Eerste Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Aan die hand van die Leesrooster neem ‘n klompie tekste uit die Ou Testament ons op ‘n baie interessante geestelike reis gedurende hierdie Lydenstyd. Die reis begin by die Genesis-verhaal wat die agtergrond belig: die wêreld vervreemd van God deur versoeking en sonde. Teen hierdie agtergrond maak lyding en dood sin as die manier waarop Jesus die vervreemding deurbreek. Vandag begin ons reis met twee teksgedeeltes (Gen 2–3; Matt 4) wat op versoeking fokus. Psalm 32 verwoord dan elke mens se verlange om van hierdie vervreemding vry te kom. Paulus beklemtoon in lyn hiermee ondubbelsinnig dat genade sonde altyd troef (Rom 5).

Die liturgie is daarop afgestem om gemeentes te begelei om bewustelik met versoeking, sonde en genade om te gaan terwyl ons Jesus Christus as die uitkoms uit sonde vier.

Ander tekste

Psalm 32
U het my skuld vergewe
32 ’n Gedig van Dawid.
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,
wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte.
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe.
6Dit is waarom elke gelowige
in ’n tyd van nood tot U bid;
selfs vloedwaters
sal hom nie skielik oorval nie.
7U is vir my ’n skuilplek,
U beskerm my teen aanvalle,
U laat my oorwinningsliedere sing.
8Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee
en my oog oor jou hou.
9Moenie onverstandig wees nie,
soos ’n perd of ’n muil
wat met ’n stang in die bek
beteuel moet word
as jy hom wil lei.
10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges,
jubel, alle opregtes.

Romeine 5:12-19
Adam en Christus
12Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.

Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.

18Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. 19Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word.

20Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword. 21Die doel was dat, soos die sonde deur die dood heerskappy gevoer het, die genade deur die vryspraak ook heerskappy kan voer en tot die ewige lewe kan lei deur Jesus Christus ons Here.

Matteus 4:1-11
Die versoeking in die woestyn
(Mark 1:12–13; Luk 4:1–13)
4 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.
3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”
4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:
’n Mens leef nie net van brood nie
maar van elke woord
wat uit die mond van God kom.”
5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:
Hy sal sy engele oor jou opdrag gee
en:
Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen ’n klip
sal stamp nie.”
7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
8Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”
10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid en
Hom alleen dien.”
11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Fokusteks

Genesis 2:15-17; 3:1-7
Die mens in die tuin
Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, 5was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie ‘n mens om die grond te bewerk nie. 6Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. 7Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.

8Die Here God het toe ‘n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. 9Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

10Daar het ‘n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. 11Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. 12Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. 13Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. 14Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

18Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

19Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

20Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ‘n helper, ‘n gelyke, gekry nie. 21Toe het die Here God ‘n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe.
23Toe sê die mens:
“Hierdie keer is dit
een uit myself, een soos ek.
Daarom sal sy ‘vrou’
genoem word;
sy is uit die man geneem.”
24Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
25Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.
3 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

2Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”

4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

6Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.

8Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

10En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

11Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”

12Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.”

13Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”
14En die Here God sê vir die slang:
“Omdat jy dit gedoen het,
is jy vervloek onder al die diere.
Op jou maag sal jy seil
en stof sal jy eet, jou lewe lank.
15Ek stel vyandskap tussen jou
en die vrou,
tussen jou nageslag en haar nageslag.
Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
16Vir die vrou het die Here God gesê:
“Ek sal jou baie swaar laat kry
met jou swangerskappe:
met pyn sal jy kinders
in die wêreld bring.
Na jou man sal jy hunker,
en hy sal oor jou heers.”
17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,
is die aarde deur jou toedoen
vervloek;
met swaarkry sal jy daaruit
‘n bestaan maak,
jou lewe lank;
18die aarde sal vir jou dorings
en dissels laat uitspruit,
en jy sal veldplante eet;
19net deur harde werk sal jy kan eet,
totdat jy terugkeer na die aarde toe,
want daaruit is jy geneem.
Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

20Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense. 21Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.

22Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”

23Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. 24Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ‘n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

Liturgie

Lydenstyd is ’n seisoen van 40 dae (wat die ses Sondae van Lydenstyd uitsluit) waartydens die kerk Jesus se dood met vreugde, hartseer, erns en pyn verkondig. Hierdie viering van Jesus se dood roep sy lyding in herinnering en reageer daarop ter voorbereiding van Paasfees en is dus ook ’n tyd van gebed, meditasie en stilte. Ons dink na oor ons eie gebrokenheid en bring ons sonde na God in verootmoediging. Tydens Lydenstyd vind ons krag en vergifnis in die lyding van Jesus Christus.

Aanvangslied: Lied 396 “Aanskou die Heiland aan die kruis 1,2,3,4”

Aanvangswoord: Jesaja 53:2-3 ()

Seëngroet: 2 Tessalonisense 1:1-2

Lied Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”

Wet: Uit Romeine 5:12-19

Skuldbelydenis: Psalm 32

Gebed: Psalm 32

Vryspraak: Psalm 32

Geloofsbelydenis
Lied Psalm 25 “In U stel ek my verwagting (vs 1,2,3,4,5,6)”

Epiklese

Skriflesing: Genesis 2:15-17, 3:1-7

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 511 “Lei U ons lig vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lydenstyd is ’n seisoen van 40 dae (wat die ses Sondae van Lydenstyd uitsluit) waartydens die kerk Jesus se dood met vreugde, hartseer, erns en pyn verkondig. Hierdie viering van Jesus se dood roep sy lyding in herinnering en reageer daarop ter voorbereiding van Paasfees en is dus ook ’n tyd van gebed, meditasie en stilte. Ons dink na oor ons eie gebrokenheid en bring ons sonde na God in verootmoediging. Tydens Lydenstyd vind ons krag en vergifnis in die lyding van Jesus Christus.

Aanvangslied: Lied 396 “Aanskou die Heiland aan die kruis 1,2,3,4”

Aanvangswoord: Jesaja 53:2-3 ()
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken het,
iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.
Hy was verag, ons het hom nie gereken nie…

Seëngroet: 2 Tessalonisense 1:1-2
Aan die gemeente van …………………………… wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.

Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”

Wet: Uit Romeine 5:12-19
Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is…

14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.

Deur die oortreding van een mens het baie gesterf….
17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens…

Skuldbelydenis: Psalm 32
3Toe ek oor my sonde geswyg het,
het my liggaam uitgeteer
soos ek heeldag om hulp
geroep het.
4U hand het dag en nag
swaar op my gedruk,
my krag het opgedroog
soos water in somerhitte.

Gebed
Ag, Here, my God – ek het nooit besef daar is in my hart so ’n afkeer van U nie! Noudat ek begin agterkom dat U daarna verlang dat ek meer in u teenwoordigheid sal leef, in gemeenskap met U, en noudat ek daarna begin verlang het, is ek verbaas hoe min daarvan gebeur! Iets in my wil U nie toelaat nie, wil sélf regkom met die lewe. Iets in my wil beheer hou teenoor U en self slaag met die wandel-in-u-lig. Iets in my wil nie hê dat ek my in U moet verloor nie; wil nie te veel van U hê nie. Here, ek is skuldig, my hart is skuldig! Vergewe my! Laat die heilige vuur van u liefde in my brand, verteer die afkeer, maak my ’n brandoffer vir U, waarin ek self liefde word. Oorwin die weerstand in my, oorwin my eie ek al meer, sodat ek kan leer dat ek niks, niks self kan vermag om ’n verhouding met U te bou nie sodat ek alles net van U wil ontvang, sodat die lewe in u teenwoordigheid nie meer iets sal wees wat ek probeer regkry nie, maar U wat my oorrompel.
Nicol, W 2002. Gebed van die hart: Word stil en beleef God. Wellington: Lux Verbi.

Psalm 32
5Toe het ek my sonde bely,
my oortreding nie weggesteek nie.
Ek het gesê:
“Voor die Here bely ek
my opstandigheid;”
en U het my skuld vergewe.

10Die goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou,
dié omvou Hy met sy liefde.
11Verbly julle in die Here en juig,
regverdiges, jubel, alle opregtes.

Vryspraak: Psalm 32
Dit gaan goed met die mens
wie se oortredings nie gestraf
word nie,
wie se sonde vergewe word.
2Dit gaan goed met die mens
vir wie die Here die oortreding
nie toereken nie
en in wie se gees
daar geen valsheid is nie.

Geloofsbelydenis
Voorganger: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo.
Gemeente: Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.

Voorganger: Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.
Gemeente: En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 

Voorganger: Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding …
Gemeente: en volharding kweek egtheid van geloof …

Voorganger: en egtheid van geloof kweek hoop …
Gemeente: en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (uit Rom 5:1-5).

Lied Psalm 25 “In U stel ek my verwagting (vs 1,2,3,4,5,6)”

Liedere

Flam 5. “Daar Is Geen Grens” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005  Faani Engelbrecht
© 1974, 1975  Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

Flam 16. “Ek Kyk Op Na Die Berge”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Braam Hanekom
© 1993  MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kyk op na die berge.
O, waarvandaan kom daar hulp vir my?
My hulp kom van die Here.
Hy’t hemel en aarde gemaak.

Refrein:
Hy sal nie toelaat dat jy val nie.
Hy sal nie toelaat dat jy swig,
want Hy sluimer of Hy slaap nie;
Hy laat jou veilig wandel in die lig.
Hy laat jou ewig wandel in die lig.

2. Bedags sal die son jou nie steek nie,
en snags sal die maan jou nie bedreig.
Hy sal jou uitgang en jou ingang
beveilig, beskerm en bewaar.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Maak my nou stil, Heer.
Ek wil na U luister;
my hart vir U oopmaak
dat U my kan aanraak.
Open my oë,
my hart en my ore,
dat ek U leer ken, Heer,
en voor U kan lewe.
(Flam 87 Die woorde kan gesing of gelees word).
of
Gebed om die opening van die Woord
Jesus, U wat as rabbi, die leermeester van God, gekom het, leer ons deur u Woord.
Niemand kan immers doen wat U doen as God nie by hulle is nie.
Hoe kan ons die geboorte van Bo nuut ervaar?
Hoe kan dit gebeur nadat ’n mens in jare gevorder het en reeds vaste idees gevorm het?
Hoe kan ek, by wyse van spreke, nogmaals in my moeder se skoot kom om nuut gebore te word?
Christus Jesus, terwyl ons U aanskou wat teen ’n paal opgehang is,
soos die slang in die woestyn tydens Moses se leierskap,
laat ons verwonder staan voor die heerlikheid van u lyding.
Gees van God, bring die Lig in ons lewe.
Vader, bring ons weer tuis by U
(uit Joh 3:1-21).

Skriflesing: Genesis 2:15-17, 3:1-7

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die Sondeval
Fokusteks
3 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”

2Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”

4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

6Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.

WAAR OF VALS
3 Die luislang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is… (W / V)
Die slang het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”
3God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die appelboom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.” (W / V)

4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie…” (W / V)
6Toe besef die vrou dat die boom se vrugte gevaarlik is om te eet… (W / V)
En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet… (W / V)

ONDERSTREEP DIE REGTE (KORREKTE) WOORD TUSSEN HAKIES
3 Die slang was (skelmer/ listiger) as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen (boom/ struik) in die tuin eet nie?”
2Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag (eet/ pluk) van die vrugte van die bome in die tuin. 3God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”
4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie (doodgaan/ sterf) nie…
Maar God weet dat julle (ore/ oë) sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”
En sy het van die (appels/ vrugte) gepluk en geëet.
Sy het ook vir haar (man/ broer) by haar gegee, en hy het geëet.

INKLEURPRENT

Preekriglyn

Ons teks is ‘n snit uit die aangrypende tweede skeppingsverhaal in Genesis. Die eerste verhaal, Genesis 1, is eintlik ‘n gedig, wat vertel hoe God die heelal met woorde geskep en daarna die aarde georden en gevul het, elke keer deur ‘n woord te sê. Daarna het God gerus.

Genesis 2 is nie ‘n gedig nie, maar ‘n verhaal wat fokus op die skepping van die mens in verhoudinge – met mekaar en met God. Hierdie wonderlike verhaal loop egter uit op die ontrou van die mens, en die ellende wat die mens daarmee die wêreld ingebring het.

Sewe episodes

Die verhaal van Genesis 2 en 3 word as ‘n eenheid in sewe episodes vertel waarvan episode vier, die sonde van die mens, die sentrum vorm:

  • Episode 1 fokus op die tuin van Eden as lewensruimte vir die mens – 2:4-17
    • Episode 2 fokus op die verhouding tussen die man en die vrou – 2:18-25
      • Episode 3 fokus op die gesprek tussen die slang en die vrou – 3:1-5
        • Episode 4 fokus op die sonde van die man en die vrou – 3:6-8
      • Episode 5 fokus op die gesprek tussen God en die mens – 3:9-13
    • Episode 6 fokus op die versteuring van verhoudings in die skepping – 3:14-21
  • Episode 7 fokus op die sluiting van die tuin van Edenvir die mens – 3:22-24

Soos in enige verhaal is die optrede van die karakters die sleutel tot die betekenis daarvan. Let op na die volgende interessante aspekte van die onderskeie karakters:

  • In episode 1 en 7 is die God alleen die Persoon wat aktief handel. Hy skep die lewensruimte vir die mens. Hy sluit dit ook vir hulle toe weens hulle ongehoorsaamheid. Die mens het geen sê in die seën en straf van die Here nie. God is soewerein. Hy bepaal die gang van sake.
  • In episode 2 en 6 staan verhoudings in die kollig. God handel steeds, maar in gesprek met die mens. Hy gee vir die mens ‘n hulp, ‘n maat wat by hom pas. Ná die sondeval is dit egter steeds God wat die situasie hanteer as dinge verkeerd loop en verhoudinge tussen hulle versteur word. ‘n Mens sien hoe sy genade in beweging kom selfs al moet Hy die ongehoorsaamheid straf. Selfs in sy straf is daar ‘n belofte van hoop.
  • In episode 3 en 5 staan gesprek voorop. Die slang plaas die mens voor die versoeking om nie na God te luister nie. Hy los hulle egter in hulle ellende as hulle daarvoor val. Ná die sondeval is dit God wat die mens opsoek om vir hom ‘n uitweg te berei, al beteken dit ook dat die tuin vir hom gesluit sal word. God se gesprek is verlossend van aard selfs te midde van die noodwendige en onafwendbare oordeel.
  • In episode 4, die hart van dié verhaal, is die mensepaar alleen in hulle versoeking en raak hulle ongehoorsaam. Hulle alleen dra die skuld vir hulle sonde. Hulle kan dit ook nie self regmaak nie. God alleen kan dit doen. Hier sien ‘n mens die vertrekpunt waarmee Paulus in die brief aan die Romeine veel later sou skryf, dat God die mens oorgegee het aan hulle sondige keuse om Hom nie te aanbid nie, iets waarvoor hulle alleen verantwoordelik is, maar terselfdertyd die verlossing in Christus voorsien het wat deur geloof ‘n werklikheid vir hulle kan word (Romeine 1-4).

Kom ons staan kortliks by die eerste vier episodes van die verhaal stil:
Episode 1: Die tuin van Eden as lewensruimte vir die mens – 2:4-17

  • Die eerste skeppingsverhaal (gedig) maak die mens die kroon van die skepping en vertel dié gesamentlike skepping van man en vrou aan die einde van die sesde dag. Dit is teen die heersende Ou Nabye Ooste idee van die vrou as ‘n mindere skepsel. En hulle word geskep om as Godsbeeld sy verteenwoordigers op die aarde te wees. Daarom word die mens se skepping logieserwys aan die einde van die gedig in Genesis 1 geplaas.
  • Die tweede skeppingsverhaal maak diehuwelik – God wat vir die man ‘n vrou gee – die kroon van die skepping en vertel daarom die verhaal as ‘n proses wat begin met die skepping van die man. As dit duidelik word dat die diere nie ‘n maat vir die man kan wees nie, word die vrou in ‘n volgende skeppingsdaad gemaak. Sy is steeds sy gelyke en helper (beskermer), maar word aan hom toegevoeg in ‘n verbondsverbintenis, soos God ook aan hulle verbind is (Genesis 1).

Episode 2: Die Here God skep Eden as lewensruimte vir die mens sowel as die plek waar Hy by hulle kan woon – 2:18-25
Let ook op dat Genesis 2 se verhaal begin het met die verwysing na God as “Here God“. “Here” is die vertaling van Jahwe die persoonsnaam van die Verbondsgod van Israel. Die skrywer verklaar daarmee dat die God van Genesis 1 wat alles gemaak het nie maar net die algemene God is nie. Hy is ook Jahwe, die God wat Homself aan Israel verbind het (Eks. 3).

Dit is ‘n belangrike perspektief vir die intieme verbintenis wat God hier tussen man en vrou skep. Daarom kan ons sê in hierdie skeppingsgeskiedenis is die huweliksverhouding die kroon van die skepping.

Die tuin van Eden is meer as ‘n geskenk aan die mens. God maak die tuin om by die mens te kom woon, om met hulle in gemeenskap te tree. Daarom word aan die een kant aandag gespandeer aan die beskrywing van die wonder van die tuin van Eden. Maar dit is ook daar dat God aan die ander kant met hulle in gesprek tree as Hy in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom (Gen. 3:8).

Genesis 2 gaan voort om die skepping as’t ware as God se tempel te beskryf, God se woonplek, die plek waar Hy met ons in gesprek kan tree. Daarom maak Hy ons as sy verteenwoordigers, as sy beeld, sodat Hy met ons in verhouding kan tree, soos in Genesis 1 reeds gesê is. En Hy plaas hulle in die tuin waar hulle tuis kan kom in die natuur sowel as in verhouding met Hom.

God se groot passie is dus nie net die uitsonderlike grootsheid van die heelal soos in die eerste skeppingsverhaal nie. Hy is nie tevrede met die unieke verskeidenheid van die fauna en flora van die aarde nie, al is dit ook hoe aantreklik en interessant. Hy is nie eers tevrede net met die skepping van die kroon van sy skepping, die mens, nie. Nee, God se doel met dit alles is om in verhouding te tree met die mens en Sy tuiste te vind by ons. Die God wat alles gemaak het, wat vir alles ‘n plek gevind het, wil by ons kom woon. Sy plek is by ons, soos Jesus op so ‘n diep roerende manier in Johannes 14-17 vir ons sou kom vertel.

Dink daaroor na. God skep die heelal en alles daarin met die visie om by ons te kom woon. Ons is die punt van Sy storie. Jy is die punt van God se storie.

Episode 3: Die gesprek tussen die slang en die vrou – 3:1-5
Die slang vertolk hier ‘n rol as teenstander, maar word anders as in sommige van die ander Ou Nabye Oosterse verhale net as ‘n skepsel wat God gemaak het, voorgestel. Die mitologiese karakter van die slang in ander antieke verhale word vermy. Die slang is net een van die diere wat God gemaak het, al is dit ook listiger as die ander diere. Hierdie perspektief dra alreeds die boodskap dat die slang se beste pogings nie God se bedoelinge in die laaste instansie kan dwarsboom nie.

Let op na die strategiese optrede van die slang. Hy praat met haar waar sy alleen is. Hy saai twyfel met sy vraag oor God se bedoeling: “Het God werklik gesê …“. Hy verkondig ‘n leuen dat daar geen gevolge sal wees as sy God se verbod verontagsaam nie. Trouens, hy volg dit op met ‘n verdere leuen wat haar ‘n God-gelyke bestaan aanbied: “Julle sal soos God wees deurdat julle alles kan ken.

Satan saai dus twyfel oor God se woord. Daar sal geen gevolge wees, anders as wat God gesê het. En hy val God se motiewe aan in sy verbod op die eet van die vrugte van die boom. God will alle kennis vir Homself hou en niks met die mens deel nie. Hy beskuldig God dus van verskuilde motiewe.

In die verdere verloop van die Bybel hieroor word die slang wel met die persoon van die Satan geassossieer. Die woord satan beteken immers teenstander, presies soos die slang hier optree (Openb. 12:9; 20:2). Die valse apostels, soos Paulus daaroor praat, is dus nie net teenstanders nie, tree nie net op soos die slang van ouds nie, maar is in der waarheid werktuie van die Satan, soos die gordyn oor hom uiteindelik in Openbarings as die aartsteenstander van God en sy skepping onthul word, en soos Jesus natuurlik ook inderdaad vroeër oor hom gepraat het.

Dit maak ons bewus vir die wyse waarop jyself mislei kan word deurdat jy twyfel of die Woord ook op jou van toepassing is, in elke detail daarvan, en of God dit goed bedoel met jou deurdat Hy absolute gehoorsaamheid daaraan van jou vra. Ons gedagtes kan só maklik weggelei word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus.

Episode 4: Die sonde van die vrou en die man – 3:6-8
Die vrou val vir die versoeking en verlei haar man om saam met haar te sondig.

Let op hoe die boom se vrugte op drie maniere aantreklik was vir haar:

  • Dit was “goed om te eet“- d.w.s. dit was op fisiese vlak ‘n versoeking.
  • Dit was “mooi om na te kyk” – d.w.s. dit het haar op estetiese vlak bevredig.
  • Dit was ook “begeerlik omdat dit kennis kan gee“- d.w.s. dit was op intellektuele vlak uiters stimulerend.

Selfs vandag nog is hierdie die basiese bestanddeel van elke liewe versoeking.

Met haar optrede word sy die eerste rebel, die een wat in opstand kom teen God en sy goeie bedoelings met haar en sy skepping. Die man val ook vir die versoeking en eet saam met haar van die vrugte, maar begaan daarmee eintlik ‘n groter sonde – as ‘n mens só ‘n onderskeid sou kon tref – want hy het in die eerste plek die opdrag gekry om nie van die boom van alle kennis te eet nie, en het sy rol as beskermer en bewaarder nie net van die tuin van Eden, maar ook van sy vrou in hulle gelyke vennootskap gefaal.

Die sonde van die tuin word dus in die eerste en laaste instansie met Adam self geassossieer, soos Paulus later in Romeine sou argumenteer. In Adam het die hele menslike geslag gesondig. Die effek op Adam en Eva is onmiddellik sigbaar in hulle verhoudings. Hulle word skaam vir mekaar. Hulle word skaam vir God. Skuld verplaas die onskuld in hulle bewussyn van hulleself en hulle plek in hierdie wêreld. En hulle verbeur die voorreg van die Metgesel wat hulle in alle wysheid wou begelei.

Boodskap

Dit is vandag die eerste Sondag in lydenstyd. Ons word bewus van ons eie Adama-karakter, ons geneigdheid om te sondig, om nie anders te kan as om sonde te doen nie. Daarom het ons ‘n Verlosser nodig. Ons kan onsself nie red nie.

Jesus word mens en kom woon onder ons om ons te red. Aangesien geen mens waardig is om God se weg te gehoorsaam en verlossing te bewerk nie, voorsien God self die volmaakte mens, Jesus Christus, die Seun van God wat op aarde vir ons versoening kom bewerk.

Christus word die nuwe Adam wat vir ons die pad na God oopbreek. In Christus kan ons nuut word, kinders van God word, ‘n toekoms saam met God hê.

Hiervoor moet ons dankbaar wees. Hiervoor moet ons God loof en prys.

God stuur ons om te leef

Gebed
Vader,
ek gee myself oor in u hande;
doen met my wat U wil.
Vir wat U ook al met my wil doen, dank ek U;
ek is gereed vir alles, ek aanvaar alles.
Laat slegs u wil in my geskied,
asook in alles wat U gemaak het.
Ek vra vir niks meer as dit nie, Here.
In u hande gee ek myself oor;
ek bied myself aan U met al die liefde wat daar in my hart is,
want ek het U lief, Here,
en daarom wil ek myself gee,
wil ek my oorgee in u hande,
sonder om iets terug te hou –
met grenslose vertroue,
want U is my Vader.
(Nouwen, HJM 1989. The Road to Daybreak: A spiritual journey.  Londen: Darton, Longman & Todd.)

Offergawes

Wegsending: Lied 511 “Lei U ons lig vs 1,2”

Seën
Mag die Here Jesus Christus by jou wees om jou te beskerm;
Binne-in jou wees om jou te verfris;
Rondom jou wees om jou te bewaar;
Voor jou wees om jou te lei;
Agter jou wees om jou te regverdig;
Bo jou wees om jou te seën.
Hy wat saam met die Vader en die Heilige Gees
leef en regeer – God vir ewig en altyd.
William Temple (1881-1994)
(uit: Van der Merwe, J (Red) 2001. Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Wellington: Lux Verbi)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.