Eerste Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Op die Sondag rig ons ons oë op die wederkoms van die Here. Ons sien uit daarna en roep mekaar op om gereed te wees as die Here ons kom haal. Niemand weet die presiese dag nie, daarom moet ons wakker en waaksaam bly (Matt 24:36-44). Die volk van die Here moet nou leef tot sy eer en Hom dien sodat al meer mense na sy heilige berg sal kom (Jes 2:1-15).  In die wagtyd is dit die taak van die gelowiges om te bid en te soek na vrede en geregtigheid op aarde (Ps 122). Gereed wees vir die koms van die Dag van die Here vra ook ʼn spesiale lewensstyl. Daarom word die gemeente opgeroep om die Here te dien (Rom 13:11-14).

Ander tekste

Jesaja 2:1-15
Uit Sion kom die openbaring
2 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem.
2Daar kom ’n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
’n blywende plek sal hê
bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Al die nasies sal daarheen stroom,
3baie volke sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek
na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer,
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”
4Hy sal oordeel tussen die nasies,
regspreek oor baie volke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard
teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie.
5Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig
wat van die Here af kom.
Die hoogmoediges sal verneder word
6U het u volk Jakob verstoot:
hulle gee hulle oor aan die waarsêery
van die ooste,
beoefen towery soos die Filistyne
en hou saam met vreemdes vas
aan bygeloof;
7hulle land lê vol silwer en goud,
daar is geen einde aan hulle skatte nie;
hulle land loop vol perde,
daar is geen einde aan die getal
van hulle strydwaens nie;
8hulle land is vol afgode,
hulle buig voor die maaksel
van hulle hande,
voor wat hulle vingers gemaak het.
9So het mense hulleself verneder
en tot ’n val gekom.
U moet hulle dit nie vergewe nie.
10Vlug die rotse in,
kruip weg in die grond
vir die verskrikking wat van die Here
kom
en vir die glans van sy majesteit.
11Die hoogmoediges sal tot ’n val kom,
die selfversekerdes sal verneder word.
Op dié dag sal net die Here hoog
wees.
12Die Here die Almagtige
het ’n dag bepaal
teen al wat trots en hoog is,
teen alles, hoog en laag,
13teen al die hoë en verhewe seders
van die Libanon
en teen al die groot bome van Basan;
14teen al die hoë berge
en teen al die steil rante;
15teen elke hoë toring
en teen elke skansmuur;
16teen al die handelskepe
en teen al die vaartuie vol kosbaarhede.

Psalm 122
Bid dat Jerusalem vrede mag hê
122 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Ek was bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan
na die huis van die Here toe.”
2En nou is ons hier binne-in jou,
Jerusalem!
3Jerusalem is die stad
wat stewig gebou is,
4waarheen die stamme kom,
die stamme van die Here.
Dit is ’n voorskrif vir Israel
om die Naam van die Here
hier te loof.
5Hier word reg gespreek,
hier lewer die koning sy uitsprake,
die koning uit die geslag van Dawid.
6Bid dat Jerusalem vrede mag hê,
dat hulle wat hom liefhet,
rustig mag woon.
7Mag daar vrede wees binne jou mure,
rus in jou wonings.
8Ter wille van my broers en my vriende
wens ek jou vrede toe.
9Ter wille van die huis van die Here
ons God
bid ek dat dit met jou goed sal gaan.

Romeine 13:11-14
Liefde is die volle uitvoering van die wet
8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” yof watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” z10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

Fokusteks

Matteus 24:36-44
Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms
(Mark 13:32–37; Luk 17:26–30; 34–36)
36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Ekstra stof

Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid
Jesus vervolg in hoofstuk 24 (tot 25) met sy profetiese rede waarin Hy sy dissipels help om die eise van dieeindtyd te verstaan om te kan volhard.  Die eindtyd is iets wat nou al ‘n aanvang neem met Jesus se bediening (24:3-14), dit sluit die groot verdrukking in wat ‘n dubbele betekenis het – dit is iets wat hulle in hulle tyd sal ervaar, sowel as iets wat aan die einde van alle tyd sal gebeur (24:15-28).  Hulle moet dus leer om met onderskeiding daarin op te tree. Daarna sal die Seun van die Mens weer kom op die wolke en die uitverkorenes versamel vir die koninkryk wat in sy volle betekenis sal aanbreek ( 24:29-31).  Hierdie verlossing sal groot vreugde bring.

Jesus skerp hierdie boodskap oor die eindtyd in met ‘n appèl aan die dissipels met die voorbeeld van die vyeboom (24:32-35), wat hulle moet leer om voortdurend waaksaam en gereed te wees (24:36-44) en tot betroubaarheid en verstandigheid moet aanspoor (24:45-51).

Jesus sluit sy toespraak in hoofstuk 25 af oor die koms van die koninkryk met drie uitnemende gelykenisse wat die dissipelsaanspoor totwaaksaamheid (gelykenis van die tien meisies – 25:1-13), getrouheid (gelykenis van die muntstukke – 25:14-30) en barmhartigheid (gelykenis van die skape en die bokke – 25:31-46).

Volharding in die eindtyd – 24:3-14
Jesus praat hier alleen en eenkant met sy dissipels op die Olyfberg. Op hulle versoek brei Hy uit oor die eindtyd om hulle van misleiding te vrywaar.  Let op dat Hy die gevolge ook vir hulle uitspel.  Hulle is dus deel van die eindtyd.  Ons sien egter vandag dieselfde dinge gebeur wat beteken dat ons steeds in die eindtyd lewe. Dit is dus ook woorde wat ons ter harte moet neem.

  • Sommige godsdienstige leiers sal hulleself as die Christus voordoen.
  • Daar sal vele oorloë tussen nasies wees.  Daar is in 2014 oorloë in 60 lande waarby 522 groepe betrokke is!   Angswekkend!
  • Daar sal hongersnood wees.
  • Daar sal aardbewings wees.

Die uitdagings sal dus godsdienstig, polities, sosiaal-maatskaplik en ekologies wees vanuit die makro internasionale omgewing waarbinne hulle leef.

Dit sal ook uitdagings inhou vir Christene vanuit die kleiner gemeenskappe waarin hulle hul getuienis uitleef.  Vir baie Christene sal dit verdrukking, verguising (gehaat word ter wille van Christus) en selfs die dood beteken.  Daar is vandag 110 lande waar Christene verdruk en vervolg word, die mees verdrukte godsdienstige groep in die wêreld.  En dit groei steeds!

Dit sal ook, nog nader aan die lyf, uitdagings inhou vir Christene vanuit hulle eie binnekring, d.w.s. van mense wat deel is van hulle geloofsgemeenskap:

  • Christene sal mekaar oorlewer en haat selfs al is hulle deel van dieselfde geloofskring.
  • Valse profete sal uit die Christelike gemeenskap na vore tree en gelowiges mislei.
  • Wetteloosheid sal toeneem wat baie mense se liefde vir die Here sal laat afkoel.

Jesus waarsku sy dissipels met hierdie prentjie van die groter wêreld uitdagings, sowel as die uitdagings in die gemeenskap en selfs in die geloofsgemeenskap om hulle aan te moedig om ten spyte daarvan te volhard.  Want die einde is op pad en sal verlossing bring vir almal regoor die wêreld.

Onderskeiding in die groot verdrukking – 24:15-28
Die groot verdrukking waarteen Jesus hier waarsku het in die eerste plek met die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. te make, wanneer Daniël (9:27; 11:31; 12:11) se voorspelling van ‘n gruwel (altaar vir Zeus) in die tempel nóg ‘n keer in vervulling sal gaan.  Lees meer oor die eerste vervulling in 167 v.C. hier: 1 Makkabeërs 1:54; 6:7.

Indien jy meer oor Daniël wil lees, kan jy dit by bybelskool.com doen.  Soek vir: Daniël 9 – Daniël bid om die vervulling van God se beloftes en ontvang die belofte van volle versoening; Daniël 10 – Die openbaring van die boek van waarheid in antwoord op Daniël se gebed; Daniël 11-12 – God hou wag oor sy kinders deur die verdrukking tot aan die einde toe.

Die wyse ding om in dié tyd te doen, is om te vlug, omdat dit ‘n baie uitdagende en onveilige tyd sal wees vir families.  En uit die beskrywings van die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C., veral die laaste ses maande van die oorlog, soos Josephus dit onder andere beskryf, was dit allerverskrikliks.  Die geloofsgemeenskap van Jerusalem het dan ook gehoor gegee aan hierdie waarskuwing en gevlug en gaan bly in Pella, soos die kerkvader Eusebius te kenne gee, ‘n redelike veilige omgewing.

Maar, daar is ook ‘n eskatologiese dimensie aan hierdie groot verdrukking, waarin die verwoesting van Jerusalem ook dui op iets wat die hele wêreld gaan tref, waarin veral die geloofsgemeenskap ‘n uitmergelende tyd sal beleef.  Groot onderskeiding sal aan die dag gelê moet word, sodat die druk waaronder kinders van die Here sal verkeer, hulle nie afvallig sal laat raak nie.  Hulle moet veral versigtig wees vir wonders of wonderverhale, want die gevaar van misleiding is baie groot, veral waar dit aan die Here Jesus en sy wederkoms gekoppel word.  Die koms van die Here sal onmiskenbaar duidelik wees vir almal, nie net vir die ingewydes van een of ander sekte of beweging nie.

Die verlossing van die koms van die Seun van die Mens – 24:29-31
Die koms van die Seun van die Mens word dan beskrywe as iets wat met kosmiese tekens begelei sal word wat aan die eenkant hartseer vir die nasies sal inhou, dié wat Hom nie erken het nie en vreugde vir sy uitverkorenes wat van oral af oor versamel sal word aan die ander kant om te deel in die verlossing wat Hy sal bring.

Die voorbeeld van die vyeboom – 24:32-35
Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se ontwaking in die lente wat wys dat die somer naby is, wat beteken die tekens van die verdrukking moet vir die geloofsgemeenskap ‘n aanduiding wees dat die einde en die wederkoms naby is.  Die Here Jesus belowe dat dit werklik sal gebeur.  Dit moet ons tot waaksaamheid en gereedheid, sowel as betroubaarheid en verstandigheid motiveer, soos die volgende twee perikope duidelik maak.

Die oproep tot voortdurende waaksaamheid en gereedheid – 24:36-44
Die feit van die wederkoms staan vas, die tyd daarvan is egter geheim.  Saam met die verdrukkende realiteite wat die eindtyd kenmerk, sal dit op ‘n ander vlak ook lyk na “business as usual” waarin normale sosiale aktiwiteite sal voortgaan, totdat die tyd van die wederkoms aanbreek en mense verras sal wees oor die skeiding wat dit tussen mense bring.

Jesus roep sy dissipels en ook vir ons op tot voortdurende waaksaamheid en gereedheid vir daardie dag.  Dié oproep het veral betekenis vir dié van ons wat in relatiewe rus en vrede ons geloof kan beoefen en nie so uitgelewer is aan verdrukking soos bv. die Noord-Koreane.  Ons moet die normaliteit van ons situasie voluit benut om passievol die Here te dien.

Die oproep tot betroubaarheid en verstandigheid – 24:45-51
Dit sluit ook in dat ons in alles betroubaar en verstandig teenoor mekaar sal optree.  Anders sal ons dit diep berou met Jesus se wederkoms.  Dié berou word nou in hoofstuk 25 uitgespel met die drie gelykenisse van die tien meisies, die muntstukke en die skape en die bokke, waarin daar ook die vreugdevolle uitkomste is vir dié wat waaksaam, getrou en barmhartig gelewe het.

Liturgie

Oorweeg om vanjaar ’n “Donker Advent” te herdenk.  John de Gruchy skryf dat Advent juis ’n tyd van berou en refleksie is.  Hierdie is ’n geleentheid om onsself voor God te verootmoedig in afwagting van die koms van Christus.

Gemeentes wat vanjaar hierdie “Donker Advent” wil herdenk, kan kreatiewe opsies oorweeg.

Ek dink aan goed soos ’n leë Adventkrans, sonder die normale versierings.  Dalk selfs ’n Adventkrans wat van droë wingerdstokke gemaak is en soos ’n doringkroon lyk.  Die weeklikse gebede met die aansteek van die Adventkers kan gebede van lament of klag wees.  Julle kan elke week ’n ander saak kies om op te fokus:  Advent 1 = hoop:  kan moontlik fokus op M.I.V. & Vigs.  Advent 2 = vrede:  onlus en geweld.  Advent 3 = vreugde:  onreg en armoede wat mense van hul lewensvreugde en menswaardigheid stroop.  Advent 4 = liefde: rassisme.

Daar kan ’n swart lap agter die krans gehang word, of ’n swart lap gebruik word in stede van die gebruiklike kanselkleed.  Daar kan ook ’n onversierde Kersboom (of dooie tak of droë garingboom) in die liturgiese ruimte wees, met ’n bak vol óf donker linte óf kaartjies met linte (sodat dit aan die boom/tak gehang kan word).  Lidmate kan kort gebede op die kaartjies skryf en aan die boom/tak hang, of linte knoop as simbool van hul gebed.

RUS

Toetrede: Psalm 122

Votum: Psalm 122

Seëngroet

Lofsang: Lied 322 “Redder van die nasies, kom”

Wet: as “oproep om gereed te maak vir die koms van die koning.” Lied 489 of Romeine 13:11-14

Adventkrans as verootmoediging / lament: Lied 320 of VONKK 90

Genadeverkondiging / belofte: Herinner die gemeente elke week, na die wet as oproep om gereed te maak en die Adventkrans as verootmoediging / lament, aan die belofte waarna ons met verwagting uitsien:  Jesaja 2:2-5

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 24:36-44

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: Gee kans dat mense hul gebede / lament op klein kaartjies kan skryf en aan die leë Kersboom kom hang.

Dankoffer

Slotsang: F198 of Lied 587

Seën

Respons Lied 587 se laaste 4 reëls of Vonkk 90

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Psalm 122

Votum: Psalm 122
Ek was bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan
na die huis van die Here toe.”
2En nou is ons hier binne-in jou,
Jerusalem!
3Jerusalem is die stad
wat stewig gebou is,
4waarheen die stamme kom,
die stamme van die Here.
Dit is ’n voorskrif vir Israel
om die Naam van die Here
hier te loof.
5Hier word reg gespreek,
hier lewer die koning sy uitsprake,
die koning uit die geslag van Dawid.
6Bid dat Jerusalem vrede mag hê,
dat hulle wat hom liefhet,
rustig mag woon.
7Mag daar vrede wees binne jou mure,
rus in jou wonings.
8Ter wille van my broers en my vriende
wens ek jou vrede toe.
9Ter wille van die huis van die Here
ons God
bid ek dat dit met jou goed sal gaan.

Seëngroet

Lofsang: Lied 322 “Redder van die nasies, kom”

Wet
Woord en Fees 2016-2017 praat van die voorlesing van die wet as “oproep om gereed te maak vir die koms van die koning. Dit wys die pad aan wat gelowiges in Adventstyd loop, aangegryp en oorweldig deur die belofte van Jesus se wederkoms.”  Sluit hierdie Advent telkens die voorlesing van die wet aan by hierdie oproep.

Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof ” (’n verwerking van Rom 13:11-14) of lees Romeine 13:11-14

Adventkrans as verootmoediging / lament
Vir hierdie “Donker Advent” kan julle ‘n leë Adventkrans, sonder die normale versierings, gebruik. Dalk selfs ’n Adventkrans wat van droë wingerdstokke gemaak is en soos ’n doringkroon lyk.

Gebruik die aansteek van die Adventkers elke week as ’n geleentheid vir voorbidding of klag.  Julle kan elke week ’n ander saak kies om op te fokus:  Advent 1 = hoop:  kan moontlik fokus op M.I.V. & Vigs.  Advent 2 = vrede:  onlus en geweld.  Advent 3 = vreugde:  onreg en armoede wat mense van hul lewensvreugde en menswaardigheid stroop.  Advent 4 = liefde:  rassisme.

Donderdag is Internasionale Vigsdag.  Gee ’n kort oorsig van die huidige situasie rondom M.I.V. & Vigs, veral in SA (moet mense nie doodgooi met statistieke nie).  Laat iemand bid vir almal geïnfekteer en geaffekteer met M.I.V. en Vigs.  Lei die gemeente in verootmoediging oor ons traak-my-nie-agtige gesindheid rondom die siekte en die wat daarmee leef, die stigma wat steeds bestaan  en ons gebrek aan liefdevolle omgee, terwyl die eerste Adventkers aangesteek word.

Lied 320 “O kom, o kom, Immanuel” of
VONKK 90 Maranata!

Genadeverkondiging / belofte
Herinner die gemeente elke week, na die wet as oproep om gereed te maak en die Adventkrans as verootmoediging / lament, aan die belofte waarna ons met verwagting uitsien:

Jesaja 2:2-5
2Daar kom ’n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
’n blywende plek sal hê
bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Al die nasies sal daarheen stroom,
3baie volke sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek
na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer,
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”
4Hy sal oordeel tussen die nasies,
regspreek oor baie volke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard
teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie.
5Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig
wat van die Here af kom.
(Uit Woord en Fees 2016-2017)

GELOOFSBELYDENIS met Kersfees (Teks uit DB)
Ek glo in Jesus Christus,
afstammeling van Abraham, met wie God ‘n verbond gesluit het,
en van Dawid, die groot koning van Israel.
Jakob was die pa van Josef, die man van Maria, die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het.
Ek glo in Jesus Christus,
vooruit aangekondig deur God se engel Gabriël,
ontvang van die Heilige Gees,
met die naam Jesus, om sy volk van hulle sondes te verlos;
met die naam Immanuel, om God by ons te wees.
Ek glo in Jesus Christus,
deur God beskik vir geboorte in Bethlehem,
sonder Augustus en Sirenius se beterwete.
Saam met Maria juig ek oor God my redder,
want Hy het ook groot dinge aan my gedoen.
Saam met die sterrekeykers wat goud en wierook en mirre aanbied,
kom bied ek myself aan,
uit dankbaarheid vir God wat onder ons mens geword het.
Saam met die skaapwagters verstom ek my
oor die engelekoor in die hemelruim.
En saam met die engele juig ek:
die goeie nuus is vir die hele volk bedoel-
die Redder is in die stad van Dawid gebore!
Dit is die Messias wat mense van hulle sonde sal vrymaak,
die kind in die houtkrip
wat sy roeping sou vervul aan ‘n houtkruis.

Liedere

F198. “Ek Wil Gereed Wees”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Heiligmaking)
Teks en musiek: Stass en Elanie van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers
(Matt 25:1-12)

1. Ek wil gereed wees vir die Een wat kom.
Ek wil gereed wees vir die Bruidegom.
Ek wil gereed wees as Hy ons kom haal.
Ek wil gereed wees as Jesus my kom haal.

2. Ek wil gereed wees vir Sy koninkryk.
Ek wil gereed wees as Hy my wil gebruik.
Ek wil gereed wees om op te staan
vir Sy koninkryk, vir Sy heiligheid, vir Sy grote Naam.

Refrein:
Kom vorm my net soos U wil.
Kom reinig my in die vuuroond van U heiligheid.
Kom vorm my net soos U wil
want ek wil gereed wees as Jesus kom.

VONKK 90 “Maranata!”
Nav I Korintiërs 16:22b
Teks: Jannie Hougaard 2004 ©
Melodie: MARANATA – Jannie Hougaard 2004 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Hoop en Voleinding

Maranata!
Maranata!
Maranata!
Kom, Heer, kom weer!
(Alternatiewe teks;)

Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer, kom weer!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 24:36-44

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Verduidelik die konsep van Advent as tyd van afwagting (Carolyn Brown waarsku daarteen om die afwagting te verbind aan afwagting vir Kersfees).

Jy kan die storie “Who is Coming to Our House” deur Joseph Slate gebruik.  As jy vining kan lees, kan jy hierdie video wys terwyl jy dit lees (of speel die video in stadige aksie).

Gesels oor die afwagting voor ‘n lekker vakansie waarna jy al lank uitsien.  Jy kry alles reg, pak solank in, sit alles gereed.  Wanneer jou ouers jou môreoggend vroeg wakker maak, is jy gereed om net te klim.  Jesus sê ons moet gereed wees vir wanneer hy weer kom.  Dit beteken dat ons hom liefhet, sodat ons gereeds is wanneer hy kom.

Preekriglyn

Arne Faydherbe, ‘n burger van Mauritius, het nege inbrekers verras toe hy na ‘n aand uit by sy luukse huis in Llandudno (naby Houtbaai) arriveer. Die manne het klaar alles wat hulle wou steel in sakke gepak, en was besig om dit by die huis uit te dra.

Arne was oombliklik gereed vir hulle. Hy storm op die nege af, en kry dit reg om twee van hulle in sy swembad in te stamp. Die ander het vervaard op die vlug geslaan.

Een van die rowers, wat nou swemmers geword het, spring soos ‘n wafferse kurkprop uit die swembad en hardloop ook weg. Die ander een kon nie swem nie, en het begin water sluk. Toe spring Arne maar in en red hom. “Ek kon tog nie sien dat hy hier voor my oë verdrink nie,” vertel Arne.

Skaars uit die water, skree die rower vir sy vriende om terug te kom, en pluk ‘n mes uit waarmee hy Arne dreig. Arne is ‘n man wat hom laat hom nie dreig nie. Hy vervies hom vir die ondankbare vent, en stamp die rower daar en dan terug in die swembad in. Jy kan maar sê hy word twee keer op een dag gedoop.

Gelukkig vir die spartelende karakter het die polisie betyds opgedaag om hom van die water en die woedende huiseienaar te red.

Arne sê agterna hy was kwaad, maar nie verras deur die roof nie. Daar was in die voorafgaande maande inbrake rondom sy huis. Hy het homself al ingestel op die moontlikheid van ‘n inbraak, en wat hom in so ‘n geval te doen staan. Hy het ook gehoor daar is nege diewe aan die werk. “Wel,” sê hy met ‘n droë laggie, “daar is nou net agt.”

Die diewe het hulle rieme styf geloop, want Arne was gereed vir hulle. (Oorvertel uit die Cape Times, 23 Maart 2004)

Profetiese rede

Ons teks is deel van Jesus se profetiese rede, wat in Matteus 24 en 25 opgeteken is. In die voorafgaande verse het Jesus op ‘n dramatiese wyse oor rampe, vervolging, verdrukking en verwoesting gepraat. Hy verwys na die groot tekens regdeur die geskiedenis wat sê sy wederkoms is op pad.

In ons teks wys Jesus op ‘n ander werklikheid. Hoe groot die tekens in natuur en geskiedenis ook al is, sal die meeste mense se lewe verval in die gewone roetine van elke dag. Daarom sal mense afgestomp raak, so besig raak met die alledaagse, dat hulle sal vergeet van God se toekoms wat op pad is. Vir hulle is die gevaar dat die toekoms hulle onverwags sal oorval, wanneer Jesus weer kom.

Hieroor leer Jesus ons in ons teks.

Ons teks

Die oorhoofse tema van ons teks is waaksaamheid te midde van onsekerheid oor die dag en uur waarop Jesus, die Seun van die Mens, weer kom. Matteus 24:36-44 kan soos volg uiteengesit word:

Vers 36: Onsekerheid oor wanneer Jesus weer kom:
36 “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

Verse 37-39:  Illustrasie van die tema (die “dae van Noag”):
37 Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.
38 In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.
39 Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.

Verse 40-41: Twee verdere illustrasies van die tema (werkers en vroue):
40 Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
41 Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.

Vers 42: Herhaling van die tema omraam die gelykenis (toepassing 1):
42 Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

Vers 43: Gelykenis as illustrasie van die tema:
43 “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie.

Vers 44: Herhaling van die tema omraam die gelykenis (toepassing 2):
44 Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Adventstyd

Ons is vanaf vandag in die tyd van die kerklike jaar waarop ons Jesus se eerste koms na die aarde vier. Ons stel ons in op God se lig en genade wat in die wêreld verskyn het. Dit is gebruiklik om Adventstyd met ‘n teks te begin wat ons herinner aan Jesus se tweede koms. By die viering van Jesus se eerste koms, kyk ons terug op God se groot werk in Jesus Christus. Maar ons gesigte word vir ‘n oomblik ook na die toekoms gedraai. Ons word herinner dat die baba wat in die Kerstyd in die nederige stal in Betlehem gebore is, die Koning is wat aan die einde van die tye weer sal kom.

Die bedoeling is om ons te leer dat ons “tussen die tye” leef. Ons leef in die spanningsveld van Jesus se eerste koms en sy tweede koms. Christene:

  • kyk terug na God se redding en Jesus wat die koninkryk van God kom vestig, ons kom leer hoe om Hom te volg sodat ons in ritme met God se koningskap lewe; en
  • kyk vorentoe na die dag waarop God se koningskap volledig gevestig sal word, en God se nuwe aarde ingelui sal word.

Die regte ingesteldheid in die lewe is om as verloste mens in gehoorsaamheid aan Jesus te lewe, sodat jy volledig deel sal kry aan die nuwe hemel en nuwe aarde wat God op “daardie dag” dat Jesus weer kom aan ons sal skenk.

Publieke feit

In Jesus se profetiese rede word die wederkoms as ‘n publieke feit geteken, wat vir almal van belang is. Die voorbeelde kom almal uit die publieke lewe, ook in ons teks. Die vloed in Noag se tyd het almal geraak. Dit raak mense wat saam werk op die land of by die meule. Dit raak mense in dieselfde woonbuurt.

Ons is geneig om godsdiens in die private ruimte van ons lewe in te trek, asof dit net met menings en waardes te doen het. Asof godsdiens as private oortuiging ruimte aan almal bied om ewe reg te wees, solank jy net waardes en geloofsoortuigings kies wat vir jou werk.

Ons teks ondersteun nie so ‘n interpretasie nie. Jesus se eerste koms was ‘n publieke feit. Dit was nederig en beskeie, maar omdat dit so belangrik is, het mense regdeur die eeue oraloor daarvan getuig. Mense moet die geleentheid kry om te weet God het die wêreld aangeraak en sy koninkryk hier kom vestig. Mense moet weet die regte ingesteldheid is om God se genade te aanvaar, daaruit te lewe en as dissipel van Jesus te leer om gehoorsaam aan God te lewe. Dit is ‘n lewe van nederige diens en gemeenskap met God.

Waarom is dit belangrik? Want dit klop met die feite, dit is realisties. Jesus gaan weer kom, en ons moet reg-georiënteerd aan sy eerste en tweede koms lewe.

Ons teks is daarom ‘n goeie aansporing om oor Jesus as Koning te getuig. Aangesien Jesus se eerste en tweede koms almal raak, moet almal daarvan weet. As iemand die kuur vir kanker ontdek, maar stilbly daaroor, is stilbly die meeste liefdelose daad denkbaar.

Oordeel

Die koms van die Seun van die mens (37) aan die einde bring oordeel oor mense. Die voorbeelde in ons teks getuig almal hiervan:

  • In Noag se tyd het almal geweet die vloed kom, maar mense het maar gewoonweg voortgegaan met die lewe. Daarom is almal uiteindelik weggesleur. (Die klem val nie hier op die sondigheid van mense in Noag se tyd nie, bloot die onverstoorbare voortgang in die alledaagse asof niks ooit gaan verander nie);
  • Die oordeel sal by die werk, op die land of by die meule, voltrek word. Een word ingesluit by Jesus se komende koninkryk en een weggelaat.

In God se genade weet ons van die oordeel. Ons weet – op grond van Jesus se eerste koms – dat Christus sy lewe vir ons gegee het, en God se oordele namens ons gedra het. Daarom is daar in Christus geen veroordeling meer nie. Die Christus wat aan die einde van die tye oor ons gaan oordeel, is dieselfde Christus wat God se oordeel namens ons verduur het. Iemand skryf: God se oordeel weerspreek of vernietig nooit God se genade nie; en die gereedheid waartoe Jesus ons oproep word nie deur vrees vir die toekoms gekleur nie, maar deur dankbaarheid vir die lewe in God se koninkryk waaraan ons alreeds deel het.”

Ons teks wil daarom nie vrees inboesem nie, maar waaksaamheid aanmoedig. Onthou dat Jesus weer kom, en leef reg in verhouding met God se genade in Jesus Christus.

Parousia

Die Griekse woord wat in vers 37 oor die koms van die Seun van die Mens gebruik word, is “parousia”. Ons wat tussen die tye leef, moet weet dat die Seun van die Mens eenmaal weer gaan verskyn.

“Parousia” is egter ‘n meer komplekse woord as bloot ‘n “verskyning” aan die einde van die tye. Die woord kom 24 keer in die Nuwe Testament voor, vier keer by Matteus en nie een keer in die ander evangelies nie.

Parousia is ‘n antieke Griekse term wat ook as “teenwoordigheid”, “aankoms” of “amptelike besoek” vertaal kan word. Hoewel dit in ons teks op Jesus se verskyning aan die einde van die tye verwys, maak die woord ons sensitief daarvoor om te onthou dat Jesus ook “tussen die tye” by ons aanwesig is. Dit is waarom vandag so belangrik is, en waarom ons vandag bewus moet leef van Jesus se teenwoordigheid en sy openbare koms aan die einde. Jesus, wat vandag nog verskuil is, teëgespreek en verwerp kan word, misgekyk kan word, maar steeds dienend teenwoordig is, kom aan die einde op ‘n publieke, onmiskenbare wyse.

Adventstyd nooi ons uit om bewus van Jesus se teenwoordigheid in verlede, hede en toekoms te lewe. Kyk terug oor die jaar wat was, maar ook verder in die verlede in. Kyk ook vorentoe in die toekoms in en sien God in vandag, môre en in die nuwe jaar. God was by ons, is by ons en sal by ons wees. Die parousia gaan oor Iemand se teenwoordigheid, Iemand se naderkoms. Hy kom meer as ‘n amptelike besoek aflê, Hy kom om permanent met ons te wees.

Hoe meer ons elke dag bewus van Jesus se teenwoordigheid lewe, hoe meer sal ons gereed wees by sy tweede, publieke koms.

Waaksaam en gereed

Waaksaamheid, volgens ons teks, is om met Jesus se teenwoordigheid en wederkoms rekening te hou. Om reg georiënteer aan hierdie feite te lewe.

Dit beteken dat mens Jesus ernstig neem, reken met God se genadige teenwoordigheid as Skepper, Verlosser en Een wat met ons onderweg is na die heerlike nuwe skepping wat vir ons weggebêre is.

Die groot versoeking wat ons van waaksaamheid wegtrek, is die effek van die daaglikse sleur van die lewe. Die wederkoms word uitgestel, sê Jesus aan die begin van die profetiese rede. Dit is soos met Noag waar die bou van die ark baie lank geneem het. Mense het so gewoond geraak aan die langsame bouwerk, dat hulle van die oordeel vergeet het. Mens raak so ingetrek in die oorlewingstryd van die werk op die land of by die meule, met die grootmaak van kinders en die eise van elke dag, dat jy die toekoms vergeet.

Wat kan mens doen om jou waaksaamheid te verskerp:

  • Die dissipline om kou Bybels daagliks te lees en te bid is onontbeerlik;
  • Leer ‘n paar bykomende geloofsgewoontes aan om jou aan Jesus se teenwoordigheid en eerste sowel as tweede koms te herinner. Goeie voorbeelde is doelbewuste diens, ‘n daaglikse gebed van ondersoek aan die einde van die dag waar jy vra na Jesus se teenwoordigheid deur die dag;
  • Leer om op te offer om Jesus se ontwil. Raak by arm en weerlose mense betrokke en leer om hulle te dien.

Immers: “Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie … julle moet altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Wakker en waaksaam. Neem Arne Faydherbe as voorbeeld.

God stuur ons om te leef

Gebed

Gee elke week hier – of tydens die dankoffer – kans dat mense hul gebede / lament op klein kaartjies kan skryf en aan die leë Kersboom kom hang.

Dankoffer

Slotsang
F198. Ek Wil Gereed Wees of
Lied 587 “Kyk, Hy kom! Wag, laat ons luister”

Seën
God se hoop sal vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
God se vrede sal oor jou hart en verstand die wag hou.
God se vreugde sal jou dra ook deur hartseer tye.
God se liefde sal so ’n werklikheid vir jou wees dat ander God in jou sal beleef. Amen.
(Uit Woord en Fees 2016-2017)

Respons
Lied 587 se laaste 4 reëls of
Vonkk 90 Maranatha!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.