Eerste Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die eerste week in Advent se tema is tradisioneel “hoop”. Die sleutelteks uit Romeine fokus ons aandag op Christus se wederkoms en om gereed te leef daarvoor – met ander woorde, in die lig en nie in die duister nie. Die Evangelieteks uit Matteus sluit baie nou hierby aan met die tema van die onbepaalbaarheid van die wederkoms. Die Psalmteks is ‘n pelgrimslied waarmee daar hoopvol uitgesien word na die tyd wat in die tempel deurgebring kan word. Die teks uit Jesaja is ook ‘n hoopvolle uitsien na wanneer mense uit alle volke sal stroom na God se tempel en vrede op aarde sal heers.

Ander tekste

Jesaja 2:1-5
Uit Sion kom die openbaring
2 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem.
2Daar kom ’n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
’n blywende plek sal hê
bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Al die nasies sal daarheen stroom,
3baie volke sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek
na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer,
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”
4Hy sal oordeel tussen die nasies,
regspreek oor baie volke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre.
Die een nasie sal nie meer die swaard
teen die ander opneem nie,
en hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie.
5Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig
wat van die Here af kom.

Psalm 122
Bid dat Jerusalem vrede mag hê
122 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Ek was bly toe hulle vir my gesê het:
“Kom ons gaan
na die huis van die Here toe.”
2En nou is ons hier binne-in jou,
Jerusalem!
3Jerusalem is die stad
wat stewig gebou is,
4waarheen die stamme kom,
die stamme van die Here.
Dit is ’n voorskrif vir Israel
om die Naam van die Here
hier te loof.
5Hier word reg gespreek,
hier lewer die koning sy uitsprake,
die koning uit die geslag van Dawid.
6Bid dat Jerusalem vrede mag hê,
dat hulle wat hom liefhet,
rustig mag woon.
7Mag daar vrede wees binne jou mure,
rus in jou wonings.
8Ter wille van my broers en my vriende
wens ek jou vrede toe.
9Ter wille van die huis van die Here
ons God
bid ek dat dit met jou goed sal gaan.
Matteus 24:36-44

Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms
(Mark 13:32–37; Luk 17:26–30; 34–36)
36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Fokusteks

Romeine 13:11-14
Liefde is die volle uitvoering van die wet
8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,”  of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 327 “Dag van verlossing! Kyk, Hy kom vs 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord  
Indien die adventskrans gebruik word, steek die eerste blou kers van die Adventskrans aan.

Seëngroet  

Sang: Lied 349 “Kom kinders besing met ‘n vrolike stem vs 1,2,3,4”

Verootmoediging: Jesaja 2:1-5
En ná die bedeling, ‘n verdere bedeling… waarin die Messias wat gekom het, weér sal kom…
En dit gebeur onverwags!

Matteus 24:36-44
Reaksie

Hebreërs 12:1-3 ()

Lied 602

Geloofsbelydenis

Loflied 602 “Ek sien ‘n nuwe hemel kom 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Romeine 13:11-14

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Advent is die begin van die siklus van die Westerse kerkjaar en volg direk na Koninkrykstyd. Die seisoen van Advent begin vier Sondae voor Kersfees en dien ook as opbou tot hierdie feesdag. Die klem is op afwagting en voorbereiding – nie net vir die koms van Jesus as mens wat gevier word met Kersdag nie, maar ook vir Jesus se wederkoms.

Daar is ook baie gebruike wat verband hou met hierdie seisoen, soos die populêre gebruik van ’n “Adventskalender” waarmee die dae tot Kersdag afgetel word. ’n Ander gebruik om die seisoen en spesifiek die Sondae saam te bind, is die Adventskrans in die liturgiese ruimte. Dié krans bestaan uit ’n ronde vorm van immergroen blare waarin vier kerse geplaas word: drie koningsblou kerse en een rooskleurige kers. Die sirkel verwys na die ewige lewe terwyl die immergroen blare verwys na hoop – een van die groot temas van Advent. Daar word ook soms ’n wit kers in die middel geplaas wat op Oukersaand of Kersdag aangesteek word. Die kerse word tradisioneel in die volgende volgorde in die krans geplaas en aangesteek met name vir elke kers/Sondag:

• Eerste Sondag in Advent: “Hoop” – koningsblou kers
• Tweede Sondag in Advent: “Vrede” – koningsblou kers
• Derde Sondag in Advent: “Vreugde” – rooskleurige kers
• Vierde Sondag in Advent: “Liefde” – koningsblou kers
• Oukersaand/Kersdag: wit, Christus-kers

Ander simbole in die Adventseisoen is die stomp van Isai – as aanduiding van Jesus se aardse stamboom vanaf Adam, Abraham en Dawid tot by Josef. In hierdie seisoen word die voorstel gemaak om ’n groot boom voor in die kerk te plaas om die stamboom van Jesus voor te stel. Die boom kan mettertyd versier word met simbole wat elke week verteenwoordig tot en met Kersdag. Die Kerstoneel kan ook iewers in die liturgiese ruimte ’n plek inneem.

Aanvangslied: Lied 327 “Dag van verlossing! Kyk, Hy kom vs 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord
Voorganger: God wat hoop gee, daar kom ’n tyd dat u huis ’n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom.
Gemeente: God gee ons hoop.

Voorganger: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, sodat ons God se wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe.”
Gemeente: Christus gee ons hoop.

Voorganger: Die Here sal oordeel oor die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.
Gemeente: Die Gees gee ons hoop.

Voorganger: God wat hoop gee, laat die hoop wat U vir ons gee, aanhou om in ons harte te leef sodat ons kan aanhou lewe in die lig wat van U af kom – ook te midde van hartseer, pyn, oorlog, woed en geweld (uit Jes 2:2-5).
Indien die adventskrans gebruik word, steek die eerste blou kers van die Adventskrans aan.

Seëngroet
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Romeine 1)

Sang: Lied 349 “Kom kinders besing met ‘n vrolike stem vs 1,2,3,4”

Verootmoediging
Daar kom ‘n nuwe bedeling in die Messiaanse heilstyd aldus Jesaja… (sien ook Miga 4:1-4)

Jesaja 2:1-5
Uit Sion kom die openbaring
2 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem.
2Daar kom ’n tyd dat die berg
waarop die huis van die Here is,
’n blywende plek sal hê
bokant die bergtoppe
en sal uitstaan bo die heuwels.
Al die nasies sal daarheen stroom,
3baie volke sal daarnatoe gaan en sê:
“Kom, laat ons optrek
na die berg van die Here toe,
na die huis van die God van Jakob
sodat Hy ons sy wil kan leer,
en ons daarvolgens kan lewe,
want uit Sion kom die openbaring,
uit Jerusalem die woord van die Here.”

5Kom, volk van Jakob,
laat ons lewe in die lig
wat van die Here af kom.

En ná die bedeling, ‘n verdere bedeling… waarin die Messias wat gekom het, weér sal kom…
En dit gebeur onverwags!

Matteus 24:36-44
Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms

(Mark 13:32–37; Luk 17:26–30; 34–36)
36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.

43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Reaksie
Hebreërs 12:1-3 ()
Die oog moet op Jesus gevestig wees.
12 Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Lied 602 “Ek sien ‘n nuwe hemel kom 1,2,3,4,5”

Geloofsbelydenis
Ons glo in die God van hoop,
God die Voorsiener wat ons al van die skepping af versorg en vashou.
Ons glo in die God van vrede,
in Jesus Christus wat in nederigheid eerder kniel en voete was, as om te veroordeel en te beskuldig.
Ons glo in die God van vreugde,
omdat ons saam met Jesus nou met nuwe lewe uit die graf die lewe in kan dans.
Ons glo in die God van liefde,
wat nie die dood sou ontsien om vir ons hierdie groot liefde te bewys nie.
Amen.

Loflied 602 “Ek sien ‘n nuwe hemel kom 1,2,3,4,5”

Liedere

F2.”Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën  –  Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.

Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader

om by U te wees,
om by U te wees.

1. As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:

Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,  
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God van ons lewe, daar kom dae
wanneer die laste wat ons dra
ons skouers skaaf en ons neerdruk;
wanneer die pad vorentoe droewig en eindeloos lyk,
die lug vaal, troosteloos en dreigend;
dae wanneer die lied uit ons lewe verdwyn
en ons hart eensaam is en ons siel moedeloos word.
Laat dan u lig skyn op ons pad,
rig ons oë op na die hemele van belofte;
snaar U ons hart vir die lied;
skenk ons die gemeenskap van die heiliges en helde van die eeue;
en sterk so ons gees om ook ander, wat die pad saam met ons bewandel,
te onderskraag tot u eer en verheerliking.
Amen.
(Augustinus se gebed in Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Romeine 13:11-14

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

By sermons for kids word die storie van die wekker vertel- spesifiek die wekker met ‘n “snooze” knoppie (mens kan dit seker met ‘n “sluimer-knoppie” vertaal).

Teks: 11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. (Romeine 13)

Voorwerp: Radio wekker met sluimer-knoppie  (“Snooze”)

Hoe word julle wakker in die oggend? Hoe gebeur dit dat julle eindelik betyds is vir skool?

Gewoonlik is daar ‘n Mamma wat lank voor die kinders besig en aan die gang is in die kombuis. ‘n Mamma wat dan haar kind saggies en stadig wakker maak om aan die gang te kom.

Maar daar is ook kinders wat ‘n eie wekker langs die bed het.  Dit is gewoonlik ‘n radio/wekker wat mens kan stel sodat die radio aanskakel op die tyd wat jy wil wakker word. Illustreer hoe die radio met die wekker aanskakel.

Maar so ‘n radio het ook ‘n “snooze” knoppie- as jy daardie knoppie druk nadat die radiowekker aangeskakel het, dan raak die radio stil vir nog so 5 of 10 minute, vandaar die woord “snooze”. Dan kan jy nog lekker vir 5 of 10 minute “snooze”/ sluimer voordat dit weer aanskakel om jou wakker te maak.

Maar die “snooze” knoppie is nie noodwendig ‘n goeie ding nie. As jy aanmekaar die knoppie druk gaan jy op die einde laat wees vir skool. Want jy hoef net die snooze knoppie te druk om nog lekker in te sluimer.

Die ander gevaar met ‘n “snooze” knoppie is dat jy so gewoond raak aan die alarm wat jy net kan “snooze” dat jy later glad nie meer die alarm hoor nie.

Nou, sommmige mense dink dat jy die Here se roepstem ook kan “snooze”… Hy roep jou vir die Kinderkerk of die kategese en al wat jy wil doen is iets anders. Ons teksvers wil eintlik leer dat ons mooi moet luister wanneer die Here ons aandag soek. Ons moet nou uit die slaap wakker word en vir die Here leef want die tyd van ons verlossing is naby!

Teks: 11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. (Romeine 13)
of
Lig en die tema van lewe in die lig as metafoor vir ’n lewe na God se wil, is ’n tema in sowel die sleutelteks as die teks uit Jesaja. Maak ’n paar kreatiewe versierings wat “lig” uitbeeld (soos gloeilampe, vlamme, sonne, sterre) as hierdie week se versierings vir die boom (oftewel die stomp van Isai, sien basisliturgie) in die liturgiese ruimte. Indien daar kinders in hierdie tyd van die jaar in die erediens is, kan daar vir hulle plek in die erediensruimte ingerig word waar hulle hierdie versierings kan gereedmaak en dit dan aan die boom kan hang.

Preekriglyn

Wie van julle gebruik ‘n wekker, soos ‘n alarm op jou selfoon, om jou soggens wakker te maak?

Die meeste sulke wekkers het ‘n opsie waar jy “snooze ” kan kies. Mens kan dit seker ‘n “sluimerknoppie” in Afrikaans noem. Wanneer die alarm afgaan, kan jy “sluimer” kies en verder slaap. Die wekker lui dan eers so tien minute later weer.

Jy kan weer en weer “sluimer” en bly slaap.

Hierdie sluimerknoppies het twee probleme. Die eerste is dat jy kan bly sluimer en op die ou end verslaap, sodoende laat wees en iets belangriks mis. Die tweede probleem is dat jy so gewoond aan die klank van die alarm kan raak waaraan jy jou in elk geval nie steur nie, dat jy net kan bly slaap. Jy hoor later nie eers meer die alarm nie.

God se wekker

God laat soms in ons lewens ‘n wekker afgaan. Die Here sê dis nou tyd om wakker te word: “Staan op en volg My.” Baie mens druk dan op die sluimerknoppie en sê dis nie nou geleë nie, die Here moet so bietjie later weer roep.

Baie mense gebruik die sluimerknoppie soveel keer hulle hoor nie eers meer die Here se stem nie. Een oggend skrik hulle uiteindelik wakker en besef dis te laat. Hulle het God se roeping heeltemal verpas.

In ons teks gaan so ‘n Goddelike wekker af:

Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het (11).

En:

Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort (12v).

Dis tyd vir wakker word en opstaan!

Kom ons stap deur ons teks en volg Paulus se oproep in hierdie gedeelte.

Tyd en geleentheid

Paulus begin ons teksgedeelte (13:11-14) met ‘n aanduiding van besondere tydsomstandighede. Hy sê die uur vir wakker word is vir gelowiges reeds daar. Vers 11 kan letterlik vertaal word: “Omdat ons die tydsomstandighede ken”.

Die woord wat hier vir tyd gebruik word, is nie kronologiese tyd – sekondes, ure en dae nie (die Griekse woorde vir kronologiese tyd is chronos). Paulus gebruik in ons teks egter die Griekse woord kairos. Dit is ‘n aanduiding van ‘n geleentheid, van ‘n beslissende oomblik, ‘n spesiale tydsperiode, ‘n tyd om te reageer.

Paulus sê in vers 11 dat die tyd van ons finale verlossing nader aan ons is as toe ons tot die geloof gekom het. Hy praat van Christus se wederkoms. Aangesien Jesus weer kom, is elke dag belangrik. Gelowiges moet met die verwagting leef dat Christus enige oomblik kan terugkeer.

Aangesien Jesus aan die kom is, is ons lewe van elke dag so krities belangrik. Ons moet elke geleentheid gebruik om God se roeping uit te voer. Ons moet wakker wees en die werke doen wat Jesus deur ons wil doen.

Werke van liefde

Paulus begin ons teks in verse 11 deur te sê: “En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is.”

Dit woorde “en dit alles is nodig” verwys na die voorafgaande verse, verse 8 tot 10. In daardie verse sê hy ons moet mekaar liefhê. Ons is dit aan mekaar verskuldig. Ons moet ons medemens liefhê, want so voer ons die hele wet van God uit. Al die gebooie kan saamgevat word in een gebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Waarom moet ons God se wekker hoor wat ons wakker maak vir liefde tot die naaste?

Wat die tye maan ons daartoe. Jesus is aan die kom. Die vraag is of Jesus ons besig gaan aantref, besig om te doen waartoe Hy ons geroep het.

Kairos-momente, geleenthede, is dringende oomblikke. Hierdie uur is ‘n tyd van beslissing. Gelowiges moet doeners van die Woord wees, nie net hoorders nie. Liefde moet dus ‘n handeling wees, want die koms van Christus is naby.

Duisternis en slaap

Aangesien die koms van Christus so naby is, word gelowiges opgeroep om vanuit die slaap wakker te word. Slaap gaan in ons teks gepaard met donker en duisternis. Daarom word hier met slaap ‘n lewe bedoel wat met die sondeduisternis van die wêreld gepaard gaan. Vanuit hierdie sonde, donker en duisternis, moet gelowiges opstaan en in liefde wandel, elke oomblik bereid om Christus te ontmoet. Immers, die verlossing is nou nader aan hulle as toe hulle gelowig geword het. Elke dag kom die tyd van Christus se wederkoms nader.

Duister bedeling

Vers 12 brei verder uit op die gedagte van nag, donker en duisternis. Die nag, sonde en duisternis, het al ver gevorder. Dit dui op die huidige bose bedeling wat reeds oorwin en verplaas word. Die nag (donker, duister, bose, sonde) kom al eeue lank aan, maar dit is amper dag (lig). Christus word hier as die Lig vir die wêreld voorgestel. Die nag of donker van hierdie lewe sal verbygaan met die koms van die lig, die Son van Geregtigheid, Jesus Christus!

Met die woordjie “amper” van vers 12, soos in “… dit is amper dag”, is dit duidelik dat Paulus verwag dat die koms van Christus naby is. Hierdie is die laaste dae (vgl Fil 4:5; Jak 5:9). Ons is sedert Jesus se menswording in die laaste dae. Dié dae sal duur tot en met Jesus se wederkoms in heerlikheid.

Alle gelowiges is sedert die eerste eeu verwonderd oor die lang versuim van die wederkoms. Nietemin het die nuwe bedeling reeds met die koms van Christus aangebreek. Dit is juis in hierdie tydsomstandighede dat Paulus die gelowiges aanmoedig om nie langer met hulle sondige lewe (werke van die duisternis) voort te gaan nie, maar eerder om die sonde met al sy gestaltes af te lê.

Wapens van die lig

Daartéénoor maan Paulus die gelowiges dat hulle eerder die wapens van die lig moet aantrek of aangord. (Verwys Paulus dalk hier na Jes 59:17; 2 Kor 6:7; 10:4; Ef 6:10-11, 13; 1 Tess 5:8?) Dit mag dalk juis so wees, want met die oorgang vanaf duisternis na lig, lê daar vir die gelowiges ‘n stryd voor wat nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die magte van die duisternis.

In vers 13 is Paulus baie spesifiek met wat met hierdie duisternis, donker of nag bedoel word, maar hy pleit eers dat gelowiges nou in hierdie uur juis welvoeglik sal lewe – ‘n lewe wat gepaardgaan met die lig.

“Ons moet welvoeglik lewe” (NAV) en “Laat ons welvoeglik wandel” (OAV). Dit was ‘n Hebreeuse idioom vir lewenstyl. Paulus gebruik dit niks minder as 33 keer in sy briewe nie. ‘n Welvoeglike lewe is dus ‘n lewe wat pas by Christus.

Die lewenswandel van die gelowiges moet beheers word deur die komende heerlikheid, deur die spanning van die verwagting van Christus. Dán eers word die lewe in die regte perspektief gesien en word die dinge op hulle juiste waarde getakseer.

Lys van sondes

Nou noem Paulus hierdie eienskappe van duisternis, donker en nag eienskappe spesifiek op die naam. Hy sê daar is dan nou geen ruimte meer vir drinkery en uitspattigheid, dronkenskap, ongebondenheid, twis en nydigheid nie, maar eerder vir ‘n lewe van lig waarin die liefde die vervulling van die wet is.

Hierdie lys van sondes dui op besopenheid wat tot seksuele wangedrag by heidense godsdiensrituele aanleiding gegee het. Die eerste paar sondes fokus op dronkenskap, terwyl die tweede eerder oor seksuele immoraliteit gaan – veral ook sosiale geleenthede van algehele losbandigheid. Die laaste paar handel oor onenigheid tussen mense.

Beklee met Jesus

In teenstelling met die lewe in duisternis, moet gelowiges hulle beklee, aantrek of aangord met die Here Jesus Christus (v 14).

Hierdie beeld dui op die koninklike kleed van Jesus wat nou om die skouers van gelowiges hang. Hierdie beeld word ook baie keer gebruik wanneer daar van die doop gepraat word. Die kledingmetafoor kom in vers 12 voor en is ‘n manier om gelowiges se nuwe status in Christus voor te stel. Dit beklemtoon ook dat gelowiges nou hulle nuwe status in Christus (vgl Ef 4:22, 24; Kol 3:8) moet inklee met ‘n nuwe leefstyl.

Prof Willie Jonker skryf hieroor dat gelowiges hulleself in Christus moet stel en in Hom moet skuil. Die werkwoord wat Paulus hier gebruik dui daarop aan dat dit iets is wat hulle by herhaling moet doen. As gelowiges is hulle dus reeds met Christus beklee, maar hulle moet hulleself telkens weer gelowig in Hom stel.

Jonker noem dat gelowiges nog die vlees en sondige natuur het. Die vlees vra voortdurend om gehoor en bevredig te word, maar dit mag die gelowiges egter nie meer doen nie.

Advent

Ons is nou in Adventstyd. Dit is die tyd van die jaar op die kerklike kalender waarop ons dink aan Jesus se eerste koms na die aarde. In hierdie tyd doen ons die volgende

  • Ons fokus op Jesus se koms na die aarde. Hy id die Messias, die Here en Verlosser van die wêreld;
  • Ons vier Jesus se koms as sy toetrede tot hierdie wêreld en dié se geskiedenis. Jesus kom om ‘n verlore en lydende mensdom te dien, en vir Hom ‘n kerk te versamel wat sy werk op aarde voortsit; en
  • Ons verkondig die belofte van die heil en heerlikheid wat Hy berei vir die mens, die natuur en die geskiedenis, wat uiteindelik met sy wederkoms in volle vervulling sal gaan.

Hierdie wonderlike gawe van God aan die mens, die Here Jesus, beteken dat die lig in ons wêreld begin skyn. Dit breek die duisternis.

Eskom

Dalk kan Eskom se lotgevalle ons help om die effek van duisternis op die wêreld te verstaan.

Die voortdurende Eskom-fiasko – die spreekwoordelike en letterlike lewe van duisternis – loop vir baie van ons uit op frustrasie, mismoedigheid, magteloosheid, woede en ander emosies. Dit affekteer almal en het ‘n invloed op alles, huishoudings, sakeondernemings, die ekonomie, misdaad, hospitale, skole, die kwaliteit van werk — die lys is eindeloos.

Hierdie situasie behoort ons ‘n idee te gee van wat Paulus hier met ‘n lewe in duisternis bedoel. Dit is ‘n lewe van sonde wat my geestelike lewe en bestaan beïnvloed, en lidmate, families en gemeenskappe affekteer, ‘n lewe van duisternis (sonde) wat kan uitloop op frustrasie, mismoedigheid, magteloosheid en woede.

Christus, die Lig

In so ‘n donker wêreld bring Christus die Lig. Die Lig deurbreek die effekte van sonde en die werke van die duisternis.

Christus het ons as kerk ingetrek in sy ligkring. Ons is die mense wat uit die duisternis gered is om mense van die lig te wees.

Dit is dringend om wakker te wees en te lewe as mense van die Lig. Moenie sluimer en slaap nie. Staan op en lewe as Lig.

Om as Lig te lewe, moet mens jou met Christus beklee. Ons moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus, mense wat nie voortdurend daarop uit is om ons sondige begeertes te bevredig nie.

Hierdie “beklee met Christus” is nie ‘n eenmalige gebeurtenis of geleentheid nie, maar ‘n oproep tot daaglikse bekering om sodoende ‘n lewe van lig, wat by Christus pas, aan te neem.

Dit is ‘n proses in ons lewens. Soms gaan ons faal. Daar gaan dae kom dat ons die sluimerknoppie gaan druk en in die spreekwoordelike donker vasval. Dit moet ons nie bemoedig nie. Ons moet wakker word, opspring en in die lig lewe.

Sodat die Lig ander verlig

Waarom moet ons aktief die werke van die lig doen? Teoloog Lesslie Newbigin sê dat die gemeente se lewe die evangelie vir ander mense uitlê en verstaanbaar maak.

Waarom sal mense wat hulle in die sonde verlustig, besluit om die Here te volg? Omdat hulle sien hoe die evangelie, die lewe in die lig, prakties werk in gelowiges se lewe. Hulle sien die lewe van vryheid in die Here, die vrede, die liefde en die onderlinge ondersteuning.

Augustinus

Een verhaal van iemand wat wakker geword het uit die duisternis, is dié van die groot kerkvader, Augustinus. Prof Dirkie Smit vertel:

In die jaar 386, in Milaan in Italië, sit drie vriende en gesels.  Die een is Augustinus, ‘n beroemde professor in retoriek uit Noord-Afrika.  Die ander twee is sy twee vriende Alypius en Ponticianus.  Daar lê ‘n Nuwe Testament geskrif op ‘n tafel en Ponticianus vra vir Augustinus of hy ‘n Christen is.

Nou Augustinus se ma, Monica, het toe al jare reeds vir hom gebid, maar hy moes antwoord, nee, hy is nie ‘n gelowige nie; hy kom net nie so ver nie, eintlik omdat hy sy eie lewenstyl – ‘n gejaag na plesier en sukses – te liefhet.  (Terloops, ‘n biskop het vir Monica, Augustinus se ma gesê:  “’n Kind van soveel gebed en trane kan nie verlore gaan nie”!)

Dan vertel Ponticianus vir Augustinus hoe hy onlangs tot geloof gekom het toe hy een van die woestynvaders, Antonius, se verhale gelees het, en hoe dié tot geloof gekom het toe hy in ‘n kerk gehoor het hoe daar uit die boek Matteus voorgelees is.  Dié woorde het Antonius só ontroer dat hy tot inkeer gekom het, en sy lewe dramaties verander het.

En Ponticianus het só onder die indruk van die krag van die Woord in die lewe van Antonius gekom, dat hyself ‘n volgeling van Jesus geword het.

Die gesprek en getuienis van sy vriend het Augustinus hewig ontstel.  Dit het hom opnuut verward en leeg laat voel, vol van verlange na die vreugde wat Ponticianus en Antonius in die Woord en in ‘n verhouding met Jesus ontdek het.

Hy het opgestaan en in ‘n tuin daar naby gegaan om alleen te wees.  Onder ‘n vyeboom het hy in trane uitgebars.  En dan hoor hy ‘n stem.  Êrens, daar naby, hoor hy ‘n kinderstem wat sing, dieselfde woorde oor en oor.  En hoewel hy nie kan uitmaak of dit ‘n seuns- of dogterstem is nie, kan hy die woorde van die liedjie duidelik hoor: Tolle, lege.  Tolle, lege.  Neem, lees.  Neem, lees.

Dit is asof Augustinus weet die woorde is vir hom bedoel.  Hy draai om, gaan die huis binne, neem die Nuwe Testamentiese boek op die tafel en begin lees by Romeine 13:13 en verder.  En oombliklik is die Woord vir hom soos ‘n spieël, waarin hy homself sien: “Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort.  Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.” 

En in die sien van homself, in alle eerlikheid skuldig aan alles wat die Woord sê nie in sy lewe moet wees nie, kom daar ‘n verandering, toe hy verder lees en agterkom die geheim van ‘n oorvloedige lewe lê in die afskeid van sy sondige begeertes, en die navolging van Jesus Christus (vers 14).  En hy kom tot geloof in Jesus Christus, tot groot vreugde van sy ma.

En die res van die verhaal is vir ons bekend: Augustinus word waarskynlik die grootste denker en teoloog, nie net van sy eie tyd nie, maar van alle tye. Die praktiese uitvoering van die liefdesgebod speel ‘n sentrale rol in sy teologie.

Grafika: Google advanced search

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën
Van die dag en die uur van die wederkoms van Jesus Christus dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen.
Maar tot hierdie dag sal die genade en vrede van ons Here Jesus Christus,
die liefde van God ons Ouer,
en die teenwoordigheid van en gemeenskap met die Heilige Gees met ons elkeen wees en bly.
Amen (uit Matt 24:36).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.