Eerste Sondag in Koninkrykstyd – Drie-eenheidsondag

Sections

Oorsig

Die embleem vir Drie-eenheidsondag is die boot met die kruis daarin, die kleure is wit en goud.

Daar is ook ander drie-eenheidsimbole soos die triquetra, fleur de lis of klawerblaar. Drie-eenheidsondag word na Pinkster op die eerste Sondag van Koninkrykstyd gevier.

Psalm 8 as fokusteks besing die Skepper wat in verhouding staan met die mens.

Genesis 1:1-2:4a is ‘n belydenis waarin getuig word dat God die Skepper van alles is en dat die Gees oor die water gesweef het. 2 Korintiërs 13:11-13 fokus op drie sake, naamlik gebede tot God, volwassenheid en ons lewe in Christus. Die Matteusteks fokus op die uitsending van die dissipels om dissipels te gaan maak in die Naam van die Drie-enige God.

Ander tekste

Genesis 1:-2:4a
God se skeppingswerk
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”
En daar was lig.
4God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

6Toe het God gesê: “Laat daar ’n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.”

7So het dit gebeur.
God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf. 8God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.

9Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.”

So het dit gebeur.
10God het die droë grond “aarde” genoem, en die waters wat bymekaar gekom het, het Hy “see” genoem. En God het gesien dit is goed.

11Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.”

So het dit gebeur.
12Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. 13Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag.

14Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui. 15Hulle moet ligte wees aan die hemelgewelf om op die aarde lig te gee.”

So het dit gebeur.
16God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre. 17God het hulle in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee, 18om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. En God het gesien dit is goed.

19Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.

20Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”

21God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed.

22Toe het God hulle geseën: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land.”

23Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag.

24Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard.”

So het dit gebeur.
25God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.

26Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

29Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.”

So het dit gebeur.
31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

2 Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

4Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.

2 Korintiërs 13:11-13
11Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!

12Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete.

13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Matteus 28:16-20
16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Fokusteks

Psalm 8
Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
‘n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ‘n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ‘n bietjie minder
as ‘n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Ekstra stof

Psalm 8 – Nietig, maar waardig in God se teenwoordigheid
Watter wonderlike Psalm!  Dit is oorspronklik waarskynlik in beurtsang gesing (Kraus).  Vers 2a en 10 is moontlik deur een party (gemeente?) en vers 3-9 deur ‘n ander party gesing (‘n koor?).

Die vertaling van vers 2b kan ook so lui (Loader):

“U lof word hemelhoog besing” en dan vers 3a “uit die mond van kinders en suigelinge”

Vers 3b en vers 4 vorm dan ‘n eenheid:

“U het sterkte teenoor u teëstanders gegrondves om die vyand se werke te vernietig”

Dit beteken dat die Psalm so opgebou is:

  • Opskrif – vers 1
  • God se Teenwoordigheid (Naam) is wonderbaar oor die hele aarde (vers 2a).
    • Eenvoudige kinders bevestig God se werk tot verstomming van arrogante teëstanders (vers 2b-3).
    • In die lig van God se grootheid in die skepping besef mense hul nietigheid (vers 4-5).
    • God bevestig egter mense se waardigheid as die kroon van Sy skepping (vers 6-7).
    • Die mens se invloed sluit alles – diere, voëls en visse – in (vers 8-9).
  • God se Teenwoordigheid (Naam) is wonderbaar oor die hele aarde (vers 10).

Vers 6 is eintlik ‘n ongelooflike vers in die oorspronklike.  Daar staan nie dat God van die mens net minder as ‘n “goddelike wese” gemaak het nie, maar dat God van die mens net minder as “God” gemaak het.  Die woord Elohîm word gebruik (NIV gee die betekenis in ‘n voetnoot weer)!  Die Griekse vertaling van die OT (LXX) het hierdie woord vertaal met “engele”, waarskynlik omdat God vir hulle te verhewe was (die teks wat die skrywer van Hebr 2:7 waarskynlik gebruik het). Maar dit is duidelik dat “God” bedoel word in die Hebreeuse oorspronklike.

God het die mens ook konings  gemaak, soos blyk uit die koningsterminologie wat gebruik word – “heers”, “kroon”, “onderwerp”.  Alles wat God gemaak het, is onder die koninklike voete van die mens gestel (Loader).  ‘n Mens hoor hier dus onmiskenbaar die parallel met Genesis 1:26 – God het ons as Imago Dei, as Sy beeld gemaak, as Sy gelykenis.  Geen ander wese het daardie hoë status nie, nie die engele nie, nie die serafs nie, nie enige lewende wese nie.

Maar die kontras tussen die nietigheid van die mens en sy waardigheid beteken dat die grootheid in nietigheid bestaan, presies soos dit van Christus geskrywe word, dat Hy Homself ontledig het, die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het, nietig en klein geword het … en dat God Hom uitermate verhoog het, groot gemaak het, selfs groter as wat Hy was voor sy menswording.

Die een is so belangrik soos die ander.
Dit het impak vir ons huidige debatte oor die skuld van die verlede – die waardigheid van mense wat hulle skuld bely moet gehandhaaf word; net so die waardigheid van hulle slagoffers; en almal saam moet hulle nietigheid voor God en voor die skepping besef, en ook bereid wees om hulle diensbaar te stel aan mekaar.  Dit is die evangelie!  En dit alles moet in die Teenwoordigheid van die Here gebeur, soos die Psalm so wonderlik uitspel.

Dit het ook ‘n impak op jou eie lewe – of jy nou sukkel onder vyande, selfs iemand so naby aan jou as jou eie seun (Absalom – Ps 3,4) of misoeste (Ps 4) of onder siekte (Ps 6) of verraaiers en vervolgers (Ps 5,7) – jy het nodig om na te dink oor die 3 dinge:

  • jou nietigheid en jou diensbaarheid;
  • jou waardigheid en God se sorg;
  • God se teenwoordigheid waarsonder jy nie sin en betekenis in jou lewe kan ervaar nie.

Nietig, maar waardig, in God se teenwoordigheid.
Dit het ook ‘n impak op hoe ons met die aarde en alles daarin omgaan.  Ons kan nie onsself daarteenoor opstel en dit gebruik en dink ons kan maak wat ons wil nie.  Nee, soos konings, wat verantwoordelikheid het, wat namens God optree as sy verteenwoordigers, moet ons met die diere en oseane en atmosfeer en natuurlik die grond waarop ons bly, omgaan.  Ons kleur is groen!

Lina Spies verwoord dié Psalm as volg:
1. O, Here God, u Naam is groot op aarde!
U hemelruim strek tot die verste einders:
Waar menseoë geen stippel meer gewaar,
daar straal en skyn nog steeds u majesteit.

2. Na U, die God so hoog bo ons verhewe,
styg daar ‘n lied van dank, u Naam ter ere!
U lof uit kindermonde klink alom:
U haters swyg, U lasteraars verstom.

3. Sien ek die maan, die sterre in hul bane,
weet ek, o Heer, hul dra u vingermerke:
hul skryf u Naam al glinst’rend in hul gang;
hoe klein voor U die mens, hoe sonder rang.

4. Hoe is dit dan dat U tog na ons omsien,
die brose mens omstraal met u nabyheid?
U maak ons sterk, U kroon ons met u glans:
Ons hoort by U en word deur U omskans.

5. U stel ons aan oor al u werke, Here,
oor als wat vry en selfs verborge lewe:.
die voëls wat in die ruim hoog oor ons sweef,
die vis wat speel in dieptes van die see.

6. O, Here God, u Naam is groot op aarde!
U hemelruim strek tot die verste einders:
Waar menseoë geen stippel meer gewaar,
daar straal en skyn nog steeds u majesteit!

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 454 of Vonkk 70

Votum: (nav Ps 8)

Seëngroet

Lofsang: Lied 450 of Flam 24

Wet: 2 Korintiërs 13:11

Toewyding: Lied 453

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Psalm 8

Familie-oomblik: Flam 84

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Psalm 8 of VONKK 85 of Flam 459

Seën: 2 Korintiërs 13:13 of Vonkk 144

Respons: Lied 189 of Vonkk 149

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 454 “Vader, ons eer U” of
Vonkk 70 Abba, Vader

Votum
Voorganger:  Here, ons Here, hoe wonderbaar is u naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
Gemeente:  Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Seëngroet
In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees

Lofsang 
Lied 450 “Vader, Seun, Heil’ge Gees” of
Flam 24 As ek u hemel aanskou

Wet: 2 Korintiërs 13:11

Toewyding 
Lied 453 “Aan die Vader dank en ere”

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 70 “Abba, Vader”
Afrikaanse en Engelse teks:  Jacques Louw 2005/2009 ©
Melodie:  ANNELISE – Annalise Wiid 2004 ©  uit EK KYK OP (met toestemming Annie’s Song)
Orrelbegeleiding:  Jacques Louw 2005 ©
Kantoryverwerking: Jacques Louw 2005 ©
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Drie-eenheidsondag

1. Abba, Vader, Skepper van die heelal,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

2. Jesus, Christus, Lam van God, Verlosser,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

3. Gees van Waarheid, Trooster en ons Leidsman,
ons aanbid U, U is heilig, Heer.

1. Abba Father, Lord of all creation –
we adore You, You are holy, God.

2. Jesus, Christ, Lord, Lamb of God, our Saviour –
we adore You, You are holy, God.

3. Holy Spirit, Comforter and Mentor –
we adore You, You are holy, God.

F24. “As Ek U Hemel Aanskou”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering)
Teks en musiek: Rhe Janse
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Ps 8)

1. As ek u hemel aanskou –
die werke van u vingers,
maan en sterre aanskou –
dan voel ek so gering, Heer.
Wat is die mens dan dat U aan hom dink?
Wat is die mens dan dat U na hom omsien?

2. U laat ons heers oor u werk –
die werke van u hande,
dis aan ons onderwerp –
die see, die lug, die lande.
Wat is die mens dan dat u aan hom dink?
Wat is die mens dan dat u na hom omsien?

Refrein:
O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar u Naam!
O Heer, ons Heer, juig aarde, roem sy Naam!
O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar u Naam!
O Heer, ons Heer, juig aarde, roem sy Naam!
Ons roem u Naam,
Ons roem u Naam!

VONKK 85 “Here, Ons Here, Hoe Groot Is U!  (Psalm 8)”
Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie: HENTIESBAAI – Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2011
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr  – Verwondering

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 1:
Kyk, die hemel en die aarde wys die wonders van u Naam.
Kyk, die maanlig in die aande en die sterre sê dit saam:

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 2:
Al die kinders, selfs die kleinstes, wil oor U kom sing en juig.
Al die mense wat teen U is, sal ook voor U moet kom buig.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 3:
Ons as mense is maar nietig, tog gee U ons roem en eer.
U versorg ons en U kroon ons om u skepping te regeer.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 4:
Al die diere van die aarde het U aan ons toevertrou.
U laat heers ons oor u skepping wat U in u hande hou.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

F459. “Wat Is Die Mens (Psalm 8)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)
Teks en musiek: Louis Brittz
Kopiereg: © Urial Publishing

1. Wat is die mens dat U aan hom dink
die mense kind dat U hom besoek –
wat is die mens?
U laat ons heers oor u handewerk,
skape, beeste, diere van die veld –
wat is die mens?

As ek die hemel aanskou,
u arms wat my toevou
O Here, ons Here
hoe lieflik is u Naam.

Refrein:
U is ons lewe, U is ons vrede.
Laat die hemele bly wees en die aarde juig.
U is ons sterke God
U regeer vir ewig.
Laat die see in sy volheid bruis
U heerlikheid basuin.
O Here, ons Here, hoe lieflik is U naam.

2. Weinig minder as die engele
met heerlikheid en eer gekroon –
wat is die mens?
U gee ons mag oor ons vyande
en niks kan ons verwyder
van u liefde, Heer.

As ek die hemel aanskou,
U arms wat my toevou,
O Here, ons Here,
hoe lieflik is U naam.

Refrein:

Brug:
Here, ons Here, hoe heerlik is u Naam
regoor die aarde, oor alles wat bestaan.
Hoe groot U glorie, die hemelruim besing
die maan en sterre sal met lig u lof besing.
U lof besing,
U helder lof besing.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Psalm 8

Familie-oomblik: F84. My God Is So Groot

Preek

Familie-oomblik

Soos Carolyn Brown sê:  “this may be a better week to celebrate God than to explain God”.  Gesels oor hoe God meer is as wat ons ooit sal verstaan.  Laat mense ‘n paar van die onbeantwoordbare vrae oor God vra:  Wat het God voor die skepping gedoen? Hoe kan dit wees dat God nog altyd daar was?  Hoe kan God die hele tyd aandag gee aan elke mens op aarde?  Hoekom het God muskiete gemaak?  Voeg ‘n paar goed by wat jy wonder – en laat die kinders ook sê wat hulle wonder.  Geen “wonder” is te snaaks of te eenvoudig of te sleg om genoem te word nie!

Gee kans vir ‘n paar kinders om lofgebede te bid.

Sing:
F84. My God Is So Groot 
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Verwondering) Oorspronklik: My God Is So Big Teks en musiek: Ruth Harms Calkin  Afrikaanse vertaling: Onbekend © 1959, 2002 Nuggets of Truth (Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, My eerste loflied)

My God is so groot so sterk en so magtig
daar’s niks wat my God nie kan doen.
Die berge maak Hy, die riviere daarby
die see en alles daarin.
My God is so groot so sterk en so magtig
daar’s niks wat my God nie kan doen.
OF
Sluit aan by Psalm 8 en lees die super-pragtige When God Made You deur by Matthew Paul Turner (Author), David Catrow (Illustrator).  Kry die Kindle weergawe hier vir $9.52.

Of Bybelmedia se Woord en Fees stel voor:
Gebruik ‘n eier om aan die kinders die Drie-eenheid te verduidelik. Soos ‘n eier ‘n eenheid is, is God ook ‘n eenheid, maar die eier bestaan ook uit drie dele, te wete die dop, die eierwit en die eiergeel. Saam vorm dit ‘n eier. As jy net een van die dele het, het jy nog nie ‘n eier nie. So is dit met God ook. As jy byvoorbeeld net die Vader het, het jy nog nie vir God nie, maar net ‘n deel van Hom, ensovoorts.

Preekriglyn

Die lastige huisvlieg is die mees vaardige vlieënier op planeet aarde. Hy klop enige voël, vlermuis, of insek, selfs bye.

Kyk net na die volgende: ‘n huisvlieg kan ses draaie per sekonde gooi, op een plek in die lug hang, reguit opwaarts vlieg, reguit af vlieg, agtertoe vlieg, bollemakiesie in die lug slaan, teen die plafon gaan land, en nog ‘n klomp ander wafferse maneuvers uithaal. ‘n Vlieg se brein is kleiner as ‘n sesamesaad.

Vlieë is ook oorlaai met sensors. Hulle het saamgestelde oë, wat die omgewing as ‘n panorama kan waarneem en beweging blitsig registreer. Hulle het ook lugbeweging-sensitiewe haartjies en antennas. Dan het vlieë ook drie ligsensitiewe sensors, ocelli genoem, op hulle koppe, waarmee hulle posisie (bo en onder) kan onderskei. Omtrent twee-derdes van ‘n vlieg se senuweesisteem is ingestel op die verwerking van visuele beelde.

Dink daaraan: as vlieë, van die nederigste wesentjies wat daar is, so wonderbaarlik is, hoe wonderbaar is die mens nie – wat God net minder as ‘n goddelike wese gemaak en met eer en heerlikheid gekroon het. Grafika hier Beskikbaar

Kopiereg word gereël deur Creative Commons en laat plasing toe.

Psalm 8

Psalm 8 kom uit Israel se gebedeboek, soos die Psalms dikwels genoem word. Psalm 8 is ‘n lofpsalm, ‘n psalm wat na aanleiding van God se wonderbaarlike skepping lof aan God toebring. Dit is ‘n psalm wat in sy geheel aan God gerig is. Psalm 8 spreek van verwondering en lof oor God as Skepper en die mens se posisie binne die groter skepping.

Die struktuur van Psalm 8 staan bekend as ‘n inclusio, oftewel ‘n omraming. Dit beteken dat die begin en die einde van die psalm na die grootheid van God verwys. Binne die raam van die verwysing na God word daar dan oor die mens gepraat, maar nooit los van God en van die verhouding tot God nie.

God se grootheid

Verse 2 en 10 verwys na God en vorm die raamwerk waarbinne in die middel oor die mens in verhouding tot God verwys word:

  • Vers 2: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
  • Vers 10: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Vers 2 begin met die Hebreeuse aanspreekvorm, Jahwe, wat vertaal word met “Here”. Dit word uitgebrei met die naam Adonai, wat ook Here beteken. Daarom word dit vertaal: “Here, ons Here”, maar letterlik is dit “Jahwe, ons Here”.

Die lof wat volg, word gekoppel aan hierdie Naam. God het Homself in sy Naam aan die volk geopenbaar. Hierdie Naam word in verskillende vertalings beskryf as: wonderbaar, vol majesteit, majestueus, heerlik, magtig. God se Naam beskryf God se toeganklikheid, sy teenwoordigheid en die getrouheid aan sy beloftes. Sy Naam openbaar sy wese en karakter. Hier het dit te make met sy goddelike almag en beskikking. Die verwondering teenoor die groter skepping staan sentraal; die skepping word in verband gebring met die Naam van God.

Dieselfde benaming vir God word ook in vers 10 herhaal.

God se groot mag

In vers 3 word oor God se grootheid in terme van vyande en suigelinge gepraat. Die vyande van God is magtige mense, mense wat God se Naam nie erken nie. Tog bevestig kinders en suigelinge God se mag oor die vyande. Kinders simboliseer eintlik weerloosheid en swakheid, maar hulle het groter mag omdat hulle God se naam op hulle lippe neem. Hulle lof maak die vyande stil. Die lof van God uit kinders se monde is sterker as die laster en woede van vyande.

Wie is die mens?

In vers 4 word oor die grootheid van die uitspansel gepraat. Die hemel, maan en sterre lê wyd en groots, en tog is dit net die werk van God se vingers. Dit beteken die hemelruim, sterre en uitspansel – massief soos dit is – is klein in verhouding tot God.

Tog is die mens soveel kleiner as die hemelruim. In verhouding tot die grootsheid van die naghemel, wat is die mens dat God aan ons dink en na ons omsien? Hierdie is ‘n uitroep van verrassing en verwondering. Hoe is dit moontlik dat ‘n groot God, met ‘n groot skepping, kan dink aan die mens en vir die mens sorg?

Tog is dit tipies van God. God wat alles gemaak het, het ook die mens gemaak. Oor die mens kan ons nooit los van hierdie God dink nie. Aan die mens, sy skepsel, het God ‘n besondere posisie gegee:

  • In vers 6 word hierdie posisie beskryf deur te sê God het ons “net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak”. Die Hebreeuse woord vir “hemelse wese” is elohim, wat “God” beteken. God het ons gemaak en ons net onder God self geplaas. Dit is ‘n uitgelese posisie, maar dit is ook ‘n posisie van afhanklikheid van God. Die mens wat in hierdie ereposisie geplaas is, maar nie binne sy verhouding met God bly nie, verstaan nie sy plek nie.
  • Van God ontvang die mens “aansien en eer”, of “eer en heerlikheid” (1933-vertaling). Die Nuwe Direkte Vertaling sê die mens is  “met majesteit en glansrykheid gekroon”. Hierdie is almal koninklike en goddelike eienskappe. Die Hebreeuse woorde kabod (heerlikheid) en hadar (eer), word in die psalms meestal vir God gebruik, soms vir ‘n koning.
  • Teenoor die res van die skepping is die mens in ‘n heerser- en bewaringposisie geplaas (verse 7-9):

U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.

Die wonderbaarlike glorie van God se skepping word die ruimte waarbinne God aan die mens in plek gee. Die mens is God se beeld en verteenwoordiger wat die skepping oppas en versorg, nie vanweë sy besondere potensiaal nie, maar vanweë die taak en toerusting wat God aan die mens opgedra het.

Betekenis vir ons

Die psalm help ons op verskillende maniere om menswees te verstaan.

Die belangrikste kenmerk van Psalm 8 is die boodskap dat menswees nooit los van God bedink kan word nie. Mense moet verstaan word vanuit die skeppende en reddende teenwoordigheid van die “Here, ons Here”. Wie vra na die betekenis van menswees, moet dit doen as deel van ‘n loflied vanuit die geloofsverhouding met God. Ons kan sê die betekenis van menswees lê in ons band met God, d.w.s. menswees is altyd verbondsgeoriënteerd.

Die sonde van Genesis 3 is juis dat die mens hom onafhanklik van God wil verklaar; dat mense hulself los van God wil bedink. Dit is ongehoorsaamheid en sonde.

Dit herinner ons aan hoe Calvyn sy Institusie begin. Hy sê die hoofsom van wysheid bestaan uit twee dele, naamlik kennis van God en kennis van onsself: “Ja, selfs ons bestaan is niks anders as ‘n bestaan in die enige God nie.” (1.1.2).

Slegs in die saambestaan en vennootskap met God raak mense bewus van hulle oorsprong en doel. Ons bestaan is uit en uit ‘n verhoudingsbestaan. Die oorsprong van menslike lewe en die sinvolheid daarvan word gegee in verhouding tot die God. Die waarde van die mens is ‘n gawe van God.

Era van die mens?

Ons leef in ‘n tyd dat mense oor die wêreld dink as die ruimte waarin die mens homself groter as ooit laat geld. Vir die eerste keer kan die spore en effek van die mens se invloed op die skepping duidelik gesien word. Klimaatsverandering is ‘n voorbeeld hiervan. Van hierdie “era van die mens” word as die “anthropocene” gepraat.

Dit pas in by die moderne siening van menswees as totaal los van ‘n verhouding tot God. Die mens is outonoom. Outonoom kom van die Griekse woorde vir “self” en “wet”.  Ons is ons eie wet en maak soos ons wil.

Dit verstaan die mens as entiteit wat selfstandig bestaan en so onafhanklik ‘n eie toekoms bepaal of skep. Die skepping is dan die masjien wat jy moet verstaan en gebruik, met al die kragte en magte tot jou beskikking.

Hierin is daar geen heil vir die mens nie. Ons teks nooi ons om in terme van geskapenheid, afhanklikheid en interafhanklikheid na onsself te kyk. Die mens kan nie los van God verstaan word nie. Eers dan het die mens sy regte plek in die skepping gevind.

Grense van ons mag

Psalm 8 herinner ons ook aan die aard van menslike mag. Die mens ontvang in Genesis 1 die opdrag om oor God se skepping te heers en dit te bewerk en te bewaak. In die geskiedenis het hierdie mag ontaard in uitbuiting van die skepping, in verwoesting en misbruik. Daarom saal ons die toekomstige geslagte op met die verskriklike gevolge van klimaatsverandering.

Die opdrag om te heers, is ‘n opdrag tot oppas en beskerming. Iemand skryf dat God altyd God se mag gebruik om te bewaar en op te pas. Daarom moet ons ons goddelike opdrag ook op dieselfde manier uitoefen. Ons bly ook altyd verantwoordbaar teenoor God, want ons kry ons gesag van God.

Dalk is een van die redes waarom mense die skepping uitbuit dat ons ons verwondering oor die grootheid van God en die grootheid van God se werke verloor het. As verwondering verdwyn, begin ons net die potensiaal tot selfverryking en magsmisbruik raaksien. Alles word in terme van ekonomiese waarde gesien, wat ons kan uitbuit om ons eie posisie te verbeter. Ons vergeet van God en van die sorg wat God belowe.

Daarom moet ons ons motors met verantwoordelikheid gebruik, dink voordat ons elektrisiteit gebruik of ‘n kraan oopdraai. God se aarde beskik nie oor voldoende bronne om ‘n verkwistende lewensstyl van al die aardbewoners te onderhou nie. Ons het bewakers nodig, nie verkwisters nie. Mense wat God se karakter vertoon.

God se Naam

Psalm 8 help ons ook om God se Naam met ons wêreld te verbind. God se Naam openbaar God as die Een wat alles geskep het en vir alles sorg. Sy Naam is groter as die vyande, en getuig van sy skeppingsmag en sy redding.

In die lofpsalms is God se skeppingsmag en reddende mag altyd geïntegreer. God se naam word besing omdat daar nood en onsekerheid is en mense na sekerheid smag. Wanneer dan God se Naam bedink, word ons bewus dat die Skepper van alles steeds teenwoordig is en ons versorg.

Die bedink van God se Naam help ons ook om nie te klein oor God te dink nie. Ons word herinner dat God groter as ons wêreld is, dat God alles omspan. God se Naam openbaar God, maar God is selfs groter, heerliker en meer as God se openbaring aan ons.

Die wonder is dat hierdie God ons onthou, aan ons dink en ons versorg.  Ons word uitgenooi om weer verwonderd te wees oor ons plek binne die groter geskapenheid. Eintlik is die wêreld vir ons nog groter as wat dit vir die psalmskrywer is, maar ons verwondering is gegrond in die feit dat ons gekies en ingenooi en bevestig is, maar altyd tot God se eer.

Laat ons saam met die kinders en die suigelinge God se heerlikheid besing!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Psalm 8 of
VONKK 85 Here, Ons Here, Hoe Groot Is U!  (Psalm 8) of
Flam 459 Wat Is Die Mens (Psalm 8)

Seën
2 Korintiërs 13:13 of
Vonkk 144

Respons
Lied 189 “Halleluja” of
Vonkk 149 Halleluja 3
Teks: Tradisioneel Russiese doksologie aangepas deur Gerrit Jordaan 2010
Melodie:  Slava tiebie Boze! – Russies ortodoks, aangepas Taizé.
© 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Drie-eenheidsondag

Halleluja, halleluja.
Halleluja.
Ere aan die Vader en ere aan die Seun van God,
ere aan die Heilige Gees.
Halleluja, halleluja.
Halleluja.