Eerste Sondag in Advent – Sondag van Hoop

Sections

Oorsig

Die eerste Sondag in Advent staan ook bekend as Sondag van hoop. Die tekste van die eerste Sondag van Advent nooi die gemeente om ’n “nuwe jaar” te begin en bring die gemeente van aangesig tot aangesig met die verwagting van Christus se wederkoms en die hoop wat daar by gelowiges oor die toekomstige verlossing leef.

Vandag kyk die gemeente dus eers met verwagting op, die toekoms in, na die voleinding van alles. Dit gee die gemeente ’n geheelbeeld van die uiteinde waarheen God met sy kinders op pad is. Die volgende drie Sondae leer die gemeente die pad ken waarlangs God die einde laat gebeur.

Ander tekste

Jeremia 33:14-16
14Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom wat Ek aan Israel en Juda gemaak het. 15In daardie dae, in daardie tyd, sal Ek vir Dawid ’n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen. 16In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons.

Psalms 25
Maak my u weë bekend
25 Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

1 Tessalonisense 3:9-13
9Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? 10Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek.

11Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! 12En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. 13So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.

Fokusteks

Lukas 21:25-36
Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Matt 24:29–31; Mark 13:24–27)
25“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ’n wolk sien kom. 28As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die vyeboom
(Matt 24:32–35; Mark 13:28–31)
29Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. 30Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: vermaning tot waaksaamheid
34“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ’n vangnet oorval nie. 35Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

37Bedags was Jesus in die tempel besig om die mense te leer, maar snags het Hy uitgegaan en buite op die Olyfberg vernag. 38In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Advent
[Jy kan die kinders maklik betrek by die verduideliking van Advent.]

Gelukkige nuwe jaar!
Advent is die begin van die Kerkjaar. Dit is ‘n tyd van afwagting en voorbereiding vir die koms van die Koning, Jesus Christus. Ons herdenk sy eerste koms en sien uit na sy wederkoms. [Verduidelik vir die kinders sommige van die Advent tradisies en gebruike.]

Verduidelik dat die Advent krans ons te help om die dae af te tel tot Kersfees.

Advent kers: Die eerste kers word aangesteek terwyl die gemeente sing:

Toetrede
Lied 322 “Redder van die nasies, kom” of
VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”of
Flam 103 “Kersfees is ‘n Vreugdefees’

Votum: Ps 25:1-2a
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.

Seëngroet

Lofsang
Lied 337 “Loof God, o Christen! Hy is groot” en/of
VONKK 128 “Eer Aan God (Lukas 2:14) – kanon”

Wet
Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde”

Skuldbelydenis: Psalm 25:4-7
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.

Genadeverkondiging: Ps 25:8-10
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

Lied 329 “Want so lief het God die wêreld gehad”of
VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”of
Flam 319 “Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”

Liedere

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010
Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746; harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

Flam 103 “Kersfees Is ‘n Vreugdefees”
(RUBRIEK: Flammikidz – Kersfees / Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Kersfees is ‘n vreugdefees.
Jesus is nou hier.
Hy wil by sy mense wees
om saam met hulle fees te vier.

Kersfees is ‘n Christusfees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ‘n krip lê nie,
maar ook aan ‘n kruis moes hang.
Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.

Kersfees is ‘n vreugdefees.
Jesus het gekom.
Hy wil by sy mense wees
dat hul kan glo in Hom.

Kersfees is ‘n vreugdefees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ‘n krip lê nie,
maar ook deur ‘n graf moes gaan.
Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.
Nie net een keer in ‘n jaar nie!
Kersfees elke dag heel jaar.

VONKK 128 “Eer Aan God (Lukas 2:14) – kanon”
Lukas 2:14
Teks: Gloria . . . et in terra pax – Taizé; Afrikaanse weergawe: VONKK Werkgroep 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Teks en musiek met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Kersfees en Epifanie

Eer aan God, eer aan God in die hoogste hemel.
Eer aan God, eer aan God, halleluja!
Laat daar vrede wees vir almal op aarde,
God skenk aan ons sy genade.

Gloria, gloria, in excelsis Deo,
gloria, gloria, alleluja!
Et in terra paz hominibus bonae voluntatis.

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

F319. “Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK: Flam Gemeentesang / Flammikidz – Kersfees)
Oorspronklik: Immanuel
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr vertaling: Faani Engelbrecht
© 1993 Celmar Music

1. Want ‘n kind is vir ons gebore
God het Sy Seun aan ons gegee
Die heerskappy rus op Sy skouers
En Sy Naam sal wees

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God
Ewige Vader, die Vredevors
Immanuel,
God met ons
Immanuel,
God met ons
Immanuel

2. Want so lief het God die wêreld
Hy het Sy Seun aan ons gegee
Sodat die wat nou in Hom glo
Leef tot in ewigheid

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 21:25-36

Familie-oomblik

Wys ‘n paar verkeerstekens – heel spesifiek die driehoekige waarskuwingstekens wat waarsku van iets voor in die pad. Gesels met die kinders oor wat hierdie tekens beteken.

Wanneer ons ‘n teken sien met bv. ‘n grondpad op, weet ons om versigtig te wees – die pad gaan nou-nou ‘n grondpad word. Op dieselfde manier het Jesus vir ons tekens gegee om ons te waarsku dat hy weer gaan terugkom. (Noem ‘n paar van die tekens. Wees egter versigtig om nie die kinders bang te maak nie!) Die waarskuwingstekens op die pad kan ons lewens red, want dit help ons om reg te bestuur. Op dieselfde manier red Jesus se tekens ons lewens, want dit wys ons na God en herinner ons om op God te vertrou.

Preekriglyn

Die weerberig was toe reg. 100% reën is vir 18 Oktober oor groot dele van die Oos-Kaap voorspel. ’n Stormwaarskuwing vir baie swaar reën is daarby gevoeg. Alles gebeur toe soos voorspel.

Groot skade is in die westelike deel van die Oos-Kaap aangerig aan gerig. Die Port Alfred en Boesmansriviermond-omgewing word die swaarste getref toe meer as 300mm reën in 24-uur val. Dreineringstelsels was onvoldoende, en huise en paaie word oorstroom. Mense word letterlik met bote uit hulle huise gered. Talle klein modderstortings kom oral oor die gebied voor. Paaie, brûe en infrastruktuur word deur stormwater meegesleur en vernietig. Telefone, water en krag is vir dae af. Dorpe en woonbuurte is totaal afgesny van die buitewêreld.

Teen Saterdag begin die gemeenskap tot verhaal kom. Oral is berigte van oorweldigende skade. Talle mense verloor letterlik alles. Selfs in gevestigde woonbuurte is onbeskryflike skade. In plekke waar daar in menseheugenis nie water was nie, staan panne vol water, riviere loop op ondenkbare plekke, en onskuldige stroompies verander in tierende riviere.

Ook in die groter omgewing is groot skade. Die N2 tussen Port Elizabeth en Grahamstad spoel weg. St Francisbaai en Oesterbaai word afgesny van die omgewing. Motors dryf in die stormwater rond naby die Port Elizabeth-lughawe.

Elders in die land gaan dit ook broekskeur. Hael so groot soos krieketballe beproef Gauteng, om een voorbeeld te noem.

Hierdie dinge gebeur nie net by ons nie. Orkaan Sandy die VSA op 29 Oktober. TV-skerms vertel van die ontsettende skade is digbevolkte gebiede van die VSA, waaronder die Groot Appel.

Jesus se woorde

Mens neem skielik op ‘n nuwe manier notisie van Jesus se woorde in ons teks:

Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. (25-26)

Angs, vrees en spanning

Die gebulder van die see en vloedgolwe veroorsaak angs en spanning oor die toekoms by baie mense.

Ons besef meer as ooit dat die wêreld – soos ons dit ken – aan ‘n einde gaan kom. ‘n Nuwe ekologiese bewussyn leer ons dat die aarde opsigself nie permanensie het nie. Hulpbronne gaan opdroog, die aarde kan as veilige ruimte vir menslike lewe verdwyn, die son as lewegewende energiebron gaan eventueel uitbrand. Die kragte van die hemelruim gaan ontwrig word.

Die vanselfsprekende vertroue wat baie geslagte op die aarde geplaas het, het verdamp. Filosowe en kunstenaars beskryf die groeiende gevoel dat die aarde eintlik ‘n bedreiging vir menslike lewe is. Die kosmos word nie langer as ‘n geordende, voorspelbare geheel gesien nie, maar as ‘n ongeordende, lewensgevaarlike omgewing.

Wie gaan ons red? Ons eie magteloosheid word vasgevang in realiteite soos globale verwarming, die verbrokkelende osoonlaag, die bronne van die aarde wat te min is vir die bevolking, vrugbare grond wat met erosie vernietig word, kos en watergebrek wat oorloë gaan veroorsaak, oorlog – kernbomme, siektes, die see wat ontvis.

‘n Paar helde, soos Tarzan, Batman, die Skim, Spiderman, Rocky, Mark Condor, Luke Skywalker, Gandalf, Frodo Baggins, Colombo, die Incredible Hulk, die Teenage Mutant Ninja Turtles, Captain America, Flash Gordon, Rakkertjie Rob, die X-men, Liewe Heksie, Sherlock Holmes, die Fantastic Four, Superman, of Catwoman, gaan ons nie red nie.

Tekens

Jesus noem hierdie dinge “tekens” (vers 25). ‘n Teken is iets wat heenwys na iets anders. Hierdie tekens, sê Jesus, dui daarop dat die dag van ons verlossing naderkom: “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing baie naby” (28).

Hierdie woorde kom uit Jesus se profetiese rede. Jesus beskryf die werklikheid rondom ons, maar trek ook die gordyne weg sodat ons ‘n groter realiteit kan raaksien. Hy help ons die werklikheid van God, en God se betrokkenheid by die wêreld, raaksien. Ons leer om ons wêreld, en ons nood, te verstaan vanuit die teenwoordigheid van God.

In God se hande

Die vraag is waarin ons diepste sekuriteit lê? Jesus nooi ons uit om ons sekuriteit in God se verlossende betrokkenheid by God se wêreld te soek.

Die vraag na sekuriteit is natuurlik ‘n moeilike vraag, en mens moenie te vinnig antwoord nie.

Dis maklik om te sê God is ons sekuriteit. Die situasie verander heeltemal as jóú motor in die pad afdryf, of jou twee klein kindertjies deur stormwater uit jou hande geruk word (soos wat met ‘n vrou tydens Orkaan Sandy se aanslag gebeur het). Praat met iemand wie se huis (van steen en sement) in Port Alfred letterlik deur stormwater van sy fondamente afgevee is.

Nogtans nooi ons teks ons uit om die werklikheid vanuit God se teenwoordigheid te verstaan. Hoe pynlik ook al, is die rampe en ellende tekens wat heenwys na God. Dis tekens wat as’t ware die ankers wat ons so diep afgooi in die sigbare en tasbare, doelbewus skud sodat ons losgewikkel kan word uit valse sekuriteit. Ons word genooi om ons vertroue te soek in die God wat gesê het Hy laat nooit die werke van sy hande (die skepping) los nie. Hy bly altyd getrou.

God se getrouheid beteken nie God hou bloot ons bestaan en ons sigbare sekuriteite onveranderd in stand nie. Dit beteken egter dat God God se skepping liefhet en met God se skepping onderweg is na die heerlike toekoms wat god daarvoor weggelê het.

Daarom is die rampe tekens wat ons herinner die Seun van die Mens, wat ons wêreld se volkome verlossing bring, is met groot krag en majesteit op pad. Ons verlossing is naby.

Lees die tekens reg

In die volgende paragraaf van ons teks (29-33) nooi Jesus ons uit om die tekens reg te lees. Hy gebruik ‘n vyeboom wat bot, as voorbeeld. Sodra ons die vyeboom sien uitloop, weet ons die somer is naby. Die nuwe botsels is ‘n teken wat heenwys na die somer.

Die rampe en ellende is ‘n teken dat God se koninkryk aan die kom is. Dit is naby.

Om die waarheid te sê, “nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur.”

Eerstens, meer algemeen gesê, beteken dit dat die tekens van rampe en ellende in elke geslag se leeftyd voorkom. Die rampe en ellende sê nie die wederkoms gaan môre plaasvind nie. Dit sê wel die wederkoms sál plaasvind.

Tweedens, meer spesifiek gesê, verwys Jesus met hierdie woorde na die val van Jerusalem en die verwoesting van die tempel deur die heidense Romeine. Dit lê nog vir sy toehoorders in 70 n.C. voor. Baie van hulle sou bly leef om hierdie ramp te beleef. Vir baie sou dit die gruwel wees wat vir hulle bevestig dat die wêreld se verwoesting om die draai lê.

Ook die val van die stad en die verwoesting van die tempel is paradoksaal ‘n teken, ‘n bevestiging dat God se redding en uitkoms op pad is.

Mens kan die tekens verkeerd lees. Jy kan oningelig of ongelowig wees. Die tekens moet met geloof in God gelees word om dit reg te lees. Die val van die tempel is die teken dat Jesus die poort tot God is. Dit sê dat ons toekoms in Jesus veilig by God is. Sonder hierdie geloof, is radeloosheid en angs ons voorland.

Waaksaam

Mense wat die tekens reg lees, besef dat ons waaksaam moet bly (36). Dit is Jesus se opdrag. Staan regop! (28) Lig julle koppe op! (28) Wees waaksaam! (36). Bid vir krag! (36)

Wat beteken waaksaamheid? Waaksaamheid beteken om voortdurend met God rekening te hou, en op die uitkyk vir God se teenwoordigheid in die wêreld te bly. Waaksaamheid beteken om in die regte rigting te bly kyk. Die oë gevestig te hou op die Seun van die Mens wat aan die kom is in die wêreld.

Waaksaamheid neem die hede ernstig op. God se koninkryk is elke dag, in die hede, besig om te kom. Ons is elke dag genooi en geroep om onsself te gee vir die koms van die koninkryk. Ons is opgeskerp om God se leiding te verneem, God se stem te hoor, God se gebooie by onsself in te skerp, en uit hierdie werklikheid te leef.

Die gevaar is dat mens afgestomp raak. Jesus sê ons eet en drink, ons daaglikse sorge, kan ons afstomp. Ons kan die kuns verloor om verder te kyk as hierdie maand se salaris en rekeninge, die fliek vanaand op die TV, of volgende week se Super 7s-rugby. Dan lees mens die tekens verkeerd. Die tekens kan dan net angs en spanning bring. Die tekens kan dan net geloof afstomp, eerder as opskerp.

Eie verantwoordelikheid

Dis uiters belangrik om raak te sien dat waaksaamheid ook ons eie verantwoordelikheid beklemtoon. Waaksame mense tree anders op. As die verbrokkelende osoonlaag en globale aardverwarming tekens is wat heenwys na Jesus se koms, beteken dit nie ons mag alle verantwoordelikheid prysgee nie. Ons is juis geroep om die aarde op te pas in afwagting op die koms van God se koninkryk.

Dis ‘n ongesonde, arm spiritualiteit wat die aarde, en ons verantwoordelikheid daarvoor, prysgee in die afwagting op Christus se koms.

Eerste koms

Ons is in Adventstyd. Ons dink aan die eerste kom van die Here Jesus na die wêreld.

Mens kan nie help om te onthou hoe verkeerd mense die tekens van Jesus se eerste koms gelees het nie. Daarom was daar nie plek in die herberg vir Josef en Maria nie. Daarom het koning Herodes soldate met swaarde gestuur om alle seuntjies dood te maak. Net arme skaapwagters, ‘n jong maagd, ‘n bejaarde swanger vrou niggie en ‘n paar ander mense het die tekens reg gelees.

Selfs die mees senior godsdienstige leiers en die politieke swaargewigte het hulle misgis met die teken van die Seun van die Mens se eerste koms. Daarom het hulle Hom met die kruis probeer verpletter.

Die kruis was egter die Seun van die Mens se oorwinning oor al die magte wat God se wêreld uit God se hande wil ruk. Die Vader het hierdie oorwinning bevestig deur die Seun van die Mens uit die graf op te tel en Hom te verhoog tot aan sy regterhand, hoog bo elke ander mag, krag en gesag.

Hoe verkeerd kan mense die tekens lees! As hulle God in Jesus van Nasaret kon raaksien, sou hulle anders gekies het. Hulle was egter afgestomp deur strategieë om self hulle eie lewens te beveilig. Hulle kon nie God se werke raaksien nie. Daarom het die kruis die paal geword waarteen die Joodse tempel en die magtige, globale Romeinse ryk sigself te pletter geloop het. Die spykers in Jesus se hande en voete was die spykers in die opponerende magte se doodskis.

Die krip, die kruis en die leë graf is die tekens wat ons gesigte in die regte rigting, in die rigting van God se toekoms draai.

Tweede koms

Jesus se eerste koms sit vir ons ‘n bril op. Dit word ‘n lens waardeur ons die genade ontvang om reg te sien en reg te kies.

Met gesigte wat in die rigting van God se toekoms gedraai is, en oë wat deur die eerste koms lekker skerp kan fokus op die Seun van Mens, kan ons reg reageer op God se aanwesigheid en tweede koms.

Niemand kan dit beter sê nie: Staan regop! Lig julle kop op! Wees waaksaam! Julle verlossing is naby!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 320 “O kom, O kom, Immanuel”

Seën

Respons
Lied 320 Refrein “Wees bly, wees bly, o Israel – Hy is naby, Immanuel.”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.