Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd val tussen die Seisoen van die Skepping en Hervormingsondag. Die tekste vir hierdie week maak almal melding van God se trou aan dié wat Hom volg en in Hom glo en vind uitdrukking in Jesus se genesing van die tien melaatse mans in Lukas 17.

Psalm 66:12 sluit baie goed aan by die sleutelteks van Jeremia 29 deurdat dit melding maak van God se rol in die straf van die volk (“U het ons deur mense laat vertrap . . .”), asook God se ewige trou om hierdie volk weer te lei “na oorvloed toe” deur hul gehoorsaamheid. Hierdie trant kan dien as inleiding tot Hervormingsondag.

Ander tekste

2 Konings 5:1-3, 7-15c
Naäman word genees van melaatsheid
5 Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ’n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ’n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ’n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.

2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ’n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”

4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.

5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ’n brief na die koning van Israel toe.”

Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”

8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ’n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ’n profeet in Israel is.”

9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ’n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”

11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”

So het hy woedend daarvandaan teruggery.

13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”

14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ’n klein seuntjie en hy was weer rein.

15Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.”

Psalm 66:1-12
Hoe ontsagwekkend is u werk!
66 Vir die koorleier. ’n Lied.
’n Psalm.
Juig tot eer van God, almal op aarde!
2Sing tot roem van sy Naam,
gee Hom die eer wat Hom toekom!
3Bely voor God:
Hoe ontsagwekkend is u werk!
U mag is groot,
u vyande kruip voor U.
4Alle mense moet voor U buig,
hulle moet sing tot u eer,
hulle moet sing tot eer van u Naam.
5Kom hoor wat God gedoen het,
kom hoor van sy magtige dade
onder die mense:
6Hy het die see in droë land verander;
sy volk het droogvoets
deur die rivier getrek.
Toe het ons gejubel oor Hom
7wat ewig heers deur sy mag
en die nasies in die oog hou.
Die vyande moet hulle nie teen God
verset nie!
8Prys ons God, alle volke,
laat sy lof weerklink!
9Dit is Hy wat ons die lewe gee
en nie toelaat dat ons struikel nie!
10U het ons beproef, o God,
ons gelouter soos silwer;
11U het ons in ’n net gevang,
’n swaar las op ons gelê;
12U het ons deur mense laat vertrap,
ons het deur vuur en water gegaan;
maar toe het U ons uitgelei
na oorvloed toe.

Psalm 111
Die werke van die Here is groot
111 Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade
laat ervaar,
Hy het aan hulle die land
van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

2 Timoteus 2:8-15
8Onthou altyd dat Jesus Christus, ’n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig. 9Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ’n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. 10Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang. 11Dit is ’n betroubare woord:
As ons saam met Hom gesterf het,
sal ons ook saam met Hom lewe;
12as ons in die geloof volhard,
sal ons saam met Hom regeer;
as ons Hom verloën,
sal Hy ons ook verloën;
13as ons ontrou is—
Hy bly getrou:
Hy kan Homself nie verloën nie.

Lukas 17:11-19
Jesus genees tien melaatse mans
11Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. 12Net toe Hy ’n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ’n afstand staan 13en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”

14Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.”

Op pad daarheen het hulle gesond geword. 15En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. 16Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan. 17Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? 18Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie?”

19En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Fokusteks

Jeremia 29:1, 4-7
‘n Brief aan die ballinge
29 Dit is ‘n afskrif van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die leiers van die ballinge wat nog oor was, en na die priesters en die profete en die hele volk wat deur Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer is.

2Jeremia het die brief gestuur nadat koning Jojagin en die koninginmoeder, die paleispersoneel en die amptenare van Juda en Jerusalem, die ambagsmanne en die bouers uit Jerusalem weg is. 3Jeremia het die brief gestuur met Elasa seun van Safan en met Gemarja seun van Gilkija wat deur koning Sedekia van Juda na koning Nebukadnesar van Babel toe gestuur is.

4So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het: 5Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, 6trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. 7Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.

8So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie. 9Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here.

10So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. 11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! 12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en ek sal julle gebede verhoor. 13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. 14Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.

15Julle sou kon sê: “Nee, die Here het vir ons profete in Babel gegee,” 16maar so sê die Here oor die koning wat nou op die troon van Dawid sit en oor die hele volk wat in hierdie stad woon, julle volksgenote wat nie saam met julle in ballingskap weggevoer is nie, 17ja, so sê die Here die Almagtige: Ek laat oorlog, hongersnood en pes onder hulle los en Ek maak hulle soos oopgebarste vye wat so sleg is dat ‘n mens dit nie kan eet nie. 18Ek sal die volk agtervolg met oorlog en met hongersnood en met pes. Ek maak hulle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik: onder al die nasies waaronder Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, wil beledig of wil verneder.

19Hulle het nie na my waarskuwings geluister toe Ek my dienaars die profete vroeg en laat na hulle toe gestuur het nie, sê die Here. Julle ballinge het ook nie geluister nie, sê die Here.

20Hoor die woord van die Here, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel toe weggestuur het! 21So sê die Here die Almagtige, die God van Israel, vir Agab seun van Kolaja en vir Sedekia seun van Maäseja wat sonder opdrag in my Naam as julle profete optree: Ek sal hulle oorgee in die mag van koning Nebukadnesar van Babel, en hy sal hulle voor julle oë om die lewe bring. 22En hulle name sal as ‘n vervloeking gebruik word deur al die Joodse ballinge in Babel, wat sal sê: “Mag die Here jou maak soos Sedekia en soos Agab vir wie die koning van Babel verbrand het.” 23Hulle het ‘n afskuwelike ding in Israel gedoen: hulle het gehoereer met hulle bure se vrouens en ook vals in my Naam gepraat terwyl Ek hulle nie ‘n opdrag gegee het nie. Ek weet dit, Ek is getuie daarvan, sê die Here.

24Vir Semaja die Negelamiet moet jy sê: 25So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Jy het op eie houtjie na die hele volk in Jerusalem briewe gestuur en ook na die priester Sefanja seun van Maäseja en na al die ander priesters toe en geskryf: 26“Die Here het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jojada sodat jy kan toesig hou oor die huis van die Here. Jy moet elke malle wat as profeet optree, in die blok en in die nekyster sit. 27Waarom het jy nie nou vir Jeremia die man uit Anatot wat vir julle as profeet optree, tereggewys nie? 28Daarom het hy die boodskap hier na ons toe in Babel gestuur: die ballingskap sal nog lank aanhou. Bou huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan.”

29Maar die priester Sefanja het hierdie brief vir die profeet Jeremia voorgelees, 30en toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 31Stuur hierdie boodskap na al die ballinge toe. So sê die Here vir Semaja die Negelamiet: Omdat Semaja vir julle as profeet opgetree het hoewel Ek hom nie gestuur het nie, en hy julle op ‘n leuen laat staatmaak het, 32daarom, so sê die Here, sal Ek vir Semaja die Negelamiet straf en ook sy nageslag. Hy sal geen familielid onder hierdie volk oorhê nie en hy sal nie deel in die goeie wat Ek vir my volk sal doen nie, sê die Here. Hy het opstand teen My gepreek.

Ekstra stof

Jeremia 29 – Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie
Ons lees in hierdie hoofstuk van die twee briewe wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het. Die eerste was na die leiers van die ballinge wat nog oor was in ballingskap, saam met die priesters en profete en die res van die volk wat saam met die jong koning Jojagin en sy ma, Negusta, weggevoer is. Ook die paleispersoneel, amptenare, ambagsmanne en bouers word in die aanhef van die brief genoem. Die tweede brief was gerig aan Semaja, maar waarskynlik ook bedoel as kommunikasie met die ballinge.

Interessant genoeg is die eerste brief van Jeremia aan die ballinge in Babel gestuur saam met twee gesante. Die een het waarskynlik in opdrag van Jeremia gegaan, Elasa. Die ander, Gemarja, in opdrag van koning Sedekia. Om die waarheid dit sê, dit kan selfs wees dat Sedekia self saam is Babel toe, soos ons uit Jer. 51:59 aflei. Sedekia sou dus heeltemal bewus gewees het van die inhoud van Jeremia se boodskap aan die ballinge, hoewel hy self nie enige eksplisiete kommentaar gelewer het nie. Tot sy krediet het hy ook nie die brief probeer keer nie. Dit het hom egter nie van standpunt laat verander nie. Vgl. sy vrugtelose worsteling met die wil van die Here in Jeremia 37-38. Ons lees nie direk wie die tweede brief aflewer nie.

Dit is ook duidelik dat daar ten minste twee briewe was. Semaja, die Negelamiet, wat in Babel was saam met die ballinge, het gereageer op Jeremia se eerste brief met sy eie brief aan die priester Sefanja (vgl. Jer. 29:24 vv.). Sefanja het vroeër saam met Pasgur opgetree teen Jeremia (Jer. 20), maar hanteer hom nou met ‘n bietjie meer deernis en lees die brief vir hom voor. Hy voer ook nie Semaja se opdrag om Jeremia in blokke te sit nie, iets waaraan hy wel vroeër deelgeneem het saam met Pasgur. Jeremia antwoord dan vir Semaja in ‘n tweede brief wat deel is van sy kommunikasie aan die ballinge.

Ook belangrik: die “profeet Sedekia” wat hier genoem word in vers 20-21, is nie dieselfde persoon as “koning Sedekia” (onthou sy naam was eintlik Mattanja – 2 Kon. 24:17) nie, voorwaar iets wat ‘n mens maklik deurmekaar kan maak! Die profeet Sedekia was die seun van Maäseja, terwyl koning Sedekia die seun was van koning Josia en sy vrou Gamutal (2 Kon. 23:31), ironies genoeg ook ‘n dogter van ‘n Jeremia, nie die profeet nie, maar ‘n Jeremia uit die Kanaänitiese stad Libna (24:18). ‘n Mens moet nogal kophou met dié name!

Die hoofstuk is in drie dele:

  1. die beskrywing van die brief – 29:1-3;
  2. die brief aan die ballinge – 29:4-23;
  3. die brief aan Semaja – 29:24-32.

29:1-23 – Die brief aan die ballinge
Die eerste opdrag aan die ballinge word verwoord met dieselfde tipe belofte van seën wat aan die eerste mense in die tuin van Eeden gerig was (Gen. 1:28). Dit bevat ‘n “implied promise of success” (Keown)! “Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie.” ‘n Mens hoor hier dieselfde tipe opdrag wat van die begin af die opdrag aan die mensdom is: bewoon, bewerk en bewaar.

Laasgenoemde word uitgespel in terme van die plek waar hy hulle nou die seën van die Here moet soek en beleef: “Bevorder die belange van die stad waarheen Ek hulle in ballingskap weggevoer het.” Daaraan word boonop nou ‘n opdrag tot intersessie gekoppel: “Bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”

Let op dat dié belofte van die Here gekoppel word aan ‘n waarskuwing om nie te luister na profete en waarsêers wat hulle met drome en profesieë probeer mislei dat die ballingskap gou verby sal wees, en daarom hulle in opposisie teen die Galdeërs beide in Babel as in Jerusalem probeer opsweep (vgl. veral vers 28). Die Here sê kortweg dat Hy hulle nie gestuur het en nie met hulle gepraat het nie.

Die tweede opdrag aan die ballinge word verwoord met ‘n belofte van bevryding dat die ballingskap sewentig jaar sal duur waarna hulle na Jerusalem sal kan terugkeer. Aan die belofte van bevryding word die baie bekende woorde gekoppel: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teëspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”

Daaraan word ‘n opdrag gekoppel, wat die Here aanvaar nagekom sal word, dat die volk tot God sal bid en dat Hy hulle sal verhoor. En onthou, dit is dié belofte van Jeremia wat Daniël geïnspireer het om – toe die sewentig jaar van ballingskap amper verby is – die Here te smeek om die volk se ballingskap te beëindig en die volk terug te laat trek na hulle land toe. Daniël was amper negentig jaar oud teen hierdie tyd (Dan. 9): “Julle sal vra na My wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit.”

Hierdie belofte van ‘n geestelike omkeer in hulle verhouding met die Here sal in die volgende twee hoofstukke opgevolg word met ‘n nog helderder verwoording daarvan (Jer. 31:31-34) wat een van die fondamente vir die NT belofte van die nuwe verbond sou vorm.

As deel van die kommunikasie vertoef Jeremia op die moontlike besware wat sommige van die ballinge sou kon opper in Babel teen hierdie woord van die Here. Hulle sou kon dink die toekoms lê in Jerusalem. Die Here sluit die moontlikheid uit met ‘n oordeel oor die huidige koning van Juda, Sedekia, wat die Here soos “oopgebarste vye” sal maak, “wat so sleg is dat ‘n mens dit nie kan eet nie.” Onthou die beeld van Jeremia 24 oor die ballinge as die goeie vye!

Die ballinge word ook liggies op die vingers getik – “Julle ballinge het ook nie geluister nie” – maar die eintlike verdere oordeel gereserveer vir twee van die opstokers teen die woord van die Here deur die bediening van Jeremia, Agab en Sedekia wat sonder God se opdrag as profete daar optree. Hulle sou die volk kon verlei dat die ballingskap kort sal wees. Die Here verwerp hulle woorde, ook omdat hulle lewenstyl (owerspel) hulle profesieë (vals) geëggo het.

Ek weet dit, Ek is getuie daarvan“!

29:24-32 – Die brief aan Semaja
Semaja word die Negelamiet genoem, ‘n woord wat moontlik met “dromer” in verband gebring kan word. Die Here spreek hom skerp aan dat hy selfstandig opgetree het in Babel en namens die Here vals bevele gegee het aan die priester Sefanja in Jerusalem om teen Jeremia op te tree.

Sefanja voer gelukkig nie die opdrag van Semaja uit nie, en gee vir Jeremia kans om ‘n woord van die Here in ‘n brief aan Semaja te formuleer waarin hy vir sy leuens en opstand teen die Here gestraf word: “Hy sal nie deel in die goeie wat Ek vir my volk sal doen nie.”

Boodskap
Die dilemma van die ballingskap word hier op besonder treffende manier geskets. Hoe onderskei ‘n mens die wil van die Here in ‘n tyd van ontwrigting?

  • Daar is die gevaar van selfaangestelde “dromers” – die ballingskap sal kort wees: Semaja.
  • Daar is die versoeking van magsmisbruik – sit die “malles” in blokke, d.w.s. dié mense wat met die heersende diskoers verskil: Sefanja. Gelukkig sê hy nee daarvoor!

Die ware woord van die Here word hier gevind in die aanvaardingvan die ontwrigting. Dit sluit die aanvaarding van skuld vir die ontwrigting in. Hulle is immers in ballingskap vanweë hulle ongehoorsaamheid aan die boodskap van die Here. Sonder dié belangrike instemming kan nuwe lewe nie grondvat nie.

Waar dié aanvaarding posvat in die psige van die geloofsgemeenskap, open dit egter die weg vir die hoor van die belofte van die Here beide:

  • in die belofte van seën wat gesoek moet word in die ruimte wat die Here gee, sowel as
  • in die biddende verwagting wat gebid moet word, dat die belofte van bevryding en bevestiging terug in hulle eie land deur Hom bewaarheid sal word.

Elkeen van ons sal dié boodskap op verskillende wyses in ons eie lewe en dié van ons geloofsgemeenskappe kan toepas.

Heropbou van die volk lê in die heropbou van die plek waar hulle is

Heiligheid van die lokaliteit, die plek – inkarnasie en kontekstualisering. Nie ‘n wêreldburger nie, maar ‘n persoon op ‘n plek.

Liturgie

Aanvangslied: 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: Jesaja 66

Seëngroet  

Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet: Uit Levitikus 19

Skuldbelydenis: Lukas 17

Gemeente: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak: Uit Psalm 111 en 2 Timoteus 2
of Jeremia 31:3

Geloofsbelydenis: Uit 2 Konings 5 en Psalm 111

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Jeremia 29:1-7

Familie-oomblik: 2 Konings 5:1, 8-15 DB

Prediking

Offergawes

Wegsending: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: Jesaja 66
Juig tot eer van God, almal op aarde!
2Sing tot roem van sy Naam,
gee Hom die eer wat Hom toekom!
8Prys ons God, alle volke,
laat sy lof weerklink!
9Dit is Hy wat ons die lewe gee
en nie toelaat dat ons struikel nie!

Seëngroet  
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees.

Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet: Uit Levitikus 19
Ek is die Here julle God
Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.
Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God.
Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God.
“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie.
Julle moet ook nie die wingerde ’n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.
“Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. Julle mag nie ’n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.
“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ’n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. Uit eerbied vir jou God mag jy nie ’n dowe vloek of ’n hindernis in die pad van ’n blinde lê nie. Ek is die Here.
“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste.
Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.
“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie, maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.
“Julle moet my voorskrifte gehoorsaam.
“Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.
“Wanneer daar ’n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ’n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.
“Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie. Julle moet ’n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here.”

Skuldbelydenis: Lukas 17

Gemeente: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak: Uit Psalm 111 en 2 Timoteus 2

Voorganger: Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
As ons saam met Hom gesterf het,
sal ons ook saam met Hom lewe;
12as ons in die geloof volhard,
sal ons saam met Hom regeer…

of Jeremia 31:3
3Van ver af het die Here Hom
aan Israel bekend gemaak:
Ek het jou nog altyd liefgehad,
daarom het Ek jou met geduld verdra.

Geloofsbelydenis: Uit 2 Konings 5 en Psalm 111
Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel.
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
Hy het sy volk die krag van sy dade
laat ervaar,
Hy het aan hulle die land
van ander nasies gegee.
Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Liedere

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart
Koning van my lewe
U wil ek bemin
U lof besing vir ewig
U het my bevry
My sondeskuld vergewe
Koning van my lewe
Koning van my hart.

F60. “U Liefdeslied Vir My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee
U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.
Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: Jeremia 29:1-7

Familie-oomblik

Die sleutelteks kan deur ʼn ouer laerskoolkind voorgelees word om die ballingskap se invloed op die komende generasies van die verbondsvolk te benadruk. Die fokusteks word voorsien soos vertaal in Die Boodskap:

“Jeremia het ’n brief geskryf terwyl hy in Jerusalem was. Hy het dit gestuur aan die senior leiers, die priesters, die profete en al die mense van Juda wat in Babel was. Koning Nebukadnesar het hulle uit hulle land weggevat Babel toe.”

“Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem uit laat wegvat het na Babel toe: “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Mag hulle vir julle baie kleinkinders gee. Werk daaraan dat julle getalle meer word en nie minder nie. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.””

Maak gebruik van ʼn prent van mense wat plant of bou, of skep ʼn prentreeks van ʼn saadjie wat ontkiem en groei.
Anna Archer, 1905. Harvest Workers
of
Dramatiseer die genesing van Naäman (Die Boodskap weergawe word voorsien)
“Naäman was die bevelvoerder van die Aramese leër. Hy was ’n dapper soldaat en gewild by die koning van Aram omdat die Here onder sy leiding vir die Arameërs groot oorwinnings gegee het. Naäman het egter ’n aansteeklike velsiekte gehad.

Elisa het gehoor hoe die koning te kere gegaan en sy klere geskeur het. Hy het toe vir hom ’n boodskap gestuur: “Vir wat is jy so ontsteld? Stuur die man na my toe. Dan sal hy uitvind dat hier werklik ’n profeet in Israel is!” Naäman en sy hele gevolg het toe na Elisa se huis toe gery. Toe hulle daar aankom, het Elisa sy assistent uitgestuur met die boodskap: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal die velsere genees en jy sal heeltemal gesond wees.” Naäman het hom bloedig vir Elisa vererg. Hy het weggegaan en gesê: “Ek het gedink dat hy ten minste na my toe sou uitkom en dat hy die Here sy God se Naam sou aanroep. Ek het gedink dat hy dan sy hand oor die seerplekke sou beweeg sodat die vel gesond kan word. Is die Abanarivier en die Parparrivier van Damaskus nie in elk geval beter as al Israel se riviere saam nie? Waarom kan ek my nie dáár gaan was om gesond te word nie?” Hy is toe woedend daar weg. Sy offisiere het Naäman tot bedaring probeer bring. Hulle het versigtig met hom gepraat en gesê: “Meneer, as hy nou vir u gesê het om ’n baie moeilike ding te gaan doen, sou u dit tog gedoen het? Maar nou het hy ’n maklike opdrag gegee. Moet u nie maar gaan was soos hy gesê het om gesond te word nie?” Naäman het toe na die Jordaanrivier toe afgedraai en hom sewe keer in die water gewas, soos Elisa gesê het. Hy het heeltemal gesond geword en sy vel was weer soos ’n jong seun s’n. Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is.”
2 Konings 5:1, 8-15 DB

Preekriglyn

Minute nadat die reusagtige dubbelverdieping Airbus A380 van die Changi-lughawe in Singapoer opgestyg het, is vlieënier Richard de Crespigny met die grootste krisis van sy loopbaan gekonfronteer. ‘n Enjin onder die linkervlerk het in ‘n vuurbal ontplof. In die proses is bedrading na ‘n ander enjin beskadig, wat toe ophou werk het. Die hidroliese sisteem wat nodig is om die vlerk-flappe te laat werk ,was ook daarmee heen.

Die een krisis na die ander het gevolg. Op ‘n stadium was 22 van die 24 sentrale beheernetwerke van die vliegtuig buite werking. So gou die vlieëniers die een probleem hanteer het, het die volgende opgeduik. Die situasie het gelyk of dit buite beheer raak. Die gevolge was ondenkbaar. Qantas QF32 het 569 passasiers aan boord gehad. Hoewel die vliegtuig dadelik teruggedraai het Singapoer toe, was dit onseker of dit veilig sou kon land.

Kaptein Richard de Crespigny is ‘n uitstekende vlieënier. Vlieëniers word opgelei om die proses van vlieg in terme van diep vasgelegde prentjies (mental pictures) en instruksies te sien. Hulle werk volgens ‘n tegniese draaiboek. Net soos ‘n draaiboek vir akteurs voorskryf hoe hulle ‘n toneel aanpak, het vlieëniers ‘n geïnternaliseerde “draaiboek” waarvolgens hulle vlieg. Sodra daar foute ontstaan, vertel die draaiboek hulle wat hulle moet doen om dit reg te stel en voort te gaan.

Die krisis in Qantas QF32 se vlug was so erg dat die vlieëniers se draaiboeke nie meer by die situasie gepas het nie. Dit kon hulle nie langer help nie.

Kaptein De Crespigny het besluit hy moet bly dink en worstel met die situasie. Maar hy moet stil word en ‘n nuwe draaiboek, ‘n nuwe prentjie, kry hoe hy moet vlieg en uiteindelik land.

De Crespigny het besluit om homself te verbeel hy vlieg ‘n Cessna, die vliegtuigie waarmee hy oorspronklik leer vlieg het. Hy het die reuse Airbus A380 so begin hanteer. Toe hulle die lughawe nader het ‘n alarm afgegaan, so luid ontwerp dat dit vlieëniers uit ‘n toestand van semi-bewusteloosheid kan wek. De Crespigny het opdrag gegee dat die alarm ignoreer moet word. ‘n Cessna het immers nie so ‘n alarm nie.

Hy kon die vliegtuig nie op die gewone manier rem nie (daar was net 30% remkrag beskikbaar), daarom het hy gerem soos mens ‘n Cessna rem. Die gevaar was dat die vliegtuig van die aanloopbaan kon afloop en omslaan. Hy het deurgedruk en kon dit met minder as 100 meter op die aanloopbaan oor tot stilstand bring. 569 passasiers het die “Cessna” ongeskonde verlaat. Die koelkop vlieënier was ‘n held.

De Crespigny het minute later telefonies aan sy vrou gesê hy het ‘n baie besige middag agter die rug.

Om te sien en te reageer

In ‘n krisis is dit ‘n enorme uitdaging om die situasie reg op te som. Wat gebeur? Wat gaan aan? Hoe pas dinge in mekaar? Wat sien ons?

Die verdere uitdaging is om dit wat jy sien reg te beoordeel. En om dan reg op te tree.

Die kop-prentjies en instruksies waarmee Richard de Crespigny geprogrammeer was, het hom nie gehelp nie. Dit het nie langer by die katastrofe gepas nie. Hy moes met nuwe prentjies werk.

Die ballinge uit die volk Israel, in ballingskap in Babilonië, was ook in so ‘n krisis. Die manier waarop die wêreld vir hulle in mekaar gesteek het, het nie langer gewerk nie. Hulle moes ‘n nuwe prentjie kry, sodat hul reg en gepas kon optree.

In hierdie verwarring en ontworteling kry hulle ‘n brief van God. God, by monde van sy profeet Jeremia, help hulle om die situasie nuut te sien, en reg te reageer.

Politieke teenspoed

Jeremia se brief aan die ballinge word in ‘n tyd van politieke ontworteling gestuur. Jerusalem en Juda is na ‘n Babiloniese inval verwoes. ‘n Deel van die volk is weggevoer en bly nou in Babilonië.

Die politieke ellende staan in skrille kontras met Israel in die tyd van Dawid en Salomo. Toe was dit ‘n bloeitydperk. Na Salomo se dood het die ryk egter in twee geskeur (ongeveer 922 v.C.). Die Noordelike tien stamme en die Suidelike twee stamme was mekaar dikwels vyandig gesind.

Die godsdienstige toestand het dramaties agteruitgegaan. Die volk het van die Here vergeet en afgode begin dien. Onder Koning Josia word die wet van die Here egter weer ontdek (waarskynlik die boek Deuteronomium), word al die afgodiese aanbiddingsplekke afgebreek, en word Jerusalem weer die sentrale aanbiddingsplek waar God aanbid is.

Die volk was oortuig die Here sou hulle beskerm, aangesien hulle darem nou die geloof hervorm het. ‘n Nasionale trots het by hulle posgevat.

Die mat is binne ‘n paar jaar lelik onder hulle uitgepluk.

Jeremia op die toneel

Die profeet Jeremia begin in hierdie tyd van selfversekerdheid profeteer. Hy was nie oortuig dat die hervorming voldoende was nie. Vir baie was die hervorming net soos uiterlike grimering. Hulle was nie werklik berouvol oor hulle sonde en opstand teen die Here nie. Daarom het hulle nie vergifnis gesoek nie. Hulle het God nie werklik begin dien nie.

Die meeste lede van die volk het gedink dat die algemene uitwissing van die afgode die Here genoeg bevredig het. Hy sal nie sy tempel en sy volk in die hande van die vyand laat val nie. Hulle versekeringspolis was die tempel en die feit dat God hulle volk se God was.

Vir Jeremia was die oppervlakkige hervorming nie genoeg nie. Daarom hy al meer gefokus op die komende ramp wat die volk te wagte was, indien hulle sou voortgaan om so teen die Here se wil te lewe. Hy was ook besorg omdat die koning die volk nie beter in die doen van die Here se wil gelei het nie.

Die ander profete het gedink Jeremia praat snert. Hulle het die hervorming goedgepraat en voorspoed belowe. Jeremia het baie verwerping beleef. Tog het dit nie lank geneem voordat Jeremia reg bewys is nie. Sy boodskap was werklik van God.

In 609 v.C. sterf koning Josia tydens ‘n veldslag. Drie maande later neem Egipte die bewind oor en lê swaar belastings op die volk. Egipte maak Jojakim, die seun van Josia, koning, as dienskneg van Egipte). Weer het ‘n afgodsnasie oor die Here se volk regeer. Tog het hulle bekering en gehoorsaamheid nie verdiep nie.

In ballingskap

Babilonië verjaag binne ‘n paar jaar die Egiptenaars en neem beheer van die land oor. Ongeveer 600 v.C. rebelleer Jojakim egter teen koning Nebukadneser van Babilonië. Dié val Jerusalem aan, en voer Jojakim, ander burgers, asook van die tempelskatte weg Babilon toe. Nebukadneser stel Sedekia in Jojakim se plek aan.

Vir Jeremia is hierdie gebeure die teken dat God se oordeel oor Israel se sonde in vervulling gaan. God straf die volk nou sodat hulle hulself daadwerklik kan bekeer en begin doen wat God vra.

Die volk wou steeds nie na Jeremia luister nie. Die oorblywendes in Jerusalem was oortuig dat die Here sou Jojakim en die ander ballinge, asook die tempelskatte, spoedig aan Jerusalem terugbesorg en Juda tot onafhanklikheid bring. ‘n Mate van geestelike meerderwaardigheid het onder die oorblywendes kop uitgesteek. Hulle was van opinie dat hulle regverdige voor God was. God sou aan hulle getrou bly en Juda weer binnekort herenig. Die nasionalistiese profete het dit verder beaam . Die volk het gedink God sou vir hulle snelle vergelding teen die Babiloniërs gee.

Jeremia se boodskap was dat die Babiloniërs God se straf was. Sy boodskap van berou en bekering om God se straf af te wend, was ongewild. Dit het hom amper sy lewe gekos.

Jeremia was egter weer reg. In 586 v.C. wal Nebukadneser Jerusalem weer aan, voer ‘n groot deel van die volk weg, en verwoes die stad en land.

Die ballinge was diep geskok. Hulle het gedink God sou hulle beskerm, maar God het nie. Hulle het gedink die tempel is ‘n versekeringspolis. God sou tog nie sy tempel laat skaad nie. Die tempel het hulle nie gered nie. Was daar fout met God? Was daar fout met hulle? Wat moes hulle nou doen?

Hulle godsdienstige draaiboeke en hulle kop-prentjies oor hoe God werk, het nie meer by hulle omstandighede gepas nie.

Openbaring van God

In hierdie geroesemoes skryf God vir die ballinge ‘n brief, via Jeremia. Die doel van die brief is om hulle te oriënteer en vir hulle God se pad aan te wys. Die brief laat God se lig op hulle en hul omstandighede val, en wys God se pad vorentoe aan.

Vers 1 verduidelik dat die brief beide aan die leiers, asook die priesters en die profete, maar ook aan die hele volk in ballingskap gerig was. Dit is belangrik dat alle ballinge, van “klein tot groot”, die Here se belofte boodskap direk moet hoor en dit persoonlik moet aanneem. Hulle elkeen sal deel uitmaak van die beloofde herstelde gemeenskap. Die hele volk is aktiewe deelnemers aan die fisieke, emosionele en geestelike heropbou van die Here se verbondsvolk. Dit kan net geskied as hulle Jeremia se boodskap ter harte neem.

God aan die werk

In vers 1 word gesê dis Nebukadnesar wat die volk in ballingskap weggevoer het. Volgens vers 4 is dit nie die volle verhaal nie. Die eintlike outeur van die ballingskap is God self: “So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het.”

Nebukadnesar en sy weermag is bloot instrumente van God se straf teen die afvallige volk. Ten spyte daarvan dat Jeremia en ander hulle oor die jare heen gewaarsku het oor hulle sondige gedrag en straf wat sou kom, moes hierdie onthulling vir die verbondsvolk van Dawid en Abraham tog ʼn groot teleurstelling gewees het.

Die Here se intieme betrokkenheid in hulle huidige ellende bevestig dat die ballingskap nie sommer net ‘n politieke terugslag was nie, maar ‘n handeling van hulle God. Hoe ondenkbaar ook al, was die Babiloniërs God se instrumente en die ballingskap God se proses om vir die volk ‘n pad na geestelike herstel moontlik te maak.

Opstand en weerstand teen die Babiloniërs is in werklikheid opstand en weerstand teen God self. Die volk sal hierdie pynlike omstandighede moet aanvaar. Nasionalistiese verset teen Babilonië om die eer van die volk te herstel gaan nie werk nie.

God is in hierdie omstandighede aan die werk, en die volk word geroep om te doen wat God sê.

Hoe opbou werk

Die Here se opdrag in verse 6 en 7 is om die volk op te bou en om te vermeerder. Die opdrag bevat dieselfde tipe belofte van seën wat aan die eerste mense in die tuin van Eden gerig was (Gen. 1:28): “Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie.”

‘n Mens hoor hier dieselfde tipe opdrag wat van die begin af die opdrag aan die mensdom is: bewoon, bewerk en bewaar.

Die woordpare in verse 5 en 6, “bou” en “bewoon”, “lê tuine aan” en “eet die opbrengs”, en “trou” en “kinders in die wêreld bring”, dui daarop dat God wil hê hulle moet voorspoedig wees. Alhoewel hulle as volk deur die diaspora gestraf word, beteken dit nie algehele verdoemenis nie. Hulle kan en moet floreer en voluit lewe daar waar hulle hulleself bevind al gaan dit moeilik wees en al pas dit nie binne hulle verstaan van die herbou en herstel van hulle volk nie.

Hulle gaan nie nog ‘n Kanaän ervaring hê waar hulle reeds geboude stede en gekultiveerde lande beset en bewoon het nie. Hierdie keer sal die heropbou en herstel van die volk gebeur deur hulle eie harde arbeid. Hulle gaan ook lank in Babilonië woon. Die woordpare dui op die langdurigheid van die ballingskap en onderwerping aan Nebukadnesar. Hulle sal lank genoeg daar woon dat hulle goeie oeste kan lewer, hulle kinders daar trou en hulle kleinkinders daar gebore word. Die situasie is nie tydelik nie.

Tot voordeel van die omgewing

Die opbou, groei en voorspoed van die volk word uitgespel in terme van die plek waar hulle nou die seën van die Here moet soek en beleef: “Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het.” Daaraan word boonop nou ‘n opdrag tot voorbidding gekoppel: “Bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”

Dit herinner aan Psalm 122:6 en 7, waar die Psalmskrywer die volk aanmoedig om te “bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon”. As die volk die kans wil hê om te herbou en te herstel, moet hulle help om die stad waarin hulle woon – al is dit Babel – vredevol en vooruitstrewend te maak.

Die Hebreeuse woord wat hier met belange vertaal word is shalôm. Deur die shalôm van Babel te soek, kan hulle die wil van God gehoorsaam, hulle straf uitleef en te midde daarvan ook floreer. Hulle kan self die Here se shalôm ervaar, selfs daar in die vreemde land van Nebukadnesar.

God se mense floreer terwyl hulle bydrae tot die opbou van hulle omgewing.

Aanvaar die ontwrigting

Die ware woord van die Here word hier gevind in die aanvaarding van die ontwrigting. Dit sluit die aanvaarding van skuld vir die ontwrigting in. Hulle is immers in ballingskap vanweë hulle ongehoorsaamheid aan die boodskap van die Here. Sonder dié belangrike instemming kan nuwe lewe nie grondvat nie.

Waar dié aanvaarding posvat in die psige van die geloofsgemeenskap, open dit egter die weg vir die hoor van die belofte van die Here beide:

  • in die belofte van seën wat gesoek moet word in die ruimte wat die Here gee, sowel as
  • in die biddende verwagting wat gebid moet word, dat die belofte van bevryding en bevestiging terug in hulle eie land deur Hom bewaarheid sal word.
Belangrikheid van jou “plek”

God se boodskap beklemtoon ook dat die plek waar jy jou bevind nie neutraal is nie. Die volk is nou in ballingskap in Babel. Dit is nou die ruimte waar hulle God se wil moet soek. Hulle is nie in Jerusalem nie, hulle sal eendag soontoe terugkeer, maar intussen moet hulle God in Babel gehoorsaam.

Baie mense wil nie op die plek wees waar hulle is nie. Mense vertel dikwels na beter en ander plekke. Plekke waar daar meer te doen en te sien is, meer rykdom en voorspoed. Hulle dink hulle is in die grammadoelas, of op ‘n minderwaardige plek.

Ons ontdek in ons teks weer die belang van plek, ‘n ruimte waar God met jou werk en waar jy geroep is om te groei en die voorspoed van jou gemeenskap te soek.

Boodskap van ons teks

Die boodskap van hierdie brief vir mense van ons tyd lê op verskeie vlakke:

  • Ons ontdek die aksie van God in ons teks. Die geskiedenis en politiek is nie neutrale ruimtes waar God afwesig is nie. Die feit dat moderne mense tereg kerk en staat skei, beteken nie dat God afwesig is in ons openbare lewe nie. God handel, God trek mense na God toe, God vra liefde en geregtigheid. God kan ook teenspoed skep as mense nie sy wil soek en Hom gehoorsaam volg nie.
  • Die toets vir die openbare lewe is geregtigheid, die dien van mekaar, die soek van mekaar se belange. Dit blyk oorvloedig uit die boek Jeremia. Die toets is dat mense vra wat God wil, en mekaar nie uitbuit en die arme verdruk vir eie voordeel nie. As jy dit doen, bied die tempel en die erediens in die tempel nie vir jou beskerming nie. Die volk moet God se wil doen.
  • Die vraag is hoe mens die wil van God onderskei? In die boek Jeremia is daar selfaangestelde dromers wat sê ie tyd van die ballingskap gaan kort wees. Hulle eis God vir hulle nasionale ideale op en dink God is ‘n goeie Jood wat die eer van die volk vinnig gaan herstel. Daar is ook diegene wat straf soek vir mense soos Jeremia wat nie wil inval by die volk se eie drome nie. Dan is daar diegene, soos Jeremia, wat God soek en vra na die wil van die Here. Dit is die enigste fondament waarop die toekoms gebou kan word. Doen wat God vra.
  • Voorspoed volg waar mense die opbou van hulle omgewing soek. Geen mens kan net vir jouself lewe, en dan God se seën verwag nie. Vir gelowiges in Suider-Afrika waar daar soveel armoede en ellende is, is hierdie insig van wesenlike belang. Elkeen van ons moet uitreik en kontak maak met armes. Ons moet hulle belange begin soek. Dit geld ook ons gemeente. Ons stad of dorp kan net seën beleef in soverre ons konkreet en prakties begin omgee vir ander.
  • Ons teks leer dat ons God nie net in voorspoed nie, maar ook in ontwrigting vind. God se seën rus nie net op ons wanneer ons bevestig word en floreer nie, maar ook wanneer ons ontwrig word en swaarkry. In baie mense se lewe word die mooi dikwels uit ellende en verlies gebore.
  • God straf ons nie om ons te verwoes nie. God se straf is bedoel om ons in ons spore te stuit, en ons in ‘n nuwe rigting te lei.
  • Ons teks leer ons nie net die belang van plek nie, maar ook die belangrikheid van tyd. God werk met ons en vorm ons, en neem God se tyd daarvoor. Die volk hoor hulle gaan vir ‘n paar geslagte in ballingskap bly. God se vorming neem tyd en God laat God nie aanjaag nie.
  • Waar ontdek mens die waarheid van God? Uit ons teks is dit duidelik dat mense dit nie self kan uitredeneer nie. Ons het God nodig. Ons het openbaring van God nodig. God stuur ‘n brief. Dit is krities-belangrik, ook vir Nuwe Testamentiese gelowiges. Ons gaan die waarheid van God-in-Jesus nie onder ‘n mikroskoop, in ‘n proefbuis of langs die viswaters ontdek nie. Ons het God se Woord nodig. Dit laat God se lig op ons lewe en omstandighede val, en wys vir ons die weg na lewe in volheid. Dit is die lewende God wat ons deur die Woord oriënteer en vir ons die kop-prentjies gee wat ons in krisisse en disoriëntering nodig het.

Die volk het uiteindelik teruggekeer uit ballingskap. Die land is weer opgebou en hulle kon ‘n nuwe toekoms begin. Waar ons individueel en gesamentlik tans deur soveel ontwrigting gaan, kan ons net die Here bid om vir ons uitkoms te gee. En die voordeel van ons land soek. En wegdraai van sonde en soek na die Here se wil.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Seën
“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee” (Aäronitiese Seën).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.