Eerste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 29
Die stem van die Here is magtig
29 ’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here
by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink
oor die waters.
Dit is die magtige God
wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here
kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon
bokspring soos ’n kalf
en die Sirjon soos ’n jong bees.
7Die stem van die Here
laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here
laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn
bewe.
9Die stem van die Here
laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit:
“Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Romeine 8:12-17
12Daarom dan, broers, staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Johannes 3:1-17
Jesus en Nikodemus
3 Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”

10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog cword, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Fokusteks

Jesaja 6:1-8
In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” Een van die serafs het toe ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

Ekstra stof

Jesaja 6 kan onder die tema Hoop kom uit ’n afgekapte stomp behandel word.

Die toneel speel hom af in die jaar 740 v C.  Dit is nie duidelik of dit aan die begin van Jesaja se bediening is of nie.  As dit was, sou ’n mens dit as ’n roepingsvisioen kon beskryf, hoewel dit in elk geval ’n deurslaggewende rol speel in die tipe boodskap en rol wat hy verkondig en vervul.

Hoofstuk 6 val in drie dele uiteen:
1. Die visioen van God se heilige teenwoordigheid oor die hele aarde (6:1-4);
2. Die reiniging van Jesaja wat hom voorberei vir sy taak (6:5-7);
3. Die gesprek tussen God en Jesaja waarin hy geroep en gestuur word met ’n boodskap van oordeel sowel as ’n stukkie hoop vir die oorblyfsel (6:8-13).

Die gesprek tussen God en Jesaja het sterk raakpunte met temas wat reeds in die eerste 5 hoofstukke aangeroer is, beide in terme van die oordeel as die heil wat God aankondig.  Dit dien ook as ’n belangrike inleiding vir die verdere profesieë aan die sterwende Ussia se kleinseun Agas op wie se halstarrigheid God ook met ’n boodskap van oordeel en hoop reageer (hfst 7 vv).

6:1-4 – Ussia (vgl die ekskursus oor hom aan die einde van dié bydrae) was waarskynlik ’n oom of neef van Jesaja volgens ’n Joodse tradisie in die Talmoed.  Ussia word ook Asarja genoem in 2 Kon 15 wat moontlik sy geboortenaam was met Ussia sy troonnaam.  Hy was ’n goeie koning, wat ’n lang en voorspoedige regering gehad het, hoewel hy aan die einde daarvan met melaatsheid gestraf is weens sy arrogante poging om – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself te neem (2 Kon 15; 2 Kron 26).

In die sterfjaar van Ussia, waar dinge reeds verval het weens Ussia se sonde, en daar groot internasionale bedreiginge is (Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit) sien Jesaja die gesig van God se heerlikheid, sy heiligheid, sy heerskappy.  “Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (כָּבֹוד)” – sy heerlikheid is soos ‘n kleed wat swaar oor die aarde hang.

Die serafs (vergelyk ‘n eksursus oor hulle aan die einde van hierdie bydrae) bevestig dit dat die grote God ook op die aarde werksaam is – trouens die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid.  Letterlik sê hulle dat God se gewig soos ‘n kleed oor die aarde lê.  Die woord wat hier in Hebreeus gebruik word,  beteken “gewig” of dan spesifiek “dít wat gewig dra of wat tel” en word dikwels met “Majesteit” of “heerlikheid” vertaal.  Met ander woorde:  God kan nie geïgnoreer word nie – Hy rus op die hele aarde en op elke persoon – en Hy is te swaar om af te gooi.  Vra maar vir diegene wat dit al probeer het!

En die uitstaande kenmerk van dié God, sê die serafs, is sy Heiligheid.  Normaalweg verstaan ons heiligheid as apart, afgesonderd, onaantasbaar, maar dit kan as ‘n onweerstaanbare lig (van ‘n ander woord quddushu [ipv qadosh] afgelei) verstaan word wat beteken “om te skyn” of te “suiwer”.

6:5-7 – Daarom dat Jesaja die gesig ervaar as ‘n ontnugterende ervaring.  Hy is oorweldig: “Dit is klaar met my!” En hy is bewus van sy en sy volk se onheiligheid: “Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is.”

Ons het ‘n heersende praktiese teologie in die kerk, dat God geen eise stel nie, dat Hy die vriendelike aanvarende goedige kondukteur omie is wat vir ons ‘n kaartjie hemel toe gee en sal sorg dat ons die trein nie verpas nie.

Niks kan verder van die waarheid wees nie.  God is heilig – Hy duld nie onheiligheid nie.  God is rein – Hy duld nie onreinheid nie.

6:8-13 – En dié God stuur sy mense – Hy duld nie onaktiewe gelowiges nie.  In sy oë is hulle slegter as die ongelowiges.  In die brief aan die gemeente in Laodisea sê Hy, Hy spoeg sulke mense uit sy mond uit (die 7de brief aan ’n gemeente in Open 3:14-22).

Geen wonder dat Jesaja amper van angstigheid oor sy voete val om gestuur te word!  Dit is die teologie wat ons moet aangryp.  ” Ek sal gaan, Here” “Hier is ek. Stuur my!”

Eers na sy antwoord besef Jesaja hoe moeilik sy werk as profeet gaan wees – hy moes die totale ondergang van die volk gaan verkondig.  Hulle land sou ‘n puinhoop word danksy die oordeel van God (vers 11).  Alles sou tot niet gaan.  Hy sou lynreg teenoor die heersende koning, sy nefie, standpunt moes inneem.  En net om sy werk nóg ‘n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie (vers 9-10)!  Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar.  Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie.  Jesaja se werk as profeet is eerder om hulle verdwaas en deurmekaar te laat (vers 9-10), sodat hulle hulle nie bekeer nie.

Teologies is dit sekerlik die mees problematiese deel van die perikoop.  Kan God dit doen?  Mense verblind en laat stol in hulle sonde?  Ja, vra maar vir Farao (Eks 9:12 ev.).  Wat ons moet verstaan, is dat die boodskap van Jesaja hier eintlik alreeds deel van God se oordeel is en nie deel van ‘n uitnodiging tot bekering nie.

Terloops, Jesus haal die verse in Mark 4:10-12 en Matt 13:14-15 aan om op dieselfde wyse sy doel met gelykenisse, en meer spesifiek die gelykenis van die Saaier, te verduidelik!  En ook Paulus verwys na dié profesie as hy verduidelik hoekom die evangelie na die heidennasies uitgebrei is, omdat die Jode nie wou luister nie (Hand 28:26-27).

Daar  kom dus ‘n tyd dat jy nie meer God se aanbod om bekering kan aanvaar nie.  En God stuur ook mense om dit te gaan sê!  En hy neem sy boodskap van bekering dan na ander …

Dit torring aan ons heersende idee van God, dat Hy altyd goed is, altyd vergewe, altyd weer ‘n kans gee … en aan wat ons moet sê as ons God se opdrag uitvoer …

Maar dit is nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie.  Op die vraag van Jesaja, “Tot wanneer” antwoord die Here, “tot alles verwoes is” … maar vervolg met ‘n boodskap van hoop, dat na die verwoesting, daar ‘n afgekapte stomp sal oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die gewyde geslag, die geslag van die mense van God.

Dat ons enigsins en hoegenaamd glo, is God se werk!  Die evangelieskrywer Johannes vertel in verwondering, hoe, ten spyte van die werklikheid van onbegrip onder die Jode met die evangelieverkondiging van Jesus, daar tóg selfs mense van die Joodse Raad was wat tot geloof gekom het, al was dit menslik gesproke onmoontlik (Joh 12:40).

Ons moet dus nie te gou oordeel of ons self as beter ag as ander nie.

In die laaste toneel van die fliek A walk in the clouds, net nadat die wingerd afgebrand het, en almal dink dit is klaar met hulle, hardloop die hoofkarakter (gespeel deur Keanu Reeves) om ‘n stukkie van die wingerd te gaan haal wat nog lewe – ‘n brandende stomp wat oorgebly het.  Daarmee bring hy weer hoop vir ‘n nuwe begin.

Geen wonder dat Jesaja se naam is: die Here is Verlossing.  Daarin lê die hoop, al is dit ook iets wat groei uit ‘n afgesnyde stomp.

Ekskursus oor Ussia en sy tyd
Ussia was ’n goeie koning wat die grondgebied van Israel wyd uitgebrei het in sy 52 jaar van regering.  Hy het Elat, aan die golf van Akaba van die Rooi See, ingeneem en herbou wat die Jode weer ‘n noodsaaklike hawe vir handel na die Ooste gegee!  Hy het groot veldslae teen die Filistyne aan die Weste gevoer en van hulle grondgebied  aan die Middellandse See ingewin, om ook sy toegang tot die see in die Weste uit te brei.  Hy het Jerusalem se mure versterk, die ekonomie laat bloei deur onder andere uitgebreide landbou bedrywighede  in die Negev, suid van Jerusalem.  Die grense van Juda was weer so groot as in die tyd van Dawid en Salomo.

Maar, Ussia het een probleem gehad.  Hy het nie van die hoogtes, die plekke waar die volk nog diereoffers en wierookoffers gebring het aan ander gode, ontslae geraak nie.  En die Here het hom gestraf daarvoor met melaatsheid en hy moes die laaste twaalf jaar van sy lewe in ‘n plek van afsondering bly.  Sy seun Jotam moes op ‘n baie vroeë ouderdom, net 13 jaar oud, die paleis bestuur en eintlik die hele land regeer.

Op die koop toe, in die sterwensjaar van Ussia, 742 vC – daar is ‘n grafsteen uit die tyd van Christus met sy naam op – het daar nog ‘n paar dinge gebeur wat die stabiliteit ondermyn het.

Peka het in die jaar koning oor Israel geword – die ryk van die 10 noordelike stamme – en die vrede wat daar op die stadium tussen die Israeliete en die Judeërs – die 2 suidelike stamme – geheers het, amper onmiddellik tot niet gemaak en saam met Resin, die koning van die Arameërs, vir Juda ingeval.

Koning Tiglat-Pileser III van Assirië was besig om sy ryk algaande sterk uit te brei.  Hy het Israel net hierna ingeval en ‘n stukkie verligting gebring deur Peka se regering onder druk te plaas.  Maar hy het ook vir Juda ingeval en algaande onder sy beheer gekry, sodat net 9 jaar later, in 733 vC, Juda ‘n deel van sy ryk was.

Sy opvolger, Salmaneser, het die noordelike stamme van Israel finaal oorwin, hulle hoofstad Samaria verwoes en die 10 stamme van die volk van Israel weggevoer na Assirië.  Dit was in die jaar 722 vC.  Juda het dié katastrofe vrygespring, maar moes steeds onderdanig aan die Assiriërs bly.

Assirië was die wêreldmoondheid van dié tyd en het op hulle hoogtepunt die hele huidige grondgebied van Iran, die hele Irak, Sirië, Israel, Jordanië, en die boonste deel van Saoedië –Arabië, sowel as die hele Egipte in hulle mag gehad.

Interessant genoeg het die mense in die Weste juis in dié jaar van Ussia se dood begin bou aan Rome, wat uiteindelik oor die groot Romeinse ryk van Jesus se tyd sou heers.

Ekskursus oor die Serafs
Die serafs (שָׂרָף) was vurige of brandende wesens, soms geïdentifiseer met slangvormige wesens, op voetspoor van die giftige slange in Num 21:4 vv, waarvoor Moses ‘n koperslang as genesingsmiddel moes maak. Jesaja self praat ook op ‘n ander plek van serafs, giftige slange, wat kon vlieg, wat hy ook vlieënde drake noem (Jes 14:29 en 30:6).  In die Nederlandse vertaling word hulle “bliksemgedaanten” genoem, met as titel vir die perikoop “Jesaja en de Slangewezens“.

Hoe dit ook al sy, dit is vurige wesens wat vir ewig in die teenwoordigheid van God is, altyd besig om Hom te vereer, altyd gereed om te doen wat Hy vra.  Serafs is nie dieselfde as die gerubs, engele, wat bv oor die ark gewaak het nie.

Hulle het 6 vlerke – met 2 maak hulle die gesig toe twv die verblindende heiligheid van die Here en met 2 maak hulle die “voete” toe, eufemisme vir hulle privaatdele, wat ‘n verbintenis tot reinheid impliseer en 2 vlerke word gebruik om gereed te wees om God se opdragte uit te voer.

Liturgie

Drie-eenheidsondag word op die eerste Sondag na Pinkster gevier. Dit is dan ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Sommige kerke vier Drie-eenheidsondag eerder op die laaste Sondag voor die begin van Advent. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit. Daar is aanduidings dat Drie-eenheidsondag reeds sedert die 10de eeu op hierdie datum gevier is. In beide die Rooms-Katolieke en Anglikaanse tradisies word baie gemaak van die Geloofsbelydenis van Atanasius op Triniteitsondag.

Aanvangslied: Lied 446 “Drie enig God aan U die eer vs1”

Aanvangswoord en  Seëngroet
Lied 449 “Halleluja! Ons loof U Heer vs 1,2,3,4”

Verootmoediging

Bewussyn van die Grootsheid van God: Openbaring 4)

Lied 169 “Heilig, heilig, heilig; Heer God almagtig vs 1,2,3”
(Jesaja 6)

Skuldbelydenis: (Jeremia 1), (Jesaja 6)

Vryspraak: Jesaja 6), (Jeremia 1)

Lied 244 “Alles, alles is genade 1,2,3,4”

Riglyn om te lewe: (Jesaja 6), (2 Korintiërs 5)

Geloofsbelydenis
Loflied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Jesaja 6:1-8

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën: (Efes 3)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Drie-eenheidsondag word op die eerste Sondag na Pinkster gevier. Dit is dan ook die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Sommige kerke vier Drie-eenheidsondag eerder op die laaste Sondag voor die begin van Advent. Die liturgiese kleur vir die Sondag is wit. Daar is aanduidings dat Drie-eenheidsondag reeds sedert die 10de eeu op hierdie datum gevier is. In beide die Rooms-Katolieke en Anglikaanse tradisies word baie gemaak van die Geloofsbelydenis van Atanasius op Triniteitsondag.
(In die liturgie is gebruik gemaak van die bydrae op 31 Mei in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Aanvangslied: Lied 446 “Drie enig God aan U die eer vs1”

Aanvangswoord en  Seëngroet
Voorganger: Erken die Here, kinders van God; erken die Here – sy majesteit en krag; erken die Here – die majesteit van sy Naam. Buig in aanbidding voor die Here in glansryke heiligheid.
Gemeente: Ons buig voor U, Here.

Voorganger: Die stem van die Here dreun oor die waters, die stem van die Here is kragtig, die stem van die Here is glansryk. Die stem van die Here breek seders, die stem van die Here kap klip met vlamme, die stem van die Here laat die woestyn bewe. Sy volgelinge sê: “Majesteit!”
Gemeente: “Majesteit!” Die Here troon oor die vloedwaters, ja, die Here troon as koning vir ewig. Die Here gee krag aan sy volk, die Here seën sy volk met vrede. (Verwerk uit Psalm 29 in die Direkte vertaling  van die Bybel.

Voorganger: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die Eersgeborene van die dooies en die heerser oor die konings van die aarde (Op 1:4, 5).

Lied 449 “Halleluja! Ons loof U Heer vs 1,2,3,4”

Verootmoediging
Hierdie verootmoediging volg die presiese orde van die fokusteks naamlik ‘n bewussyn van die grootheid van God, ‘n ervaring van nietigheid en skuldbelydenis, die ontvangs van vryspraak en vergifnis, en ‘n bereidheid om die groot God te dien. Daar is ook gebruik gemaak van ander tekste.

Bewussyn van die Grootsheid van God
…Ek is  deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ’n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 3Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ’n reënboog met die glans van smarag. 4Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone. 5Daar het weerligstrale, dreunings en donderslae van die troon af gekom. Vlak voor die troon het sewe fakkels helder gebrand. Dit is die sewe Geeste van God. 6Voor die troon was dit soos ’n spieëlgladde see, helder soos kristal.

Naby, rondom die troon, was daar vier lewende wesens, vol oë van voor en van agter. 7Die eerste lewende wese het soos ’n leeu gelyk en die tweede soos ’n bul; die derde het ’n gesig soos dié van ’n mens gehad en die vierde het gelyk soos ’n arend wat vlieg. 8Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê:
“Heilig, heilig, heilig
is die Here God, die Almagtige,
Hy wat was en wat is
en wat kom.”

9Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 10kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê:
11“Here, ons God, U is waardig
om die heerlikheid
en die eer
en die mag te ontvang
omdat U alles geskep het;
deur u wil het alles ontstaan
en is dit geskep.” (Openbaring 4)

Lied 169 “Heilig, heilig, heilig; Heer God almagtig vs 1,2,3”

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. (Jesaja 6)

Skuldbelydenis
5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
6“Ag, Here my God,”
het ek geantwoord,
“ek kan nie goed praat nie,
ek is nog te jonk.”
7Toe sê die Here vir my:
Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe
Ek jou ook al stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê,
moet jy sê.
8Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou,
Ek sal jou red.
Dit is wat die Here gesê het. (Jeremia 1)

Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” (Jesaja 6)

Vryspraak
Een van die serafs het toe ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” (Jesaja 6)
9Hy het sy hand uitgesteek,
my mond aangeraak
en vir my gesê:
Ek het nou my woorde
in jou mond gelê. (Jeremia 1)

Lied 244 “Alles, alles is genade 1,2,3,4”

Riglyn om te lewe
Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” (Jesaja 6)

17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. (2 Korintiërs 5)

Geloofsbelydenis
Voorganger: Ons eer één drie-enige God.
Gemeente: Ons eer U, Vader. Ons eer U, Seun. Ons eer U, Heilige Gees.

Voorganger: Ons eer U, ewige Majesteit.
Gemeente: Ons eer u eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees.

Voorganger: Niemand het God geskep nie. Die Vader is deur niemand geskep nie. Die Seun is deur niemand geskep nie, maar verwek deur die Vader alleen. Die Gees is deur niemand geskep nie, maar gaan van die Vader en die Seun alleen uit.
Gemeente: U is die ewige onmeetlike God! U is één.

Voorganger: God se mag ken geen einde nie!
Gemeente: Die Vader is almagtig, die Seun is almagtig, die Heilige Gees is almagtig.

Voorganger: Die Vader is nie meer of minder as die Seun of die Gees nie. Die Seun is nie meer of minder as die Vader of die Gees nie. Die Gees is nie meer of minder as die Vader of die Seun nie.
Gemeente: Die Vader, Seun en Gees is gelyk in waarde, mag en eer. Ons eer U, drie-enige God.

Voorganger: Die Seun het mens geword. Hy is gelyk aan die Vader na sy Godheid, maar minder as die Vader na sy mensheid.
Gemeente: Die Seun het mens geword, minder geword, sodat ons gered kon word. Hy het sy Goddelike gestalte nie bly vashou nie, maar dit gelos om ons te red.

Voorganger: Hy het vir ons gely, gesterf en ter helle neergedaal.
Gemeente: Hy het vir ons opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader.

Voorganger: Aan Hom is alle mag gegee om te oordeel,
Gemeente: Hy is ons opstanding uit die dood.

Voorganger: Ons eer één drie-enige God.
Gemeente: Ons eer U, Vader. Ons eer U, Seun. Ons eer U, Heilige Gees
Almal: Amen. (Verwerk uit die geloofsbelydenis van Atanasius.)

Loflied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Liedere

F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop

Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Skyn in die donker met liefde wat verlos
Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons

Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang
U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur
Seën ons met volheid vul ons met U vuur

Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag

Vader salf ons oë raak ons met deernis aan
Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop

Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

F100. “Gaan Dan Heen”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 1997 Brettian Productions
(Opgeneem op Issie Waarheid)

Gaan dan heen en maak dissipels
Gaan dan heen – Ek stuur jou nou
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

Alle mag – in die hemel
Alle mag – behoort aan my
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

Nooit sal ek – jou verlaat nie
Ek is nou – saam met jou
Gaan dan heen en maak dissipels
van die nasies van die aarde
sodat elkeen in Jesus kan glo

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lees Lied 253 “U het die brood gebreek vs 1,2″ as ‘n gebed

U het die brood gebreek eens by die meer
breek nou die lewensbrood vir my ook Heer
wil steeds U waarheid meer aan my ontvou
tot ek ook in U Woord my Heer aanskou

U is die lewensbrood Heiland vir my
U is die Waarheid Heer, U maak my vry
U beeld straal uit die Skrif- so helder voort
U soek ek Heer, Uself, o Lewend Woord

Skriflesing: Jesaja 6:1-8

Prediking

Familie-oomblik

Lees onderstaande vrye vertaling van Jesaja 6 voor op dramatiese wyse:
In die jaar waarin koning Ussia gesterf het, het ek ‘n visioen gesien van God op Sy hoë troon- ek het opgekyk na waar Hy gesit het in Sy heerlikheid. Dit het gelyk of die Here se kleed die hele vertrek van die tempel gevul het.

Maar Hy was nie alleen nie- daar was ook engele wat Hom gedien het. Die engele was anders as enigiets wat ek al ooit gesien het- elkeen het ses paar vlerke gehad waarmee hulle hulle oë en voete toegemaak het. Twee vlerke is gebruik om mee te vlieg.

Sonder ophou het die engele met geroep God aanbid. Hulle het uitgeroep: Die Here God is heilig, heilig sonder einde. Die hele aarde ervaar die heerlikheid en die majesteit van die Here.

Wat meer is- die engele het baie hard uitgeroep, so hard dat die deure in die tempel gerammel het, rook het ook deur die tempel gedwarrel.

Ek was baie bang en erg ontsteld oor wat ek gesien het. Geen mens mag God sien nie en ek het Hom gesien. Ek was oortuig dat ek sou doodgaan. Ek kon maar net uitroep:”Dit is klaar met my, ek is verlore”! Skielik was ek, in die teenwoordigheid van die lewende Here, diep bewus van my sonde en nog meer bewus van my volk se sonde. Al die woorde op ons lippe was onrein woorde gevul met sonde.

Maar toe gebeur daar iets wonderliks. Een van die engele het na die altaar gevlieg en ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar opgetel. Die engel het reguit na my toe gevlieg en my mond met die gloeiende kool aangeraak. En wil jy glo- dit het glad nie gebrand nie. En toe verduidelik die engel vir my dat dit die manier is waarop my sonde vergewe word. Wat ‘n verligting!

Die volgende oomblik het ek God hoor praat… Ek het Hom hoor vra of iemand nie vir Hom ‘n boodskapper sal wees nie, iemand wat bereid is om deur Hom gestuur te word? En sonder om ‘n oomblik te huiwer het ek gesê dat ek sal gaan. “Stuur my Here, asseblief stuur my- ek sal so graag U boodskapper wil wees”.

Uit die Jesaja 6 bydrae in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15 kom onderstaande voorstel:
Doopherinnering/Doopbediening wat die Drie-eenheid van God beklemtoon
Roep die kinders vorentoe om hulle hande in die water van die doopbak te kom sit. Verduidelik dat toe hulle gedoop is in die naam van die Vader, Seun en die Heilige Gees, God ’n baie spesiale belofte aan hulle gemaak het. Hy het belowe Hy sal vir hulle sorg soos ’n goeie Pa. Hy het belowe dat toe Jesus vir ons sonde gesterf het, dit ook in hulle plek was. Daarom vergewe God ons sonde en sal Hy ons nie eendag daarvoor straf nie, dit is klaar gestraf. Hy het belowe dat hulle nooit sonder Hom sal wees nie. Die Heilige Gees is altyd by hulle en daarom kan hulle altyd met God praat en luister wat Hy sê. Kom ons luister wat Jesus hieroor gesê het net voor Hy van sy dissipels af weg is. (Hierdie gedeelte kan vervang word met die bediening van die doop.)

Preekriglyn

Daar is mense wat wonderlik in hul eie oë is. Koning Louis XIV van Frankryk is ‘n voorbeeld. Hy het verkies dat mense na hom verwys as “Louis die Grote.” Hy het ook gesê: “Ek is die staat!” Sy hof was die rykste en mees luisterryke in die hele Europa, en sy begrafnis was ook beplan om die swierigste ooit te wees. Hy is in 1717 oorlede.

In die kerk waaruit hy begrawe is, het sy oorskot in ‘n goue kis gelê. Om sy grootheid en majesteit te beklemtoon, is opdrag gegee dat die katedraal baie swak verlig moes word, met ‘n spesiale kers wat bo sy kis geplaas is.

Die duisende wat die begrafnis bygewoon het, het in stilte gesit. Toe begin aartsbiskop Massillon te praat. Hy het stadig afgebuk, die kersvlam doodgedruk, en gesê: “Net God is groot.”

Sterfjaar

Ons teks speel af in die sterfjaar van koning Ussia, ‘n suksesvolle en gevierde koning van Juda. Hy was 52 jaar aan bewind, en het Juda tot ekonomiese en militêre voorspoed gelei. Daar was ook probleme. Ussia het onder die oordeel van God gekom omdat hy die land nie van afgodsdiens gereinig het nie. Daar was ook dreigende oorlogswolke uit die noorde, met die wêreldmoondheid Assirië wat Juda ‘n politieke onderdaan wou maak.

In die sterfjaar van Ussia, 742 v.C., sien die profeet Jesaja die Here. Ussia se dood en Jesaja se sien van die Here word in een sinnetjie vermeld. Daarmee word die koningskap van die aardse vors en die koningskap van God met mekaar gekontrasteer en teenoor mekaar afgespeel. Die tydelike regering van Ussia staan teenoor die omvang en ewigheid van God se heerskappy. Ons sien wie is werklik groot. Ons sien iets van die ontsettende heiligheid en heerlikheid van dié Koning wat oor ons regeer.

In God se paleis

Jesaja sien die Here op ‘n baie hoë troon sit. Die Hebreeuse woord wat hier met “tempel” vertaal word, kan ook “paleis” beteken. Die onderste van sy kleed vul die tempel as God se paleis. Hierdie beelde beklemtoon die grootte van God se buitengewone koningskap. Hy is nie ‘n gewone, aardse koning nie.

Die Hebreeuse woord vir “Here” is “Adonai,” wat hier aandui dat God die Heerser is van die ganse wêreld. Jesaja sien die eintlike Heerser. Hy sien God se kleed, sy heilige teenwoordigheid, die wyse waarop Hy die tempel vul met sy teenwoordigheid.

Vir die Ou Testament kan niemand wat God sien, bly lewe nie. Opvallend sien Jesaja die Here, maar hy sien eintlik die hoë troon, en die soom van die kleed. Hy sien die uiterlike tekens wat met God se teenwoordigheid gepaard gaan.

Omring deur serafs

Die Goddelike Koning op die troon word omring deur hemelse wesens, serafs. Die serafs word in die Bybel geteken as vurige wesens. Hulle is vir ewig in God se teenwoordigheid, altyd besig om Hom te vereer, en altyd gereed om te doen wat God vra.

In ons teks beeld die serafs die gepaste reaksie uit op die teenwoordigheid van die ewige Koning. Elkeen het ses vlerke: met twee bedek hulle hul gesigte, omdat selfs hemelse wesens God nie direk kan aanskou nie. Met twee bedek hulle hul voete, en met nog twee vlieg hulle.

Die serafs verlustig hulleself in die heerlike teenwoordigheid van God. Hulle roep uit:

Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het. Dit dui op die grootheid van God en die omvang van die lof wat aan Hom gebring word.

Heilig, heilig, heilig

Die eerste woord wat gebruik word om God te beskryf, is die drievoudige herhaling van die woord “heilig.” Die woord “heilig” dra in ons teks ‘n omvattende betekenis. Ons kan dit as volg opsom:

  • “Heilig” dui op God se volkome andersheid en grootheid. Sy wese en sy koningskap is van ‘n ander orde as die menslike. God is onaantasbaar groot. Om God as heilig te besing, is om die grootheid van God te eer.
  • “Heilig” is ‘n woord wat in die konteks van die tempel beteken “rein,” “gewy,” “heerlik.” Dit kontrasteer met onrein. God se skoonheid, volmaaktheid en reinheid oorstyg alles.  God se heiligheid is God se heerlikheid. Daarom is God se heiligheid ons lofsange werd.
  • “Heilig” het ook ‘n etiese kant, wat met gedrag en optrede te doen het. Ons kan sê heiligheid het ‘n doen-dimensie. Wat God ook al doen, is reg. God is verder die Bron van alle heiligheid. Daarom roep die Bybel ons op om heilig te lewe, aangesien God heilig is. Deel van hierdie heiligheid is om te fokus op die versorging en opbou van ander, net soos God dit doen.
  • Die drievoudige herhaling van die woord “heilig” beklemtoon die uniekheid van God en God se koningskap. Niemand is soos Hy nie.

Deur God as heilig te besing, word lof aan God gebring oor wie God is en wat God doen.

Here, die Almagtige

God se karakter en wese word ook besing deur Hom die Almagtige te noem, volgens die 1983 Afrikaanse vertaling. In die oorspronklike Hebreeuse teks staan daar “Jahwe Sebaoth.” Die ou Afrikaanse vertaling vertaal met “Here van die leërskare,” wat dikwels in Engels weergegee word met “Lord of hosts.”

Die agtergrond is die volkere rondom Israel wat almal in ‘n veelgodedom glo. Daarby kom die verskeidenheid hemelse wesens wat in die Bybel uitgebeeld word. Die visioen besing God as God oor alle hemelse wesens, ook oor die gode van ander volke. God is inderdaad die Almagtige, die Een wat ook oor al die hemelinge regeer, die “Here van die leërskare”.

Magtige teenwoordigheid

Die serafs besing ook God se heerlikheid deur te sê die “hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” Die Hebreeuse woord wat met “magtige teenwoordigheid” vertaal word, beteken “heerlikheid.” God se onbeskryflike heerlikheid vul die hele aarde.

Heerlikheid is nie ‘n statiese begrip nie, maar dui op aktiwiteit. Dit moet amper as ‘n werkwoord vertaal word. “Heerlikheid” beskryf hoe God teenwoordig is, hoe God regeer. Vir die Ou Testament is God se heerlikheid die gesagvolle, handelende teenwoordigheid van God.

Hoe God koning is

In Jesaja se gesig word die onbeskryflike heerlikheid van God dus in verband gebring met God se aanwesigheid op aarde. God sit op ‘n geweldige hoë troon, maar sy soom van sy kleed vul die tempel, die aarde. Die verhewe God is betrokke by sy skepping.

Jesaja sien eintlik net die soom van God se kleed. Niemand kan God sien, en die misterie van God deurgrond, en bly lewe nie. Tog sien Jesaja genoeg. Die heerlikheid van God en sy teenwoordigheid word openbaar deur die wonderlike loflied wat die serafs sing. God is op aarde teenwoordig.

God se regering word gekontrasteer met koning Ussia se regering wat tot ‘n einde gekom het. Ussia was merendeels ‘n goeie koning, maar ten tye van sy dood begin die onweerswolke oor die volk polities saampak. God is egter ‘n koning wie se koningskap nie uitgelewer is aan politieke omstandighede nie.

Die gesig help die volk om God se gesag te verstaan en te aanvaar. Die woorde wat uit God se mond kom, en deur sy profeet uitgespreke word, is woorde waaraan mens jou moet steur. Hierdie God hou alles in sy hande, en spreek die laaste woord oor alles wat bestaan.

“Ek is onrein”

Jesaja raak desperaat by die aanskoue van God se heerlikheid en heiligheid:

Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” (5)

Die gesig van God se heerlikheid en heiligheid ontlok ‘n skuldbelydenis.. Jesaja, wat geroep is om God se oordeel oor sonde aan te kondig, raak nie net van sy volk se onreinheid en sonde bewus nie, maar ook van sy eie. Ook hy het nodig om gereinig te word en genade te ontvang. Vir ‘n sondaar soos hy raak dit bykans onuitstaanbaar om God se skoonheid te sien.

Gereinig en vergewe

Jesaja beleef egter ook die wonder dat God ‘n sondaar se oortredinge kan vergewe. God kan ‘n sondaar reinig. Mense wat leeggestroop is van hulself, wat hul sonde bely, wat gestroop van hebsug, hoogmoed, afgodsdiens, beginselloosheid, eiewysheid en eiebelang (vgl. 5:11-30) voor God gaan staan, is juis geskik om diens te doen in God se koninkryk (Bybellennium).

As simbool van God se reinigende en vergewende krag raak een van die serafs Jesaja se mond aan met ‘n gloeiende kool. Dit beeld die reinigende en vergewende krag van God uit. Jesaja hoor:

Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen. (7)

Geroep en gestuur

‘n Mens wie se sonde weggeneem is, kan in God se diens gebruik word. Nadat Jesaja van sy sonde gereinig is, hoor hy die Here vra:

“Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

Die verstommende feit is dat die almagtige, heilige God wie se heerlikheid die ganse uitspansel vul, mense gebruik en stuur. Mense wat Hy roep, en wat tot sy beskikking is, stuur hy.

Soos baie ander figure in die Bybel, is ook Jesaja dadelik beskikbaar vir die Here se diens – hoe moeilik die boodskap wat hy moet oordra ook al gaan wees. Die reinigende krag van God maak dit moontlik.

Ons teks vir vandag eindig by vers 8, maar die hoofstuk ontplooi verder in die uitstuur van Jesaja om God se woorde gesagvol aan die volk te gaan oordra.

God en mens

Ons teks speel af tussen die pole van die grootheid van God en die verantwoordelikheid van die mens.

Terwyl die koning sterf, is die oorweldigende grootheid van God se koningskap op die voorgrond. God se heerskappy is verhewe bo die beperktheid van menslike gesag. God is nie uitgelewer aan politieke wisseling nie.

Tog maak die grote God gebruik van mense. Hy roep mense, reinig en bemagtig hulle, en stuur hulle om sy boodskap te dra. Ook ons, God se Nuwe Testamentiese kerk, is ingeskakel by God se beweging na die wêreld. God gebruik ons steeds.

God vul alles

Terwyl die koning sterf, en die volk wonder wat alles gaan gebeur, sien Jesaja die gesig van God wie se teenwoordigheid alles vul. Jesaja word geroep om God se heerlikheid en heiligheid met die volk te deel. Wie God op die troon kan sien, se hele uitkyk verander. Nuwe perspektief ontwikkel., Niks is meer dieselfde nie.

Ons word ook vandag opgeroep om die werklikheid van God op die troon raak te sien. Ons word bewus gemaak van beide God se koningskap én van sy voorsienende en versorgende teenwoordigheid. Dit laat ons in onmag en gebrokenheid na God gryp, net om God se helende en troostende vergifnis en reiniging te beleef. Dit motiveer ons om ook God se gestuurdes te wees.

Ons het trouens ‘n helderder blik op die karakter van God se heiligheid en heerlikheid. Dit is tog die God wat in Jesus gekies het om sy tent tussen ons te kom opslaan, ons heilig te verklaar in Christus, en deur sy Gees sy heiligheid en heerlikheid ook al hoe meer deur ons te laat skyn.

In Christus is alles gevul, soos die serafs gesing het. Christus is Immanuel, God by ons. Niks is leeg nie, en ons kan God ook sien omdat Hy Hom sigbaar kom maak het.

Net God is groot. Daarom is niks meer dieselfde nie.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
Ek bid dat die Vader deur sy Gees
uit die rykdom van sy heerlikheid
aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word,
Ek bid dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon
en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp
hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
19Mag julle sy liefde ken,
liefde wat ons verstand te bowe gaan,
en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Amen (Efes 3)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.