Eerste Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Ons fokus tydens die eerste paar Lydenssondae op die simbole soos aangeraak op Aswoensdag. Vandag fokus ons op die kruis en die doringkroon. In meeste kerke is daar ‘n kruis. Doen moeite om iewers pendorings of spykers te kry en ‘n doringkroon te maak. Kinders word genooi om te voel hoe skerp dit is en iets te ervaar van die pyn wat Jesus vir ons deurgegaan het.

Ander tekste: Genesis 9:8-17; Psalm 25:1-10; Markus 1:9-15

Ander tekste

Genesis 9:8-17
8Verder het God vir Noag en sy seuns gesê: 9“Kyk, Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag 10en met al die lewende wesens by julle: die voëls, die mak diere en die wilde diere by julle, naamlik met al die wilde diere wat uit die ark uitgekom het. 11Ek sal my verbond met julle hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer ’n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.”

12Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ’n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: 13my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, 15sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

17God het vir Noag gesê: “Dit is dan die teken van die verbond wat Ek tot stand gebring het tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

18Noag se seuns wat uit die ark gekom het, was Sem, Gam en Jafet. Gam was die pa van Kanaän. 19Dit was Noag se drie seuns en uit hulle is die hele aarde bevolk.

Psalm 25:1-10
Maak my u weë bekend
25 Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

Markus 1:9-15
Jesus word gedoop
(Matt 3:13–17; Luk 3:21–22; Joh 1:29–34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek
(Matt 4:1–11; Luk 4:1–13)
12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)

14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Fokusteks

1 Petrus 3:18-22
Dit is ‘n voorreg om te ly vir wat goed is
13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.

18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ‘n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ‘n bede tot God om ‘n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. 22Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.

Ekstra stof

1 Petrus 3 – Wees mense wat seën, sodat julle seën as erfdeel kan verkry
Petrus voltooi die vyfde sirkel van sy lering oor geestelike groei in hierdie hoofstuk waarin hy uitspel hoe dit in die huwelikslewe tot sy reg sal kom deur in eerbied en begrip vir mekaar te lewe – vers 1-7.  Ten slotte gee hy aandag aan ‘n paar algemene riglyne – ‘n mens kan dit ook as ‘n sesde sirkel van geestelike groei formuleer –  vir hulle gedrag waarin hy op sekere temas uit die vyf sirkels van geestelike groei uitbrei – vers 8-22.

Regdeur is die voorbeeld van Christus steeds die maatstaf vir geestelike groei in al die verskillende dimensies van hulle verhoudinge met ander mense, uitgedruk met die algemene stelreël: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.” Aan die einde van die hoofstuk raak Petrus ook die impak van die evangelie aan op dié wat reeds dood is.

3:1-7 – Leef in eerbied en begrip vir mekaar in die huwelik
Petrus praat hier in vers 1-6 met getroude gelowige vroue en in vers 7 met getroude gelowige mans.  Waarskynlik was daar in dié geloofsgemeenskappe méér gelowige vroue met “ongehoorsame” mans as andersom, vandaar die meer uitgebreide riglyne vir die getroude gelowige vroue.

Let op dat die veronderstelling hier is dat gelowiges met ander gelowiges moes trou, hoewel Petrus ook implisiet erken dat dit nie altyd só is of kán wees nie.  Hy praat waarskynlik egter nie van uit en uit ongelowiges nie, eerder van “sommige (wat) aan die woord ongehoorsaam is“, hoewel sommige geleerdes die ongehoorsames as ongelowiges wil interpreteer.

Dit is ook interessant om die gelykluidende opdrag van eerbiedgerig aan die gelowige vroue – en respekgerig aan die gelowige mans – raak te sien.

  • In die geval van die vroue word dié eerbied uitgespel met die drie frases: “aan julle eie mans ondergeskik wees“, “saggeaarde en rustige gees“, en “aan hulle eie mans onderdanig wees“.  Dit alles vorm deel van die “rein, eerbiedige leefwyse” waarmee hulle hul mans, selfs wanneer dié aan die woord ongehoorsaam is, moet wen vir die evangelie.  Trouens, hulle sal “sonder ‘n woord gewen kan word deur die manier waaop julle leef.”  Só het Petrus dit ook al uitgespel in die vorige hoofstuk dat: “God wil immers hê dat julle deur goed doen die onkunde van dwase mense stopsit.” (2:15).
  • In die geval van die mans word dié respek in twee frases uitgespel: “begrip toon as die swakker geslag” en “as mede-erfgename van die gawe van die lewe met respek behandel“.  Die woorde wat as die swakker geslag vertaal is, kan ook letterlik as die swakker kruik of swakker vat vertaal word.  Petrus verwys hier waarskynlik nie na enige inherente swakheid in vroue per se nie, maar na die wyse waarop die samelewing na vrouens gekyk het en hulle as minderwaardig teenoor mans, selfs as hulle besitting, beskou het.  Petrus maan hulle dus om, selfs waar die samelewing steeds só ‘n beskouing oor vroue handhaaf, en/of waar sommige van hulle selfs nog só gedink het, hulle hul vroue steeds met respek sal behandel.  Die impak van hierdie respekvolle lewe, word in ‘n groter vrymoedigheid in gebed ervaar: “sodat julle gebede deur niks belemmer kan word nie.

Let ook op dat die aanmoediging dat vroue nie hulle skoonheid in uiterlike dinge moet vind nie, maar in onverganklike innerlike dinge – ‘n “saggeaarde en rustige gees” – nie téén uiterlike skoonheid gemik is nie, maar teen ‘n misbruik of verheerliking daarvan ten koste van innerlike skoonheid.

Dit is ook interessant dat Petrus duidelik uitspel dat vroue nie deur hierdie eerbiedige leefwyse tot ‘n tweedeklas bestaan verdoem word nie, maar opgeroep word om goed te doen: “en julle nie deur enige dreigement te laat afskrik nie.”  Dié eerbied en respek kom dus uit eie keuse in navolging van die voorbeeld van die Here Jesus Christus.

3:8-22 – Laat Jesus Christus die maatstaf vir julle gedrag wees
Petrus vervolg met ‘n hele aantal riglyne vir hulle gedrag in die geloofsgemeenskap sowel as in die breër publieke gemeenskap.  Let op hoe hulle eensgesindheid, meelewendheid, onderlinge liefde, ontferming, nederigheid, vermyding van vergelding sowel as van skeldtaal, opgesom word in die stelreël: “inteendeel, wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.

Hy begrond dié roeping in ‘n aanhaling uit Psalm 34:13-17 waar dit juis die dankbaarheid oor God se beskerming is wat ten grondslag lê van die motivering om kwaadpraat en bedrog te vermy, en te fokus op die doen van die goeie en die najaag van vrede (vgl. my bydrae: Psalm 34 – Dankbaarheid lei tot wysheid).  “Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke.”  Inderdaad!

Petrus herhaal wat hy al voorheen gesê het dat lyding ter wille van wat reg is, geseënd is.  Daarom moet die onkundiges en kwaadwilliges se intimidasie nie gevrees word nie of selfs daaroor ontsteld geraak word nie.  Die regte manier van optrede in enige situasie van intimidasie of ontsteltenis is om in die eerste plek die Here Jesus Christus te eer en om sy wysheid en optrede te vra, terwyl die antagoniste in die tweede plek met beskeidenheid en respek hanteer word.  In die derde plek moet rekenskap gegee word oor die hoop wat in ons leef en in die vierde plek steeds voortgegaan word om goed te doen, selfs al beteken dit lyding.

Petrus maak dus ‘n baie sterk saak uit daarvoor dat om ander te seën en aan te hou om goed te doen, maak nie saak wat die uitdagings of teenstand is wat ‘n mens ervaar nie, te alle tye die regte en aangewese ding is om te doen.  Dit is ‘n baie sterk beklemtoning in sy brief, ‘n boodskap wat ons baie nodig het in ‘n tyd waarin selfgelding en selfverheerliking die botoon in die Westerse samelewing voer.

Dit is immers die voorbeeld van die Here Jesus Christus, soos Petrus al in die vorige hoofstuk uitgespel het, en nou weer doen.  Die Christus het vir hulle (en ons) sondes gely: “Hy die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring.”  Hierin eggo hy dele van Paulus se verkondiging van dieselfde teologie (Rom. 6:10) soos ons dit ook in Hebreërs aantref (Hebr. 10:10).

Hierdie boodskap word aan die een kant in ‘n amper sydelingse kommentaar geteken as iets wat nie net vir die gelowiges van Petrus se tyd betekenis gehad het nie, maar ook vir gelowiges uit die verlede.  “Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig.

Die “geeste in die gevangenskap” word as “daardie geeste” uitgespel wat destyds ongehoorsaam was toe God in Noag se dae geduldig bly wag het terwyl die ark gebou is.  Sommige geleerdes dink dat daarmee na gevalle engele verwys word óf na bose geeste, maar dit maak vir my meer sin dat daarmee na die gestorwe ongehoorsame mense van Noag se tyd verwys word, soos baie geleerdes dit deur die eeue uitgespel het.  Hulle ongehoorsaamheid word immers in Petrus – sowel as in Genesis 6, waarop Petrus se interpretasie berus – spesifiek aan die bou van die ark verbind.  Dit maak dit meer natuurlik om die “geeste in die gevangenskap” met die geeste van die gestorwe mense van daardie tyd te verbind.

Dié interpretasie korreleer dan ook met dié van Hebreërs 12:23 waar van die geeste van gestorwe gelowiges as “die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is” gepraat word.  ‘n Mens kan dus die “geeste van die regverdiges” in Hebreërs vergelyk met, maar ook onderskei  van die “geeste in die gevangenskap” in Petrus.

Wat dié interpretasie verder ondersteun, is dat Petrus in die volgende hoofstuk nog ‘n keer sal verwys na die evangelie wat aan: “hulle wat reeds dood is” verkondig is (1 Pet. 4:6).  Hy dink daar waarskynlik ook aan die geeste van gestorwe gelowiges – dié wat nie in hulle lewe die vervulling van die belofte van verlossing ontvang het waarna hulle uitgesien het nie (Hebr. 11:39-40) – aan wie die Here die evangelie, die goeie nuus, van verlossing gaan aankondig het, sodat hulle steeds die vreugde van verlossing kan beleef, dít waarna hulle uitgesien het, selfs al het hulle reeds die dood ervaar.

Die prentjie wat ons dus uit beide Hebreërs en Petrus hiervan kry, is dat albei hierdie groepe uit die ou bedeling – die “geeste van die regverdiges” en die “geeste in die gevangenskap” – die evangelie ná hulle dood gehoor het.  Die een groep ontvang dit as ‘n boodskap van redding, dié ander nie, op grond van hulle verbintenis en geloof in God terwyl hulle nog gelewe het.  Daar is dus nie sprake van ‘n tweede kans wat ná die dood gegee is nie, net ‘n bevestiging van wat rééds vóór hulle dood van hulle waar was in die vooruitsien van wat God in Christus sou doen, hoe verskuild dié boodskap ook al was (vgl. Hebreërs 11 vir ‘n verdere uitleg daarvan: Hebreërs 11 – Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag).

Dié boodskap van Christus se lyding vir ons sondes het aan die ander kant egter ook ‘n direkte impak op die geloofsgemeenskap vir wie Petrus skryf.  Die doop getuig van hierdie verlossende werk van Christus, en is in ‘n sekere sin die voertuig waardeur ons gered word, soos die ark dit destyds vir Noag en sy mense was.

Daarom kan Petrus dit in sterk taal stel: die doop “red ook julle nou.” Só kragtig is die boodskap van die doop.  Daarom, sê Petrus, kan ‘n mens letterlik jou doop as ‘n “gebedsversoek tot God om ‘n skoon gewete” gebruik, “op grond van die opstanding van Jesus Christus.”  Soos gelowiges reg deur die eeue gedoen het.

Alles is immers aan Hom onderworpe – engele, magte en kragte.  Op Hom kan ons dus nie net vertrou nie, maar ons hele lewe bou, óók in onregverdige lyding.

Boodskap
Petrus verenig hier twee groot tradisies van die OT: God se seën en God se verlossing.

Aan die een kant spel Petrus die implikasies van God se seën uit: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.”  Soos God ons geseën het, moet ons ander ook seën, selfs wanneer ons met dwase en onkundige mense te doene het, selfs waar ons ly onder die boosheid van mense en sisteme.  Die lyding wat ons só ervaar is in die groter prentjie van die lewe van minder belang as ‘n mens dit opweeg teen die ewige heerlikheid van die seën wat vir ons as erfdeel hierna wag.

Aan die ander kant spel Petrus die implikasies van God se verlossing uit: “Die doop dien … as ‘n gebedsversoek tot God om ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus.”  Ons kan dus ook staatmaak op God se bevryding, soos Noag dit eenmaal ervaar het.  God laat ons nooit alleen nie, en sal ons bevry, ook in hierdie lewe, en uiteraard volledig in die lewe wat kom.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die Kruis” vs 1,2,3,4

Aanvangswoord: Seëngroet  1 Petrus 1

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Wet: 1 Petrus 3

Skuldbelydenis

Vryspraak: 1 Petrus 3

Geloofsbelydenis: GELOOFSBELYDENIS AHV KOL 1

Loflied: Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Epiklese 

Skriflesing: 1 Petrus 3:18-22

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: Matteus 6 

Offergawes

Wegsending: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1” (2 of 3 keer)

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

By die aanvang van die erediens kan die Psalmteks vir elke Sondag baie sinvol gebruik word.
As alternatief kan die volgende as aanvang by al die eredienste gebruik word: Gee ruim geleentheid vir stilgebed. Gebruik die gemeente se voorbiddingslys om dié wat nood en lyding ervaar aan die Here op te dra.

Aanvangslied: Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die Kruis” vs 1,2,3,4

Aanvangswoord
Voorganger: Aanskou die Heiland, sien die kruis.
Gemeente: Vir ons het Hy Hom daar laat hang,

Voorganger: die Hemelvors, verag, verguis.
Gemeente: Hy leef, Hy sterf – in ons belang!

Voorganger: Vir al ons skuld het Hy betaal.
Gemeente: Vir ons in helle angs gedaal!

Voorganger: Sy kruis, sy liefde – onbegrens,
Gemeente: ontsluit in ons ’n nuwe mens!

Voorganger: Hom kan ons nou met vreugde dien
Gemeente: in die ruimte deur sy kruis voorsien.

Seëngroet: 1 Petrus 1
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld…
2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Wet: Petrus 3
Dit is ’n voorreg om te ly vir wat goed is.
13Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het. 17As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.

Skuldbelydenis
Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem …
Gemeente: … wees ons genadig!

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem …
Gemeente: … ontferm U oor ons!

Voorganger: Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem …
Gemeente: … gee ons U vrede! 

Vryspraak: 1 Petrus 3
18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

Geloofsbelydenis  ahv Kolossense 1
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En ek glo in die Seun wat die beeld van God is,
van God wat self nie gesien
kan word nie.
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Ek glo Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
Ek glo dat God besluit het
om met sy volle wese in Hom te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Ek glo dat God deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
die vrede herstel het,
en deur Hom alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen het.
Ek glo in die Heilige Gees
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 209 “Heer met my hele hart 1”

Liedere

VONKK 1 “Wees my genadig, hoor tog my smeking”
Psalm 51
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Melodie: ABEL – Abel Jankowitz 2008
Orrelbegeleiding: Colin Campbell 2009
© VONKK 2009 (admin Bybel-Media)
Rubriek: Klassiek / Meditatief  –  Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

1. Wees my genadig, luister hoe smeek ek,
wis uit my skuld, ek het soveel verbrou.
Maak my weer skoon, Heer, witter as sneeu.
Spreek my tog vry in u liefde en trou.

2. Laat my weer vry wees, in U weer bly wees;
nederig buig ek voor U in berou.
Maak nuut my gees, Heer, U wil ek loof.
U wil ek dien en slegs leef in u trou.

VONKK 10 “Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig”
(Tollenaarsgebed)
Lukas 18:13
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: TOLLENAAR – Jannie Hougaard  © en Francé Ludik  © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!
Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: 1 Petrus 3:18-22

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vandag gesels ons oor krone. Konings en koninginne dra soms krone wat iets weerspieël van hulle belangrikheid (verhewe status).
Koningin Elizabeth II van Engeland se kroon is deel van die koninklike juwele. Sy het dit by haar inhuldiging gedra in 1953 en die kroon is spesiaal vir haar kleiner gemaak. Die kroon weeg net meer as 1 kg (toets die gewig met ’n pakkie meel of rys wat 1 kg weeg).

Die raam van die kroon is van goud, silwer en platinum en bevat 2 868 diamante, 273 pêrels, 17 saffiere, 11 smaragte en 5 robyne. Die Cullinan II diamant wat in Suid-Afrika ontdek is vorm deel van die kroon. Aangeheg is ’n foto van die kroon.

Kom ons praat oor Jesus se kroon…

Toe Jesus gekruisig is het soldate vir hom ’n doringkroon op sy kop vasgedruk. Dit moes baie seer gewees het en baie gebloei het. Hulle het met hom gespot dat hy ’n koning is wat ’n kroon moet dra.

Eintlik verdien Jesus ’n kroon met nog meer edelstene as die kroon waaroor ons gesels het. Want Jesus is die seun van God wat vir ons aan die kruis gesterf het.

’n Inkleurprent van ’n kroon is hier beskikbaar.

Preekriglyn

Volgens ‘n ou Christelike tradisie, wat met ons teks verband hou, het Jesus na sy lyding en sterwe aan die kruis die doderyk besoek om sy oorwinning oor Satan, sonde en dood aan te kondig.

Die Anastasis-fresko in die bekende Kariye-museum in Istanbul beeld hierdie besoek uit. Dié museum is eintlik ‘n Bisantynse kerkgebou (die Chora-kerk) met die pragtigste denkbare mosaïekwerk en fresko’s. Die kunswerke kom uit die 13e eeu n.C. Dit is later deur Moslems as aanbiddingsplek gebruik, en het in die 20ste eeu ‘n museum geword. Die kuns het behoue gebly omdat die Moslems dit bedek het. Nadat dit as museum ingerig is, is die bedekking weggeneem om ‘n kosbare kunsversameling bloot te lê.

Anastasis beteken “opstanding”. In die fresko het Christus pas in die doderyk aangekom na sy oorwinning aan die kruis. Hy het die poorte van die dood oopgestoot en platgestamp. Christus tel twee figure, Adam en Evan, uit die doderyk op. Aangrypend word uitgebeeld hoe hy hulle aan hulle polse optel. Self kon hulle nie na Jesus gryp nie, dit is Hy wat hulle optel uit die dood. Op die agtergrond staan ander Ou Testamentiese gelowiges en Nuwe Testamentiese getuies wat die oorwinning van Jesus sien en daarvan getuig. Aan sy voete is ‘n donker massa, die oorwonne Bose en dood.

Jesus is die Een wat Homself ter wille van ons aan lyding en dood onderwerp het, sodat Hy ons kan vrymaak. Sonder dat Hy dit verdien, is Hy verwerp en onskuldig doodgemaak. Dit het Hy gedoen sodat Hy ons uit die dood kon red.

Soos ons teks, is die Anastasis-fresko ‘n belydenis oor Jesus Christus. Die fresko is meer aangrypend as mens onthou dit is geskep in die gedeelte van die kerk waar begrafnisse hanteer is. Die woorde van verse 18 en 19 pas op die lippe van die kunstenaar en die aanskouer:

Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.

Komplekse teks

Ons teks word deur baie teoloë as uiters kompleks en moeilik om uit te lê, beskryf. Die gedagte dat Jesus die doderyk of hel na sy dood besoek het, of dat hy die geeste in die gevangenis” uit Noag se tyd gaan aanspreek het, is moeilik te verklaar. En dit word dan via die ark verbind aan die doop.

Mens kan in jou uitleg maklik op syspore beland. Dit is egter nie die kern van ons teks of die Nuwe Testament se verkondiging oor Jesus nie. Vir ons teks is Jesus die onskuldige Verlosser wat vir ons skuld gely het, sodat Hy ons kan verlos. Hy maak ons vry van dood en boosheid en bring ons in die regte verhouding met God. Sonder dat ons dit verdien. Dit is wat die Anastasis-fresko vier.

Agtergrond

1 Petrus is ‘n brief wat gerig is aan gelowiges wat destyds verspreid gewoon het in die noordelike streke van Klein Asië, vandag Turkye. Uit die brief is dit duidelik dat hulle ter wille van hulle geloof in Jesus Christus ly. Hulle is uitgedryf na die rand van die samelewing omdat hulle nie ingepas het by die Romeinse samelewing se oortuigings en strukture nie. Deels daarom noem Petrus hulle vreemdelinge en bywoners in die wêreld (2:11).

Petrus skryf die brief om hulle te bemoedig en aan te spoor om te bly glo. Soos die inleiding tot die brief in die 1983-vertaling dit stel:

Jesus Christus se dood, opstanding en beloofde wederkoms is hulle vaste fondament sodat hulle kan aanhou glo, hoop en volhard. Hulle word opgeroep om as koninklike priesterdom en ‘n heilige volk getrou te bly aan hulle Verlosser deur wie hulle duur gekoop is. Hulle moet in die Christelike lewenswandel volhard. By die wederkoms van die Here wag daar ‘n beloning vir hulle.

Lyding

Vir hierdie gelowiges beteken volharding in hulle geloof dat hulle gaan ly. Wanneer hulle doen wat reg is, gaan mense hulle vervolg en belaster. Vir die Romeinse staat is hulle ‘n bedreiging omdat hulle nie tot die afgode bid nie. As die afgode teen die staat draai, is daar moeilikheid. Daarom moet die gode tevrede gehou word. Aangesien die Christene nie aan hierdie praktyke deelneem nie, is hulle onpatrioties en ‘n gevaar vir die staat.

In Missionary Perspectives word hulle situasie as volg beskryf:

Excluded from voting and land-holding privileges as well as from the chief civic offices and honours, they enjoyed only limited legal protection, were restricted in regard to inter-marriage and the transfer of property, could be pressed into military service, were free to engage in cultic rites but were excluded from priestly offices, and yet shared full responsibility with the citizenry for all financial burdens such as tribute, taxes and production quotas. Only the citizenry enjoyed full civic rights, while the (alien) residents … were regarded as foreign-born natives, although they might have been born in the city and have grown up there.

Die verse wat ons teks onmiddellik voorafgaan (3:13-17) word die gelowiges aangemoedig om te bly volhard, goed te doen en oor hulle geloof te bly getuig, selfs al ly hulle onskuldig.

Waarom kan hulle dit doen? Omdat Christus, die Onskuldige, vir ons as skuldiges gely het. Christus het die voorbeeld gestel wat ons moet navolg.

Versoening

Die fokus van ons teks is dus Christus, en die werk van Christus. In ‘n paar kompakte woorde word van die mees ongelooflike wonderlike dinge oor Jesus gesê, die Een wat onskuldig vir ons gely het.

Vers 18 beklemtoon dat Christus vir ons sondes gely het, om ons na God te bring. Hy is as mens doodgemaak maar deur die Gees van God lewend gemaak. Dit beteken:

  • Sonde is die faktor wat ons verhouding met God versteur. Christus het Homself geoffer om hierdie sonde weg te neem. Deur Christus kan ons in ‘n herstelde verhouding met God lewe.
  • Christus se dood was plaasvervangend. Hy het gedoen wat ons nie kon doen nie, maar die vrug van sy dood – die versoening met God – word aan ons toegereken. Dit lyk onregverdig dat die onskuldgie vir skuldiges ly. Dit is ‘n misterie. Maar Christus het Homself vrywillig oorgegee sodat daar verlossing kan wees vir skuldiges.
  • Christus se verlossingswerk “bring” ons na God (18). Uit die Ou Testamentiese agtergrond van bv. die tempel weet ons dat daar skeiding is tussen mens en God. Mense kan nie sommer self tot by God nader nie. Ons het ‘n Middelaar nodig wat ons toegang tot God gee. Dit is Jesus. Dieselfde geld die Grieks-Romeinse wêreld van die lesers van 1 Petrus. Ook hier kon niemand toegang tot die koning of heerser kry sonder ‘n tussenganger nie. Daar was so ‘n amp aan die koninklike hof wat toegang tot die koning gereël het. Vir Christene is dit Jesus.
  • Jesus se offer het betekenis, bring ons in die regte verhouding tot God en gee ons toegang tot God omdat God die Vader Jesus se offer aanvaar het. Ons weet dit omdat God Jesus lewend gemaak het na sy dood (19).
Genade vir almal

Verse 19 en 20 is nie so maklik om te verslaan nie. Petrus sê dat Jesus sy oorwinning aan die “geeste in die gevangenis” verkondig het, naamlik diegene wat in Noag se tyd ongehoorsaam aan God gebly het. In 4:6 sê hy dat die evangelie aan die dode verkondig is.

Hoewel die detail moeilik is, is die boodskap helder: Christus se genade is vir almal. Niemand wat nog ooit geleef het, het geleef buite die raamwerk van God se genade in Christus nie.

Die gevaar is dat ons te klein en beperkend oor Christus kan dink. Vir Petrus strek die koningskap van Christus uit oor alle tye en plekke, ook oor dié wat sy volgelinge onskuldig vervolg en verneder.

Dit is egter  nie universalisme nie. Universalisme is die oortuiging dat almal deur Christus gered word. Universalisme is vreemd aan die Nuwe Testament, ook aan Petrus se briewe. Die beste uitleg is om te sê dat Christus se verlossingswerk aan gelowiges wat uit die Ou Testament na God se redding vooruitgesien het, verkondig is. Ook die teenstanders en ongehoorsames hoor daarvan.

Ons moet versigtig wees om nie te ver te borduur met die misterie van Christus se verkondiging van sy oorwinning nie. Ons kan begin spekuleer, en spekulasie bou nie op die historiese feite van Jesus se lewe en sterwe, en die betekenis daarvan vir ons nie. Genoeg om die diepe en grootste misterie van die versoening in Jesus te vier.

Triomf

Terwyl hy verwys na Noag en die ark, wat mense deur water heen gered het, word Petrus aan die water van die doop herinner. Die doop verbind ons aan Christus, die Verlosser. Die band is so kragtig dat ons inderdaad kan sê die doop in Chris in red ons. Dit red ons veral op grond van die opstanding van Jesus, wat – soos sy dood – vir ons is.

Die onskuldige lyding van Jesus namens ons eindig in volledige triomf. Na sy opstanding het Jesus die hemel ingegaan (die dimensie van God) en sit aan die regterhand van God nadat Hy al die engele, magte en kragte aan Hom onderwerp het. Hiervan getuig die Anastasis-fresko so kragtig.

Lydenstyd

Ons oordink hierdie teks vandag aan die begin van Lydenstyd.

Op ‘n gepaste manier bring Petrus Jesus se lyding met ons eie lyding in verband. Hoewel die meeste van ons nie meer – soos Petrus se eerste lesers – van owerheidsweë ly ter wille van ons geloof nie, dink ons vandag aan miljoene Christene wat ly omdat hulle Jesus volg. Die lyding vererger. Meer Christene is in die 20ste eeu vir hul geloof vervolg as in al die voorafgaande eeue.

Dit pas dat ons in lydingstyd Sondag vir Sondag aandag gee aan die lydende kerk van ons dag.

Soedan

Vandag bid ons vir Soedan, ‘n land in die noorde van Afrika. Geopende Deure beskryf die situasie as volg:

Vervolging in die land is sistematies en dit herinner aan etniese reiniging. Onder die outoritêre regering van Omar al-Bashir en sy party is daar geen ware regsoewereiniteit in Soedan nie; vryheid van uitdrukking is byna heeltemal beperk. Die etnies-kulturele landskap is gekompliseerd en bring verdeeldheid: Arabiere teen Etniese Afrikane, Moslems teen Christene. Histories is Islam diep gewortel in Soedan se samelewing en die regering implementeer ʼn streng een-geloof, een-kultuur en een-taal beleid, wat lei tot die vervolging van Christene. Arrestasie, aanvalle en moorde teister alle Christengemeenskappe in die land, veral die wat in die streek van die Nubaberge woon.

Ons omgewing

Ons dink ook aan ander vorme van lyding:

  • Gesinsgeweld
  • Rassisme en vooroordeel
  • Armoede – van mense wat in die spiraal van armoede vasgevang is tot mense wat hul finansiële voorsorg deur skelmstreke en bedrieërs verloor
  • Liggaamlike siekte, lyding en aftakeling.
  • Eensaamheid

Lyding roep by Christene altyd aksie op. Ons wil nie lyding aanvaar nie, maar dit – tereg – bekamp.

Vandag is ons fokus egter op Jesus, die Een wat onregverdig gely het, sodat ons in ‘n verhouding met God kan leef en die belofte van ‘n heerlike toekoms met God het. Lyding het nie die laaste woord in die wêreld se geskiedenis nie. Die vrug van Jesus se lyding en sy opstanding – wat ons en ons wêreld se opstanding waarborg – spreek die laaste woord.

Aangesien ons Christus voor oë hou, word ons nie deur lyding en swaarkry ontspoor nie.

God stuur ons om te leef

Gebed: Matteus 6
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
11gee ons vandag ons daaglikse brood;
12en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 177  “Jesus groót bo almal vs1” (2 of 3 keer)

Seën
Die Here het ons geseën en tot ons redding verskyn. Die Here het sy aangesig oor ons laat skyn en was ons genadig. Hy het ons gebede verhoor en aan ons sy vrede kom gee!
Hy het ons lyding op Hom geneem. Ons siekte het Hy gedra . . . Hy was van God verlaat, sodat ons vir ewig in sy teenwoordigheid kan wees. Hy het die dood oorwin sodat ons die ewige lewe kan hê.
Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader; van die Here Jesus Christus, ons Here en die Helige Gees, ons Trooster en Leidsman.
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.