Eerste Sondag in Koninkrykstyd (Drie-Eenheidsondag – Feesdiens)

Picture of Woord en Fees

Eerste Sondag in Koninkrykstyd (Drie-Eenheidsondag – Feesdiens)

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Jesaja 6:1-8
Ander tekste: Psalm 29; Romeine 8:12-17; Johannes 3:1-17

Inleiding

Drie-eenheidsondag word op die eerste Sondag na Pinkster gevier. Dit is dan ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Sommige kerke vier Drie-eenheidsondag eerder op die laaste Sondag voor die begin van Advent. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit. Daar is aanduidings dat Drie-eenheidsondag reeds sedert die 10de eeu op hierdie datum gevier is. In beide die Rooms-Katolieke en Anglikaanse tradisies word baie gemaak van die Geloofsbelydenis van Atanasius op Triniteitsondag.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Votum en seëngroet
Voorganger: Erken die Here, kinders van God;
erken die Here – sy majesteit en krag; erken die Here – die majesteit van sy Naam.
Buig in aanbidding voor die Here in glansryke heiligheid.
Gemeente: Ons buig voor U, Here.

Voorganger: Die stem van die Here dreun oor die waters, die stem van die Here is kragtig, die stem van die Here is glansryk.
Die stem van die Here breek seders, die stem van die Here kap klip met vlamme, die stem van die Here laat die woestyn bewe. Sy volgelinge sê: “Majesteit!”
Gemeente: “Majesteit!” Die Here troon oor die vloedwaters, ja, die Here troon as koning vir ewig. Die Here gee krag aan sy volk, die Here seën sy volk met vrede. (Verwerk uit Psalm 29 in die Direkte vertaling  van die Bybel.

Voorganger: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die Eersgeborene van die dooies en die heerser oor die konings van die aarde (Op 1:4, 5).

Almal: Amen.

Loflied
Lied 547:1-3 “Alle volke klap jul hande”; Lied 158:1-3; NSG 343 “God is hier teenwoordig”; Flam 21 “In die hemel is die Heer”

Geloofsbelydenis
Voorganger: Ons eer één drie-enige God.
Gemeente: Ons eer U, Vader. Ons eer U, Seun. Ons eer U, Heilige Gees.

Voorganger: Ons eer U, ewige Majesteit.
Gemeente: Ons eer u eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees.

Voorganger: Niemand het God geskep nie. Die Vader is deur niemand geskep nie. Die Seun is deur niemand geskep nie, maar verwek deur die Vader alleen. Die Gees is deur niemand geskep nie, maar gaan van die Vader en die Seun alleen uit.
Gemeente: U is die ewige onmeetlike God! U is één.

Voorganger: God se mag ken geen einde nie!
Gemeente: Die Vader is almagtig, die Seun is almagtig, die Heilige Gees is almagtig.

Voorganger: Die Vader is nie meer of minder as die Seun of die Gees nie. Die Seun is nie meer of minder as die Vader of die Gees nie. Die Gees is nie meer of minder as die Vader of die Seun nie.
Gemeente: Die Vader, Seun en Gees is gelyk in waarde, mag en eer. Ons eer U, drie-enige God.

Voorganger: Die Seun het mens geword. Hy is gelyk aan die Vader na sy Godheid, maar minder as die Vader na sy mensheid.
Gemeente: Die Seun het mens geword, minder geword, sodat ons gered kon word. Hy het sy Goddelike gestalte nie bly vashou nie, maar dit gelos om ons te red.

Voorganger: Hy het vir ons gely, gesterf en ter helle neergedaal.
Gemeente: Hy het vir ons opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader.

Voorganger: Aan Hom is alle mag gegee om te oordeel,
Gemeente: Hy is ons opstanding uit die dood.

Voorganger: Ons eer één drie-enige God.
Gemeente: Ons eer U, Vader. Ons eer U, Seun. Ons eer U, Heilige Gees

Almal: Amen. (Verwerk uit die geloofsbelydenis van Atanasius.)

Sang
Lied 468 “Christus die Seun is beeld van God”;
Lied 449; NSG 1 “Halleluja, ons loof U Heer”;
Flam 4 “O Heilige Gees kom maak my nuut”

Gebed
Dank God vir sy genade.

Diens van die Woord

Kindertyd

Doopherinnering/Doopbediening
Roep die kinders vorentoe om hulle hande in die water van die doopbak te kom sit. Verduidelik dat toe hulle gedoop is in die naam van die Vader, Seun en die Heilige Gees, God ’n baie spesiale belofte aan hulle gemaak het. Hy het belowe Hy sal vir hulle sorg soos ’n goeie Pa. Hy het belowe dat toe Jesus vir ons sonde gesterf het, dit ook in hulle plek was. Daarom vergewe God ons sonde en sal Hy ons nie eendag daarvoor straf nie, dit is klaar gestraf. Hy het belowe dat hulle nooit sonder Hom sal wees nie. Die Heilige Gees is altyd by hulle en daarom kan hulle altyd met God praat en luister wat Hy sê. Kom ons luister wat Jesus hieroor gesê het net voor Hy van sy dissipels af weg is. (Hierdie gedeelte kan vervang word met die bediening van die doop.)

Gebed  om die opening van die Woord
Lied 532; NSG 310 “Ons Vader, neem ons hande”

Skriflesing
Jesaja 6:1-8

Prediking

Gebed
Lied 505; NSG 161 “Jesus U gaan voor”;
Flam 60 “U liefdeslied”;
Flam 346 “U hand in myne”

Offergawes
Die offers vervul hier die rol om ons verbintenis tot die opdrag van Jesus te bevestig.

Diens van die tafel

Voorlesing
Romeine 8:12-17

Eucharistiegebed/grootnagmaalgebed
of
formulier
Die gebed is ontleen aan gepubliseerde liturgieë vir gebruik in die Gereformeerde en Hervormde kerke in Nederland. Dit kan die formulier in geheel vervang. Die gebed is gewysig en in ’n effens verkorte weergawe beskikbaar op die webwerf van die NG Kerk.

Uitsending

Sang
Flam 52 “Laat almal weet”; Lied 533 “Stuur ons, Heer”; NSG 201:1-3 “God se koninkryk het naby, digby, tot by ons gekom”

Seëngroet
Voor die uitspreek van ’n Trinitariese seën, lees Johannes 3:16-17.

Preekstudie: Jesaja 6:1-8

Teks

Die perikoopafbakening vir Drie-eenheidsondag is Jesaja 6:1-8. Die volle omvang van Jesaja se roeping kan nie werklik verstaan word sonder die insluit van vers 9-13 nie. Om te hou by die liturgiese indeling, wat die fokus plaas op God en nie soseer Jesaja se roeping nie, fokus die preekstudie wel net op die eerste 8 verse.

Jesaja 6:1-8 beskryf die roepingsmoment van Jesaja vanuit eerstepersoonsverteller-perspektief. Die historiese verwysing na die dood van koning Ussia dui op die einde van ’n stabiele periode vir Israel en die begin van die Assiriese bedreiging. Hierdie roepingsmoment word vergelyk met ervarings van profete soos Esegiël, Jeremia en Miga (I Kon 22), alhoewel Jesaja unieke elemente besit. Seitz skryf dat daar twee tipies roepingsnarratiewe in die Ou Testament is: of die moment word gedomineer deur die Woord van God, of deur ’n teofanie. Die roeping van Jesaja val in laasgenoemde kategorie.

Die kritiese debat rondom hoofstuk 6 het veral te make met die plasing van die teks binne die groter geheel van die eerste hoofstukke. Die tradisionele beskouing is dat hoofstuk 1-5 chronologies volg en dat Jesaja eers aan die einde van Ussia se regering sy roeping ontvang het. Mettertyd en die gebruik van verskillende kritiese leesstrategieë is met verskillende hipoteses ontwikkel om te verduidelik hoekom die roepingsmoment so lank na hoofstuk een voorkom. Dié vraagstuk is egter nie werklik van belang vir die preekstudie nie.

Baie is al geskryf oor die gebeure in Jesaja 6. Het Jesaja dit werklik beleef? Was dit net in sy gedagtes, soos ’n droom? Was dit ekstaties, misties of werklik? Ek dink nie die beantwoording van die vraag is noodsaaklik vir die boodskap van die perikoop nie. Dit bly ’n ontmoeting tussen God in sy heiligheid en die mens – in dié geval Jesaja in sy menslikheid. Die teks is nie bedoel vir spekulasie oor die wese van God nie. Tog kan mens sê die visioen is fundamenteel vir die hele bediening van Jesaja as profeet. Die elemente van heiligheid en heerlikheid het sterk boustene gevorm vir die inhoud van sy profetiese optredes.

Die gebeure het moontlik te make met die legitimering van Jesaja se roeping na ’n volk wat hom eintlik nie wil hoor nie. Wildberger sê dat indien Jesaja se roeping as legitiem deur Israel ervaar/aanvaar moes word, moes daar sekere herkenbare roepingselemente wees.

Vers 1. Jesaja se vertelling word geplaas binne ’n spesifieke historiese tyd. Daar is ’n rede. Ussia was ’n goeie koning. Nou is hy dood en Assirië kom nader. Die politieke bloeityd is verby en ’n gevoel van hooploosheid kon onder die volk posvat. Die Jesaja-vertelling wys nou bewustelik weg van die aardse koning, na die Here in sy heiligdom.

Die eerste vers bevat woorde en visuele beelde wat koningskap uitbeeld en eerbied aanwakker. Daar is ’n troon en die Hebreeuse woord hekal, vertaal as tempel, is ’n Sumeriese leenwoord met die essensiële betekenis van ’n paleis. Die tempel is God se paleis. Hy is koning, nie Ussia, Jotam, of Ahas nie.

Kaiser motiveer die spesifieke historiese tydverwysing as ’n manier om aan te dui dat Jesaja se profetiese aktiwiteit nie ’n gevolg van sy eie besluit was nie, maar dat God se hand na Hom uitgereik het binne tyd en ruimte.

Die beskrywing “ek die Here gesien”, is ’n gelaaide stelling. Die woord “Adonai” kan daarop dui dat Hy vir wie Jesaja gesien het, die heerser is van die wêreld. Die fokus is op heerskappy. Daar is ’n tradisie in die Ou Testament dat mense God nie mag sien nie en dat die sien van God jou dood kan beteken. Dit is interessant dat Jesaja nie soseer vir God beskryf nie, maar bewus is van eksterne elemente. Hy praat van sy kleed, die omgewing, sy heilige teenwoordigheid en die omstanders. Die elemente verhoog die waarneming van die heerlikheid/ majesteit/mag van Jahweh. Hy “sien” maar sien tog ook nie werklik nie.

Vers 2. Die Here word hier uitgebeeld as ’n goddelike Koning op ’n troon omring deur hemelinge. Daar is baie spekulasie oor die spesifieke aard van die serafs. Uitbeeldings van soortgelyke skepsels is gevind in Egiptiese en Siro-Palestynse kuns. Die term word ook gebruik in ander verwysings na slang of die Engelse “serpent” (Num 21:6; Jes 14:29; 30:6). Sommige kommentare sien die serafs as “dragonlike” omdat die woord ’n betekenis het naby aan “fiery”/vurig. Die serafs se rol is om die paslike respons uit te beeld in die teenwoordigheid van Goddelike heiligheid/heerlikheid. Kaiser beskryf die serafs as naakte gevleuelde slange/ “serpents” met menslike hande en voete – gloeiende ligwesens.

Die serafs het vlerke. Een paar vlerke bedek hulle gesig, omdat nie eers die hemelinge God direk in die gesig kan kyk nie. ’n Ander paar vlerke bedek hulle voete. Meeste kommentare sien dit as ’n eufemisme vir geslagsdele. Net soos God nie aangekyk kan word nie kan die skepsel hom/haar nie ontbloot voor God nie. Die derde paar vlerke bied aan hulle beweging.

Vers 3. Die serafs neem deel aan antifonale sang. Hulle verlustig hulle saam in die heerlikheid van God. Hier is ’n verbale element in Jesaja se beskrywing. Die drievoudige aanroep beklemtoon God as dié Heilige een. In die Ou Testament het heilig baie te make met God se heerlikheid, maar volgens Levitikus 19 behels dit ook ’n spesifieke etiese element. Kaisier sien die drievoudige “heilig” as beklemtoning dat Hy die bron is van alle heiligheid. Heiligheid en heerlikheid het ’n noue verband. Kaiser skryf: “Both God’s glory and God’s holiness are always recognised simultaneously.” Juis sy heiligheid lei daartoe dat sy heerlikheid besing word.

Jahwe Sebaoth. Die NAV vertaal met “Here die Almagtige”. Die benaming dui eerder op die politïestiese konteks van die Ou Testament wat getuig dat God die God van die gode en die hemelinge is. Die 1933 Afrikaanse Vertaling vertaal met die “Here van die leërskare”, of in Engels, “Lord of hosts”.

’n Paar vertalings kan die prediker help om die nuanses van die lofsang beter te verstaan. Die NAV vertaal met: “Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid”; Wildberger met: “His glory shouts out, that which (always) fills the earth”; Oswalt met: “Filling all the earth is his glory”; Kaiser met: “his glory is the fullness of the whole earth”; Childs met: “The whole earth is full of his glory”. Die teologiese moment waarna voorheen verwys is kom nou weer na vore: Selfs in die oomblik van die jaar van Koning Ussia se dood, regeer die Here soos Hy altyd regeer het. Gods heerskappy is ’n gegewe en nie bloot eskatologiese hoop nie.

Volgens Wildberger het die heiligheid nie te make het met die afstand tussen skepper en skepsels nie. Dit is eerder ’n dinamiese realiteit, nie ’n statiese kwaliteit nie. Die toesing van God as heilig is beide ’n objektiewe beskrywing en verering.

Vers 4. Tipiese elemente van ’n teofanie. Kosyne rammel en daar is rook. Sommige kommentatore sien die oorsprong van die rook as ’n brandende altaar. Dit kan wel net deel van die teofanie wees. Die luidheid van die gesang onderstreep die indrukwekkende aard van die gebeure.

Vers 5. Die openbaring van God se heiligheid lei by die skepsel tot erkenning van eie sy sondigheid. Die profeet word nou bewus van homself. Hy wat oordeel oor ander uitgespreek het, moet dit nou oor homself doen. Hierdie persoonlike konfrontasie lei tot wanhoop. Sy onreinheid moet verwyder word voordat hy God kan dien. Jesaja se besef van sy eie onreinheid is ook bewustheid van die onreinheid van die groep waaraan hy self behoort. Die bewustheid maak hom stom om deel te neem aan hierdie koninklike eerbetoon. Hy kan net oor sy onwaarde praat. Sy woorde word verskillend vertaal: NAV, “Dit is klaar met my. Ek is verlore”; Wildberger skryf: “Woe is me, I must be silent”; Oswalt vertaal met: “Alas for me, for I am destroyed”, en; Childs met: “Woe is me; I am lost.”

Vers 6-7. Jesaja pleit nie vir homself nie, maar die serafs kom na hom toe met ’n gloeiende kool. God inisieer die reiniging. Vuur is weer teken van God se heiligheid (onseker of dit die offeraltaar of wierookaltaar is). Die wierookaltaar het wierook gebrand, want die rookwolk het die priesters beskerm van naby kontak met God. Vuur vanaf die spesifieke altaar dui op die versoenende en reinigende mag tot vergewing van die gemeenskap se sonde. In die Ou Testament is sonde gesien as iets wat deur kultiese handeling verwyder kan word.

Wildberger vertaal die woorde van die seraf so: “thus your guilt withdraws and your sins is covered.” Die twee terme is dikwels bymekaar, maar nie heeltemal sinoniem nie. “To cover” of “om te bedek” is kultuswoordeskat. Die pi-ël vorm van hierdie woord word gebruik wanneer mens of priester die subjek is van die daad van versoening (“making atonement”). Childs vertaal die woorde met: “Your guilt is removed and your sin is purged away”. Noudat Jesaja gereinig is, hoor hy God se stem en is dit vir hom ook moontlik om te praat; sy stem te laat hoor soos die serafs.

Vers 8. God praat hier vir die eerste keer. Is dit ’n retoriese vraag? Tog word Jesaja genooi om God te dien. Die vraag en antwoord behels die spanning dat die profeet nie gedwing word nie, maar dat die uitkoms van instemming tog verwag word. Wildberger skryf: “but one must understand that the history of traditions connected with the concept of the heavenly council dictated that this take the form of a question, not a direct command.”

Een kommentaar som die gedeelte so op: “King’s death prepares way for vision of God, vision of God leads to self-despair, self-despair opens the door to cleansing, cleansing makes it possible to recognise the possibility of service; the total experience then leads to an offering of oneself.”

Volgens Seitz stel hoofstuk 6 juis die profeet as gereinig en geheilig bekend. Hy is vry om God te dien. Hy hoor en sien. Vers 9 tot 13 maak duidelik dat dit juis is wat die volk nie kan doen nie.

Konteks

Dié teks is bedoel vir Drie-eenheidsondag, die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Die ander RCL-tekste is: Psalm 29; Romeine 8:12-17 en Johannes 3:1-17.

Psalm 29 is die sogenaamde “onweerspsalm” en fokus op die “stem” van die Here. Die stem van die Here word verbind aan elemente van teofanie. Die fokus van Romeine 8 is die “Gees van die Here”, wat dit vir ons moontlik maak om God, Abba-Vader te noem. Die Johannesteks het te make met Jesus se gesprek met Nikodemus oor wedergeboorte. Die tekste weef God se Goddelike werksaamheid in mekaar.

Drie-eenheidsondag verskaf in sekere sin reeds die fokus van die teks, wat saamval met die seisoen van die skepping. Die teks leen hom tot verskeie temas, naamlik: die teenwoordigheid van die Here; God se heiligheid en heerlikheid; roeping en die koningskap van God. Die ander tekste van die dag lig temas uit rondom die werk van God se Woord en Gees.

Die verbintenis van die teks aan die Drie-eenheid is ’n kerklike en liturgiese tradisie wat nie werklik eksegeties regverdigbaar is nie. In ’n sin het ’n stilistiese herhaling om Jahwe se heiligheid te beklemtoon, gelei tot ’n dogmatiese veronderstelling dat die serafs se herhaalde roep van God se heiligheid, sou dui op God se Drie-eenheid.

Dit is eksegeties en teologies meer korrek om te vertrek van die bestaande Christelike oortuiging dat God drie-enig is, eerder as om bewyse hiervan in Jesaja 6 te probeer vind. Die fokus kan dan skuif na hoe God, wat ons as Drie-eenheid aanbid, bekendgestel word in Jesaja se beskrywing en wat die implikasie is vir ons geloofslewe. Jesaja se visioen herinner tog dat God die Koning is wat op die troon is, al is daar nie ’n aardse koning nie, asook dat God heilig is. Nog ’n teologiese moment is dat God in sy heerlikheid die skepping vul. God neem die inisiatief in die reiniging van die mens, en gebruik die mens om sy werk te doen.

Die twee belangrike konsepte in Jesaja se beskrywing, is God se heiligheid en sy heerlikheid. Die twee konsepte moet in hulle Ou-Testamentiese konteks verstaan word om die teks tot sy reg te laat kom. Heiligheid kan op twee maniere verstaan word. Die eerste het te make met God se majesteit en heerlikheid, en die tweede met sy andersheid, wat uitgebeeld word in terme van rein en onrein. Hier kom sy ontoeganklikheid en onaantasbaarheid binne die kultiese konteks na vore.

Brueggeman skryf dat heiligheid moeilik omskryfbaar is: “. . . it is not possible to articulate a clear definition of holiness. The most we can do is to notice the several characteristic uses of the term with reference to Yahweh.” Hy skryf dat heiligheid tog sekere assosiasies in die Ou Testament het, naamlik dat dit te make het met die andersheid van God, wat nie maklik genader kan word en ook nie vergelykbaar is nie: “. . . and who lives alone in a prohibitive zone where Israel can enter only guardedly, intentionally, and at great risk.” Heiligheid het te make met kultiese instellings en die maatstaf van heiligheid en onreinheid. Daarom Jesaja se reaksie dat hy eintlik onrein is, in die teenwoordigheid van God se heiligheid. God se heiligheid word tog ook beskryf in terme van ’n verhouding. Hy is die Heilige van Israel, en Israel word opgeroep om heilig te wees omdat God heilig is. Hier (soos gesien in Lev 19) het heiligheid ook ’n etiese dimensie.

“Heerlikheid” word ook vertaal met eer of magtige teenwoordigheid. Ek dink nie die NAV se vertaling van vers 3, “die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid”, doen reg aan die Hebreeuse konsep van kabod of “heerlikheid” nie. Die OAV is meer aanvaarbaar, soos ook “glory” in die Engelse vertalings.

Brueggemann beskryf die heerlikheid van die Jahwe soos volg: “The glory of Yahweh refers to the claim and aura of power, authority and sovereignty that must be established in struggle, exercised in authority . . .” Dit het te make met God se “rightful claim to governance”. Hierdie heerlikheid kom na vore waar Egipte se beheer oor Israel vernietig word of die einde van die ballingskap. Jesaja 42:8 skryf: “Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie.” God se heerlikheid het te make met God se mag.

Nog ’n nuanse in die Ou Testament is die meer liturgiese uitroep waar die psalms die Here se heerlikheid tussen die nasies besing. Die tempel word die plek gevul met die heerlikheid van God. Die heerlikheid het dan te make met die teenwoordigheid van God. Brueggemann som dit so op: “Yahweh, in Yahweh’s glory, is a power and a presence like none other, before whom Israel submits in confidence and before whom powers resistant to Yahweh finally submit because they have no choice. The glory of Yahweh is to itself and for itself, and Yahweh in Yahweh’s glory accommodates to no one and nothing.” Die skepping is ook die plek waar die heerlikheid van God verkondig word. Die heerlikheid van God wat die skepping vul is dus méér as ’n blote daar wees, dit het te make met ’n regerende teenwoordigheid.

Indien die prediker die heiligheid en heerlikheid van God in verband wil bring met die skepping, is die treffende webtuiste http://seasonofcreation die moeite werd om te besoek. Dit is ’n werkstuk van die United Church of Australia. Die tema is “A Theology of Sanctuary”, en bring Jesaja 6:3 in verband met ’n teologie van die skepping. Die uitgangspunt is ’n teologie van “sanctuary” of heiligdom, waarin die skepping voorgestel word as ’n heiligdom. Die fokus is op God se “visible presence permeating creation and Earth in particular”. Hierdie teenwoordigheid het te make met die heerlikheid van God. Die heerlikheid word dan bevestig in ander Ou-Testamentiese tekste (bv Eks 16; Eks 24:17). Die woord “vol” speel ’n belangrike rol. Vol wees beteken immers alles is deurdrenk, niks is leeg nie. “God’s glory may have been seen in the past at certain times in certain sacred places on Earth, such as the tabernacle and the temple. This text, however, makes it clear that God’s glory, God’s presence, may be seen in all the earth”. Die artikel verwys na Martin Luther wat geskryf het dat God se maskers (larvae Dei) in die skepping is. Dis versluier, maar kan gesien word as ons op die reg manier kyk. Ons kan soos Jesaja sien as ons rondom ons kyk, maar dit vereis bewustheid (awareness).

In die ou kerklike liturgieë, soos steeds in die Rooms-Katolieke Kerk vandag, word vers 3 gesing voor die instelling van die nagmaal. Dit word ingesluit in die eucharistiegebed, as die Sanctus of Trisagion. Teen die vierde eeu was dit sentraal in eucharistie gebede van die Christelike kerk in beide die Ooste en die Weste. Kaiser beskryf juis vers 3 as “the most powerful affirmative of the earth that can ever be spoken.”

’n Ander invalshoek is dié van Trapp. Hy skryf in sy kommentaar dat die perikoop op twee hooftemas fokus; “vision” en “mission”Jesaja se visie gaan sy missie vooraf. Strawn herken weer sekere sintuiglike momente in die perikoop: “It is interesting that because of what Isaiah’s eyes have seen, he confesses the sins of his lips. Momentarily his mouth will be cleansed and he will be able to hear God, who will call him to a mission involving the hearing, sight, heart, ears, and eyes of the people. Visions and missions of the Holy God involve the total person – no part is left untouched.”

Sawyer skryf dat dit juis drie elemente van die teks was wat die verbeelding van die kerk deur die eeue beïnvloed het, naamlik: die drievoudige herhaling van die “heilig”; die dramatiese beskrywing van ’n mens se visioen van God en hemelinge, asook; die tema van sondigheid en goddelike vergiffenis. Veral die handeling van vergiffenis kom volledig vanuit die hand van God.

Verskeie kommentatore skryf dat mens wel net ’n halwe prentjie het as jou fokus bloot vers 1 tot 8 is. Vers 9 tot 13 is skokkende verse, want die inhoud van Jesaja se boodskap is dat God sal maak dat die volk nie hoor en sien nie. Dat verwoesting hulle voorland is. Een teologiese moment hier, as die prediker die langer perikoop wil aanpak, is dat die heerlikheid van God miskien juis sigbaar is waar alles anders vernietig is. Is dit nie dan al wat staande bly nie?

Vir Martin Luther het Jesaja 6 sy motivering begrond, dat die mis (nagmaal) bowenal ’n deklarasie is dat ons sondes vergeef is. Soos die gloeiende kool Jesaja se lippe aanraak en hom reinig, so word ons gereinig deur die liggaam en bloed van Jesus Christus. Saam met ’n fokus op Jesaja se roeping, kan die paradoks van sy instemming in oënskou geneem word. Was dit ’n keuse? Sou hy nog instem as hy bewus was van die inhoud?

God se teenwoordigheid wat in die teks verklaar word, is méér as ’n statiese teenwoordigheid, dit word ’n roepingsteenwoordigheid. Jesaja word geroep ter wille van sy onrein mense.

Preekvoorstel

Daar is verskillende invalshoeke vir die teks. Om getrou te bly aan Drie-eenheidsondag fokus hierdie voorstel op hoe God aan Jesaja geopenbaar is. Daarom is dit belangrik om die kernlemente en -woorde van hierdie visioen in die Ou-Testamentiese konteks te verklaar. Hier volg een moontlikheid.

Jesaja se eerste woorde plaas reeds twee gebeure op verrassende wyse langs mekaar. Die eerste is ’n doodgewone historiese opmerking wat verwys na die dood van ’n koning, met daarnaas ’n stelling dat hy God gesien het. ’n Bietjie kennis van Bybelse verhale maak die stelling reeds verrassend. Niemand sien God en leef nie. Die gewone en die buitengewone. Die ander opvallende ding is dat die teks nie in poësie geskryf is nie, maar wel in prosa. Lofsang of die beskrywing van God se teenwoordigheid, is dikwels in poësie. Ons gebruik beeldende taal om te teken wat vir ons moeilik is om in woorde te beskryf.

Hier is dit prosa. Prosa is so half “matter of fact”. Hier het ons twee momente naas mekaar: Die “sien” van die Here en die dood van ’n koning. Twee konings word teen mekaar afgespeel. Die tydelike regering van Koning Ussia en die Here as Koning. Die beskrywing in die daaropvolgende verse onderstreep sy heerskappy en majesteit met baie koninklike elemente (uitbrei oor paleis, troon, hofhouding, kleed).

Ussia was ’n goeie koning in ’n beter tyd in Israel se geskiedenis, maar die situasie is besig om te verander. Assirië kom nader en die toekoms lyk nie goed nie. Tog is daar nog ’n Koning wie se koningskap nie uitgelewer is aan politieke omstandighede nie.

Watter woorde word gebruik om die Here en sy heerskappy te beskryf? Die woorde “heiligheid” en “heerlikheid”. Wat beteken die woorde binne Ou-Testamentiese konteks? Heiligheid is ’n ingewikkelde woord met meerdere nuanses. Die meeste tekste beklemtoon wel die element van God se andersheid. Omdat die kultus (tempel, priesters, offers, wet en alles wat daarmee gepaard gaan) fokus op die kontras tussen rein en onrein, het heiligheid ook met reinheid te make. Heiligheid het ook ’n daad(doen)-dimensie. In Levitikus word die volk opgeroep tot heiligheid omdat God heilig is. Dit het juis te make met die uitkyk vir en versorg van ander. Heiligheid is onaantasbaarheid, maar staan ook in verhouding. Hy is die Heilige van Israel.

As die serafs God as drie-maal heilig besing, onderstreep dit die wese van God. Die hele beskrywing wat inspeel op ons verbeelding roep eerbied op. Die roep van drie-maal heilig is gekoppel aan die woorde dat die aarde gevul is met sy magtige teenwoordigheid. Die Hebreeuse kabod word hier vertaal as “magtige teenwoordigheid” (vgl OAV se “heerlikheid” en; Engels se “glory”). Die aarde is daarvan vol. “Vol” is ook ’n gelaaide term – om nie voorsiening te maak vir tekort nie (sien verskillende vertalings van vers 3 by Teks bespreek).

Heerlikheid is nie net ’n statiese beskrywing dat God se teenwoordigheid die skepping vul nie, maar, het ook te make met hoe God teenwoordig is. Weereens bring “heerlikheid” iets van God se heerskappy na vore. In die Ou Testament is God se heerlikheid God se gesag. Gesag wat die skepping, soos in baie psalms, besing.

Ons het dus twee werklikhede, naamlik: dat die Here gesagvol die aarde met sy teenwoordigheid vul, en; dat Jesaja Hom terselfdertyd beleef terwyl Hy die tempel vul. Jesaja sien dat God steeds regeer, terwyl die volk net bewus is van die koning wat dood is.

In die volgende moment kom die Here wat heilig en heerlik is na Jesaja, wat op daardie moment in ekstreme vorm die kontras tussen hom en God beleef. Dat die Here deur die serafs Jesaja se lippe reinig en hom laat verstaan dat die Heilige van Israel deur mense ter wille van mense werk. Jesaja het gesien en kon gaan praat.

Om vandag God in sy heerlikheid en heiligheid te sien, het alles te make met hoe ons kyk en met watter kriteria ons God se teenwoordigheid meet. Ons kan onthou dat die aarde ook ’n heiligdom is, want God vul dit. Hy is wel méér as dit, maar Hy vul dit ook. As ons dit raaksien, raak ons miskien bewus van beide God se koningskap én van sy voorsienende en versorgende teenwoordigheid, en daardeur gemotiveer om ook sy gestuurde te wees. Dit is tog die God wat in Jesus gekies het om sy tent tussen ons te kom opslaan, ons heilig te verklaar in Christus, en deur sy Gees sy heiligheid en heerlikheid ook al hoe meer deur ons te laat skyn. Dan is alles gevul, soos die serafs gesing het. Niks is leeg nie, en ons kan God ook sien omdat Hy Hom sigbaar kom maak het.

Bibliografie

Brueggemann, W 1997. Theology of the Old Testament. Minneapolis: Fortress Press; Childs, B S. Isaiah. Louisville: Westminster John Kox Press; Kaiser, O. Isaiah 1-12. A Commentary. The Old Testament Library. London: SCM Press Ltd. Bloomsbury Street; Oswalt,
J N 1986. The Book Of Isaiah. Chapters 1-39. The New International Commentary on the Old Testament. Grand Rapids, Michigan; Sawyer, J F A 1996. The Fifth Gospel. Isaiah in the History of Christianity. Cambridge University Press; Seitz, C S 1993. Isaiah 1-39. Interpretation. A Biblical Commentary for Teaching and Preaching. Louisville: John Knox Press; Strawn, B A in Van Harn, R E. The Lectionary Commentary. The first readings. Grand Rapids: William B Eerdmans Publishing Company.; Wildberger, H 2009. Isaiah 1-12. A Commentary. Fortress Press; http://seasonofcreation.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.