Een en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In Markus 10 vra Johannes en Jakobus vir Jesus of hulle in die koninkryk die bevoorregte plekke weerskante van Jesus sal kan inneem. In die teks uit Job 38 reageer God op Job se begeerte om sy saak persoonlik aan God voor te lê. In Psalm 104 besing die psalmdigter die grootheid van God soos dit in die skepping na vore kom. Dit klink net soos die woorde van God aan Job. Hebreërs 5 sê Jesus is deur God as Hoëpriester aangewys om die bron van ewige verlossing te word.

Die teks uit Job, Psalms en Hebreërs werp van verskeie kante lig op Jesus se aankondiging van sy lyding.

Ander tekste 

Job 38:1-7 (34-41)
Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is
om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit?
Wie het ’n maatlyn
oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre
saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?

Psalm 104:1-9
Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ’n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel
soos ’n tentdoek gespan3en vir U
’n woonplek ingerig
het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
6Die groot waters het die aarde
soos ’n kleed oordek,
die waters het bo-oor die berge gestaan.
7Maar toe U die waters aanspreek,
het hulle gevlug,
voor die krag van u stem
het hulle die wyk geneem.
8Hulle het oor die berge gespoel
en in die laagtes weggevloei
na die plek toe wat U
vir hulle bestem het.
9U het ’n grens gestel
waaroor hulle nie mag gaan nie:
hulle mag die aarde
nie weer oordek nie.

Hebreërs 5:1-10
Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”

6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Sleutelteks

Markus 10:35-45

VERSOEK OOR JAKOBUS EN JOHANNES: (Matt 20:20-28)
35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.” 36Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”37Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.” 38Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?” 39Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.”

41Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes. 42Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 43So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 44en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. 45Want ook die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.” (2020-vertaling)

Ekstra stof

Teks en konteks
10:35-37 Die twee “seuns van die donder” (Boanerges – Mark. 3:14), Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, is aangevuur deur die boodskap van die opstanding en vra van Jesus dat hulle graag aan sy regterkant en linkerkant onderskeidelik wil sit in sy heerlikheid. Natuurlik voorkeur posisies. Matteus vertel vir ons dat hulle ma eintlik die woordvoerder was (Matt 20:20).

10:38 Jesus wil egter weet of hulle regtig die pad na die heerlikheid – sy lydenspad – verreken het in hulle opgewondenheid. Hy vra daarom of hulle regtig die lydensbeker wat vir Hom voorlê sal kan drink (vgl. Jesus se gebed in Getsemane – Matt 26:39 – en sy voorneme om dié beker uit sy Vader se hand te aanvaar – Joh. 18:11) en met sy doop (van dood) gedoop sal kan word (vgl. Rom. 6:5).

10:39 Hulle antwoord laat Jesus besef dat hulle dieper hieroor gedink het en dat hulle inderdaad bereid is om die lydenspad te loop. Hy erken hulle offervaardigheid, want hulle sal inderdaad sy beker drink en sy doop ondergaan. Jakobus is deur Herodes Agrippa I met die swaard doodgemaak (Hand 12:1-2) en Johannes het nie net ‘n ballingskap (moontlik twee keer) op die eiland Patmos deurstaan nie (Openb. 1:9), maar is volgens van die kerkvaders tydens sy verhoor in Rome gemartel deur hom in kokende olie te laat sak, sonder dat hy op wonderbaarlike manier egter iets oorgekom het.

10:40 Dié feit beteken egter nie dat Hy hulle versoek kan toestaan nie, want dit is God se prerogatief om dié posisies van gesag en eer uit te deel.
10:41 Die ander tien dissipels was egter verontwaardig hieroor wat verdere lering hieroor genoodsaak het.
10:42-4 Jesus roep hulle daarom nader en leer die dissipels dat die hiërargie van gesag in die samelewing – die regeerders oor nasies, die grotes wat mag uitoefen – nie ‘n plek in die geloofsgemeenskap het nie. As ‘n mens groot wil wees in die geloofsgemeenskap moet jy die ander se dienaar word. Jesus praat eintlik van ‘n “slaaf” – ‘n “bond-servant”- wat homself verkoop om in diens van iemand anders te wees.

10:44 Jesus herhaal dit en wys dat eerstes doelbewus laastes moet wees. Dat hy wat eerste wil wees, almal se slaaf moet wees.
10:45 Jesus illustreer dit dan met sy eie lewe as voorbeeld. Hy as die Seun van die mens (Dan 7:13) het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. En Hy sal die radikaliteit daarvan demonstreer deur sy lewe as ‘n losprys vir baie – dws vir dié wat in Hom glo – te gee (Jes. 53:10-12). Die gedagte agter die losprys kom van die losprys wat volgens die wet voorgeskryf is in verskillende situasies (Eks 21:29-30; 30:11-16; Num. 3:11-13). Jesus sal gelowiges loskoop van die skuld van hulle sonde deur sy kruisdood.

Boodskap en betekenis
‘n Mens moet altyd fyn lees wat in die teks staan, want die versoek van Jakobus en Johannes kom nie soseer uit hoogmoed nie, maar uit hulle radikale verbintenis aan Jesus. Hulle het inderdaad ook gedoen waaraan hulle hulle hier verbind het. Hulle misverstand het met die omgekeerde waardes van die koninkryk te make. Hulle het nog nie diep genoeg die beginsel van eerste wat laastes is, en laastes wat eerstes is, verstaan nie.

Daarom leer Jesus hulle met deernis, maar ook duidelik. Sodat hulle kan leer en in geestelike volwassenheid kan groei.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 532

Votum: (Psalm 104:1 Die Boodskap).

Seëngroet: Trinitariese groet

Lofsang: Psalm 104 of VONKK of Flam 463 of Lied 184 L

Verootmoediging: Filippense 2:1-4

Toewyding: VONKK 328

HOOR

Gebed
Familie-oomblik

Skriflesing: Markus 10:35-45a

Preek

LEEF

Gebed: [Outeur: John Baillie (1886-1960) – Uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”]

Dankoffer

Slotsang: VONKK 63 [bekend] of Lied 276

Seën: (N.a.v. gebed van St Francis van Assisi)

Respons: Lied 534 “Stuur ons uit, Heer”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 532 “Ons Vader, neem ons hande”

Votum
Voorganger: Kom prys die Here!
Gemeente: Here daar is niemand wat groter as U is nie! U is so groot, U kan nie met woorde beskryf word nie (Psalm 104:1 Die Boodskap).

Seëngroet
Trinitariese groet

Lofsang
Psalm 104 of
VONKK 322 Laat leef in ons dieselfde hart as Jesus
F463. Here, Ek Wil U Loof (Psalm 104 / Here, U Gee Alles Wat Leef) of
Lied 184 “Lofsing die Here”

Verootmoediging: Filippense 2:1-4
Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – 2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Toewyding
VONKK 328 Alles, alles is genade

Liedere

VONKK 322 “Laat leef in ons dieselfde hart as Jesus”
Nav Filippense 2:5-11 Teks: Hannes van der Merwe 2016 © Melodie: MASELSPOORT – Anton Esterhuyse 2016 ©
Orrel- en klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2016 ©
© Afrikaanse teks, melodie,  orrel- en klavierbegeleiding: 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kontemporêr – Lofprysing / Verwondering / Openbare Belydenis van  Geloof  /  Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. Laat leef in ons dieselfde hart as Jesus –
Hy wat uit goddelike voorbestaan
Homself verneder het op hierdie aarde
en tussen ons as mens, as slaaf kom staan.
Ons sing u lof, o Seun van God, die Vader.
U daal tot ons in liefde, deernis neer.
Ons wil sing van al u wonderwerke.
Ons glo in U, die grote God en Heer.

2. Toe Jesus hier as mens aan ons verskyn het,
het Hy Homself verneder aan die kruis.
Hy was gehoorsaam aan sy Hemelvader
en met sy dood het Hy God’s hart gewys.
Ons voeg ons stem by elke stem op aarde.
Ons buig die knie en laat ons tong bely:
U’s die Christus, U is onse Here.
U is die Redder en die Heer vir my!
U is die Redder en die Heer vir my!

F463. “Here, Ek Wil U Loof (Psalm 104 / Here, U Gee Alles Wat Leef)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof) Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: © Urial Publishing

1. Here, ek wil U loof,
Here my God, U is groot.
U’s met majesteit beklee
met ’n kleed van lig omhul.

2. Dis U wat die hemelboog
soos ’n tent oor die aarde laat span.
Dis U wat op wolke ry
op die vlerke van winde gly.

Refrein:
Here, U gee alles wat leef
lewe in oorvloed uit u hand.
Asem wat leef vir elke mens
en reën uit die hemel vir die land.
Ek wil tot eer van die Here sing
aolank as ek leef.
Ek wil die lof van my God besing
solank as ek leef, sy naam besing.

3. Dis U wat die weerlig beveel
die winde u boodskappers maak.
U laat die aarde staan
en waters vlug voor u Naam.

4. Here, U’t alles geskep
in wysheid alles gemaak.
Die son weet om onder te gaan
en die maan ken sy wentelbaan.

Refrein:

Brug:
Die aarde is vol van u heerlikheid
alles moet buig voor u majesteit.
En mag u roem sonder einde wees,
O mag my pryslied vir U alleenlik wees.

Refrein:

Here, ek wil U loof
Here my God, U is groot.

VONKK 328 “Alles, alles is genade”
Nav Efesiërs 2:1-10 Teks: Jacques Louw 2016 © Melodie: NETTLETON – John Wyeth 1812
Orrelbegeleiding: John Wyeth 1812 © Melodie en orrelbegeleiding: Openbare besit © Teks: 2016 VONNK -Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Klassiek  –  Openbare belydenis van geloof / Liefde, Dankbaarheid en    Diens / Geloof en Vertroue

1. Alles, alles is genade,
onverdiende guns alleen.
God kom red ons van die sonde
deur die liefde van sy Seun.
In sy raadsplan lank tevore
is ons uitverkies in Hom.
Deur geloof in Jesus Christus
is ons nou sy eiendom.

2. God wat ryk is in genade,
reik na ons sy vaderhand.
Jesus wys ons wat is liefde –
liefde ver bo ons verstand.
Jesus kom en gee sy lewe;
laat ons God se  liefde sien.
Hierdie redding is genade
wat ons nooit ooit kan verdien.

3. Hierdie redding is ’n gawe
waarop niemand sou kon roem.
Bedelaars en sondeslawe
kan hulself u kinders noem.
Ek wil met my hele wese
nou my lewe aan U wy.
Alles, alles is genade,
onverdiende guns aan my.

VONKK 63 “Die Here Jesus Christus”
Matteus 16 : 24-28 Teks: Die Heer oor al wat lewe – AP van der Colf 1988; Jacques Louw 2010 ©
Melodie: MORNING LIGHT – George J Webb 1837 Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2001. Met toestemming NG Kerk-Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. Die Here Jesus Christus, kom alles van my vra:
“Kom dra, deur selfverloëning, jou kruis en volg My na.”
Wie vir homself wil lewe – met selfsug God wil dien –
sal nooit die nuwe hemel, Sy koninkryk kan sien.

2. Wat help dit dat ons mense so streef na aardse wins?
Hoe sal ‘n mens jou lewe kan ruil vir God se guns?
Nee, elkeen wat die lewe net vir homself wil hou,
is aan die Heer se opdrag, sy doel vir ons ontrou.

3. Die Here vra ons almal dat ons onsself verloën,
want só kan ons aan ander ons Heer se liefde toon.
Is daar ‘n blyer boodskap? Wat kan ons meer verwag?
Wie met die Here sterwe, herleef ook deur sy krag.

4. Wanneer die Here Jesus weer eendag t’rug sal kom,
kom Hy beklee met luister, met eng’le rondom Hom.
Dan kom Hy om te oordeel oor dade – goed en kwaad.
Volg jy Hom dan gehoorsaam. Dien Hom met woord en daad.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Familie-oomblik

Skriflesing:Markus 10:35-45a

Preek

Familie-oomblik

Hier is ‘n paar idees wat jy kan ontwikkel om by jou konteks te pas:
Gesels oor diensbaarheid en wat dit beteken om mekaar te dien, soos Jesus vir ons ‘n voorbeeld is. Jy kan ‘n voorskoot gebruik om te gesels oor maniere waarop ons mekaar kan dien. Rebecca St James sing ‘n lied genaamd Here’s the way, wat gaan oor mense wat almal graag die eerste beurt wil hê. Diensbaarheid is om te sê dis eerste jou beurt (gebaseer op die teks dat die eerste laaste sal wees en die laaste eerste).

John Stevens stel voor dat jy ‘n regte spaghetti lepel gebruik (so een). Stevens praat oor die regte “tool” vir die regte taak. Persoonlik sou ek spaghetti saambring om dit te illustreer. As jy spaghetti met ‘n groot lepel probeer skep, kan jy dit soortvan regkry, spaar stringetjies op ‘n slag. Maar met ‘n spaghetti lepel skep dit lekker. So het God ons geskape vir ‘n spesifieke doel: om diensbaar te wees. (Kyk Stevens se video vir sy verduideliking van die konsep.)

OF gesels oor wat dit beteken om belangrik te wees. Wanneer is ‘n mens belangrik?
Carolyn Brown praat oor hoe belangrik dit vir kinders is waar hulle sit aan tafel. (Ek sal byvoeg: wie kan “shotgun” ry – wie sit voor in die kar langs die bestuurder?) Aan tafel: kan hulle aan die “grootmens tafel” sit, of moet hulle by die kindertafel sit? Wie sit langs ouma? Ens. Dit was ook vir die dissipels belangrik wie waar sit.

Brown wys ook na sport spanne (bv sokker spanne) wat moet leer om as ‘n span saam te speel. Deel daarvan is om die bal aan te gee (te “pass”). Die span kan net ‘n doel kry as spelers die bal vir mekaar aangee en nie net vir hulleself hou nie. Leiers is mense wat nie net hul eie glorie soek nie, maar doen wat die beste is vir die span.

Preekriglyn

Ons is maar te bewus van die verwoestende gevolge van leierskap wat fokus op die voordele, eer en status van die leiers, eerder as die versorging van God se mense en God se aarde. Leierskap wat ‘n bepaalde groep se belange dien eerder as almal se belange, verwoes.

In die era van staatskaping sien ons helder hoe leiers op alle vlakke dikwels eie belang bo algemene belang stel. Suid-Afrika het ‘n eeue-oue verwoestende geskiedenis hiervan. Die wêreld het ‘n eeue-oue geskiedenis hiervan. Dit is waar van die hele mensdom.

Ons moenie net aan die staat, groot korporasies, gemeenskapsinstellings en die kerk dink as ons van leierskap praat nie. Leierskap is ook van toepassing in die gesin (waar ouers leiding neem), die buurtwag, die skoolkomitee, die tuiste vir bejaardes, en wat nog alles.

Leierskap het ook nie net met formele posisies te doen nie. ‘n Leier het dikwels nie ‘n formele posisie nie, maar het wel invloed. Ander luister en volg.

In hierdie teksgedeelte leer Jesus ons God se bedoeling met leierskap. Ons leer verstaan watter soort leierskap God se goedkeuring wegdra. Jesus is ‘n voorbeeld hiervan

Ons teks

Kom ons verken ons teks:

Vreemde versoek
Markus 10:35 begin met ‘n vreemde versoek van twee dissipels. Jakobus en Johannes, seuns van Sebedeus, kom na Jesus: “Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons U ook al mag vra” (1953-vertaling). Met hierdie versoek dring die twee dissipels daarop aan dat Jesus vir hulle iets moet doen, nog voordat hulle die inhoud van die verwagte guns geformuleer het. Jesus trap nie in hulle strik met ‘n ja-antwoord of belofte nie, maar antwoord hulle in vers 36: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Jesus lok hulle uit om eers die spesifieke guns te verwoord, alvorens Hy ‘n uitspraak maak.

Uiteindelik sê die twee dissipels vir Jesus: “Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u regter en een aan u linkerhand.” Hulle het verwag Jesus moet hulle versoek positief oorweeg, dalk dadelik in werking stel. Die frase “in u heerlikheid” slaan op ‘n koninkryk wat al die wêreldse koninkryke in uiterlike glorie oortref, soos hulle dit vir hulleself voorgestel het. Wanneer Jesus sou sit, beteken dit letterlik op die troon van sy Vader. Om langs Jesus te wees, sou mag en gesag beteken. Om aan die regterkant te sit, is vir die Jode ‘n teken van eer en toegeneentheid.

Motief agter die versoek
Vers 38. Jesus stel hulle onkunde aan die kaak as Hy antwoord: “Julle weet nie wat julle vra nie.” Hulle rig die versoek vanuit selfsug en nie met die oog op die eer van God en hulle eie geestelike welsyn nie. Hulle het geen idee van Christus se koninkryk en heerlikheid gehad nie. Hulle droom van wêreldse eer en grootsheid, terwyl Jesus se koninkryk nie van hierdie wêreld is nie, maar van ‘n geestelike aard.

Hierdie twee dissipels praat oor dinge wat nie in Christus se koninkryk (op aarde of in die hemel) ter sprake is nie, naamlik posisies van eer en aansien waarvolgens sommige verhoog sou word tot ‘n plek aan Jesus se linker- of regterhand. Hulle rig hierdie versoek, afgesien daarvan dat daar nie tussen gelowiges onderskeid ten opsigte van belangrikheid bestaan nie. Almal, broeders en susters met die Here Christus as hoof, is lede van dieselfde liggaam. In die heerlikheid wat God bring sal nie grade van belangrikheid wees nie, maar alle gelowiges sal in dieselfde geluk deel.

Jesus vra ook of hulle die beker kan drink waarvan Hy drink en gedoop word met die doop waarmee Hy gedoop is. Christus praat hier in die teenwoordige tyd, deels omdat sy pyn en lyding reeds begin het. Hy het reeds aan die beker van smarte begin drink. Hy was sy lewe lank met droefheid bekend. Alhoewel Jesus nog nie met die bloedige doop gedoop is waarvoor Hy in die wêreld gekom het nie, was Hy daarvan verseker dat die beker van smart en lyding Hom nie sou verbygaan nie en dat Hy die doop van sy lyding sekerlik sal volbring. Dit is ‘n handeling wat die dissipels op daardie stadium nie kon begryp nie.

Onbegrip
Tog antwoord die dissipels in vers 39, steeds vanuit hul onkunde, dat hulle dit kan doen. Ja, hulle kan die beker drink wat Hy drink en hulle kan gedoop word met die doop waarmee Hy gedoop is. Hulle antwoord so omdat hulle nie hulle eie swakheid besef of die omvang van Christus se lyding verstaan nie. Indien hulle ‘n idee daarvan gehad het, sou hulle die genade van God en hulle afhanklikheid van die krag van Christus erken het.

Jesus reageer en sê vir hulle: “Ja, julle sal sekerlik die beker drink waarvan ek drink en met die doop waarmee ek gedoop is, sal julle gedoop word.” Jesus bedoel nie hulle sal dieselfde lyding ondergaan en vir dieselfde doel as Hy nie, maar wel dat hulle lyding ter wille van Hom sal verduur. So is Jakobus later deur Herodes met die swaard verslaan en Johannes deur die Joodse Sanhedrin in die gevangenis gegooi om uiteindelik ‘n wrede dood te sterf.

Jesus gee weliswaar toe hulle sal die lydensbeker drink, maar Hy kan hulle nie regs en links van Hom in die Vader se koninkryk laat sit nie: “Maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand, berus nie by My om te gee nie, maar dit is vir hulle vir wie dit berei is” (v 40).

Jesus se uitspraak berus daarop dat Hy eerstens nie sulke uiterlike gunste of wêreldse eerbewyse uitdeel nie. Tweedens was dit nie vir Hom as mens gegee om diegene aan te wys wat saam met Hom in die koninkryk van die hemele sou regeer nie. Alhoewel al die eer aan Hom as Middelaar gegee is en Hy dit aan ander kan gee, gee Hy dit tog aan niemand nie. Jesus beklemtoon dat die persone aan wie Hy dit moet gee, persone is vir wie sy Vader die eer voorberei.

Die ander verontwaardig

Die dialoog tussen Jesus en Johannes en Jakobus speel voor die ander dissipels af. Toe die ander dissipels hoor wat Jakobus en Johannes versoek, was hulle woedend en ontsteld (1983-vertaling: “verontwaardig”). Hulle het verbaal en liggaamlik gereageer. Volgens ander vertalings “het hulle teen hulle begin murmureer”. Gemoedere tussen die dissipels het hoog geloop, totdat Jesus die dissipels na Hom toe geroep het.

Alhoewel die tien woedend was oor die opportunisme van Jakobus en Johannes, was dieselfde ambisie en opportunisme ook in hulle harte aanwesig. Daarom het Jesus al die dissipels na Hom toe geroep en vir hulle gesê:

Julle weet, die wat gereken word as owerstes van die nasie, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen, maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees.

Leierskap is diens

Christus sê aan sy dissipels hierdie gedrag behoort nie so onder hulle te wees nie. Die gees van heers/oorheersing/hoog/belangrik/eerste wees, is wêrelds. Dit hoort nie so onder die dissipels te wees nie, maar dié wat groot/owerstes/heers/eerste wil wees, moet diensknegte wees.

Dit is die omgekeerde van wat die Jakobus en Johannes in gedagte gehad het toe hulle Jesus aanvanklik met hulle versoek genader het. Hulle wou juis setels of sekere posisies ontvang, sodat die res aan hulle onderworpe sou wees. Om ‘n dienskneg te wees, is egter die enigste weg tot voorkeur en grootsheid in Christus se koninkryk. Dienaarkap beteken om pyn en swaarkry te verduur en om eer aan God te gee. Dus, wie die grootste/belangrikste wil wees of die hoogste rang nastreef, sal omgekeerd ‘n dienskneg van almal moet wees.

Jesus die voorbeeld

Ons teks eindig met vers 45: “Want die seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”

Die benaming “Seun van die mens” verwys na Christus self en kom in sowel die Ou as die Nuwe Testament voor. Jesus het Homself as voorbeeld gebruik om vir die dissipels te wys wat dit beteken om ‘n dienskneg te wees. Jesus dien as voorbeeld om nederigheid en sagmoedigheid aan sy dissipels te leer, téénoor hulle ambisie en opportunisme. Jesus beklemtoon dat Hy as die dienskneg van die Here gestuur is. Hy het in sy profetiese amp die evangelie aan mense in die gesindheid van ‘n dienskneg bedien, terwyl Hy omgesien het na die versorging van liggaam en siel.

Die groot werk waarvoor Jesus gekom het, was vir die verlossingswerk wat Hy gewillig en getrou onderneem en volbring het. Jesus het sy lewe as losprys vir baie mense gegee om hulle van sonde, Satan en die wet te verlos en om hulle van die toorn van God en die ewige dood te bewaar. Dit het Jesus gedoen deur sy lewe af te lê.

Kruisgestalte van leierskap

Dissipelskap is deels die rede waarom die Markusevangelie geskryf is. Markus se gemeenskap het vergeet die kruis is die kern van dissipelskap. Markus herinner sy gemeenskap daaraan dat die kern van dissipelskap daarin lê dat iemand wat Jesus wil volg, sy kruis moet opneem.

Daarom kom dissipelskap in Markus in drie leringe van Jesus ter sprake, wat opgeteken is in:

  • Markus 8:34-38 (Tema: dissipels neem hul kruis op, verloën hulself en volg Jesus na);
  • Markus 9:35-37 (Tema: dissipels word soos kinders, wil nie die belangrikste wees nie, is bereid om laaste te wees en te dien – soos kinders), en
  • Markus 10:42-45 (Tema: elkeen wat groot wil wees, moet ander dien).

Die laaste lering is die verse van die teks wat ons hierdie week oordink. Jesus maak duidelik dat elkeen wat groot wil wees, ‘n dienaar moet wees (10:43-44).

Jesus sê in al drie van sy leringe oor dissipelskap dat voornemende volgelinge bereid moet wees om te dien soos wat Hy gedien het. Dissipelskap beteken navolging in die lyding van Jesus.

In navolging van Jesus is niemand bo ‘n ander verhewe nie, maar almal is gelyk. Vir dissipels beteken navolging van Jesus dat hulle in die nuwe huishouding van God soos kinders word. Hulle is mense wat in die oë van die wêreld geen status het nie, maar wél in die oë van God. Dissipelskap binne Jesus se sosiale konteks beteken dus om nie in die oë van die wêreld gereken te wees nie, maar wel in God se koninkryk.

Onkunde en onbegrip

Die onkunde van die dissipels word in die leringe van Jesus ontbloot:

  • Petrus neem Jesus eenkant toe en berispe Hom nadat Hy die eerste keer sy lyding aankondig (8:32-33).
  • Die dissipels stry oor wie die belangrikste in die koninkryk van God gaan wees (9:36-37).
  • Johannes en Jakobus wil aan Jesus se linker- en regterkant sit wanneer Hy as koning heers (10:35-37).

Die dissipels verstaan dus nie wat Jesus werklik van hulle vra nie. Jesus reageer op sy dissipels se onkunde deur te verduidelik hoe die koninkryk van God werk. Die dissipels verstaan egter steeds nie.

Hierdie onkunde duur vandag steeds voort, ook ons gelowiges. Daar is ook baie modelle vir “suksesvolle” gemeente-wees wat uit hierdie onkunde voortspruit. Leierskap word as die styl van hoof- uitvoerende beamptes of direkteure en eienaars verstaan, eerder as dienende leierskap.

Riglyne

Ons Skrifgedeelte gee uitstekende riglyne vir koninkryksleierskap:

  • Elkeen wat groot wil word, moet ‘n dienaar wees (10:43-44).
  • Kinders, die minste van die minste, moet in die middelpunt van die gemeenskap gestel word.
  • In die nuwe gemeenskap is daar geen plek vir ekonomiese klas, voorregte of status nie (10:17-31).
  • Leierskap behoort nie as instrument van dominering gebruik te word nie (10:35-41).
  • Daar moet gelykheid in waardigheid binne die gemeenskap van gelowiges geld.
  • Leierskap is wel nodig, maar dan nie in verhewenheid bo ander nie.
  • Inklusiwiteit (almal is belangrik, aanstellerigheid is uit) behoort dié groepering te kenmerk.

Navolging kan nie los van Jesus geskied nie. Begrip van Jesus se werklike identiteit en navolging van Hom ontmoet mekaar by die kruis. Jesus word as gekruisigde gevolg. Dissipelskap beteken reisgenootskap en deelgenootskap aan die lyding van die kruis. Dissipels moet bereid wees om Jesus se lot ook hulle lot te maak. Wat Jesus met navolging vra, is ‘n lewe van diensbaarheid en gehoorsaamheid aan God, tot aan die einde toe.

Kerk en samelewing vandag

In die Jesusbeweging het die dissipels nie gesagsposisies beklee nie. Van hulle is dissipelskap en diensbaarheid verwag. Daarom is diensbaarheid vandag steeds die wesenskenmerk van die uitoefening van enige amp in die kerk.

As dit lyk asof die dissipels se opportunistiese en ambisieuse aanslag en siening die oorhand oor hulle wil kry omdat hulle belangrikheid en status soek, roep Christus sy dissipels tot orde. Hy hou Homself as voorbeeld van diensbaarheid voor.

Daarom mag leierskap nie as instrument van dominansie gebruik word nie. Daar is gelykwaardigheid (gelykheid voor God) in die gemeenskap van gelowiges wat Jesus navolg. Alhoewel leierskap ook in so ‘n groepering nodig is, mag dit nie tot selfverheffing lei nie.

Die kerk moet ook ‘n agent wees wat die samelewing voorgaan en leer oor egte leierskap.

Eersdaags (1 November 2021) stem Suid-Afrikaners in die plaaslike verkiesings. Dit is ‘n goeie tyd om na te dink oor egte leierskap en ‘n stem uit te bring vir iemand wat dit nie net belowe nie, maar steeds toepas.

God stuur ons om te leef

Gebed
[Outeur: John Baillie (1886-1960) – Uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”]
Leer my, Here, om al my lewensomstandighede vandag só te benut dat die vrug heilig sal wees en nie sondig nie.
Leer my om teleurstellings te omskep in geduld.
Leer my om sukses te omskep in dankbaarheid.
Leer my om onsekerhede te omskep in volharding.
Leer my om gevaar te omskep in moed.
Leer my om kritiek te omskep in geestelike groei.
Leer my om komplimente te omskep in nederigheid.
Leer my om versoekings te omskep in selfbeheersing.
Leer my om pyn te omskep in volharding.
Amen

Dankoffer

Slotsang
VONKK 63 Die Here Jesus Christus [bekend] of
Lied 276 “Leer ons om in eie oë”

Seën
(N.a.v. gebed van St Francis van Assisi)
Die Here maak jou ‘n instrument van sy vrede.
Mag jy nie soseer soek
om getroos te word nie as om te troos;
om verstaan te word nie as om te verstaan;
om bemin te word nie as om lief te hê.
Want dit is deur te gee dat ons ontvang;
dit is deur te vergewe dat ons vergewe word;
en dit is deur te sterwe dat ons tot die Ewige Lewe gebore word.

Respons
Lied 534 “Stuur ons uit, Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.