Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vandag is die feesgeleentheid om die hervorming te vier waar Martin Luther op 31 Oktober 1517 braaf genoeg was om 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg vas te spyker. Dit het gehandel oor probleme wat met die leer van die kerk van daardie tyd ondervind is.

Die 95 besware word aangespreek in die vier solas soos ons dit vandag ken:
Sola Scriptura Die Woord/Bybel alleen
Sola Gratia Genade alleen
Sola Christi Christus alleen
Sola Fidé Geloof alleen
Dit kan saamgevat of opgesom word in die vyfde Sola
Soli Deo Gloria Aan God alleen die eer
(Bron: Wikipedia)

Ons gaan vandag deurlopend aandag gee aan hierdie vyf solas van die Reformasie of Hervorming.

Ander tekste

Deuteronomium 34:1-12
Moses sterf op Neboberg
34 Moses het uit die Moabsvlakte opgeklim na Neboberg toe, tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo. Die Here het hom die hele land gewys: van Gilead af tot by Dan, 2die hele Naftali, die gebied van Efraim en Manasse en die hele Juda tot by die see in die weste, 3die Suidland en die vlakte, die Jerigolaagte met sy palms tot by Soar. 4Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met ’n eed beloof het aan Abraham en Isak en Jakob. Ek het gesê: ‘Ek gee dit aan jou nageslag.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar jy sal nie daarheen deurtrek nie.”

5Moses, die dienaar van die Here, het daar in die land Moab gesterf soos die Here beveel het. 6Hy het vir Moses begrawe in ’n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie.

7Moses was honderd en twintig jaar toe hy gesterf het; sy oë was toe nog goed en sy krag het nog nie ingegee nie. 8Die Israeliete het dertig dae oor Moses gerou in die Moabsvlakte en so die routyd oor Moses voltooi.

9Josua seun van Nun het oor wysheid beskik, want Moses het sy hande op Josua gelê. Die Israeliete het hom gehoorsaam en hulle het gedoen wat die Here vir Moses beveel het. 10Daar het nie weer ’n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken. 11Die Here het hom gestuur om in Egipte al die tekens en wonders vir die farao en sy amptenare en sy hele land te doen. 12Moses het al die magtige dade, al die groot dade wat vrees inboesem, voor die oë van die hele Israel gedoen.

Psalm 90:1-6,13-17
Van ewigheid tot ewigheid is U God
90 ’n Gebed van Moses, die man van God.
Here, U was vir ons ’n toevlug
van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore is,
voordat U die wêreld voortgebring het,
ja, van ewigheid tot ewigheid
is U God!
3U laat die mens sterwe:
U sê net: “Word weer stof!”
4Duisend jaar is vir U
soos gister as dit verby is,
soos een enkele wagbeurt in die nag.
5U maak ’n einde aan ’n mens,
hy gaan die doodslaap in.
Hy is soos gras
wat in die môre afgesny word:
6in die môre is dit nog groen,
maar dit word afgesny
en teen die aand is dit verlep
en dit verdroog.
7Ons vergaan onder u toorn,
ons gaan te gronde onder u gramskap.
8U sien ons oortredinge raak,
U bring die sondes
wat ons wou wegsteek, aan die lig.
9Onder u toorn vlieg ons dae
en skiet ons jare verby
soos ’n gedagte.
10Ons lewe maar sewentig jaar,
of, as ons baie sterk is, tagtig,
en dié is vol swaarkry en leed.
Dit is gou verby,
ons vlieg na ons einde toe.
11Wie ken die krag van u toorn beter
as u dienaars?
Wie ken u gramskap beter?
12Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid bekom.
13Hoe lank nog, Here,
voordat U ons te hulp kom?
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde
in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig
en bly wees.
15Soveel dae as dié
waarin U ons verdruk het,
soveel jare as dié waarin ons gely het,
gee ons soveel jare van blydskap.
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid
van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande,
hou dit in stand.

1 Tessalonisense 2:1-8
Paulus se werk in Tessalonika
2 Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op ’n mislukking uitgeloop het nie. 2Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. 3Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. 4Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.

5Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle of ander is 7al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ’n ma wat haar kinders vertroetel. 8So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.

Fokusteks

Matteus 22:34-46
Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: ” ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Die vraag oor die Seun van Dawid
(Mark 12:35–37; Luk 20:41–44)
41Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: 42“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”

“Dawid s’n,” antwoord hulle Hom.

43Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog:

44‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
totdat Ek jou vyande aan jou
onderwerp het.’ w
45As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”
46Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie.

Ekstra stof

Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs
Jesus vervolg sy gesprek met die Fariseërs met ‘n derde gelykenis oor die reaksie van genooide gaste na ‘n bruilofsfees met die implisiete betekenis dat die Fariseërs optree soos die eerste genooides wat die uitnodiging geweier het (22:1-14).  Daarmee onderstreep Jesus finaal hulle onbetroubaarheid.  Die gelykenis word opgevolg met drie vrae wat die Fariseërs in reaksie daarop aan Jesus vra: oor belasting aan die keiser (22:15-22), oor die opstanding van die dooies (22:23-33) en die groot gebod in die wet (22:34-40).  Dit is almal vrae wat Hom polities, godsdienstig en eties probeer vastrek, hoewel Jesus net te uitgeslape is vir hulle met sy deeglike praktiese antwoorde.  Jesus sluit sy wedersydse gesprek met hulle af met ‘n eie vraag wat Hy aan hulle rig oor Sy identiteit  waarop hulle geen antwoord gehad het nie (22:41-46).  In hoofstuk 23 sal Hy ‘n omvattende oordeel oor hulle uitspreek.

Die gelykenis van die bruilofsfees – 22:1-14
Die gelykenis van die bruilofsfees wentel om die feit dat die eerste genooides – implisiet geïdentifiseer met die Fariseërs en die Jode – die uitnodiging weier en dat die ander genooides, slegtes en goeies, die uitnodiging aangeneem het as gaste by die bruilof.

Die betekenis hiervan lê op verskillende vlakke:

  • Die opsommende sin aan die einde verklaar die gelykenis as ‘n prentjie van hoe die uitverkiesing werk.  Die verkiesing gaan dus hiervolgens oor ‘n uitnodiging na ‘n bruilofsfees.  Almal is genooi, ook die Jode.  Dit sluit uiteindelik ook die slegtes en die goeies van oral af in.  Sommige neem die uitnodiging aan.  Ander weier dit.  In die aanvaarding en weiering word die verkiesing verwerklik.  Dit is hoe die misterie van die uitverkiesing prakties werk.  Die uitverkiesing werk met die ontvanklikheid van die genooides – presies soos die gelykenis van die grond dit uitgespel het – nie daarteen of ten spyte daarvan nie.
  • Die gelykenis het effektief die geskiedenis beskryf wat hierna in Jerusalem voltrek sou word.  Jesus is doodgemaak (Evangelies), soos ook van sy dissipels (Handelinge) en die stad Jerusalem is uiteindelik in 70 n.C. verower en afgebrand.

Die vreemde uitsluiting van die man sonder ‘n bruilofskleed kan miskien verklaar word deurdat hy nie respek getoon het vir die bruilof deur die regte klere aan te trek nie (vgl. Openb. 19:8 waar klere as die “regverdige dade van die gelowiges” aangedui word).  Die gewoonte van konings om klere aan die gaste te verskaf, word miskien veronderstel, omdat al hierdie gaste van die straat af geneem is en kwalik self die klere kon verskaf het.

Die Fariseërs se vraag oor belasting aan die keiser – 22:15-22
Die Fariseërs het desperaat geraak met Jesus en wou Hom ten alle koste vastrek en beraam ‘n plan wat in die vorm van drie vrae aan Jesus gerig word.

Die eerste vraag handel oor belasting aan die keiser.  Hulle vra die vraag in die teenwoordigheid van Herodiane wat aan die koning sou kon terugrapporteer.  Let op die vleitaal: “Ons weet dat U opreg is …” en dat hulle net sy “opinie” vra.

Maar, omdat Jesus hulle bose bedoelings geken het en geweet het van die voetangels wat in die vroom vraag opgesluit lê, spreek Hy hulle as skynheiliges aan en gebruik ‘n munt waarop die keiser se afbeelding en inskripsie aangebring is, om die etiese beginsel te onderstreep dat ‘n mens gehoor moet gee aan die ekonomiese stelsel waarbinne jy leef.  Dit is die wyse ding om te doen.

Net so behoort jy natuurlik ook aan God, aan wie die hele aarde behoort en moet jy Hom gee wat Hom toekom.  Dit is ook die wyse ding om te doen.  Jesus weier dus om vasgevang te word in ‘n opgestelde konflik tussen die politiek en die godsdiens en leer eenvoudig dat albei hulle plek het.  Hiermee formuleer Jesus ‘n beginsel wat uiteindelik in die Lutherse twee-ryke leer sou uitmond.

Die Fariseërs se vraag oor die opstanding van die dooies – 22:23-33
Die tweede vraag word deur die Sadduseërs gevra in skreiende konflik met hulle eie standpunt dat daar nie ‘n opstanding van die dooies is nie: “Wie se vrou sal iemand in die hemel wees wat op aarde met sewe broers ná mekaar getroud was?”  Hulle ontkenning van die opstanding was gegrond op die feit dat hulle net die eerste vyf boeke van die OT, die Pentateug, erken het as kanon en volgens hulle lees van die Bybel nie die opstanding daarin kon naspeur nie.

Jesus ontbloot egter hulle dwaling omdat hulle nie die Bybel of vir God ken nie.  Die opstanding – waarin hulle nie glo nie – is anders as wat hulle hul ingedink het.  Daar trou mense nie.  En die dooies lewe in ‘n ander staat, soos die Bybel reeds leer dat God die God van Abraham, Isak en Jakob is, alles gestel in die teenswoordige tyd.  En Jesus haal aan uit dieselfde boeke van die Pentateug wat hulle erken het!  Hy troef dus hulle opvattings in terme van ‘n noukeurige lees van dieselfde deel van die Bybel as wat hulle lees.

Paulus sou later dié opvattings van die Sadduseërs tot sy eie voordeel gebruik (Hand. 23:8).

Die Fariseërs se vraag oor die groot gebod – 22:34-40
Die Fariseërs was miskien heimlik bly daaroor dat die Sadduseërs, hulle opponente op vele gebiede, die swye opgelê is, maar dié situasie bring hulle by die derde vraag.  Hulle probeer Jesus vastrek op sy interpretasie van die wet.  Op hulle vraag oor die groot gebod van die wet, antwoord Jesus op uitnemende wyse met die bekende samevatting van die wet.

Die vertikale verhouding met God is uiteraard die primêre een, maar word gesien in die horisontale verhouding met die naaste, juis omdat dit eintlik gelyk is aan mekaar.  Dit is die somtotaal van die OT boodskap

Jesus se vraag oor sy identiteit as die Christus – 22:41-46
Jesus neem die inisiatief en vra op sy beurt vir die Fariseërs ‘n vraag, ‘n vraag waarop hulle nie kan antwoord nie.  Dit handel oor die identiteit van die Christus waarin die verskil tussen die Fariseërs se lering en Jesus s’n duidelik na vore kom.  Hulle hou nie rekening met ‘n goddelike dimensie in die beskrywing van die Christus (Messias), die Seun van Dawid nie, wat ook Here is – en Jesus hou wel volledig daarmee rekening.

Liturgie

RUS

Semper Reformanda: Die kerk van ons kinderdae

Toetrede: Flam 387 of Wys Bybel-Media se Reformasielied of Lied 1545 vergader

Votum: (Lied 477)

Seëngroet: (Lied 477)

Lofsang: Lied 336

Geloofsbelydenis (Sola’s)

Lied: Vonkk 341 “Sola Scriptura’ (bekende Melodie – ‘n Vaste Burg)

HOOR

Gebed: Vonkk 16
Lied 252

Skriflesing: Matteus 22:34-46

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 478 of Flam 66 (bekende melodie)

Seën

Respons: Flam 66 Refrein:

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Semper Reformanda: Die kerk van ons kinderdae
Probeer ‘n foto kry van die kerk van jou kinderdae om op die skerm te wys.  Vertel dan ‘n storie of twee van hoe kerk was toe jy ‘n kind was.  Die gedagte is om spesifiek aan te dui hoe die kerk intussen verander het.

Ek onthou bv. hoe Pinkster altyd die heel koudste tyd van die jaar was.  Die tannies het dan op die kerk se stoep gestaan en skuldig gegiggel, omdat hul langbroeke onder hul rokke aangehad het.  ‘n Langbroek in die kerk was ongehoord!  Afhangende van hoe tradisioneel jul gemeente is, kan daar nogal ‘n klomp lekker stories wees om te vertel.

Jy kan ook – afhangende van jul gemeente – kans gee dat die grootmense vir die kinders stories vertel van kerk toe hulle kinders was.

Ons vier vandag Hervormingsondag.  As gereformeerdes sê ons:  “Ecclesia Reformata, Semper Reformanda.”  ‘n Gereformeerde kerk reformeer.  Die kerk in Suid-Afrika in 2017 lyk anders as die  kerk in Wittenberg, Duitsland in 1517 – juis omdat ons gereformeerd is.  Ons wil altyd luister na God en getrou bly aan die evangelie, binne ons spesifieke konteks.

Toetrede
Flam 387 Hier is U kerk of
Wys Bybel-Media se Reformasielied of
Lied 1545 “Kom nou tesaam, laat ons vergader”

Votum
Die storie (waarskynlik ‘n legende) word vertel van Luther en sy vriend Melanchton wat op die stoep sit en bier drink.  Melanchton sou dan vir Luther vra:  “Is jy nie bekommerd oor die gereformeerde geloof as jy so hier sit en bier drink nie?  Waarop Luther sou antwoord:  “Terwyl ek hier sit en bier drink, lóóp die evangelie!”  [Dit is hoe die storie op universiteit vertel is – ek dink nog deur Willie Jonker.  Dit is waarskynlik ‘n kreatiewe verwerking van hierdie aanhaling van Luther:  “And while I slept [cf. Mark 4:26-29], or drank Wittenberg beer with my friends Philip and Amsdorf, the Word so greatly weakened the papacy that no prince or emperor ever inflicted such losses upon it. I did nothing; the Word did everything.”]

Dis hoekom ons die lied sing, op die wysie wat Luther self gekomponeer het (Lied 477):
Hou Christus self sy kerk in stand-
vergeefs die hel se woede.
As Here aan Gods regterhand
regeer Hy ons ten goede.
Hy is in alle leed
steeds tot ons hulp gereed,
bewaak die Christendom,
en waar die vyand kom,
stuit hy die bose woede.

Seëngroet
Wees daarom ook vanoggend gegroet met die woorde van dieselfde lied:
O Christen wat op hom vertrou,
u moet geen onheil vrees nie.
Sal hy wat sy gemeente bou,
ons nie ’n toevlug wees nie?
Hy, oor die toekoms Heer,
waak oor sy Woord en eer – 
hy gee geduld in nood
En krag en moed in dood.
Moet geen bedreiging vrees nie.

Lofsang
Lied 336 “Dit is die dag “deur God geskenk (melodie deur Luther – vers 5 het van al die verse die sterkste Kersfees-fokus, so sing net verse 1-4)

(net as julle nie Vonkk 341 sing nie, want dis dieslefde melodie – deur Luther geskryf:) Lied 477 “Hou Christus self sy kerk in stand”

Geloofsbelydenis
Om gereformeerd te wees, staan vir ons op vier bene.  Ons sê ons word NET deur Jesus gered – solus Christus.  Die enigste manier waarop ons deel kry aan die redding in Christus, is deur geloof – sola fide.  Die enigste manier waarop ons geloof ontvang, is deur genade – sola gratia.  Hoe ons dit weet, is deur die Bybel – Sola Scriptura.

SOLA SCRIPTURA
Liturg (NGB Art 2):  Ons ken God deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.

Gemeente (NGB Art 5a): Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig.

SOLA GRATIA
Liturg (Ef. 2:8):  Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Gemeente (HK Antw 60):  God skenk aan my sonder enige verdienste van my kant uit louter genade die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus.

SOLA FIDE
Liturg (Ef. 2:8):  Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Gemeente (NGB Art 22):  Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is.

SOLUS CHRISTUS
Liturg (HK Ant 29):  Christus, die Seun van God, word genoem: Jesus, wat Verlosser beteken, omdat Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie.

Gemeente (NGB Art 21):Ons bely daarom dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie.
Liturg:  Soli Deo Gloria!
Gemeente:  Aan God al die eer!

Lied Vonkk 341 “Sola Scriptura” (bekende Melodie – ‘n Vaste Burg)

Liedere

387. “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)”
Teks: Neil Büchner en Jandré Viljoen Musiek:  Neil Büchner © 2011  Flam Musiek-Uitgewers

1. Hier is u kerk, U stel ons aan
Ons is gekies, U gee ons u guns
Laat u Gees oor ons elkeen kom
Maak, Heer, u wil deur ons bekend
Net soos dit is, dat mense dit ken
Laat u Gees oor ons elkeen kom

Refrein:
Laat ons dien met ons lewe
Waar ons is u liefde bring
Elke mens sien as u tempel
Deur genade, u goedheid bewys
Waar U kerk van u liefde getuig
Hier is u kerk
(Ons is gekies)
Hier is u kerk
(Ons is gekies)
Hier is u kerk

VONKK 341 “Sola Scriptura”
(geskryf met die oog op die 500-jarige herdenking van die Hervorming op 31 Oktober 2017)
Afrikaanse teks: Hannes van der Merwe 2016 ©;  Engelse teks: Gertrud Tönsing 2016 ©
Melodie: Ein feste Burg – Martin Luther 1529, melodies aangepas 2001 Orrelbegeleiding 1: HPA Coetzee 1976.
Orrelbegeleiding 2: Daleen Kruger (Pro Deo)  Orrelbegeleiding 3 (slotvers): Neil van der Watt
Kantoryverwerking 1: GG Cillié 1980 – uit Kom loof die Heer – Deel 2 (gewysig). Met toestemming NG Kerk-Uitgewers
Kantoryverwerking 2: Harmonisasie deur Johann Sebastian Bach (1685-1750)
Kantoryverwerking 3: Martin Luther 1529 (met oorspronklike ritme)
© Teks en orrelbegeleidings: 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Kantoryverwerking 1: NG Kerk-Uitgewers 1982
© Melodie en kantoryverwerkings 2 en 3: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Geloofsbelydenis /   Die Kerk / Geloof en Vertroue

1. Sola Scriptura! God se Woord
is deur die Gees geïnspireer.
Geen mensewoord, geen kerkgesag
kan God se wil so aan ons leer.
Ons glo uit God se Woord
vloei God se redding voort.
Hy openbaar sy wil
en hoe ons dit vervul,
Sola Scriptura, net sy Woord.

2. Dis Sola Gratia, net alleen
genade wat ‘n sondaar red.
Geen mens sal dit ooit kan verdien
deur onderhouding van die wet.
Hoe hard ons self probeer,
ons faal maar telkens weer.
Geen mens uit eie krag
kan redding ooit vermag –
net sy genade kan my red!

3. Sola Fide! Dis net geloof
waardeur ons redding kan verkry.
Niks wat ons doen, niks wat ons gee,
kan ons voor God regverdig maak.
Die Gees werk deur die Woord
en bring geloof so voort;
genade word ons deel,
gebrokenheid word heel;
dit deur geloof – Sola Fide!

4. Net Jesus Christus, Hy alleen
kan intree as ons Middelaar.
Net Hy alleen betaal die prys –
ons buig voor Hom, ons Voorspraak, neer.
Geen sonde wat ek doen,
sal Hy nie kan versoen.
Geen offer wat ek gee,
maak ooit sy liefde meer.
Net Solus Christus! Hy alleen!

5. Ons eer U, Vader, as ons God
wat deur die Woord in ons wil werk.
Ons prys u Naam, besing u Seun.
U Gees maak van ons God se kerk.
Soos wat u Woord ons leer,
besing ons keer op keer,
met eerbied en ontsag,
die grootheid van u mag.
Sing: Soli Deo Gloria!

VONKK 341 “Sola Scriptura (English translation)”
(written  for the 500 year commemoration of the Reformation on October 31, 2017)Afrikaans text: Hannes van der Merwe 2016 ©; English translation: Gertrud Tönsing 2016 ©
Tune: Ein feste Burg – Martin Luther 1529, adapted 2001
Arrangement for organ 1: HPA Coetzee 1976.
Arrangement for organ 2: Daleen Kruger (Pro Deo)
Arrangement for organ 3 (last verse): Neil van der Watt
Arrangement for choir 1: GG Cillié 1980 – from Kom loof die Heer – Part 2 (altered). Use by permission NG Kerk-Uitgewers
Arrangement for choir 2: Harmonisation by Johann Sebastian Bach (1685-1750)
Arrangement for choir 3: Martin Luther 1529 (original rythm)
© Text and arrangements for organ: 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Arrangement for choir 1: NG Kerk-Uitgewers 1982
© Tune and arrangements for choir 2 en 3: Public domain
RUBRICATION:  Classic – Confession of Faith / The Church / Faith and Trust in God

1. O what a gift!  The Word of God:
trustworthy and  inspired.
No human witness has such power
to bring the faith desired.
In God’s strong Word alone
the source of hope we’re shown
We hear and learn his way
to love and serve each day.
Proclaim: Sola scriptura!

2. O what a gift!  The gift of grace:
the sinner is forgiven.
Our works of righteousness will not
build up a path to heaven.
We are too broken, frail,
our efforts doomed to fail;
too deep the pit of sin,
but God’s hand reaches in.
Proclaim it:  Sola gratia!

3. O what a gift! The gift of faith:
acceptance of God’s caring.
Nothing we bring, just open hands
receive what Christ is sharing.
He’s speaking through his Word.
Faith grows from what we’ve heard.
New life in Him is sealed,
our brokenness is healed.
Proclaim it: Sola fide!

4. O what a gift!  The work of Christ:
our Lord who brings salvation.
The only One who paid the price
to end all condemnation.
To be of Him a part,
transforms our selfish heart,
until it overflows;
our faith and love still grows.
Proclaim it:  Solus Christus!

5. O what great gifts!  We praise your name:
for your love never-ending.
To Father, Spirit and the Son
hear grateful prayers ascending.
As body of your Son
You call us to be one;
one faith, one church, one Lord.
Let’s praise with one accord:
Sing: Soli Deo gloria!

VONKK 16 “God Van Ons Verlede”
Teks: Jannie Hougaard 2003/2009 ©  Melodie: JANNIE – Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003/2009
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)   RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue

God van ons verlede,
U skep ook ons hede.
U laat ons weer nuut begin,
loop voor ons die toekoms in,
lei ons in u vrede.

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
(Liedboek 478)  © MAR Gospel Music Publishers  (Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou.
Apostels en profete het ons dit toevertrou:
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees.
2. Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam –
een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam!
Hy gee die brood die beker, Hy gee die heil’ge doop
om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop!

Refrein:
Ja Hy lê die steen, Hy is die rots
sy fondament is vas. Hy is God
o ja, Hy is,
ja, Hy is God.
3. O Heer, skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet,
Al pynig ons die smarte, al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop!
In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop!

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed
Bid of sing Vonkk 16
God van ons verlede,
U skep ook ons hede.
U laat ons weer nuut begin,
loop voor ons die toekoms in,
lei ons in u vrede.

Lied 252 “Bewaar ons, Vader, deur u Woord” (Melodie deur Luther)

Skriflesing: Matteus 22:34-46

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

As julle dit nog nie het nie, skaf Bybel-Media se Saamkleurpret oor die Sola’s aan hier.  (Dis ‘n elektroniese produk, so jy kan dit vinnig hê.)  In kleiner gemeentes kan jy die prente groot druk en op ‘n tafel (of  die vloer!) voor in die kerk sit, sodat kinders tydens die diens kan sit en inkleur.  Daar is ook lekker stories oor reformatore, wat jy hier kan vertel.
Gebruik hierdie prettige video wat Luther se verhaal vertel, of hierdie meer besadigde weergawe.

Preekriglyn

IN ons teksgedeelte word twee vrae gevra:

  • Die eerste vraag word (36) deur ‘n wetgeleerde aan Jesus gestel, terwyl
  • Jesus die tweede vraag aan die Fariseërs stel (42).

Die vrae skep die raamwerk vir oordenking en fokus op Hervormingsondag:

  • “‘Meneer,’ vra hy, ‘wat is die groot gebod in die wet?'” en:
  • “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”
Hervormingsondag

Jesus se vraag aan die Fariseërs handel oor wie die Christus is. Dit is ‘n wesenlike vraag wat ook die Hervorming gedryf het.

Die datum 31 Oktober 1517 was die dag waarop Martin Luther sy 95 Stellings teen die kerkdeur van Wittenberg geplaas het. Iemand skryf: “Luther het die Christendom van Paulus en Augustinus weer ontdek. Hy het die evangelie weer as ‘n heerlike, blye boodskap van genade verstaan. Hy het die godsdiens weer in die lig van God se Woord geplaas.”

Die beginsel van die 16de eeuse Reformasie was:
Regverdiging deur die geloof alleen deur die soewereine genade van God deur die enigste Saligmaker Jesus Christus.

Die Reformasie kan in die sola-slagspreuke saamgevat word:
Sola gratia (alleen genade)
Sola fide (alleen geloof)
Solo Christo deur Christus alleen)
Sola Scriptura (alleen die Skrif)
Soli deo Gloria (tot eer van God alleen)

Binne die raamwerk van ons teks staan die Solo Christo (deur Christus alleen) sentraal. Daarom dink ons vandag na oor wie die Christus is.

Jesus wys die regte pad

‘n Wetgeleerde begin die gesprek deur die vrae wat die grootste gebod is.

Baie moderne mense stel Jesus voor as Een wat “die reëls verbreek”. Jesus sou konsekwent die sosiale orde en die maghebbers uitdaag.

Matteus doen egter moeite om Jesus voor te stel as die Een wat die onderwysing of wet van God (die Tora) korrek interpreteer en volgelinge aanspoor om dit nougeset te gehoorsaam (vgl 5:17-20). “Korrek interpreteer” beteken om die wet op die regte manier uit te voer.

Jesus se kritiek teen die Fariseërs was nie hulle begeerte om die Tora in fyn besonderhede te gehoorsaam nie, maar hulle neiging om nie die sentrale waardes van die Tora te gehoorsaam nie (vgl 23:23):

The message of 22:34-40 emphasizes that the Torah is rightly understood when it is read through the central lens of love for God and love for neighbor (with even enemies considered neighbors; 5:43-44) (Brown).

Beliggaming van liefde vir God en naaste is die grootste uitdaging.

Die omvang van die dubbele liefdesgebod maak gehoorsaamheid daaraan ‘n lewenslange uitdaging. Geloofsgemeenskappe moet juis fokus op die toerusting van Jesus se volgelinge sodat hulle getroue liefhebbers van God en die medemens kan wees.

Daarom is die volgende temas belangrik vir nadenke oor ons Skrifgedeelte met die oog op prediking:

  • Jesus se identiteit;
  • liefde vir God, en;
  • liefde vir die naaste.
Wie is Jesus?

Jesus neem (41) die inisiatief en vra vir die Fariseërs ‘n vraag, ‘n vraag waarop hulle nie kan antwoord nie.  Dit handel oor die identiteit van die Christus waarin die verskil tussen die Fariseërs se lering en Jesus s’n duidelik na vore kom.  Hulle hou nie rekening met ‘n goddelike dimensie in die beskrywing van die Christus (Messias), die Seun van Dawid nie, wat ook Here is – en Jesus hou wel volledig daarmee rekening.

Jesus is Here en Messias, iets wat die Fariseërs nie kon verreken nie. In die lig hiervan skryf ‘n teoloog dat mense tot vandag toe Jesus te gemaklik herskep na hulle eie beeld van Hom. Ons bou ‘n Jesus rondom ons voorkeure, eerder as om met die volle inhoud van Jesus se identiteit as God en Here, maar ook as mens vas te hou.

Ons doen dit deur Bybelgetuienis hier en daar uit te kies en Jesus voor te stel as ‘n vriendelike, skadelose geestelike wat op onbelangrike vraagstukke fokus, in lyn met die populêre profiel van progressiewe pastors vandag. Of – soos hierbo gesê – ons maak van Jesus die groot verbreker van reëls. Dit is ‘n Jesus wat ons pas.

Jesus daag ons voorstellings oor sy identiteit uit. Matteus se getuienis oor Jesus konfronteer ons met die moontlikheid dat Jesus geweet het daar is soms in die lewe dinge waaroor ‘n mens opgewerk mag raak, dinge wat werd is om oor te argumenteer, dinge wat vra dat ‘n mens beide liefdevol en gedug kan wees ter wille van geregtigheid. Die tyd het aangebreek om die moontlikheid te oorweeg dat die Jesus wat ons Here noem, nie is wie ons dink Hy is nie.

‘n Teoloog met die naam Pape skryf:

According to Matthew’s testimony, none of the things Jesus is caught doing in this context—from physically trashing the display booths of the moneychangers (21:12), to trash-talking the biblical literacy of colleagues (22:29), to dropping the mic at the end of a scintillating piece of rhetorical and exegetical gamesmanship (verse 46)— none of it violates the law of love”.

Liefde tot God

Te midde van die konflik verduidelik Jesus geduldig dat die heel belangrikste ding van alles is om God met jou hele wese lief te hê (37). Die ander mees belangrike saak wat uit die eerste vloei en daarmee saamhang, is om jou naaste lief te hê soos jouself (39).

Die Jesus van hierdie verhale maak geen onderskeid tussen sy gedugte optrede en die liefde wat Hy verkondig nie. Hierdie dubbele eienskappe van Jesus daag ons uit om te heroorweeg hoe Christelike liefde werklik lyk in die daaglikse lewe. Ons gebruik dikwels die woord “liefde” as verskoning vir die weg van minste weerstand teenoor die weg van uitnemendheid. Vir ons is liefde maar om enigiets te verduur en te alle tye konflik te vermy. Jesus was nie so nie: Hy kon konfronteer, en wel uit liefde..

Die gemaklike soort liefde waarmee Christene dikwels werk, stem nie ooreen met Jesus se definisie van liefde in die Matteus-evangelie nie. Die verhale in Matteus laat blyk dat Jesus se verstaan van liefde vir God met jou hele wese, veeleisend en riskant is. Die liefdespad wat Jesus kies, lei daartoe dat Hy Homself volledig in debatte en konflikte werp. Liefde lei Jesus in allerhande situasies in, wat beide ongemaklik en beslis ook gevaarlik is. Uiteindelik laat Jesus se liefde Hom sterf.

Bybelse liefde

Bybelse liefde is nie passief of totaal emosioneel van aard nie. Die Ou-Testamentiese liefde waarna Jesus in Matteus verwys, is die liefde van Deuteronomium 6:5, die liefde van God. Hierdie liefde is die aktiewe reaksie van die geloofsgetroue persoon op God se liefde. God se liefde is ook aktief. God kies (verkies) om Israel bo al die nasies lief te hê en om sy liefde deur hierdie verkose volk aan en in die wêreld sigbaar te maak.

Om God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand, is ‘n keuse om op God te reageer, net soos God gekies het om ons lief te hê. In die Nuwe Testament is die primêre woord vir liefde die Griekse woord agape. In hoofsaak verwys hierdie woord na iets soos “loving-kindness” (deernisvolle liefde). Dit is nie passiewe emosie nie, maar aktiewe genade en barmhartigheid.

Liefde tot die naaste

Die aktiewe liefde van die Bybel bestaan uit liefdadigheid, barmhartigheid en naasteliefde, wat altyd opoffering vra. Ons kan baie leer deur Jesus se liefde in aksie waar te neem. Dieselfde liefde wat Jesus aangespoor het om saam met randfigure te eet, na die sosiaal uitgeworpenes uit te reik en die magteloses te omhels, het Hom ook aangespoor om die duiwelbesetenes te konfronteer, die manipuleerders aan te vat en die oningeligtes te korrigeer.

Jesus se liefde is veel meer gekompliseerd as wat ons dikwels meen. Die liefde wat Hy vra beteken dat ons onsself moet inspan en ons hele self moet strek in diens van God en die naaste. Ons moet aktief werk aan liefde – uitmuntende liefde – in alles wat ons doen, dink en sê.

Bybelse liefde wat voortvloei uit die hart van God in navolging van Christus, is iets wat ons doen. Dit is deernisvolle liefde, barmhartige dade en ontfermende geregtigheid, wat beide opreg en volhoubaar (voortgaande) is. Die goeie nuus vir Christene bestaan daarin dat liefde vir die naaste soos vir jouself, beteken om teenoor die ander so op te tree soos wat jy teenoor hulle wat die naaste is aan jou optree.

Omdat God Israel as sy volk verkies het en gekies het om al haar oortredinge te vergewe, is die weg ook vir ons oopgemaak om vir God te kies en Hom in elke opsig te dien:

We can love with our heart: through generosity to God’s people. We can love with our soul: by worshiping God and praying for our neighbors and ourselves. And we can love with our minds: studying God’s Word and letting it correct us, enlighten us, and send us out in loving action to the world (Schmit).

Hervormingsondag

Ons teks verbind die identiteit van Jesus as Here, ware God en Mens, die Een wat liefde volledig beliggaam, en die wese van die onderwysing van God op ‘n merkwaardige manier aan mekaar.

Luther het ontdek dat hierdie Jesus die liefde en genade van God aan mense bedien. Hy beliggaam die genade van God, wat ons ontvang deur die leë hande van geloof uit te steek en dit te omhels. Dat ons ons hande uitsteek, is alleen maar die genade van God. Hierdie genade verander ons lewens totaal. Ons word ook die draers van God se aktiewe liefde na ander. Soos die Skrif ons leer. Ons doen dit alles alleen tot verheerliking van God.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 478 “Op vaste fondamente” of
Flam 66 (bekende melodie)  “Op Vaste Fondamente” of
Kombineer die 2:  Lied 478 vers 1, Flam 66 v 1-2, refrein, Lied 478 vers 4

Seën

Respons
Flam 66 Refrein:
Ja Hy lê die steen, Hy is die rots
sy fondament is vas. Hy is God
o ja, Hy is,
ja, Hy is God.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.