose (pas behaal in die woestyn). Die Satan, verwoesting, opstand en vernietiging is onttroon. Die skepping is onder nuwe bewind. God se regering word herstel.

Tweedens beteken God se regering dat die vrede, die sjalom waarna die profete van die Ou Testament so diep verlang, in Jesus ‘n werklikheid word. Verhoudinge tussen God en mens, God en wêreld, mens en mens, en mens en die res van die skepping word herstel. Roofdier en mens woon saam. Die skepping ervaar die diens en versorging van God, soos Jesus in die woestyn.

Die vrede van God se regering word in die bekende boek, Missional church, aan die hand van die boodskap van die Ou Testamentiese profete verduidelik as:

  • Genesing, herstel en harmonie in die skepping;
  • Geregtigheid, d.w.s. lewensruimte en oorvloed van lewe, vir al God se skepsele;
  • Vreugde en blydskap.

Die koninkryk of regering van God maak die wêreld nuut. Die liefde en diens in die Godheid self word herstel as die patroon van lewe in God se wêreld.

God se regering is ‘n konkrete werklikheid. Dis nie ‘n geestelike wêreldjie, ‘n groot ideaal of bloot ‘n verre visie nie. God se regering skeur die hemel oop en kom woon onder mense. Dit bring bose koninkryke tot ‘n val, laat geregtigheid aanrol soos waterstrome en skep ‘n nuwe ordening op God se wêreld. Dit lyk heeltemal anders as die Romeinse Ryk, die kommunistiese konstellasies van die wêreld, die Nazisme, ongebreidelde kapitalisme, die Taliban, Boko Haram, Isis, en al die ander selfbehepte koninkryke van hierdie wêreld.

Dit is ‘n koninkryk wat kom deur nederige diens. Maar dis ‘n rots van selfprysgawe waarteen alle magsbehepte koninkryke van hierdie wêreld hulle te pletter loop. Of nog sal loop.

Daarom is dit die moeite werd om jouself vir hierdie koninkryk te gee. Selfs al gaan jy deur die meule van die dood.

“Bekeer julle”

God se koninkryk maak aanspraak op jou hele lewe. Daarom vra Jesus van ons: “Bekeer julle en glo die evangelie” (1:15).

Bekeer beteken dat die kompas wat jou lewensrigting bepaal nuut gekalibreer word. Waar jy in een rigting gelewe het, vra die regering van God ‘n ernstige koerswysiging. Dit verg dat jy jou inwerp by God se aksie in die wêreld om genesing en herstel te bring. Vrede, genesing, geregtigheid en die vreugde van God word jou kompas.

Mens kan so vaskyk teen die sigbare realiteite rondom jou, dat jy begin lewe ooreenkomstig die feite wat jy met jou oë kan sien. Markus teken in ons teks vir ons ‘n groter prentjie van die werklikheid. Die egte realis moet ook rekening hou met die aanwesigheid van God, soos wat hierdie teks vir ons uitbeeld. Ons moet ook Jesus se doop vir ons raaksien. Ons moet die oopgeskeurde hemel sien, die Gees wat neerdaal, die oorwinning in die woestyn, die wilde diere wat mak word en die engele wat versorging uitdeel.

Wie al die feite sien, kan ‘n realistiese skuif maak. Dit is om jou lewenskoers aan te pas by die evangelie en om die bedoelinge van die Koning te begin nastreef. Aangesien die regering van God in Jesus konkreet in die wêreld aanwesig is, maak dit volkome sin om dit te doen.

Om jou lewe aan God te wy

Maak dit sin om jou lewe aan God te wy, selfs al bring dit lyding en dood mee?, het ons aan die begin gevra. Werner Groenewald en Pierre Korkie het so gedink. Hulle het met hul bloed bevestigend geantwoord.

Jesus het ook so gedink. Daarom sien ons reeds in die openingstonele van die evangelie hoedat Hy sy lewe gee vir die bedoelinge van sy Vader, selfs al bring dit die woestyn, versoek en – lees ons verder – lyding en dood vir Hom mee.

Waarom is dit die moeite werd om jou lewe aan  God te wy? God se regering is die deurslaggewende werklikheid waarbinne ons leef. Aangesien Jesus regtig die Seun van God is wat die volkome oorwinning behaal het, is die koninkryk van God aanwesig en bepaal die koninkryk die toekoms waarheen ons onderweg is. Die koninkryk is reeds naby, en die volle aanwesigheid van die koninkryk is ons toekoms.

Vir hierdie momentum van God kan mens jou lewe gee.

Ons is nie alleen nie

Op hierdie pad is ons nie alleen nie. Dissipels is nie aan hulself oorgelaat nie. Selfs nie al kap Herodes se soldate Johannes se kop af nie. Selfs nie al word Petrus en Andreas gekruisig en sterf Jakobus deur die swaard nie. Selfs nie al skeur die Taliban se geweld jou uitmekaar, of word jy doodgemaak om jou vryheid te verhinder nie.

Van die mooiste woorde in die Bybel is God die Vader wat sê: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Hierdie is woorde wat God se kinders in en deur Jesus ook oor onsself kan hoor. In Jesus se doop val die skaduwee van die kruis reeds oor die Jordaanwater. Tog is God se vreugde in Hom, en die Gees se bemagtiging, die krag wat Jesus ondersteun in sy diens aan God se regering.

Só is dit ook met ons. Ons leef ten diepste vir ‘n gehoor slegs van Een. Ons motivering en ons beloning, en lewe, die sin van ons bestaan, en die bydrae wat ons lewe en sterwe aan God se regering maak, word net deur dié Een bepaal.

Laat ons lewe vir God se koninkryk, al vra dit wat. Dit is die moeite werd. God se liefde en ondersteuning dra ons. In lewe en sterwe is daar vir ons veilige ruimte in God se nuwe bedeling.

Lydenstyd

Dit is lydenstyd. Waar ons Jesus se lyding en sterwe in hierdie dae gedenk, mag ons die glimlag en vreugde van die Koning bly belewe. Mag ons die oog gevestig hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof:

Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het.
(Heb 12:2-3)

As mens hierdie Jesus aanskou, weet jy sommer wat jy moet doen. Aan so ‘n Here kan mens jou lewe toevertrou. Vir so ‘n Here kan jy jou lewe gee.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4”

Seën
Die Here het Homself weer opnuut aan ons gegee hier aan tafel, dink daaraan dat ons nou weer die barmhartigheid wat God aan ons bewys het moet gaan vier. Die nagmaal stuur ons noodgedwonge na die mense wat in nood is en gebrek ly.
Die Here wat die Brood en Wyn is, gaan jou nou seën. Kyk mooi na die voorganger se hande die palms wys na onder. Die seën is nie net ’n stukkie brood en slukkie wyn wat die Here vir jou gee nie. Dit is ’n opdrag wat Hy op jou lê, om ’n seën vir ander te gaan wees. Om brood vir ander te gaan gee.
Die Here sal jou seën en jou beskerm;
die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees;
die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.
Amen.
(Uit die Basisliturgie by Woord en Fees van Bybel-Media 2014/15)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, ons God, as ons nou huis toe gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.