Eerste Sondag in Advent

Picture of Woord en Fees

Eerste Sondag in Advent

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Matteus 24:36-44
Ander tekste: Jesaja 2:1-15; Psalm 122; Romeine 13:11-14

Inleiding

Op die Sondag rig ons ons oë op die wederkoms van die Here. Ons sien uit daarna en roep mekaar op om gereed te wees as die Here ons kom haal. Niemand weet die presiese dag nie, daarom moet ons wakker en waaksaam bly (Matt 24:36-44). Die volk van die Here moet nou leef tot sy eer en Hom dien sodat al meer mense na sy heilige berg sal kom (Jes 2:1-15).  In die wagtyd is dit die taak van die gelowiges om te bid en te soek na vrede en geregtigheid op aarde (Ps 122). Gereed wees vir die koms van die Dag van die Here vra ook ʼn spesiale lewensstyl. Daarom word die gemeente opgeroep om die Here te dien (Rom 13:11-14).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aansteek van Adventskers
Voorganger: Here, maak aan ons u weë bekend;
lei ons op u paaie.
Lei ons in die waarheid en leer ons,
want U is die God van ons redding;
op U wag ons die hele dag lank.
In die begin was die Woord –
gesproke en lewend,
ʼn belofte gemaak en vervul.
Gemeente: Luister en hoor –
God se belofte is waar!

Voorganger: In die begin  was die Woord,
en deur Hom het alles ontstaan.
Gemeente: God se beloftes is die hoeksteen van die lewe.

Voorganger: Luister!
Hoor die verbondsbelofte weer ʼn keer,
vir ons is ’n Seun gebore,
aan ons is ’n Seun gegee;
Hy sal heers en genoem word:
Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, Vredevors.
Gemeente: Hy skep ʼn toekoms vol hoop.
Steek die eerste Adventskers aan.

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Gebruik Lied 178 of Jannie du Toit se weergawe as gebed.

Diens van die tafel

Doen moeite om die eerste Adventsondag nagmaal te vier en dan as fees wat uitsien na die koms van die Here.
Maak van die nagmaal ʼn verwagtingsmaaltyd en sluit dit af met ʼn verbintenis om getrou te wees totdat die Here weer kom.

Uitsending

Stuur die gemeente huis toe met ʼn geloofsbelydenis op die lippe waarmee hulle beloof om gehoorsaam aan Hom te leef totdat Hy weer kom.

Voorganger: Die tyd is naby,
die tyd wanneer Christus weer kom.
Julle moet gereed wees,
julle moenie wees soos mense wat slaap nie.
Gemeente: Ons glo in die Drie-enige God,
Vader, Seun en Heilige Gees.
Ons sal Hom dien tot Hy weer kom.

Voorganger: Mense weet dat dit lig word
wanneer die nag verby is.
So weet ons ook dat ons
nie meer lank sal wag nie,
dan sal Christus kom.
Gemeente: Ons sal nie mense van die nag wees nie,
ons sal die Here gehoorsaam, dien en eer.

Voorganger: Julle behoort aan die Here Jesus Christus
Sy koms is naby.
Gemeente: Kom Here, kom gou.
Ons wag op u koms (uit Rom 15).

Musiek en sang

Gebruik al die bekende Adventsliedere uit die Liedboek 319 – 334. Vul dit aan met die volgende voorstelle.
Lof:  Lied 602 “Ek sien ʼn nuwe hemel kom”; Lied 567 “Kyk, Hy kom! Wag, laat ons luister”; Flam 15 “Ek kyk op na die berge”
Verootmoediging: Flam 14 “Jesus is die Heer”
Slotlied: Flam 198 “Ek wil gereed wees”; Lied 601 “Die wat die Here wil dien”

Preekstudie: Matteus 24:36-44

Inleiding
Sien ook Koninkrykstyd 2005. Adventstyd begin gewoonlik met ’n eskatologiese teks. Sodoende word op die afsluiting van iets ouds en die aanvang van iets nuuts gesinspeel.

Teks 

Matteus 24:36-44 kan soos volg uiteengesit word:
36: tema: waaksaamheid te midde van onsekerheid
37-39: illustrasie van die tema (die “dae van Noag”)
40-41: twee verdere illustrasies van die tema (werkers en vroue)
42: herhaling van die tema omraam die gelykenis (toepassing 1)
43: gelykenis as illustrasie van die tema
44: herhaling van die tema omraam die gelykenis (toepassing 2)

Ons perikoop is deel van Matteus se vyfde diskoers en handel oor eskatologiese sake en oordeel (Matt 24:1-25:46). Die tema van die gedeelte is die belangrikheid van waaksaamheid in die lig van die onsekerheid rondom die (weder)koms (parousia) van Jesus.

In vers 36 sluit Matteus by Markus (13:32) aan. Ná die bespreking van “die dag van die Here” tot dusver in hoofstuk 24, begin die perikoop met ’n skynbaar skokkende onthulling: niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. In die Direkte Vertaling lui dié vers: “Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen.”

Daar moet nie uit die oënskynlike weerspreking van vers 34 en 35 afgelei word dat Jesus hieroor onkundig is nie. Binne die destydse kulturele raamwerk beklemtoon die uitspraak die belangrikheid van die Vader. Al was ’n prosessie destyds byvoorbeeld reeds gereed, kon die hoogwaardigheidsbekleër sélf besluit wanneer hy wou opdaag. Die teks sê dat niemand God hieroor kan voorskryf nie. Dit beklemtoon ook die futiliteit van enige spekulasie oor die wanneer van hierdie dag en uur. Waar daar tot hiertoe in die hoofstuk verskeie aspekte rondom dié dag aangeraak is, word nou duidelik gemaak dat dit onverwags sal wees.

Daar was volgens die destydse wêreldbeeld verskillende “hemele”. Die wolkehemel, die sterrehemel en die derde hemel – waarin God gewoon het – was drie hiervan.

Die eerste van drie illustrasies rondom die tema word in vers 37 tot 39 aangetref. “Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. In daardie dae voor die sondvloed, het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.”

Matteus sluit in dié verse by die Q-bron aan (Luk 17:26-36/Matt 24:36-44). In die voorbeeld word na die vertellings rondom Noag (Gen 7) verwys. Die mense in Noag se tyd het nie op Noag ag geslaan nie en bloot met hulle alledaagse aktiwiteite – soos eet en drink en trou – voortgegaan. Die vermelding na die mense se “eet” en “drink” dui nie op vergrype nie, maar eerder daarop dat hulle normaalweg met hulle lewe voortgegaan het. Die vermelding van trouery wys hulle het gedink daar gaan vanselfsprekend ’n toekoms wees. Die uitdrukking, “hulle kinders” is ’n byvoeging. Hierdie is Matteus se enigste verwysing na Noag en die gebeure rondom hom. Die woorde herinner aan die LXX in Genesis 7:7. Die illustrasie beklemtoon nie Noag se gehoorsaamheid of karakter nie. Dit wys sy tydgenote se gebrek aan waaksaamheid uit.

Hierdie illustrasie benadruk dat Jesus se parousia skielik sal wees. Van die 24 keer wat die Griekse term parousia in die Nuwe Testament voorkom, kom dit viermaal in die Matteusevangelie voor (24:3, 27, 37, 39). Dit kom nie in enige van die ander evangelies voor nie. Parousia is ’n antieke Griekse term wat as “teenwoordigheid”, “aankoms” of “amptelike besoek” vertaal kan word. Sesmaal verwys dit na die aankoms van individue: Stefanus, Fortunatus en Argaïkus (1 Kor 16:17; Titus; 2 Kor 7:6, 7), die fisieke “teenwoordigheid” van Paulus self (2 Kor 10:10; Fil 1:26, 2:12). ’n Sewende maal verwys dit na die “koms van die wettelose een” (2 Tess 2:9). Die ander 17 keer verwys dit na die tweede/ wederkoms van Christus, behalwe eenmaal wat dit na die koms van “die dag van die Here” (2 Pet 3:12) verwys (1 Kor 15:23; 1 Tess 2:19; 3:13; 4:15; 5:23; 2 Tess 2:1, 8, 9; Jak 5:7, 8; 2 Pet 1:16; 3:4, 12; 1 Joh 2:28).

Die woord: “daardie” (ekeinas) is in verskeie manuskripte – soos א L W Θ f1,13 TR lat mae en bo – weggelaat en lui dus “die dae” (teenoor “daardie dae”). Die manuskripte B D it en sa bevat ekeinais. Daarom behou die UBSGNT dit, maar dan in hakies. Die volgende twee voorbeelde – in vers 40 en 41 – dui naastenby op dieselfde betekenis as die eerste een, maar bring ’n nuwe dimensie by. Daar is volgens dié illustrasies ’n tweeledigheid by die oordeel ingebed. Die oordeel bring verdeling in die mensdom. Vir sommiges bring dit bevryding en vir ander nie. In albei gevalle is die persone met gender-spesifieke aktiwiteite in Jesus-hulle se kultuur besig. Die mans is in die veld besig en die vroue in die huise se gedeelde binnehof aan ’t koring maal.

Die oordeel vind op álle terreine in die alledaagse lewe plaas. In albei gevalle is die mense met alledaagse handelinge besig – net soos wat deur die samelewing van hulle verwag word. In die lig van die twee werkwoorde (paralambanō = saamgeneem en aphiēmi = agtergelaat) lyk dit asof die een wat saamgeneem word die bevoorregte en waaksame dissipel is wat op die tekens van Matteus gelet het en getrou was. Die een wat “saamgeneem” word, blyk van gevaar verlos te word en die een wat “agtergelaat” word., verlaat (“abandoned”) en verlate (“forsaken”) is.

Weereens word waaksaamheid beklemtoon. Dié keer te midde van die alledaagse lewe en werk.

Die gelykenis van die dief in die nag (43) word deur twee toepassings omring (42 en 44). Albei maak dieselfde punt. Christus se volgelinge moet in ’n konstante staat van grēgoreite (“wag” en “wees gereed”) wees. As ’n huiseienaar gereed is en wag, sal hy nie onkant gevang word deur die dief wat letterlik deur modder in die huis in grawe nie.

Verskeie geleerdes beskou die illustrasies wat hier gebruik word as tipiese Matteus of vroeg-Christelike stof wat in Christelike taal gegiet is. Jesus sou volgens hulle nié hierdie tipe taal en beelde gebruik het nie. Die beeld “soos ’n dief in die nag” kan nie met enige van Jesus of God se karaktereienskappe versoen word nie, was die mening. Dit is wel ’n bekende beeld in die vroeg-Christelike tradisie (1 Tess 5:2, 4; 2 Pet 3:10; Op 3:3, 16:15).

Vers 44 is ’n konkluderende samevatting wat met die woord “daarom” (dia touto, of “op grond hiervan”) ingelei word. Sommige manuskripte het, anders as “Seun van die mens” (ho huios tou anthrōpou), “die seun van Adam”. Die punt wat reeds in vers 36 en 42 gemaak is, word wéér, met “op ’n uur dat julle dit nie verwag nie” (Hē ou dokeite hōra) beklemtoon.

Konteks 

Dit is duidelik dat Matteus op Markus (13:32-37) en op die Q-bron voortbou. Hy het heel waarskynlik van die Thomasevangelie (61:1 en 21:5-7) ook gebruik gemaak (in vers 42-44). Lukas (17:26-30, 34-36) het van Matteus ook gebruik gemaak. Teen die tyd dat Matteus sy evangelie skryf, was die Markusevangelie naas verskeie mondelingse tradisies, die Q-bron, die Thomasevangelie en ’n aantal briewe beskikbaar.

Geleerdes soos Michael D Goulder beklemtoon dat die evangelies in die samekomste van die vroeg-Christelike geloofsgemeenskappe gelees is. As dit só is, is Matteus 23 op die eerste Sabbat en/of Sondag van die nuwe jaar (in die maand Nisan) gelees en vers 24-25 op die tweede Sabbat of/en Sondag gelees. In die Judeërs se byeenkoms is Genesis 1:1-6:8 en 6:9 tot Genesis 11 op dié Sabbatdae gelees. Die hele Noagsiklus, asook die vertellings oor Babel kom in die tweede Sabbat voor. Josua 1-2 en 3-4 is ook gelees. Indien hierdie tekste met mekaar saam gelees word, is die oorvleuelende temas en trekke opsigtelik.

Markus het – aldus byvoorbeeld Goulder – volgens verskeie vroeg-Christelike leesroosters tekslesings in opeenvolging vir byeenkomste vanaf die vroeëre Judese Nuwejaar (in die maand Tisjri), met Rosj Hasjana, die Groot Versoendag en die Huttefees tot met Paasfees geskryf. Aangesien hy dus nie tekslesings vir die res van die jaar bied nie, het Matteus lectios vir dié byeenkomste ook geskryf. Matteus 24-25 is ’n week voor Paasfees gelees. Die tema van waaksaamheid is dus beklemtoon sodat die gelowiges met Paasfees gereed sou wees vir die ingrype van die Here waarop hulle gehoop het.

Net soos wat Markus 14:1 tot 16:8 vir voorlesing op spesifieke dae en tye vanaf 14 Nisan tot Paasfees geskryf is, is Matteus 26:1-28:20 ook hiervoor geskryf. Baie vroeë Christene het geglo dat Jesus op die Saterdag voor Paasfees weer sou kom om God se oordeel te voltrek.

Oor die algemeen het mense in Jesus se tyd bloot op die hede gefokus. Die toekoms was – veilig! – in God se hande en niemand kon iets daaraan doen nie en die verlede was verby. Hulle het die hede in terme van hulle verlede – hulle geskiedenis saam met God – geïnterpreteer en geleef. As jy te ver in die toekoms in sou wou kyk, sou jy die impak van die hede misgekyk het. Jy sou ook gebeure wat “net om die draai” oppad was, gemis het.

Jesus het sy luisteraars aangemoedig om nie oor die dag van môre bekommerd te wees nie. Ook nie oor wat hulle gaan eet, drink of aantrek nie. Môre, het Jesus gesê, bring sy eie moeilikheid (Matt 6:25-34). Hulle moes God vir net ’n dag se brood – nie ’n hele week se voorraad nie – vra (Matt 6:11). Jesus was oortuig dat sy eie generasie nie sou verbygaan voordat al die dinge waarvan hy vertel het sou gebeur nie (Matt 24:34).

Teen die tyd dat die Matteusevangelie geskryf is – rondom 80-85 nC – lê Jesus se dood en opstanding omtrent 50 jaar in die verlede. Omtrent tien tot vyftien jaar voor Matteus se evangelie geskryf is, was daar ’n groot Judese opstand wat tot die verwoesting van Jerusalem en die vernietiging van die tempel daarin deur Titus en sy Romeinse legioene gelei het (70 nC). En steeds het Jesus nog nie teruggekom nie, het die dag van die Here nie aangebreek nie.

Dan was daar nog die Judeërs se aanhoudende en uitdagende gespot oor die verwagte “dag van die Here” en “Christus se koms”. Waarom waaksaam bly? Waarom vashou aan iets wat nie gaan gebeur nie?

Matteus sluit by hoofstuk 13 aan om sy lesers te bemoedig en te leer. Jesus het sy woord gegee; Hy sal definitief terugkom (Matt 24:35). Niemand kan die tyd van sy terugkoms akkuraat voorspel nie, want dit sal onverwags wees, net soos wat die vloed vir Noag se tydgenote onverwags was. Daarom – om nie onverhoeds en onkant betrap te word nie – moet Christene altyd waaksaam wees. Die gelykenisse oor die mans in die veld (40) en die vroue by die meul (41) gee geen leidrade oor wie saamgeneem sal word en wie agtergelaat sal word nie. Elkeen moet waaksaam en gereed wees, net soos wat die huiseienaar op sy hoede vir vandale en diewe is (43).

Matteus help sy lesers en hoorders om verder in die toekoms in te kyk as waaraan hulle gewoond is. Hy help hulle om die teenwoordige Here in hulle midde – waar hulle leef en werk, waar hulle eet, drink en trou – raak te sien.

Preekvoorstel

Anders as wat Matteus wou hê sy lesers/hoorders moes wees, is ons weer te ver in die toekoms in gefokus. Ons leef in ’n tyd van digitale horlosies en ons tel tyd in milli- en nanosekondes. Wanneer ons kinders gebore word, dink ons al aan hulle naskoolse opleiding, beroepe en troues. Wanneer ons begin werk, begin ons spaar en voorbereidings tref vir ons aftrede. Ons tyd het plooibaar en vloeibaar geword. Ons tyd het geld geword. Ons loop gevaar om die huidige, die onmiddellike, te mis. Ons moet leer om in die hede en oop vir die oomblik te leef. Hier waar Jesus nóú teenwoordig is.

Ons moet leer om “tussen die tye” te leef, aldus Karl Barth. Christene kyk terug en onthou God se verlossende handelinge oor geslagte heen én vorentoe met die verwagting van die vindikasie van God se weë in ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.

Dis presies waartoe Adventstyd ons uitnooi: kyk terug oor die jaar wat was, maar ook verder in die verlede in. Kyk ook vorentoe in die toekoms in en sien God in vandag, môre en in die nuwe jaar. God was by ons, is by ons en sal by ons wees. Die parousia gaan nie oor iets wat gebeur nie, maar oor Iemand se teenwoordigheid, Iemand se naderkoms. Hy kom egter nie ’n amptelike besoek aflê nie, maar kom om permanent met ons te wees.

Christene debatteer al lank oor wanneer en hoe “die oordeelsdag” sal plaasvind. Party mense het verskeie tydlyne ontwikkel om datums te probeer bereken. Ons moet dit aanvaar: niemand weet wanneer ons teenwoordige Here gaan naderkom en volkome intrek neem nie.

Ander reken dat die oordeel vir elkeen aanbreek op die dag wat jy sterf en jy jou laaste asem uitblaas. Daarom moet ons altyd gereed en waaksaam wees. Niemand van ons weet wanneer die dood ons gaan inhaal nie. Ons wil tog nie hê dat ons onkant betrap word nie?

Nóg ander neem die simboliese van Jesus se taal in berekening. God se radikale aansprake en eise vir die hier en die nou is belangriker as’n moontlike oordeel in die waarskynlik verre toekoms. Elke dag en geleentheid moet aangegryp word. Só dra élke dag en keuse ’n element van oordeel saam. Daarom moet ons onsself voortdurend afvra of ons leef soos wat Christus dit wil? Vertrou ons Hóm alleen? Fokus ons op God en sy koninkryk, of het ons weereens met onsself behep geraak?

Daar is verskeie maniere waarop ons die “data” hieroor kan rangskik. Hoe ons dit ook al doen, is daar ’n aantal dinge wat ons móét verreken. Die Christus wat ons oordeel, is dieselfde Christus wat God se oordeel ter wille van ons verduur het; God se oordeel weerspreek of vernietig nooit God se genade nie; en die gereedheid waartoe Jesus ons oproep word nie deur vrees vir die toekoms gekleur nie, maar deur dankbaarheid vir die lewe in God se koninkryk waaraan ons alreeds deel het.

Terwyl ons tussen die tye leef, vertrou en hoop ons dat dit wat God alreeds begin het en sal voortsit, ons transformerend sal vorm om meer en meer soos Jesus – in wie al God se genade en oorvloedige liefde bekend raak – te wees.

Gaan voort met julle alledaagse handelinge. Eet en drink, werk en trou. Hou Jesus se parousia egter tussen dit alles deur in gedagte.

Bibliografie

Naas “standaardwerke”: Bartlett, D L & Taylor Brown, B 2013. Feasting on the Word: Year A, Volume 1: Advent through Transfiguration (Feasting on the Word: Year A volume). Presbyterian Publishing Corporation. Kindle Edition; Goulder, M D 1974. Midrash and Lexion in Matthew. London: SPCK; Hagner, D A 2002. Vol. 33BWord Biblical Commentary: Matthew 14-28. Word Biblical Commentary. Dallas: Word, Incorporated; Malina, B J & Rohrbaugh, R L 1992. Social-Science Commentary on the Synoptic Gospels.  Minneapolis: Fortress Press; Mullins, A & Myburgh, J A 2008. Matteus 17-28.  . . . bang maar bly . . . Matteus interpreteer Jesus. Pretoria: Biblaridion; Pilch, J J 1995. The Cultural World of Jesus. Sunday by Sunday, Cycle A. Collegeville, Minnesota: The Liturgical Press.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.