Eerste Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks vir hierdie Sondag is die Lukasevangelie se weergawe van Jesus se versoeking in die woestyn waar Jesus keer op keer afhanklikheid van God verkies. Die Deuteronomiumteks gaan ook oor ’n bewustheid dat die Israeliete in afhanklikheid van God lewe en die Beloofde Land een van God se seëninge is. Die psalmteks herinner dat God die digter se toevlug en beskermer is en is ook een van die tekste wat aangehaal word in die versoekingsnarratief.

Die Romeineteks dui op die omvattendheid van God se redding en genade en dat dit vir enigiemand vrylik beskikbaar is.

Ander tekste

Deuteronomium 26:1-11
Die eerste opbrengs van die oes
26 “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit en jy daarin woon, 2moet jy van elke eerste oes wat jy insamel in die land wat die Here jou God aan jou gee, ’n deel vat en dit in ’n mandjie sit en daarmee na die plek toe gaan wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. 3Jy moet na die priester toe gaan wat in daardie tyd daar sal wees, en vir hom sê: ‘Ek verklaar vandag voor die Here u God dat ek gekom het in die land wat die Here met ’n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’4Dan moet die priester die mandjie by jou vat en dit neersit voor die altaar van die Here jou God.
5“Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My vader was ’n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy ’n groot, sterk en talryke nasie geword. 6Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen. 7Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep, en Hy het ons gehoor. Hy het ons ellende en ons swaarkry raakgesien en gesien hoe ons verdruk word. 8Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek deur magtige dade, kragtige groot dade wat vrees ingeboesem het, tekens en wonders. 9Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. 10Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’ Dan moet jy dit neersit in die teenwoordigheid van die Here jou God en Hom aanbid. 11Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon.”

Psalm 91:1-2, 9-16
Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind
91 Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”

3Dit is Hy wat jou
uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte.
4Hy beskut jou onder sy vleuels
en is vir jou ’n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5Jy hoef nie bang te wees
vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag,
6vir pes wat in die donker toeslaan
of vir siekte wat helder oordag
verwoesting saai nie.
7Al val daar duisende langs jou,
tienduisende by jou,
vir jou sal niks tref nie.
8Met jou eie oë sal jy sien
hoe die goddelose gestraf word.

9Omdat jy die Here as skuilplek
geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek
kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet
teen ’n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy dood trap.
14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Romeine 10:8b-13
En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”
12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Fokusteks

Lukas 4:1-13
Die versoeking van Jesus
(Matt 4:1–11; Mark 1:12–13)
4 Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was.
3Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.”
4Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie.”
5Daarna bring die duiwel Hom op ’n hoogte en wys Hom in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld. 6Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”
8Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid
en Hom alleen dien.”
9Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: 10“As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe:
Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm,
11en ook:
Op hulle hande sal hulle jou dra
sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal
stamp nie.”
12Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
13Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus ’n tyd lank met rus gelaat.

Ekstra stof

Jesus tree op in die krag van die Heilige Gees
Waar Lukas na Jesus as “vol van die Heilige Gees” verwys net voor Hy die woestyn in is, skets Lukas die begin van Jesus se bediening as in die “krag van die Heilige Gees” (4:14-15). Dit is nogal betekenisvol. Niks van betekenis gebeur sonder die werk van die Heilige Gees nie.

Die toetsing in die woestyn vorm Jesus se bedieningsfokus
Dit is verstommend hoe deurslaggewend die versoekingsgebeure in die woestyn in werklikheid is. Dit was juis in hierdie versoekingsgebeure – waarvan net ’n paar fasette vir ons weergegee is met die drie groot versoekings waarvoor die duiwel Jesus gestel het – dat Jesus se bedieningsfokus gevorm is.

Telkens kan ’n mens die ervarings in die woestyn as’t ware geëggo sien in die woorde en optredes van Jesus, sommige duidelik, en ander meer vaagweg:

  • Met die optrede in Nasaret (4:16-30) verwys Jesus na ‘n hongersnood in Israel se geskiedenis – iets wat Hy so pas nou proefondervindelik in die woestyn ervaar het. En Hy spel uit – in ’n duidelike sinspeling op sy eie bediening – dat Elia na ‘n weduwee in Sarfat gestuur is, en nie na iemand in Israel nie. Die boodskap is duidelik – Jesus is geroep om ’n impak te maak ver buite die grense nie net van sy tuisdorp nie, maar ook van sy tuisland.
  • Die weiering van Jesus (4:42-44) om in een plek vasgevang te word, selfs op groot aandrang van die plaaslike mense, en te begin om ook ander dorpe te besoek, demonstreer dat sy visie inderdaad is om die koninkryke van die wêreld te verower, maar nie op die eenvoudige kortpad-manier wat die duiwel Hom aangebied het nie. Dorpie vir dorpie sal die evangelie die koninkryk laat kom.
  • En ’n mens sou uit die weiering van Jesus om van die tempel af te spring, kon dink wonderwerke is per definisie uit. Maar gelukkig nie! Op verskillende wyses demonstreer Jesus God se mag, in genesings en bevrydings, sowel as ‘n wonderlike visvangs waarmee Hy sy dissipels inkatrol om Hom te volg.

Dit is ook interessant hoe Jesus se 3 versoekings met van die bedes van die Ons Vader verband hou.

  • Die versoeking rondom brood hou met die bede vir ons daaglikse brood verband.
  • Die versoeking rondom aardse koninkryke hou met die bede om God se koninkryk en sy Naam verband.
  • Die versoeking rondom uitdagende optrede hou met die bede om God se wil verband.
  • In sy geheel hou die episode in die woestyn met die bede om bewaring van versoeking deur die Bose verband.

Dit antwoorde van Jesus is net so belangrik, omdat dit telkens uit Deuteronomium is, wat deel van die wetboek gevorm het, die hart van die OT. Daaruit sien ’n mens ook dat die fout nie lê in die ding wat jy van God vra nie, maar in die motivering daarvoor (Jak 4:1-10). ’n Versoek word met die verkeerde motivering ’n versoeking – en daarteen moet ons waak.

Dit leer ‘n mens ook dat gebed en die Woord die kern van ’n standvastige bediening en lewenstyl is. Die kontak met God bewaar ‘n mens van die versoekings, beide in ’n aanroep van Hom in nood, en in ’n luister na Sy Woord. ’n Mens sien hier dat die Woord reeds vir Jesus ’n huis was om in te woon – so gemaklik kon Hy die duiwel daaruit antwoord!

Terloops, Lukas gebruik ‘n ander orde vir die laaste twee versoekings as in Matteus, waarskynlik om die laaste versoeking wat by die tempel plaasgevind het, te beklemtoon. Dit hang ook saam met ’n beduidende skuif wat in Lukas-Handelinge merkbaar is, dat waar die tempel nog ’n baie belangrike rol speel in Lukas en die begin van Handelinge – as die plek waar God Homself openbaar – dit in die verloop van die verhaal van Handelinge al hoe meer skuif na die huise van gelowiges – as die plek waar God Homself openbaar.

Meer inligting oor Satan en demone
Ietsie meer oor die Satan en demone.

Hoewel die angelologie (leer van die engele) en die demonologie (leer van demone) nie as ‘n deeglike uitgewerkte sisteem in die Skrif voorkom nie, word die bestaan van die engele, demone en die duiwel deur die Skrifboodskap eenvoudig as ‘n werklikheid aanvaar.

Daar is byvoorbeeld geen sprake van ‘n dominerende rol wat hulle sou speel nie. Die enigste bestaansruimte wat hulle het, is een waarin hulle as ondergeskik aan Jahwe geteken word – die engele in die teenwoordigheid van God en die demone meesal weg van sy teenwoordigheid op die aarde en onder die aarde.

Havilah Cunnington beskryf Satan as ‘n engel met ‘n “God complex”. Die enigste mag wat hy besit, het hy van God gekry. Die Satan is dus nie ‘n gelykwaardige opponent van God nie.

Veral demone het in die Ou Testament ‘n totaal ondergeskikte plek gehad as dit vergelyk word met hulle rol in ander godsdienste. Daar is byvoorbeeld geen duidelike geval van duiweluitdrywings of bevrydingspraktyke in die Ou Testament nie.

Die bestaan van bose geeste word erken sonder om te veel daarvan te maak.

  • Ons lees byvoorbeeld van Dawid wat vir Saul op die lier gespeel het toe ‘n bose gees – deur God gestuur! – hom ontstel het (vgl 1 Sam 16:14vv), sonder dat die duiwel uitgedryf is;
  • in 1 Konings 22:21-22 kry Miga ‘n visioen van ‘n gees wat aan God voorstel dat hy ‘n leuengees word, wat Agab so ver moet kry om na die oorlog te gaan om te sneuwel, sonder enige betrokkenheid van mense in die proses
  • soms is ‘n bose gees eerder ‘n aanduiding van ‘n slegte gesindheid wat tussen mense veroorsaak word – op gesag van die Here! Hy stuur vyandskap tussen samesweerders om hulle en hulle planne te ontwrig (Rigt 9:23 – Abimelek versus Sigem).

Een van die redes vir dié onderbeklemtoning kan gevind word in die Joodse monoteïstiese oortuiging dat Jahwe alleen God is en dat alles aan hom ondergeskik is. Daarom is demone en bose geeste op die periferie van die lewe en is die bediening van bevryding doodgewoon nie nodig nie. Elke Israeliet wat voor die aangesig van Jahwe gelewe het, was onder sy beheer. Selfs die min kere dat die Satan op die toneel verskyn, is hy volledig gebonde aan die besluit en wil van Jahwe (vgl Job 1).

Dit kontrasteer skerp met die leefwêreld van Mesopotamië, Babilonië en selfs Kanaän, waar die geestelike wêreld en sy invloed ‘n baie reële en konstante werklikheid vir mense was. Amulette wat mense teen bose geeste kon bewaar, offers aan ‘n verskeidenheid van gode en verskillende towerspreuke of beswerings (“incantations”) deur dreunsang (“chants”) gewoonlik deur priesters, was deel van die alledaagse wyse waarop mense hulle teen bose geeste beskerm het.

Demone is egter ‘n noodsaaklike konteks vir die verstaan van die werk van Jesus. Satan en sy ryk word geteken as die verpersoonliking van alles wat boos is (sonder om die menslike vleeslikheid en die “mag” van die sonde te verskoon) wat ‘n noodsaaklike konteks vorm waarbinne die evangelie van die kruis en Jesus Christus se oorwinning oor die dood verstaan moet word.

Die erkenning van die Satan en sy ryk het egter nie beteken dat die prominente praktyke van die Hellenistiese tydvak (waarby die Jode ook betrokke was) om die invloed van duiwels deur toorkuns te bekamp, op enige wyse ‘n neerslag gevind het in die wyse waarop Jesus en die kerk opgetree het nie. Jesus dryf duiwels uit bloot met ‘n gesagvolle woord (Luk 8:29; Mark 1:27; 9:25), selfs wanneer Hy nie eers teenwoordig is nie (Matt 15:22-28; Mark 7:24-30). Sy woorde was voldoende, sonder dat Hy ‘n ritueel van een of ander aard moes benut.
Dieselfde geld die boek Handelinge. Die apostel Petrus bestraf Simon die towenaar, wat moontlik gedink het dat hy deur die gawe van die Heilige Gees sy besweringspraktyk kan uitbou (Hand 8). Petrus dryf nie eers ‘n duiwel uit Simon nie, maar roep hom onomwonde op tot bekering en gebed tot God! Paulus dryf wel duiwels uit, maar eers onder groot provokasie! (Hand 16:18).

Dit wil wel blyk dat een van die redes waarom daar soveel minder in Handelinge en die briewe van die Nuwe Testament oor demone en hulle uitdrywing gepraat word, ‘n skuif van direkte magskonfrontasies na “truth encounters” is. Die begrip en toepassing van die waarheid het ‘n belangriker rol begin speel as die weg tot ware vryheid (vgl reeds Jesus se eie klem daarop in Joh 8:31 vv).

Tog beteken hierdie skuif wat in die Nuwe Testament merkbaar is nie dat die werklikheid van demone en die duiwel ontken is nie. Veral in Openbaring word weer helder op die apokaliptiese betekenis van demone ingegaan. Feit bly staan dat die duiwel se werk erken word.

En dis juis hierdie duidelike erkenning van die werklikheid van die duiwel en demone wat in skerp kontras staan met die moderne siening dat demone deel is van die premoderne Bybelse sisteem en nie meer vandag geldig is as ‘n verklaringsbeginsel nie. Die Bybel se demonologiese beskrywings word gevolglik deur ‘n rasionele verklaring van die onderskeie verhale en fenomene ontken met die gebruikmaking van wêreldbeskoulike argumente.

Aan die een kant is dit natuurlik só dat nie alle “premoderne” mense geglo het aan die heersende interpretasies van die bo-natuurlike, die liggaamlike opstanding of die bestaan van geeste en engele nie. Vergelyk die rusie tussen die “sekularistiese” Sadduseërs – wat volgens Handelinge 23:7-8 nie aan bonatuurlike wesens geglo het nie – en die Fariseërs wat wel aan hulle geglo het.

Maar belangriker as dit is die implikasie wat só ‘n ontkenning vir die res van die Bybelse boodskap en geloof inhou.

1. Die beskrywing van Jesus se bediening op aarde, sowel as dié van sy dissipels, speel af in die konteks van ‘n stryd met en bevryding van demone.
Indien die demone verklaar sou word as psigologiese en/of sosiologies-gekondisioneerde afwykings (taboes), moet die ervarings wat mense van bevryding gehad het, ook psigologies en sosiologies verklaar word – ‘n anakronistiese poging wat ‘n hedendaagse paradigma van toepassing probeer maak op gegewens uit die verlede.

Psigologiese en sosiologiese veranderinge gebeur egter nie sonder die inskakeling van die bewussynsprosesse van die individu of groep nie. Selfs in hipnose as terapie is die medewerking van die kliënt noodsaaklik en kan geen verandering bewerk word sonder dat dit kongruent is met die verwysingsraamwerk van die kliënt nie.
In die evangelies gebeur duiweluitdrywing meestal eenvoudig met ‘n gesagvolle woord (Matt 17:18; Luk 9:42). ‘n Psigologiese of sosiologiese verklaring van bevryding kan dus moeilik rasioneel verdedig word.

2. Die bediening van Jesus was verder gekenmerk deur die wonders van genesing, wonderbaarlike voorsienings (vermeerdering van die brood) en selfs opwekkings uit die dood (Matt 9:25; Joh 11) as bevestigende tekens van die boodskap van die evangelie.
Dit ís so dat sommige van die toestande wat Jesus genees het simptomaties met ‘n vorm van epilepsie verbind sou kon word. Maar die genesing daarvan sonder om van een of ander farmaseutiese behandeling gebruik te maak, is moeilik verklaarbaar sonder ‘n aanvaarding van die moontlikheid van wonders.

Siektes soos melaatsheid is nooit as demonies geïnterpreteer nie en die genesing daarvan ook nie as demoniese uitdrywing hanteer nie. Die genesing daarvan met slegs ‘n woord van Jesus, kan moeilik anders geïnterpreteer word as dat dit ‘n wonderwerk was – om nie te praat van ‘n opwekking uit die dood nie.

Wonderwerke kan gevolglik net ontken word as die konkrete gebeure van die genesing as sodanig ontken word. Dit kan egter ook net gedoen word na aanleiding van die sekulêre opvatting van die modernisme dat slegs dit wat in die hede as werklik ervaar kan word, in die verlede kon gebeur het.

3. Indien die bestaan van demone en engele ontken word, kan die bestaan van God en die Heilige Gees moeilik volgehou word.
Die rede hiervoor is dat die bestaan van God nie berus op rasionele of empiriese argumente nie, maar op die getuienis van die Bybel. Ook die getuienis oor God uit die algemene openbaring (skepping en geskiedenis) bied as sodanig geen empiriese basis vir geloof nie. Dit wil sê, dit is ‘n geloofs- en belydenisstandpunt.

Indien die demone en engele se bestaan dus op grond van rasionele argumente betwyfel word – dat daar ander verklarings vir hulle werkinge is en dat hulle nie empiries waargeneem kan word nie – moet dieselfde ook vir die bestaan van God geld. Daar is ander verklarings moontlik vir die werk wat die Bybel sê Hy doen, want Hy kan ook nie empiries waargeneem word nie.

Aan die ander kant is die beskrywings van demone en duiwels in die Bybel so sober en sonder sensasie dat die werk van die duiwel ook nie oorskat mag word nie. Dit bring veral ‘n korreksie op die perspektiewe uit die kringe waarin die Bybelse gegewens gereeld ondergeskik gestel word aan die ervarings wat moderne geestelike oorlogvoerders opdoen en waar hulle ervarings uiteindelik beslissend hulle teologiese raamwerke bepaal. Jakobus sê immers dat die duiwel wegvlug van ‘n knielende mens wat biddend teen hom weerstand bied (4:1-10)!

Die Skrif waarsku juis dat die duiwel sowel ‘n brullende leeu (1 Pet 5:8) as ‘n engel van die lig is (2 Kor 11:13). Misleiding lê waarskynlik beide in ‘n ontkenning van die bestaan van die duiwel én in ‘n oorskatting van sy werk – soos C S Lewis al gewaarsku het in sy populêre boekie The Screwtape Letters. As alles demonies is, is niks werklik demonies nie! Aan die ander kant: as jy niks demonies ervaar nie, kan jy nie met gesag op grond van jou of ander se gebrek aan ervaring ‘n uitspraak maak oor die bestaan al dan nie van demone nie.

Daarom kan ons die evangelies navolg in die beskrywing van die Satan as ‘n werklike, persoonlike geestelike en geskape wese. Dieselfde geld demone.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: (uit Ps 91:1-2, 9-11, 14-16, BDV)

Seëngroet: (Uit 1 Petrus 1:1-2)

Sang: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Verootmoediging: Romeine 10:8b-13

Lied: 393 “Middelpunt van ons verlange 1,4” (sittende)

Geloofsbelydenis: (Filippense 2:5-11)

Loflied
Lied 182 “Ons wil o Heer U loof en eer vs 1,2,3” en/ of
Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3″

Epiklese

Skriflesing: Lukas 4:1-13

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 509 “Op berge en in dale vs 1,2,3,4”

Seën: Numeri 6:24-26

Antwoordlied: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: (uit Ps 91:1-2, 9-11, 14-16, BDV)

Voorganger: Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, hy wat in die skaduwee van die Almagtige oornag, sê vir die HERE:
Gemeente: My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!

Voorganger: Ja, U, HERE, is my skuilplek!
Die Allerhoogste het jy jou woning gemaak:
Onheil sal jou nie tref nie en ’n plaag sal nie in jou tent kom nie, want Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie.
Gemeente: My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!

Voorganger: Omdat hy aan My toegewy is, sal Ek hom  bevry;
Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken. As hy My aanroep, sal Ek hom antwoord; Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee. Met ’n lang lewe sal ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.
Gemeente: My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!

Seëngroet: (Uit 1 Petrus 1:1-2)
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon …
2Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! Amen

Sang: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Verootmoediging: Romeine 10:8b-13
En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”
12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Lied: 393 “Middelpunt van ons verlange 1,4” (sittende)

Geloofsbelydenis: (Filippense 2:5-11)
Ons glo in God die Vader van ons Here Jesus Christus,
Hy wat in die gestalte van God was,
maar sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou het
as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie.
Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja die dood aan die kruis.
Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde is
die knie sal buig
en elke tong sal erken:
“Jesus Christus is Here!”
Ons glo in die Heilige Gees
wat dieselfde gesindheid in ons bewerk
wat daar in Christus Jesus was.

Loflied
Lied 182 “Ons wil o Heer U loof en eer vs 1,2,3” en/of
Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Liedere

F310. “Hierdie Donker Uur (Die Daniël Lied)”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Geloof & Vertroue)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© 2008 Urial Publishing
(Opgeneem op “Duisende Daniëls Aanbid” & “Ons Koning kom!”)

Hierdie donker uur
Wys die skrif aan die muur
En die tekens van die tyd
Roep dit uit, roep dit uit
Wie sal staan, wie sal skreeu
Teen die onheil van die eeu
Wie sal kniel met die hart van ’n leeu?

Net voor U sal ek val
Net vir U sal ek staan
Vir u woord, vir u lig
Voor u aangesig
Ek sal veg, ek sal staan
Al sou alles vergaan
Maar voor U, net voor U, my God,
Sal ek val

En die woorde teen die muur
Sê ek staan voor ’n vuur
Sal ek staan, sal ek val,
Sal ek dankbaar deur die dal
Steeds net een Naam besing
En my hart vir U bring
Nog in reinheid pleit
Vir verandering

Net voor U sal ek val
Net vir U sal ek staan
Vir u woord, vir u lig
Voor u aangesig
Ek sal veg, ek sal staan
Al sou alles vergaan
Maar voor U, net voor U, my God,

Sal ek val
Sal ek val
Sal ek val
Sal ek val

Flam 16.” Ek Kyk Op Na Die Berge”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Braam Hanekom
© 1993 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kyk op na die berge.
O, waarvandaan kom daar hulp vir my?
My hulp kom van die Here.
Hy’t hemel en aarde gemaak.

Refrein:
Hy sal nie toelaat dat jy val nie.
Hy sal nie toelaat dat jy swig,
want Hy sluimer of Hy slaap nie;
Hy laat jou veilig wandel in die lig.
Hy laat jou ewig wandel in die lig.

2. Bedags sal die son jou nie steek nie,
en snags sal die maan jou nie bedreig.
Hy sal jou uitgang en jou ingang
beveilig, beskerm en bewaar.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God,
ons kom staan voor U
met ons eie gebrokenheid,
met die gebrokenheid van die wêreld
en die gebrokenheid van die ganse skepping.
Ons kom staan voor U en voor u Woord
met die gebed dat U met ons sal praat
en dat u Woord ons sal heelmaak.
Ons bid dit in die Naam van ons Here Jesus Christus
wat gebreek is
sodat ons kan lewe. Amen.

Skriflesing: Lukas 4:1-13

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Help die kinders om hulself in Jesus se situasie in te dink. Wys prentjies van ’n woestyn. Wys dalk ’n klip en ’n varsgebakte broodjie wat baie lekker lyk en vra of hulle dink dat dit vir Jesus moeilik was om nee te sê vir die duiwel as hulle na die woestyn, die klip en die brood kyk.

Vertel vir die kinders dat God altyd goed na ons sal kyk al voel dit asof ons in ’n slegte plek soos die woestyn is. Jesus wys vir ons dat ons altyd moet vertrou op God al lyk ander dinge lekkerder (soos die brood teenoor die klip).
of
’n Versoeking is… ’n Versoeking is nie…

Watter van die volgende is waar van versoekings?
Versoekings is sonde (onwaar)
Versoekings is swakheid (onwaar)
Versoekings is jou skuld (onwaar)
Versoekings is aan almal (waar)
Versoekings is boos (onwaar)

Watter van die volgende is versoekings en wat nie?
Poeding na ete, om iets te vat wat nie aan jou behoort nie, om te jok as jy in die moeilikheid is, sjokolade in ’n bakkie, om ’n geheim te verklap, om ja te sê as iemand jou vra om iets lekkers saam met hulle te doen.

Net dit wat onderstreep is, is regtig versoekings:
Poeding na ete, om iets te vat wat nie aan jou behoort, om te jok as jy in die moeilikheid is, sjokolade in ’n bakkie, om ’n geheim te verklap, om ja te sê as iemand jou vra om iets lekkers saam met hulle te doen. Die ander sou ons gewoonlik sê, is versoekings, maar dis nie waarvan Luk 4 praat nie.

Wat is ’n versoeking?
Die verskil tussen besoek en versoek verduidelik dit mooi: as iemand jou besoek of iemand jou versoek. As iemand jou besoek kom hulle na jou toe, as iemand jou versoek moet jy in beweging kom.

Baie mense dink versoekings is sonde, maar dis net verkeerd as jy in beweging kom na die versoeking/ vir die versoeking val.

Luther het mos gesê: “Ek kan nie help dat daar voëls oor my kop vlieg nie – ek kán help as hulle op my kop wil nesmaak.”

Daar was eenkeer ’n Arabier wat deur ’n woestyn moes reis met sy kameel. Dwarsdeur die warm dag het die kameel geduldig die Arabier se goed gedra. Bedags is dit vreeslik warm in die woestyn, maar snags word dit weer baie koud daar. Toe die son dus sak, het die Arabier alles afgepak, vir die kameel kos gegee en vir homself ’n klein tentjie opgeslaan.

Daardie nag was dit ekstra koud. Selfs die kameel het buite die tent gelê en bibber van die koue. Naderhand staan hy op en staan en kreun en steun by die tentklap. Die Arabier word wakker van die geraas en sê kwaai: “Bly stil, jou ellendige kameel. Jy hou my uit die slaap met jou gekerm!”

“Ag baas, ek sterf van koue hier buite. Hoor net hoe klap my tande op mekaar. As jy nie help nie, is ek môre morsdood verkluim en wie gaan dan al jou goed deur die woestyn dra?” vra die kameel.

“Ek kan tog niks doen nie,” sê die Arabier. “Jy kan,” sê die kameel. “Laat my net toe om my neus by jou tentklap in te steek. As ek die warm lug in jou tent kan inasem, sal my lyf seker warm word.”

“Nou goed,” sê die Arabier en maak die tentklap oop – net groot genoeg vir die kameel om sy neus in te steek. Net toe die Arabier weer aan die slaap wil raak, begin die kameel weer kerm: “Dit help niks. Ek sal my hele kop moet insteek. Maak asseblief die tentklap groter oop.”

Die Arabier kruip met ’n sug uit sy warm komberse uit en maak die tentklap groter oop. Die kameel steek sy kop en nek in.

’n Rukkie later begin die kameel weer kerm: “My grootbaas, my lyf is besig om hier buite te vries. As ek net my voorlyf kan inbring, sal dit help om my agterlyf warm te maak. Maak asseblief die tentklap groter oop.”

Weer staan die Arabier op en maak die tentklap groter oop. Die kameel tree met sy voorpote tot in die tentjie. Toe sy voorlyf eers in is, staan hy nie stil nie. Hy kry ’n duiwelse grinnik om sy bek en loop met sy hele lyf tot in die klein tentjie.

“En wat vang jy nou aan?” vra die Arabier boos. “Jy kan mos sien hier is nie plek vir ons al twee nie”! “As daar net vir een van ons plek is, moet jy maar uit” sê die kameel. “Ek moet môre die hardste werk”. “Ek is die baas hier, “skreeu die Arabier boos. “Is jy?” vra die kameel en trek sy lippe op sodat die Arabier sy gevaarlike, lang, geel tande kan sien. Die Arabier weet baie goed wat dit beteken: As hy nie vinnig padgee nie, gaan die kameel hom byt. Hy gryp sy kombers en vlug by die tentdeur uit.Toe hy buite in sy kombers sit en bibber van die koue, dink hy: “En dit alles net omdat ek toegelaat het dat die kameel sy neus by my tent insteek!”.

TOEPASSING: Kinders, met sonde gaan dit so. As ek eers een sonde in my lewe toelaat, word dit makliker om nog toe te laat. En netnou is my hele lewe vol sonde. In ons lewens is daar nie plek vir die Here Jesus en die duiwel nie, want die duiwel bring altyd baie sondes met hom saam. Die beste manier om dus saam met Jesus teen die duiwel te stry, is om teen die sonde te stry. Moenie eers ’n ou klein leuentjie vertel of net een ou klein lekkertjie by die kafee vaslê nie. Vandag is dit dalk ’n grap, maar môre begin ek groter leuens vertel of groter goed steel. En netnou sit die ou duiwel in my hart en is daar geen plek vir die Here Jesus nie.

WENK: Hou ’n rolle spel van die kameel storie. Gebruik drie volw/kinders. Een is die Arabier (trek so aan, gebruik mombakkies); twee maak saam die kameel uit (’n kussing op elkeen se rug vasgebind vir die kameel se hobbels; ’n kombers bo-oor vir die lyf en die voorste kind hou die kop-en-nek vas). ’n Tent of laken oor ’n gespande tou as tent (twee persone kan die tou vashou as dit nie gespan kan word nie.)

Preekriglyn

Ek wil vandag met julle praat oor versoekings.

Maar, ek wil nie soseer praat oor gewone versoekings nie. En jy kan nou maar aan enige ding dink wat jy op ‘n daaglikse basis mee worstel. Wat jy kyk, wat jy doen, wat jy dink, saam met wie jy dit doen, en waar jy dit doen. En dit sal baie keer met die drie kern versoekings van die Christelike lewe te make hê: morele goed, gierigheid en mag. En ek sou baie daaroor kon sê, maar ek gaan juis nie.

Ek sal ook kon praat oor die versoeking wat vandag in ‘n post-waarheid samelewing bestaan om doelbewus met halwe waarhede te werk, nie met blatante leuens nie maar met gedeelde waarhede en leuens. Jy kan maklik wegkom as jy uitgevang word, want jy kan net sê jy is verkeerd aangehaal. Soos Oscar Wilde op ‘n keer gesê het, dit is die verbeeldingrykes onder ons wat ver kom, maar as jy nie goed kan lieg nie, praat dan maar die waarheid. Ons sien hoe dit in die media en in die politiek uitspeel. Jy kan amper niks meer glo as jy dit nie self navors en probeer om die kloutjie by die oor te kry nie.

Maar ek wil nie oor gewone versoekings praat nie. Ek wil ook nie oor die media en die politiek praat nie. Ek wil oor jou lewe met God praat. Ek wil praat oor die feit dat jou grootste uitdaging is om die Here te volg in alles wat jy doen en dink .. of juis nie. Ek wil praat oor die versoeking van ongeloof en ongehoorsaamheid in plaas van vertroue en volharding op die pad wat die Here vir jou wys.

Ek wil praat oor die uitdagings waarvoor dié pad met God jou plaas. Dit sluit baie keer alleenheid in die woestyn in waar jy moet besluit of jy die pad met die Here gaan loop, al is daar geen ondersteuning nie, net jy en jou geloof in die Here.

Ek wil vir jou vaste kos gee vir die lewe wat jy met God moet loop, sodat dit nie later blyk dat jy vasgeval en in ongeloof en ongehoorsaamheid agter gelaat is nie. Dat jy dit wat vir jou die kosbaarste is, jou geloof in God, versaak en die pad byster geraak het nie.

Afvalligheid is ‘n groot gevaar as ‘n mens jou nie doelbewus oefen in geloof en gehoorsaamheid nie.
En ek wil die beste voorbeeld gebruik as motivering, die voorbeeld van die Here Jesus self, toe die Gees Hom die woestyn in gelei het om versoek te word.

Lees Lukas 4:1-13

Jesus gesterk deur versoekings
Jesus het so pas die wonderlike ervaring gehad dat Hy gedoop is in die Jordaan. Die Heilige Gees het op Hom neergedaal en God het uit die hemel gesê dat Jesus sy geliefde Seun is.
Maar, Jesus kry amper geen tyd om die ervaring te geniet nie. Hy word onmiddellik deur dieselfde Gees in die woestyn ingelei om daar deur die duiwel as die versoeker, ook genoem die Satan, sy teenstander, versoek te word.

Hoekom? Want die Gees se eerste doelwit met Jesus ná Hy op Hom neergedaal het, is om Jesus sterk te maak vir die uitdagings wat in sy bediening op Hom gaan wag. “Jesus must face these temptations now, and win at least an initial victory over them. If he doesn’t, they will meet him suddenly, in the middle of his work, and they may overwhelm him.” (NT Wright – Matthew for Everyone).

Die hele aanvang van Jesus se bediening hang dus af van wat in die woestyn gebeur. Wat hier gebeur, sal uiteindelik bepaal wat later kán gebeur.

Jesus aanvaar die uitdaging sonder skroom

Hierdie tyd van versoekings in die woestyn waaraan Jesus onderwerp is, is daarom nie slegte nuus vir ons nie. Dit is goeie nuus vir ons, dit is die evangelie. Hoekom? Want Jesus aanvaar die uitdaging sonder skroom, sonder klag, sonder om terug te deins.

Dit is immers al die eerste oorwinning; om nie in te gee voor die behoefte om dinge makliker in die lewe te hê nie. En Hy slaag die toets uiteindelik met vlieënde vaandels as ewige getuienis dat ons in Hom die oorwinning oor die duiwel, die versoeker en aanklaer, het. Hy volhard regdeur ander kant uit. Dit is die kragtige getuienis waarmee Hy ons kan bemoedig.

Wat ons dus moet raaksien, is dat dié versoeking nie maar net ʼn lastige deel van Jesus se pad was, iets wat Hy moes deurgaan en so vinnig as moontlik agter die rug moes kry nie. Nee, dit was ʼn sleutel aspek van sy bediening, van sy voorbereiding vir wat Hy uiteindelik moes doen.

Dit is die gedagte waarmee jy ook jouself moet staal vir die pad wat jy moet loop. Versoekings is nie net sleg nie. Dit is nie net bedoel om jou seer te maak nie. Dit is bedoel om jou die moed te gee om die pad met die Here enduit te loop. Dit is bedoel om jou murg in jou pype te gee, om jou sterk te maak vir die lewe met God.

Dit is ook die doel van versoekings in jou lewe

Dit is ook die doel van versoekings in jou lewe. Jy kan dalk dink God is ongenadig om jou bloot te stel aan versoekings, wat dit ook al vir jou mag wees. Maar, al is dit sleg en swaar, die doel daarmee is om jou sterk te maak van binne, sodat jy nie in jou geloof wankel en in gehoorsaamheid struikel nie.

Jakobus, broer van die Here Jesus, sê veel later oor versoekings: “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.” (Jak. 1:12).

Daar is ‘n ongelooflike seën opgesluit in standvastigheid in versoeking. As jy die toets deurstaan, sal jy die oorwinningsprys ontvang, die lewe wat uit jou binneste sal vloei en opspring tot die ewige lewe.
So. Versoekings het altyd ‘n doel. Dit is bedoel om jou sterk te maak in geloof. Dit is bedoel om jou te laat volhard in jou gehoorsaamheid. Dit is nie bedoel om jou te laat struikel nie. Dit is nie bedoel om die lewe vir jou moeilik te maak nie. Dit is bedoel om jou oorwinning te gee, sodat die lewe in jou kan sterk word en vir ander lewe kan gee.

Die versoeking van krag

En ‘n mens kan kwalik aan drie versoekings dink wat beter aan God se doel met dié woestyn tydperk in Jesus se lewe beantwoord.

Die versoeking van die duiwel is in die eerste plek dat Jesus iets wonderbaarliks sal doen om sy honger te stil – dat Hy van klippe brode moet maak. Die doel van die duiwel is daarmee dat Jesus sal val vir die versoeking om sy krag ter wille van Homself te gebruik. Die doel van die Gees is daarenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy later wonders kan doen sonder om daarmee die aandag op Homself te fokus.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 8:3 dat die fokus op God se woorde belangriker is as die fokus op wonderbrood: “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog later vir God vir wonders te vra, waar dit in God se bedoeling inpas en nie om Homself gaan nie. En later in die evangelie vermeerder Hy brood by twee geleenthede benewens nog ‘n klomp ander wonderdade.

Sommige van ons se krag lê in ons kennis. Ander se krag lê in hulle emosionele intelligensie. Ander se krag lê in hulle besittings. Die versoeking waarvoor ons moet leer om nee te sê, is om ons kennis te gebruik om ons sin te kry in die lewe. Of ons emosionele intelligensie. Of ons besittings.

Jesus wys ons hoe om alles wat ons het in te span om God se wil te laat gebeur, soos Hy dit inderdaad later doen deur brood te gee vir hongeriges, genesing vir mense wat siek is. Wat jy het, is in elk geval net geleen. Wat jy is, is net genade. En God wil sy koninkryk laat kom in dié wêreld. Maar jy sal nie ‘n medewerker kan word as jy nie nee sê vir die versoeking om jou vermoëns net vir jouself en die klein kringetjie rondom jou in te span nie.

Die geheim van Jesus se weerstand in versoeking lê dus in hierdie eerste antwoord aan die duiwel opgesluit: “Daar is geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie.” Hy sou elke versoeking met die woord van God troef. Dit is waarin jou krag tot volharding ook lê, in die vasgryp aan die woorde van God wat jou nie net roep nie, maar in staat stel om te volhard.

Die versoeking van die maklike uitweg

Die versoeking van die duiwel is in die tweede plek dat Jesus sy koninkryk op aarde sal vestig, deur voor die duiwel neer te kniel en hom te aanbid. Die duiwel se doel daarmee is om Jesus te oorreed om die maklike uitweg, die weg van die minste weerstand, die kortpad na roem en eer, te volg. Die doel van die Gees is daarenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy van die begin af die baie moeiliker pad van die lydenspad en die kruis sal volg, sodat Hy daardeur verlossing vir almal wat in Hom glo, kan verwerf.
Jesus staan die duiwel daarom teë met die woord uit Deut. 6:13 dat ‘n mens net God alleen mag aanbid en dien. Daarmee skaar Hy Hom volledig aan God se kant en verklaar Hy Homself bereid om God se pad met Hom te stap, al kos dit ook wat.

Wat natuurlik ten diepste hier op die spel is, is Jesus se Seunskap en of Hy God daarmee gaan dien of Homself. Die duiwel wil twyfel daaroor by Jesus saai en Hom onafhanklik van God laat optree. Jesus ís immers God! Die Gees wil Jesus egter leer om die pad van lyding te omhels, sonder om sy Seunskap te ontken, maar sy status nie ter wille van Homself te misbruik nie, maar ter wille van God se bedoeling uit te leef, wat uiteindelik die swaarste ding van alles van Hom sou vra, die kruisdood.

Die versoeking van beloftes

Die versoeking van die duiwel is in die derde plek dat Jesus God se beloftes van beskerming in die Skrif – Ps. 91 – sal gebruik om vir Hom naam te maak deur van hoogste punt van die tempel af te spring. Die doel van die duiwel is daarmee dat Hy God se beloftes ter wille van Homself sal misbruik, dat Hy dié woorde wat God gee waarop jy kan staatmaak, te misbruik ter wille van jouself. Die doel van die Gees is daarenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy voluit op God se beloftes ter wille van ander kan staatmaak, maar nie ter wille van Homself nie.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:16 dat Hy God se naam hoog wil hou, deur Hom nie uit te tart of te versoek nie. Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog op God se beloftes aanspraak te maak in vele situasies in sy bediening, onder andere in die vele kere wat Hy gelowiges verseker van God se bereidheid om gebede te verhoor.

Hier het ons dus nie te make met wat ons het nie, maar met wat God het. En om daardie beloftes op ‘n selfsugtige wyse op onsself van toepassing te maak en net vir onsself toe te eien. Here seën my. Here laat hierdie projek van my slaag. Here help my om die kontrak te kry eerder as iemand anders. In plaas daarvan om die Here te vertrou dat Hy die beste weet en die beste sal doen.

Weereens brei Jakobus hierop uit, soos hy dikwels doen met Jesus se woorde (Jak. 4). Hy waarsku ons dat ons meer bewus moet begin word van die selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in ons woed. Ons wil baie keer dinge van die Here af hê, maar is dan ontsteld as ons dit nie kry dit nie, maar ander wel. Dit lei tot jaloesie, rusies en bakleiery.

Natuurlik mag ons ons behoefte vir God bekend maak. Trouens, ons het baie keer nie, doodgewoon omdat ons nie bid nie, sê Jakobus. Maar, ons bid so maklik verkeerd, omdat ons net ons selfsugtige begeertes wil bevredig. Dan raak ons eintlik vriende met die wêreld wat ten alle koste behoeftes bevredig wil sien, maak nie saak wat God daaroor te sê het. En dit is dan vyandskap teen God.

God wil ons volledig vir Homself hê. Hy soek geen kompetisie nie. Hy wil nie uitgetart word deur ons gebede waarin ons Hom aanspreek omdat Hy nie vir ons dinge gee net soos ons dit van Hom vra nie. As ons regtig bereid is om Hom met ons hele lewe te vertrou, sal ons die vrymoedigheid hê om tot God te nader, en het ons sy belofte dat Hy tot ons sal nader.

Maar dan moet ons ons harte reinig van ons selfsugtige behoeftes sodat God ons kan inspan om in lyn met sy beloftes vir behoeftes in die koninkryk te bid en by Hom in te tree vir hierdie wêreld.

Die uitdaging vir ons

Dit is ook die uitdaging vir ons. Is ons bereid om die pad te volg wat die Here wys, al kos dit lyding, al vra dit van jou opofferings, al vra dit van jou ‘n alleenpad waarin baie jou nie net nie bystaan nie, maar soms aktief teenstaan?

Ek het onlangs die fliek Hacksaw Ridge gekyk wat die verhaal vertel van Desmond Doss wat wou diens doen in die Tweede Wêreldoorlog as ‘n medic, maar nie ‘n geweer wou hanteer nie. Sy uitdaging was net eenvoudig ongelooflik. Nie net het sy eie manskappe hom aanvanklik verguis en sy bevelvoerders dit vir hom bykans onmoontlik gemaak om die opleiding baas te raak en te voltooi nie.

Nee, hy staan uiteindelik alleen in ‘n hofsaak wat teen hom gemaak word om hom oneervol te ontslaan uit die leër, waarin selfs die een naaste aan hom vir hom ‘n maklike uitweg wil gee – gee hulle hulle sin en kom net op die slagveld sodat jy kan doen wat jy as jou roeping beskou.

Die wroeging van die makliker uitweg. Hy kies om getrou te bly aan sy oortuiging en die moeiliker weg te volg. En ek wil nie nou die fliek bederf vir dié wat dit nog wil gaan sien nie, maar die Here eer sy lojaliteit aan sy oortuigings en bring hom na Hacksaw Ridge om diens te lewer in die oorlog.

As hy uiteindelik as die held van Okinawa 75 van sy medesoldate van ‘n gewisse dood red – sonder ‘n geweer! – en telkens uitgeput en in doodsgevaar steeds manskap vir manskap na veiligheid begelei: “Just one more, Lord, just one more” – dan maak sy getuienis ‘n indruk nie net op sy eie manskappe en offisiere nie, maar op die hele Amerika. Desmond is daarom vereer met die Congressional Medal of Honor, die enigste gewetensbeswaarde ooit wat dié eerbewys ontvang het.

Dat Desmond uiteindelik sy lewe behou en ‘n lang lewe daarna kon leef tot in 2006 was ‘n gepaste beloning vir sy onverskrokke lojaliteit aan dit waarin hy geglo het.

Ons sien iets hiervan in die laaste sin van ons teks, waar ook Jesus beloon word deur die engele wat Hom kom versorg het ná die duiwel Hom met rus gelaat het. God kom dus sy belofte in Ps. 91 na, sonder dat Jesus eers hoef te vra!

Al was dit natuurlik ook net die stilte voor die volgende storms wat Jesus in sy lewe en uiteindelik aan die kruis moes trotseer. Hy sterf om nie net 75 mense te red van die dood nie, maar ‘n hele koninkryk van mense.

Mag hierdie voorbeeld van Jesus jou inspireer om getrou te wees tot die dood toe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Almagtige en ewige God,
vermeerder in ons u gawe van geloof
sodat ons kan vergeet wat agter is
en ons kan uitstrek na wat voorlê,
en op die weg van u gebooie kan bly
en die kroon van ewige vreugde ontvang;
deur Jesus Christus, u Seun en ons Here,
wat leef en regeer met U
in die eenheid van die Heilige Gees,
een God, nou en vir altyd.
Vertaal uit The Archbishops’ Council of the Church of England

Offergawes

Wegsending: Lied509 “Op berge en in dale vs 1,2,3,4”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.