Een en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerend in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.

Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Ghandi, moeder Theresa, Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.

En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur en nou onlangs in Egipte, Tunisië en Libië wat ‘n enorme effek op die regerings gehad het, en reeds tot die val van die eerste twee gely het – dié inspireer ons.

En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here.

Ander tekste

Psalms 91:9-16
9Omdat jy die Here as skuilplek
geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek
kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet
teen ’n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy dood trap.
14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Hebreërs 5:1-10
5 Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Markus 10:35-45
Die versoek van Jakobus en Johannes

(Matt 20:20–28)
35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.”

36“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra.
37Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

38“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”

39“Ons kan,” sê hulle vir Hom.
Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”

41Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. 42Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. 43Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Fokusteks

Jesaja 53:4-12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1, 2”

Aanvangswoord
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm. Amen
(Psalms 123:2)

Seëngroet
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!
(2 Timoteus 1:2)

Lied 280 “Here redder groot en magtig 1,2,3”

Verootmoediging
Die Woord as spieël waarin ons ons tekortkominge en sonde herken…

Matteus 5:3-12
3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort
die koninkryk van die hemel.
4Geseënd is dié wat treur,
want hulle sal vertroos word.
5Geseënd is die sagmoediges,
want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word.
7Geseënd is dié wat barmhartig is,
want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
8Geseënd is dié wat rein van hart is,
want hulle sal God sien.
9Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.
10Geseënd is dié wat vervolg word
omdat hulle doen wat reg is,
want aan hulle behoort die koninkryk
van die hemel.
11“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

Skuldbelydenis
Voorganger: Met vertroue op die genadige liefde van God, bely julle julle sonde?
Gemeente: Ons het gesondig en neem dankbaar Jesus se reinigende vergifnis aan.

Voorganger: Verloën julle die mag van die bose in julle lewe en in die wêreld.
Gemeente: Dankbaar vir Jesus se oorwinning en die krag van die Heilige Gees verloën ons dit.

Voorganger: Wie is julle Here en Redder?
Gemeente: Laat die wêreld dit hoor: Jesus Christus is ons Here en ons Redder.

Voorganger: Sal julle Christus se getroue dissipels wees? Gehoorsaam aan sy Woord in liefde teenoor almal?
Gemeente: Met God se hulp sal ons dit doen!
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Vryspraak
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.
(Hebreërs 5)

Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1, 3”

Riglyn om te lewe
Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”
(Markus 10)

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

Flam 60 “U liefdeslied vir my”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek:  Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee

U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.

Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my

Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

VONKK 194
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?
Was jy daar toe hy wreed mishandel is?
Daar aan die kruis het hy betaal vir al ons sonde sonde sonde.
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?

Kan jy sien hoe hy daar vir jou moes ly?
Al die haat waardeur hy geduldig bly?
Daar aan die kruis het hy betaal vir al sonde sonde sonde.
Kan jy sien hoe hy daar vir jou moes ly?

Weet jy nou waarom het hy daar gehang?
Weet jy nou waarom hy so swaar moes ly?
Daar aan die kruis het hy betaal vir al ons sonde sonde sonde.
Weet jy nou hy het dit alles vir jou volbring?

VONKK 11 “Here, Wees Ons Genadig” 
Teks: Jannie Hougaard 2003  © nav Kyrie eleison
Melodie: MINKIE-ANNE — Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief — Skuldbelydenis

Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig,
wees ons genadig.

Kyrie eleison.
Kyrie eleison.
Kyrie eleison, eleison.

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lied 253 “U het die brood gebreek vs 1,2”

Skriflesing: Jesaja 53:4-12

Prediking

Familie-oomblik

Daar kan miskien by die Olimpiese Spele aangesluit word en met die kinders oor wenners en verloorders gesels word.  En dan beweeg word na die betekenis van Jesus se kruisdood.

Alternatief:
Vertel weer die weergawe van die kruisiging van Jesus ahv Die Nuwe Testament vir Kinders van Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander:

Jesus word Gekruisig
21–22 ’n Sekere man wat van Sirene in Afrika af kom, het daar verbygestap. Sy naam was Simon en sy kinders was Aleksander en Rufus. Die soldate sê toe vir hom om Jesus se kruis na Golgota te dra. (Golgota beteken Plek van die Kopbeen.)

23–24 Daar wou hulle Hom wyn wat met bitter kruie gemeng is, gee om sy pyn so ’n bietjie te stil. Jesus wou dit nie drink nie. Toe kruisig* hulle Hom. Hulle het sy klere gevat en lootjies getrek om te sien wie kry wat.

25–27 Dit was so nege-uur in die oggend toe hulle Jesus gekruisig* het. Op die bordjie bokant sy kop het die woorde gestaan: “Die koning van die Jode.” Langs Jesus het die soldate ook twee ander mans gekruisig*. Hulle was diewe.

29–30 Die mense wat daar verbygestap het, het lelike dinge vir Jesus geskree en Hom gespot. “Komaan, jy het gespog dat jy die tempel* sal afbreek en weer in drie dae sal opbou. Toe, klim van die kruis af. Red* jouself!”

31–32 Die godsdienstige leiers* het onder mekaar gespot: “Ander mense kon Jesus help, maar hy kan homself nie red* nie. Laat ons nou ’n bietjie sien hoe die redder, wat so graag die koning van Israel wil wees, van die kruis afklim. Dan kan ons ook in hom glo*.” Die twee diewe wat langs Hom gehang het, het ook lelike dinge vir Jesus gesê.

Preekriglyn

[Onderstaande preek is ‘n ietwat geredigeerde weergawe van ‘n preek deur Robert Vosloo en Ockert Meyer uit 2000.  Predikers wat nie die Seisoen van Luister-preekskets oor dieselfde teks van vroeër vanjaar gebruik het nie, kan gerus ook daarna kyk.]

Die Duitse dominee, Walter Lüthi, vertel hoe die mense na afloop van die Tweede Wêreldoorlog stadig begin terugkeer het na hulle vernietigde dorpies.  In Lüthi-hulle se dorp het feitlik alles in puin gelê.  Van die stadspoort het daar net een gebreekte pilaar bly staan. Die dood en die verwoesting was oral; in die geboue, in die duisende grafte en in hulle harte.  En toe, een oggend toe hulle wakker word, het hulle gevind dat twee ooievaars op die oorblyfsel van die stadspoort begin nesmaak het. Hy sê dit was vir hulle ‘n helder teken.  Die teken getuig dat iets nuut uit die gebrokenheid moet groei.  Dat uit die dood die nuwe lewe begin.

Nuwe daad van God

In Jesaja 53 gaan dit oor die Kneg van die Here.  Dit gaan oor ‘n nuwe daad van God. Iets wat die profeet waarskynlik self nie naastenby kon begryp nie.  Ten spyte van die profeet se waarskynlike onbegrip kan ‘n mens steeds iets van ‘n ingehoue opgewondenheid by hom bespeur.  Hy vertel naamlik van die dienaar van die Here: Hy het nie skoonheid of prag gehad nie, nie die voorkoms waarvan ‘n mens sou hou nie, Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man wat pyn en lyding geken het. En dan vra hy tereg: Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin raaksien?

Op hierdie nuwe daad van God is die mensdom oor al die eeue (en vandag nog steeds) onvoorbereid. God bring naamlik nie hoop deur oor die gebrokenheid en die vernietiging te spring nie, Hy bring nie aan die verslane volk hoop deur aan hulle ‘n gesig van heerlikheid en mag voor te hou nie, maar deur ‘n gesig van iemand net soos hulle; verstote, verag en sonder skoonheid of aansien is.

In ons plek…

Dit is merkwaardig as ‘n mens na hierdie gedeelte in Jesaja 53 gaan kyk, hoe sterk en gekleur die taal is waarin die plaasbekledende rol van die Kneg beskryf word. Daar word gesê dat Hy ons lyding en siektes gedra het (4), dat Hy oor ons oortredings deurboor is, die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (5), dat Hy gestraf is oor die sonde van die volk (8) en dat hy sy lewe as ‘n skuldoffer gegee het (10).

As die volk in ballingskap deur hierdie gesig van die lydende Kneg vertroos geword het, hoeveel te meer nie ons as Nuwe-Testamentiese kerk wat op hierdie gebeure kan terugkyk en in die Kneg die gestalte van die Kind in die krip, die gestalte van die Gekruisigde kan herken nie. Deur die Kneg weet ons dat God nie alleen na ons toe kom nie. Hy kom na ons in die diepte van ons verlorenheid. God gaan in die skuld en nood van ons bestaan in, in die verlorenheid en die Godverlatenheid. God het déél geword van ons wêreld van eensaamheid, wat niks minder nie beteken as dat Hy hierdie dinge aan eie lyf gevoel het.

… om ons lyding op Hom te neem

Maar miskien is die grootste woorde wat aangaande die Kneg hier in Jesaja geskryf word, die wat in vers 3 en 4 staan:

Hy was iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. – Tog het Hy ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra…deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dis op hierdie punt waar Jesus ook ten diepste anders is as ander groot geeste, byvoorbeeld Moeder Teresa, wat in identifikasie geleef het met die lot van die armes, die eensames en die gebrokenes. As sy lewe van swaarkry op aarde niks anders was nie as net nog iemand wat teen verdrukking opgestaan het, was Hy ook maar net ‘n barmhartige, maar miskende held.

Dit wat Jesaja hier van die Kneg sê, is dit wat Jesus van ander groot en goeie mense onderskei. Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra. Ons weet dat ‘n mens iemand anders se skuld dalk kan oorneem, dat jy iemand anders se rugsak kan dra tydens ‘n staptog, maar dit is onmoontlik om iemand anders se lyding of iemand anders se siekte te dra. Dit is onmoontlik om iemand anders se sonde te dra in die sin dat jou dra daarvan dit ook uitwis.

Die katolieke teoloog, Henri Nouwen, het dit by geleentheid so verwoord: Die gestalte van Jesus leef beskadig en gewond onder die mense. Hy is die gewonde Geneser wat in die neerdalende beweging van die menswording op soek is na gebroke mense en wat meely onder die gebrokenheid van ons bestaan.
God is onder ons so verborge omdat Hy so volmaak by ons is, in ons Godverlatenheid..

… om ons tot diensbare knegte te verander

Hier is egter een ding wat ons baie goed moet verstaan. God kom nie in die gebrokenheid van ons bestaan in sodat ons heel en ongeskonde kan bly nie. God kom nie in die gestalte van ‘n weerlose kind sodat ons as weerbare manne en vroue hier kan leef nie.

Anders gestel, as God as ‘n kneg en as ‘n dienaar na ons toe kom, lê ons redding en ons verlossing daarin dat ons soos kinders word, dat ons bevry sal word van ons selfgerigte begeerte om bedien te word, maar dat ons diensbare knegte word.

Die kerk van Jesus Christus is, soos die bekende Afrika sendeling-dokter, Albert Schweitzer, dit gestel het, “die heilige gemeenskap van hulle wat die merk van pyn dra“.  Dit is die gemeenskap van hulle wat in identifikasie leef met die Man wat pyn en lyding geken het.

As daar een ding is wat die kerk en gelowiges oor al die eeue heen gesukkel het om goed te verstaan, dan is dit hierdie waarheid. Vir ‘n groot deel is dit natuurlik moeilik om te verstaan as ‘n mens self in die grootste gemaksug en gerief lewe, as ‘n mens dalk nog jou hele lewe in ‘n posisie was waar pyn en lyding jou gespaar gebly het, as jy altyd nog die beheer van jou lewe ferm in jou eie hande kon vashou.

Diensbare knegte, gedra deur die groot Kneg

Die Franse filosoof, Simone Weil, van huis uit ‘n ateïs, vertel dat sy op universiteit ook ‘n oortuigde Marxis geword het. In ‘n poging om haar oortuigings prakties uit te leef het sy besluit om vir ‘n jaar as ‘n gewone arbeider in ‘n fabriek te gaan werk. Sy was teen die tyd dikwels siek en was maar broos van gestel. Die handearbeid in die fabriek het al haar kragte geput. Maar, sê sy, die ergste was die manier hoe die werkers mekaar en ook vir haar behandel het. Die tyd in die fabriek was ‘n geweldige ontnugtering. Sy het dit verlaat met ‘n gebroke liggaam én ‘n gebroke gees.

In ‘n poging om haar van ‘n dreigende selfmoord te red, het haar ouers haar vir ‘n vakansie na ‘n klein dorpie in Portugal gestuur. Sy beskryf ‘n ervaring wat sy daar gehad het, soos volg:

“Dit was aand en volmaan. Die vrouens van die vissermanne het afgeloop na die skepe toe, elkeen met ‘n kers in die hand terwyl hulle ou gesange wat vol van hartseer was, gesing het. Niks kan daarmee vergelyk word nie. Ek dink nie dat ek al ooit enige iets so pynlik mooi gehoor het nie. Dáár het ek begryp dat die Christendom veral die godsdiens van die slawe is, dat slawe nie anders kan as om dit aan te gryp nie….en dat ek self ‘n slaaf is.” Vir hulle wat swaarkry, is die kruis nie nóg iets wat hulle moet dra nie, maar word die kruis dit wat hulle dra.

Die betekenis van pyn en lyding lê nie daarin dat van ‘n mens ‘n beter of gelukkiger persoon of selfs ‘n beter Christen maak nie. Allermins. Die betekenis van swaarkry lê daarin dat dit my stroop van al die waardelose dinge waarop ek my sekerheid en my hoop bou.

Met ander woorde, dit help my alleen om gouer in die lewe te besef dat die waarheid omtrent my lewe een van onmeetbare broosheid is. Dat daar niks is waarop ek kan aanspraak maak nie en dat ons almal aan die einde van die dag maar soos Martin Luther gesê het; bedelaars, ja bedelaars is.

Die kerk se hoop lê in gebrokenheid voor God

In die ware lewe voor God, as ware kerk, as gemeenskap wat die merk van pyn dra, is daar geen manier hoe ons daarvan kan wegkom om nie by die punt te kom wat ons volkome gestroop van alles voor God gaan staan nie. Voordat ons kan groei en as kérk na die wêreld toe kan gaan, moet ons by die punt kom waar ons met die waarheid aangaande onsself voor God gaan staan: Hulpeloos, gebroke en afhanklik.

Voordat ons iets vir die samelewing kan beteken, sal ons moet sterf aan onsself. Sal ons onsself voor God, die God wat ons harte en ons dade ken, moet verootmoedig.

Dit is die een ding wat ons as kerk die meeste hoor en die minste doen. Individuele gelowiges buig soms so voor God, maar die kerk feitlik nooit. Dis soms so pynlik ironies: Die ledemate dra die letsels, maar die liggaam hou homself as vlekloos en ongeskonde voor.

Daarom is dit, dalk meer as enige iets anders, nodig dat ons as die kerk van die Here Jesus Christus by die oomblik kom waar ons die Here in die oë kyk en vir Hom sê: “Ons is die wingerd. Ons is die wingerd wat suur druiwe dra. Ons is die wingerd waar dorings en distels groei (vgl Jes 5).  Maar meer as dit Here, ons is op onsself ingebuig. Ons dink eerste aan onsself. Ons is gemaksugtig en ons vra meestal wat ander vir my kan beteken en nie wat ek vir ander kan beteken nie. Ons gee dikwels voor dat ons werklik u wil soek. Ons vra ook dikwels na u wil vir ons lewe asof ons dit regtig wil hoor en asofons werklik van plan is om dit te gehoorsaam.”

Dit is alleen ‘n kerk wat in identifikasie met die Kneg leef wat so oor hulleself kan praat. Dis alleen ‘n kerk wat verstaan dat Jesus Christus nie na die aarde toe gekom het om gedien te word nie, maar om te dien (Matt 20:28) wat dit kan waag om so eerlik oor hulself te wees. Maar meer as dit; dit is alleen so ‘n kerk wat in identifikasie met die Kneg waarlik dienskneg kan wees.

Gebrokenes bedien genesing

Daar word tans baie oor die openbare rol van die kerk binne ‘n gesekulariseerde samelewing gepraat. Dit is sekerlik so dat die kerk nie sy roeping om etiese leiding te gee, moet versaak nie. Dit is sekerlik so dat die kerk nie homself in ‘n soort geestelike sfeer moet onttrek nie. Maar te midde van al hierdie belangrike dinge wat die kerk moet doen, bly die heel belangrikste taak van die kerk as die geskonde, maar geheiligde liggaam van Christus steeds die bediening van die versoening aan ‘n verskeurde en ‘n gebroke mensdom.

Die agting wat die kerk in die wêreld verdien lê nie in die eerste plek in sy insig en morele leiding ten opsigte van die waardes wat die samelewing weer selfrespek kan gee nie, maar dit lê in die eerste plek in sy identifikasie met die veragte Kneg en die veragtes van die wêreld.

Vir ‘n kerk wat die afgelope paar dekades gewoond geraak het aan ‘n soort gesagsposisie is dit natuurlik ‘n pynvolle bekering wat in hierdie opsig wag. Binne die meeste Afrikaanse kerke was die kerk in sy beskerming van die burgerlike en fatsoenlike godsdiens waarskynlik aan hierdie roeping die meeste ontrou. Die Deense filosoof Sören Kierkegaard het op ‘n stadium oor die gesag en die status van die Deense kerk in die 19de eeu die volgende geskryf: “In die pragtige kasteelkerk verskyn statig die hofprediker, die uitverkorene van die beskaafde publiek, voor ‘n groep van belangrike en hooggeplaaste mense, terwyl hy roerend preek oor die woord van die apostel: God het die geringe en die veragtes uitverkies” En dan sê Kierkegaard op sy snydende en skerpsinnige manier: “En daar is niemand wat lag nie.”

By wyse van spreke kan ‘n mens sê dat die plek van die kerk nêrens anders is nie as op sy knieë voor God. ‘n Kragtige kerk is ‘n afhanklike kerk. En omdat hy op sy knieë voor God is, daarom en alleen daarom kan hy die wêreld in die oë kyk.

Om Christus te volg

Hierdie soort afhanklikheid is nie die soort ding wat vir ons maklik is nie. Ons is met reg en heel verstaanbaar bang daarvoor. Uiteindelik is dit dalk die een ding wat ons uit die gedeelte in Jesaja 53 kan leer. Ons kan dit maar waag om volkome weerloos en kwetsbaar voor mekaar en voor God te wees. Hoekom? Want God het dit met ons gewaag. God het dit gewaag om die wêreld in die oë te kyk as die veragte Kneg, as die man wat pyn en lyding geken het. En as Hy so voor die wêreld kom staan het, hoekom sal ons dan die geëerde heerser wil wees? As Hy die redding so bring, kan ons dan anders as om Hom langs hierdie weg te volg?

Ook, hierin lê ons behoud. Hierin lê die krag van die kerk. Soos Paulus sal ons dan pas ook hoor: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9)

Maar stel vir u die wonderlike oomblik voor, as ons soos Petrus en Johannes, vol van die Pinkstergees, aan ‘n verlamde wêreld kan sê: “Geld het ek nie, maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus van Nasaret, staan op en loop!” (Hand 3:5)

Nuwe lewe

Soos die ooievaars wat nesmaak in Lüthi se dorpie ‘n teken was dat nuwe lewe kan groei uit doodsheid en verwoesting, so is die gebroke liggaam van Jesus die teken dat die kerk se bediening groei uit die kerk se gebrokenheid voor God.

God stuur ons om te leef

 

Gebed
En nou,
aan die God wat in staat is
om ons van wanhoop te weerhou;
wat ons bevry en verlos;
wat keer dat ons nie val nie;
wat ons oplig uit die dal van hooploosheid
na die bergtoppe van hoop;
wat ons uitlei uit die middernag van
desperaatheid
na die dagbreek van hoop;
aan Hom,
God en Seun en Heilige Gees,
kom toe die eer en die mag
en die heerlikheid
vir ewig en ewig.
Amen
Martin Luther King Jr (1929-1968)
(Uit: Wat Here is en lewend maak van Dirkie Smit, 2001:72)

Offergawes

Wegsending: Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Seën
Gaan hiervandaan met vreugde. Dans, lag, sing en skep.
Gaan hiervandaan met die vertroue om te waag en lief te hê.
Gaan hiervandaan met die geloof om te glo, te hoop, te stry en te onthou. Amen
(Aangepas uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.