Eerste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Drie-eenheidsondag word in meeste kerke op die eerste Sondag na Pinkster gevier. Dit is ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Sommige kerke vier Drie-eenheidsondag eerder op die laaste Sondag van Koninkrykstyd voor die begin van Advent. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit. Daar is aanduidings dat Drie-eenheidsondag reeds sedert die tiende eeu op hierdie datum gevier is. Drie-eenheidsondag is die enigste van die groot feesdae op die kerklike kalender wat aan ‘n leerstelling eerder as ‘n gebeurtenis gewy word. Daarom val dit moeilik op die oor van die teen-dogmatiese kultuur waarin ons leef. Aanvanklik was die viering van die Drie-eenheid juis bedoel om Arianisme in die kerk teen te werk. (Arianisme is die leer wat sê dat Jesus op ‘n stadium deur God die Vader as ‘n aparte wese voortgebring is en dat Jesus dus in rangorde onder die Vader geplaas moet word eerder as deel van die wese van die een God.) Die viering van die Drie-eenheid as een van die groot Goddelike misteries moet na my mening voorrang geniet in die liturgie bo te veel tegniese verduidelikings. Die bedoeling is om die gemeente in aanbidding van die Drie-enige God te begelei. In beide die Rooms Katolieke en Anglikaanse tradisies word baie van die Geloofsbelydenis van Atanasius op Drie-eenheidsondag gemaak. Die preekvoorstel by hierdie liturgie begin dan ook by Atanasius.

Ander tekste

Jesaja 6:1-8
Jesaja word geroep om profeet te wees
6 In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

3Die serafs het mekaar telkens toegeroep:
“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

4Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

5Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

6Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”
8Toe het ek die Here hoor vra:
“Wie kan Ek stuur?
Wie sal ons boodskapper wees?”
Ek het geantwoord:
“Hier is ek! Stuur my!”

Psalm 29
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.

9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Johannes 3:1-17
Jesus en Nikodemus
3 Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”
10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog cword, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Fokusteks

Romeine 8:12-17
Lewe deur die Gees
8 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. t2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Die heerlikheid wat kom
18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Liturgie

Aanvangs lied: Lied 442 “Gees van God wat in my woon vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 29

Seëngroet 

Lied 207

Verootmoediging: Jesaja 6:1-8

Geleentheid vir stilgebed

Aanbidding

Pinksterlitanie (of na die prediking)
of
Geloofsbelydenis

Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 1,2,3,4”

Epiklese              

Skriflesing: Romeine 8:12-17

Familie-oomblik
Prediking
Gebed of
Pinkster litanie  (indien u dit nie vroeër in die erediens gebruik het nie)
Offergawes

Wegsending: Lied 449 “Halleluja! Ons loof U Heer vs 1,2,3,4”

Seën: Jesaja 6

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 442 “Gees van God wat in my woon vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 29
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;

Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!

Seëngroet
L: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.

L: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uitlig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

L: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
Amen.
(Op grond van Nicea, uit Wepener, Cas 2011.  Soos ’n Blom na die Son Draai.  Bybelmedia)

Lied 207

Verootmoediging
Jesaja 6:1-8
Jesaja word geroep om profeet te wees
6 In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

3Die serafs het mekaar telkens toegeroep:
“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

4Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

5Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

6Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

8Toe het ek die Here hoor vra:
“Wie kan Ek stuur?
Wie sal ons boodskapper wees?”
Ek het geantwoord:
“Hier is ek! Stuur my!”

Geleentheid vir stilgebed

Aanbidding
Liturg: God het jou honger versadig,
               jou verlange gestil,
               jou met goedheid gevoed
               en Hy wil van jou weet:
               Het jy My baie lief?
Gemeente: Here, U weet dat ek U liefhet.

Liturg: Laat my lammers wei!
               God het jou dors geles,
               jou kruike gevul
               met strome van genade
               en Hy wil van jou weet:
               Het jy My baie lief?
Gemeente:  Here, U weet dat ek U liefhet.

Liturg:  Pas my skape op!
               God is die Herder
               wat jou by die naam roep,
               wat voor jou uitgaan
               en jou op plekke bring
               waar jy nie wil wees nie
               en Hy wil van jou weet:
               Het jy My baie lief?
Gemeente: Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.

Liturg: Laat my skape wei!

Pinksterlitanie (of na die prediking)
L:  Halleluja!  Die Gees van die Here vul die aarde.
G:  Laat die regverdiges bly wees en juig voor die Here.  Halleluja!

L:  Met tonge van vuur het die Gees die apostels aangespoor.
G:  Hulle vertel in nuwe tale van die groot dade van God.

L:  Ere aan God, Vader, Seun en Heilige Gees.
G:  Mag sy koninkryk sonder einde wees.

L:  Halleluja!  Kom, Skepper-Gees!
G:  Vul die harte van u volgelinge met die oorvloed van u liefde.  Halleluja!  Amen.
(2010. Handleiding vir die Erediens.  Bybelmedia)
of
Geloofsbelydenis
Voorganger: Ons eer één drie-enige God.
Gemeente: Ons eer U, Vader. Ons eer U, Seun.
Ons eer U, Heilige Gees.

Voorganger: Ons eer U, ewige majesteit.
Gemeente: Ons eer U eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees.

Voorganger: Niemand het God geskep nie.
Die Vader is deur niemand geskep nie.
Die Seun is deur niemand geskep nie, maar verwek deur die Vader alleen.
Die Gees is deur niemand geskep nie, maar gaan van die Vader en die Seun alleen uit.
Gemeente: U is die ewige onmeetlike God! U is één.

Voorganger: God se mag ken geen einde nie!
Gemeente: Die Vader is almagtig, die Seun is almagtig, die Heilige Gees is almagtig.

Voorganger: Die Vader is nie meer of minder as die Seun of die Gees nie. Die Seun is nie meer of minder as die Vader of die Gees nie. Die Gees is nie meer of minder as die Vader of die Seun nie.
Gemeente: Die Vader, Seun en Gees is gelyk in waarde, mag en eer.
Ons eer U, drie-enige God.

Voorganger: Die Seun het mens geword.
Hy is gelyk aan die Vader na sy Godheid, maar minder as die Vader na sy mensheid.
Gemeente: Die Seun het mens geword, minder geword, sodat ons gered kon word.
Hy het sy Goddelike gestalte nie bly vashou nie, maar dit gelos om ons te red.

Voorganger: Hy het vir ons gely, gesterf en
ter helle neergedaal.
Gemeente: Hy het vir ons opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en
sit aan die regterhand van die Vader.

Voorganger: Aan Hom is alle mag gegee om te oordeel,
Gemeente: Hy is ons opstanding uit die dood.

Voorganger: Ons eer één drie-enige God.
Gemeente: Ons eer U, Vader. Ons eer U, Seun.
Ons eer U, Heilige Gees

Almal: Amen!
(Verwerk uit die geloofsbelydenis van Atanasius.)

Lied 445 ” Drie enig God ons wil U eer vs 1,2,3,4″

Liedere

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Pinkster / Gebed / Epiklese)
Teks en Musiek: Ioannis Dekas
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
As mens verstaan ons nie U weë
Maar U stuur vir ons ‘n Leidsman trou
Hy lei ons na U

Kom o Skepper Gees
Lewendmakend Gees
Kom in al U volheid
Kom in al U krag
Lei my in U waarheid
Leer my van die Seun
Wees  U ook my trooster,
Kom o Skepper Gees

VONKK 70 “Abba, Vader” 

1. Abba, Vader, Skepper van die heelal,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

2. Jesus, Christus, Lam van God, Verlosser,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

3. Gees van Waarheid, Trooster en ons Leidsman,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

1. Abba Father, Lord of all creation –
we adore You, You are holy, God.

2. Jesus, Christ, Lord, Lamb of God, our Saviour –
we adore You, You are holy, God.

3. Holy Spirit, Comforter and Mentor –
we adore You, You are holy, God.

Afrikaanse en Engelse teks:  Jacques Louw 2005/2009 ©
Melodie:  ANNELISE – Annalise Wiid 2004 ©  uit EK KYK OP (met toestemming Annie’s Song)
Orrelbegeleiding:  Jacques Louw 2005 ©
Kantoryverwerking: Jacques Louw 2005 ©
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
O Heilige Gees van God,
Kom na ons en beweeg tussen ons:
Kom as wind en reinig ons;
Kom as vuur en suiwer ons;
Kom as dou en verfris ons:
Oortuig en bekeer ons en wy ons hart en lewe aan U
Vir ons eie welsyn en tot u verheerliking.
Ons vra dit in Jesus se Naam.
Eric Milner White (1884-1964) in 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM.

Skriflesing: Romeine 8:12-17

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Opsie 1
Benodighede, ‘n enkele kers met drie pitte.  Die kers kan gebruik word om te wys dat die Vader, Seun en Gees een is, dat al drie dieselfde werk doen en dat al drie ook ‘n vlam het.

Opsie 2
Maak gebruik van die musiekbediening van die oggend. Laat die kitaar, klavier of orrel ‘n akkoord speel met drie note. Verduidelik hoe die note saam een akkoord maak. Byvoorbeeld ‘n C-akkoord, wat ‘n C, E en G bevat. God is een en maak saam ‘n mooi klank.

Opsie 3
Bring ‘n paar items wat jy van ‘n familielid geërf het saam en vertel die verhaal van die item. Jy kan ook iets saambring wat jy geërf het van iemand wat nog lewe (bv iets uit jou ma se huis wat jy gekry het toe jy self huis opgesit het) en vertel hoe hulle dit geniet as hulle sien jy gebruik dit.

Opsie 4
Of vat ‘n draagbare radio, van die soort waar jy nog ‘n knop draai om die stasie te soek.  Verduidelik (en demonstreer) dat die radio presies op die regte stasie ingestel moet wees, anders hoor mens net ‘n geraas.

Opsie 5
Rethie van Niekerk het ‘n powerpoint oor aanneming beskikbaar in Dropbox… Met dank.

Preekriglyn

“Toe sê hulle sowaar ja. Dit was ‘n ja wat ons lewe ingrypend verander het,” vertel Krystal Stewart.

Pastor Ronnie Stewart en sy vrou Krystal is die stigters van Refugee Church, ‘n gemeente in ‘n rowwe woonbuurt in Florida. Hulle passie is om mense by te staan wat werklik hulp nodig het. Die gemeente staan honderde mense by met voedsel, klere en toiletware.

Op ‘n sekere Vrydag, dit was 6 November, het hulle by die kerk gewerk toe Krystal die gesiggie van ‘n kleuter vir hulle deur die glasdeure sien loer. Sy jonger boetie was vasgegespe in ‘n stootkarretjie. Die ouers was ook daar. Hulle was dakloos, en het reeds ‘n paar weke al ingeskakel by die hulpprogram. Die ouers het egter geweier om in ‘n skuiling opgeneem te word.

Dit was besig om aand te word en stormwolke het begin saampak. Krystal se hart was gebroke oor die nag wat vir die twee seuntjies en hul ouers voorlê. Hier was sy en haar man besig om op te pak om na hulle lekker warm, gesellige huis terug te keer. Die kinders sou die stormnag iewers in die ope met hul ouers moes trotseer.

Op die ingewing van die oomblik vra sy die ouers of hulle die kleintjies huis toe kan neem vir ‘n warm bad en ‘n bed vir die nag.

Hulle sê toe sowaar ja.

Die volgende dag het hulle die kindertjies vir hul ouers teruggegee, biddend dat die Here ‘n skuiling vir die kinders sou voorsien. Min wetende dat hulle die skuilplek sou word.

Die Sondag na kerk kom spreek ‘n maatskaplike werker hulle. Die kindertjies sou deur die staat by hul ouers verwyder word. Sou die Stewarts kans sien om hulle tydelik te versorg?

Vyf maande later het die Stewarts besluit om die proses te begin om die kinders wettig aan te neem. Die biologiese ouers staan nie die aanneming teen nie.

“Ons kan maar net lag oor God se sin vir humor,” vertel Krystal. “Net die dag voor ons die seuntjies die eerste keer huis toe geneem het, het ek en Ronnie ‘n diep gesprek gehad oor my volledige histerektomie na ‘n vroeë kankerdiagnose. Ons was hartseer en moes vrede maak dat ons nie meer kinders sou kon hê nie.”

Toe gee God vir ons kinders. En vir die pragtige twee kinders liefdevolle ouers wat hulle aanneem en versorg.

God doen aannemings.

Trouens, volgens ons teks, is die aanneming tot kinders deur die werk van die Heilige Gees die hart van die evangelie van Jesus Christus.

Aangenome

Vers 15 sê letterlik:
Julle het die Gees van aanneming tot kinders ontvang deur wie ons roep “Abba, Vader!”

Die beelde wat ons identiteit in God beskryf, word in ons teks opgestapel:

  • Ons is slawe wat vrygekoop is uit die verslawende mag van die sonde
  • Ons is deur die Heilige Gees aangeneem tot kinders van God
  • As kinders van God is ons erfgename van God en mede-erfgename van Christus.

Die dag toe ons pad met ons Vader gekruis het, het ons lewens ingrypend verander. Ons het ‘n nuwe identiteit. En ons het ‘n nuwe afrigter, die Heilige Gees, wat ons leer om ons nuwe identiteit uit te leef.
Maar kom ons stap eers deur Romeine 8:12-17 voordat ons verder gaan.

“Daarom dan”

Die “Daarom dan,” waarmee die teks begin, dui aan dat ons eers terugwaarts moet lees voor ons verder lees. Van die begin van die hoofstuk af het Paulus die lewe “volgens die sondige natuur” en die lewe “deur die Gees” met mekaar gekontrasteer. Hy het dit deurgaans beklemtoon dat gelowiges “deur die Gees” leef en daarom vry is van die beheersing van hulle “sondige natuur”. In Romeine 8:12-17 bou Paulus voort op die betekenis wat hierdie nuwe situasie (deur die Gees) vir gelowiges het. Die teks kan in drie subeenhede verdeel word.

Kontras tussen Gees en sonde

Eerstens, in 8:12-13 werk Paulus verder met die kontras tussen lewe deur die Gees en lewe volgens die sondige natuur. Soos Moses in Deuteronomium (30:19) plaas hy sy lesers voor ‘n skerp keuse tussen lewe en dood. Die wat hulle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan die dood tegemoet. ‘n Einde aan die sondige praktyke deur die Gees bring egter lewe.

Kinders van God

Tweedens, in 8:14-15 is die kerngedagte dat gelowiges deur die Heilige Gees kinders van God is. Gelowiges is aangenome kinders. Vers 15 “. . . die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak”, moet volgens die Nuwe Afrikaanse Proefvertaling letterlik vertaal word met: “. . . die Gees van aanneming tot kinders.”

Paulus verkondig die goeie en hoopvolle nuus dat gelowiges kinders van God is. Die betekenis van hierdie kindskap is onder meer dat gelowiges nie verplig is, nie beheers word deur hulle sondige natuur nie, en dat hulle nie meer slawe is nie.

Die beeld van ‘n slaaf herinner ons aan verhale uit die Ou Testament en die belangrike Ou-Testamentiese motief van Israel se bevryding uit Egipte.

Paulus se lesers sou ook daarin sinspeling op hulle eie situasie in Rome hoor. Die Griekse en Romeinse ekonomieë was diep verweef met die slawestelsel. Dit was ‘n alledaagse werklikheid vir die Christene in Rome. Om ‘n slaaf te word, of om van slawerny bevry te word, sou kragtig spreek tot die verbeeldingswêreld van gelowiges in Rome en oral waar die vroeë Christene hulle bevind het.

Meer as vry, ook kinders

Die beeld van slawerny en die bevryding van slawerny is ‘n kragtige beeld.

Die goeie nuus wat Paulus hier verkondig strek egter nog verder. In vers 15 kontrasteer hy slawerny met die aanneming tot kinders. Dus: Christene is nie net “vrygemaaktes” nie, die tegniese term vir diegene wat slawe was en daarna hulle vryheid verwerf het, maar Christene het kinders van God geword op grond van hulle aanneming. Die intimiteit van die verhouding tussen gelowiges en God kom tot uitdrukking in die aanroep van God as “Abba, Vader”.

Hoewel aanneming ‘n algemene gebruik in Paulus se tyd was, gaan Paulus met sy beeld van aangenome kinders van God baie verder as die destydse aannemingspraktyke:

  • Romeine het nie vreemde kinders aangeneem nie. Kinders is gewoonlik uit die vriendekring of bekende kring aangeneem. Vreemde kinders is vermy.
  • Dit was totaal vreemd om slawe, selfs vrygemaakte slawe, aan te neem
  • Waar ouers ‘n wettige erfgenaam gehad het, sou hulle nie nog kinders aanneem nie. Terwyl God ‘n Seun het, neem God nogtans voormalige slawe, wat Hy self vrygekoop het, aan tot kinders. Dit getuig van God se groot liefde vir sondige mense.
Gees as getuie

Derdens, in 8:16-17 trek Paulus die implikasies van aanneming tot kinders deur. Gelowiges is kinders van God. Die Gees is hiervan ‘n getuie.

Die rol van die Gees as getuie word waarskynlik verhelder deur gebruike wat verband hou met ou Romeinse prosedures en seremonies tydens aanneming. Die aannemingseremonie het in die teenwoordigheid van sewe getuies plaasgevind. Gestel die aannemende vader sterf, en ‘n dispuut ontstaan oor die reg van die aangenoem seun – wat in die Romeinse reg dieselfde voordele as ‘n biologiese kind geniet. Een van die getuies sou dan na vore tree en die status van die aangenome kind bevestig. Op hierdie manier is die reg van die aangenome kind bevestig.

Paulus sê dus die Heilige Gees self is die getuie van ons kindskap van God. Ons is aangeneem tot familie van God.

As kinders van God is hulle erfgename van God en mede-erfgename saam met Christus. God se kinders is dus:

  • Nié slawe nie;
  • Maar meer as blote vry mense;
  • Ons is aangeneem tot kinders van God;
  • Ons is beide kinders en daarom ook erfgename van God.
Erfgename van lyding en heerlikheid

Al hierdie normale verwagtings in verband met erfgenaam wees, word deur die laaste sin van die teks op sy kop gekeer. Om aan Christus se heerlikheid deel te kry, moet gelowiges deel kry aan die volheid van Christus. Dit beteken die bereidheid om nou saam met Hom te ly.

Al is ons kinders van God en erfgename van Christus, leef ons steeds in die gebroke wêreld. Dit is hier waar Christus gely het en waar Christus se lyding voortgaan. Ons kreun in die verwagting dat God die volle heerlikheid sal bring. Die res van hfs. 8 bou hierdie tema uit. Ons is beide in die familie van God, maar steeds deel van die skepping wat deur sonde gebreek is.

Dit beteken egter dat lyding nie beteken ons is vervreemd van God, of ons is nie regtig kinders van God nie. Kindskap waarborg nie voorspoed nie. Iemand skryf:

Paul assures his readers that suffering is not evidence of separation from God. Quite to the contrary, it is a sign of living in the ‘battle zone,’ of being indwelled by the Spirit of God which is at odds with the rule of sin and death (Rom 7:21-25; 8:1-10). It is in this very conflict between the purposes of God and the powers of sin and death that Christ Jesus suffered and died for our sake (8:2-4).”

Betekenis van ons teks

Wat sê hierdie teks vir ons vandag? Dit is natuurlik vandag Drie-eenheidsondag. Die bedoeling is dat hierdie teks vandag vir ons help om die wonder van die wese van God, soos aan ons geopenbaar, te vier en ons aan God te verwonder. Dit help ons om vreugde te put uit die feit dat Vader, Seun en Heilige Gees aan ons verbind is – deur die toedoen en werk van God self.

Verhouding

God is ‘n verhoudingswese, ‘n heilige “familie” van Vader, Seun en Heilige Gees. Die leer van die drie-eenheid dui aan dat God ons ingetrek het in ‘n verhouding met God.

Die leer oor die Drie-eenheid is volgens ons teks nie ‘n leer oor God alleen nie, maar oor God met ons en oor ons lewe saam met mekaar. Die verhoudings binne God as Vader, Seun en Gees sluit ons in hierdie verhoudings in. Wanneer dit gebeur, weerspieël ons lewe en verhoudings iets van die Goddelike lewe.

Ons Skrifdeel toon ook nie ‘n geïsoleerde belangstelling in die innerlike lewe van die Drie-eenheid nie. Die verhoudings binne die Drie-eenheid vorm ‘n huishouding van Vader, Christus (die Seun) wat die wettige Erfgenaam is, en die Gees wat die Getuie (die wettige Verteenwoordiger) van die huishouding is. Hierdie huishouding is nie geslote nie, maar wil ons daarby insluit deur “aanneming tot kinders”. Tydens die aannemingseremonie tree die Gees as getuie op deur wie ons aanneming bevestig word. As aangenome kinders, word ons wettige erfgename saam met Christus.

Erfgename!

Om ‘n erfgenaam van ‘n groot boedel te wees, moet wonderlik wees! So ‘n erfenis gee aan die ontvanger ‘n mate van sekuriteit, vryheid en hoop wat hy/sy nie andersins sou gehad het nie. So ‘n erfenis bring natuurlik ook nuwe verantwoordelikhede mee, verantwoordelikhede wat met rentmeesterskap verband hou. As hy/sy nie net hom-/haarself daarmee wil dien nie, moet die erflating so bestuur en bestee word dat die breë gemeenskap ook daarby baat.

Paulus skryf ons is erfgename van God! Hoe ondenkbaar dit ook al klink – dit is wat ons is! Daar was nog nooit en daar sal ook nie ‘n erfenis wees wat hiermee kan vergelyk nie. Mot en roes kan dit nie verniel nie. Inbrekers kan dit nie steel nie. Ons kan dit nie op die aandelebeurs verloor nie. Dit kan nie onteien word nie. Hierdie erflating gee ons hoop wanneer niks anders stand hou nie. Dit beloof aan ons ‘n toekoms wanneer dit lyk asof daar niks in die lewe vir ons oor is nie. Die Gees van God is self hiervan die waarborg.

Lyding en heerlikheid

Daar moet egter meer oor hierdie erfenis gesê word. Dit is tipies van die evangelie. Dit troos nie net nie, maar ontwrig en ontstel ook. Paulus skryf: “Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (17). Ons erfenis is tweeledig. As erfgename saam met Christus sal ons deel hê aan sy heerlikheid. Maar ons sal ook saam met Hom ly en sterf. As ons dink ons kan die heerlikheid in ontvangs neem sonder stryd, lyding en selfprysgawe, verstaan ons nie die evangelie nie. Later in Romeine 8 noem Paulus konkrete voorbeelde van wat hierdie lyding inhou . . . (8:35,36).

In ‘n preek oor hierdie teks, skryf Fleming Rutledge oor die onvermybaarheid van lyding:

Here in Greenwich . . . Our inheritances of green lawns and good schools and a low crime rate are very dear to us. Here in Greenwich it seems that we are not called to leave our families, to go to prison, to risk our lives. Do not let that fact lull you into thinking that it is only other Christians at other times and in other places that are called to behave like heirs of the kingdom of Christ. You too are heirs. I am an heir. It makes a difference to know that.

People who have an inheritance can be more free, more confident, more secure. I want to behave like a fellow-heir of Christ, not like a fearful, temporizing, guilt-ridden weakling, afraid of what may happen tomorrow, hedged in by ‘buts’ and ‘ifs,’ never leaving my own neighbourhood, unable to open my home or business to strangers, poor of spirit and poor of soul. I don’t have to be like that; I am an heir of God . . .

People who have an inheritance guaranteed to them can take all kinds of risks. People who have a legacy coming can afford to be reckless . . . The pain of the world must lie very close to a Christian’s heart. It is half the story of the gospel, the story of a crucified Lord. The other half of the story is the glory and the reward.

Rol van die Heilige Gees

Die goddelike hoofkarakter in ons teks is die Heilige Gees. Vir baie Christene is die Heilige Gees vergete en onbekend. Dit verhinder die volheid van die Christelike lewe.

Ons het nodig om oop te gaan vir die persoon en werk van die Heilige Gees.

  • Die Gees is ons afrigter, wat ons help om ‘n einde te maak aan sondige praktyke  en ‘n lewe van volheid in diens van God te lei
  • Die Gees maak ons kinders van God en skep die sekerheid van ons kindskap in ons lewens
  • Die Gees bevry ons van die mag van sonde
  • Die Gees laat ons roep tot God as Vader – bind ons aan die Vader en die Seun
  • Die Gees gee aan ons die sekerheid van ons status as erfgename.

Ons leef danksy die Gees in groot geselskap, ons is deel van die belangrikste familie denkbaar. Ons leef in gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees. Ons is God se erfgename!

God stuur ons om te leef

Gebed
Pinkster litanie  (indien u dit nie vroeër in die erediens gebruik het nie)
L:  Halleluja!  Die Gees van die Here vul die aarde.
G:  Laat die regverdiges bly wees en juig voor die Here.  Halleluja!

L:  Met tonge van vuur het die Gees die apostels aangespoor.
G:  Hulle vertel in nuwe tale van die groot dade van God.

L:  Ere aan God, Vader, Seun en Heilige Gees.
G:  Mag sy koninkryk sonder einde wees.

L:  Halleluja!  Kom, Skepper-Gees!
G:  Vul die harte van u volgelinge met die oorvloed van u liefde.  Halleluja!  Amen.
(2010. Handleiding vir die Erediens.  Bybelmedia)

Offergawes

Wegsending: Lied 449 ” Halleluja! Ons loof U Heer vs 1,2,3,4″

Seën: Jesaja 6
8Toe het ek die Here hoor vra:
“Wie kan Ek stuur?
Wie sal ons boodskapper wees?”
Ek het geantwoord:
“Hier is ek! Stuur my!”
Amen

AntwoordLied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.