Eerste Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag word Invocavit (“Hy roep My aan”) genoem na aanleiding van Psalm  91:15 “Wanneer hy my aanroep, sal Ek sy gebed verhoor . . .” Dit is ook die verhaal van die tekste van die dag. Die Here red die wat na Hom roep.

Ons moet met die vrug van ons arbeid die Here aanbid oor die verlossing wat Hy vir ons bewerk het (Deut 26:1-11). Die Here het ons baie lief en sal ons verlos en beskerm. Hy is die rots waarop ons lewe gebou is (Ps 91:1-2, 9-16). As jy op die Here vertrou sal jy gered word (Rom 10:8b-13). Maak nie saak watter versoeking oor jou pad kom nie, bly getrou aan die Here (Rom 10:8b-13).

Ander tekste

Lukas 4:1-13
Die versoeking van Jesus
(Matt 4:1–11; Mark 1:12–13)
4 Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was.

3Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.”

4Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie.”

5Daarna bring die duiwel Hom op ’n hoogte en wys Hom in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld. 6Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”

8Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid
en Hom alleen dien.”
9Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: 10“As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe:
Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm,
11en ook:
Op hulle hande sal hulle jou dra
sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal
stamp nie.”
12Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
13Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus ’n tyd lank met rus gelaat.

Ps 91:1-2, 9-16
Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind

91 Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”

3Dit is Hy wat jou 
uit die voëlvanger se wip hou 
en jou bewaar van dodelike siekte. 
4Hy beskut jou onder sy vleuels 
en is vir jou ’n veilige skuilplek. 
Sy trou beskerm jou aan alle kante. 
5Jy hoef nie bang te wees 
vir gevaar in die nag 
of vir aanvalle oordag, 
6vir pes wat in die donker toeslaan 
of vir siekte wat helder oordag 
verwoesting saai nie. 
7Al val daar duisende langs jou, 
tienduisende by jou, 
vir jou sal niks tref nie. 
8Met jou eie oë sal jy sien 
hoe die goddelose gestraf word.

9Omdat jy die Here as skuilplek
geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek
kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet
teen ’n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy dood trap.
14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Rom 10:8b-13
En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”
12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Fokusteks

Offer van die eerstelinge en die driejaarlikse tiendes.
26 EN as jy in die land kom wat die Here jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon,

2dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die Here jou God jou sal gee, en dit in ‘n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die Here jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon,

3en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die Here u God dat ek in die land gekom het wat die Here aan ons vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee.

4En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God neersit.

5Dan moet jy voor die aangesig van die Here jou God verklaar en sê: My vader was ‘n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar ‘n groot, magtige en talryke nasie geword.

6Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons gelê.

7Toe het ons die Here, die God van ons vaders, aangeroep; en die Here het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;

8en die Here het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;

9en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

10Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, Here, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die Here jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die Here jou God.

11En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.

12As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word.

13En jy moet voor die aangesig van die Here jou God sê: Ek het die heilige goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek het geeneen van u gebooie oortree of vergeet nie.

14Ek het daarvan in my rou nie geëet en daarvan as ‘n onreine niks weggebring en daarvan aan ‘n dooie niks gegee nie; ek het na die stem van die Here my God geluister; ek het gedoen net soos U my beveel het.

15Kyk tog uit u heilige woning, uit die hemel, neer en seën u volk Israel en die land wat U ons gegee het, soos U aan ons vaders met ‘n eed beloof het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

16Vandag beveel die Here jou God jou om hierdie insettinge en verordeninge na te kom; onderhou dan en doen dit met jou hele hart en met jou hele siel.

17Vandag het jy die Here laat verklaar dat Hy vir jou ‘n God sal wees, en dat jy in sy weë moet wandel en sy insettinge en sy gebooie en sy verordeninge moet hou en na sy stem moet luister.

18En die Here het jou vandag laat verklaar dat jy vir Hom ‘n eiendomsvolk sal wees soos Hy jou beloof het, en dat jy al sy gebooie sal onderhou;

19en dat Hy jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ‘n lof en ‘n roem en ‘n sieraad, en dat jy ‘n heilige volk aan die Here jou God sal wees soos Hy beloof het.

Ekstra stof

Deuteronomium (“tweede wet”) het ‘n konsentriese (chiastiese: a-b-x-b-a – amper soos ‘n menora) struktuur wat opgebou is rondom drie “preke” van Moses (die Hebreeuse titel אֵלֶּה הַדְּבָרִים is baie gepas: “Hierdie is die woorde”):

  • Historiese terugkyk (hfst. 1-3) – Onthou waar julle vandaan kom;
  • Riglyne vir navolging (hfst. 4-30): Luister na en leef in ‘n verbondsverhouding met die Here;
  • Profetiese vooruitkyk (hfst. 31-34): Vertrou op die beloftes van God vir die toekoms.

‘n Mens kan maklik die eerste en derde “preke”  as ‘n aaneenlopende verhaal lees, soos ook die middelste “preek”.

Deuteronomium is ook ‘n verbondsboek wat die struktuur van ander Ou Nabye Oosterse verdrae vertoon (Aanhef en historiese proloog [1-4]; Stipulasies [5-26]; Klousules [27 en 31]; Sanksies [28-29, 32-33]; Getuies [30-31]).

In die laaste hoofstuk word afskeid van die groot leier Moses geneem.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm  91

Seëngroet Psalm 91
of die voorstel uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16

Aanvangswoord en seëngroet

Lied 395 “My verlosser aan die kruis 1,2,3”

Wet: Matteus 22

Skuldbelydenis: Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1”

Vryspraak: Rom 10

Geloofsbelydenis: ahv Jesaja 53

Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 2”

Epiklese

Skriflesing: Deuteronomium 26:1-11

Prediking

Gebed: Matteus 6

Offergawes

Wegsending: Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm  91
Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”

Seëngroet: Psalm 91
9Omdat jy die Here as skuilplek
geneem het,die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek
kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet
teen ’n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy dood trap.
14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”
of die voorstel uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16

Aanvangswoord en seëngroet
Voorganger: Mag God die Vader,
wat ʼn gebroke gees nie verag nie,
jou ʼn verslae hart gee.
Gemeente: Amen.
Voorganger: Mag Christus
wat ons sonde aan die kruis gedra het
vir jou genesing bring deur sy wonde.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag die Heilige Gees
wat ons in die volle waarheid lei woorde van vergifnis en vrede tot jou spreek.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Die Here ontvang jou met deernis
in sy teenwoordigheid.
Gemeente: U alleen wil ek aanbid en eer.

Lied 395 “My verlosser aan die kruis 1,2,3”

Wet: Matteus 22
Een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1”

Vryspraak: Rom 10
En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”
12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Geloofsbelydenis: ahv Jesaja 53
Die Here was soos ’n loot,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.

Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.

Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.

Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.

Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.

Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
(Die geloofsbelydenis kan ook na die prediking hanteer word)

Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 2”

Liedere

F16. “Ek Kyk Op Na Die Berge” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Braam Hanekom
© 1993  MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kyk op na die berge.
O, waarvandaan kom daar hulp vir my?
My hulp kom van die Here.
Hy’t hemel en aarde gemaak.

Refrein:
Hy sal nie toelaat dat jy val nie.
Hy sal nie toelaat dat jy swig,
want Hy sluimer of Hy slaap nie;
Hy laat jou veilig wandel in die lig.
Hy laat jou ewig wandel in die lig.

2. Bedags sal die son jou nie steek nie,
en snags sal die maan jou nie bedreig.
Hy sal jou uitgang en jou ingang
beveilig, beskerm en bewaar.

Refrein:

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: P de Wet
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê
En die dinge wat ek glo beteken niks
Maar ek wil hulde bring
Vir ewig gaan ek sing
Want my Koning is nie dood nie
Hy het opgestaan

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe
Hy is die Koning van die groot heelal
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal

2. Die wêreld is te grys
Die reëls word te veel gebuig
Want hul glo nie in die glorie van my Heer
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
Voor die Koning van die heelal en my hart

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God van ons lewe, daar kom dae
wanneer die laste wat ons dra
ons skouers skaaf en ons neerdruk;
wanneer die pad vorentoe droewig en eindeloos lyk,
die lug vaal, troosteloos en dreigend;
dae wanneer die lied uit ons lewe verdwyn
en ons hart eensaam is en ons siel moedeloos word.
Laat dan u lig skyn op ons pad,
rig ons oë op na die hemele van belofte;
snaar U ons hart vir die lied;
skenk ons die gemeenskap van die heiliges en helde van die eeue;
en sterk so ons gees om ook ander, wat die pad saam met ons bewandel,
te onderskraag tot u eer en verheerliking.
Amen.
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Deuteronomium 26:1-11

Prediking

Familie-oomblik

Hanteer die fokusteks as ‘n drama/ opvoering…
Karakters:
’n Gesiglose mansstem oor die mikrofoon.
’n Priester (met loshangende oorhang kleed) wat voor in die kerk aan een kant staan.
’n Jood met ’n mandjie en vrugte (die items kan op ’n tafel sigbaar voor in die kerk wees) aan die ander kant van die kerkgebou.

Die diep stem: 
As jy in die land kom wat die Here jou God vir jou as erfenis gee en jy dit dan in besit neem en daarin woon,
dan moet jy eerstelinge van al die vrugte van die land neem, die land wat die Here jou God jou gee;
jy moet die vrugte in ‘n mandjie sit en jy moet dit neem na die plek wat die Here jou God sal wys.

Jood gaan pak die vrugte (seremonieel) in die mandjie en wag vir verdere opdragte…

Die diep stem: 
Jy moet na die priester gaan wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê:
Ek verklaar vandag aan die Here u God dat ek in die land gekom het wat die Here aan ons vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee.

Die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God neersit.

Die Jood neem dan die vrugte na die priester wat dit van hom neem.
Hy verklaar dan soos volg: Ek verklaar vandag aan die Here u God dat ek in die land gekom het wat die Here aan ons vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee.

Die Jood verklaar verder:
My vader was ‘n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar ‘n groot, magtige en talryke nasie geword.
Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons gelê.
Toe het ons die Here, die God van ons vaders, aangeroep; en die Here het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;
en die Here het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;
en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, Here, my gegee het. 
Dan buig die Jood daar by die mandjie vrugte en die priester voor die Here…

Die diep stem: Jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.

Preekriglyn

Dit is die begin van Lydenstyd. Vir die volgende ses weke gaan ons die verskriklike lyding van Jesus gedenk tot ons uiteindelik op Paassondag jubelend saam met Hom gaan opstaan. Dit is daarom gepas dat ons vandag aan die begin van Lydenstyd aan ons eie lewe sal dink, aan ons pyn en ons opstaan, en hoe ons dit aan God se wil kan spieël, die hele tyd.

Daarvoor is Deuteronomium 26:1-11 uiters geskik, omdat dit praat oor lewe en verwagtinge en teleurstelling en menslike handeling en pyn – en dankbaarheid vir alles en ten spyte van alles.

Ons teks

Vir eeue al word daar op hierdie eerste Sondag in Lydenstyd gelees uit Deuteronomium 26:1-11, wat in vers 9 die bekende verwysing bevat na die land wat oorloop van melk en heuning.

Die hoofstukke net voor ons teksgedeelte, Deuteronomium 12-25, bevat lyste en lyste wette. En skielik het ons hierna, in Deuteronomium 26, ‘n klein liturgie. ‘n Liturgie van Danksegging. Dit lyk na ‘n profesie van die Beloofde Land, maar dis ‘n praktyk om dankie te sê vir die oes, ‘n liturgie wat die Israeliete vir lank gevolg het, en kerke vandag nog steeds uitvoer.

Deuteronomium 26:1-11 begin met ‘n opdrag aan die Israeliete om dankoffers vir die Here te gee van al die opbrengste van die land wanneer hulle in hulle nuwe land woon. Dit moet in ‘n mandjie na die naaste plek gevat word waar die Here aanbid word. Die priester sal dit voor die altaar sit. En dan moet daar onthou word: Eers was die Israeliete swerwers, wat in Egipte te lande gekom het maar sleg deur die Egiptenare behandel is. Toe het die Here hulle wonderbaarlik uit Egipte gelei na hierdie land wat oorloop van melk en heuning.

‘n Wonderlike tradisie van baie gemeentes in Afrika is om as laaste deel van die diens ingedans te kom op maat van ‘n kerklied met mandjies vol vrugte en groente. Daarna sit die predikant die mandjies voor die altaar en wy dit aan die Here.

Die Here gee lewensruimte

Die grond van Israel se dankbaarheid is dat die Here vir hulle lewensruimte gee. Vers 5 vertel roerend hoe Israel as Godsvolk gebore is uit die belofte van God aan ‘n rondtrekkende Abraham. God het lewensruimte en ‘n nageslag belowe aan ‘n man wat nie een van die twee gehad het nie.

Deur intense verdrukking heen het God Israel bevry, hulle in die woestyn geleer hoe om Hom te volg en vir hulle spasie gegee. Daaroor moet hulle dankbaar voor die Here leef.

Hierdie dankbaarheid is ingeweef in verskeie temas waaroor ons op ‘n dag soos vandag kan nadink. Kom ons sê daar is veral vier temas:

Een: Blom waar jy geplant is
“Blom waar jy geplant is” is ‘n bekende uitdrukking, en ons teksgedeelte onderstreep dit weer as ‘n godsdienstige praktyk. Ons het almal sekere vaardighede. Party is landbouers en ander veeboere. Party is tuisteskeppers en ander staan in ‘n beroep. Party wil werk, maar moet werk doen waarin hulle nie sin het nie, of het glad nie werk nie. Vir ons almal sê ons teksgedeelte: Gebruik jou vaardighede, of ontwikkel gepaste vaardighede, daar waar jy geplaas is om hulle te gebruik.

En ander van ons ken nie eers ons vaardighede en ons sterkte nie. Christina Landman vertel hoe sy eenkeer lank gelede klas gegee vir ‘n groep vroue by ‘n teologiese skool in Midde-Afrika:

Hulle mans het vir predikant studeer en baie van die vroue kon nie eers lees of skryf nie. Ons kon skaars mekaar se tale verstaan. Maar ons het een ding gehad wat ons aan mekaar gebind het: die Bybel. Ons het almal die mense in die Bybel se name geken. Ons het die simbole in die Bybel geken. Wel, nou nie almal nie, maar genoeg om saam vorentoe te beweeg na ‘n beloofde land.

So praat ek en die vroue toe oor melk en heuning. Melk was daar genoeg, want die vroue het gesit en borsvoed. Melk is ‘n vroulike simbool. Dit gee vroue waardigheid en sterkte. En daar gee dit die vroue toe ook ‘n stem. Want ons begin praat oor die vroue in die Bybel wat ons as rolmodelle kan gebruik. Eers kom Eva te voorskyn wat aan haar kinders name gee. In hierdie vroue se kultuur is dit ook die ma wat die name gee. Eva het vir haar kinders name gegee wat aan God se genade herinner, en nie sy straf nie. So word Eva die eerste mens wat vanuit die sonde opstaan en uitreik na God – God wat vir haar daardie spasie maak. Ons praat lank oor die name wat ons ons kinders gee. Dit maak die vroue sterk. Dis soos heuning in ons monde. En dit terwyl die melk vloei. Ons praat toe ook oor die ander vroue in die Bybel, een na die ander, en dis asof ons daarmee geborsvoed word.

So is God: God gee lewensruimte, God gee gawes, God versterk ons om Hom te dien waar ons lewe. God gee voeding, onskeibaar na liggaam en gees. Dit is vir ons om ons gawes, ons waarde en ons bydrae te ontdek. Ons is dikwels blind daarvoor en maar net vasgeval in roetine.

Twee: ‘n Land wat oorloop
Die tweede tema waaroor ons kan nadink, is: “God beloof ‘n land wat oorloop van melk en heuning.” Nou, miskien het die Israeliete eerder ‘n land verkies wat hoofsaaklik landbougrond was. En nou kry hulle ‘n land wat so wild is dat jy maar soms van melk en heuning – woestynkos – moet leef. En tog belowe God dat jou land sal oorloop. Daar sal altyd kos op die tafel wees.

God se belofte getuig van die gasvryheid van God, en God se passie om ruimte te skep vir mense. Die vernietiging wat God se skepping tref, absolute armoede, verdrukking en lewensverlies val buite God se bedoeling vir God se skepping.

Vir Israel, wat vroeër geen volk was nie, maak God spasie tussen ander volkere in die beloofde land. God is tot vandag die een wat welvaart en oorvloed oopbreek en kanaliseer na mense wat nie het nie. Ons moet God daarin navolg.

Drie: Ons moet ons hande uitsteek
Daar is ‘n derde tema wat saam met die tweede loop: “Kos kom nie vanself op die tafel nie.” God gee die land. God gee die kanse. Maar ons moet ons hande uitsteek. Melk land nie vanself op die tafel nie. Diere moet versorg en gemelk word. Heuning moet gesoek en uitgehaal word, en die bye is kwaai. Die hele ding van melk en heuning . . . dit klink vir my na ‘n soort samewerking tussen God en mens en aarde. ‘n Dankbare vrede maak met die dinge om jou, met wat jy gekry het om te doen en van te lewe.

Vier: Onthou met dankbaarheid
Maar daar is nog ‘n tema hier wat ons nie kan miskyk nie, juis omdat dit vir ons hoop gee in pynlike tye. En hierdie tema is: “Onthou jou lewe met dankbaarheid.” Onthou jou lewe as ‘n dankbare lewe. In die liturgie van Deuteronomium 26:1-11 onthou die spreker sy lewe as dié van ‘n swerwer en ‘n slaaf, en een wat in die beloofde land dikwels net van woestynkos moet lewe. Maar wanneer hy God in die prentjie inbring, onthou die spreker sy lewe ook anders. Dis ‘n lewe van bevryding van slawerny. Hy onthou sy lewe as een wat onder God se skouspel en wonderwerke gelewe is. So kan hy sy lewe as ‘n suksesvolle lewe onthou, ten spyte van al die pyn en lyding. En daarvoor gee hy dankbaarheid.

Lydenstyd

Mens word getref deur die wonderlike aardsheid en dankbare toon van ons teks. Dit laat mens dink aan Koos du Plessis:
Eenvoud is die vreugde van die lewe:
dis gee en neem net wat daar is;
dis dankbaar eet van elke skewe
snytjie brood wat liefde is.

Die Bybel is vol daarvan dat Jesus mens geword, en vir ons gely en gesterf het om vir ons versoening met God en redding te bring. Hy doen dit sodat die aarde alreeds die ruimte vir God se komende koninkryk kan wees. Daarom het die verlossing van sonde alles reeds met ons lewe op aarde te doen.

Selfs al is ons hier nog op reis, leef ons uit die volle goedheid van Christus se volkome verlossing, God die Vader se versorging en die Heilige Gees se leiding.

Dit is die begin van Lydenstyd. Dis ‘n tyd om oor die lewe te besin. En dis tyd om te onthou dat ons ons pad saam met God stap. Dis ‘n pad waarop daar altyd ook maar pyn sal wees en waarop ons dikwels woestynkos sal eet. Maar dis ‘n pad waarop daar altyd ook opstaan sal wees. En daarvoor kan ons dank bring.

Dankbare aanskoue

Ons het verwys na die wonderlike tradisie van baie gemeentes in Afrika om as laaste deel van die diens ingedans te kom op maat van ‘n kerklied met mandjies vol vrugte en groente. Daarna sit die predikant die mandjies voor die altaar en wy dit aan die Here. Die vraag is wat ons hier aan die begin van Lydenstyd het om voor die Here te kom neersit. Dit help ons om reg deur lydenstyd die lydende Here dankbaar te aanskou.

God stuur ons om te leef

Gebed: Matteus 6
Onse Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied,
soos in die hemel net so ook op die aarde;
11gee ons vandag ons daaglikse brood;
12en vergeef ons ons skulde,
soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2,3”

Seën
Die Here het jou lyding op Hom geneem.
Hy was siek
sodat ons gesond kan wees,
Hy het swaargekry
sodat ons nie swaar sal kry nie.
Hy het die straf gedra
sodat dit goed kan gaan met ons.
Hy is met jou en sal jou seën.
Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.