Eerste Sondag in Koninkrykstyd (Drie-eenheidsondag)

Sections

Oorsig

Marius Nel
Drie-eenheidsondag se liturgiese kleur is wit en die embleem is die kruis in die boot van Koninkrykstyd. Ander drie-eenheidsimbole is die triquetra of Drie-eenheids knoop, die fleur de lis of ’n klawerblaar. Daar bestaan aanduidings dat dit al sedert die tiende eeu gevier word. Die plek van Drie-eenheidsondag in die kerklike jaar maak sin. Dit vind plaas op die eerste Sondag na Pinkster en die eerste Sondag van Koninkrykstyd nadat God se verskyning deur die Seun van geboorte tot hemelvaart gevier word – tussen Advent en Hemelvaart – met Paasfees as hoogtepunt. Tydens Pinkster weer word God se verskyning deur die Heilige Gees gevier en daarna volg Drie-eenheidsondag as aanhef tot Koninkrykstyd.

Vandag se Nuwe-Testamentiese tekste besing die vryspraak wat God deur sy Seun Jesus Christus aarde toe gebring het en deur sy Gees onder gelowiges laat groei en vrug dra. Hierdie vryspraak word ’n werklikheid onder gelowiges in gesindhede soos vrede, genade, hoop, volharding in swaarkry, egte en beproefde geloof en bo alles die liefde.

Ander tekste

Spreuke 8:1-4, 22-31
8 Dit is Wysheid self wat roep,
dit is Insig wat haar stem laat hoor.
2Op die hoogtes langs die pad,
by die kruispaaie, gaan sy staan,
3langs die stadspoorte, by die ingange,
skree sy dit uit:
4“Ek roep na julle, mense,
ek roep na alle mense:
5Dié wat ervaring kortkom,
kan verstandig word,
dié wat dwaas optree, kan insig kry.

6Luister, want wat ek sê, 
is die moeite werd, 
elke woord van my is opreg. 
7Ek praat net die waarheid, 
ek het ’n afsku van wat verkeerd is. 
8Elke woord uit my mond 
kan die toets deurstaan, 
nie een het ’n verkeerde 
of vals bedoeling nie. 
9Mense wat insig het, weet 
dat ek reguit praat, 
wie die kennis het, weet wat ek sê, 
is reg. 
10Aanvaar wat ek julle leer, 
dit is meer werd as silwer; 
kennis is meer werd as die fynste goud.
11Ek, Wysheid, is kosbaarder 
as edelstene; 
wat jy ook al as baie werd beskou, 
teen my weeg dit nie op nie. 
12“Ek, Wysheid, het die verstand, 
ek het die kennis en die skranderheid. 
13Om die Here te dien, is om te haat 
wat verkeerd is. 
Daarom haat ek hoogmoed 
en hovaardigheid, 
’n verkeerde lewe en slinkse woorde.
14Wie my het, het raad 
en behaal sukses, 
ek verleen insig, ek is die een 
wat die mag gee. 
15Met my hulp regeer konings goed 
en laat maghebbers reg geskied; 
16met my hulp heers die mense 
wat mag het, 
die leiers, elkeen wat reg regeer. 
17Ek het dié lief wat my liefhet; 
dié wat my soek, vind my. 
18Wie my het, het rykdom en eer, 
het duursame en blywende besittings. 
19Wat ek vir jou lewer, 
is beter as goud, selfs fyn goud; 
wat ek inbring, 
is meer werd as die suiwerste silwer. 
20Waar ek gaan, is daar geregtigheid, 
my pad is dié van die reg. 
21Ek maak dié wat my liefhet, ryk, 
ek maak hulle skure vol. 

22“Die Here het my geskep,
Hy het met my begin;
ek is die eerste wat Hy gemaak het,
lank, lank gelede.
23Ek is lankal daar, van die begin af,
voor die aarde daar was.
24Ek het gekom toe die groot waters
nog nie daar was nie,
toe daar nog nie fonteine
vol water was nie.
25Voor die berge hulle plek gekry het,
voor die rante het ek al gekom,
26voor die Here die aarde
met sy vlaktes gemaak het,
voor Hy selfs die eerste grond
gemaak het.
27Ek was daar toe Hy die hemelgewelf
opgerig het,
toe Hy die horison oor die see
afgemerk het,
28toe Hy die wolke daarbo gesit het,
die fonteine onder die diep water
laat uitborrel het.
29Ek was daar toe Hy vir die see
sy grens vasgestel het,
die waters aan sy wil onderwerp het,
toe Hy die fondamente van die aarde
afgesteek het.
30Ek het my kennis by Hom gekry,
ek was elke dag sy vreugde;
die hele tyd het ek dit by Hom geniet.
31Ek het my verlustig in die wêreld
wat Hy gemaak het,
die mense was vir my ’n vreugde.
32“Daarom, kinders, luister na my,
dit sal goed gaan met dié
wat op my pad bly.
33Luister na wat ek julle leer,
moet dit nie verontagsaam nie,
dan sal julle ook wysheid hê.
34Dit sal goed gaan met die mens
wat na my luister,
die mens wat elke dag
na my huis toe kom
en op my drumpel staan en wag.
35Wie my vind, vind die lewe self
en geniet die guns van die Here.
36Maar wie my nie wil vind nie,
doen homself skade aan;
wie my haat, hou van die dood.”

Psalm 8
Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
’n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Romeine 5:1-5
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Fokusteks

Johannes 16:12-15
Die werk van die Heilige Gees
5“Nou gaan ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. 6Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. 7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.

12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Ander tekste

Spreuke 8:1-4, 22-31; Psalm 8; Romeine 5:1-5

Ekstra stof

Die fokus in die eerste deel van Johannes was op die publieke bediening van Jesus waarin Hy sewe wondertekens gedoen het wat onomwonde sy ware identiteit as die Seun van God openbaar het, en dit binne die konteks van die Joodse feeste. Ons teks val in die tweede deel van die Johannes evangelie waar die fokus gaan val op die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se bywoning van sy laaste Paasfees.

Sy persoonlike bediening aan sy dissipels behels vyf fasette:

  • Johannes 13:1–30 – Jesus was die voete van sy dissipels en wys hoe ware gemeenskap werk, en wys tegelykertyd vir Judas as Sy verraaier uit;
  • Johannes 13:31–14:31 – Jesus onderrig sy dissipels baie persoonlik dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is;
  • Johannes 15:1–26 – Jesus nooi hulle in ’n diep gemeenskap met Hom as die ware wynstok in;
  • Johannes 16:1-33 – Jesus verkondig die werk van die Heilige Gees as voortsetting van sy eie bediening;
  • Johannes 17:1–26 – Jesus bid vir sy dissipels om in ’n diep eenheid met God en met mekaar te leef.

Johannes 16:1-33 – Die Heilige Gees is ons inspirasie
Die hoofstuk val in vier dele uiteen:

  • In aansluiting by die vorige waarskuwing dat die wêreld hulle sal haat, moedig Jesus hulle aan om nie afvallig te raak weens vervolging nie – 16:1-4;
  • Jesus belowe dat die Heilige Gees sal kom wat die gelowiges in die volle waarheid sal lei – 16:5-15;
  • Jesus gebruik beeldspraak om sy opstanding na ’n “klein rukkie” te voorspel wat tot groot blydskap vir hulle sal lei asook vrymoedigheid in gebed – 16:16-24;
  • Jesus moedig hulle weereens aan om moed te hou, want Hy het die wêreld klaar oorwin en hulle sal die vrug daarvan geniet – 16:25-33.

16:1-4: Dit tref hoe pertinent Jesus die dissipels waarsku om nie afvallig van Hom te raak nie. Om Jesus te volg, is nooit eenvoudig nie. Daarvoor sal daar altyd te veel teenstand wees teen die ware gelowiges wat aan Jesus getrou wil bly. En in die dissipels se geval sal die teenstand kom van die Joodse leiers (ban uit die sinagoges) en die Romeinse ryk (vervolging het amper 4 eeue voortgeduur).

16:5-15: Jesus praat hier oor Sy hemelvaart wat die voordeel het dat Hy die Heilige Gees dan kan stuur. Die Heilige Gees se funksie sal wees om aan die een kant die sondigheid van die wêreld aan te toon, sowel as die oordeel van die duiwel (negatiewe funksie) en daarteenoor aan die ander kant dat die reg aan Jesus se kant is (positiewe funksie).

Let op dat die Gees nie net ’n interne private funksie in die gelowiges het nie, maar ook ’n publieke funksie. Maar Hy lei ook elke gelowiges in die volle waarheid deurdat alles wat Jesus vir die gelowiges verwerf het, deur die Gees aan hulle gegee sal word.

16:16-24: In ’n stuk beeldspraak praat Jesus dan van sy opstanding na ’n “klein rukkie” wat die dissipels egter nie mooi begryp nie. Dan brei Jesus verder daarop uit en praat van hulle hartseer oor sy dood, wat egter net die geboorte van die nuwe koninkryk sal wees. Hulle droefheid sal in blydskap verander. En dié blydskap sal hulle ’n nuwe vrymoedigheid gee in hulle gebede. In Jesus se naam sal God hulle gebede verhoor.

16:25-33: Jesus los dan die beeldspraak en praat reguit oor sy aanvanklike koms van die Vader af en sy komende terugkeer na Hom toe. Let op hoe dit hulle in geloof laat reageer – hoewel hulle steeds nie standvastig kon wees in die Lydenstyd wat binnekort in Getsemane sou verdiep (daarvoor het hulle die inwoning van die Gees nodig gehad), soos Jesus inderdaad weer voorspel.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3

Aanvangswoord  

Seëngroet: (Apostoliese-)

Lied 432 “O Heilige Gees aan U die eer vs 1,2”

Psalm 8
Lees die psalm van verwondering oor God en mens…

Geloofsbelydenis

Loflied: Psalm 8 (TT Cloete, eerste melodie) vs 1,3,5

Epiklese: (Ahv Jesaja 55)

Skriflesing: Johannes 16:12-15

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 436 ;Herskep o Gees laat leef o Gees vs 1,2,3:

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of

F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Aanvangswoord  
Hy wat berge vorm en die wind skep,
Hy wat sy gedagtes
aan die mens bekend maak,
Hy wat die dagbreek donker maak,
Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan,
sy Naam is Here, almagtige God!
(Amos 4)

Seëngroet (Apostoliese-)
Genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees.

Lied 432 “O Heilige Gees aan U die eer vs 1,2”

Psalm 8
Lees die psalm van verwondering oor God en mens…
Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
’n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Geloofsbelydenis
Voorganger: Die Here is omgewe van donker wolke;
sy troon is gebou op reg en geregtigheid.
’n Vuur trek voor Hom uit
en verteer sy vyande van alle kante.
Sy weerligstrale verlig die wêreld;
die aarde sien dit en bewe.
Berge smelt soos was voor die Here,
voor die Here van die aarde.
Die hemel getuig dat Hy regverdig is
en al die volke sien sy magtige verskyning.
Almal wat beelde dien,
wat nikswerd afgode vereer,
word ontnugter,
want al hulle gode moet voor die Here buig.
Gemeente: Die Here regeer,
die aarde moet juig,
al die eilande moet bly wees!
Voorganger: Sion is bly, die stede van Juda juig
wanneer hulle hoor wat U as regter gedoen het, Here.
U, Here, is die Allerhoogste oor die hele aarde,
hoog verhewe bo alle gode.
Julle het die Here lief;
haat dan wat sleg is!
Hy bewaar die lewe van sy troue dienaars,
Hy red hulle uit die greep van die goddelose.
Vir die regverdiges het daar lig gekom,
blydskap vir die opregtes.
Wees bly in die Here, regverdiges,
prys sy heilige Naam.
Gemeente: Die Here regeer,
die aarde moet juig,
al die eilande moet bly wees (Ps 97).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Loflied: Psalm 8 (TT Cloete, eerste melodie) vs 1,3,5

Liedere

F123. “Wapenrusting”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – geloof en vertroue, diens en getuienis)
Teks en Musiek:Louis Brittz
© Brettian Publishers

Ons stryd is nie teen vlees nie
maar teen magte in die lug.
God gee sy wapenrusting
dat die vyand weg sal vlug
En die krag in sy dissipels
met die wapenrusting aan
Ja, gewapen met die waarheid
teen die bose kan bly staan.

Refrein:
Ons dra die gordel van waarheid
En die harnas van vryspraak
en die skoene van bereidheid
om die boodskap uit te dra.
Ons dra as helm verlossing
En die Woord van God as swaard
En vir altyd die geloofsoog
totdat Jesus ons kom haal

Vind jou krag net in die Here
Vra dit van Hom dag na dag
En doen dit alles biddend
Deur die Gees van God, ons krag
Wees waaksaam, bid gedurig
Trek jou wapenrusting aan
sodat jy soldaat vir Christus
na verlorenes kan gaan.

F135. “Meer Soos U” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Gebed, Toewyding)
Teks en Musiek: Derek de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers
[Opgeneem op Aanbiddingsbelewenis met Moreletta Park]

[Let wel: Lied begin met die refrein]

Refrein:
Meer soos U, meer soos U
Gees van God, werk in my
Meer soos U, meer soos U
Neem U my hart en maak
My meer soos U

Jesus ek kan leef omdat U lewe
U alleen is Koning van my hart
Lei my in U waarheid
Gee my vrede
Laat vaar tog nooit die werke
Van U hand
En maak my

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Ahv Jesaja 55)
Ek wil vra na die wil van die Here
terwyl Hy nog te vinde is,
Ek wil Hom aanroep Hom aan terwyl Hy nog naby is.
Ek draai na God
wat altyd weer vergewe…
U gedagtes is nie my gedagtes nie,
en U optrede nie soos Myne nie,
soos die hemel hoër is as die aarde,
so is U optrede
verhewe bo my optrede
en U gedagtes bo my gedagtes.
Amen

Skriflesing: Johannes 16:12-15

Prediking

Familie-oomblik

Die abstrakte begrip van die Drie-eenheid (een God in drie persone) is altyd ‘n moeilike begrip vir kinders. Carolyn Brown suggereer dat ons ‘n voorstelling maak van ‘n kruis en ‘n kers wat brand. Byvoorbeel

Begin deur die drie persone van die drie-eenheid te onderskei:
God is die Vader wat die wêreld geskep het aan die begin; en toe die wêreld so sleg was dat God eintlik die mensdom met die dood moes veroordeel, kies God die Vader om die gelowiges te red deurdat Hy Sy Seun na die wêreld stuur om aan ‘n kruis te sterf.

Jesus, die Seun van God, bestaan ook van alle tye af maar het nou mens geword deur as seun vir Maria gebore te word. Hy is die tweede persoon van die Goddelike drie-eenheid. Na sy dood en opstanding het Hy na die hemel opgevaar vanwaar Hy regeer aan die regterhand van God.

Tien dae na sy hemelvaart het Jesus die derde persoon van die drie-eenheid gestuur om by ons teenwoordig te wees. Die Heilige Gees het ook ander name soos Trooster, maar is dan God in sy derde persoon. Die Gees het gekom in die gestalte van ‘n geweldige stormwind en vuurtonge op die koppe van die gelowiges in Jerusalem.

So God is by ons teenwoordig in die gestalte van die seun Jesus sowel as in die gestalte van die Heilige Gees. Gebruik dan ‘n kruis om die Jesus kant te illustreer en ‘n kers wat brand om die Heilige Gees kant te illustreer.

Lees nou die fokusteks (Johannes 16) uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Ek gaan Weg, maar Ek Kom gou Weer
12–15 “Ek wil julle nog soveel dinge vertel. Nou is nie die tyd nie, want julle is nie reg om dit te hoor nie. Die Heilige Gees* sal vir julle die dinge vertel, want die Gees weet wat is die waarheid. Hy sal vir julle sê wat Hy gehoor het. Hy sal julle help om te verstaan wat Ek alles vir julle gesê het. Mense sal dan besef wie Ek regtig is. Wat my Vader S’n is, is mos ook Myne. Hy sal ook vir julle vertel wat nog verder gaan gebeur.

Preekriglyn

Die geskiedenis van die kerk is ‘n spanningsverhaal soos min. Deur al die eeue sedert Jesus die Nuwe Testamentiese kerk gestig het, was Christene onderworpe aan vervolging en swaarkry. Dit het kort na Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag begin. Die eerste Christene is deur Jode vervolg, ene Saulus (later Paulus) was ‘n goeie voorbeeld hoe die Joodse godsdienstige leiers in Jerusalem dit nie met die Christene kon uithou nie. Spoedig het die Romeinse wêreldmag ook die Christene begin vervolg.

Al hierdie dinge lê nog in die toekoms wanneer Jesus besig is om sy afskeidswoorde in Johannes 13 tot 16 aan die dissipels te rig. Tog is daar reeds tasbare spanning by die dissipels te bespeur. Veral wanneer Jesus hulle meedeel dat Hy weggaan en dat hulle hom nie dadelik kan volg nie (13:31-38). Mens voel hulle angs aan. Wat gaan hulle doen wanneer Jesus hulle verlaat het?

Daarom troos Jesus hulle in sy afskeidswoorde. Reeds in Johannes 14:1 sê Hy: “Julle moenie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” En nog later verseker Jesus hulle dat Hy hulle nie as weeskinders agterlaat nie (14:18).

Afskeidswoorde

Ons teks, Johannes 16:12-15, is dus deel van Jesus se afskeidswoorde aan sy dissipels (13:1-17:26). In die destyds wêreld was die afskeidswoorde van invloedryke leiers, filosowe en generaals as uiters belangrik beskou vir die verstaan van hulle boodskap en roeping. Dikwels is hulle afskeidswoorde aan hulle binnekring (familie, volgelinge of kamerade) opgeteken, wat hulle roeping moes voortsit. Daarom fokus Johannes uitvoerig op Jesus se afskeid van sy dissipels, ten einde hulle vir die voortsetting van sy roeping voor te berei.

Hier is nou nie meer tyd vir sake van mindere belang nie. Dit is kort voordat Jesus gevange geneem en gekruisig sou word. Hy fokus op wat deurslaggewend is.

Jesus se weggaan laat die dissipels skynbaar sonder ‘n leier en leermeester. Daar sou talle eksterne bedreiginge wees, soos spoedig deur vervolging sou blyk. Intern was die gevaar dat vrees en angs die Here se kerk kon lamlê.

Hoe sou hulle die tydperk tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms kon oorleef?

Koms van die Parakleet

In sy afskeidswoorde verduidelik Jesus sy weggaan is voordelig omdat dit die koms van die Parakleet, die Heilige Gees, sou inlui.

Die Griekse woord paraklētos is moeilik om te vertaal. In gewone Grieks het dit gedui op die persoon wat ’n aangeklaagde in ’n hof bygestaan het. (Die Latynse vertaling advocatus het later ’n tegniese term vir die persoon geword.)

Jesus verstaan egter veel meer onder die term Parakleet as bloot ‘n advokaat. Parakleet verwys na die spesifieke rol wat die Gees in sy gemeenskap speel in die tydperk wat begin het met Jesus se terugkeer na sy Vader en wat sal eindig met sy wederkoms. In dié tydperk sal die Gees gelowiges aan die woorde van Jesus herinner en hulle begelei in hoe hulle daarvolgens in hulle eie konteks moes leef. Die Gees vervul dus volgens Johannes ’n verskeidenheid rolle in die tyd voor Jesus se wederkoms. Woorde soos “trooster”, “advokaat”, “raadsman” en “helper”, is almal goeie vertalings vir Parakleet.

Wat doen die Parakleet alles? Kom ons gee aandag hieraan. Aanvanklik fokus ons op die breë wyse waarop die Johannes-evangelie die werk van die Heilige Gees beskryf, om dan ten slotte samevattend na die troos van die koms van die Parakleet te verwys.

Help die kerk getuig

Die Parakleet, die Heilige Gees, staan eerstens die geloofsgemeenskap by in hulle getuienis in die wêreld. Hy sal deur die gelowiges in die wêreld getuig (15:26-27) om laasgenoemde van hulle sondes te oortuig (16:7-8). In dié verband tree die parakleet soos ’n aanklaer op wat bekend maak wie glo in Jesus en wie nie (16:7-11). Hy sal dit ook duidelik maak dat Jesus regverdig was en dat God se oordeel oor die heerser van die wêreld aangebreek het.

Die Gees oortuig ook van sonde. Die Gees maak die wêreld van haar sonde bewus, sodat mense na Christus kan gryp.

Werk in die gemeente

Die Parakleet is tweedens in ’n verskeidenheid rolle intiem betrokke by die geloofsgemeenskap self. Hy is hulle leermeester van die woorde en openbaring van Jesus (14:26) en verheerlik sodoende vir Jesus (16:14). Jesus het egter volgens 16:12 nog dinge gehad wat Hy sy dissipels wou leer, maar wat hulle toe nog nie kon begryp nie. Hulle het naamlik nog nie die Gees gehad wat hulle in die waarheid sou lei en onderrig nie, en Jesus self het nog nie uit die dood opgestaan nie. Eers na laasgenoemde sou aspekte van Jesus se leer (oor bv. sy dood en opstanding) vir hulle volledig sin maak.

Die “dinge wat gaan kom” waaroor die Gees die dissipels sou inlig (16:13), is nie slegs sake aangaande die voleinding nie. Ook nie bloot die komende vervolging van die dissipels nie, want Jesus het hulle toe reeds daaroor ingelig. Die dinge wat gaan kom dui ook op die Pinkstergebeure (Handelinge 2) wat in verband met die Gees se koms staan.

Lei in die waarheid

Die Parakleet is ook die “gids” van die gemeenskap wat hulle in die waarheid sou lei te midde van talle uitdagings wat vir hulle in die toekoms sou voorlê (16:12-13). Die verwysing na die waarheid dui daarop dat die Gees gelowiges volgens die wil en aard van God sou lei (16:13). Dit gaan dus hier om meer as net ’n intellektuele verstaan van Jesus se woorde deurdat dit ook ’n lewenswyse in lyn daarmee impliseer.

In die Ou Testament was dit die psalmdigters se begeerte om deur God gelei te word (Ps 25:4-5; 43:3; 86:11; 143:10). Jesaja het ook na God se leiding van Israel verwys in die woestyn (Jes 63:14) en daarna verlang dat God weer sy volk sou lei (Jes 43:19). Die koms van die Parakleet vervul vervolgens dié Ou-Testamentiese versugting na die leiding deur God self. Die Gees sou volgens Johannes naamlik in sy leiding van die volk die werkwyse van Jesus volg deurdat Hy net aan hulle bekend sal maak wat Hy by die Vader gehoor het (3:34-35; 5:19-20; 7:16-18; 8:26-29, 42-43; 12:47-50; 14:10). In Johannes is die Vader dus die bron van beide Jesus en die Gees se onderrig.

Vestig intieme verhoudings

Die Parakleet “vestig ook ’n intieme verhouding” (14:16-20) tussen Jesus en die Vader met die geloofsgemeenskap. Die Gees sal naamlik in gelowiges wees (14:17) en optree as die voortgaande teenwoordigheid van Jesus (14:15-31; 15:26; 16:5-15). Soos wat die Seun glorie aan die Vader verleen (7:18; 17:4), so bring die Gees met sy koms glorie aan Jesus.

Daar is dus ’n wesenlike verband tussen die werk van die drie Goddelike Persone. Die Gees gaan ook nie verder as die openbaring van God deur Jesus – die Woord – nie. Jesus is God se definitiewe selfbekendmaking. Die Gees hoef daarom niks by te voeg by Jesus se woorde en dade nie. Hy moet bloot Jesus verkondig, of soos Johannes dit stel, verheerlik (7:39).

Op die manier sit die Parakleet die bediening van Jesus, wat in 1 Johannes 2:1 ook as ’n parakleet beskryf word, voort. In 14:16 sê Jesus dat Hy ’n ander Parakleet aan sy dissipels sou gee en toon daarmee dat Hy die eerste was. Deur die Gees is Jesus dus, volgens Johannes, ook as Parakleet teenwoordig by sy kerk in elke tydvak en konteks. Die ervaring van die Heilige Gees in sy gemeenskap dien daarom vir Johannes as bewys dat Jesus se belofte oor sy voortdurende teenwoordigheid by sy kerk waar geword het.

Samevatting: hoe ons getroos word

Tot sover ons breë oorsig oor die bediening van die Parakleet.

Ons kan die boodskap van ons teks saamvat deur te wys op die troos en die boodskap in die koms van die Parakleet:

Gawe aan die kerk

Die Heilige Gees is God se gawe aan die kerk. Jesus se hemelvaart is nie die einde van God se betrokkenheid by ons nie. Ons, as gelowiges, ontvang die Gees as ons Leidsman. Hy oortuig die wêreld van sonde en lei en troos die gelowiges. So bly God by ons en bind God ons aan Hom.

Dit is belangrik om te onthou die Gees word aan die kerk gegee, en nie bloot net aan individuele gelowiges nie. Die Heilige Gees bind ons aan die kerk, hoe onvolmaak die kerk ook mag wees. In ‘n tyd waar baie die kerk oorbodig verklaar, en die erediens met ‘n boodskap via ‘n televisieskerm vervang, moet ons onthou dat die primêre ruimte van die Gees die geloofsgemeenskap is.

In die gemeente en die byeenkomste van die gemeente vorm en lei die Gees ons. Daar word ons toegerus om in die wêreld vir God te lewe. Ons kan dus nie die primêre sfeer waarin die Gees optree nie – die kerk – as oorbodig verklaar nie. Die kerk moet haar eerder voortdurend deur die Gees laat lei.

Lei ons in die waarheid

Die Gees staan nie los van Jesus en die Vader nie, maar lei ons in die waarheid van Vader en Seun. Hy sal nie Homself bekend maak nie, of sy eie wil nie, maar die van Jesus. Soos wat alles wat die Gees ontvang van Jesus kom, kom alles van Jesus van die Vader. Soos wat Jesus net sy Vader se wil bekendgemaak het, sal die Gees weer net Jesus s’n bekendmaak. Die Gees sal aan ’n nuwe geslag gelowiges die onderrig van Jesus deurgee. Die werk van die Gees is daarop gemik om die mag en grootheid van Jesus sigbaar te maak (16:14).

Mens kan nie jou eie waarheid skep nie. Waarheid is iets wat van God af ontvang moet word. Jesus lei sy kerk deur sy Woord en sy Gees in die waarheid. Dit is ons troos. Ons is nie uitgelewer aan die wysheid van hierdie wêreld, wat dikwels dwaasheid blyk te wees nie. Die Gees lei ons in die volle waarheid.

Bind ons aan God

Die intieme band tussen Vader, Seun en Heilige Gees wat in ons teks uitgebeeld word, sluit ook vir ons in. Deur die Gees word ons in Jesus ingebind en word ons kinders van God. Ons word deur geloof deel van die familie van God.

Ons kry deel aan die heil in Christus. Dit gee ons ‘n anker en ‘n plek van tuiskoms in die wêreld. Die Gees verseker ons van ons nuwe tuiste en ons identiteit. Die taak van die Heilige Gees as Parakleet is om gelowiges by te staan met hulle vertwyfeling en onsekerheid oor hulle heil. Hy herinner gelowiges aan dit wat Jesus reeds volledig vir hulle gedoen het. Die Gees is ons bemoediger, hulp en trooster.

Vervul met die Gees

Jesus se woorde in Johannes 16:12-15 maak dit duidelik dat met sy weggaan Hy sy Gees aan die kerk beloof het. Daarom het die kerk oor die afgelope 2,000 jaar nie die gees gegee nie!

Die kerk kan egter die gees gee as dit nie erns maak met die leiding van die Heilige Gees nie. Die kerk moet soek na die vervulling met die Gees, wat beteken dat ons ons oopstel vir die leiding en die krag van die Gees. Om dié rede is die beoefening van die dissiplines van geestelike onderskeiding – sowel deur individuele gelowiges as gesamentlik deur geloofsgemeenskappe – uiters belangrik.

Die kerk moet weer erns maak met die feit dat die Gees spesifiek aan haar toevertrou is. Nie net ter wille van haarself nie, maar ook ter wille van die wêreld. Die Gees rus immers die kerk toe om medewerkers van God in sy sending na die wêreld te wees.

In die uitvoering van die roeping moet die kerk dieselfde eenheid vertoon as wat daar tussen die Persone van die Drie-eenheid bestaan. Die wese van God bepaal dus sowel die sending van die kerk as wyse waarop dit volbring moet word.

God stuur ons om te leef

Gebed
Heilige Gees
U is soos die wind wat ons vorentoe stu;
U is soos die duif wat ons hemelwaarts rig;
U is soos water wat ons gees suiwer;
U is soos ‘n wolk wat versoeking vir ons oë verberg;
U is die dou wat ons dorre siel versadig;
U is die vuur wat die kwaad uit ons wegbrand.
U is vuur en vreugde!
Amen
(Christina Rossetti in die Groot Gebedeboek van Lux Verbi, 1990:361)

Offergawes

Wegsending: Lied 436 “Herskep o Gees laat leef o Gees vs 1,2,3”

Seën
Voorganger: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mat 28:19-20).
Gemeente: Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt 28:18, aangepas).

Voorganger: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees (2 Kor 13:13).
Gemeente: Amen.
(Uit ‘n vorige bydrae van Bybelmedia se Woord en Fees)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.