Eerste Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Heel van pas op hierdie kerklike nuwejaarsdag steek ons die kers van hoop aan. In 1 Korintiërs 1 gee die skrywer aan Jesus Christus die eer as die Een wat ons altyd laat vasstaan tot op die dag dat Hy weer kom. In die Markusevangelie word ons daaraan herinner dat ons nie weet wanneer die dag en die uur van die wederkoms is nie, daarom moet ons elke dag so leef asof dit vandag kan wees. Beide Jesaja 64 en Psalm 80 is pleidooie vir God om die chaos van die wêreld raak te sien en tog gou te kom en tot ons redding te verskyn.

Ander tekste

Jesaja 64:1-9
64 As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom
sodat die berge voor U skud!
2Kom af soos ’n vuur
wat fynhoutjies laat brand,
soos ’n vuur wat water laat kook.
Laat u Naam só aan u vyande
bekend word,
laat die nasies só voor U bewe.
3Toe U wonders gedoen het,
wonders wat ons nie verwag het nie,
toe U destyds afgekom het,
het die berge voor U geskud.
4Van ouds af het niemand
so iets gehoor nie,
het niemand so iets verneem nie,
het geen oog ’n god gesien
wat vir dié wat op hom vertrou,
doen wat U doen nie.
5U kom dié te hulp
wat met blydskap doen wat reg is,
dié wat onthou hoe U wil hê
hulle moet lewe.
U was kwaad vir ons,
want ons het gesondig.
Ons het so lank daarmee aangehou,
hoe kan ons dan nog gered word?
6Ons het almal geword
soos mense wat onrein is,
ons beste dade is soos vuil klere;
ons is almal soos verdroogde blare,
ons word deur ons sondes weggewaai
soos deur ’n wind.
7Daar is niemand
wat tot U om hulp roep nie,
niemand wat sy krag in U soek nie.
U het ons aan onsself oorgelaat,
U laat ons wegkwyn deur ons sondes.
8U is ons vader, Here,
ons is klei en U het ons gevorm,
ons is almal die werk van u hande.
9Moet tog nie aanhou kwaad wees
vir ons nie, Here,
moenie ons sonde vir altyd
teen ons hou nie,
onthou tog ons is almal u volk.

10U heilige stad het ’n woestyn geword:
Sion het ’n woestyn geword,
Jerusalem is onbewoonbaar.
11Ons heilige en pragtige tempel
waar ons voorouers U geloof het,
is deur vuur verwoes,
alles wat vir ons dierbaar was,
lê in puin.
12Raak hierdie dinge U dan nie, Here?
Gaan U nie ingryp nie?
Gaan U aanhou om ons te laat ly?

Psalm 80:1-7, 17-19
Verskyn tog tot ons redding
80 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis van Asaf.
’n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
3Openbaar u mag aan die stamme
Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan,
o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons ’n beker vol verdriet
laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.

8Almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak,
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek,
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see,
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom,
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God,
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok,
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U
met u eie hand geplant het,
die wingerdstok
wat U vir Uself gekweek het!

17Laat dié wat hom soos onkruid
verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer
van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe,
dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

Markus 13:24-37
Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens
(Matt 24:29–31; Luk 21:25–28)
24“Maar in daardie tyd,
ná daardie verdrukking,
sal die son verduister word
en die maan sal nie skyn nie;
25die sterre sal uit die ruimte val
en die kragte van die hemelruim
sal ontwrig word.
26Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. 27En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom
(Matt 24:32–35; Luk 21:29–33)
28“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 29So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 30Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 31Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.

Die profetiese rede: die dag en uur van die wederkoms
(Matt 24:36–44; Luk 21:34–36)
32“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 33Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. 34Dit is soos ’n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. 35Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. 37En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

Fokusteks

1 Korintiërs 1:3-9
Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ‘n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes.
2Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ‘n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook enduit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Ekstra stof

1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus
Let op hoe Paulus sy brief begin met ‘n verantwoording van sy roeping as apostel van Jesus Christus, die eerste keer dat hy die benaming begin gebruik. Hy begrond sy apostelskap in God se wil, waarvandaan ook sy gesag kom om met “God se gemeente” in Korinte in gesprek te tree.

Sostenus, waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte (Hand 18:17), maar nou ‘n gelowige en medebedienaar van die Woord, word nie net saam met Paulus as outeurs van die brief aangedui nie, maar dit kan wees dat Paulus dit moontlik aan hom as sekretaris gedikteer het (1 Kor 16:21).

Let op hoe Paulus God dank vir die wyse waarop Sy genade onder hulle posgevat het, veral in die gawes van woord en kennis. Hy is ook opgewonde dat hulle vol verwagting uitsien na die wederkoms (al gaan hy in hfst. 15 tog weer hieroor gesels). Geloof en hoop is goed gevestig in hulle gemeente.

Maar hy kan hulle nie loof vir hulle gebrek aan eenheid nie. Die onderlinge liefde ontbreek dus. Vergelyk dit met sy dankwoord aan die Tessalonisense waar hy hulle geprys het vir hulle geloof, liefde en hoop (1 Tes 1:3; 2 Tes 1:3-4). Geen wonder dat hy ‘n hele hoofstuk later sou afstaan aan die onderwerp van die liefde nie, want dít is wat hulle kort gekom het (1 Kor 13).

Hy spreek hulle daarom skerp aan oor die verdeeldheid wat veral in groepvorming en partyskappe onder hulle na vore kom, soos Chloë se mense aan hom kom oordra het. Dit is immers hulle roeping, om met mekaar “verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.”

Die gemeente het hulle identiteit in vier groepe gesoek, dié vir Paulus (die stigter van die gemeente), dié vir Apollos (‘n uitstekende redenaar uit Aleksandrië), dié vir Sefas (Petrus, die leier van die apostels) en dié vir Christus (die werklik vromes?!). Let op dat die verskille nie leerstellig was nie, maar groepvorming of partyskappe rondom leiers. Paulus gril by dié gedagte en gaan direk oor tot ‘n diepsinnige Christologiese verantwoording van hulle identiteit: Ons is Een in Christus, die krag en die wysheid van God. Hy is die enigste leier wat in die middelpunt van ‘n gemeente mag staan.

Met verwysing na Jesaja 29:14 bevestig Paulus in vers 19 en verder die OT gedagte dat God Hom nie aanpas by die heersende wysheid van mense nie, maar ontferm oor dié wat glo. Dit is nie wat jy weet wat God se aandag trek nie, maar dat jy glo. Hiermee rig Paulus hom teen beide die Joodse en Griekse weersin in die boodskap van die kruis – die Jode neem aanstoot daarin omdat hulle eerder ‘n wonderteken sou wou sien (ironies dat hulle die wonder van die opstanding geïgnoreer het en net op die kruis gefokus het); die Grieke dink dis onsin omdat dit menslike denke uitgesluit het, en net afhanklik was van geloof in God.

Hoewel Paulus in hoofstuk 2 eers verder gaan uitbrei oor hoekom God die weg van die prediking en die openbaring van die Gees kies om sy boodskap aan mense oor te dra, gaan hy in hoofstuk 3 terugkom na die betekenis van hierdie gedagte – dat God se wysheid en menslike wysheid teenoor mekaar staan – en dit van toepassing maak op die “wyse” idee van groepvorming, en uitwys hoe dwaas dit in die oë van God is. Groepvorming kom na vore uit jaloesie en twis en skaad die gemeente, wat die gebou van God is.

Eenheid is ononderhandelbaar in die kerk wat God tot stand bring in ‘n gebied.
Die ding wat my dus uit hierdie eerste hoofstuk by bly, is die klem op eenheid. Dit is doodgewoon onaanvaarbaar dat daar groepvorming en partyskappe in ‘n gemeente rondom leiers ontstaan, hetsy uit jaloesie of uit ‘n getwis. En elkeen van ons moet ons eie lojaliteite in die gemeente ondersoek of ons nie ook hieraan skuldig is nie, hoe onskuldig dit op die oog af ook al vir ons kan voorkom. En dan praat ek nie eers van die breër Christelike prentjie in ons stede en dorpe nie …

Liturgie

Indien van Adventskerse gebruik gemaak word kan die volgende liturgie gebruik word.

Almal: Jesaja 64:1-4

Aanvangslied: Lied 319 “Lofwaardig is ons God, die Heer vs 1,2,3″

Aanvangswoord: (Jesaja 64)

Seëngroet: (1 Korintiërs 3)

Lied: 344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

Wet: Markus 12:28-34 ()

Toewyding

Lied 526 “Waar daar liefde is 1” (+ latyn)

Geloofsbelydenis: (Lied 595 Hardop saam)

Epiklese: Lied 258 “Vreugdevolle tyding 1,2,3”

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:3-9

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Indien van Adventskerse gebruik gemaak word kan die volgende liturgie gebruik word.

Leser 1: Jesaja, die profeet, het tot God geroep: Ek wens U wil die hemele, wat ons skei, oopskeur en afkom sodat die berge voor U bewe. Maak u Naam bekend aan almal wat teen U is. Laat die nasies bewe oor u teenwoordigheid.
Leser 2: Lank gelede het U gekom en wonderlike dinge gedoen, dinge wat ons nie verwag het nie. U het afgekom en die berge het gebewe. Ons het nooit voorheen van so iets gehoor nie, niemand het ’n ander god gesien wat hierdie dinge doen nie.

Leser 1: U help die wat op u wag.
Leser 2: Ons wag en hoop soos ons die kers aansteek. (Steek kers aan.)

Leser 1: Op hierdie eerste Sondag van Advent steek ons die kers van hoop aan.
Leser 2: Hoop is nie die afwesigheid van konflik, geweld, pyn en hartseer nie, dit wat heilig is word juis geopenbaar in die donkerte van hierdie wêreld.

Almal: God van liefde kom en skyn u lig in hierdie wêreld.

Leser 1: Heilige God, berei ons voor om u koms tegemoet te gaan juis daar waar ons dit nie verwag nie.
Leser 2: Waar ons nou met ons Adventsreis begin, skenk aan ons die hoop van u teenwoordigheid, hoop op nuwe moontlikhede, hoop op u beloftes.

Almal: Jesaja 64:1-4

64 As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom
sodat die berge voor U skud!
2Kom af soos ’n vuur
wat fynhoutjies laat brand,
soos ’n vuur wat water laat kook.
Laat u Naam só aan u vyande
bekend word,
laat die nasies só voor U bewe.
3Toe U wonders gedoen het,
wonders wat ons nie verwag het nie,
toe U destyds afgekom het,
het die berge voor U geskud.
4Van ouds af het niemand
so iets gehoor nie,
het niemand so iets verneem nie,
het geen oog ’n god gesien
wat vir dié wat op hom vertrou,
doen wat U doen nie.

Aanvangslied:  Lied 319 “Lofwaardig is ons God, die Heer vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Jesaja 64)

8U is ons vader, Here,
ons is klei en U het ons gevorm,
ons is almal die werk van u hande.

Seëngroet: (1 Korintiërs 3)
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied: Lied 344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

Wet: Markus 12:28-34

Die vraag oor die grootste gebod
(Matt 22:34–40; Luk 10:25–28)
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”
29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”
32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ 33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”
34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”
Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ’n vraag te stel nie.

Toewyding
Een: God is liefde.
Almal: Waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Een: Ons leef uit God se liefde.
Almal: Waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Een: Ons het lief, omdat God ons eerste liefgehad het
Almal: Waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Een: Om lief te hê, is om in God se koninkryk te leef.
Almal: Waar daar liefde is, daar is God die Heer.

Lied 526 Waar daar liefde is 1″ (+ latyn)

Geloofsbelydenis: (Lied 595 Hardop saam)
Ons wag op U, o Seun van God,
ons wag op u verskyning!
Ons sien die vyeboom al bot
die winter se verdwyning!
Wie in U glo en op U hoop,
soek nêrens meer ontvlugting
“Kom, Heer” is ons versugting.
Ons wag, ons weet U kom gewis,
ons hoor van krygsgerugte.
As alles eers vernuwe is,
verdwyn ons angs en sugte.
U sal regeer, U is die Heer.
U koms is ons behae.
Kom, dag van alle dae!

Liedere

F144. “God Is Liefde”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21; Rom 5:1-11; Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

F19. “Heer, Hoe Lank”
(RUBRIEK: Kersvlam – Klag)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Heer, hoe lank gaan U vergeet?
t’Voel of U nie van my weet nie.
Hoor my smeek, Heer, antwoord my.
Maak my van my onrus vry.

Refrein:
Here, hoor U wat ek sê? Sien U hoe ek ly?
Luister wat u kinders vra.
Here, gee weer hoop; gee weer hoop in my.

2. Daar’s iets in my wat stadig kwyn,
soos die dag in nag verdwyn.
Help my op, Heer, sien my raak.
Sal U my weer méns kom maak?

Refrein:

3. Ek kan maar net na U toe kom.
Niemand anders gee meer om nie.
In my nood roep ek U aan.
Smekend kom ek voor u staan, want . . .

4. U is liefde, U’s getrou.
Ek weet U sal my bly onthou.
Ek wil van my geloof getuig.
Ek wil oor U verlossing juig.

Refrein:
Here, U hoor wat ek sê! U sien hoe ek ly!
U luister wat u kinders vra.
Heer, U gee weer hoop; U gee weer hoop in my.

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lied 258 “Vreugdevolle tyding 1,2,3”

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:3-9

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

1. Die preekstudie maak die punt dat hoop nie ‘n stel reëls is om na te lewe nie, maar ‘n gedragskode is. Om vanuit ons identiteit in Christus te leef. Die doop beklemtoon juis ons identiteit in Christus. Ons, as gedooptes, is God se kinders, nuwe mense wat ‘n nuwe werklikheid beliggaam. Kom ons leef hoopvol daaruit! Nooi mense om hulle name op gekleurde stroke lap/linte te skryf en in die liturgiese ruimte, naby die doopvont, op te hang as beeld daarvan dat ons almal God se kinders is.

2. Dit is die begin van die Adventseisoen en ‘n goeie tyd om met kinders te gesels oor wat Adventstyd is en wat al die simbole beteken wat ons tydens Adventstyd gebruik (Carolyn C Brown gee goeie wenke hiervoor in haar blog

In die winkels word mens se aandag getrek deur die liggies, versierings en presente van Kersfees. Die teks vir die dag herinner gelowiges aan die present wat hulle in Christus reeds gekry het en waarvoor ons net kan dankie sê. Gesels met die kinders oor wat hierdie present is en hoe ons God daarvoor kan dankie sê (Carolyn C Brown het weereens ‘n paar oulike wenke hieroor).

Preekriglyn

[Nota: die preek werk met verse 1 tot 9.]

Die meeste mense weet hoe om ‘n brief te teken. Die geleentheid en tema van die brief, en veral die ontvanger, bepaal hoe ons dit teken. ‘n Brief aan jou ma sal afsluit met iets soos “Met tonne en tonne liefde, Pietie.” As jy om toelating by ‘n universiteit aansoek doen, sal jy nie afsluit met “Liefde, Pietie” nie. So ‘n formele brief sal afsluit met “Hoogagtend, Petrus”, of met “By voorbaat dank, PJ Koekemoer.” Jy sal dalk selfs ‘n titel bysit, soos “Meneer”.

Die afsluiting en ondertekening van die brief leer mens baie oor die ondertekenaar. As jy romanties geïnteresseerd is in iemand, en jy kry ‘n briefie wat sê: “Hoogagtend, die uwe,” sak jou moed in jou skoene.

Ons teks kom uit die eerste brief van Paulus aan die Korintiërs. Volgens die Griekse gebruik is briewe aan die begin geteken. Thomas Long wys uit dat Paulus meesterlik geweet het hoe om sy briewe aan die begin te teken, net gepas vir die geleentheid. Sy handtekening aan die begin van die Filippensebrief straal warmte en liefde uit. Dié brief getuig van toegeneentheid en goeie verhoudinge.

Die teenoorgestelde gebeur in die Galasiërbrief. Hier is nie juis warmte nie. Paulus skryf: “Ek is verstom dat julle….” Sommer met die intrapslag weet die Galasiërs hier kom ‘n ding!

Hoe staan sake met die Korintiërs?

Die Korintiërs

Op die oog af is die gemeente in Korinte die tipe geloofsgemeenskap wat medegelowiges hooploos laat. Mens kan jou voorstel hoedat Paulus hande in die hare sit voordat hy (weer) aan hulle begin skryf. Hierdie gemeente (‘n groep huiskerke) is rondom 51 n.C. deur Paulus gestig (4:15).

Hierdie is reeds die tweede skrywe aan hulle (5:9), moontlik deel van ‘n versameling van vyf briewe. Ongeveer drie jaar het verloop tussen die stigting van die gemeente en die skrywe van hierdie brief. Paulus bevind homself na alle waarskynlikheid in Efese (16:8) vanwaar hy skryf.

Inhoud van die brief

Paulus reageer in die brief hoofsaaklik op berigte van onenigheid in die gemeente (vers 11), asook op ‘n aantal praktiese sake waaroor die gemeente aan Paulus geskryf het (7:1). Die onenigheid het alreeds te make met die blote feit dat Paulus die een is wie se raad aangaande hierdie praktiese sake ingeroep is aangesien sommige sy gesag, oorspronklike apostelskap en prediking betwyfel het.

Paulus moet dus reageer op die twyfel oor sy geloofwaardigheid onder sommige lede in die gemeente, asook op die spesifieke sake ter sprake, soos

  • huweliksaangeleenthede;
  • eet van afgodsoffers;
  • beoefening van geestelike gawes;
  • opstanding uit die dood;
  • insameling vir die kerk in Jerusalem;
  • onsedelikheid;
  • hofsake tussen gelowiges; en
  • onreëlmatighede by die nagmaal).

Dit lê alles binne die groter raamwerk van die evangelie aangaande Jesus Christus wat opnuut aan die jong groep uiteenlopende gelowiges bevestig moet word. Dit gebeur in ‘n omgewing waar hulle verlei word om ander gode te aanbid en elemente van ander godsdienste te beoefen.

Die omgewing

Die gelowiges in Korinte leef in ‘n bedrywige hawestad, as hoofstad van die provinsie van Agaje – met die goeie én die bedenklike wat daarmee saamgaan. Soos met stedelike kontekste in ons eie tyd, is Korinte gekenmerk deur pluralisme en diversiteit – kultureel, godsdienstig, en eties. Die gelowiges in Korinte moes uitpluis wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus in so ‘n omgewing te wees, veral as deel van ‘n jong godsdienstige beweging wat nog in die kruipfase is.

Die gemeente was sosiaal divers en het uit mense van Joodse en nie-Joodse agtergrond, ryk en arm, hoër en laer sosiale status bestaan (1:26-29). Binnegevegte was een van die groot oorsake van konflik in hierdie gemeenskap. Dit is nie ‘n verrassing nie dat Paulus berig ontvang het oor onenigheid tussen verskeie groepe in die gemeente.

Die probleem was nie ‘n gebrek aan entoesiasme vir volgelingskap van Jesus nie, maar eerder oor entoesiasme wat in ‘n tipe spirituele meerderwaardigheid onder sommige oorgekom het. Dit het tot konflik en verdeeldheid gelei. Daarom dat die Korintiese gelowiges as verward, kleinlik, selfgerig en partydig beskryf kon word. Paulus se verhouding met hulle moet verstaan word as een van ‘n pastor en vader, in ‘n verhouding met ‘n geliefde, maar hardkoppige groep “familielede”.

Verrassende groet

Teen hierdie agtergrond is die openingsverse van die brief verrassend. Lees mens dit geïsoleerd van die res van die brief, wil dit voorkom of hierdie gemeente die toonbeeld van voorbeeldigheid in navolging van Jesus is. Paulus besing oënskynlik hulle lof. Daar is geen teken te bespeur van dit wat later aangespreek word nie, altans nie op die oppervlak nie!

  • Aan die een kant sou mens dit sinies kon beskou as taktiek van Paulus om hierdie gelowiges (veral die Paulus-kritici) sag te maak alvorens hy inklim en spreekwoordelike houe begin uitdeel.
  • Andersyds is sodanige inleiding dalk juis ‘n praktiese toepassing van dit wat Paulus self verkondig, naamlik dat Jesus Christus die Begin en die Einde van hierdie (enige) geloofsgemeenskap is (behoort te wees).

Die eerste waarheid is dat gelowiges hulle identiteit in Hom vind – nog voordat hulle kwessies en tekortkominge aandag ontvang.

Die aanhef bestaan uit twee dele: die briefaanhef (afsenders, ontvangers, seëngroet) (1-3), en die danksegging (4-9). Dit is tipiese elemente van die antieke briefvorm en moet gesien word as voorbereiding vir dit wat inhoudelik in die brief gaan volg.

Bekendstelling

Paulus begin in verse 1 tot 3 deur homself en hulle geestelike broer, Sosthenes, te identifiseer as die senders van die brief. Van meet af aan stel hy die gemene deler tussen hom en die gemeente van God: dit is Christus en hulle roeping van God om nuwe verbondsmense onder Christus se gesag te wees.

Paulus se eie apostelskap is reeds in vers 1 duidelik. Hy het nie homself aangestel as leier en vaderfiguur van hierdie geloofsgemeenskap nie. Hy is “geroep” as “apostel” van Jesus Christus deur die wil van God. Hy tree nie in selfbelang op nie, maar is gehoorsaam aan God se wil en Christus se roeping.

Paulus beskryf die Korintiërs in dieselfde trant. Ook hulle is “die gemeente van God,” “geheilig in Christus Jesus” en “geroep om heiliges te wees”, maar sonder enige sprake van verdienste of regverdiging op grond van hulle eie aandeel hierin (2). God se werk in hulle lewe, deur Jesus Christus, is die vertrekpunt van enige gesprek oor hulle eie optrede en identiteit. Hul identiteit sluit in dat hulle deel is van ‘n liggaam van gelowiges oraloor (“in elke plek”) wat die Naam van die Here Jesus Christus aanroep.

Hierna volg die bekende seëngroet, soos ons dikwels in ons eie byeenkomste eggo: “Genade en vrede vir julle, van God ons Vader en die Here Jesus Christus” (3).

Heiliges

Die beskrywende taal van Paulus, naamlik om die Korintiërs “heiliges” te noem, is bekende Ou-Testamentiese verbondstaal, wat herinner aan die uitverkiesing van Israel as volk van God. Dit kon skokkend wees, want die Korintiese gemeente is ‘n mengelmoes van Joodse en nie-Joodse gelowiges wat hier een gemeenskap vorm. Paulus skeer almal oor dieselfde kam! Dit is wat Jesus aan en met die gemeente doen! Die “gemeente van God”, soos Paulus hulle noem, is ‘n gemeenskap wat voormalige grense oorskry en God se genade deel met mense wat voorheen uitgesluit is.

Paulus se seënwoorde neem die herinnering aan hierdie “nuwe bestel” verder. Dit is ‘n orde waarbinne “genade en vrede” as gawe van God aan die Korintiërs gegee is. Maar, saam met hierdie gawe wat onverdiend gegee word, kom ‘n bepaalde verantwoordelikheid om ook genade en vrede met mekaar te deel. Dit is ‘n verantwoordelikheid wat hulle versaak, soos later in die brief sal blyk. Die motief dat gawes wel in die gemeente teenwoordig is, maar dat gedrag onder die leiding van die Heilige Gees ook moet verander, is een wat Paulus regdeur die skrywe beklemtoon.

Danksegging

Paulus sit sy gesprek met hulle in verse 4 tot 9 voort deur die gebruiklike danksegging. Hy skryf in persoonlike taal (eerste persoon enkelvoud) en beskryf hoedat hy God “altyd” dank vir God se oorvloedige guns teenoor die Korintiërs. Dit doen hy in die besonder met betrekking tot drie sake:

  • die genade van God is aan hulle gegee in Jesus Christus (4);
  • hulle is in alles verryk in Hom (5); en
  • hulle ly geen gebrek aan enige gawe nie (7).

God was en is steeds vir hulle wonderlik goed sonder dat hulle dit verdien het. Sodanige getuienis oor ‘n menslike, gebroke groep gelowiges wat dikwels eerder faal as seëvier, moes tog hoop gebring het vir die moedeloses onder hulle.

Dit is opmerklik dat Paulus spesifiek noem dat hulle “verryk” is in Hom, in “alle spraak” (logos) en “alle kennis” (gnosis) (5). Dit is die einste groeperinge van gawes waaroor later harde woorde gepraat word (1 Kor 12-14). Hierdie gawes was prominent in die Korintiese gemeente, maar het juis verdeling veroorsaak omdat daar die oortuiging was dat “slegs sekeres” dit kon beoefen, en daarmee ander uitgesluit het.

Die bevestiging van “die getuienis van Christus” in hulle (6) dui op geestelike groei wat reeds by die gemeente plaasgevind het.

Na sy oordeel ly hulle geensins gebrek aan enige genadegawe nie (7); hulle het reeds alles ontvang wat nodig is terwyl hulle wag op die “openbaring” van Jesus Christus. Dit sal gebeur op die “dag van die Here” wanneer Jesus weer kom. Intussen beleef hulle reeds die onverdiende goedheid van God in Jesus Christus.

Juis daarom, in dieselfde asem, is hier ook ‘n waarskuwing teenwoordig: hierdie goedheid en genadegawes plaas ‘n verantwoordelikheid op hulle om “onberispelik” of “vlekkeloos” te wees tot op “die dag van ons Here, Jesus Christus” (8). Genadegawes moet met omsigtigheid hanteer word, want dit kan die goeie of die kwade tot gevolg hê.

Fondament

Die danksegging sluit af met ‘n herinnering aan die fondament van hierdie geloofsgemeenskap. Dit is nie in die eerste plek die genadegawes nie, maar wel God en die Here Jesus Christus wat hulle aan Hom en aan mekaar verbind (9). Uiteindelik is dit die koinonia (gemeenskap) wat die eerste en die laaste woord oor hulle is (en hoort te wees).

Met die vooruitsig van dit wat voorlê in die res van die brief, eindig Paulus sy inleiding op ‘n hoogtepunt deur te bevestig dat God getrou is, ongeag hoe gelowiges teenoor mekaar en implisiet teenoor Godself optree. Juis daarin lê die genade en die (H)oop.

Identiteit en roeping

Uit wat in die boek voorlê weet ons daar was geweldige probleme in die gemeente en met lidmate se gedrag. Tog word hulle identiteit verstaan uit wat God aan hulle gedoen het, en vir hulle gegee het. Hulle moet hulle lewe vanuit hierdie fondament begin lei. God roep hulle daartoe. Hulle moet word wat hulle reeds in Christus is.

Advent

Vandag is die eerste Sondag van Advent, daardie tyd van die jaar dat ons vooruitkyk na Jesus se koms na die aarde.

Die eerste Adventsondag is eintlik die Christelike Nuwejaarsdag, die eerste dag van die nuwe kerklike jaar waarin ons die goedheid van die Here in die geskiedenis deur verskeie geestelike seisoene vier. Die “Nuwejaarsvieringe” van die kerklike jaar onderstreep die geleentheid om nuut te begin, om die verhaal van God Drie-enig se betrokkenheid by die geskiedenis van voor af te hoor.

In die komende weke sal die evangelie van Jesus Christus met blydskap opklink en gevier word in gemeentes reg rondom die aardbol. Jesus se eerste koms is ‘n boodskap van groot blydskap. Ons word herinner aan die belofte van sy tweede koms terwyl die kerksklokke lui en die vreugde van saamwees, vier, sang en geskenke die Adventstyd kenmerk.

Te midde van al hierdie liefde en warmte word Christene herinner dat die Kersevangelie altyd kom na gemeentes wat nie ten volle uitdrukking gee aan God se roeping en beloftes nie. Ons word geroep tot eenheid, heiligheid, toewyding en diens met die gawes wat ons ontvang het. Ons word geroep om in eenheid saam te leef en te aanbid. Soos die Korintiërs skiet ons altyd tekort, soms minder en soms (soos die Korintiërs) baie meer!

Dalk het Paulus se klem op die wonderlike genade wat God skenk ‘n paar Korintiërs diep laat bloos. Die voorlees van die brief in Korinte kon diep skaamte veroorsaak. Hulle hoor van die rykdom van God se genade wat alle gawes skenk, en dink aan die twis wat die verskillende gawes onder hulself veroorsaak.

Hierdie woorde kan ook dieselfde effek in ons lewens hê. Ons kan ook bloos. Die detail kan verskil. Dit is dalk ‘n bouprojek wat die gemeente diep verdeeld gemaak het. Dalk sukkel ons om sommige gelowiges se roeping en gawes na waarde te skat. Baie gemeente worstel met “worship wars” waarin ons snedig na mekaar se musikale voorkeure kan verwys. Die Heilige Gees beweeg ons om die lof van God te besing, en dan gebruik ons die lofprysing om mekaar by te kom en verdeeldheid te saai.

Berou

Advent is ‘n tyd van lig, maar ook ‘n tyd van berou. Advent was oorspronklik óók ‘n tyd van boetedoening en berou. Dit is ‘n tyd waarin ons ook bedink waarom die Seun van God mens moes geword het. Ons sien opnuut weer die vlek van sonde raak wat myself en die hele wêreld vervreem van God. Ons raak opnuut bewus van ons eie gebrokenheid – ook as kerk- en sien met verlange uit na die heling van die eerste koms moontlik gemaak het en die tweede koms van die Seun van God volledig ons deel sal maak.

Die bewyse van hoe sleg die kerk én die wêreld vaar, is oral te sien. Ons het die genade van God nodig. Elke koerant basuin dit uit. Soms ook die kerkbulletin, of die grapevine in die gemeente.

Die boodskap van Advent is dat die heerlike verlossing van God aan sondaars geskenk word. Ons hoor die evangelie, Jesus gee Homself vir ons, terwyl ons nog sondaars is. Ons ken ons sonde deur die genade, die evangelie, want na ons kom. Selfs in die kerk.

Daarom is die evangelie ons hoop.

As Advent nie vir ons na goeie nuus midde-in ons eie sonde en mislukking, asook dié van die wêreld klink nie, is dit dalk omdat ons die boodskap van Advent sentimenteel gemaak het. Dit gaan net oor klokkies en liggies, asof die wêreld nie in ‘n diepe krisis is en verlossing nodig het nie.

Paulus se aksent op die genade van God in sy groeteboodskap dek die tafel vir die hantering van die Korintiërs se sonde, en vir die oplossing daarvan. Dit dek ook die tafel vir hulle groei in die geloof en hulle agterlaat van hul sonde. Hulle word dit word wat God reeds aan hulle geskenk het.

Verskyning van Jesus

Advent fokus op die eerste koms van Jesus na die aarde. Dit berei ons voor op die eerste koms van die Seun van God.

Advent het ook ‘n tweede fokus: op die tweede koms van Jesus. Advent is soos ‘n dubbelloop haelgeweer. Daarom fokus Advent op blydskap oor die eerste koms asook op die verwagting, uitsien na, die tweede koms. Paulus skryf dit ook in vers 7 aan die Korintiërs: die uitsien na die verskyning van Jesus (tweede koms) is deel van die genade wat God aan ons skenk.

Dit skep hoop in ons. Terwyl ons gekonfronteer bly met ons eie sondigheid en ons gebrokenheid, leef die verlangende uitsien na die volmaakte herstel van alle dinge in ons harte. Advent hou dit lewend.

Bestekopname

Advent is daarom bestekopname. God het vir ons ‘n nuwe identiteit en roeping gegee. Hoe vaar ons met die uitleef daarvan? Waarvan moet ons ons bekeer? Waartoe moet ons ons bekeer?

Advent verander ons van harte.

God stuur ons om te leef

Gebed

Offergawes

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Seën
God sal jou standvastig in geloof maak, vreugdevol in hoop, daadwerklik in vrede laat leef en onuitblusbaar in liefde.
Christus wat eenmaal gekom het, nou hier is en eendag weer kom se Lig oor sal jou skyn in die donkerte van hierdie wêreld.
Die Gees van Christus, wat in ons woon, sal ons lei en beskerm en sal sy lig deur ons laat skyn totdat Christus weer kom.
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.