Eerste Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die eerste Sondag van Advent is die Sondag van hoop en het ’n eskatologiese karakter. In Jesaja word daar tot God geroep om die hemel te skeur en na die aarde te kom. Die kerk sien uit na die koms van die Seun van die mens en sorg dat sy gereed is. Die kerk wag op die bekendmaking van die Here (1 Kor). Daarom moet ons by die vyeboom leer en gereed wees vir die koms van die Here (Mark).

Ander tekste

Psalm 80:1-7, 17-19

Verskyn tog tot ons redding
80 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis van Asaf.
’n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
3Openbaar u mag aan die stamme
Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan,
o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons ’n beker vol verdriet
laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.

8Almagtige God, 
laat dit weer met ons goed gaan, 
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak, 
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek, 
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see, 
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom, 
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God, 
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok, 
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U
met u eie hand geplant het, 
die wingerdstok
wat U vir Uself gekweek het!

17Laat dié wat hom soos onkruid
verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer
van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe,
dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

1 Korintiërs 1:3-9
1 Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ’n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.
2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ’n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Markus 13:24-37
Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Matt 24:29–31; Luk 21:25–28)
24“Maar in daardie tyd,
ná daardie verdrukking,
sal die son verduister word
en die maan sal nie skyn nie;
25die sterre sal uit die ruimte val
en die kragte van die hemelruim
sal ontwrig word.

26Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. 27En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom
(Matt 24:32–35; Luk 21:29–33)
28“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 29So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 30Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 31Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.

Die profetiese rede: die dag en uur van die wederkoms
(Matt 24:36–44; Luk 21:34–36)
32“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 33Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. 34Dit is soos ’n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. 35Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. 37En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

Fokusteks

Jesaja 64:1-9

Jesaja 63
U is tog ons vader
7Ek sal die troue liefde van die Here
verkondig,
die roemryke dade van die Here,
alles wat Hy vir ons gedoen het,
sy groot goedheid vir Israel,
alles wat Hy gedoen het in sy genade,
in sy groot liefde.
8Hy het gesê:
Hulle is my volk,
kinders wat nie ontrou sal word nie.
Daarom het Hy hulle gered
9uit al hulle nood.
Hy was vir hulle nie ’n vyand nie,
Hy self was die engel
wat hulle gered het.
Hy het hulle verlos
deur sy liefde en ontferming;
Hy het hulle opgetel
en hulle altyd gedra.
10Maar hulle het in opstand gekom
en het sy Heilige Gees bedroef,
daarom het die Here
vir hulle ’n vyand geword
en het Hy self teen hulle geveg.
11Toe het sy volk gedink aan die ou dae,
aan die tyd van Moses, en gevra:
Waar is Hy wat sy kudde
dwarsdeur die see gebring het
saam met hulle herder?
Waar is Hy wat sy Heilige Gees
onder hulle gegee het?
12Waar is Hy wat sy groot mag
saam met Moses laat gaan het,
die waters voor sy volk oopgekloof het
en vir Hom ’n ewige Naam
gemaak het?
13Waar is Hy wat sy volk
deur die diep waters gelei het
sonder dat iemand struikel,
hulle gelei het soos perde
deur ’n woestyn gelei word?
14Soos ’n trop beeste
na ’n groen vallei toe afgaan,
so het die Gees van die Here
sy volk na ’n woonplek toe gebring,
so het U u volk gelei
om die roem van u Naam
te vermeerder.
15Kyk uit die hemel uit af,
sien ons tog raak uit u heilige
en verhewe woning.
Waar is u brandende liefde,
u magtige dade?
Is U nie meer oor ons bewoë nie?
Ontferm U U nie meer oor ons nie?
16U is tog ons vader.
Abraham weet niks van ons nie
en Israel is nie van ons bewus nie;
U, Here, is ons vader,
van ouds af is u Naam:
Ons Verlosser.
17Waarom het U ons
laat afdwaal van u paaie af, Here?
Waarom het U ons hardkoppig gemaak
sodat ons U nie gedien het nie?
Wees tog weer soos vroeër
ter wille van u dienaars,
ter wille van die volk
wat aan U behoort.
18’n Kort rukkie kon u gewyde volk
u tempel gebruik,
maar ons vyande het dit verwoes.
19Ons het geword soos dié
oor wie U nie van ouds af
geregeer het nie,
oor wie u Naam nie uitgeroep is nie.

Jesaja 64
As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom
sodat die berge voor U skud!
2Kom af soos ’n vuur
wat fynhoutjies laat brand,
soos ’n vuur wat water laat kook.
Laat u Naam só aan u vyande
bekend word,
laat die nasies só voor U bewe.
3Toe U wonders gedoen het,
wonders wat ons nie verwag het nie,
toe U destyds afgekom het,
het die berge voor U geskud.
4Van ouds af het niemand
so iets gehoor nie,
het niemand so iets verneem nie,
het geen oog ’n god gesien
wat vir dié wat op hom vertrou,
doen wat U doen nie.
5U kom dié te hulp
wat met blydskap doen wat reg is,
dié wat onthou hoe U wil hê
hulle moet lewe.
U was kwaad vir ons,
want ons het gesondig.
Ons het so lank daarmee aangehou,
hoe kan ons dan nog gered word?
6Ons het almal geword
soos mense wat onrein is,
ons beste dade is soos vuil klere;
ons is almal soos verdroogde blare,
ons word deur ons sondes weggewaai
soos deur ’n wind.
7Daar is niemand
wat tot U om hulp roep nie,
niemand wat sy krag in U soek nie.
U het ons aan onsself oorgelaat,
U laat ons wegkwyn deur ons sondes.
8U is ons vader, Here,
ons is klei en U het ons gevorm,
ons is almal die werk van u hande.
9Moet tog nie aanhou kwaad wees
vir ons nie, Here,
moenie ons sonde vir altyd
teen ons hou nie,
onthou tog ons is almal u volk.
10U heilige stad het ’n woestyn geword:
Sion het ’n woestyn geword,
Jerusalem is onbewoonbaar.
11Ons heilige en pragtige tempel
waar ons voorouers U geloof het,
is deur vuur verwoes,
alles wat vir ons dierbaar was,
lê in puin.
12Raak hierdie dinge U dan nie, Here?
Gaan U nie ingryp nie?
Gaan U aanhou om ons te laat ly?

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Gebruik die voorstel by Familietyd reg aan die begin van die diens.  (As jy een van die ander voorstelle vir die familietyd gebruik, kan jy oorweeg om die Adventkers ná die preek aan te steek.)

Toetrede: Lied 320:1 & 5 (O kom, o kom, Immanuel.. verlos hul wat in nood en pyn…)

Votum: 1 Kor 1:4-9

Seëngroet: 1 Kor 1:3

Lofsang
Flam 144 “God is liefde”
Lied 322 “Redder van die nasies, kom”

Liedere

Flam 144 “God is liefde”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie,  lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf  (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21;  Rom 5:1-11;  Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

VONKK 106 “Luister Tog, Heer, En Hoor My Gebed”
Teks: U  is al wat ek het – Pieter Malherbe 2006
Melodie: GEBED – Pieter Malherbe 2006
Orrelbegeleiding: Colin Campbell 2010 (Pro Deo)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

1.  Luister tog, Heer, en hoor my gebed
as ek laag voor U buig,
U is al wat ek het.
Laat my ervaar dat U naby my is,
dat U steeds met my praat.
U is al wat ek het.

2.  Gee my weer hoop en stel my gerus
dat U steeds aan my dink.
U is al wat ek het.
Laat my ervaar dat u liefde my dra,
en dat niks ons kan skei.
U is al wat ek het.

F19. “Heer, Hoe Lank”
(RUBRIEK:  Kersvlam – Klag)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers 

Refrein:
Here, hoor U wat ek sê?  Sien U hoe ek ly?
Luister wat u kinders vra.
Here, gee weer hoop; gee weer hoop in my.

F68. “Here, Here, Hoor My Bid”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)
Ps 119:58; Ps 55:17; Klaagl 3:56; Ps 144:9

Here, Here, hoor my bid
Waar ek skuldig voor U sit
Dis swaar op my, ek kom bely
Here maak my vry

VONKK 30 “Al die donker is nooit net donker”
Nav Psalm 139 : 12
Teks: La ténèbre – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Gerrit Jordaan 2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Frans, Afrikaans in hierdie weeergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Al die donker is nooit net donker in u sig.
Die nag, net soos die dag, word deur U verlig.

La ténèbre n’est point ténèbre devant toi:
La nuit comme le jour est lumiére.

VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”
Nav Johannes 12:46
Teks: Jésus le Christ – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Frans, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Jesus, U is die lig in ons lewe;
laat tog nie toe dat die donker oor ons kom.
Jesus, U is die lig in ons lewe;
Maak ons ontvanklik vir u liefde, o Heer.

Jésus le Christ, lumière intérieure,
ne laisse pas mes ténèbre me parler.
Jésus le Christ, lumière intèrieure,
donne moi d’accuellir ton amour.

Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let not my doubts nor my darkness speak to me.
Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let my heart always welcome your love.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Rango is ‘n gewone verkleurmannetjie met ‘n voorliefde vir die dramatiese.  Wanneer hy per ongeluk in die dorpie Dirt eindig, oortuig hy almal met ‘n spul liegstories dat hy eintlik ‘n dapper held is.  Hulle maak hom die Sherif.   Totdat Rattlesnake Jake daar aankom en al Rango se leuens bekend word.

Rango vlug die woestyn in, waar hy die “Spirit of the West” ontmoet.  Die ontmoeting gee Rango die krag om weer aan te gaan, sodat Rango uiteindelik vir Rattlesnake Jake kan konfronteer en die dorpie red.  (Lees die volledige storielyn hier)

Soms gebeur daar slegte goed met God se kinders – dikwels as gevolg van die verkeerde goed wat ons self doen.  Ons kan egter vir Jesus vra om ons te vergewe en vir hom vertel van die slegte goed wat met ons gebeur.

Gaan kyk gerus na van die clip van Rango hier.
Gebruik ‘n gratis FLV Converter program om ‘n Rango clip af te laai en wys dit.

Of gee vir die kinders klei om mee te speel (n.a.v. v8).  Verduidelik vir die kinders dat God ons gemaak het soos wat jy iets van die klei maak.  Soms word die klei gevorm.  Dit is seker nie lekker vir die klei nie, maar die klei bly die hele tyd in jou hand.

Of gebruik die aansteek van die Adventkers as familie-oomblik (uit Bybel-Media se “Preekstudies en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12”):

Aansteek van eerste Adventskers
Verduidelik aan kinders: Advent is die tyd in die jaar waarin ons ons gereed maak om weer te dink aan Jesus wat aarde toe gekom het. Hy is ons Koning en het beloof hy gaan eendag weer kom. Vandag is die eerste Sondag van Advent en ons dink daaraan dat God elke Sondag sy beloftes vervul wanneer ons in die erediens is. Jesus is deur die Gees hier teenwoordig en beloof God sal weer in heerlikheid te kom.

Daarom het ons hierdie vier weke ʼn krans in die kerk. Soos ’n sirkel het dit ook nie ʼn begin of einde nie.  Daarmee sê die krans vir ons dat Jesus vir altyd en altyd koning gaan wees.

Vra ’n kind om 1 Petrus 1:3 te lees.

Daar is vier kerse op die krans wat vir ons sê dat Jesus die lig vir die wêreld is en dat ons gereed moet wees vir sy koms. Vandag steek ons die eerste kers aan om die koms van God se lig, Jesus Christus, na die wêreld te verkondig.  Met sy koms bring Hy vir ons hoop.  Ons weet dat die lig wat Jesus bring alle donker en slegte dinge sal oorwin.

’n Kind steek die eerste kers in die krans aan.

Nooi die kinders om vir hulle ’n Kerskaartjie te kom haal wat hulle kan versier en aan iemand kan gee om te vertel dat Jesus ons hoop is.

Moedig gesinne aan om hulle eie Adventskrans by die huis te maak.

Preekriglyn

Scott Adams, skepper en skrywer van die Dilbert strokiesprente, het aan ‘n stemgebrek gely.  Dit staan bekend as spasmodic dysphonia.  Hierdie rare gebrek behels dat ‘n sekere deel van die brein as’t ware afskakel, en daarmee die vermoë om duidelik en helder te praat ondermyn.  Dit is soos ‘n permanente laringitis, sodat die slagoffer permanent kwalik kan fluister.

Interessant genoeg is dié toestand aan bepaalde situasies gekoppel  Adams kon byvoorbeeld baie goed van ‘n publieke platform praat.  In openbare toesprake het hy nie probleme ervaar nie.  Dit was met gewone, alledaagse gesprekke dat sy stem hom in die steek gelaat het.

Adams het op sy persoonlike blog vertel hoe frustrerend die toestand was.  Hy het desperaat daarna gesmag om sy gewone stem terug te kry.  Op ‘n dag kom daar toe ‘n deurbraak.  Terwyl hy sy kind met huiswerk help, kom hy agter hy kan perfek praat deur van rympies gebruik te maak.  Hy kon met baie min moeite sê: “Jack be nimble, Jack be quick, Jack jump over the candlestick.”  Hierdie rympies het net genoeg van sy normale woordgebruik verskil dat sy brein dit sonder moeite kon hanteer.

Op hierdie manier word die donker gordyn voor sy brein se spraaksentrum weg geskuif.  Verrassend genoeg keer sy normale spraak ook terug.  Hy vergelyk hierdie genesing met die aanskakel van ‘n motor op ‘n yskoue wintersnag.  Skielik breek daar lewe en warmte in die koue deur.  Die woorde van die rympie het ‘n afgeslote, slapende gedeelte van sy brein geaktiveer en sy normale stem het teruggekeer.

Grafika: Scott Adams: Titel- Scott Adams closing keynote
By [email protected] attitude. This photo was taken on June 6, 2007 using a Canon PowerShot A95.
Kopiereg laat plasing en knip toe.

Vasgekeer en vasgevang

Die meeste mense ken hierdie ervaring: die lewe keer jou in ‘n hoek vas.  Jy beland in ‘n drukgang waaruit jy nie kan ontsnap nie.  Dit gebeur ook met groepe of volkere.  Gebeure kan ‘n verloop neem wat jou vasvang, wat jou laat smag na uitkoms.  Dikwels lyk dit of die uitkoms nie gaan aanbreek nie.

Israel na die ballingskap

Die gebed in Jesaja 64 pas op die lippe van mense wat só vasgekeer geraak het.  Die oorblyfsel van die volk het op hierdie stadium reeds teruggekeer uit die ballingskap.  Hulle het met hoë verwagtings teruggekom.  Jesaja 40 en verdere hoofstukke is hoopvol dat die terugkeer uit die ballingskap ‘n wonderlike nuwe tyd in die volk se lewe sou inlui.  Die heropbou van die stad en die herstel van die tempel sou flink verloop.  Dit het egter nie gebeur nie.  Daar was teenstand teen hulle pogings om die tempel te herstel, en die stad is met groot moeite weer beveilig.  Van al die beloftes het min realiseer.

Hul ervaring was dat die hemel bokant hulle koppe toegerits gebly het.

‘n Lang klaaglied

Jesaja 64 is deel van ‘n klaaglied wat reeds in hoofstuk 63 begin.  Aan die begin van hoofstuk 63 dink die volk aan die groot dade van God in hulle geskiedenis:

  • Deur sy troue liefde het God die volk bygestaan (63:7v)
  • Die Here het vir die volk gekies (63:8)
  • Hy het hulle gered, opgetel en altyd gedra (63:9v)
  • In die tyd van Moses was die Here soos ‘n herder wat sy kudde veilig deur die see gelei het (63:10, 12)
  • Hy het sy Heilige Gees aan die volk gegee (63:11)
  • Soos mens perde veilig deur ‘n woestyn lei, so het die Here sy volk veilig deur die woestyn gelei (63:13)
  • Soos ‘n trop beeste na ‘n groen vallei geneem word, so het die Here sy volk na hul nuwe land begelei (63:14)

Nou is hierdie glorieryke tye verby.  Eers het die volk in ballingskap gegaan.  Toe hulle teruggekeer na die beloofde land, het die hoop opgevlam.  Maar ook dit het op niks uitgeloop nie.  Die worsteling om in die land te lewe en weer God se goedheid te belewe, hou nie op nie.  Hulle is nie meer in Babilonië nie, maar selfs in hulle eie land duur die ontreddering voort.  Dit is asof die ballingskap, die oordele van God, nog nie verby is nie.

Sondebesef en selfverontskuldiging

Ons bly steeds by Jesaja 63, omdat dit so belangrik is vir die verstaan van die klaaglied en klaaggebed in hoofstuk 64.

Wanneer die volk aan God se groot dade in die verlede dink, gee hulle toe dat dit hul sonde is wat ‘n skeiding met die Here gebring het.  Die volk het teen God in opstand gekom en die Heilige Gees bedroef, daarom het die Here ‘n vyand vir hulle geword (63:10).  Hulle beleef ‘n Godsverduistering.

Gevolglik word daar reeds in hoofstuk 63 gebid dat die Here tog die volk moet raaksien en aan hulle moet dink.  Die volk begeer om weer God se brandende liefde, sy magtige dade en bewoëndheid oor die lot van sy volk te beleef (63:15).  Hulle verlang daarna om Hom weer as Vader en Verlosser te ken (63:16).

Hierdie sondebesef lei egter na niks nie.  Op ‘n baie duidelike manier hou hulle die Here eintlik vir hulle sonde verantwoordelik.  Hulle skuif die blaam. Vers 17: “Waarom het U ons laat afdwaal van u paaie af, Here?  Waarom het U ons hardkoppig gemaak sodat ons U nie gedien het nie?”

Israel klink soos Adam wat in die paradys sê dis die vrou wat die Here hom gegee het, wat hom verlei het om van die verbode vrug te eet.  Hy eien nie sy eie skuld nie.

Skuldbesef wat nie ruimte het om self verantwoordelikheid vir jou eie sonde te aanvaar nie, lei na nêrens.  Dit herstel nie die verhouding met die Here nie.  Die gebrek aan skuldbelydenis en gevoelens van Godverlatenheid keer die volk in hoofstuk 63 in ‘n hoek vas.  Hulle kan alleen maar verlate en hooploos voel.  Hul verhouding met die Here het gestagneer.

Groei in skuldbesef

Mens moenie die volk te swaar oordeel oor die gebrek aan skuldbelydenis nie.  Daar is ‘n progressie in hul skuldbesef.  Deur met die Here te worstel, en aan die groot dade van God vas te hou, kom daar groter toeëiening van skuld in hoofstuk 64.  Nou erken hulle hul eie skuld:

  • Ons het gesondig en lank daarmee aangehou (64:5)
  • Ons het onrein geword deur ons eie sonde (64:6)
  • Dit is ons sonde wat ons soos verdroogde blare deur die wind laat wegwaai (64:6)
  • Ons sonde veroorsaak dat ons wegkwyn onder God se hand (64:7).

Soos die klaaglied vorder, soos die dors na ervaring van die Here se goedheid helderder uitgespreek word, groei insig in hulle posisie voor God ook.  Hulle leer hulself sien vanuit God se heiligheid, liefde en reg.  Hulle eie knoeiery met ongehoorsaamheid, hardnekkige opstand oor ‘n lang tyd heen, en hulle vergeet van die Here se teenwoordigheid in hul lewe, blyk nou duidelik.  Niemand anders is vir die volk se ellende verantwoordelik nie.  Hulle is skuldig.

Dit lei tot gepaste reaksies teenoor God.  Die volk bid dat:

  • Die Here hulle sal onthou;
  • Die Here aktief sal ingryp in hul omstandighede
“Onthou ons, Here!”

Eerstens:  Soos die klaaglied vorder, onthou die volk dat die Here wil hê sy kinders moet met blydskap doen wat reg is, moet reg voor Hom lewe (64:5).

Nou vra hulle dat die Here hulle moet onthou (64:9).  Die Here moet onthou hulle is sy volk, diegene wat Hy gered het, versamel het, omvorm het tot sy volk, deur die woestyn beskerm en gelei het, vir wie Hy ‘n land gegee het, vir wie Hy oor hul sonde gestraf het, in ballingskap geplaas het, maar hulle ook uit die ballingskap teruggebring het.

Die klaaglied van hoofstukke 63 en 64, met sy selfregverdigende ondertone, is ‘n moeisame en worstelende groei in besef wie hulle voor die Here is.  Hulle onthou hulle eie identiteit.  Hulle onthou wie die Here is voor wie se aangesig hulle lewe.  Hulle onthou sy gebooie, en hulle word herinner aan hul eie klaaglike situasie voor die Here vanweë hulle sonde.

Stamelend kom die versoek dan: “Onthou ons tog Here, onthou dat ons u volk is.  Moenie ons sonde vir altyd teen ons hou nie.”

Dit word ‘n hartroerende toneel.  Mens kan slegs uit jou ellende tot die Here nader met die hoop dat die Here van jou sal onthou.  En dat Hy deernis met jou sal hê.  Dit is soos die verlore seun wat tussen die varke opstaan en na die vaderhuis teruggaan.  Hy hoop die vader sal onthou, en dat daar ‘n mate van deernis in die vaderhart sal wees.

Die versoek dat die Here moet onthou, word gedra deur die belofte dat niemand ooit tevergeefs tot die Here roep nie.

“Skeur die hemel oop en kom in aksie!”

Tweedens:  Vanuit die nood van hul omstandighede én die nood van hulle skuld voor God vra die klaaglied dat die Here die hemel moet oopskeur en weer aktief in die wêreld moet ingryp (64:1).

Op verskeie maniere word God gevra om die volk te hulp te snel en reg te doen.  Hulle ken God as ‘n God wat naby is, wat in die geskiedenis en in mense se omstandighede handel.  Die Here word opgeroep op hul lyding weg te neem en sy teenwoordigheid konkreet op aarde in en deur sy volk te vestig.

Die hemel is toe oopgeskeur

Ons is tans in adventstyd.  Ons dink aan die verskyning van die Here Jesus op aarde deur sy geboorte as ‘n baba in Bethlehem.  In sy geboorte, het God die hemel finaal en onherroeplik oopgeskeur.  Hy is Immanuel, God by ons.

Op ‘n merkwaardige manier – om een voorbeeld te noem – sluit die Evangelie van Markus (vgl. hoofstuk 1) by die temas in Israel se klaaglied in Jesaja 64 aan.  Markus vertel hoedat die evangelie van Jesus Christus begin.  Dit begin met Johannes die Doper wat in die woestyn optree en mense oproep om hulle te bekeer, hulle sonde te bely en hulle te bekeer.  Mense stroom na hom toe om hulle sondes te bely.

Hulle skuldbelydenis sluit God se teenwoordigheid in hulle midde-oop.  Jesus verskyn op die toneel.  Die sondelose Lam van God laat Hom ook doop met hierdie doop van skuldbelydenis.  Daarmee begin sy openbare optrede.  Self het Hy nie sonde nie, maar Hy identifiseer Hom met Israel se sonde.  Hy plaas sy skouer onder die las van die volk se sonde.  Hy word deur God voorsien as die plaasvervangende, volkome gehoorsame Israeliet / mens wat deur sy gehoorsaamheid en sy soenoffer vir die sonde uitkoms bring.

Hiervoor stuur God Hom.  Jesus se doop dui aan dat Hy gehoorsaam kies om die pad te loop wat God vra.

Wanneer Jesus uit die water kom, skeur die hemel letterlik oop, en daal die Gees soos ‘n duif op Hom neer.  Die Gees omhels en bekragtig Hom, en die stem van die Vader uit die hemel sê: “Jy is my geliefde Seun, oor jou verheug Ek My.” (Markus 1:10-11)

God skeur die hemel oop en kom tot by sy mense.  God kom tot by sy mense van alle tye.  Jesus het moderne mense so lief dat Hy destyds 12 Jode roep (Markus 1:16-20) en hulle as sy dissipels en apostels toerus, sodat die evangelie deur hul getuienis oor die hele wêreld versprei, en ook vir ons bereik.

Selfs al was ons (en ons voorouers) destyds ver van God, het die Here ons onthou en sy mense oor die wêreld heen gestuur (Matteus 28:18-20) sodat ons ook ingesluit kan word in die gemeenskap van God se mense.

Onder ‘n oop hemel, in groot geselskap

In Christus leef ons onder ‘n oop hemel, in gemeenskap met God.  Ons leef in die teenwoordigheid van die lewende Here wat in ons, en deur ons werk.  Die hemel het op so ‘n manier oopgegaan dat nie nooit weer kan toegaan nie.  Op hierdie manier het God die klaaglied in Jesaja 64 vir tyd en ewigheid verhoor.

Tog moet ons daarteen waak om die intense worsteling van Israel in Jesaja 64 nie as ongedaan en onherhaalbaar te beskou nie.  Daar is vandag nog – spesifiek vir gelowiges – tye van klag en intense worsteling met God.

Om vandag by God te weeklaag

Wanneer mens vandag rondom jou kyk, is daar vinnig genoeg rede vir weeklaag by God te vind.  Kyk hoe lyk die wêreld!  Die toonaard van die klaaglied moet in ons geloofstaal herontdek word.

Wanneer ons vandag na die wêreld kyk, en die geweldige impak van die vigspandemie raaksien, en daarby die verwoestende effek van armoede, die vermenigvuldig van gierigheid, en  die selfgerigt­heid en selfsug van mense – ook Christene – is dit tyd om by God te weeklaag.

Is skuldbelydenis uit die mode?

In Jesaja 64 het Israel moeite om verantwoordelikheid vir die klaaglike toestand van hulle wêreld te aanvaar.  Hulle sukkel om hul aandeel te bely en vergifnis te vra.

Vir ons as ‘n geloofsgemeenskap wat vandag hier bymekaar is, is dit eweseer ‘n geldige vraag.  Wat is ons aandeel aan die toestand van die wêreld?  Waar het ons gesondig, en so onder die oordeel van God beland?  Waar ons ons God se bedoelinge gedwarsboom en so die wêreld in die ellende gestort?

Ons eie persoonlike aandeel aan die ellende van die wêreld kom waarskynlik nooit eers by ons op nie.  Christene is geneig om die blaam te verskuif na ander.  Dit is altyd ander, die goddelose, se skuld dat die wêreld lyk soos hy lyk.  As mens na ons eie skuld begin vra, sal jy waarskynlik nie baie mense kry wat gaan saamgesels nie.

Dink aan ons aandeel aan die volgende:

  • Ons staan vandag op die vooraand van Wêreldvigsdag.  Wat het ons gedoen, nagelaat om te doen, gedink, of toegelaat en só meegewerk aan die skep van ‘n kultuur waarin seksuele siektes soos ‘n veldbrand versprei?  Hoe onkundig is ons dalk oor die voorkoms van MIV/Vigs in ons eie gemeenskappe?  Hoe het ons onsself en ons kinders voorberei om seksueel verantwoordelik te leef en te kies?  Hoe ignoreer ons diegene wat onder MIV/Vigs ly?  Wat doen ons om kinders te help wat een of albei ouers verloor het?  Gaan ons verantwoordelikheid aanvaar, skuld bely en die Here vra om die hemel rondom hierdie situasie oop te skeur en ons te kom help om te verander?
  • Dink aan die ekologiese krisis in ons wêreld.  Dit is maklik om raak te sien as mense mors.  Hou ons rekening met ons eie aandeel aan die bemorsing van die wêreld?  As ek elektrisiteit vermors, mors ek nie noodwendig waar ek bly nie.  Ek bemors die wêreld dalk ‘n duisend kilometer ver, in Mpumalanga, waar die kragstasie staan.  Maar mors, mors ek.  As ek brandstof mors, mors ek by die raffinadery waar die brandstof verwerk word.  En mors ek ‘n paar eeue verder in die wêreldgeskiedenis.  Ek mors met die lewe wat opeenvolgende geslagte op God se aarde moet maak met hulpbronne wat onnodiglik vroegtydig uitgebrand is.  Sal ons verantwoordelikheid aanvaar, skuld bely en verander?
  • Dink aan die voorkoms van armoede.  Is ons vasgevang in ‘n sisteem waar diegene wat ‘n voorsprong in vaardighede en welvaart verkry het, hierdie voorsprong net verder en verder vergroot?  Sonder dat ons bewus is van ons verantwoordelikheid om doelbewus vaardighede, kennis, lewensmiddele en welvaart met ander te deel?  Sal ons ons aandeel aan hierdie sisteme kan erken en met God se hulp ons verantwoordelikheid teenoor medemense nakom?

Skuldbelydenis en die aanvaar van verantwoordelikheid vir ons wêreld se omstandighede is nooit ‘n gewilde onderwerp nie.  Dit is maklik om die splinter in Israel se oog raak te sien.  Dis maklik om hul progressie van verontskuldiging na skuldbelydenis raak te sien. Dis moeilik om self in ons eie omstandighede deur dieselfde beweging te gaan.

Wanneer ons die klaaglied as styl van gebed oor ons wêreld voor die aangesig van die lewende God herwin, sal dit ons op die regte koers plaas.

God is ons Vader

In Israel se klaaglied word God as Vader herontdek.  Hulle kla juis omdat God Vader is, en hulle vir meer en beter op hierdie Vader hoop.

Die erkenning van God as Vader maak dit ook veilig om jou skuld voor Hom te bely.  Jy weet Hy gaan jou onthou.  En jou skuldbelydenis gaan jou bevry en in veilige arms laat val.  Hy gaan jou help om anders, as geneesde en vergeefde mens, te lewe.

Laat ons dit waag om oor ons wêreld by God die Vader te kla.  Laat ons dit waag om insig oor ons eie skuld te verkry en ons skuld te bely.  Laat ons dit waag om nuut met God te lewe, onder die oopgeskeurde hemel.

God stuur ons om te leef

Skuldbelydenis & Toewyding
Ons staan vandag op die vooraand van Wêreldvigsdag.  Wat het ons gedoen, nagelaat om te doen, gedink, of toegelaat en só meegewerk aan die skep van ‘n kultuur waarin seksuele siektes soos ‘n veldbrand versprei?  Hoe onkundig is ons dalk oor die voorkoms van MIV/Vigs in ons eie gemeenskappe?  Hoe het ons onsself en ons kinders voorberei om seksueel verantwoordelik te leef en te kies?  Hoe ignoreer ons diegene wat onder MIV/Vigs ly?  Wat doen ons om kinders te help wat een of albei ouers verloor het?  Gaan ons verantwoordelikheid aanvaar, skuld bely en die Here vra om die hemel rondom hierdie situasie oop te skeur en ons te kom help om te verander?

Stilte

Sing (onder aankondiging):

  • Lied 278 (Hoor ons bid, O Heer) of Lied 279 (Hoor ons sug, o Heer) 
  • of Vonkk 106 Luister tog, Heer en hoor my gebed [moontlik te lank vir responsoriese gebruik]
  • of Flam 19 (Heer, hoe lank) se refrein
  • of Flam 68 (Here, Here, hoor my bid) se eerste vers

Dink aan die ekologiese krisis in ons wêreld.  Dit is maklik om raak te sien as mense mors.  Hou ons rekening met ons eie aandeel aan die bemorsing van die wêreld?  As ek elektrisiteit vermors, mors ek nie noodwendig waar ek bly nie.  Ek bemors die wêreld dalk ‘n duisend kilometer ver, in Mpumalanga, waar die kragstasie staan.  Maar mors, mors ek.  As ek brandstof mors, mors ek by die raffinadery waar die brandstof verwerk word.  En mors ek ‘n paar eeue verder in die wêreldgeskiedenis.  Ek mors met die lewe wat opeenvolgende geslagte op God se aarde moet maak met hulpbronne wat onnodiglik vroegtydig uitgebrand is.  Sal ons verantwoordelikheid aanvaar, skuld bely en verander?

Stilte

Sing (onder aankondiging):

  • Lied 278 “Hoor ons bid, O Heer” of Lied 279 “Hoor ons sug, o Heer”
  • of Vonkk 106 “Luister tog, Heer en hoor my gebed” [moontlik te lank vir responsoriese gebruik]
  • of Flam 19 “Heer, hoe lank” se refrein
  • of Flam 68 “Here, Here, hoor my bid” se eerste vers

Dink aan die voorkoms van armoede.  Is ons vasgevang in ‘n sisteem waar diegene wat ‘n voorsprong in vaardighede en welvaart verkry het, hierdie voorsprong net verder en verder vergroot?  Sonder dat ons bewus is van ons verantwoordelikheid om doelbewus vaardighede, kennis, lewensmiddele en welvaart met ander te deel?  Sal ons ons aandeel aan hierdie sisteme kan erken en met God se hulp ons verantwoordelikheid teenoor medemense nakom?

Stilte

Sing (onder aankondiging):

  • Lied 278 “Hoor ons bid, O Heer”  of Lied 279 “Hoor ons sug, o Heer”
  • of Vonkk 106 “Luister tog, Heer en hoor my gebed” [moontlik te lank vir responsoriese gebruik]
  • of Flam 19 “Heer, hoe lank” se refrein
  • of Flam 68 “Here, Here, hoor my bid” se eerste vers

Bid Psalm 80 terwyl iemand ‘n groot wit kers met ‘n rooi strik aansteek.
OF
As jy nie die eerste Adventkers aan die begin as familietyd aangesteek het nie, steek die eerste Adventkers aan terwyl die gemeente Vonkk 30 (Al die donker is nooit net donker) of Vonkk 23 (Jesus, U is die lig vir ons lewe) sing.

Slotlied: Lied 321 “U het gekom, Immanuel”