Eerste Sondag in Advent

Sections

Oorsig

‘n Nuwe kerkjaar en seisoen begin. Die sleutelteks verwys na lente en die somer wat binnekort aanbreek. Dit sluit aan by die tema: Die profetiese rede – Lig jou kop, hier kom Hy! Dit is belangrik om in die diens te verwys na verwagting, hoop en nuwe toekoms. Die diens wil die ewigheidsperspektief van God se koninkryk in die hede belig.

Ander tekste

Jeremia 33:14-16
14Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom wat Ek aan Israel en Juda gemaak het. 15In daardie dae, in daardie tyd, sal Ek vir Dawid ’n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen. 16In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons.

Psalm 25:1-10
Maak my u weë bekend
25 Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

1 Tessalonisense 3:9-13
9Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? 10Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek. 11Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! 12En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. 13So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.

Fokusteks

Lukas 21:25-36
Die klein gawe van die arm weduwee
(Mark 12:41–44)
21 Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. 2Hy sien toe ook ‘n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi, 3en Hy sê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. 4Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.”

Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
(Matt 24:1–2; Mark 13:1–2)
5Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: 6″Alles wat julle sien—daar sal ‘n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging
(Matt 24:3–14; Mark 13:3–13)
7Hulle vra Hom toe: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?”
8Hy antwoord: “Pas op dat julle nie mislei word nie, want baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en: ‘Die tyd het aangebreek!’ Moenie agter hulle aanloop nie! 9Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie.”
10Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. 11Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.
12″Maar nog voordat dit alles gebeur, sal hulle julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam. 13Dit sal vir julle ‘n geleentheid wees om van My te getuig. 14Stel julle dus daarop in om julle nie vooraf oor julle verdediging te kwel nie, 15want Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee wat deur geeneen van julle teenstanders teengespreek of weerlê kan word nie. 16Julle sal selfs deur julle ouers en broers en familie en vriende verraai word, en hulle sal party van julle doodmaak. 17En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18daar sal selfs nie eens ‘n haar van julle kop af val nie. 19Deur julle volharding moet julle julleself red.”

Die profetiese rede: die verwoesting van Jerusalem
(Matt 24:15–21; Mark 13:14–19)
20″Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. 21Dan moet dié wat in Judea is, die berge invlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, 22want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid.
23″Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf.
24″Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is.”

Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens
(Matt 24:29–31; Mark 13:24–27)
25″Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ‘n wolk sien kom. 28As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die vyeboom
(Matt 24:32–35; Mark 13:28–31)
29Toe vertel Hy hulle ‘n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. 30Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: vermaning tot waaksaamheid
34″Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie. 35Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”
37Bedags was Jesus in die tempel besig om die mense te leer, maar snags het Hy uitgegaan en buite op die Olyfberg vernag. 38In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister.

Jesus se dood word beplan
(Matt 26:1–5, 14–16; Mark 14:1–2, 10–11; Joh 11:45–53)
22 Die fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby. 2Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na ‘n manier om dit te doen.
3Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar. 4Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom. 5Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal. 6Hy het ingestem en na ‘n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie.

Ekstra stof

Lukas 21:1-38 – Volhard in waaksaamheid en gebed
Die tempel bly die middelpunt van hierdie fase van Jesus se bediening. Hy lewer ‘n kort stukkie kommentaar op die gawes wat mense bring (21:1-4 – die klein gawe van die arm weduwee) en ‘n langer profetiese rede in 6 dele:

  • 21:5-6: die tempel sal afgebreek word in die afsienbare toekoms;
  • 21:7-19: allerlei rampe en vervolginge sal daarop volg;
  • 21:20-24: Jerusalem sal verwoes word;
  •  21:25-28: Die Seun van die mens sal terugkeer;
  • 21:29-33: Die koninkryk van God sal kom (gelykenis van die vyeboom);
  • 21:34-38: Die dissipels moet waaksaam en biddend bly.

Die profetiese rede
Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid. Ander wag nog steeds om finale vervulling, waarvan die belangrikste die wederkoms is.

21:7-19
Dit tref my dat Jesus vroeër vrylating vir gevangenes verkondig het as ‘n integrale deel van sy bediening (4:18), en inderdaad ook gevangenes bevry het, bv van siekte of besetenheid, maar NIE fisiese vrylating noodwendig vir Homself of sy dissipels in die vooruitsig stel nie. Hy staan aan die vooraand van sy eie inhegtenisname (22:47 vv) en spel die pad van sy volgelinge in die profetiese rede uit as een wat baie keer juis in die gevangenis sou eindig (21:12), soos Johannes die Doper al aan die begin van sy bediening ervaar het (3:20), en Petrus, Johannes (Hand 4 en 5), Stefanus (Hand 6 en 7), Paulus, Silas (Hand 16) en nog talle ander sou ervaar hierna.
Die koninkryk kom dus nie deur prag en praal nie, en verseker nie sonder lyding en opoffering nie. Daarom is die arm weduwee se geskenk ook so belangrik, omdat sy juis uit haar gebrek vrygewig is, want dit is hoe die koninkryk kom, deur mense wat alles feil het vir God.
Sulke geleenthede is gulde geleenthede vir getuienis (21:13), en kan letterlik soms IN die gevangenis vir mense vrylating beteken (Hand 5 – bv deur engele). Maar daarby moet ‘n mens ook onthou dat Jesus se woorde nie net op letterlike bevryding dui nie, maar ook – en moontlik is dit nog belangriker – die vrylating van vergifnis en ‘n verhouding met die Here self.

21:20-24
Lukas verbind die verdrukking wat aan die kom is aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer. Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die verowering van Jerusalem in 66-70 nC verbind kan word.

21:25-28
Lukas praat hier van kosmiese tekens (son, maan, sterre word ontwrig) wat die wederkoms sal voorafgaan, en van die radeloosheid en angs van die mense vir die “gebulder van die see en sy vloedgolwe” (tsunami’s?). Hy bemoedig die gelowiges egter met die boodskap dat hierdie dinge eintlik ‘n teken is dat hulle verlossing naby is. Daarom moet hulle regop staan en hulle koppe oplig!

21:29-33
Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se seisoenale verandering in die lente wat as teken dien dat die somer naby is, om die dissipels op die regte wyse na dié tekens te laat kyk. “Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur,” sê Jesus. Die natuurlikste interpretasie van “hierdie geslag” is dat dit na die Jode van Jesus se tyd verwys (vgl Mark 8:12). Dws, die profetiese rede sal in die Joodse volk van daardie tyd se leeftyd vervul word. En dit op sigself is ‘n teken dat die Wederkoms naby is. Maar uiteraard is daar dele wat nog wag om vervulling.

21:34-38
Jesus sluit af deur sy dissipels te waarsku teen die gevare wat beide die lekker en die sorge van die lewe inhou (onthou die gelykenis van die saaier) en moedig hulle aan om te volhard in waaksaamheid en gebed.
Let op dat die hoofstuk afsluit met ‘n beskrywing van Jesus wat in ‘n ritme van lering in die tempel bedags, en stilword op die Olyfberg snags besig is, terwyl die Joodse leiers ook besig is … om sy dood te beplan (22:2).

Lukas 22:1-71 – Die Seun van God ly vir ons
22:1-6
Die drama rondom Jesus verhoog al hoe meer in intensiteit. Terwyl Hy nog vol in die bediening staan, en die volk gretig na sy woorde luister, word Jesus se dood deur die Joodse leiers beplan. En ‘n gulde geleentheid doen hom voor met die Satan wat in Judas invaar en aanbied om vir Jesus te verraai. Judas doen dit waarskynlik omdat hy op een of ander manier teleurgestel is in Jesus – die Satan omdat hy onbewus was van God se plan met Jesus se kruisdood en opstanding

Liturgie

RUS

Inleiding oor Advent
Gebed vir M.I.V. en Vigs tydens die aansteek van die eerste Adventkers

Toetrede: Lied 320 of VONKK 240 of Flam 142

Seëngroet

Lofsang: Psalm 25 of Lied 601

Verootmoediging: (n.a.v. Psalm 25:1-16)

Geloofsbelydenis in aansluiting by 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders

HOOR

Gebed: VONKK 21

Skriflesing: Lukas 21:25-36

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 596 of Lied 588 of Lied 599

Seën

Respons: Lied 601 Refrein of Lied 599

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Inleiding
Vandag is die eerste Sondag van Advent.  Advent is ’n tyd van uitsien en wag.  Soos wat ons uitsien na Kersfees, wag ons en sien ons uit na die koms van Jesus:  sy wederkoms, die koms van sy koninkryk tussen ons, sy teenwoordigheid in ons lewens elke dag.

Ons het ’n paar goed wat ons help om hierdie afwagting simbolies te wys.  Een daarvan is ’n adventkrans.  Terwyl die krans ons laat terugdink aan Jesus se doringkroon, laat dit ons ook in hoop vooruitkyk na die oorwinnaarskroon, terwyl die sirkel ons herinner aan die ewigheid.  Elke week steek ons ’n kers aan wat herinner aan daardie week se spesifieke fokus, terwyl ons dink aan die Lig vir die wêreld.

Die eerste Sondag van Advent is die Sondag van Hoop.  Ons gedenk die Sondag van Hoop te midde van die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders.  Ons kan ook nie vergeet dat gister Vigsdag was nie.

Terwyl ons dus vandag die eerste Adventkers aansteek, is ons oë stip gefokus op die swaarkry van ons wêreld.  Maar ons oë is ook stip gefokus op die Lig vir die Wêreld, ons hoop.

Gebed tydens die aansteek van die eerste Adventkers
(Kry ’n vrou om die kers aan te steek.  Laat ’n gesondheidswerker die gebed voorlees)
Liefdevolle God,
terwyl ons ’n wêreld gekonfronteer met M.I.V. & Vigs aan U opdra,
bid ons in die hoop dat U wil sal geskied:
Waar lewens kort is, mag dit vol wees.
Waar genesing ver is, mag daar steeds heling wees.
Waar die liggaam swak is, mag die gees sterk wees.
Waar stilte vernietigend is, mag daar moed wees om te praat.
Waar oordeel haastig is, mag ons harte oop bly.
Wanneer realiteit oorweldigend is, mag ons steeds reageer.
Waar geloof getoets word, mag ons U daar vind.
In die Naam van Jesus. Amen.
– Simeon Mitchell, Christian Aid

Toetrede
Lied 320 “O kom, o kom, Immanuelof
VONKK 240 U het na ons gekom, Immanuel of
Flam 142 Kom, Jesus, kom!

Seëngroet
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Hoop, deur die kragtige werk van die Heilige Gees!

Lofsang
Psalm 25 of Lied 601 “Dié wat die Here wil dien”

Verootmoediging (n.a.v. Psalm 25:1-16)
Liturg:  Tot U, Here, rig ek my,  my God, op U vertrou ek.  Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie.  Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande.   Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie.  Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het.
Gemeente:  Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie.  Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.

Liturg:  Die Here is goed en regverdig:  Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad.  Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.
Gemeente:  Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde, want dit is groot.

Liturg:  As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon.  Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.
Gemeente:  My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.

Geloofsbelydenis in aansluiting by 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders
(Samevoeging van twee gebede deur Charlene vd Walt geskryf en opgeneem in Woord & Fees 2013-2014, uitgegee deur BM)
Ons verwerp alle vorme van liefdeloosheid en haat, geweld en ontmensliking
omdat ons glo in God die Vader.
Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.Die God wat alle mense as gelykes geskep het
en wat in besonder medelye betoon met hulle wat arm of vreemd is.
Ons erken die menswaardigheid van alle mense
omdat ons Glo in Jesus Christus.
Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het.
Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van geweld en oorlog.
Ons praat en leef profeties
omdat ons glo in die Heilige Gees.
Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.
Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.
Hoop, vrede, vreugde en liefde is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees.
Amen.

Liedere

F142. “Kom, Jesus, kom!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed, Hoop en voleinding) Teks en musiek: Retief Burger © 2005 Urial Publishing
(Op 19:6-9, Op 22:16-21, 2 Kor 5:6-9)

Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:

Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mens wat voor u staan.
om, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam.
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou! Kom!
Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:

VONKK 240 “U het na ons gekom, Immanuel”
Teks:  Isabeau Swanepoel (:1+3) en Hannes van der Merwe 2013 © (:2)
Melodie:  J’aime mon Dieu, car lonsque j’ay crié – Maître Pierre Davantès, Genève 1562
Orrelbegeleiding:  H Pieter van der Westhuizen 1976 (Liedboek #491). Gebruik met toestemming Bybel-Media.
Musikale verryking:  SAKOV-bundel (wie??)  Met toestemming gebruik.
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verryking: 2013 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. U het na ons gekom, Immanuel,
om te verlos, te red van al ons sonde.
U maak ons vry, aan U alleen verbonde.
Juig en wees bly, o volk van Israel.

2. U sien ons nood en U betree die tyd.
U kom en maak by mensekinders woning.
U kom as kind, maar U is steeds die Koning.
Ons buig ons neer – hoe groot u heerlikheid!

3. Halleluja! Ons loof en prys die Heer:
in Betlehem die Jesuskind gebore!
Ere aan God! Ons is nie meer verlore.
Kom, mensdom, kom bring aan Hom al die eer.

VONKK 21 “Wag op die Heer”
Nav Markus 13:33,35,36
Teks: Wait for the Lord – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse  in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue / Hoop en Voleinding

Wag op die Heer,
sy dag kom gou.
Wag op die Heer:
bly bid en waak.

Wait for the Lord,
whose day is near.
Wait for the Lord:
keep watch, take heart!

God praat met ons en ons luister

Gebed: VONKK 21 Wag op die Heer

Skriflesing: Lukas 21:25-36

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Gebruik die inleiding van die preek – die toneel uit die fliek Shrek, as inleiding.  Gesels oor die frustrasie van ’n lang reis.  Wat doen hulle wanneer die pad lank raak?  Sluit dan aan by die boodskap van die teks.

Oorweeg om vanjaar as gemeente “omgekeerde adventkalenders” te maak.  In stede daarvan om elke dag iets uit te haal, gee elke dag iets weg.  Maak ’n houer en sit elke dag iets daarin, soos toiletware, klere, skryfbehoeftes, nie-bederfbare kos, boeke.  Laat almal dit op Kersdag kerk toe bring en onder ’n Kersboom sit.  Jul gemeente se barmhartigheidsbediening kan dan al die geskenke uitdeel aan behoeftiges.

Preekriglyn

In ‘n kostelike toneel uit die film Shrek is Shrek, sy verloofde en Donkey op pad na die koninkryk “Far, far away”. En – omdat dit ‘n reis na ver, ver weg van hier is, is dit ‘n la-a-a-ng reis.  Die snit is hier beskikbaar.
Jy het dit seker al self ook beleef? Julle is op pad met vakansie en die pad voel lank. Jy – of die kinders – raak ongeduldig. En die verwagting en ongeduld word woorde: “Hoe lank nog?” “Hoe ver nog?” “Wanneer is ons daar?” Natuurlik is daar ‘n al hoe groter wordende intensie en nood wat opbou.

Wanneer?

Dit was dieselfde in Jesus se tyd en Lukas se tyd. Wanneer Jesus oor die naderkom en aanbreek van God se koninklike heerskappy in hulle wêreld praat, vra die mense: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?” (Luk 21:7).

Ons teks is deel van Jesus se antwoord op hierdie vraag. Jesus se tydgenote het gesmag na bevryding van die Romeinse heerskappy. Hulle het gedroom oor verlossing uit die nood wat die Romeine se manier van doen en die impak daarvan op hulle ingehou het.

Die lewe onder die Romeine was baie erger as om tydens ‘n lang reis in ‘n voertuig te sit. Meer as 95% van die destydse bevolking het nie geweet waarvandaan hulle volgende bord kos sou kom nie. Hulle het ook nie geweet of daar genoeg vir almal gaan wees om te eet nie. Die “sorge van die lewe” het swaar gedruk. Hulle het letterlik gebukkend geloop en beswaarlik ooit hulle koppe opgelig. Hulle kon die lewe en die werklikheid daarvan nie in die oë kyk nie.

Hierteenoor, was die elite gierig en gulsig. Hulle het gegryp wat hulle kon. En hulle wou nie hulle buit deel nie. Om net dit wat hulle nodig gehad het te eet en te drink was nie deel van hulle lewenswyse nie. Hulle wou oorvloed hê. Net soos die mense wat nie gehad het nie, het dié wat meer as genoeg gehad afgestomp geraak. Dit was die manier waarop hulle in hulle wêreld aangepas het.

Jesus se dissipels het geglo dat die verlossing nog in hulle tyd sou kom. Lukas se lesers weet dat dit nie gebeur het nie. Al wat intussen gebeur het, is dat die Romeine Jerusalem sowat 40 jaar ná Jesus se dood en opstanding binnegeval het en die stad en tempel vernietig het.

Tekens

Teen hierdie agtergrond praat Jesus oor die nabyheid van die koninkryk van God en oor die tweede koms van die Seun van die Mens.

In die voorafgaande verse word die volgende gesê:

  • Jesus voorspel dat die tempel afgebreek sal word (21:5-6);
  • Valse profete en berigte van oorloë en opstande sal hoogty vier (21:7-9);
  • Nasies en koninkryke sal teen mekaar te staan kom, met aardbewings, hongersnode, epidemies, skrikwekkende dinge en groot tekens van die hemel af (21:10-11);
  • Die gelowiges sal vervolg en verraai word, maar dit sal ‘n geleentheid vir getuienis wees (21:12-19);
  • Jerusalem sal deur die heidennasie verwoes word (21:20-24).

Die verskriklike dinge wat sal gebeur bereik ‘n hoogtepunt in verse 25-26:
“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.

Jesus skep die verwagting dat die wêreld in die volgende moment verwoes sal word. Die nasies gaan nou kry wat hulle verdien het: totale verwoesting van God se kant af.

Verrassing, verlossing

Jesus verras nou sy gehoor. Nie verwoesting nie, nee:
En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ‘n wolk sien kom. As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.

In plaas van verwoesting gaan die profesie van Daniel 7:13-14 in vervulling. Die Seun van die Mens verskyn met groot krag en mag op ‘n wolk. Dit verwys na die goddelike mag en gesag van die Messias. Dan kan die gelowiges dankbaar hulle koppe lig, want die dag van ons verlossing is naby. Wat lyk na verwoesting is in werklikheid die dag van ons verlossing.

Waaksaam

Jesus vertel nou die gelykenis van die vyeboom en ander bome wat begin uitloop. Wanneer mens dit sien, weet jy die lente het gekom en die somer is naby. Net so moet gelowiges – wanneer hulle al die tekens sien – weet die koms van die koninkryk en die Seun van die Mens is naby.

Die dissipels moet waaksaam wees, want dit kan maklik gebeur dat ander faktore mens se aandag van die koninkryk aftrek (34-36):
“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom.
Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

Weer Shrek en Donkey

Dit is moontlik dat die lang reis hier op aarde te veel kan word vir ‘n mens. Die koninkryk voel so far, far away. Dit voel of ons nooit daar gaan uitkom nie. Dan is die versoeking om in die sorge, drome en ideale van vandag vas te val. Om bysiende te raak, en nie meer die oog op die horison van God se komende nuwe wêreld te hou nie.

Daarom herinner Jesus ons vandag dat die reis ‘n einde het. Daar is ‘n beperking op hierdie bedeling. Die einde sal kom, hoe ver, lank en moeisaam die reis ook al vir ons voel.

Die tekens wat ons hieraan herinner, deur die eeue, mag vreesaanjaend wees. Tog is dit nie vir God se kinders so nie. Die einde van hierdie era is nie sterwe nie, want dit loop uit op die koms van die Seun van die Mens. Dit is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

Die einde van die tyd is nie die einde van ons lewe saam met God nie.

God is in beheer

Die vreesaanjaende tekens draai ons gesigte na God toe. Ons kyk deur die tekens om God raak te sien. Wanneer ons God sien, sien ons ook God se toekoms raak. Ons oordink die toekoms, die wederkoms, want dit is die oomblik waarin God op ‘n nuwe, volle manier na ons toe kom. Dit gee ons moed om elke dag voort te gaan.

God, ons Skepper, is ook die Een wat in die einde van die wêreldgeskiedenis na ons kom. Hierdie God is ons vertroue waardig. Die chaos en verwoesting van die geskiedenis is nie die einde nie, want die einde is die vervulling en voltooiing en heelmaking van God se skepping. Aan die einde word al God se beloftes vervul.

Oordeel

Daar rus ‘n vonnis op alles en almal wat nie ooreenkomstig God se bedoelinge geleef het nie. Dis iets goeds. Net soos God ‘n beperking plaas op wat boosheid ons kan aandoen, so plaas God ook ‘n beperking op alle ongeregtigheid en sonde. Dit duur nie vir ewigheid nie. Boosheid en ongeregtigheid se dae is getel.

Ook ons kan nie aan God se reg voldoen nie. In onsself sal nie een van ons staande kan bly voor die Seun van die Mens nie. Daarom moedig die Bybel ons aan om Jesus se geregtigheid vas te gryp – in die hede, terwyl die reis nog aan die gang is. Ons is reg vir die einde, omdat ons deur die geloof wat God in ons werk die Seun van die Mens vasgryp. Ons word deur geloof ingesluit by Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart.

In Christus

Die troos in moeilike tye is om aan Christus vas te hou.
Paul Scott Wilson skryf:
Whether we contemplate the eschaton or just the end of our own personal days, we are wise to keep the wonderful message of Jesus in this text before us: when we think that the end is at hand, when we think we cannot cope any more, when all seems lost, when God seems to have forgotten about us, when the suffering of others continues unabated, we are not furthest from our salvation but closest to it. Christ may always be found in the midst of greatest need. Look up, not down, for your redemption is drawing near (21:28).[1]

By jaareinde

Terwyl ons hier saam is, loop nóg ‘n kalenderjaar uit. Aan die einde van ‘n jaar soos wat ons dit ken, is ons egter besig om ‘n nuwe kerklike jaar binne te gaan. Terwyl mense rondom ons met jaarafsluitings en aktiwiteite 2018 tot afronding bring, meld ‘n nuwe jaar saam met God in Adventstyd by ons aan. Dis asof God aan die einde van nóg ‘n seisoen nuwe lewe laat uitspruit. Kyk na die tekens. Terwyl ‘n jaar figuurlik sterf, word ‘n nuwe een gebore.

God is saam met ons op reis en ons is saam met God op reis. God is hier teenwoordig en besig. God se nuwe begin is aan ‘t uitrol. Sy koninklike heerskappy ís ‘n toenemende werklikheid al sien ons dit nie raak nie, óf al voel ons nie so nie. Wees wakker. Interpreteer die werklikheid waarin ons leef met wysheid. En leef jou lewe. Geniet die reis. En laat God se hier wees jou in elke oomblik verras.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 596 “Ons sien vooruit na daardie dag” of
Lied 588 “O God van hoop, gee ons u vrede’ of
Lied 599 “As Hy weer kom, as Hy weer kom”

Seën

Respons
Lied 601 Refrein “Stil maar, wag maar…” of
Lied 599 refrein “Ja, ons wag op die Here…”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.