Eerste Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag is die eerste Sondag van Advent en  verteenwoordig die tema van Hoop – die eerste van die vier temas van Advent.

Hoop het in Advent ‘n sterk eskatologiese karakter en  wys heen na Christus, die Seun van die mens, wat met groot krag en majesteit op ‘n wolk sal kom (Luk 21:27).

Christus wat ons help om op die paaie van liefde en trou (Ps 25) te bly sodat ons ook die ewige kan beërwe.

Ander tekste

Jeremia 33:14-16
14Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom wat Ek aan Israel en Juda gemaak het. 15In daardie dae, in daardie tyd, sal Ek vir Dawid ’n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen. 16In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons.

Psalm 25:1-10
Maak my u weë bekend
25 Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

Lukas 21:25-36
Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Matt 24:29–31; Mark 13:24–27)
25“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ’n wolk sien kom. 28As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die vyeboom
(Matt 24:32–35; Mark 13:28–31)
29Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. 30Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: vermaning tot waaksaamheid
34“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ’n vangnet oorval nie. 35Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”

Fokusteks

Paulus se begeerte om weer die gemeente te besoek
17Wat ons betref, broers, toe ons nog maar ‘n kort rukkie van julle geskei was—wel uit die oog, maar nie uit die hart nie—het ons so baie na julle verlang dat ons alles in ons vermoë gedoen het om julle weer te sien. 18Daarom wou ons weer na julle toe kom; ek, Paulus, het keer op keer probeer kom, maar die Satan het ons verhinder. 19Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? 20Júlle is immers ons trots en ons blydskap!

3 Toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om alleen in Atene agter te bly. 2Ons het vir Timoteus, ons broer en medewerker in diens van God, wat saam met ons die evangelie van Christus verkondig, na julle toe gestuur om julle in julle geloof te versterk en moed in te praat 3sodat nie een van julle onder die vervolginge sou begin wankel nie. Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas. Dit weet julle. 4Toe ons nog by julle was, het ons julle al gewaarsku dat ons vervolg sal word, en soos julle weet, het dit ook gebeur.

5Toe ek dus nie langer kon uithou nie, het ek vir Timoteus gestuur om vas te stel hoe dit met julle geloof staan: of die verleier julle nie reeds verlei het en al ons harde werk dalk op niks uitgeloop het nie.

6Nou is Timoteus van julle af terug by ons, en hy het ons die goeie nuus gebring van julle geloof en liefde. Hy het ons vertel dat julle nog altyd die aangenaamste herinneringe aan ons het en dat julle net so na ons verlang as ons na julle. 7Daarom, broers, het ons in al ons nood en swaarkry weer moed geskep vir julle omdat julle nog glo. 8Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik.

9Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? 10Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek.

11Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! 12En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. 13So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.

Ekstra stof

Inleiding
Paulus het eers laat in sy bediening begin om briewe te skrywe.
Hierdie eerste brief kom ongeveer 16 jaar nadat hy die dramatiese bekering op die pad na Damaskus beleef het.  Terloops, die briewe van Paulus in die NT is van lank na kort gerangskik – Romeine tot Filemon –  en nie in datum volgorde nie.

Hy het Tessalonika (vandag Salonika, tweede grootste stad in Griekeland), die bedrywige hoof- en hawestad in die Romeinse provinsie Masedonië, net ‘n paar weke lank besoek, tydens sy tweede sendingreis, net na die eerste “sinode”-sitting in Jerusalem (Handelinge 17:1-9).  Dit was saam met Silvanus (Silas) en Timoteus, na die stigting van die eerste gemeente in Europa, Filippi.  Lukas het in Filippi agter gebly (Hand 16:40), ten spyte van Paulus en Silas se geseling en kortstondige tronkstraf, en eers weer later saam met hulle verder gereis (Hand 20:6).

Die groot belang van Tessalonika vir die uitbreiding van die evangelie was dat dit geleë was aan die hoofweg (die Via Egnatia) wat die Ooste en Weste met mekaar verbind het. Die hoofstraat was in der waarheid deel van hierdie pad.  Die stad was daarby as hawestad ‘n verbindingskakel met al die vernaamste hawens van daardie tyd.  Gevolglik kon die gemeente ‘n invloed uitoefen deur hulle gasvryheid teenoor reisigers wat by hulle stad aangedoen het.

Die gemeente van Tessalonika
Ons lees in Handelinge 17:1-9 van Paulus se bediening in Tessalonika.  Ons lei af dat Paulus sy beroep as tentmaker (vgl 1 Tes 2:9) in Tessalonika beoefen het om nie ‘n las vir die gemeente te wees nie.

Hy begin soos gewoonlik met ‘n besoek aan die sinagoge en fokus 3 sabbatdae na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus, wat bewys dat Hy die Christus, die Messias is.  En sy hoofargumente kom uit sy lees van die Ou Testament.

‘n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ‘n hele aantal godvresende Grieke en ‘n aansienlike aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering. “Vooraanstaande” Vroue speel hier, sowel as in Filippi en later in Berea, ‘n groot rol, en wys ook op die status wat hulle in die Griekse samelewing geniet het.  Interessant is dat die gemeente in Filippi, met Lidia ‘n leidende figuur daar, in dié tyd vir hom meer as een maal ondersteun het (Fil 4:16).

Maar die bekering van sommige Jode stuit die meerderheid ander Jode teen die bors.  Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree, omdat hulle die “hele wêreld” in beroering sou bring en in stryd met die keiser se wette optree, deur te sê dat Jesus koning is.

Die stadsbestuur weier egter om te streng op te tree en laat die gelowiges vir eers met rus.  Paulus-hulle vertrek egter die aand na Berea waar hulle die mense meer ontvanklik vir die evangelie vind, soos ons in Handelinge 17:10-15 lees.  Die Joodse oproer teen sy bediening in Tessalonika het egter tog ook oorgespoel na Berea, sodat hy ook vandaar moes vlug na Atene, waar hy sy beroemde toespraak op die Areopagus gehou het.

Daarmee word Paulus effektief eers gestuit in sy voorneme om in die gemeente van Rome uit te kom (Rom 1:10!), want dit is waarheen die Via Egnatia hom sou lei, as hy verder daarop sou reis.  Hy sou eers later as gevangene daar uit kom.

Die kern van ‘n florende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm.  Nog heidene kom tot bekering en sluit by die gemeente aan (vgl 1 Tes 1:9 “Die mense vertel self … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het”).  En die verbintenis met Paulus bly staan, waarvan sy twee briewe aan hulle getuig.  Aristargos en Sekundus reis ook later saam met Paulus (Hand 19:29; 20:4; 27:2; Kol 4:10; Filemon 24) en moontlik selfs ook Jason soos ‘n mens uit Rom 16:21 aflei.  Dié brief aan die Romeine is waarskynlik ook in Korinte geskryf op Paulus se tweede besoek daar tydens sy derde sendingreis.

Interessant genoeg het die stad later bekend gestaan as die “Ortodokse Stad” weens hulle standvastigheid en evangelisering van ander nasies.

Die briewe
Na Paulus se verdere bediening in Berea en Atene kom hy in Korinte aan waar hy 18 maande lank bly en in die gemeente leiding neem (Hand 18:11).  Die brief aan die Tessalonisense, en ook die tweede brief aan hulle, is in dié tyd geskrywe, waarskynlik in die loop van 50-51 n C, omdat ons weet dat Gallio in die tyd goewerneur van Agaje geword het (inskripsie te Delfi) en Paulus voor hom verskyn het in Korinte (Hand 18:12–18).  Hy skryf dus die brief uit Korinte.

Omdat hy so min tyd gehad het om die gelowiges te bemoedig (vgl die metafore in 2:7, 11), en onseker was oor die impak wat die evangelie op hulle lewens sou hê – hy is immers beide in Tessalonika en Berea as ‘n onrusstoker uitgeskop – het hy eers uit Atene vir Timoteus gestuur om uit te vind hoe dit met hulle gaan (3:1).

Nadat hy berig ontvang het oor hulle standvastigheid in die geloof, skryf hy dus hierdie eerste brief vanuit Korinte (Hand 18; 1 Tes 3).  Die terugrapport moes hom self baie bemoedig het, want die Gees het immers op ‘n besondere wyse vir hulle daarheen geroep (Hand 16:6-10).  Die geloofsgroei by die gemeente het dus vir hom gesê dat hulle werk nie tevergeefs was nie, en hulle het die Gees nie verkeerd gehoor nie.

Uit die onderwerpe wat hy aanraak, kom ‘n mens egter ook agter waaroor hulle onseker was, onder andere seksuele sake (4:3-8), die gemeenskapslewe (4:9-12 en 5:14-15), die lewe na die dood (4:13-18), die wederkoms (5:1-11 – waaroor hy weer gaan skrywe in die tweede brief om verdere misverstande op te klaar), hulle leiers (5:12-13) en die gemeentelike lewe (5:16-22).

Dit is ook interessant dat hy, anders as in sy ander briewe, hier in die meervoud skryf “Ons dank God …” (1 Tes 1:2; 2 Tes 1:3).  Dit is omdat die briewe afkomstig is van Paulus, Silvanus (Latynse naam vir Silas) en Timoteus (1 Tes 1:1; 2 Tes 1:1) en al drie ‘n sleutelrol in die bediening aan die gemeente gespeel het.

Die tweede brief hak aan by die eerste brief se laaste tema, die wederkoms, en probeer veral misverstande daaroor uit die weg ruim.  Hy waarsku hulle om vas te staan ten spyte van vervolging en om hulle selfstandigheid in die werksituasie te behou, en nie leeg te lê weens ‘n verkeerde wederkoms verwagting nie, moontlik op grond van ‘n brief of profesie wat valslik aan Paulus toegeskryf word (1 Tes 2:2).  Let op hoe hy sy outeurskap van die brief bevestig in 3:17!

Belang van die briewe
Prof du Preez skryf dat die twee briewe aan die Tessalonisense die gees en boodskap van die vroegste Christelike kerk beliggaam. Hulle illustreer volgens hom die krag van die evangelie van Jesus Christus om mense uit alle volkere nuwe mense te maak. Dit is ‘n bemoediging vir alle mense wat die evangelie wil neem na die uithoeke van die wêreld.

En dit illustreer hoe jy mense wat pas tot geloof gekom het, help om te groei te midde van vervolging. Jy bevestig hulle in hulle geloofservaring en jy spits jou lering toe op die praktiese vrae wat hulle vra.  So bou jy gelowiges wat nie net heilig en verantwoordelik lewe in die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap.

Dwarsdeur die twee briewe is daar ook ‘n duidelike klem op die wederkoms, sodat hulle soms Paulus se eskatologiese of eindtyd briewe genoem word (ta eschata = die laaste dinge). So kom alles wat behandel word in die helder lig van die wederkoms te staan, en word alle gelowiges geleer om te leef, te dink, te praat en te werk in die verwagting van die Here wat kom.

Indeling van die briewe
Die egtheid van die eerste brief is nooit regtig betwyfel nie, veral omdat dit so goed inpas met die omstandighede wat Lukas vir ons in Handelinge 16-19 skets.  Hoewel daar meer onsekerheid oor die tweede brief se outeurskap bestaan, onder andere oor die klemverskille in eskatologie, is die egtheid van die brief nie regtig betwisbaar nie.

Die eerste brief val taamlik duidelik in twee hoofdele uiteen. Hoofstuk 1-3 bevat ‘n historiese en persoonlike deel – Baxter noem dit: Terugblik — hoe hulle gered is. Hoofstuk 4-5 is vermanend en lerend – Baxter noem dit: Vooruitblik — hoe hulle behoort te leef.

Die tweede brief handel hoofsaaklik oor die eskatologie, die dinge van die eindtyd.

1 Tessalonisense 2:17-3:13 – Paulus skep moed omdat hulle nog glo
Ek wonder hoe onderskei Paulus die werk van God van die werk van die Satan, want soos hy hier skryf oor die Satan wat hulle verhinder het om weer na Tessalonika te reis, skryf hy ander plekke oor die Heilige Gees (en die Gees van Jesus) wat hom verhinder.  Trouens die een geleentheid was net voor sy eerste besoek aan Tessalonika, toe hy in Frigië verhinder is om na die provinsie Asië en later na Bitinië toe te gaan (Hand 16:6-7).  Dit is toe, in Troas, wat hy die visioen van die Masedoniese man gesien het, wat gelei het tot hulle bediening in Filippi en later in Tessalonika.

Een manier om dit te verklaar is om in ag te neem dat Jason waarborge moes gee dat Paulus-hulle nie verder onrus in die stad sou veroorsaak nie (Hand 17:9).  Die kragte wat die stadsbestuur dus beweeg om nie die teenstand van die Jode teen die evangelie te stuit nie, word dus as van sataniese oorsprong interpreteer. Die ander kere wat hulle verhinder is, was juis om hulle op die Here se pad te kry, en nie op hulle eie sending nie.

In elk geval is dit interessant om te let daarop dat die vrees vir die werk van die verleier een van die motiverings is om vroeër vir Timoteus na hulle te stuur om hulle in die geloof te verstrek.  Hulle was bang dat die Satan hulle sou verlei om met al die vervolginge tou op te gooi in hulle geloofspad.  En dan sou dit beteken dat “al ons harde werk dalk op niks uitgeloop het” (3:5).  Dat Paulus deeglik rekening gehou het met die werk van die Satan is duidelik, soos in die tweede brief ook gesien sal word.

Die verligting van Paulus oor hulle geloof en liefde en standvastigheid ten spyte van vervolging roer my.  Hy is regtig intens verbind aan die sukses van die gelowiges in hulle lewe voor God.  Hy skep moed in sy eie nood en swaarkry, omdat hulle nog glo!

“Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik”(3:8).

Dit lei tot groot dankbaarheid en ‘n hernude gebed om hulle persoonlik weer te sien: “Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak!” (3:11). Let op hoe hy ‘n aktiewe rol aan Jesus toeken in die praktyk van sy eie bediening, en nie net aan die Vader of aan die Heilige Gees nie.

Sy gebed vir hulle sluit in dat hulle in hulle liefde sal groei, en innerlik sterk gemaak sal word (vgl Efesiërs 3:16 waar dit aan die werk van die Heilige Gees verbind word) om onberispelik en heilig by die wederkoms bevind te word, ‘n saak waaroor hy later in hoofstuk 5 verder sal uitbrei

Liturgie

Met Kersfees vier en verkondig ons dat die Woord vlees geword het in die geboorte van Jesus. Advent is die tyd voor kersfees, die tyd van verwagting. Advent beteken “koms”. Advent is dus die terugkyk na Israel se Messiasverwagting en ‘n vooruitkyk na Christus se wederkoms.

Een van die simbole in die Adventstyd is ‘n Adventkrans met vyf kerse: drie donkerblou kerse, een rooskleurige kers en ’n langer wit kers wat Jesus simboliseer – die wit kers word op Kersdag aangesteek. Die rooskleurige kers word op die derde Advent aangesteek.

‘n Ander simbool is die Isai-stomp (Jes 11:1) om die stamboom van Jesus te simboliseer.

Wag en waak is bekende temas in Advent.

Dit kan sinvol wees om oomblikke van stilte in die erediens in te bou. Dit sal die teëstelling beklemtoon tussen die geraas van die wêreld waar niemand meer luister nie en die stilte van die kerk waar gelowiges in die “fluistering in die wildstilte” (1 Kon 19:12) die stem van God kan hoor.

Dinsdag is ook Wêreld-Vigsdag en die Sondag naaste aan diè dag is vandag. Nelis du Toit in Bybelmedia se Woord en Fees 2015/16 berig soos volg:

Ja, na meer as 30 jaar is dit steeds nodig om aan MIV en vigs aandag te gee! Ter wille van spasie skryf ek nie hier breedvoerig daaroor nie, maar beveel sterk aan dat die prediker betyds inligting hieroor sal kry. CABSA plaas jaarliks in November inligting oor MIV en vigs met riglyne vir predikers op die webblad www.cabsa.org.za. Maak asseblief hiervan gebruik.

Lied  354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Jesaja 11)

Seëngroet
Lof:
Lied 147 “Dis goed om God se lof te sing 1,2,3,4” (2e Melodie)

Aansteek van die eerste Adventskers

Hoop
Die eerste kers word aangesteek…
Lied 292 “My enigste troos in lewe en dood vs 1 & 2″

Vandag is ook die Sondag naaste aan Wêreld-Vigsdag waar die kerk van Christus hom vereenselwig met alle mense wat in die skadu van die dood leef.

Gebruik die volgende belydenis:

Epiklese 

Skriflesing: 1 Tessalonisense 3:9-13

Prediking
Offergawes

Slotlied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Seën
Antwoord

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

In die liturgie is gebruik gemaak van Bybelmedia se Woord en Fees 2013/14.

Vooraf
Plaas die “Stomp van Isai” as simbool op ’n prominente plek in die bedieningsruimte. Die ingangsruimte van die ontmoetingsplek kan besonder sinvol wees. Die droë stomp met die enkele rooi lint van hoop moet so geplaas word dat lidmate dit sal opmerk. Verduidelik die simboliek van die stomp…

Begin dan die erediens met  ’n oomblik van stilte waarin lidmate die geleentheid kry om tot verhaal te kom en om hulleself tuis te voel in die ruimte.

Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord:(Jesaja 11)
’n Takkie sal uitspruit
uit die stomp van Isai,
’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
2Die Gees van die Here sal op hom rus:
die Gees wat wysheid en insig gee,
die Gees wat raad en sterkte gee,
die Gees wat kennis verleen
en eerbied vir die Here.
3Die takkie sal vreugde vind
in die diens van die Here.
Hy sal nie regspreek
volgens uiterlike skyn nie
en nie oordeel volgens hoorsê nie.
4Hy sal die armes billik verhoor
en die ootmoediges in die land
regverdig oordeel.
Hy sal die goddeloses in die land
hard oordeel,
met sy uitsprake sal hy hulle
om die lewe bring.
5Hy sal regverdig
en betroubaar regeer.
6Wolwe en skape sal dan saam bly,
luiperds sal tussen bokkies lê,
kalwers, leeus en voerbeeste
sal bymekaar wees
en klein seuntjies sal vir almal sorg.
7Koeie en bere sal saam wei,
hulle kleintjies sal bymekaar lê,
leeus sal gras eet soos beeste.
8Babatjies sal by die gate van adders
speel,
klein kindertjies sal hulle hande
uitsteek na giftige slange.
9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.

10In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai ’n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.

Seëngroet
Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,
Die Een wat van die oertyd af voorspel is.
Die Een na wie verlang is.
Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het, wat niks geword het ten einde alles te word.
Die Een op wie ons hoop.
Die Een wat sal terugkeer.

Lof 147 “Dis goed om God se lof te sing 1,2,3,4 (2e Melodie)”

Aansteek van die eerste Adventskers
By die eerste Sondag in advent val die klem op hoop. Die Bybelse Ensiklopedie onder redaksie van WH Gispen et al berig oa oor die lyn van hoop in die Bybel soos volg:

Hoop
Deur die Opstanding van Jesus Christus word die gelowiges uit die dode wedergebore tot ‘n lewende hoop, tot ‘n seker toekoms, 1 Pt. 1:3; Hbr. 11:1. Dié toekoms omvat die ganse skepping van God, Rm. 8:19 e.v., en die ware hoop sal hom dan ook nie afkeer v.d. aarde nie, maar hom in blydskap openbaar, Rm. 12:12, in krag, 1 Ts. 5:8, in sekerheid, Rm. 5:5, in volharding, Rm. 8:25, en in heilige wandel, 1 Jh. 3:3 So bly dan in dié bedeling geloof en hoop,maar in die toekomende alleen die liefde, 1 Kor 13:13.

Die eerste kers word aangesteek…
Lied 292 “My enigste troos in lewe en dood vs 1 & 2”
Vandag is ook die Sondag naaste aan Wêreld-Vigsdag waar die kerk van Christus hom vereenselwig met alle mense wat in die skadu van die dood leef.

Gebruik die volgende belydenis:
Ons verwerp alle vorme van diskriminasie en stigmatisering
omdat ons glo in God die Vader.
Die Een wat die wêreld in volkleur en diversiteit geskep het.
Die God wat alle mense as gelykes geskep het, ook die mense wat MIV+ is.
Ons erken die menswaardigheid van alle mense
omdat ons Glo in Jesus Christus.
Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het.
Die God wat die lyding ken van hulle wat omsien na en leef  met MIV en vigs.
Ons praat en leef profeties
omdat ons glo in die Heilige Gees.
Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.
Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.

Liedere

F19. “Heer, Hoe Lank”
(RUBRIEK:  Kersvlam – Klag)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Heer, hoe lank gaan U vergeet?
t’Voel of U nie van my weet nie.
Hoor my smeek, Heer, antwoord my.
Maak my van my onrus vry.

Refrein:
Here, hoor U wat ek sê?  Sien U hoe ek ly?
Luister wat u kinders vra.
Here, gee weer hoop; gee weer hoop in my.

Daar’s iets in my wat stadig kwyn,
soos die dag in nag verdwyn.
Help my op, Heer, sien my raak.
Sal U my weer méns kom maak?

Refrein:

3. Ek kan maar net na U toe kom.
Niemand anders gee meer om nie.
In my nood roep ek U aan.
Smekend kom ek voor u staan, want . . .

4. U is liefde, U’s getrou.
Ek weet U sal my bly onthou.
Ek wil van my geloof getuig.
Ek wil oor U verlossing juig.

Refrein:

Here, U hoor wat ek sê! U sien hoe ek ly!
U luister wat u kinders vra.
Heer, U gee weer hoop; U gee weer hoop in my.

F293. “My Hulp”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof & Vertroue)
Teks & Musiek: Marina du Toit
©  2008 Urial Publishing

1. Waarvandaan kom my hulp?
My hulp kom van die Here
Hy wat hemel, aarde maak
Hou alles in Sy hand
Waarvandaan kom my hulp?
My hulp kom van die Here
Ons hou ons oë gerig op Hom,
Ons Hoop ons Rots ons vesting, want…
Heer ons God, U bly altyd getrou
As die skadus kom bewys dit die son

Refrein:
Geloof, hoop en liefde Heer
Dis ons kreet
Geloof, hoop en liefde Heer
Heer, ons bring U eer
(End: U ons Koning, U ons Vader heers)

2. Waarvandaan kom my hulp?
My hulp kom van die Here
Hy wat hemel, aarde maak
Hou alles in Sy hand
Waarvandaan kom my hulp?
My hulp kom van die Here
Die Woord’s ons wapen, geloof ons skild
Die waarheid spreek ons vry, dat…

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: 1 Tessalonisense 3:9-13

Prediking

Familie-oomblik

‘n Moeilike teks om met kinders te deel.

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

8–9 Ek is bly dat julle na die Here luister. Ek weet nie hoe ek ooit vir Hom genoeg kan dankie sê hiervoor nie.

10 Ek bid dat God my sal help om gou weer na julle toe te kom. Ek wil julle graag weer sien, want ek moet julle geloof* nog sterker maak. Maar ek weet ons wonderlike hemelse Vader en die Here Jesus sal sorg dat ek op die regte tyd na julle toe kom.

11–13 Ek bid dat die Here julle baie lief vir mekaar en vir ander mense sal maak. Julle moet net so lief wees vir ander mense soos wat ek vir julle is. Mag die Here julle lewe van binne af mooi maak. Dan sal julle alles doen wat Hy wil hê. En dan hoef julle nie bang te wees op daardie dag wanneer ons Here Jesus weer na ons toe terugkom saam met al sy engele* nie.

Die inkleurprent is hier beskikbaar.

Preekriglyn

[Nota: Vir die doel van die prediking word aanbeveel dat die gedeelte van 2:17 tot 3:13 gelees word.]

Robert Russel vertel van die huis in hulle buurt wat elke jaar pragtig met kersliggies versier word. Een spesifieke jaar het die huiseienaars die liggies steeds elke aand laat brand hoewel die Kerstyd lankal verby was. Hulle liggies het regdeur Januarie en naderhand ook Februarie in die aande bly brand.

Dit het nogal vreemd gelyk. Van die bure het sarkasties gesê as dié mense te lui is om hulle liggies af te haal, hulle dit darem minstens in die aande kan afsit.

Maar teen die middel van Maart het daar skielik nog liggies, wat woorde uitgespel het, op die huis verskyn. Dit het gesê: “Welkom tuis, Jimmy!”

Robert kom toe agter dié gesin het ‘n seun wat in die Midde-Ooste in een of ander Amerikaanse oorlog gaan veg het. Vir die gesin was Kersfees nie Kersfees voordat hulle nie weer met hulle seun herenig was nie. Kersfees is ‘n tyd om te fokus op liefdesbande, ‘n tyd waar gesinne en families bymekaar moet wees. Daardie jaar het hulle Kersfees bietjie uitgestel, totdat hulle seun weer tuis was.

As families nie Kersfees bymekaar is nie, moet Kersfees so bietjie gerek word totdat almal bymekaar is. Familie en vriendskappe, en die vreugde wat dit bring, maak Kersfees die moeite werd.

Bande van liefde

In ons teksgedeelte lees ons van die innige liefdesbande wat geloof in die Here Jesus Christus tussen Paulus, sy medewerkers en die gemeente in Tessalonika gesmee het. Ons ontdek hier hoe normaal hierdie diep verbintenisse in die gemeente van Christus is. Wat verder merkwaardig is, is hoe vinnig hierdie bande gevorm is.

Ons lees in Handelinge 17:1-9 van Paulus se bediening in Tessalonika. Hy begin soos gewoonlik met ‘n besoek aan die sinagoge en fokus drie Sabbatte na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus, wat bewys dat Hy die Christus, die Messias is.

‘n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ‘n hele aantal Grieke en ‘n aansienlike aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering. Maar die bekering van sommige Jode stuit die meerderheid ander Jode teen die bors.  Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree, omdat hulle die “hele wêreld” in beroering sou bring en in stryd met die keiser se wette optree, deur te sê dat Jesus koning is.

Die stadsbestuur weier egter om te streng op te tree en laat die gelowiges vir eers met rus.  Paulus-hulle vertrek egter die aand na Berea waar hulle die mense meer ontvanklik vir die evangelie vind, soos ons in Handelinge 17:10-15 lees.  Die Joodse oproer teen sy bediening in Tessalonika spoel egter ook oor na Berea, sodat hy ook vandaar moes vlug na Atene.

Die kern van ‘n florende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm. Die verbintenis met Paulus het bly staan, waarvan sy twee briewe aan hulle getuig.

Liefdestaal van die geloof

Kyk net hoe word die familiebande van geloof in die oortreffende trap in ons teksgedeelte opgestapel:

  • Wat ons betref, toe ons nog maar ‘n kort rukkie van julle geskei was — wel uit die oog, maar nie uit die hart nie — het ons so baie na julle verlang dat ons alles in ons vermoë gedoen het om julle weer te sien. (2:17)
  • Daarom wou ons weer na julle toe kom; ek, Paulus, het keer op keer probeer kom, maar die Satan het ons verhinder (2:18). (Die woord “Satan” beteken “teëstander” en kan dui op die stadsbestuur se weerstand teen Paulus wat duiwels aangevuur word.)
  • Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? Júlle is immers ons trots en ons blydskap! (2:19-20)
  • Toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om alleen in Atene agter te bly. Ons het vir Timoteus, ons broer en medewerker in diens van God, wat saam met ons die evangelie van Christus verkondig, na julle toe gestuur om julle in julle geloof te versterk en moed in te praat (3:1-2).
  • Toe ek dus nie langer kon uithou nie, het ek vir Timoteus gestuur om vas te stel hoe dit met julle geloof staan: of die verleier julle nie reeds verlei het en al ons harde werk dalk op niks uitgeloop het nie. (3:5)
  • Timoteus het ons die goeie nuus gebring van julle geloof en liefde. Hy het ons vertel dat julle nog altyd die aangenaamste herinneringe aan ons het en dat julle net so na ons verlang as ons na julle. Daarom het ons in al ons nood en swaarkry weer moed geskep vir julle omdat julle nog glo. Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik. (3:6-8)
  • Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien (3:9-10).
  • Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle (3:12-13).
Wat kan ons leer?

Hierdie teks is, soos gesê, ‘n aangrypende voorbeeld van die liefde in God se geloofsfamilie. Paulus beskryf sy liefde vir en betrokkenheid by die gemeente in Tessalonika. Paulus se verhaal met die gemeente bring ook ons eie verhaal, ons eie verhoudings in die lig van God se verhouding met Paulus en die gemeente na die voorgrond.

Die vraag is hoe help Paulus se verhouding met die gemeente ons om na te dink oor die verhoudinge waarin ons onsself bevind?. Wat leer die teks ons oor die betekenis van Kersfees, waar ons vier hoe Christus mens geword het sodat ons familie van God kan word?

Dit is ook in hierdie dae Wêreldvigsdag waar ons dink aan mense wat gesondheid ontbeer en ernstig siek is. Wat sê die teks hieroor?

Kersfees as familiefees

Dit is Adventstyd. Kerstyd. Dis familietyd, waar vriende en familie graag kuier. Dit is ‘n tyd waar geloofsgemeenskappe graag bymekaarkom. Kersfees is vir baie mense by uitstek ‘n geleentheid is om familie op te soek.

Die verskynsel van familiesaamtrekke en familiefeeste rondom Kersfees het al kritiek vanuit kerklike oorde uitgelok. ‘n Oordrewe klem op die viering van Kersfees as ‘n familiefees kan ons laat vergeet dat dit eintlik om Christus gaan, word gewaarsku.

Staan onderlinge verhoudinge noodwendig teenoor die regte viering van Kersfees? Natuurlik nie. Onderlinge verhoudinge is ‘n gawe van God. Dit bring vreugde en sin in ons lewens. Kyk maar net weer na die liefdesverhouding tussen Paulus en die gemeente in 1 Tessalonisense 2:17-3:13. Paulus het self baie klem gelê op sy verhouding met sy “broers en susters” in die gemeente van Tessalonika. Dalk is daar wel plek vir ons familieverhoudinge met Kersfees? Natuurlik is daar!

Openheid vir die ander

Die wonderlike openheid wat Paulus en die gelowiges ervaar (selfs al het hulle mekaar skaars leer ken) laat ons ook dink aan diegene wat so dikwels gestigmatiseer word en uitgesluit word van geloofsgemeenskap.

Dinsdag is dit Wêreldvigsdag. Ja, na meer as 30 jaar is dit steeds nodig om aan MIV en vigs aandag te gee! (Kry agtergrondsinligting oor MIV en vigs met riglyne vir predikers op die webblad: CABSA)

Van die vroegste jare van die epidemie het Vigs-verwante stigma ‘n donker skaduwee gegooi. Daar is nog steeds stigma. Stigma staan direk teenoor gesonde verhoudinge van opregte belangstelling in mekaar. Daarom is die openheid en liefde van ons teks ook binne die konteks van MIV en vigs van toepassing.

Wanneer ons hierdie Kerstyd vreugde vind in die verhoudinge waarin die Here ons geplaas het, moet ons ook dink aan hulle wat dalk uitgesluit is van liefdevolle verhoudinge. Juis dit was Paulus se passie. Hy het oor land en see gereis om meer en meer mense in te sluit by die belewenis van die warm liefde van God en van God se gemeente.

Kersfees as Christusfees

Ons het na hierdie Skrifgedeelte as ‘n voorbeeld van innige verhoudinge gekyk. Dit is duidelik dat Christus die kern van hierdie verhoudinge is. Vir Paulus is die nabyheid van Christus en die verwagting van Christus se terugkeer die dryfkrag agter die verhoudinge.

Dieselfde gedeelte wat vertel hoe intens Paulus na die jong gemeente in Tessalonika verlang het, vertel ook dat hy bewustelik geleef het in die verwagting dat Christus binnekort weer kan terugkom. Paulus verwys in die brief vyf keer na Christus se wederkoms en vier keer verwys hy daarna as die parousia van Christus. Parousia kan verwys na die aankoms van die koning of sy gesant. Paulus gebruik die woord om te verwys na die terugkeer van Christus die Here.

Advent herinner ons aan die parousia van Christus. Christus sal terugkeer as die Here. Advent herinner ons ook dat ons vandag en elke dag in sy teenwoordigheid leef. Christus die Here is teenwoordig.

Die Christelike lewe in Christus se teenwoordigheid is ‘n verhoudingslewe en die verwagting op sy terugkeer is ‘n gedeelde hoop.

Dit wil voorkom of Paulus se sterk verwagting dat Christus spoedig terugkom juis sy verhouding met die gemeente meer intens en persoonlik gemaak het. Paulus wil toesien dat hulle saam met hom gereed sal wees om Christus te ontmoet. In kort: Paulus is lief vir die gemeente en die lig van Christus se parousia laat hierdie liefde nog helderder brand.

Met hierdie gesindheid kan ons vanjaar Kersfees vier. Daar is ‘n gesonde verband tussen ons viering van Advent en Kersfees en ons hereniging met familie en vriende.

Christus gee ons waarde

Die noue verband tussen ons lewe in afwagting op Christus se koms (en in sy teenwoordigheid) en ons lewe in verhoudinge, beklemtoon die waarde wat God aan lewe en aan mense heg. Daarom vier ons kerk ook op die oomblik die Seisoen van Menswaardigheid. Op voetspoor van die Bybel verstaan ons hierdie waardigheid as ‘n geskenk van God, wat ook sy Seun as mens gegee het.

Een van die wyses waarop mense se waardigheid bedreig word, is wanneer ons mense as objekte begin sien. Dit gebeur onder andere wanneer ons mense se verhoudinge misken. Wanneer ons met mense omgaan asof die gesinsbande, familiebande en sosiale bande waarin hulle leef van mindere belang is. Uit wat ons van Paulus se liefde vir die gemeente geleer het, is dit duidelik dat ons in Adventstyd gerus ‘n gesonde klem op ons verhoudings kan plaas. Om iemand na waarde te ag, is om jou verhouding met daardie persoon te koester.

Let op hoe Paulus hierdie gemeente na waarde geag het. Dit blyk uit sy opregte, eerlike, openlike, toeganklike en hartlike verhoudinge met hulle. Paulus se liefde vir die gemeente demonstreer sy agting van hulle. Sy verhouding met die gemeente is ‘n les in die handhawing van menswaardigheid.

Dink ook aan Wêreldvigsdag wat op 1 Desember gevier word. Dieselfde beginsels hierbo oor menswaardigheid genoem, geld vir hoe ons oor Wêreldvigsdag kan dink. Wêreldvigsdag is ‘n oproep om die menswaardigheid van mense wat met MIV leef, te ag. Dis ‘n oproep om die menswaardigheid van mense wat kwesbaar is vir MIV infeksie te onthou – want ook ons elkeen is kwesbaar. Wêreldvigsdag is ‘n oproep om tog nie mense wat met MIV leef van hulle/ons verhoudinge te beroof nie. Inteendeel, dis ‘n herinnering dat hulle/ons juis verhoudinge nodig het. Verhoudinge van omgee en belangstel. Verhoudinge van onvoorwaardelike aanvaarding. Verhoudinge wat op die positiewe van die lewe kan fokus.

Liefde wat toeneem

Paulus se liefde vir die gemeente in Tessalonika was nie net vir ‘n klompie uitsoek Christene nie. Paulus se liefde vir die gemeente was inklusief. Juis daarom bid hy ernstig dat ook hulle liefde sal toeneem “vir mekaar en vir alle mense”.

Mag ons eie liefde in hierdie seisoen toeneem.

God stuur ons om te leef

Gebed ahv 1 Tess 3vs9-13 (DB)
Dankie Here vir die vreugde van behoort. Hoe kan ons U ooit genoeg dankie sê vir mede gelowiges? U verander ons gebede in een groot fees!

Ons hou net aan om dank aan U, ons wonderlike God, te bring.

Ons vertrou op ons God en Vader en op ons Here Jesus om ons liefde vir mekaar meer te maak.

Ons bid dat ons lewens van binne af sal verander sodat ons die hele tyd net vir God sal leef. Daar mag nie ’n enkele krapmerk van sonde in ons lewe te sien wees as ons op die laaste dag voor God ons Vader moet gaan staan nie. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus en almal wat aan Hom behoort, terugkeer, sal ons spesiaal aan God toegewy wees.
Amen

Offergawes

Slotlied: Lied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Seën 
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur tye van hartseer.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef.
Amen
of
Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. (1 Tess 3)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.