Eerste Sondag in Koninkrykstyd Drie-eenheidsondag

Sections

Oorsig

Drie-eenheidsondag word gewoonlik op die eerste Sondag na Pinkster (en ook die eerste Sondag in Koninkryktyd) gevier. Die viering kan al uit die tiende eeu kom en is die enigste groot feesdag wat aan ’n leerstelling (en nie op grond van ’n gebeure nie) gewy word. Die viering van die misterie van God as die verhoudingsmatige God behoort in die liturgie tot sy reg te kom. In die Katolieke en Anglikaanse tradisies word daar op Drie-Eenheidsondag van die Geloofsbelydenis van Athanasius gebruik gemaak.

Ander tekste

Psalm 8
Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
’n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

2 Korintiërs 13:11-13
11Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!
12Groet mekaar met die soen van Christelike broederskap. Almal wat aan die Here behoort, stuur vir julle groete.
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Matteus 28:16-20
Jesus se opdrag aan die dissipels
(Mark 16:14–18; Luk 24:36–49; Joh 20:19–23; vgl Hand 1:6–8)
16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. 17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Fokusteks

Genesis 1:1-2:4a
God se skeppingswerk
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”

En daar was lig.
4God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

6Toe het God gesê: “Laat daar ’n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.”

7So het dit gebeur.
God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf. 8God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag.

9Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.”
So het dit gebeur.

10God het die droë grond “aarde” genoem, en die waters wat bymekaar gekom het, het Hy “see” genoem. En God het gesien dit is goed.

11Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.”
So het dit gebeur.

12Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. 13Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag.

14Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui. 15Hulle moet ligte wees aan die hemelgewelf om op die aarde lig te gee.”
So het dit gebeur.

16God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre. 17God het hulle in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee, 18om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. En God het gesien dit is goed.

19Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag.

20Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”

21God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed.

22Toe het God hulle geseën: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land.”

23Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag.

24Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard.”
So het dit gebeur.

25God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.

26Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

29Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. 30Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.”
So het dit gebeur.

31Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

2 Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.

4Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.

Liturgie

Drie-eenheidsondag word gewoonlik op die eerste Sondag na Pinkster (en ook die eerste Sondag in Koninkryktyd) gevier. Die viering kan al uit die tiende eeu kom en is die enigste groot feesdag wat aan ’n leerstelling (en nie op grond van ’n gebeure nie) gewy word.

Aanvangslied: Lied 431 “O Gees van Vader en van Seun vs 1,2″

Aanvangswoord: Psalm 8

Seëngroet  

Sang: Lied 456 “Loof heel die skepping, loof die Heer vs 1,2,3”

Verootmoediging
Aan elkeen van die drie Persone word ook ’n besondere werk verbind, sonder dat die Ander egter daarvan geheel en al uitgesluit word. Die Vader is vir die skepping verantwoordelik maar die Seun en die Heilige Gees is ook daarby betrokke (1 Kor. 12:6; 1 Kor. 8:6; Jes. 64:8; Matt. 10:29: Joh. 5:17; Joh. 6:32; Joh. 1:1–3, Kol. 1:16; Gen. 1:2; Ps. 33:6; Ps. 104:30).

Genesis 2:1-2, Johannes 1:1-3
Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 1,2”

Die Seun is vir die verlossing verantwoordelik, maar die Vader en die Gees is ook daarby betrokke (
Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 3”

Die Heilige Gees is vir die voleinding verantwoordelik, maar saam met Hom ook die Vader en die Seun (Gal. 4:6; Ef. 1:10, 13, 23; 3:19; 1 Kor. 1:30; Rom. 8:23; 2 Kor. 1:22).
Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 4”

Geloofsbelydenis
Gebruik ‘n moment van u eie keuse uit die geloofsbelydenis van Athanasius
Die Geloofsbelydenis van Athanasius

Loflied (Opsioneel) 446 “Drie enig God aan U die eer vs1”

Epiklese

Skriflesing: Genesis 1:1-2:4

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Drie-eenheidsgebed
Offergawes

Wegsending Lied 450 “Vader Seun Heil’ge Gees vs 1,2”

Seën: 2 Korintiërs 13

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 431 “O Gees van Vader en van Seun vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 8
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Seëngroet  
Voorganger: Genade en vrede vir julle van God die Vader …
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Voorganger: … en van God die Seun …
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Voorganger: … en van God die Heilige Gees.
Gemeente: Hy maak alles nuut!

Sang 456 Loof heel die skepping, loof die Heer vs 1,2,3

Verootmoediging
Drie-eenheidsondag word in meeste kerke op die eerste Sondag na Pinkster gevier. Dit is dan ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Kom ons vier die unieke misterie van die Drie-eenheid van God deur spesifieke Skrifgedeeltes oor die Bybelse onderskeid voor te lees met gepaardgaande aanbidding deur sang.

Aan elkeen van die drie Persone word ook ’n besondere werk verbind, sonder dat die Ander egter daarvan geheel en al uitgesluit word. Die Vader is vir die skepping verantwoordelik maar die Seun en die Heilige Gees is ook daarby betrokke (1 Kor. 12:6; 1 Kor. 8:6; Jes. 64:8; Matt. 10:29: Joh. 5:17; Joh. 6:32; Joh. 1:1–3, Kol. 1:16; Gen. 1:2; Ps. 33:6; Ps. 104:30).

Genesis 2:1-2
2 Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.

Johannes 1:1-3
Die Woord het mens geword
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 1,2”Die Seun is vir die verlossing verantwoordelik, maar die Vader en die Gees is ook daarby betrokke (Joh. 1:29; Rom. 3:24; Joh. 10:29, 25, 37; Luk. 1:35; Joh. 16:13).

(Uit Johannes 10:25-38)
25Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is.

29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”

37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. 38Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.”

Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 3”

Die Heilige Gees is vir die voleinding verantwoordelik, maar saam met Hom ook die Vader en die Seun (Gal. 4:6; Ef. 1:10, 13, 23; 3:19; 1 Kor. 1:30; Rom. 8:23; 2 Kor. 1:22).

(Uit Efesiërs 1:9-23)
9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
Heyns, J. 1999, c1978. Dogmatiek (Page 49). NG Kerkboekhandel: Pretoria

Lied 445 “Drie enig God ons wil U eer vs 4”

Geloofsbelydenis
Gebruik ‘n moment van u eie keuse uit die geloofsbelydenis van Athanasius
Die Geloofsbelydenis van Athanasius
Artikel 1: Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou.
Artikel 2: As iemand dit nie heeltemaal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan.
Artikel 3: Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer,
Artikel 4: sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.
Artikel 5: Want die persoon van die Vader is ’n ander, die van die Seun is ’n ander, die van die Heilige Gees is ’n ander.
Artikel 6: Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid.
Artikel 7: Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.
Artikel 8: Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape;
Artikel 9: onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees;
Artikel 10: Die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig.
Artikel 11: Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige.
Artikel 12:  net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike.
Artikel 13: Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig;
Artikel 14: en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.
Artikel 15: So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;
Artikel 16: en tog is daar nie drie gode nie maar een God.
Artikel 17: Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here;
Artikel 18: en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.
Artikel 19: Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem,
Artikel 20: word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely.
Artikel 21: Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;
Artikel 22: die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer.
Artikel 23: Die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.
Artikel 24: So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.
Artikel 25: En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie,
Artikel 26: maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk,
Artikel 27: sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word.
Artikel 28: Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.
Artikel 29: Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.
Artikel 30: So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God en mens is.
Artikel 31: Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;
Artikel 32: volkome God, volkome mens met ’n redelike siel en menslike vlees.
Artikel 33: na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.
Artikel 34: En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.
Artikel 35: Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God.
Artikel 36: Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur eenheid van die Persoon.
Artikel 37: Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,
Artikel 38: wat ter wille van ons saligheid gely het, na die hel neergedaal het, op die derde dag uit die dood opgestaan het,
Artikel 39: na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige Vader sit.
Artikel 40: Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Artikel 41: By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan
Artikel 42: en van hulle eie werke rekenskap gee.
Artikel 43: En die wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur.
Artikel 44: Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.

Loflied (Opsioneel) 446 “Drie enig God aan U die eer vs1”

Liedere

F58. “Skepper Gees”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Pinkster / Gebed / Epiklese)
Teks en Musiek: Ioannis Dekas
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof en Aanbiddingsliedere en FLAM, vol 1)

O Heer, ons staan voor U gebroke
As mens verstaan ons nie U weë
Maar U stuur vir ons ‘n Leidsman trou
Hy lei ons na U
Kom o Skepper Gees
Lewendmakend Gees
Kom in al U volheid
Kom in al U krag
Lei my in U waarheid
Leer my van die Seun
Wees  U ook my trooster,
Kom o Skepper Gees

F263.”Ek Glo”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing
1. Ek glo God het alles gemaak
Ek glo Hy hou die wêreld in stand
en Hy is groot, groot, (yeah)
Ek glo dat Jesus leef
Ek glo in die Heilige Gees
en Hy is hier, hier, (yeah)
Wat ek glo wil ek bely
van die Koning vertel
voor die wêreld getuig

Refrein:
Ek glo, ek glo in God wat regeer
Ek leef, ek leef deur Jesus die Heer
In my, in my die Heilige Gees
Hy is God oor my
ek bely dat ek glo

2. Ek glo in Christus se kerk
Ek glo ons moet vir Hom werk
en ons moet bou, bou, (yeah)
Ek glo ons moet mekaar dien
ek glo hul moet God in ons sien
en ons moet skyn, skyn, (yeah)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U.  Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as u kinders aangeneem het, dat u ons Verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor.
Amen.
(Johannes Calvyn se Straatsburgse liturgie van 1545, uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Genesis 1:1-2:4

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

‘n Baie oulike video oor die skeppingsverhaal is beskikbaar.
Indien verkies, kan u (of ‘n lidmaat) gewoon die skeppingsverhaal in kindervriendelike taal oorvertel.
‘n Taak om die plant op die aarde te plant met ‘n doolhof kan ook gebruik word.

Preekriglyn

Vandag vier ons Drie-eenheidsondag. Reeds vanaf die eerste eeue het die kerk die drie-eenheid as die groot werklikheid, die “landskap” waarbinne ons leef, bely. Die werk van God die Vader, Seun en Heilige Gees is die “ruimte” waarbinne alles ontstaan het, leef en waarin die werklikheid na sy eindbestemming gelei word.

Die skeppingsverhaal van Genesis 1 speel ‘n belangrike rol in hierdie geloofsoortuiging. Niks het ontstaan buite God om nie, alles wat is, het die oorsprong daarvan in God.

Genesis 1 is ‘n digterlike teks. Die het twee oogmerke:

  • Dit bring lof, eer en erkenning aan God as die Oorsprong van alles. Dit is ‘n loflied wat God prys vir die groot en wonderlike wyse waarop God alles geskep het;
  • Die oriënteer ons. Genesis 1 is soos ‘n kaart wat verduidelik wat die aard van alles is, hoe die wêreld inmekaarsteek en met watter doel alles gemaak is.

Genesis 1 weet dat daar ook buite God se volk ander skeppingsverhale is wat die werklikheid probeer verklaar. Baie van die mededelings in Genesis 1 is kritiek of getuienis teenoor ander skeppingsmites. Dat God lig onafhanklik van die ligdraers (soos die son en maan) gemaak het, is skerp kritiek op die aanbidding van son en maan as gode of goddelik. Dat man en vrou gelykes is, is kritiek teen ander skeppingsverhale wat manlike dominasie wil bevestig.

Die vraag is hoe help Genesis 1 ons om vandag na te dink oor die werklikheid?

Die volgende staan uit:

God alleen skep

God alleen het geskep. Geen andere gode of magte kon God help of teenstaan nie. Terwyl ander skeppingsverhale die skepping dikwels as die resultaat van oorwinning oor chaosmagte sien, staan niks hier in God se pad nie. Die klem val op God se almag.

God alleen regeer

God het alles geskep en heers oor alles. Geen deel van die skepping staan onafhanklik van God of word deur ander magte beheers nie. Geen deel mag vergoddelik word nie. Selfs die groot natuurverskynsels (son, maan en sterre) wat elders aanbid is, is bloot God se handewerk. Die wêreld is volkome wêreldlik en wemel nie van bonatuurlike magte wat mense moet dien en vrees nie.

God is nie geskep nie

God het vrymagtig geskep. God is nie deel van die skepping of die geheel daarvan nie en is geensins daarvan afhanklik nie.

God is nie in die skepping te vind nie, God is nie die diepste aspek van my bestaan of van die wêreld nie. God staan buite die wêreld en teenoor die wêreld.

God skep alles goed

God se hele skepping is goed. Hier en elders in die Bybel kleef daar niks boos aan die materiële wêreld nie (“wêrelds” en “vleeslik” in die Nuwe Testament slaan op iets heeltemal anders). Vir wêreldveragting is daar net so min plek as vir wêreldaanbidding.

God orden

Daar is orde in God se skepping. Wat eers chaos (“woes en leeg” in die Ou Afrikaanse Vertaling) was, word omskep in ‘n bewoonbare kosmos. Hoewel Genesis 1 geen wetenskaplike verhandeling is nie, is die begrip van ‘n wetmatige wêreldorde hier ‘n stap in die rigting van wetenskap, soos sommige geleerdes inderdaad uitwys. Die orde is deels kenbaar.

Die moderne waan dat daar iets opwindends aan chaos en anargie kleef, ontbreek hier. Soos die see, die Oud-Oosterse simbool van chaos, beweeg dit gedurig, sonder om te verander. ‘n Ordelike raamwerk alleen maak spel en vernuwing moontlik.

Die mens kry verantwoordelikheid

In die skeppingsorde beklee die mens ‘n spesiale posisie as “beeld” en “gelykenis” van God (volgens die meer letterlike OAV). Oor die presiese betekenis hiervan is al baie geskryf. Die beste verduideliking is dat die beeldspraak verwys na die gebruik van konings om in die uithoeke van hulle ryke standbeelde van hulleself te plaas. Sulke standbeelde moes as verteenwoordigers van die koning se heerskappy dien. Die NAV se vertaling “as ons verteenwoordiger” berus op hierdie interpretasie. Vers 26-28 dui onteenseglik op ‘n spesiale verhouding tussen God en mens.

Die mens heers (“bewerk en bewaar”)

Hierdie verhouding behels dat mense, as God se verteenwoordigers, oor die res van die skepping moet heers.

Volgens die Babiloniese verhaal is mense geskep om die gode te dien deur vir hulle die swaar werk te doen. Hulle moes veral die gode met hulle offers “voed”. Dat mense hier as heersers, nie as slawe nie, geskep word, kan die indruk skep dat mense verheerlik – amper vergoddelik – word. Waarskynlik is die doel eerder om God te verheerlik. God het eenvoudig nie slawe nodig nie, daarom het mense geen houvas op God nie (daar is ou verhale waarin mense die gode afpers deur offers te weerhou).

Die mens is ‘n twee-eenheid

God skep die geslagte as gelykes en behandel die geslagte as gelykes. Man en vrou is saam “die mens(dom)” en dra God se beeld. Sáám ontvang hulle die heerserstaak en seën. Spesifieke “geslagsrolle” kan uit Genesis 1 nie geregverdig word nie. Dalk is daar die gedagte (wat in Gen. 2 duideliker is) dat die geïsoleerde enkeling nie volkome mens is nie.

Alle mense is na God se beeld geskape

“Die mensdom” is nie enige spesiale groep, byvoorbeeld Israel, nie. Die totale mensdom, na God se beeld geskape, het die heerserstaak en is aan God verantwoordelik. Hier is geen regverdiging vir rasseskeiding nie. Een groep is in God se oë nie meer werd as ‘n ander groep nie.

In die era van Korona

Tans beleef mense die wêreld is veranderlik, onvoorspelbaar en selfs bedreigend. Vir baie mense is die gevaar “daar buite” en daarom moet ek versigtig wees.

Deur die eeue het verskeie plae God se skepping getref. Iets is duidelik nie reg nie, iets het verkeerd geloop en benodig verlossing en herstel.

Vir die moderne lewensgevoel is die skepping in elk geval, nog voor Korona, gevaarlik en bedreigend. Dink maar aan hoeveel films draai wat ‘n bedreigend uit die buitenste ruim aanbied as die einde van die wêreld soos ons dit ken.

Ons troos is dat God ‘n goeie wêreld geskep het. Hierdie wêreld is gebreek, deur menslike ongehoorsaamheid. Maar God is nie klaar met die wêreld wat God aan die begin goed geskep het nie.

Selfs al is die wêreld stukkend en diep gebreek, is die wêreld steeds goed. Dit is nie sleg om materieel, menslik, ‘n skepsel, te wees nie. Dit is veral goed om ‘n mens te wees wat aan God behoort deur die volmaakte mens, Jesus Christus, wat vir ons verlossing gebring het en ons bind aan God ons Vader, deur die krag van die Heilige Gees.

Verantwoordelik

Die skeppingsverhaal troos ons. Alles het uit God se hand ontstaan en sal nooit uit God se hand glip nie.

Die skeppingsverhaal onderstreep ook ons verantwoordelikheid. Ons is deur God aangestel om die wêreld op te pas, dit te bewerk en bewaak. Ons vaar sleg hiermee, en dit haal ons nou in.

Korona nooi ons tot ‘n diep bekering as mensdom oor die wyse waarop ons leef. Dit is tyd om weer te bedink hoe God alles aanmekaar gesit het, en om daarvolgens te leef. ‘n Sisteem van ongebreidelde kapitalisme is nie volhoubaar nie. Die wêreld se voorspoed is nie ‘n steeds groeiende verbruik geleë nie.

Die skeppingsverhaal onderstreep ook ons beperkinge as mense, net soos die Koronavirus doen. Ons is nie almagtig nie – God is. Ons word in ons spore gestuit deur ‘n onsigbare virus. Die hoop lê nie in onsself nie. Ons toekoms lê in diens, soos Jesus ons geleer het.

Ons moet ons oopstel vir God en leef soos God ons bedoel het om te leef.

Dan roep ons teks ons ook om lof te bring aan God die Vader, Seun en Heilige Gees. Ons lewe as skepsele is nie in ons eie hande nie, maar veilige in God se hande. God is ons hoop, ook in die donker Korona-tyd.

God stuur ons om te leef

Gebed

Drie-eenheidsgebed
God vir ons, ons noem U Vader,
God by ons, ons noem U Jesus,
God in ons, ons noem U Heilige Gees.
U is die ewige Geheimenis
wat bemagtig, toevou, omarm, insluit,
en alles tot lewe wek,
ook vir ons, ook vir my.
Elke naam skiet ver tekort
om u goedheid en grootsheid te omvat.
Ons kan slegs deur dit wat bestaan,
sien hoe U is.
Ons bid dat ons oë
vir ’n volkome kyk geopen word.
Soos dit in die begin was, so ook nou,
en tot in ewigheid.
– Richard Rohr

Offergawes

Wegsending: Lied 450 “Vader Seun Heil’ge Gees vs 1,2”

Seën: 2 Korintiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.
of
Voorganger: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mat 28:19-20).
Gemeente: Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt 28:18, aangepas).

Voorganger: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees (2 Kor 13:13).
Gemeente:  Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.
3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.