Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In die tekste (veral Job en Ps 22), word geworstel met die (skynbare) afwesigheid of stilte van God. Die teks uit Hebreërs verseker ons dat ons met vrymoedigheid tot God kan nader, want Jesus is ons Hoëpriester. Dit moedig ons aan om te bly glo onder alle omstandighede. Soms is dit ons eie skuld dat ons ver van God af voel – ons rykdom is ook dikwels ‘n hindernis (vgl die gelykenis van die ryk jongman in Mark 10).

Ander tekste

Job 23:1-9, 16-17
Job: Wat God wil, doen Hy
23 Toe het Job weer gepraat:
2“Ek kla nog steeds
uit opstandigheid,
ek kan nie ophou kla nie.
3As ek maar geweet het
waar om God te vind,
sou ek na sy woonplek toe gaan
4en my saak voor Hom lê,
my pleidooie aan Hom stel.
5Ek sou van Hom antwoord
probeer kry,
probeer verstaan wat Hyvir my wil sê.
6Hy sal tog nie met sy groot krag
teen my ’n saak voer nie;
Hy sal my dit nie aandoen nie,
7want dit sou ’n opregte mens wees
wat daar voor Hom pleit
en ek sou vir altyd deur my Regter
vrygespreek word.
8Maar gaan ek na die ooste toe,
Hy is nie daar nie,
na die weste, ek kry Hom nie.
9Sou Hy in die noorde
aan die werk wees,
ek vind Hom nie daar nie,
sou Hy na die suide toe draai,
ek sien Hom nie.
10Hy ken my pad;
as Hy my toets,
is ek suiwer soos goud.
11Ek volg Hom waar Hy gaan,
ek hou op sy pad en draai nie
af nie.
12Sy bevel verontagsaam ek nie,
ek heg meer waarde aan sy woorde
as aan my eie begeertes.
13Hy bly dieselfde,
wie kan Hom teenstaan?
Wat Hy wil, doen Hy.
14Wat Hy oor my besluit het,
sal Hy doen,
wat sy planne met my ook al is.
15Daarom staan ek vreesbevange
voor Hom,
ek probeer verstaan,
maar ek bly Hom vrees.
16God het my weerstand afgebreek,
die Almagtige het my
met angs vervul.
17Maar in hierdie donkerte het ek
nie stilgebly nie,
in hierdie duisternis
wat my oorval het.”

Psalm 22:1-15
U het my gebed verhoor
22 Vir die koorleier: op die wysie van
“Die wildsbok van die daeraad”.
’n Psalm van Dawid.
2My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep
en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou
en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.
Ek word deur die mense bespot
en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus
aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af
is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg
bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense
het my omsingel,
soos beeste uit Basan
staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus
storm hulle met oop bekke
op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ’n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here-
moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe
uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings
van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Markus 10:17-31
Die ryk jongman
(Matt 19:16–30; Luk 18:18–30)
17Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 19Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ mjy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.” n

20“Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”

21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

22Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.”

24Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

26Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?”

27Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

28Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.”

29Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, 30of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Fokusteks

Hebreërs 4:12-16
Die belofte van rus vir dié wat glo
4 Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. 2Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. 3Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het:

“Toe het Ek in my toorn
‘n eed afgelê:
In my rus sal hulle beslis
nie ingaan nie.”

En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, 4want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,” n5terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” o6Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om in sy rus in te gaan. 7God het immers weer ‘n dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê:
“Vandag, as julle sy stem hoor,
moet julle nie
hardkoppig wees nie.”

8As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ‘n ander dag gepraat het nie. 9Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, 10want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. 11Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.

Die woord as swaard
12Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons++ swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

5 Elke hoëpriester is ‘n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ‘n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Ekstra stof

Hebreërs 4:14-5:10 – Hou styf vas aan ons belydenis en nader met vrymoedigheid die troon van genade
Waar die skrywer in hoofstuk 3 gesê het dat Jesus belangriker is as Moses, vervolg hy hier om te verklaar dat Jesus ook belangriker as Aäron is.  Jesus is die “groot Hoëpriester.”

Die hoëpriester was ‘n amp wat deur die Here ingestel is en daarom net deur afstammelinge van Aäron beklee kon word (Eks. 28).  God het dus die hoëpriester vir sy taak geroep.  Die hoëpriester se funksie was om versoening vir die sondes van die volk (en sy eie) te doen deur eenmaal per jaar in die heiligdom van die tempel te verskyn voor die Here.

Jesus is egter nie ‘n Hoëpriester volgens die orde van Aäron nie.  Hy is ‘n Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (“my koning [is] geregtigheid“).  Hy het dieselfde funksie as die Aäronitiese hoëpriester om versoening te doen, maar daar is vier baie groot verskille.

  • Jesus doen nie vir sy eie sonde versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, want Hy is sonder sonde.  Daarom is Hy vir ons die bron van ewige verlossing (vers 9).
  • Jesus doen nie net vir die sondes van die volk versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar vir die sonde van die hele wêreld.  Só lê Johannes die Doper dit ook uit op grond van die belofte in Jesaja 53:11: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29 – vgl. 1 Pet. 2:24).  Daarom kan Jesus nie maar net ‘n Aäronitiese hoëpriester wees nie – Hy was in elk geval nie ‘n direkte afstammeling nie – maar moet Hy dit wees as deel van ‘n orde wat alle mense insluit.
  • Jesus is nie net ‘n menslike priester wat uit die mense aangestel word soos Aäron se nageslag nie, maar ‘n Goddelike priester wat as Seun van God verwek is daarvoor, en daarom vir ewig as ‘n priester volgens die orde van Melgisedek aangestel is.
  • Jesus tree nie net een  keer per jaar in vir sy mense soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar elke oomblik van elke dag vir ewig en altyd.  Hy is “die bron van ewige verlossing” wat te alle tye ontferming en genade kan gee sodat sy mense op die regte tyd gehelp kan word.  Dit is groots!

Jesus het, soos Aäron, nie self besluit om Hoëpriester te word nie, want net God kan dié roeping gee.  Dit is dus vir Hom gegee: “So ook het Christus nie Homself vereer deur hoëpriester te word nie, maar wel die Een wat vir Hom gesê het: ‘Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.’”   Dit is God self wat Hom aangewys het as hoëpriester: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” (Ps. 110:4).

Die skrywer sal nog dieper op die orde van Melgisedek in hfst. 7 ingaan.  Melgisedek tref ons net op twee ander plekke in die Bybel aan.

In Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is.  Hy het kos en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde.  Geloof sy God die Allerhoogste!  Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.”  Abram se reaksie was betekenisvol.  Hy het vir Melgisedek ‘n tiende van alles gegee.

Dit is dié orde van Melgisedek waarna in Psalm 110 verwys word.  Aan die koning word in dié Psalm nie net oorwinning oor sy vyande beloof nie, nie net die mag oor allerlei nie, maar baie spesifiek ook die priesterskap volgens die priesterorde van Melgisedek.  Hierdie Psalm se boodskap word Messiaans geïnterpreteer en deur die skrywer aan die Hebreërs op Jesus van toepassing gemaak.  Hy is dus ‘n koninklike priester volgens die orde van Melgisedek.  Dit is dus ‘n koninklike priesterskap, ‘n konsep waaroor ook die apostel Petrus skryf in sy brief aan die vreemdelinge in die Diaspora, die uitverkorenes van God, en dit van toepassing maak op wat God met die geloofsgemeenskap doen (1 Pet. 2:9-10).

Hierdie Hoëpriester, sê die skrywer, het “deur die hemele gegaan“.  Daarmee word uitgedruk dat Hy die ruimte van God, die Allerheiligste plek, die troon van God, binnegegaan het.  Hy is dus nie net die Hoëpriester van ‘n bepaalde plek en of godsdiens nie, maar van die hele Skepping.  Iets om oor na te dink!  Paulus skryf ook daaroor in Kolossense 1:15-20.

Dit is aan dié belydenis waaraan ons styf moet vashou:

  • dat Jesus die Seun van God is (hfst. 1:5);
  • dat Jesus belangriker is as die engele (hfst. 1:14);
  • dat Jesus die kroon en die doel van die Skepping is (hfst. 2:9);
  • dat Jesus by uitnemendheid die Leidsman van ons verlossing is (hfst. 2:10);
  • dat Jesus die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis is (hfst. 3:1).
  • dat Jesus belangriker is as Moses (hfst. 3:3);

Die skrywer gebruik die Griekse woord omologia om hierdie belydenis uit te druk.  Dit is dieselfde woord wat Paulus gebruik om Timoteus se belydenis voor baie getuies te beskryf.  Vgl. 1 Tim. 6:12: “Hardloop die goeie wedloop van die geloof; gryp na die ewige lewe waartoe jy geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.”  Dit beteken dus die inhoud van jou geloof, dít waaraan jy jou verbind, dít waarvoor jy leef.

En waarom moet aan dié belydenis vasgehou word?  Omdat dit die enigste hoop is wat ons het as ons aan allerlei swakhede en versoekings blootgestel word.  Omdat Jesus, as groot Hoëpriester, medelye het met ons swakhede en vatbaarheid vir versoekings, kan Hy ons help.  Hy word nie self deur swakhede of versoekings ingeperk of aan bande gelê nie.  En Hy is altyd beskikbaar om ons te help in versoekings.  Dit is sy werk, sy roeping, dié hoofdoel waarvoor God Hom vir ewig aangestel het.

Daarom: “Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.”  Jesus het baie meer deernis met ons onkunde, ons swakhede, ons uitdagings as wat enige menslike hoëpriester ooit kan hê.  Omdat Hy self deur lyding na gehoorsaamheid en volmaaktheid gebring is, kan Hy vir ons die bron van “ewige verlossing” wees.

Boodskap
Die boodskap van Jesus as Hoëpriester is ‘n sentrale waarheid in die brief-boodskap aan die Hebreërs.  Jesus sit aan die regterhand van die Vader en tree nie net vir ons as Voorbidder in nie, maar doen inderdaad Versoening vir ons sondes.  Hy luister na ons gebede om ontferming en genade en sien toe dat ons op die regte tyd gehelp word.  Daarom moet ons sonder ophou met baie vrymoedigheid bid om ontferming en genade, maak nie saak in watter moeilikheid of versoeking ons is nie.

Ek kan aan min dinge dink wat my soveel gerustheid en hoop gee vir hierdie lewe, as juis dít nie.  Die konsep van Hoëpriester is iets wat ek met alles in my omhels.  Dít is die hart van my belydenis oor Jesus.  Want, daarin lê uiteindelik uiteindelik nie net die hoop vir dié lewe opgesluit nie, maar die hoop vir ons almal se “ewige verlossing” opgesluit!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 123:2

Seëngroet: 2 Timoteus 1:2

Lied 184  “Lofsing die Here die Ewige vs 1,2,3,4”

Wet: Markus 10:17-31

Skuldbelydenis: Jesus die groot Hoëpriester

Vryspraak: Johannes 3:16-18

Geloofsbelydenis (ahv Job 38-41)

Loflied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Hebreërs 4:12-16

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 281 “Lei ons Here groot en magtig 1,2,3

Seën

Antwoor: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 123:2
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm. Amen

Seëngroet: 2 Timoteus 1:2
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Lied 184 “Lofsing die Here die Ewige vs 1,2,3,4”

Wet: Markus 10:17-31
Die ryk jongman
(Matt 19:16–30; Luk 18:18–30)
17Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 19Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ mjy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.” n

20“Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.”

21Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

Skuldbelydenis: Jesus die groot Hoëpriester

14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Vryspraak: Johannes 3:16-18

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38-41)
Ek glo in die God van Job…
die God wat die aarde se fondamente gelê het;
wat die aarde afgemeet het…

Ek glo in God wat die see opgedam het toe hy begin uitborrel het;
in God wat die die môre beveel om te kom;
wat lig oor die hele aarde bring…

Ek glo in God wat die sneeu bêre;
wat die die hael opgaar;
wat vir die stortreën ’n pad oopkap en vir die donderwolke hulle koers bepaal…

Ek glo in God wat die Sewester met ’n band vasknoop
en die band van Orion kan losmaak;
wat die sterre op hulle tyd laat opkom…

Ek glo in God wat weerligstrale uitstuur;
wat verstand gee aan die ibis om teen die vloed te waarsku;
in God wie insig gee aan die haan om die dag aan te kondig…

Ek glo in God wat die tyd bepaal wanneer die klipspringers lam;
wat hulle die draagtyd bepaal;
wat aan die wildedonkie sy vryheid gee
en hom ongebonde vry laat loop loop…

Ek glo in God wat Sy Seun Jesus vir ons gestuur het;
ek glo in die vergifnis van sonde en
ek glo in die Heilige Gees.

Loflied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Liedere

Flam 14 “Jesus is die Heer”
(RUBRIEK:  Kontemporêr – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Keer op keer,
val ek neer,
deur my eie sondigheid.
Telkens weer,
wil ek self probeer,
opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan,
daar is net een Naam,
en elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Dit is wat ek glo.
Ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer.
Voor Hóm sal ek buig.
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.

2. Keer op keer,
buig Hy neer,
en lig my uit my hulp’loosheid.
Weer en weer,
wys Hy Hom as Heer,
oorweldig my met heiligheid.
Dis dan dat ek verstaan,
daar is net een Naam,
en elke knie sal voor Hom buig.

Flam 28

(RUBRIEK:  Kontemporêr – Afhanklikheid / Geloof en Vertroue / Gebed)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
© 2005  Merchant Records
U’t die lydenspad vir my kom loop
en ek is deur U bloed ook vrygekoop
Maar die wêreld rondom my
sê die sonde maak my vry.

Heer, omvou my as die nag,
my omsluit van alle kante –
en as die donker U kind weg wil lei,
Heer, omvou my, maak my vry.

Flam 60 “U liefdeslied vir my”
(RUBRIEK: Nuwe Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Roeping Lof)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see
U almag blink in maanlig oor die berge
Die skoonheid van U skepping sleur my mee

U glorie sprei in vlerke van ‘n arend
Genade sweef in wolke hoog en vry
Die skepping sing vir my gewone sterfling
Die Skepper God se liefdeslied weerklink vir my

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota<
Ek sien die kroon die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
Vergifnis vir my sondeskuld te vra

Ek ken die kruis ek ken die Man van smarte
Ek voel U pyn U liefdesbloed bevry
En van die kruishoutkoppie styg die note
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag
En wie is ek dat U vir my sou kom
Hoe groot U liefde grenslose genade
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my

Hoe groot U liefde grenslose genade
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Skepper van die hemel en die aarde, ek wil U ken. Ek wil meer van U weet, meer van U verstaan, meer van U in my lewe wys. Waar kan ek U vind? U voel dikwels so verskriklik ver, so onbereikbaar, so ontoeganklik. Tog vertel hulle my dat U lank gelede so naby aan ons gekom het in u Seun dat party mense Hom gevolg. en ander Hom doodgemaak het. Hulle vertel my dat Hy uit die dood opgestaan het en dat U deur Hom naby aan my is. God, ek roep na U, ek soek na U. Help my om naby aan U te kom. Wys my waar ek verkeerd soek, verkeerd bereken. Ek bid dat U naby aan my sal kom. Amen.
Ferdinand Deist uit: Naude, P Gebedeboek vir die lewe. Lux Verbi.BM 2007

Skriflesing: Hebreërs 4:12-16

Familie-oomblik

Julle speel krieket en jy kry ‘n lekker harde hou in – maar, o aarde, die bal trek reguit oor die heining en jy hoor glas breek. Jy besef die krieketbal is deur een van die bure se vensters. Almal hardloop en gaan kruip weg, hulle is bang dat die buuroom kwaai oor die muur gaan loer en met hulle raas. Jy kan nie hardloop nie, jy is lam van die skrik. Vensters is duur. Hoe gaan jy dit betaal? Jy besluit vinnig jy sal maar aanbied om die res van die jaar elke Saterdag die bure se motor te was. Toe besef jy een van jou maats wat saam gespeel het, Bennie, het nie weggehardloop nie. Hy staan by jou. Dis die bure se seun! Hy stel jou gerus dat hy met sy pa sal praat en verduidelik wat gebeur het. Hy kom terug en roep jou omdat sy pa met jou wil praat.  Hy sê jy hoef nie bang te wees nie, maar jou broek bewe. Jy stap saam en jy kan nie glo wat jy sien nie. Sy pa is toe nie eens kwaad nie! Bennie het aan hom verduidelik dat hulle gespeel het en dat dit ‘n ongeluk was. Sy pa sê jy hoef nie bekommerd te wees nie. Hy sal met die versekering reël dat die ruit vervang word. Jy hoef nie te betaal daarvoor nie. Baie verlig gaan jy terug, roep jou maats en julle speel verder krieket, maar hierdie keer is julle almal baie versigtig dat so iets nie weer gebeur nie.

Dit is presies waaroor die fokusteks vandag handel.

Hebreërs 4:14-16
14–16 Jesus, die Seun van God, help ons om goeie vriende met God te wees. Hy weet mos hoe die duiwel wil hê ons moet God se hart seermaak. Jesus was ook ’n mens soos ons. Hy weet hoe swaar dit is om altyd die regte dinge te doen. Daarom is Hy nie te kwaai met ons nie. Hy het nooit na die duiwel geluister nie en het niks verkeerds gedoen nie. Omdat Hy ons help, kan ons ook maar na God toe gaan sonder om bang te wees. God sal goed wees vir ons. Hy sal vir ons gee wat ons nodig het. Daarvan kan ons seker wees.

Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Preekriglyn

Daar is twee kragtige bewegings in ons teks:

  • Verse 12-13: In die eerste beweging word vertel hoe die Woord van God ons voor God blootlê. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart, en ontbloot alles voor God;
  • Verse 14 – 16: In die tweede beweging word ons na die genadetroon van die Hoëpriester, Jesus Christus, geneem. Waar ons wonde en gebreke in die eerste beweging blootgelê is, ontmoet ons in die tweede beweging die voorsiening wat God in Jesus vir ons sonde gemaak het.
Die Woord van God

Verse 12-13 verduidelik vir ons die aard en die kragtige werking van die Woord van God in die hede. Die Woord is nie dor woorde uit ‘n verre verlede nie. Die Woord is aktief werksaam in die hede – lewend en kragtig. Die Woord is meer as papier en geskiedenis, al is dit Skrif. In, deur en danksy die teenwoordigheid van Christus is die lewende Woord aktief en bepalend vir die lewe.

Die krag van die Woord word vergelyk met die beste tweesnydende swaard. Die Woord se vermoë om tot die diepste binnekringe van die mens se bestaan deur te dring, word treffend met twee beelde voorgestel:

  • Dit kan siel en gees skei, en
  • Gewrigte en murg uitmekaar haal.

Vir mense is dit onmoontlik om so te onderskei en oop te vlek, maar die Woord van God kan dit doen. Die Woord is daarom in staat om die bedoelings en gedagtes van die hart te beoordeel. Wat menslik verborge is, lê oop en bloot voor God. God hou mense verantwoordbaar – aan Hom moet ons rekenskap gee.

Vroeër in die brief onderstreep die skrywer die beloftes en waarskuwings wat uit die Woord na ons toe kom. Deur die Woord werk God met ons, waarsku ons, deursoek ons, en trek ons nader aan Hom, sodat ons meer en meer gehoorsaam leef. Die Woord deursoek ons en lê ons bloot. Dit gebeur op so ‘n manier dat ons die behoefte ontwikkel om die Woord meer en meer te doen, en in lyn met die krag van die Woord te leef.

Meet hierdie woord en beelde ontdek ons hoe ontbloot ons voor God staan. Mens kan selfs begin bewe as jy besef dat God alles sien, en jou diepste motiewe deurskou. Jy kan ander flous, maar nie vir God nie.

Hierdie blootlegging is egter nie bedoel om ons in vrees en bewing te laat nie. Dit berei ons voor om in die wonderlike Woord van verlossing en bevryding te deel.

Groot Hoëpriester

Na verse 12 tot 13 is ons gereed om die versekering en bevestiging van verse 14 tot 16 te hoor. Die Hebreërbrief wys ons op Jesus Christus, ons groot Hoëpriester wat vir ons intree.

God se Woord wond ons, sodat ons genees en herstel kan word. God het sy Seun gestuur wat as Hoëpriester in ons belang optree. God het vir ons ‘n Verteenwoordiger gestuur, wat mens geword, maar van ons kant weer na God se kant oorgegaan het om daar vir ons in te tree. Sy teenwoordigheid in die hemele waarborg vir ons hulp.

Daarom moet ons vashou aan die geloof wat ons bely. Ons word nie aan onsself oorgelaat om te knak onder druk nie. Ons Hoëpriester weet wat die beteken om ‘n mens te wees. Hy kan medelye met ons swakhede hê, want Hy is in elke opsig soos ons aan versoeking onderwerp. Hy is egter volkome sonder sonde. Hy het ook nooit gesondig nie. Daarom kan Hy vir ons intree en ons bystaan in ons stryd om gehoorsaam te wees.

Gevolglik kan ons – ontbloot soos ons is – met vrymoedigheid na sy genadetroon gaan, sodat ons barmhartigheid en genade kan ontvang. Dit bring die redding op die regte tyd, wat ons so nodig het.

Wet en genade

Wanneer mens ons teks oordink, raak jy opnuut bewus van die verband tussen wet en genade. Die Woord as reël vir die lewe lê ons sonde bloot. Die genade bring vir ons uitkoms. Die genade bekragtig ons om weerstand teen die sonde te bied en gehoorsaam te lewe.

Die Woord laat ons sien hoe groot die nood van die wêreld is. Die Hoëpriester kondig die genesing aan.

Baie mense kan dikwels nie die punt van die evangelie insien nie. Dis asof die legkaart nie behoorlik in plek kan val nie. Miskien is dit omdat mense nie bewus is van boosheid, sonde en die verskriklike effek daarvan op die wêreld nie. Ons sien nie ons bose gedagtes en selfsugtige bedoelings vir die ramp wat dit is nie.

Dit is eers wanneer die Woord dit blootlê, en ons nood voor God lewensgroot voor ons opdoem, dat die evangelie van God se Hoëpriester wat vir ons gegee is, vir ons sin begin maak.

Die Woord bevry ons van ons naïwiteit oor sonde, skuld, gebrokenheid en boosheid. Die Woord stroop ons van ons selfverontskuldiging en selfregverdiging.

William Abraham skryf:

What God has done in Jesus Christ comes alive when we become aware of the ruin of the world and of our lives through sin and rebellion. Hence there comes a time when we have to ponder the ingenuity and depth of human evil if we are to grasp the wonder of God’s salvation.

Abraham beklemtoon ook dat die blootlegging van ons diepste sonde en verlorenheid ‘n proses is. Dit is soos ons op die geloofspad vorder dat ons toenemend bewus word van ons eie sondigheid en verlorenheid. Ons bly ontdek rebellie en weerstand in ons lewens, dinge waarvan ons vroeër nie bewus was nie.

Lig in duisternis

Die lig wat in ons lewens val en ons duisternis verlig kom nie van onsself af nie. Dit is die lig van God wat uit die Woord na vore kom. Dit is ‘n proses waarvoor ons onsself moet gee. Die insig wat die Woord bring, neem tyd om in ons te groei en ons lewens bloot te lê. Dit word meestal nie in een groot big bang aan ons gegee nie.

Daarom is leef in die Woord: lees, ondersoek, oordink, gesprekke met ander oor die Woord, luister na die verkondiging van die Woord, sessies met mentors en geestelike volwasse gelowiges so belangrik. Die proses waardeur God ons verwarring, selfbedrog en selfregverdiging ontbloot, neem tyd.

In hierdie proses kom daar tye dat ons sonde meteens ontbloot word. Dit voel of die Woord soos ‘n brander oor ons breek en ons meesleur. Skielik sien ons onsself soos ons is: naak, broos, magteloos, uitgevang sonder enige skuilplek voor God. Dit kan ontsettend pynlik wees. Dit lyk of God ons agtervolg, ons inhaal en ons wil vernietig.

Dit kan inderdaad God wees, wie se oordeel en veroordeling eintlik ‘n daad van sy genade is. Dit bring ons na vryheid in Christus.

Pynlike genade

Dit is wanneer mens in die ontbloting van die Woord bly, dat jy ontdek genade is aan die werk. God het die wond oopgemaak, sodat dit kan genees. Die Woord wys die probleem, sodat ons na die oplossing kan gryp. Die lig het in ons duisternis geskyn, sodat ons in die lig kan bly lewe.

So ontbloot, word die teerheid en genade van God vir ons ‘n werklikheid. Dan is die evangelie nie langer ‘n teorie nie, maar ‘n krag wat ons in die lewe van en met God intrek. Ons ontdek die wonder dat sy Seun onder ons kom woon het toe ons nog vyande van God was. Die lewe en werk van Jesus word die sentrum van ons lewe.

Ons ontdek Jesus as ons Hoëpriester, die Een wat die hemele vir ons ingegaan en op die genadetroon gaan sit het. Ons kan na Hom kom met ons diepste behoeftes en grootste sonde, en sy medelye ontdek. Hy weet wat dit beteken om mens te wees. Omdat Hy sonder sonde is, kan Hy ons uit die sonde lei na die wonderlike lig van sy vergifnis en sy krag om te oorwin.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 281 “Lei ons Here groot en magtig 1,2,3”

Seën
Mag die Here Jesus Christus by jou wees om jou te beskerm;
binne-in jou wees om jou te verfris;
rondom jou wees om jou te bewaar;
voor jou wees om jou te lei;
agter jou wees om jou te regverdig;
bo jou wees om jou te seën.
Hy wat saam met die Vader en die Heilige Gees leef en regeer — God vir ewig en altyd.
Outeur onbekend (l0de eeu)
uit: Van der Merwe, J (red) Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Lux Verbi.BM 2001, bl 98

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.