Eerste Sondag in Koninkrykstyd – Drie-eenheidsondag

Sections

Oorsig

Drie-eenheidsondag word in meeste kerke op die eerste Sondag na Pinkster gevier. Dit is dan ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Sommige kerke vier Drie-eenheidsondag op die laaste Sondag voor die begin van Advent. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit.

Johann Sebastian Bach het ’n aantal kantates vir Drie-eenheidsondag gekomponeer, onder andere Es ist ein trotzig und verzagt Ding, BWV 176 (’n verwerking van die gesprek tussen Jesus en Nikodemus in Johannes 3, ’n alternatiewe teks vir Matteus 28 in die Rooms-Katolieke leesrooster), en Gelobet sei der Herr, mein Gott, BWV 129. Veral die tweede werk sou goed pas voor die aanvang van die diens, tydens die kollekte of tydens geleentheid vir nadenke oor die grootheid van God.

Die fokus in hierdie liturgiese voorstel val op die alles, alle en al wat in Matteus 28:18-20 herhaal word.

Ander tekste

Genesis 1:1-2:4a
God se skeppingswerk
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”
En daar was lig.
4God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

6Toe het God gesê: “Laat daar ’n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.”

7So het dit gebeur.
God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf. 8God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.

9Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.”
So het dit gebeur.

10God het die droë grond “aarde” genoem, en die waters wat bymekaar gekom het, het Hy “see” genoem. En God het gesien dit is goed.

11Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.”
So het dit gebeur.

12Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. 13Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag.

14Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui. 15Hulle moet ligte wees aan die hemelgewelf om op die aarde lig te gee.”
So het dit gebeur.

16God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre. 17God het hulle in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee, 18om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. En God het gesien dit is goed.

19Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.
20Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”

21God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed.

22Toe het God hulle geseën: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land.”
23Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag.

24Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard.”
So het dit gebeur.

25God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.

26Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

29Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.”
So het dit gebeur.

31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

2 Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

4Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.

Psalm 8
Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
’n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

2 Korintiërs 13:11-13
11Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!
12Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete.
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Fokusteks

Matteus 28:16-20
Jesus se opdrag aan die dissipels

(Mark 16:14–18; Luk 24:36–49; Joh 20:19–23; vgl Hand 1:6–8)
16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ekstra stof

As agtergrond vir die laaste perikoop, plaas ons hier ’n paar perspektiewe op die hele hoofstuk:

Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels
Na die uitgebreide en gedetailleerde fokus van Matteus op die lydenspad wat Jesus in Jerusalem gestap het – 141 verse lank – beskryf hy in drie kort episodes die slot van sy verhaal – in net 20 verse! Hy fokus op Jesus se opstanding en die vroue wat getuies daarvan was (28:1-10), noem in die verbygaan die gekonkel van die Joodse leiers en die bedrog van die Romeinse soldate (28:11-15) en sluit met die laaste opdrag aan sy dissipels wat as die Groot Opdrag bekend geword het (28:16-20).

Jesus staan op uit die dood – 28:1-10
Matteus vertel die verhaal van die opstanding op só ’n manier dat 1) die wonder van die leë graf, 2) die feit dat die eerste getuies vroue was en 3) die ontmoeting met die lewende Jesus uitstaan. Hy vertoef glad nie op die wyse waarop die opstanding gebeur het nie, of watter tipe liggaam Jesus gehad het nie of selfs nie soseer op die verbluffende verskyning van die Engel van die Here nie, maar op die betekenis wat die opstanding vir die dissipels gaan inhou. Jesus het opgestaan, Hy lewe en dít is iets wat almal moet weet.

Die boodskap van die opstanding, sowel as die ontmoeting met die lewende Here Jesus, begin die beweging na die wêreld en die dissipels word uitgenooi om hulle gereed te maak om in hulle navolging van Jesus by die Groot Opdrag na die wêreld betrokke te raak. Dit is ironies dat die wagte soos dooies word, terwyl Jesus juis uit die dood opgestaan het en lewe.

Dit is ook betekenisvol dat dit juis vroue is wat die wonder van die opstanding eerste aanskou. Dit onderstreep die historisiteit van die gebeure, want Matteus vertel dit net soos dit gebeur het, sonder om te skroom, al was vroue nie gereken as getuies in daardie tyd nie.

Die Joodse leiers en die Romeinse soldate versprei leuens – 28:11-15
Wat die Joodse leiers gevrees het, dat daar ’n leë graf sou wees, het toe inderdaad plaasgevind. Maar in stede daarvan om ordentlik ondersoek in te stel, besluit hulle om die soldate om te koop sodat daar ’n leuen storie oor die leë graf versprei sou word. Hulle volgehoue verwerping van Jesus se opstanding sluit dus selfs die ontkenning van die werklikheid in.

Jesus gee aan sy dissipels die Groot Opdrag – 28:16-20
Jesus ontmoet die elf oorblywende dissipels op die berg waarheen Hy hulle ontbied het. Sommige het Hom aanbid, terwyl sommige steeds getwyfel het. Maar, almal van hulle word nou, soos die vroue, getuies van die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Jesus verklaar dan dat Hy alle mag in die hemel en op aarde ontvang het en gee hulle die Groot Opdrag wat drie komponente het:

  • Gaan maak dissipels van al die nasies;
  • Doop hulle in die Naam van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees;
  • Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

En Jesus voeg daaraan by dat Hy met sy dissipels sal wees tot aan die voleinding van die wêreld.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 454 “Vader, ons eer U vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Seëngroet

Loflied 450 “Vader Seun Heil’ge Gees vs 1,2”

Verootmoediging
Drie-eenheidsondag word in meeste kerke op die eerste Sondag na Pinkster gevier. Dit is dan ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Kom ons vier die unieke misterie van die Drie-eenheid van God deur spesifieke Skrifgedeeltes oor die Bybelse onderskeid voor te lees met gepaardgaande aanbidding deur sang.

Apostoliese Geloofsbelydenis
Epiklese

Skriflesing: Matteus 28:16-20

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 486 “Bring aan die volke die boodskap vs 1,2,3,4”

Seën
Musikale Amen

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 454 “Vader, ons eer U vs 1,2,3”

Aanvangswoord 
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!
(Uit Psalm 8)

Seëngroet 
Aan die gemeente van God en aan almal wat aan die Here behoort
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Uit 2 Korintiërs 1)

Loflied 450 “Vader Seun Heil’ge Gees vs 1,2”

Verootmoediging
Drie-eenheidsondag word in meeste kerke op die eerste Sondag na Pinkster gevier. Dit is dan ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Kom ons vier die unieke misterie van die Drie-eenheid van God deur spesifieke Skrifgedeeltes oor die Bybelse onderskeid voor te lees met gepaardgaande aanbidding deur sang.

Aan elkeen van die drie Persone word ook ’n besondere werk verbind, sonder dat die Ander egter daarvan geheel en al uitgesluit word. Die Vader is vir die skepping verantwoordelik maar die Seun en die Heilige Gees is ook daarby betrokke (1 Kor. 12:6; 1 Kor. 8:6; Jes. 64:8; Matt. 10:29: Joh. 5:17; Joh. 6:32; Joh. 1:1–3, Kol. 1:16; Gen. 1:2; Ps. 33:6; Ps. 104:30).

Genesis 2:1-2
2 Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.

Johannes 1:1-3
Die Woord het mens geword
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 1,2”

Die Seun is vir die verlossing verantwoordelik, maar die Vader en die Gees is ook daarby betrokke (Joh. 1:29; Rom. 3:24; Joh. 10:29, 25, 37; Luk. 1:35; Joh. 16:13).

(Uit Johannes 10:25-38)
25Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is.

29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. 38Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 3”

Die Heilige Gees is vir die voleinding verantwoordelik, maar saam met Hom ook die Vader en die Seun (Gal. 4:6; Ef. 1:10, 13, 23; 3:19; 1 Kor. 1:30; Rom. 8:23; 2 Kor. 1:22).

(Uit Efesiërs 1:9-23)
9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.

Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 4”
Heyns, J. 1999, c1978. Dogmatiek (Page 49). NG Kerkboekhandel: Pretoria

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Pinkster / Gebed / Epiklese)
Teks en Musiek: Ioannis Dekas
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
As mens verstaan ons nie U weë
Maar U stuur vir ons ‘n Leidsman trou
Hy lei ons na U
Kom o Skepper Gees
Lewendmakend Gees
Kom in al U volheid
Kom in al U krag
Lei my in U waarheid
Leer my van die Seun
Wees U ook my trooster,
Kom o Skepper Gees

F112. (a) “My Hande Hef Ek Op Na U”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en Musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet & vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

1. My hande hef ek op na U
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

2. O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy
gehoorsaam my in U verbly
Laat my lied ‘n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U. Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as u kinders aangeneem het, dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor.
Amen.
(Johannes Calvyn se Straatsburgse liturgie van 1545, uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Matteus 28:16-20

Prediking

Familie-oomblik

Skaf ‘n houer koekies aan wat tydens die familie-oomblik of aan die einde van die diens aan die kinders uitgedeel kan word.

Die verhaal by die inleiding tot die preek kan ook in die familie-tyd gebruik word:
Carrie is Russel Brownworth se jongste dogter. Sy was amper drie jaar oud toe dié storie afspeel. Russel vertel: “Haar twee ouer susters, destyds sewe en nege onderskeidelik, het omtrent elke kind in die omgewing in die middae na skool bymekaargemaak om te kom speel.” Wegkruipertjie was die kinders se gunsteling speletjie.

Natuurlik wou Carrie, die amper-driejarige, altyd saamspeel. Vir haar ouer susters was sy natuurlik altyd in die pad. Hulle het skaars begin speel of Carrie is weggestuur, het haar knieë stukkend geval, meestal in trane.

Een middag kom Carrie weer aangehardloop, weer in trane. “My vrou, Elizabeth,” vertel Russel, “troos haar deur haar twee varsgebakte reuse koekies te gee.”

“Moenie die groot kinders gaan vertel jy het koekies nie,” waarsku Elizabeth, “ek het nog nie genoeg vir almal gebak nie.”

Dadelik hardloop Carrie buitetoe. Sy gooi die voordeur oop, en roep selftevrede na buite waar die groter kinders speel: “Koekies! Ek het koooeeekiiieees!”

Goeie nuus moet met groot entoesiasme verkondig word!

Lees die groot opdrag uit die Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus is by ons
16–17 Die elf vriende van Jesus is reguit na Galilea toe. Hulle het Jesus op die berg gaan soek waarheen Hy hulle laat gaan het. Toe hulle Hom daar sien, was party van sy vriende so bly dat hulle voor Jesus neergeval het en Hom aanbid het. Maar ’n paar van hulle was nie so seker dat dit regtig Hy is nie.

18–19 Jesus sê toe vir sy vriende: “God het nou vir My al die mag gegee. Nou is Ek die sterkste en die belangrikste in die hemel en op aarde. Nou stuur Ek julle na mense regoor die wêreld toe. Sê vir hulle om in My te glo* en om net te doen wat Ek sê. Doop* hulle ook in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees*. Vertel vir hulle alles wat Ek julle geleer het. Sê vir hulle om na My te luister.

20 “Onthou, Ek los julle nooit alleen nie. Ek is elke dag by julle tot op die heel laaste dag.”

Enkele begripsvrae vir die kleiner kinders
 1. Hoekom is daar nou dan net 11 dissipels as daar aan die begin 12 dissipels deur Jesus gekies was. (Judas is nie meer deel van die groep nadat hy Jesus verraai het en sy eie lewe geneem het)
2. Na wie word die dissipels gestuur om die goeie nuus te gaan vertel? (Mense regoor die wêreld)
3. Watter 2 dinge moet die dissipels spesifiek doen? (Vertel en doop)
4. Met watter spesiale troos en bemoediging het Jesus die dissipels op aarde agtergelaat met sy hemelvaart (vs 20)? (Dat Hy hulle nie alleen laat nie maar by hulle bly (deur Sy Gees).)

Doopherinnering/Doopbediening
Roep die kinders vorentoe om hulle hande in die water in die doopbak te kom sit. Verduidelik dat toe hulle gedoop is in die naam van die Vader, Seun en die Heilige Gees, God ’n baie spesiale belofte aan hulle gemaak het. Hy het belowe Hy sal vir hulle sorg soos ’n goeie Pa. Hy het belowe dat toe Jesus vir ons sonde gesterf het, dit ook in hulle plek was. Daarom vergewe God ons sonde en sal Hy ons nie eendag daarvoor straf nie, dit is klaar gestraf. Hy het belowe dat hulle nooit sonder Hom sal wees nie. Die Heilige Gees is altyd by hulle en daarom kan hulle altyd met God praat en luister wat Hy sê. Kom ons luister wat Jesus hieroor gesê het net voor Hy van sy dissipels af weg is. (Hierdie gedeelte kan vervang word met die bediening van die doop.)

Preekriglyn

Carrie is Russel Brownworth se jongste dogter. Sy was amper drie jaar oud toe dié storie afspeel. Russel vertel: “Haar twee ouer susters, destyds sewe en nege onderskeidelik, het omtrent elke kind in die omgewing in die middae na skool bymekaargemaak om te kom speel.” Wegkruipertjie was die kinders se gunsteling speletjie.

Natuurlik wou Carrie, die amper-driejarige, altyd saamspeel. Vir haar ouer susters was sy natuurlik altyd in die pad. Hulle het skaars begin speel of Carrie is weggestuur, het haar knieë stukkend geval, meestal in trane.

Een middag kom Carrie weer aangehardloop, weer in trane. “My vrou, Elizabeth,” vertel Russel, “troos haar deur haar twee varsgebakte reuse koekies te gee.”

“Moenie die groot kinders gaan vertel jy het koekies nie,” waarsku Elizabeth, “ek het nog nie genoeg vir almal gebak nie.”

Dadelik hardloop Carrie buitetoe. Sy gooi die voordeur oop, en roep selftevrede na buite waar die groter kinders speel: “Koekies! Ek het koooeeekiiieees!”

Goeie nuus moet met groot entoesiasme verkondig word!

Goeie nuus

Matteus 28 borrel oor van goeie nuus. Na die traumatiese verhaal van Jesus se lyding en sterwe (hoofstuk 27) vertel hoofstuk 28 van Jesus se opstanding uit die dood. Soos ‘n refrein word die goeie nuus oor en oor vertel:

  • Die engel vertel die vroue: Jesus is nie in die graf nie, Hy is uit die dood opgewek soos Hy gesê het;
  • Die vroue hardloop en gaan vertel vir die dissipels. Hulle gee ook die opdrag dat die dissipels na Galilea, na die berg toe moet gaan, om Jesus daar te gaan ontmoet;
  • Jesus self ontmoet die vroue terwyl hulle hardloop, en sê hulle moenie bang wees nie. Hulle moet die nuus en opdrag aan die dissipels gaan oordra.
  • Die hoogtepunt is wanneer Jesus in lewende lywe aan die dissipels verskyn op die berg in Galilea, en die opdrag om die goeie nuus wêreldwyd te gaan vertel.

Goeie nuus moet met entoesiasme verkondig word!

Waar al die lyne bymekaarkom

Die toneel van die misdaad is die plek waar al die lyne in ‘n goeie misdaadfliek of misdaadplot bymekaarkom. Die ontdekking wie die skuldige is, wie die juwele gesteel, die moord gepleeg, die bank beroof, die kunswerk tussen neus en ore laat verdwyn het, het te doen met leidrade wat almal in plek val op die misdaadtoneel.

Op ‘n soortgelyke manier help Matteus ons in die laaste vier verse om te verstaan waaroor sy Evangelie eintlik gaan. Natuurlik is die Matteus-evangelie nie misdaadfiksie of ‘n whodunit-riller nie. Dis goeie nuus. Dis geskiedenis. Maar goeie nuus het ook ‘n plot. Goeie nuus bestaan uit verskeie lyne en elemente. As jy die hart van die goeie nuus wil verstaan, moet jy kliek hoe al die lyne bymekaarkom.

In die Matteus-evangelie gebeur dit hier in die laaste vier verse. Kom ons kyk na ‘n paar belangrike lyne uit die evangelie.

Op die berg

Die opgestane Jesus ontbied sy dissipels na die berg in Galilea. Regdeur die Bybel is berge die plek waar God Hom beslissend aan mense bekendmaak. Dink aan Moses wat die wet op die berg gekry het. In Matteus lewer Jesus aan die begin van sy bediening in Galilea sy rede op die berg. Hier (5-7) verduidelik Jesus die grondbeginsels van God se koninkryk. Hoe lyk die lewe van mense wat Jesus volg en sy koningskap erken? Die bergpreek gee die antwoord.

Later, op die berg van verheerliking, sien die dissipels die heerlikheid van Jesus op ‘n totaal nuwe manier (17).

Aan die einde van die evangelie laat Jesus hulle weer terugkeer na die berg. Die presies berg word nie aangedui nie, maar dit kon maklik die berg wees waar Jesus se bergpreek gelewer het. Sedertdien het Jesus die selfopoffering, die nederige diens, die totale gehoorsaamheid aan God waarvan sy bergpreek getuig, met sy eie lewe en sterwe bevestig. Só het Jesus sy dissipels met woord en daad geleer.

Daarom dra die woorde in die laaste verse van Matteus 28 soveel gewig. Sy laaste woorde is die agenda vir die lewe van die kerk van alle eeue. Hier – in Jesus se laaste woorde op die berg – het ons met die wesenlike van dissipelskap te doen.

“Aan My is alle mag gegee…”

Die koningskap van Jesus word deurgaans in Matteus beklemtoon. Reeds in hoofstuk 2 besoek die sterrekykers uit die ooste Jesus, die koning van die Jode. Hulle kniel voor Hom en bring hulde aan Hom met koninklike geskenke.

Wanneer Jesus met sy bediening begin, word Hy deur die Satan versoek (4). Een van die versoekings is dat Jesus die wêreldheerser kan word. Jesus weier hierdie versoeking. Hy kies nie die kortpad van glorie nie, maar die eensame pad van getroue gehoorsaamheid aan die Vader.

Nou, hier is hoofstuk 28, ontvang Jesus van die Vader dit waarmee die Satan Hom wou omkoop: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde…” (28:18). God het aan Jesus al die mag gegee, op grond van sy gehoorsame oorwinning aan die kruis en die bevestiging daarvan in die opstanding. Dit word op verskeie plekke in die Nuwe Testament beklemtoon, soos Ef 1:20-23; Fil 2:6-11; Kol 1:15-20; en 1 Pet 3:18-22.

Hiermee vervul Jesus die profesie uit die Ou Testament aangaande die Seun van die Mens aan wie alle mag, eer en krag gegee sal word. Hy sal tereg aanbid word deur al die nasies en sy koninkryk sal vir ewig wees (Dan 7:13–14).

“Alle mag” beskryf Jesus se identiteit, koningskap en gesag. Jesus, die Koning, is die vaste fondament waarop die dissipels kan vertrou as hulle die groot opdrag, wat hulle aanstons ontvang, gaan uitvoer. Dit is ook die rede waarom hulle nie aan Hom moet twyfel nie. Jesus regeer oor alles. Jesus, die lewende en verhoogde Messias, bevestig persoonlik hier op die berg sy gesag en sy regering.

Wie Jesus navolg, en sy bevele uitvoer, doen dit op die hoogste gesag denkbaar. Dit pas om voor hierdie Een te buig, Hom te aanbid, en Hom na te volg.

Gaan dan… maak dissipels… doop hulle

Die Groot Opdrag wat Jesus gee, bestaan uit drie elemente:

  • Gaan maak dissipels van al die nasies;
  • Doop hulle in die Naam van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees;
  • Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Hier word vier werkwoorde gebruik: Gaan, maak dissipels, doop en leer. Die belangrik om tesnap dat “maak dissipels” (matheteusate) die enigste werkwoord is wat in die bevelsvorm staan. Die ander drie werkwoorde is deelwoordvorme. Dit beteken dat “maak dissipels” die primêre opdrag is, waaraan die ander drie ondergeskik staan.

Die kern van die Groot Opdrag is: Maak dissipels van die nasies, terwyl julle na hulle gaan, hulle doop en hulle leer om alles te onderhoud wat Jesus julle geleer het. Die kerk is ‘n gemeenskap van dissipelmakers wat oor alle denkbare grense gaan na alle mense, hulle doop en hulle leer.

Christian Schwartz sê dat die doel van ‘n appelboom nie in die eerste plek is om appels te produseer nie. Appelbome produseer appels sodat daar ander appelbome tot stand kan kom. Die punt is: die gemeente, en elke dissipel, van die Here se doel is om ander dissipels te maak. Ons doen dit terwyl ons gaan, leer en doop.

Dit word moontlik om dissipels te maak as ons gaan, leer en doop.

Gaan verwys na die oorsteek van grense na die nasies toe. Die evangelie is nooit inklusief nie, dit bevestig nie bloot bestaande geloofsgemeenskap in bestaande kringe nie. Dit gaan oor grense, van my groep na ander groepe, na die nasies. Nasies verwys hier weer eens na Daniël 7:14 (Alle mense en tale en nasie sal Hom dien). Griekssprekende Jode het die woord ook gebruik vir heidene. Dit beteken alle mense sonder uitsondering.

Leer is om alles wat Jesus die apostels geleer het, aan ander te leer. Dit verwys nie net na sekere gebooie of opdragte nie. Alles wat Jesus met hulle gekommunikeer en voorgeleef het, is in die opdrag ingesluit; of dit onderrig, spreuke, seëninge, gelykenisse, profesieë of voorbeeld was.

Doop verwys na die nuwe gemeenskap wat tussen die gedoopte en Vader, Seun en Heilige Gees tot stand kom. Dit verwys ook na die nuwe onderlinge geloofsgemeenskap tussen die gedooptes. Om gedoop te word, is om in die gemeenskap van verlostes met die lewende God tuis te kom.

Die Groot Opdrag vandag

As gemeente moet ons doelgerig daaraan werk om uitvoering aan Jesus se opdrag te gee. Dit beteken onder andere:

  • Elkeen van ons moet doelgerig daaraan werk om te groei in die kwaliteit van ons eie dissipelskap. Die uitdaging is om te doen wat Jesus ons geleer het, omvoortdurend uit ons eie gemaksones te kom oor ons eie navolging van Jesus.
  • Ons moet oplet wie die Here oor ons pad stuur. Watter geleenthede bestaan daar om binne ons invloedsfeer en daaglikse lewe uit te reik na mense en hulle te help om die Here te leer ken en sy dissipels te word? Daar is vir elkeen van ons enormegeleenthede.
  • Ons moet doelbewus werk aan die oorsteek van grense na ander, na die nasies. In elke stad of dorp in ons land het die “nasies” reeds gekom. Ons kan in ons plaaslike kontekste deelneem aan die deel van die goeie nuus van Jesus Christus.
  • Ons moet ook deelneem aan projekte om die evangelie te bring by nasies in groot dele van die wêreld wat nog nie van die Here Jesus gehoor het nie.
“Ek is by julle…”

Jesus sluit sy laaste woorde af deur te sê: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld”.

Aan die begin van die Matteus-evangelie sê die engel vir Josef Jesus sal Immanuel, God by ons, genoem word. In die middel van die evangelie hoor ons waar twee of drie in Jesus se Naam bymekaar is, is Jesus by hulle. En hier teen die einde nog kom ‘n belangrike tema in die Evangelie tot uitdrukking as Jesus beloof Hy is tot aan die einde van die wêreld by ons, by sy dissipels.

Dit beteken dat die Groot Opdrag, met al die avontuur, vrees, opoffering, pyn en swaarkry, nie iets is wat Jesus se volgelinge op hulle eie aanpak nie. Ons doen dit in gemeenskap met die lewende Here.

Daar kan geen groter avontuur wees nie.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 486 “Bring aan die volke die boodskap vs 1,2,3,4”

Seën
Voorganger: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mat 28:19-20).
Gemeente: Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt 28:18, aangepas).

Voorganger: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees (2 Kor 13:13).
Gemeente: Amen.
(Uit Basisliturgie Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14) of

2 Korinthiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.